About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2015
>>
[2015] ZAWCHC 110
|
|
Du Toit v S (A381//2014) [2015] ZAWCHC 110 (17 August 2015)
REPUBLIEK VAND
SUID-AFRIKA
IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP
HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)
Saak No: A381//2014
DATE: 17 AUGUST 2015
In die saak tussen:
DANIêL GERHARDUS DU
TOIT
..........................................................................................
Appellant
En
DIE
STAAT
.............................................................................................................................
Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 17 AUGUSTUS
2015
RILEY, WnR
[1] Die appellant het in die landdros
te Riversdal tereg gestaan op ‘n aanklag van aanranding met die
opset om ernstig te
beseer. Die staat het beweer dat appellant op 20
Desember 2010 te Vet-Rivier Plaas in die distrik van Riversdal
wederegtelik en
met die opset om vir Heloise Stefanus ernstig te
beseer haar aangerand het deur haar verskeie keer met ‘n
dropper te slaan
en haar met die oop hand te klap as gevolg waarvan
die klaagster sekere wonde, letsels en/of beserings opgedoen het.
[2] Die appellant wie ten alle tye
regsverteenwoording geniet het in die hof a quo, het onskuldig
gepleit. Behalwe dat hy erken
het dat hy op 20 Desember 2010 op
Vet-River Plaas teenwoordig was, het hy ontken dat hy die klaagster
aangerand het.
[3] Na aanhoor van die getuienis was
appellant op 7 April 2014 skuldig bevind aan die ten laste gelegde
aanklag en is hy gevonnis
tot agtien (18) maande gevangenisstraf
ingevolge artikel 276(1)(i) van Wet 51 van 1977.
[4] Die appellant kom nou in hoër
beroep slegs teen sy skuldigbevinding.
[5] Die gronde van appèl soos
uiteengesit in die kennnisgewing van appèl en saamgelees met
appellant se hoofde van
betoog is dat die verhoorlanddros gefouteer
het:
1. Deur te bevind dat die klaagster,
Heloise Stefanus, ‘n geloofwaardige getuie is;
2. Wesenlike getuienis buite rekening
te laat in die evalueering van die klaagster se getuienis;
3. Deur te bevind dat die klaagster se
beserings veroorsaak was deur die dropper;
4. Deur nie die algemene optrede van
Wayne Jacobs (‘Jacobs’) te oorweeg in die beoordeling van
die vraag of die klaagster
deur Jacobs aangerand was of nie;
5. Deur te bevind dat Millie Josephs
(‘Josephs’) die weergawe van die klaagster staaf;
6. Deur die getuienis van Paul Hendrik
Stefan Truter (‘Truter’) te aanvaar; en
7. Deur die appellant se getuienis te
verwerp.
[6] In sy argument in diè hof
het Mnr Lourens, wie namens die appellant opgetree het, in hoof sy
betoë toegespits op
of die verhoorhof inderdaad kon bevind dat
die klaagster ‘n geloofwaardige getuie was, of haar getuienis
dat sy inderdaad
aangerand is gestaaf is deur enige van die ander
staatsgetuies en of die hof bo redelike twyfel op die mediese
getuienis kon bevind
dat die klaagster se beserings deur die dropper
veroorsaak is. Hy het aangevoer dat die moontlikheid van ‘n
sameswering
deur die getuies teen die appellant nie uitgesluit kan
word nie.
[7] Alhoewel die geskilpunt in die saak
baie nou is, is die getuienis oor ‘n periode van amper twee (2)
jaar aangehoor. Die
staat het altesaam vyf getuies geroep.
Appellant het self getuig en ook drie getuies geroep om in sy
verdediging te getuig, naamlik
Jacobus Kannemeyer, Johannes Pretorius
en Dr Jacob Dempers.
[8] Dit is gemene saak dat die
appellant ‘n algemene gemengde boerdery te Vet-Rivier Plaas, in
die Riversdal distrik bedryf
en dat die klaagster sowel as meeste van
die getuies wat in die saak getuig het ten tye van die voorval vir
appellant gewerk het.
Dit is verder gemene saak dat appellant met
vakansie was te Witsand en dat Truter in sy afwesigheid, as
bestuurder na dinge op
die plaas omgesien het. Volgens die
getuienis, het Jacobs op die Saterdag voor die Maandag, die dag
waarop die aanranding plaasgevind
het, ‘n rapport aan Truter
gemaak het dat hy nou moeg is dat mense hom beskuldig dat hy ‘n
skaap gesteel het.Jacobs
het toe beweer dat dit klaagster, wie sy
meisie is, wat die skaap gesteel het. Dit is verder gemenesaak dat
Truter en Jacobs toe
na die klaagster se woning daar op die plaas is,
waar Jacobs en die klaagster mekaar oor en weer beskuldig het oor die
steel van
die skaap. Appellant is telefonies deur Truter meegedeel
oor die diefstal van die skaap en die Maandag, agt uur voormiddag,
het
die appellant by die plaas aangekom.
[9] Dit is verder gemenesaak dat die
appellant wou vasstel wie die skaap gesteel het en dat hy kwaad was
oor die diefstal van sy
skaap toe hy die klaagster en Jacobs daaroor
ondervra het. Dit is ook so dat tydens die ondervraging, wat in die
kombuis in die
plaashuis plaasgevind het, dat Jacobs, terwyl hy
alleen deur appellant ondervra is, die klaagster daarvan beskuldig
het dat sy
die skaap gesteel het. Dit is nie in geskil dat nadat
appellant Jacobs ondervra het, dat hy Jacobs aangesê het om ‘n
dropper vir hom te gaan sny.
[10] Terwyl Jacobs weg was om die
dropper te sny, het appellant die klaagster begin ondervra oor die
diefstal van die skaap. Dit
is duidelik dat hy nie tevrede was met
die veronskuldigende verduideliking wat sy aan hom gegee het nie.
Nadat Jacobs met die
tweede dropper teruggekeer het, is hy deur
appellant aangesê om uit die plaashuis te gaan. Die tweede
dropper is beskryf
as ‘n hout paal, 600mm in lengte en 30mm in
dikte.
[11] Na Jacobs uit die kombuis is, het
appellant weereens die klaagster ondervra. Hy was heel duidelik nie
tevrede met die klaagster
se verontskuldigende verduideliking dat sy
niks weet van die gesteelde skaap nie. Gedurende die ondervraging
van die klaagster,
het die appellant al hoe kwater geword en volgens
sy eie getuienis vir klaagster in kru taal gesê dat hy nie haar
weergawe
aanvaar nie. Volgens die getuienis wat deur die hof aanvaar
is, het appellant haar toe in die teenwoordigheid van Stefanus Truter
(‘Truter’) verskeie kere met die dropper geslaan en ook
vir haar geklap. Klaagster het daarin geslaag om uit die kombuis
te
vlug en in die rigting van haar huis op die land gehardloop.
Appellant het haar op sy motorfiets agterna gesit met die dropper
in
sy hand en vir haar aangesê om na die plaashuis terug te gaan.
Sy het toe omgedraai en by die slaghuis wat naby aan die
plaas geleë
is, ingegaan.
[12] Appellant het die slaghuis binne
gegaan en in die teenwoordigheid van Truter die klaagster weereens
aangerand met die dropper.
Gedurende die aanranding in die slaghuis,
het die klaagster op die vloer van die slaghuis te lande gekom, en in
‘n poging
om weg van appellant te kom, het sy onder die wasbak
weggekruip. Dit is gedurende hierdie aanranding deur appellant op
die klaagster
dat sy getuig dat toe appellant na haar slaan met die
dropper, sy haar arm opgehou het om ‘n hou af te weer, wat haar
arm
gebreek is.
[13] Klaagster is daarna deur appellant
op ‘n kru wyse gesê dat sy vanaf die plaas moes gaan.
Eers later die aand
het die polisie by haar huis aangekom en is sy na
die hospitaal geneem waar haar arm in in ‘n slinger geplaas is
en is sy
aangesê om die volgende dag terug te kom. Dit blyk
nie in geskil te wees dat die klaagster op 20 Desember 2010 om 19h00
by die Rivierdal SAPD ‘n rapport aan Sersant Saretha Rossouw
(‘Rossouw’) gemaak het dat sy aangerand was nie
en dat
Rossouw die volgende waarnemings in haar verklaring oor die klaagster
se beserings gemaak het nie:
‘Kop is baie opgeswel; linkeroog
is blou; skaafwond links bo kop; linkerarm opgeswel en kan nie
beweeg; liggaam en linkerbeen
seer’.
[14] Die J88 of mediese verslag, wat
deur Dr Van As voltooi is op 21 Desember 2010 om 11h30 oor die
ondersoek van die klaagster,
wat as ‘n bewysstuk ingehandig is,
dui aan dat klaagster die volgende beserings gehad het:
“swelling en hematoom (L) oog
soos per skets;
swelling en hematoom agter (L) oor en
in die nek (L) soos per skets;
swelling en hematoom (L) voorarm soos
per skets;
fraktuur van distale ulna (L).
[15] Dr van As het die inhoud van die
J88 mediese verslag wat sy voltooi het in haar getuienis herhaal en
bevestig. Ten opsigte
van die laserasies op die klaagster se kop,
het Dr van As getuig dat dit ‘n oppervlakkige laserasie was
waar die vel oopgebars
is. Na haar mening is die beserings op die
klaagster se kop en die fraktuur van die linkerarm veroorsaak deur ‘n
stomp voorwerp.
[16] Die verhoorlanddros het die
getuienis vir die staat opgesom en in ‘n volledige en
weldeurdagte uitspraak, na ‘n
kritiese evaluering van die
klaagster se getuienis, tot die slotsom gekom dat die klaagster ‘n
goeie en eerlike getuie was.
Ek is tevrede dat die verhoorlanddros
bedag was op die weersprekings wat in klaagster se getuienis in hoof
en in kruisverhoor
na vore gekom het, sowel as die weersprekings
tussen die klaagster se getuienis en die van Jacobs. Ek stem saam
met die verhoorlanddros
se bevinding dat die weersprekings nie
wesenlik is nie en dat dit glad nie afbreuk doen aan haar
geloofwaardigheid as ‘n
getuie nie.
[17] Dit word in elk geval algemeen
aanvaar dat waar twee of drie getuienis mekaar oor ‘n bepaalde
aspek weerspreek, maak
dit nie altwee of al drie van hierdie
getuienis ook leuenaars of die aspek onbestaanbaar nie. Sien S v
Mokoena 1978(1) SA 229
(O.P.A.) op bl. 232F. Dit is verder ook so
dat weersprekings per se nie noodwendig tot die verwerping van ‘n
getuie se getuienis
lei nie. Sien S v Oosthuizen 1982(3) SA 571(TPD)
op bl. 576.
[18] Ek stem saam met Juffrou Marshall
wie namens die respondent verskyn het dat die klaagster ‘n baie
eenvoudige relaas aan
die verhoorhof voorgelê het en dat indien
sy wou, sy maklik die getuienis oor die aanranding deur die appellant
op haar kon
aangedik het.
[19] Ek stem verder saam met die
verhoorlanddros dat die klaagster se getuienis deur die getuienis van
Jacobs gestaaf is, in die
opsig dat, alhoewel hy nie die aanranding
op die klaagster gesien het nie, hy klaagster se weergawe staaf dat:-
- appellant hom gestuur het om
klaagster te gaan roep;
- hy gestuur was om ‘n dropper te
gaan haal;
- die klaagster eers uitgestuur was en
dat appellant eers met hom gepraat het in die teenwoordigheid van
Truter;
- hy weer uitgestuur is na hy die
tweede dropper aan appellant oorhandig het;
- appellant en Truter toe alleen agter
gebly het in die kombuis met klaagster;
- klaagster daarna huilend uitgekom het
en dat sy ‘n besering aan haar kop gehad het; en
- sy later gekla het oor haar arm wat
seer was toe hy haar by die huis kry.
[20] In haar uitspraak het die
verhoorlanddros bevind dat Josephs ‘n goeie en uitstekende
getuie is en dat hy geen motief
gehad het om enigsins leuens te
vertel nie. Die landdros het bevind dat Josephs se getuienis
belangrik is in die volgende opsigte:
‘… Hy getuig dat die
klaagster verby hom geloop het, na hom toe gekom het, sy sê:
“Kyk of daar nie ‘n
knop op my kop is nie”. Hy
getuig dat hy gekyk het en hy sê vir haar: “Daar is ‘n
knop aan die linkerkant
van jou kop”. Hy het nie bloed gesien
nie, hy het nie gesien dis velaf nie. Met ander woorder hierdie
getuie het ‘n
waarneming gemaak. Hy staaf Heloise Stefanus se
getuienis 100% …’. en verder: ‘… Hy vra
haar nie uit
nie. Hy sê vir haar: “Ek dink dit is beter
dat jy huis toe gaan”. Hierdie is ‘n getuie wat nie
betrokke
wil raak om die beskuldigde in ‘n negatiewe lig te
plaas nie’.
[21] Mnr Lourens het sterk betoog dat
hierdie hof moes bevind dat die verhoorlanddros fouteer het deur te
bevind dat Josephs se
getuienis van kardinale belang is vir die
staat. Voorts het hy aangevoer dat Josephs se getuienis geen stawing
bied vir die klaagster
se weergawe dat sy op twee afsonderlike
geleenthede in die kombuis en later in die slaghuis aangerand is nie.
Alhoewel Josephs
nie gesien het hoe die appellant die klaagster
aangerand het nie, stem ek saam met die verhoorlanddros, dat Josephs
inderdaard
‘n objektiewe getuie is wat slegs getuig het oor sy
waarnemings op die dag van die voorval.
[22] Ek is tevrede dat Josephs se
getuienis inderdaad stawing bied aan die klaagster se weergawe in die
sin dat hy getuig oor die
feit dat die klaagster ‘n besering
aan haar kop gehad het en wat die klaagster se gemoedstoestand was na
die aanranding op
haar. Die feit dat hy self nie die aanranding sien
plaasvind het nie, doen nie afbreuk aan die feit dat hy stawing bied
aan die
klaagster se weergawe nie. Die feit dat die klaagster nie
presies kon onthou wat presies tussen haar en Josephs plaasgevind het
onmiddelik na die aanranding op haar, is te verstane, gesien die
trauma wat sy op die dag beleef het. Dit maak ook nie haar of
Josephs se getuienis minder aanvaarbaar of ongeloofwaardig nie. Die
kritiek teen die verhoorlanddros se bevindings oor die getuienis
van
Josephs is gevolglik ongegrond en word dit verwerp.
[23] Alhoewel die landdros se
aanvaarding van die getuienis van Truter gekritiseer is op die basis
dat hy aanvanklik ‘n verdedigings
getuie was en aanvanklik
appellant se weergawe bevestig het, is ek tevrede dat die
verhoorlanddros terdeë bewus was dat sy
getuienis met
versigtigheid benader moes word voordat die verhoorlanddros daarop
kon staatmaak en tot ‘n geloofwaardigheids
bevinding kon kom.
[24] Na my mening het die
verhoorlanddros tereg bevind dat die waarborge vir die betroubaarheid
van Truter se getuienins gevind
kan word in die stawing wat aan sy
getuienis gebied word in die getuienis van die klaagster, Jacobs en
Josephs. Op die geheel
gesien, is ek tevrede dat die
verhoorlanddros, nieteenstaande die kritiek teen Truter se getuienis,
sy getuienis korrek geevalueer
het en tot die korrekte bevinding
gekom het ten opsigte van die gewig wat sy daarop kon plaas.
[25] Appellant het getuig dat hy op 20
Desember 2010 met verlof was te Witsand toe Truter hom op die
Saterdag oggend bel en hom
sê dat Jacobs aan hom genoem het dat
die klaagster die skaap gesteel het. Hy bevestig dat hy die Maandag
vanaf Witsand na
die plaas teruggekeer het en dat hy die mense
bymekaar geroep het. Hy was ontsteld dat Jacobs die naweek onder die
invloed was
en het op hom gevloek. Hy was kwaad oor die steel van
die skaap. Hy het getuig dat nadat die klaagster deur Jacobs geroep
is,
het hulle mekaar oor en weer beskuldig oor wie die skaap gesteel
het. Hy bevestig dat hy Jacobs aangesê het om ‘n dropper
te gaan sny want hy wou Jacobs uit die huis uitkry sodat hy alleen
met klaagster kon praat. Volgens hom het hy klaagster in Jacobs
se
afwesigheid en in die teenwoordigheid van Truter ondervra. Klaagster
het volgehou dat sy nie die skaap gesteel het nie en dat
dit Jacobs
was.
[26] Toe Jacobs met die dropper daar
aankom, was hy nie tevrede daarmee nie en het hy Jacobs weer gestuur
om ‘n beter dropper
te gaan sny. Na Jacobs weg is, het
appellant weer die klaagster ondervra maar sy het weereens ontken dat
sy die skaap gesteel
het en het aan hom verduidelik hoe Jacobs te
werk gegaan het om die skaap te steel. Hy het getuig dat hy nie
klaagster se storie
geglo het nie en het in sy getuienis sy gevoelens
oor wat hy van haar storie gedink het op ‘n kru manier
uitgedruk. Volgens
hom het hy klaagster aangesê om in die
stoor te gaan wag aangesien hy eers Jacobs se storie wil hoor. Dit
is duidelik dat
appellant op die stadium kwaad was.
[27] Hy het daarna met Jacobs in die
kombuis gepraat in die teenwoordigheid van Truter op welke
geleentheid Jacobs weer die klaagster
beskuldig het dat sy die skaap
sou gesteel het. Volgens appellant het hy Jacobs se weergawe meer
aanvaarbaar gevind en het hy
Jacobs gestuur om klaagster in die stoor
te gaan roep. Toe die klaagster weer in die kombuis is, het hy aan
haar gesê wat
Jacobs gesê het, en haar aangesê om
die waarheid te praat. Hierop het die klaagster gehuil en het sy uit
die kombuis
uitgehardloop en deur die land geloop. Hy is met die
motorfiets agter die klaagster aan en het vir haar gesê sy moet
terugkom
omdat hulle nog nie klaar gepraat het nie, want hy wil die
waarheid hoor.
[28] Klaagster het teruggekom en hulle
het na die slaghuis gegaan. In die teenwoordigheid van Truter het hy
die klaagster verder
uitgeskel en sy het toe erken dat sy die skaap
gesteel het. Appellant het hierop toe ‘n vyf honderd rand
(R500-00) aan die
klaagster gegee en gesê sy moet vanaf sy
plaas padgee. Volgens die appellant het die klaagster baie gehuil en
aan hom gesê
dat dat hy weer van haar sou hoor. Hy het gesien
hoe sy in die rigting van haar huis loop. Hy het weer vir Jacobs
ingeroep en
aan hom gesê dat hy die klaagster weggejaag het
waarop Jacobs toe vir hom gevra het of hy sy motorfiets kon leen want
hy
wou na sy huis gaan om te kyk dat klaagster nie van sy goed inpak
nie. Appellant het ontken dat hy die klaagster op enige stadium
aangerand het.
[29] By die evaluering van die
getuienis in geheel, het die verhoorhof bevind dat appellant ‘n
leuenagtige getuie is en dat
sy weergawe onwaarskynlik is. Ek
aanvaar dat die feit dat die hof bevind dat die staat se weergawe
betroubaar is, nie beteken
dat appellant se weergawe sonder meer
verwerp moet word nie. Na my mening het die verhoorhof tereg bevind
dat die appellant se
verduideliking oor waarom hy Jacobs uitgestuur
het om die dropper te gaan sny, onwaar is gebaseer op die stellings
wat appellant
se regsverteenwoordiger aan Truter gemaak het dat
appellant die dropper laat sny het omdat hy ‘gedink het hy kan
die waarheid
uit hulle, die mense uitkry en dat hulle - en dat as hy
nou klaar is wil hy die stokkie gebruik as hy na die volstruise toe
gaan’.
Appellant se weergawe dat hy die dropper laat sny het
slegs vir die volstruise moet derhalwe verwerp word as vals.
[30] Op die appellant se weergawe is
dit duidelik dat nadat hy met die klaagster in die kombuis gepraat
het, hy kwaad was. Hy was
nie tevrede met die klaagster se
ontkenning nie. Hy het Jacobs se verduideliking aanvaar. Dit is
duidelik dat hy reeds besluit
het dat die klaagster skuldig was. Dit
is verder duidelik dat toe klaagster volgens hom huilend uit die
kombuis hardloop, hy steeds
nie tevrede was met haar verduideliking
nie en dat hy haar toe agterna gesit het omdat hy die waarheid wou
weet.
[31] Na my mening was daar geen rede om
die klaagster agterna te sit nie. Hy het teen daardie tyd reeds
besluit dat hy haar nie
glo nie. Daar was ook geen rede waarom hy
die dropper saam met hom moes neem nie, behalwe as om dit te gebruik
om die klaagster
te dreig, soos die verhoorlanddros tereg bevind het.
[32] Die appellant se weergawe dat
klaagster die hele storie oor die aanranding op haar opgemaak het,
deurdat sy appellant gedreig
het dat hy weer van haar sal hoor, is na
mening tereg deur die landdros verwerp as ongegrond. In elk geval is
hierdie weergawe
nooit aan klaagster gestel in kruisverhoor nie en is
dit redelik om te bevind dat appellant die weergawe gefabriseer het.
Die
bewering dat Jacobs die klaagster se beserings veroorsaak het, is
na my mening, ‘n verdere wanhopige poging aan die kant
van die
appellant om homself te verontskuldig in omstandighede waar die
geheel van getuienis oorweldigend daarop dui dat hy die
klaagster
aangerand het . In die geheel gesien is daar na my mening geen basis
vir die bewering dat enige van die staatsgetuies
teen appellant saam
gesweer het nie. Indien dit so was dan kon die getuies baie maklik
die saak teen appellant aangedik het en
die aanranding op die
klaagster baie meer ernstiger gemaak het. Met deurlees van die
rekord is dit na my mening duidelik dat die
getuies slegs getuig het
oor wat hulle op diè dag ervaar en waargeneem het.
[33] Appellant se ontkenning dat die
klaagster geen beserings opgedoen het, is tereg deur die hof verwerp
in die lig van die klaagster
se getuienis wat in wesenslike opsigte
deur ander getuies gestaaf is, die observasies van Rossouw sowel as
die mediese getuienies
wat aan die verhoorhof voorgelê is.
[34] Na my mening het die
verhoorlanddros die mediese getuienis van Dr van As oor haar
bevindings tydens die ondersoek van klaagster
en die getuienis van Dr
Dempers (appellant se deskundige) volledig in die uitspraak hanteer
en die getuienis krities geevalueer.
Die verhoorlanddros het verder,
na my mening, tereg bevind dat daar nie van die klaagster verwag kon
word om presies te kon verduidelik
hoe en op watter wyse die
verskillende beserings wat sy gehad het, opgedoen is nie, inaggenome
die manier en wyse waarop sy aangerand
was nie. Na my mening bied die
mediese getuienis van Dr Van As en Dr Dempers voldoende stawing vir
die bevinding dat die beserings
wat klaagster opgedoen het veroorsaak
is deur ‘n stomp voorwerp wat die dropper nie kan uitsluit nie.
Die kritiek teen die
verhoorlanddros se evaluasie en bevinding oor
die mediese getuienis is derhalwe ongegrond en word verwerp.
[35] Ek stem saam met die verhoorhof se
bevinding dat die getuienis van Jacobus Kannemeyer en Johannes
Pretorius nie van enige noemenswaardige
hulp was by die beoordeling
van die appellant se skuld al dan nie en gevolglik het die verhoorhof
tereg geen gewig op hulle getuienis
geplaas nie.
[36] Dit is geykte reg dat ‘n hof
van appèl nie maklik sal inmeng met die bevindinge van die
verhoorhof nie. Sien
R v Dhlumayo en ‘n Ander 1948(2) SA 677A
op 695. In R v Dhlumayo (supra) het die Appèl Hof bevind dat
‘n Hof
van Appèl ook nie maklik inmeng met die
geloofwaardigheids bevindinge van die verhoorhof nie omdat die
verhoorhof die getuienis
gehoor en gesien getuig het en is die
verhoorhof ‘steeped in the atmosphere of the trial’. Die
Hof van Appèl
het ook in S v Malumbi en ‘n Ander 1991(1)
SASV 235(A) op 247 F-G.bevind dat dit lank reeds gevestigde reg is
‘dat
indien daar geen wanvoorligting op die feite is nie, die
vermoede bestaan dat die verhoorhof se evaluering van die getuienis
aangaande
die feite korrek is, en dat ‘n Hof van Appèl
alleenlik daarmee sal inmeng indien dit oortuig is dat daardie
evaluasie
verkeerd is’. Sien ook S v Mafaladiso en Andere
2003[1] SASV 583 (HHA) 595b-d. In die onderhawige saak is ek is
oortuig
dat die verhoorlanddros die getuienis korrek opgesom en
geevalueer het.
[37] Dit is gepas om op die stadium te
noem dat wanneer ‘n hof bepaal of the staat die skuld van die
beskuldigde bo redelike
twyfel bewys het al dan nie, kyk ‘n hof
nie na die getuienis wat die beskuldigde impliseer, in isolasie om te
bepaal of sy
skuld bo redelike twyfel bewys is nie. Net so kyk die
hof nie na die verontskuldigende getuienis in isolasie om te bepaal
of dit
redelike moontlik waar mag wees nie. Sien S v Van der Meyden
1999(1) SASV 447(W) op 448(i). In S v Govender en Andere 2004(2) SASV
381 (HHA) op 388 het die Hoër Hof van Appèl met
goedkeuring verwys na die aanhaling in S v Hadebe en Andere 1998(1)
SASV (HHA) 422 waar daar op 426 e – h by para 25 bevind is dat:
“The breaking down of a body of
evidence into its component parts is obviously a useful aid to a
proper understanding and
evaluation of it. But, in doing so, one
must guard against a tendency to focus too intently upon the separate
and individual part
of what is, after all, a mosaic of proof. Doubts
about one aspect of the evidence led in a trial may arise when that
aspect is
viewed in isolation. Those doubts may be set at rest when
it is evaluated against together with all the other available
evidence.
That is not to say that a broad and indulgent approach is
appropriate when evaluating evidence. Far from it. There is no
substitute
for a detailed and critical examination of each and every
component in a body of evidence. But, once that has been done, it is
necessary to step back a pace and consider the mosaic as a whole. If
that is not done, one may fail to see the wood for the trees.”
Sien ook S v Chabalala 2003(1) SASV 134
(HHA) op 139i – 140a.
[38] Indien die suiwere beginsels soos
in die bovermelde gesag uiteengesit, by die feite van hierdie saak
toegepas word, dan is
ek tevrede dat die verhoorlanddros op die
totaliteit van die getuienis tot die korrekte slotsom gekom het.
Daar is gevolglik geen
twyfel by my dat die verhoorhof tereg
appellant se weergawe as leuenagtig en onwaarskynlik verwerp het en
derhalwe korrek bevind
het dat die staat bo redelike twyfel bewys het
dat die appellant die klaagster aangerand het deur haar te klap en
met die dropper
te slaan, met die opset om haar ernstig te beseer.
[39] Dit volg dat die appèl teen
die skuldigbevinding nie kan slaag nie.
In die gevolg sal ek die volgende bevel
voorstel:
Die appèl teen die
skuldigbevinding word van die hand gewys.
RILEY, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
LE GRANGE, R