Murray v S (A35/2015) [2015] ZAWCHC 85 (8 June 2015)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Robbery — Identification of accused — Appellant convicted of robbery with aggravating circumstances — Appellant exercised right to remain silent during trial — Complainant identified appellant as the robber based on her observations — Appellant's defense included claims of mistaken identity and alternative explanations for possession of stolen property — Court emphasized the need for caution in identification evidence, particularly in cases involving a single witness — Conviction upheld as the court found no reasonable possibility of mistaken identity.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2015
>>
[2015] ZAWCHC 85
|

|

Murray v S (A35/2015) [2015] ZAWCHC 85 (8 June 2015)

IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID AFRIKA
(WES-KAAP
HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)
Saak No: A35/2015
DATE: 08 JUNIE 2015
In die saak tussen:
NAZEEM
MURRAY
.................................................................................................................
Appellant
En
DIE
STAAT
.............................................................................................................................
Respondent
UITSPRAAK
GELEWER OP 08 JUNIE 2015
RILEY, WnR
[1] Die appellant was in die streekhof
te Parow aangekla van Roof met verswarende omstandighede gelees met
die bepalings van Artikel
51(2) van die Strafwysigingswet 105 van
1997.
[2] Die appellant wie te alle tye in
die hof a quo regsverteenwoordiging geniet het, het onskuldig gepleit
op die aanklag en verkies
om sy swygreg uit te oefen.
[3] Die verhoorhof het die appellant op
29 Julie 2014 skuldig bevind en op 5 Augustus 2014 is appellant
gevonnis tot vyf (5) jaar
direkte gevangenisstraf nadat die
verhoorhof bevind het dat wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat ‘n afwyking
van die minimum vonnis regverdig.
[4] Op dieselfde dag wat vonnis opgelê
is, het die verhoorhof aan appellant verlof verleen om teen sy
skuldigbevinding te
appelleer. Die appellant kom nou in hoër
beroep teen sy skuldigbevinding.
[5] Alhoewel appellant tydens die
pleitverrigtinge verkies het om sy swygreg uit te oefen, het dit
gedurende die verhoor duidelik
geword dat die appellant die
identiteit van die person wat die klaagster beroof het in geskil
plaas.
[6] Die staat het twee getuienis
geroep, naamlik die klaagster, Avril Martin en Christie Groenewald
(‘Groenewald’) ‘n
Wetstoepassings beampte in diens
van die Stad Kaapstad.
[7] Die klaagster het getuig dat sy op
die aand van die voorval nagskof gewerk het en dat sy net voor
middernag huis toe moes stap
nadat die huurmotor waarin sy was,
onklaar geraak het op Valhalla Rylaan, Valhalla Park.
[8] Sy was besig om te stap na die huis
van ‘n familielid toe ‘n manspersoon by haar aansluit en
haar vra waarheen sy
alleen oppad was.
[9] Terwyl hulle stap het die
manspersoon haar op ‘n kru wyse gevra of sy nie met hom wou
seks he nie. Sy het sy voorstel
sonder meer verwerp. In die omgewing
van Angela Straat het die manspersoon afgebuk en ‘n mes te
voorskyn gehaal, na haar
gekom, gedreig dat hy haar sou steek en toe
haar handsak wat oor haar skouer gehang met geweld geruk, wat
veroorsaak het dat die
handsak gebreek het en dat van haar
persoonlike items op die grond geval het. Sy het dapper gestoei om
besit van haar handsak
te behou en in die proses het die manspersoon
haar baadjiesak van haar baadjie afgeruk. In die gestoei het die
manspersoon daarin
geslaag om haar Blackberry selfoon uit haar
handsak te ruk.
[11] Nadat sy haar besittings wat uit
haar handsak geval het, opgetel het, het sy die manspersoon agtervolg
in die rigting waarin
hy beweeg het. Sy het om hulp geskree dat sy
nou net beroof is, en oppad, op Groenewald en sy kollegas afgekom,
aan wie sy toe
‘n rapport gemaak het dat sy beroof was en toe
terselfde tyd die manspersoon wat haar beroof het aan hulle uitgewys.
[12] Sy het getuig dat soos sy hom
volg, het die manspersoon vir ‘n kort tyd buite haar sig beweeg
maar die manspersoon wie
haar vroëer beroof het is kort daarna
na haar gebring en het sy ook haar Blackberry selfoon uitgeken.
[13] Die klaagster was oortuig dat die
appellant die persoon is wat haar beroof het. Sy het hom uitgeken
aan sy gesig, in besonder
dat hy nie voortande gehad het nie, dat hy
‘n ‘navy’ sweetpak broek, ‘baseball’
pet en ‘n bruin
trui aangehad het. Haar beskrywing van die
appellant is nie in kruisverhoor betwis nie.
[14] Gedurende kruisverhoor van die
klaagster, is daar verder aan haar gestel dat appellant sou ontken
dat hy die persoon is wat
haar beroof het, dat hy oppad was na ‘n
huiswinkel, dat ‘n onbekende persoon om ‘n draai
gehardloop gekom het
en teen hom gehardloop het wat veroorsaak het
dat sy selfoon uit sy hand geval en gebreek het. Dat diè
persoon wie na bewering
die klaagster beroof het, toe klaagster se
selfoon in appellant se hand gedruk het en dat die persoon toe oor ‘n
heining
van ‘n huis gespring het en gevlug het. Dit is verder
aan die klaagster gestel dat die polisie om die draai gehardloop
gekom
het en toe die klaagster se selfoon in appellant se besit
gevind het.
[15] Klaagster het die beskuldigde se
weergawe soos aan haar gestel, ontken en aangedring dat die appellant
die persoon was wat
haar beroof het. Dit is nodig om te meld dat
hierdie weergawe wat aan klaagster gestel is, later totaal gewysig is
gedurende
die kruisverhoor van Groenewald.
[16] Groenewald het getuig dat hy die
aand met twee van sy kollegas patrollie dienste verrig het in die
Valhalla Park area toe ‘n
manspersoon verby hulle beweeg.
Hulle het ‘n vrou hoor skree vanuit die rigting waarvandaan die
manspersoon gekom het, dat
sy pas beroof was. Toe die vrou skree, het
die manspersoon wie net verby hulle gestap het, skielik begin
hardloop. Hulle het onmiddelik
in hulle voertuig geklim en die
persoon agternagesit en op hom afgekom waar hy in Richards Singel uit
die gang waardeur hy vroëer
beweeg het gekom het. Terwyl die
persoon hardloop, het hulle opgemerk hoe die persoon ‘n item in
‘n werf van ‘n
woning gooi. Die persoon (wie later blyk
appellant te wees), het toe ophou hardloop en onder bome gaan staan
waar hulle hom uitgehaal
het en geneem het na die werf waar hy die
item ingegooi het. In die werf het hulle die klaagster se Blackberry
selfoon gevind.
Volgens Groenewald was dit die enigste item wat
hulle daar in die werf gekry het en was daar niemand anders as die
appellant daar
op die toneel nie. Hy het bevestig dat die klaagster
die selfoon uitgeken het as haar eiendom.
[17] Volgens Groenewald was appellant
‘bang’ en in ‘angs’ toe hulle hom onder die
bome kry. Hy het geen
verduideliking aan hulle verskaf toe hulle hom
vra wat hy in die werf in gegooi het nie. Klaagster het ook die
appellant aan hulle
uitgewys as die persoon wat haar vroëer
beroof het. Alhoewel appellant buite hulle sig was toe hy hardloop,
het hulle hom
binne vyf en veertig sekondes na hy die eerste keer
verby hulle is, aangekeer. Die polisie het toe opgedaag, appellant
is gearresteer
en is toe na die polisiestasie geneem waar hy aangehou
is. Volgens die Groenewald was appellant geklee in ‘n vaal
sweetpak
broek en ‘tekkies’. Hy kon nie onthou of
appellant ‘n pet aangehad en of watter ander klere hy aangehad
het
nie.
[19] Gedurende kruisverhoor van
Groenewald het appellant se regsverteenwoodiger aanvanklik aan hom
gestel (soos in die geval van
die klaagster) dat ‘n persoon
teen appellant vas gehardloop het wat veroorsaak het dat appellant se
selfoon uit sy hand geval
het. Dat die persoon toe nog ‘n
selfoon aan appellant gegee het en gevra het dat hy dit gou moes hou
en toe in ‘n
perseël gespring het. Appellant het toe ‘n
stop dagga wat hy in sy besit gehad het binne in die perseël
gegooi
waar die klaagster se selfoon later gevind is. Dit is ook aan
Groenewald gestel dat die klaagster se selfoon in appellant se besit

gevind was en nie in die perseël soos deur Groenewald getuig is
nie. Groenewald het volgehou dat hy gesien het hoe appellant
iets in
die werf gooi en dat hulle niks anders as die klaagster se selfoon in
die werf gekry het en dat die klaagster teenwoordig
was op die toneel
nadat haar selfoon gevind was.
[20] Later gedurende kruisverhoor het
appellant se regsverteenwoordiger in opdrag van appellant haar
instruksies verander en is
dit aan Groenewald gestel dat die persoon
wat teen die appellant gehardloop het, nie ‘n selfoon nie, maar
eerder ‘n
stop dagga in appellant se hand gedruk het, en dat
appellant die stop dagga in die werf gegooi het nadat die persoon in
die werf
ingespring en gevlug het. Volgens die nuwe weergawe, sou
die persoon wat die dagga aan appellant gegee het na bewering die
selfoon
in die werf verloor het terwyl hy gevlug het. Groenewald het
laasgenoemde weergawe van die appellant ontken en volgehou dat
appellant
die enigste persoon was wat daar op die toneel was. Dit is
nodig om hier te meld dat hierdie nuwe weergawe, nooit aan die
klaagster
gestel is nie en sy is ook nie terug geroep na die
getuiebank om daarop kommentaar te lewer nie.
[21] Dit is in besonder in kruisverhoor
aan Groenewald gestel dat sy getuienis teenstrydig met diè van
die klaagster is en
dat klaagster getuig het dat sy appellant op ‘n
latere stadium agter in ‘n vangwa geidentifiseer het en nie na
aan
die werf, voor hy aan SAPS oorhandig is nie.
[22] Appellant het getuig dat hy die
aand na 11 uur oppad was om ‘n sigaret by ‘n huiswinkel
te koop en omdat dit gesluit
was, hy na ‘n shebeen oppad was om
daar een te gaan koop. Voor hy die draai vat na Richards Singel, het
hy Groenewald hulle
gesien. Volgens appellant het ‘n persoon
net voor dit teen hom vasgehardloop, die persoon het toe aan hom ‘n
‘bankie’
dagga gegee. Appellant sien toe die ligte van
Groenewald se voertuig. Hy besef toe dat die persoon hom ‘n
lokval wou stel
en hy gooi toe die dagga weer na die persoon waar die
persoon oor die draad in ‘n werf spring.
[23] Volgens appellant was hy geklee in
swart veiligheids stewels, ‘n blou sweetpak broek, ‘n
donkerbruin leer baadjie
en ‘n ‘sky blue’ pet. Hy
het getuig dat sy selfoon gebreek het toe dit val nadat die persoon
teen hom gehardlooop
het en het hy dit net opgetel toe Groenewald
hulle op hom afkom en het hy aan hulle gesê dat iemand nou teen
hom gehardloop
het. In die verband dien gemeld te word dat dit nooit
aan die staatsgetuies gestel is hoe appellant geklee was nie, nog
minder
is daar aan die getuies gestel dat die persoon wat in
appellant vas gehardloop het, alles blou aangehad het en of dat
appellant
se telefoon gebreek het toe dit geval het nie. Vogens
appellant het die polisie toe op die toneel gekom en hy is toe in die
vangwa
geplaas en na Johanna Straat geneem waar klaagster hom
uitgeken het.
[24] Advokaat Levendall, wie namens
appellant in hierdie hof verskyn het, aangevoer dat omdat die
insident in die nag plaasgevind
het, die klaagster nie in staat was
om haar aanvaller behoorlik te identifiseer nie. Sy het verder
aangevoer dat die moonlikheid
nie uitgesluit kan word dat die
klaagster ‘n fout kon maak oor die identiteit van haar
aanvaller nie. Daarbenewens het sy
aangevoer dat daar
teenstrydighede bestaan tussen die getuienis van Groenewald en die
klaagster oor presies waar klaagster was
toe Groenewald die selfoon
aan haar gewys het en waar sy was toe sy later die appellant
identifiseer het. Sy het egter later toe
gegee dat daar nie fout
gevind kon word met die verhoorlanddros se bevinding op die
totaliteit van die getuienis nie.
[25] Die klaagster is ‘n enkel
getuie tot die gebeure waar sy beweer dat appellant haar beroof het
en moet haar getuienis
met die nodige versigtigheid bejeën
word. Daarbenewens getuig sy ook oor die identiteit van haar
aanvaller en is dit gemenesaak
dat die insident laat nag plaasgevind
het. Die gevare van verkeerde identifikasie is oorbekend. Aanwysing
van die verkeerde persoon
deur ‘n getuie wat volkome ter goeder
trou is, het al tot berugte gevalle van onreg gelei. Sien Hiemstra
Suid-Afrikaanse
Strafproses 6de uitg. bl.82. In S v Mthetwa 1972(3)
SA 766(A) het die appèlhof die faktore uiteengesit wat ‘n
hof
in ag moet neem wanneer die kwessie van identiteit ter sprake is.
Ek stem saam met Hiemstra waar die geleerde skrywer verklaar
dat
‘wanneer ‘n redelike moontlikheid van dwaling met
betrekking tot identiteit aan die einde van ‘n strafsaak
nie
uitgesluit is nie, kan daar nie gesê word dat die staat sy saak
bo redelike twyfel bewys het nie. Dit is nie alleen
of selfs primer
‘n kwessie van geloofwaardigheid nie maar een van objektiewe
betroubaarheid.’ In S v Sithole and Other
1999(1) SASV 585(W)
op 591 maan die hof dat ‘there must be no reasonable doubt that
the witness is not mistaken …
that will generally require
something more than the mere assertion by the witness that he has
correctly identified the culprit,
if the inherent risk of error is to
be guarded against.’ Sien ook in die verband R v Mputing
1960(1) SA 785(T) en S v Jochems
1991(1) SASV 208.
[26] By die evaluering van die
klaagster se getuienis is dit dus noodsaaklik om die goeie
eienskappe van so ‘n getuie se
getuienis te oorweeg tesame met
al die faktore wat aan die geloofwaardigheid van die getuie afbreuk
kan doen. Die klaagster was
deeglik onder kruisverhoor geneem deur
die appellant se prokureur in die hof a quo. Sy het deurentyd by
haar weergawe gehou en
in besonder getuig dat al was appellant vir ‘n
kort ruk buite haar sig, dat sy oortuig was dat hy die persoon was
wat haar
van haar selfoon beroof het. Die verhoorlanddros was
tevrede dat nieteentaande die versigtigheids reëls wat van
toepassing
was by die beoordeling van die klaagster se getuienis, dat
die klaagster meer as voldoende tyd gehad het om ‘n behoorlike

uitkenning van die appellant te maak aangesien die appellant vir ‘n
tyd lank met haar geloop het, sy appellant se gesig gesien
het, in
besonder opgemerk het dat hy nie voortande gehad het nie en dat sy ‘n
goeie beskrywing oor sy kleredrag gegee het.
[27] Die verhoorlanddros het ook
stawing vir die klaagster se getuienis gevind in die getuienis van
Groenewald. Ek meld in diè
verband dat Groenewald ‘n
uitstekende getuie was. Hy het die nodige toegewings gemaak waar hy
moes, en het die deeglike
kruisverhoor wat hy aan onderwerp is, goed
deurstaan en by sy weergawe gehou. Die verhoorhof het verder tereg
na my mening bevind
dat alhoewel daar teenstrydighede in die
getuienis van die twee getuies was dat dit nie beteken dat die hof
die getuienis van die
getuies sonder meer moes verwerp nie. In die
verband bevind die verhoorlanddros dat ‘... these
contradictions in this mater
do not affect the quality of the
testimony of the state witnesses, but only affects details. When the
evidence in this matter
is viewed holistically, these contradictions
are not material. Therefore the court is of the view that it can
place reliance on
the evidence of the two state witnesses as they
also made a good impression on this court. Thus, notwithstanding the
fact that
it was dark on the day in question. It is therefore the
court’s view, based on the merits of the case, the court is
satisfied
that the identification of the witnesses were reliable.’
[28] Dit is belangrik om te beklemtoon
dat wanneer ‘n hof bepaal of die staat die skuld van die
beskuldigde bo redelike twyfel
bewys het al dan nie, kyk ‘n hof
nie na die getuienis wat die beskuldigde impliseer, in isolasie om te
bepaal of sy skuld
bo redelike twyfel bewys is nie. Net so kyk die
hof nie na die veronskuldigende getuienis in isolasie om te bepaal of
dit redelik
moontlik waar mag wees nie. Sien S v Van Der Meyden
1999(1) SASV 447(W) op 448(i).
[29] In S v Govender en Andere 2004(2)
SASV 381 op 388, het die Hoër Hof van Appèl met
goedkeuring verwys na die aanhaling
in S v Hadebe en Andere 1998(1)
SASV (HHA) 422 waar daar op 426 e – h by para 25 bevind is dat:
“The breaking down of a body of
evidence into its component parts is obviously a useful aid to a
proper understanding and
evaluation of it. But, in doing so, one
must guard against a tendency to focus too intently upon the separate
and individual part
of what is, after all, a mosaic of proof. Doubts
about one aspect of the evidence led in a trial may arise when that
aspect is
viewed in isolation. Those doubts may be set at rest when
it is evaluated against together with all the other available
evidence.
That is not to say that a broad and indulgent approach is
appropriate when evaluating evidence. Far from it. There is no
substitute
for a detailed and critical examination of each and every
component in a body of evidence. But once that has been done, it is
necessary to step back a pace and consider the mosaic as a whole. If
that is not done, one may fail to see the wood for the trees.”
Sien ook S v Chabalala 2003(1) SASV 134
(HHA) op 139i – 140a.
[30] Appellant was daarenteen ‘n
uiterse swak getuie. Ek stem saam met Advokaat Theunissen wie namens
die staat opgetree
het, dat appellant deurgaans sy weergawe aangepas
het soos die verhoor sy verloop geneem het. Na my mening het die
verhoofhof
korrek bevind dat die appellant se weergawe totaal
onbevredingend en onwaar was en is sy getuienis gevolglik tereg as
vals verwerp.
[31] Indien die suiwere beginsels soos
in die bovermelde gesag uiteengesit, by die feite van hierdie saak
toegepas word, dan is
ek tevrede dat die verhoorlanddros op die
totaliteit van die getuienis tot die korrekte slotsom gekom het.
Daar is gevolglik geen
twyfel by my dat die staat die identiteit van
die appellant bo redelike twyfel bewys het, en dat die appellant die
persoon is wat
die klaagster met ‘n mes gedreig het en haar
selfoon by haar afgeneem het.
[32] Dit volg dat die appèl teen
die skuldigbevinding nie kan slaag nie.
Daarom sal ek die volgende bevel
voorstel:
Die appèl teen die
skuldigbevinding word van die hand gewys.
RILEY, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
NDITA, R