About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2015
>>
[2015] ZAWCHC 84
|
|
Johnson v S (A146/2015) [2015] ZAWCHC 84 (8 June 2015)
IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID AFRIKA
(WES-KAAP
HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)
Saak No: A146/2015
DATE: 08 JUNE 2015
In die saak tussen:
KENO
JOHNSON
.....................................................................................................................
Appellant
En
DIE
STAAT
.............................................................................................................................
Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 08 JUNIE 2015
RILEY, WnR
[1] Die appellant was in die streekhof
te Bellville skuldig bevind aan ‘n aanklag van ‘n
oortreding van Artikel 117(e)
van die Wet op Korrektiewe Dienste No.
111 van 1998 te wete dat hy gedurende die periode 18 September 2011
tot 12 Desember 2012
te 70 Tulbagh Singel, Belhar, terwyl hy
onderworpe is aan gemeenskapskorreksies, gedros het en daardeur
monitering vermy het.
[2] Appellant is op 5 Februarie 2014
gevonnis tot ‘n termyn van twee jaar direkte gevangenisstraf en
kom nou in hoër
beroep met verlof van hierdie hof, slegs teen
vonnis.
[3] Daar is in hierdie hof onder andere
namens die appellant aangevoer dat die verhoorhof misgetas het by die
oplegging van ‘n
gepaste vonnis deur nie genoeg gewig te heg
aan die persoonlike omstandighede van die appellant nie; deur nie in
ag te neem dat
die appellant vir meer as veertien maande verhoor
afwagtend was nie, en dat die verhoorhof versuim het om die
kumulatiewe effek
van die addisionele twee jaar gevangenisstraf wat
opgelê, is in ag te neem.
[4] Dit word nou algemeen aanvaar dat
‘n Hof van Appèl slegs met die vonnis van die verhoorhof
sal inmeng indien daar
‘n mistasting deur die verhoorhof begaan
is, of as die vonnis opgelê deur die verhoorhof so swaar is dat
geen redelike
hof die vonnis sou opgelê het nie.
[5] Dit is ook geykte reg dat by die
oorweging van vonnis dat dit belangrik is dat die vonnisoplegger by
die strewe na ‘n
gebalanseerde vonnis, ‘n straf moet oplê
wat gepas is vir die oortreder en die misdaad wat hy/sy gepleeg het.
Die
vonnis moet ook billik of regverdig wees in die oë van die
gemeenskap en moet daar ‘n mate van genade wees afhangende
van
die omstandighede.
[6] Die misdryf waaraan die appellant
skuldig bevind is, maak voorsiening vir die oplegging van ‘n
boete of met opsluiting
vir ‘n tydperk van hoogstens tien jaar
of met sodanige opsluiting sonder die keuse van ‘n boete, of
met beide sodanige
boete en sodanige opsluiting.
[7] Dit is gemene saak dat appellant op
3 Desember 1997 skuldig bevind is aan moord en besit van ‘n
ongelisensieerde vuurwapen
en onderskeidelik gevonnis is tot twee en
twintig jaar en drie jaar gevangenisstraf wat saamlopend uitgedien
moes word. Appellant
is op 29 Oktober 2010 vrygelaat op parool tot
21 Maart 2021. As voorwaarde van sy vrylating op parool moes
appellant hom onderwerp
aan gemeenskapskorreksies wat insluit dat hy
onder andere, gemeenskapsdiens moes verrig en dat hy nie van adres
kan verander sonder
toestemming van sy paroolbeampte nie. Volgens
die aanvaarde getuienis het die appellant van adres verander sonder
die toestemming
van sy paroolbeampte en kon hy derhalwe nie gemonitor
word nie. Daar is ook getuienis dat hy nie die gemeenskapsdiens
komponent
van sy gemeenskapskorreksie program nagekom het nie
alhoewel die getuienis ten opsigte van laasgenoemde egter karig is.
Dit is
verder gemenesaak dat appellant op 12 Desember 2012 weer in
die gevangenis opgeneem is om die res van die 3475 dae
gevangenisstraf
op die moord saak uit te dien as gevolg van die
verbreking van sy parool voorwaardes.
[8] Ek wil uit die staanspoor my misnoë
uitspreek oor die feit dat daar meer as ‘n jaar verloop het
vandat appellant
vir paroolbreuk gearresteer is totdat hy op die
aanklag voor die hof gebring is en die saak teen hom afgehandel is.
Dit is onverklaarbaar
waarom die appellant eers op 23 September 2013
voor die hof gebring is op die aanklag en dat die saak eers op 5
Februarie 2014
afgehandel is, as die appellant reeds op 12 Desember
2012 vir paroolbreuk gearresteer is. Na my mening is die toedrag van
sake
totaal onaanvaarbaar en kom dit neer op ‘n skending van
die appellant se reg tot ‘n spoedige verhoor. Na my mening
maak dit nie ‘n verskil dat appellant reeds begin het om die
res van sy vonnis uit te dien nie en is dit ‘n faktoor
wat die
verhoorlanddros nie behoorlik in ag geneem het toe sy oorweging aan
‘n gepaste vonnis gegee het in die saak nie.
[9] In haar uitspraak oor vonnis,
verklaar die landdros onder andere as volg:
“Ek is ingelig vandag dat u nie
behoort aan ‘n bende nie. Wat vreemd is, is dat u oorlede
tweeling broer, soos wat
uself getuig het, betrokke was by bende
aktiwiteite en dat uself ook getuig het dat u en u familie gevrees
het ook vir u lewe.
Daar was ook iets wat u tydens kruisondervraging
genoem het rondom Pagad. Daar is nie verder daaroor uitgebrei nie.
Hoe dit
ook al sy, ons almal weet wie ‘Pagad’ is en ons
almal weet wie ‘Geweld’ is, as ons met hierdie tipe sake
te doen het, en dit voorspel net probleme.
So wat vir my duidelik na vore gekom
het Mnr Johnson, is dat u in verkeerde kringe beweeg en as ek kyk na
die laaste oortreding,
die een waarvoor u op parool was, daar is nie
uitgebrei nie. U kan vir my sê as ek verkeerd is. Ek lei af
die moord wapen
wat u gebruik het, was ‘n vuurwapen, want u is
ook op daardie masnommer skuldig bevind aan besit van ‘n
ongelisensieerde
vuurwapen en besit van ammunisie …’
en verder
‘Ek wil aansluit by die betoog
van die Staatsaanklaer dat u een van daardie persone is wat nie
daardie kans gegun moet word
nie, dat u reeds bewys het met die
eerste oortreding waar u op parool uit was, dat u moord gepleeg het
terwyl u op parool uit was,
dat u nooit hierdie kans, gegun moes
gewees het nie.’
[10] Dit is heel duidelik dat by die
beoordeling van ‘n gepaste vonnis dat die verhoorlanddros
beinvloed is deur die feit
dat na haar mening:
1. die appellant hom met bende
bedrywighede geassosieer het terwyl hy op parool was;
2. dat hy ‘n ongelisensieerde
vuurwapen gebruik het by die pleeg van die moord waarop hy op parool
vrygelaat is; en
3. die appellant nooit op parool
vrygelaat moes gewees het nie, aangesien hy op ‘n vorige
geleentheid op parool vrygelaat
is toe die moord gepleeg is.
[11] Daar is geen getuienis dat die
appellant hom met bendebedrywighede betrek het terwyl hy op parool
was nie. Die getuienis wys
eerder daarop dat na appellant se broer
deur bendes doodgeskiet is, omdat hy getuienis sou aflê teen
bendes, dat appellant
en sy familie gevrees het dat appellant ook
deur bendes vermoor sou word. Dit was juis om die rede dat
appellant onder invloed
van sy familie besluit het om die adres waar
hy woonagtig was, te verlaat om uit die area te kom waar sy lewe
klaarblykbaar in
gevaar was.
[12] Alle aanduidings is dat appellant
‘n stabiele leefswyse handhaaf het terwyl hy op parool was, dat
hy gewerk het as ‘n
motorwerktuigkunde by Porter BMW en dat hy
‘n minderjarige kind van drie (3) jaar oud gehad het. Dit blyk
ook dat hy ‘n
verhouding met een van sy meisies beëindig
het omdat sy onstabiel opgetree het en dat hy bang was dat sy
probleme in sy lewe
sou veroorsaak wat ‘n negatiewe uitwerking
op sy parool sou het. Alle aanduidings is dat appellant nie meer met
bendes betrokke
was nie en dat hy besig was om sy lewe te verander.
Daar is geen getuienis dat terwyl hy op parool vrygelaat is dat hy
betrokke
was by die pleeg van misdaad nie en of dat hy aan enige
misdade skuldig bevind is nie. Dit blyk dat die appellant se enigste
fout
was dat hy nie sy paroolbeampte laat weet het van sy adres
verandering nie.
[13] Die landdros het verder uit die
oog verloor dat die verhoorhof wat die appellant skuldig bevind het
aan moord en die vonnis
van twee en twintig (22) jaar opgelê
het, seer sekerlik die omstandighede waaronder daardie moord gepleeg
is in ag moes geneem
het, toe hy daarvoor gevonnis was.
[14] Dit moet ook so wees dat die
Parool Raad oorweging gegee het aan die appellant se vorige
veroordelings toe daar besluit is
of appellant in die moord saak op
parool vrygelaat moes word al dan nie. In elk geval is daar geen
getuienis voor die hof geplaas
oor die omstandighede van die moord en
die redes waarom die vonnis opgelê is nie. Nog minder is daar
faktore voor die verhoorlanddros
geplaas oor die redes waarom
appellant op parool vrygelaat is nie. Die verhoorlanddros het myns
insiens misgetas deur haar nie
te beperk tot die feite en
omstandighede van die huidige misdaad waaraan appellant hom skuldig
gemaak het.
[15] Dit is verder duidelik dat die
verhoorlanddros die belange van die gemeenskap en die aard en erns
van die misdryf oorbeklemtoon
het en die belangrike komponente van
rehabilitasie en individualisering van vonnis, nagelaat het. Dit is
korrek dat die gemeenskap
verwag dat ernstige misdaad gestraf sal
word, maar word dit ook verwag dat strafversagtende omstandighede in
ag geneem moet word
en dat die beskuldigde se besondere posisie
deeglike oorweging verdien.
[16] Ek is gevolglik van mening dat die
verhoorlanddros misgetas het deur die belange van die gemeenskap
asook die erns van die
misdaad te oorbeklemtoon. Na my mening is dit
nie een van die mees ernstige gevalle van paroolbreuk nie. Die feit
dat appellant
hom skuldig gemaak het aan paroolbreuk sal sonder
twyfel sy kanse om in die toekoms weer op parool vrygelaat te word
negatief beinvloed.
Ek is derhalwe nie oortuig dat inageneem al die
omstandighede van hierdie saak, dat die termyn van twee (2) jaar
direkte gevangenisstraf
wat opgelê is, ‘n redelike en
gebalanseerde vonnis is nie. Ek is tevrede dat in die omstandighede
van hierdie saak
dit gepas is dat die twee (2) jaar gevangenisstraf
wat opgelê is samelopend uitgedien moet word met die vonnis wat
die appellant
huidiglik uitdien.
[17] Derhalwe stel ek die volgende
bevel voor:
(a) Die appèl slaag ten opsigte
van vonnis.
(b) Die vonnis van twee (2) jaar
gevangenisstraf word vervang met die volgende vonnis:
(i) Twee (2) jaar gevangenisstraf.
Ingevolge die bepalings van Artikel 280 van die Strafproseswet 51 van
1977 word gelas dat die
vonnis van twee (2) jaar samelopend uitgedien
word met die vonnis wat die appellant huidiglik uitdien.
(ii) Die vonnis word terugdateer na die
oorspronklike datum van vonnisoplegging.
RILEY, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
NDITA, R