About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2015
>>
[2015] ZAWCHC 70
|
|
Coetzee v S (A153/2015) [2015] ZAWCHC 70 (27 May 2015)
IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID AFRIKA
(WES-KAAP
HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)
Saak No: A153/2015
DATUM: 27 MEI 2015
In die saak tussen:
ISMAIL
COETZEE
..................................................................................................................
Appellant
En
DIE
STAAT
.............................................................................................................................
Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 27 MEI 2015
RILEY, WnR
[1] Die appellant het op 4 Maart 2014
in die streekhof te Oudtshoorn tereg gestaan op ‘n aanklag van
moord gelees met die
bepalings van Artikel 51(2) van Wet 105 van
1997. Die appellant, wie ten alle tye regsverteenwoordiging geniet
het in die hof
a quo, het op dieselfde dag skuldig gepleit op die
aanklag en is skuldig bevind.
[2] Op 23 April 2014 is appellant
gevonnis tot twaaf (12) jaar gevangenisstraf, waarvan vyf (5) jaar
opgeskort is vir ‘n periode
van vyf (5) jaar op sekere
voorwaardes.
[3] Op 18 Augustus 2014 het appellant
aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen sy vonnis, welke
aansoek deur die hof a quo
van die hand gewys is.
[4] Die appellant kom nou in hoër
beroep teen vonnis met verlof van hierdie Hof.
[5] Mnr Vismer het onder andere, namens
appellant, op appèl, aangevoer dat die verhoorlanddros
misgetas het deurdat:
1. die verhoorlanddros die aard en erns
van die misdaad en die gemeenskaps belang oorbeklemtoon het en die
appellant se persoonlike
omstandighede onderbeklemtoon het;
2. die verhoorlanddros nie bevind het
dat, in die besondere omstandighede van die saak ‘n vonnis in
terme van Artikel 276(1)(i)
van die Strafproses Wet 51 van 1977, ‘n
gepaste vonnis was nie; en
3. die verhoor landdros nie die
elemente van vonnis op ‘n gebalanseerde wyse toegepas het nie.
[6] Dit is geykte reg dat by die
oorweging van ‘n gepaste vonnis, die hof ‘n gebalanseerde
oorweging moet gee aan die
aard en erns van die misdryf, die belang
van die gemeenskap en die persoonlike omstandighede van die
oortreder. Sien S v Zinn
1969(2) SA 137(A).
[7] Dit is ook so dat ‘n hof van
appèl slegs sal inmeng met die vonnis van die verhoorhof
indien dit blyk dat die verhoorlanddros
nie sy diskresie op ‘n
behoorlike en redelike wyse uitgeoefen het nie.
[8] In die onderhawige geval was die
appellant ten tye van die voorval saam met die oorledene, sy neef, by
appellant se huis te
Riemvasmaak, Oudshoorn, waar hulle wyn gedrink
het. Laatmiddag het hy saam met die oorledene gestap om hom ‘n
ent weg te
bring. Die appellant het op daardie stadium ‘n
ander neef van hom se klein musiekspeler by hom gehad en hulle het na
musiek
geluister soos hulle gestap het. Die oorledene het aangehou
dat appellant die musiekspeler aan hom moet gee om saam met hom te
vat. Toe appellant weier om in te stem, het die oorledene
‘opdringerig’ geraak, ‘n erge rusie het ontstaan en
die oorledene het appellant so hard met die vuis geslaan dat hy
gestruikel het. Hierop het die appellant ‘n mes uit sy sak
gehaal en die oorledene een keer in die nek gesteek as gevolg waarvan
die oorledene kort daarna oorlede is.
[9] Dit is gemene saak dat beide
appellant en oorledene drank in gehad het toe die insident
plaasgevind het. Appellant erken dat
toe hy die oorledene gesteek
het, hy die moontlikheid voorsien het dat die oorledene kon sterf en
dat hy hom daarmee versoen het.
Appellant het dieselfde aand die
insident by die polisie stasie aangemeld en skuld beken.
[10] Die hof a quo het bevind dat,
gebaseer op die erkennings wat appellant gemaak het, hy skuldig is
aan moord op die basis dat
hy opset met moontlikheids bewussyn, of
anders gestel dolus eventualis, gehad het toe hy die oorledene
gesteek het.
[11] Dit is gemenesaak dat die
verhoorhof ingevolge Artikel 51(2) van Wet 105 van 1997 verplig was
om ‘n minimum vonnis van
vyftien (15) jaar gevangenisstraf aan
appellant op te lê, tensy dwingende en wesenlike omstandighede
aanwesig was on daarvan
af te wyk.
[12] Die verhoorlanddros het dit as
verswarend bevind dat die optrede van die appellant onnodig was, dat
appellant se optrede onaanvaarbaar
is in enige geordende en beskaafde
samelewing en dat dit nie geduld kon word nie. Die verhoorlanddros
was van mening dat die hof
sy afkeur moes uitspreek teen die optrede
deur die vonnis wat die hof oplê. Dit is duidelik dat die
landdros onder andere
van mening was dat die hof ‘n vonnis moet
oplê wat ten doel het om appellant en ander persone ‘wat
sulke neigings
openbaar af te skrik en te weerhou daarvan…’
[13] Die verhoorlanddros het na my
mening tereg bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die hof magtig
om af te wyk van die voorgeskrewe minimum
vonnis. In die verband het die hof bevind dat die feit dat appellant
‘n eerste
oortreder is, appellant berou getoon het en dat daar
‘n mate van provokasie teenwoordig was, wesenlike en dwingende
omstandighede
daarstel.
[14] Die korrektiewe beampte was van
mening dat ‘n vonnis ingevolge Artikel 276(1)(h) van die
Strafproseswet (Korrektiewe
Toesig) ‘n gepaste vonnis was.
Ondanks sy mening was die verhoorlanddros van mening dat
gevangenisstraf die mees gepaste
vonnis was aangesien die tipe
misdaad algemeen voorkom en as gevolg van die feit dat die basis van
die moord, opset by moontlikheidsbewussyn
was. Gevolglik het die hof
bevind dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is en
die appellant toe sewe (7) jaar
effektiewe tronkstraf opgelê.
[15] In die onderhawige saak is die
appellant se persoonlike omstandighede uiters gunstig. Ten tye van
die oplegging van vonnis,
was appellant 22 jaar oud. Hy het graad 11
op skool gehaal en het daarna ‘n rekenaarskursus by NCC gevolg.
Hoewel hy nog
nooit ‘n vaste betrekking gehad het nie, het hy
wel geleentheidswerk gedoen by verskeie werkgewers. Die appellant is
die
tweede oudste seun van vier kinders. Hy woon by sy ouers wie nog
beide werk en die familie is lede van die Weyers Memorial Kerk.
Appellant was in ‘n vaste verhouding en het onderhouds
verpligtinge ten opsigte van ‘n minderjarige kind gehad.
[16] Appellant is ‘n eerste
oortreder en alle aanduidings is dat appellant ‘n stabiele
leefwyse handhaaf het tot en
met die tragiese insident. Daar is geen
getuienis dat appellant dwelms gebruik nie en hy gebruik drank slegs
sosiaal. Dit is
duidelik dat die appellant onmiddelik na die
insident verantwoordelikheid aanvaar het vir sy optrede en het hy dan
ook by die polisie
aangemeld en skuld beken het. Appellant se berou
word verder uitgebeeld deurdat hy sy tante om vergifnis gevra het vir
die verlies
van haar seun se lewe en het hy verskoning gevra vir sy
onverantwoordelike optrede. Na my mening is appellant se optrede
aanduidend
van ware berou in vergelyking met selfbejammering en of
onvermydelike skulderkenning.
[17] Dit is gemene saak dat sy tante
geen kwade gevoelens teen hom koester nie, en dat daar versoening
tussen al die partye plaasgevind
het. Sy tante het die mening
uitgespreek dat appellant ‘n geleentheid gegun moet word om
homself te bewys deur die oplegging
van ‘n
gemeenskapsgebaseerde vonnis.
[18] In S v R 1993 (1) SASV 209 (A) het
die appèl hof per Kriegler Wn AR (soos hy toe was) bevind dat
die belangrike aspek
van korrektiewe toesig as ‘n vonnis opsie
is die klemverskuiwing vanaf gevangenisstraf na hervorming. Volgens
die geleerde
regter het die Wetgewer, ‘dus duidelik onderskei
tussen twee soorte misdadigers naamlik, die wat deur gevangesetting
van
die gemeenskap afgesonder moet word en die wat strafwaardig is
maar nie uit die gemeenskap verwyder hoef te word nie…’
[19] In S v M (Centre for Child Law as
Amicus Curiae) 2007 (2) SASV 539 (CC), op para 63 bevind Sachs R ‘…it
should
not be categorised as a lenient alternative to direct
imprisonment. It can, depending on the circumstances, involve an
exacting
regime, even house arrest.’
[20 In S v Dikgacwi en Andere (SS
49/2012
[2013] ZAWCH C 67
(15 April 2013 spreek die hof hom as volg
uit oor korrektiewe toesig as ‘n vonnis opsie:
‘The development of this process
must not be seen as a weakness, as the justice system having 'gone
soft'. What it entails
is the application of appropriate and
effective sentences. An enlightened society will punish offenders,
but will do so without
sacrificing decency and human dignity.
[21] Dit is duidelik volgens S v
Dikgacwi en Andere (SS49/2012 [2013] ZAWCH supra dat die tipe vonnis
nie beperk word tot mindere
ernstige misdade nie. Wat meer belangrik
is, is dat die hof in S v D 1995 (1) SASV 259 (A) op 266 c-d, met
goedkeuring aangehaal
in S v Romer 2011 (2) SASV 153 (HHA) op para
[29] verklaar dat:
'In its nature a sentence of
correctional supervision is not denunciatory. It does not follow,
however, that such a sentence is
necessarily inappropriate because
the case is one which excites the moral indignation of the community.
The question to be answered
is a wider one: whether the particular
offender should, having regard to his personal circumstances, the
nature of his crime and
the interests of society, be removed from the
community.'
[22] In S v Ingram 1995 (1) SASV 1 (A)
op bl. 9 paragrawe f – g, d – f bevind die hof dat
korrektiewe toesig as vonnis
voorsiening maak vir ‘… the
imposition of an adequate sentence without resorting to imprisonment
with all its attendant
negative consequences for both the prisoner
and society. As correctional supervision under s 276(1)(h) can, in
terms of s 276A(1)(b),
only be imposed for a period not exceeding
three years, it is not a sentence that readily lends itself to the
very serious category
of crimes (which would normally call for higher
sentences) and should therefore not be too lightly imposed in such
cases’.
[23] Die appèlhof beklemtoon
lank reeds dat in gepaste gevalle, selfs waar moord gepleeg word,
moet die vonnis oplegger nie
versuim om gebruik te maak van
korrektiewe toesig nie. Sien S v Booysen1993 (1) SASV 698 (A); S v
Potgieter 1994 (1) SASV 61 (A);
S v Kleynhans1994 (1) SASV 195 (O);
en S v Ingram (supra).
[24 In S v Ingram supra, ‘n moord
saak, is die beskuldigde gevonnis tot direkte gevangenisstraf deur
die verhoor hof. Op
appèl is die saak terug verwys na die hof
a quo vir heroorweging van vonnis nadat daar voldoen is aan die
bepalings van
Artikel 276 A(1). Oor die erns van die moord verklaar
die hof as volg:
“It is trite law that the
determination of an appropriate sentence requires that proper regard
be had to the triad of the
crime, the criminal and the interests of
society. A sentence must also, in fitting cases, be tempered with
mercy. Murder, in any
form, remains a serious crime which usually
calls for severe punishment. Circumstances, however, vary and the
punishment must ultimately
fit the true nature and seriousness of the
crime. The interests of society are not best served by too harsh a
sentence; but equally
so they are not properly served by one that is
too lenient. One must always strive for a proper balance. In doing so
due regard
must be had to the objects of punishment. In this respect
the trial Judge held, in my view correctly, that the deterrent aspect
of punishment does not play a major role in the present instance. The
appellant is not ever likely to repeat what he did. Deterrence
is
therefore only relevant in the context of the effect any sentence may
have on prospective offenders. A suspended period of imprisonment
is
accordingly rendered largely superfluous.”
[25] In S v Aspeling 1998 (1) SASV 561
(K) het die hof op appèl nie saam gestem met die hof a quo se
benadering dat korrektiewe
toesig nie vir moord opgelè kan
word nie. Op appèl verwys die hof na verskeie instansies waar
korrektiewe vonnis
inderdaad opgelè is vir moord. Die hof kom
uiteindelik tot die slotsom dat ‘n vonnis in gevolge Artikel
276(1)(i)
gepas was.
[26] In S v Potgieter 1994 (1) SASV 61
(A) het die appèlhof die saak terug verwys na die hof a quo
vir heroorweging van vonnis
en in besonder of korrektiewe toesig ‘n
gepaste vonnis is, waar die hof a quo direkte gevangenisstraf opgelè
het vir
moord. Sien ook S v Larsen 1994 (2) SASV 149 (A).
[27] Ek stem saam dat die vonnis wat
opgelê word, daarop gerig moet wees om mee te werk dat die
person nie die misdadigheid
herhaal nie, en behoort ook ander tot
voorbeeld te strek om hulle sodoende van misdade af te skrik. Sien
Hiemstra, Suid-Afrikaanse
Strafproseswet 6de uitg bl. 685. Dit is
egter ook so dat alhoewel afskrikking ‘n regmatige oogmerk van
straftoemeting is,
mag daar nie toegelaat word dat dit tot ‘n
onredelike straf aanleiding gee nie.
[28] Dit is egter duidelik dat die
verhoorlanddros tot die slotsom gekom het dat omdat appellant hom
skuldig gemaak het aan moord,
dat geen ander vonnis, behalwe direkte
gevangenisstraf, ‘n gepaste vonnis is nie. Na my mening, het
die verhoorlanddros
in die verband misgetas. Een van die oogmerke
van vonnis is, dat vonnis geindividualiseer moet wees.
[29] In S v SMM 2013 (2) SASV 292 (HHA)
para 13 merk Majiedt AR as volg op in die verband ‘… I
hasten to add that it
is trite that each case must be decided on its
own merits. It is also self-evident that sentence must always be
individualised,
for punishment must always fit the crime, the
criminal and the circumstances of the case. It is equally important
to remind ourselves
that sentencing should always be considered and
passed dispassionately, objectively and upon a careful consideration
of all relevant
factors. Public sentiment cannot be ignored, but it
can never be permitted to displace the careful judgment and fine
balancing
that are involved in arriving at an appropriate sentence.
Courts must therefore always strive to arrive at a sentence which is
just and fair to both the victim and the perpetrator, has regard to
the nature of the crime and takes account of the interests of
society. Sentencing involves a very high degree of responsibility
which should be carried out with equanimity. As Corbett JA put
it in
S v Rabie
[1975 (4) SA 855
(A) at 866A-C]:
'A judicial officer should not approach
punishment in a spirit of anger because, being human, that will make
it difficult for him
to achieve that delicate balance between the
crime, the criminal and the interests of society which his task and
the objects of
punishment demand of him. Nor should he strive after
severity; nor, on the other hand, surrender to misplaced pity. While
not
flinching from firmness, where firmness is called for, he should
approach his task with a humane and compassionate understanding
of
human frailties and the pressures of society which contribute to
criminality.' Op dieselfde trant verklaar die hof in S v Samuels
2011 (1) SASV 9 (HHA) op para [97] dat:
‘An enlightened and just penal
policy requires consideration of a broad range of sentencing options
from which an appropriate
option can be selected that best fits the
unique circumstances of the case before the court. It is trite that
the determination
of an appropriate sentence requires that proper
regard be had to the well-known triad of the crime, the offender and
the interests
of society. After all, any sentence must be
individualised and each matter must be dealt with on its own peculiar
facts. It must
also in fitting cases be tempered with mercy.
Circumstances vary and punishment must ultimately fit the true
seriousness of the
crime. The interests of society are never well
served by too harsh or too lenient a sentence. A balance has to be
struck.’
[30] Indien die verhoorlanddros
appellant se uiters gunstige omstandighede behoorlik beoordeel het,
tesame met die aanbevelings
soos gemaak deur die korrektiewe beampte,
moes die landdros na my mening tot die slotsom gekom het dat
appellant nie tronkmateriaal
is nie en dat ‘n vonnis van
gemeenskapskorreksie, gesien in die besonderheids omstandighede van
die saak, inderdaad die gepaste
vonnis was.
[31] Die verhoor landdros het verder
totaal uit die oog verloor dat die appellant, sy familie en die
oorledene se familie reeds
met mekaar versoen het en dat die
oorledene se ma versoek het dat ‘n gemeenskapsgebaseerde vonnis
opgelê moet word.
[32] Ons howe het in gepaste
omstandighede oorweging gegee aan die gevoelens van die familie van
‘n oorledene in ‘n
moord saak. Sien S v Maluleke 2008
(1) SASV 49 (T) as voorbeeld van die toepassing van die beginsel van
‘restorative justice’
in die konteks van ‘n moord
saak. Sien ook S v Matyityi 2011 (1) SASV 40 (SCA), S v Saayman 2008
(1) SASV 393 (E), S v Shilubane
2008 (1) SASV 295 (T), S v Mtshabe
2008 JDR 1308 (TK), S v M (Centre for Child Law as Amicus Curiae)
2007 (2) SASV 539 (CC).
[33] Na my mening is die kardinale
vraag wat in die saak gevra moet word, of die appellant vir ‘n
periode van sewe (7) jaar
uit die gemeenskap verwyder moet word.
Indien gekyk word na die appellant se gunstige persoonlike
omstandighede, die aard van
die versagtende faktore, die
omstandighede waaronder hy die misdaad gepleeg het sowel as die
belange van die gemeenskap, is ek
nie oortuig dat die appellant vir
sewe (7) jaar uit die gemeenskap verwyder moet word nie. Gevolglik
moet die appèl teen
vonnis slaag en is ek van mening dat op
die geheel van die getuies, ‘n vonnis ingevolge Artikel
276(1)(i) van die Strafproses
Wet ‘n meer gebalanseerde vonnis
is. [Sien S v Truyens 2012(1) SASV 79 (HHA)].
[34] Artikel 276 A van die
Strafproseswet lees as volg:
‘(1) Straf word slegs kragtens
artikel 276(1)(h) opgelê –
(a) nadat ‘n verslag van ‘n
proefbeampte of ‘n korrektiewe beampte voor die hof geplaas
is; en
(b) vir ‘n bepaalde tydperk wat
nie drie jaar te bowe gaan nie.
(2) Straf word slegs kragtens artikel
276(1)(i) opgelê –
(a) indien die hof van oordeel is dat
die misdryf die oplegging regverdig van gevangenisstraf, met of
sonder die keuse van ‘n
boete, vir ‘n tydperk van
hoogstens vyf jaar; en
(b) vir ‘n bepaalde tydperk wat
nie vyf jaar te bowe gaan nie.
(3) …
(4) …
[35] Ingevolge Artikel 276(1)(i) word
die doel van gevangenisstraf ‘n gepaste vonnis bereik maar word
die termyn ingeperk
deurdat daar ‘n vooruitsig van vroeë
vrylating is op gepaste voorwaardes onder korrektiewe toesig. Sien S
v N 2008(2)
SASV 135 (HHA).
[36] Appellant is nie ‘n gevaar
vir die samelewing nie. Alle aanduidings is dat hy na sy vrylating
binne die gemeenskap kan
rehabiliteer en dat hy baat sal vind by ‘n
streng program van gemeenskapskorreksies soos aangebied deur die
Departement van
Korrektiewe Dienste.
[37] Dit volg dat die appèl teen
vonnis moet slaag. Daarom sal ek die volgende bevel voorstel:
Die vonnis van twaalf (12) jaar
gevangenisstraf waarvan vyf (5) jaar gevangenisstraf opgeskort word
vir vyf (5) jaar op voorwaarde
dat hy nie skuldig bevind word aan
moord, poging tot moord of strafbare manslag waarby aanranding
betrokke is, gepleeg in die tydperk
van opskorting nie, word tersyde
gestel en vervang met die volgende vonnis:
Vyf (5) jaar gevangenisstraf ingevolge
die bepalings van artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet 51 van
1977. Die oplegging van
die vonnis word teruggedateer na 23 April
2014.
RILEY, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
BLIGNAULT, R