Lemoenshoek Plase (EDMS) BPK v Department van Waterwese and Others (17282/2014) [2015] ZAWCHC 123 (21 May 2015)

82 Reportability
Administrative Law

Brief Summary

Water Law — Administrative action — Review of directives issued under the National Water Act — Applicant sought to set aside directives from the Department of Water and Sanitation regarding water use from the Lemoenshoek River — Directives included cessation of water discharge and limitation on water abstraction — Applicant contended that the directives were vague and did not establish a statutory contravention — Court held that the directives constituted administrative action and were subject to review under the Promotion of Administrative Justice Act, with grounds for review established due to vagueness and lack of clarity in the directives.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2015
>>
[2015] ZAWCHC 123
|

|

Lemoenshoek Plase (EDMS) BPK v Department van Waterwese and Others (17282/2014) [2015] ZAWCHC 123 (21 May 2015)

RAPPORTEERBARE
UITSPRAAK
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAPSE
AFDELING, KAAPSTAD)
SAAKNR:
17282/2014
DATUM:
21 MEI 2015
In die saak
tussen:
LEMOENSHOEK PLASE
(EDMS)
BPK
….........................................................................
Applikant
And
DIE DEPARTEMENT
VAN
WATERWESE
...........................................................
Eerste
Respondent
RICHARD FAIRFAX
BUTT
...................................................................................
Tweede
Respondent
FREEK
WILLEMSE
.................................................................................................
Derde
Respondent
UITSPRAAK GELEWER
OP 21 MEI 2015
BLIGNAULT R:
Inleiding
[1] Hierdie
uitspraak handel met twee afsonderlike aansoeke wat saam aangehoor
is. Die eerste is ʼn hersieningsaansoek wat
ten doel het dat
sekere lasgewings wat deur eerste respondent uitgereik is, tersyde
gestel word. Die tweede aansoek is gerig op
interim regshulp
hangende die vestiging deur applikant van ʼn serwituut van
opdamming en waterleiding op eiendom van tweede
respondent. Daar is
ʼn mate van oorvleueling van die feitelike geskilpunte en die
regsvrae in die twee aansoeke.
[2] Applikant is
Lemoenshoek Plase (Edms) Bpk, ʼn maatskappy wat hierin deur mnr
Jan Philippus Crafford, verteenwoordig word.
Hy is die enigste
direkteur van applikant sedert sy vader, mnr mnr Jan Philippus
Albertus, in 2013 oorlede is. Eerste respondent
is die Departement
van Water en Sanitasie (‘die Departement’) wat vroeër
bekend gestaan het as die Departement
van Waterwese en Bosbou. Die
Departement bestry nie die interim serwituutaansoek nie. Tweede
respondent is mnr Richard Fairfax
Butt, ʼn afgetrede sakeman wat
woonagtig is te Glencoeweg 24, Oranjezicht, Kaapstad. Hy bestry nie
die hersieningsaansoek
nie. Derde respondent is mnr Freek Willemse ʼn
boer wat indirek geraak word deur die regshulp wat in die aansoeke
aangevra
word. Hy bestry egter nie een van die aansoeke nie.
Die topografiese
agtergrond
[3] Die geskille
tussen die partye in beide aansoeke het betrekking op die gebruik van
water wat in die Lemoenshoekrivier (ook die
Huisrivier genoem) vloei
Die rivier ontspring aan die noordekant van die Langeberge in die
distrik van Barrydale en vloei dan
noordwaarts tot waar dit by die
Doringrivier aansluit. Die Doringrivier vloei nagenoeg vanaf ʼn
westelike in ʼn oostelike
rigting.
[4] Applikant is die
eienaar van die plaas genaamd Lemoenshoek. Dit bestaan uit 22
grondstukke wat elkeen as ʼn aparte eiendom
in applikant se naam
geregistreer is. Applikant besit en boer op die eiendomme as ʼn
eenheid. Applikant het die plaas op
4 Mei 2001 van die kurator van
die insolvente boedel van ene A D S Fullard gekoop. Oordrag op
applikant se naam het op 24 Julie
2002 geskied. Die
Lemoenshoekrivier loop deur of langs sommige van applikant se
grondstukke.
[5] Tweede
respondent is die eienaar van die eiendom beskryf as Gedeelte 38 (ʼn
gedeelte van Gedeelte 31) van die Plaas Lemoenshoek
nr 24 Groot
5,3055 hektaar. Hy het dit op 6 Oktober 2005 van ene me Hofmeyer en
haar dogter gekoop en dit is op 6 Desember 2005
in sy naam
geregistreer. Die Lemoenshoekrivier vloei deur sy eiendom.
[6] Ongeveer twee
kilometer stroomop van die suidelike grens van applikant se plaas is
daar ʼn keerwal wat water vanuit die
rivier keer vir doeleindes
van die verdeling daarvan tussen die laerliggende oewereienaars. Dit
bestaan al vir baie jare. Die
water wat so uitgekeer word het eers
in ʼn beurtsloot stroomaf gevloei wat later deur ʼn
pypleiding vervang is.
[7] Daar is ʼn
dam, genoem die Lemoenshoekdam, wat net noord van die suidelike grens
van applikant se plaas in die bedding van
die Lemoenshoekrivier deur
een van sy voorgangers in titel gebou is. Dit is geleë op een
van applikant se grondstukke, naamlik
Gedeelte 37 van die Plaas
Lemoenshoekrivier nr 24. Daar is ʼn tweede dam, genoem die
Tierkloofdam, wat op ʼn ander gedeelte
van applikant se plaas,
naamlik Gedeelte 2 van die Plaas Lemoenshoek nr 24, geleë is.
Dit is groter as die Lemoenshoekdam.
[8] Die geskilpunte
tussen applikant en tweede respondent het hoofsaaklik betrekking op ʼn
verdeelstruktuur wat ongeveer een
kilometer stroomaf van die
Lemoenshoekdam in die rivier op tweede respondent se grond geleë
is (‘die verdeelstruktuur’).
Water word deur applikant
in ʼn grondsloot vanaf die verdeelstruktuur na die Tierkloofdam
op sy plaas gelei. Volgens mnr
Crafford word water van tyd tot tyd
deur applikant vanuit die Lemoenshoekdam losgelaat om in die bedding
van die rivier af te vloei
totdat by die verdeelstruktuur in sy voor
uitgekeer word.
[9] Die presiese
aard en dimensies van die van die verdeelstruktuur is in geskil. Dit
is boonop ongeveer twee jaar gelede deur
stormwater beskadig. Dit
het bestaan uit ʼn kort muur van beton, ongeveer 2,5 meter lank,
wat dwars oor die bedding gestrek
het. Hierdie muur het ʼn
opening gehad waardeur water stroomaf kon vloei. Reghoekig met die
kort muur was daar ʼn langer
muur, ongeveer 25 meter lank, aan
die oostekant van die rivier met ʼn opening waardeur water in ʼn
grondvoor oor applikant
se grond na die Tierkloofdam gelei kon word.
Die
hersieningsaansoek
[10] Applikant vra ʼn
bevel aan in die hersieningsaansoek dat die Departement se
lasgewings, soos vervat in paragrawe 2 en 4
van hul skrywe, gedateer
25 Augustus 2014, wat uitgereik is ingevolge artikel 53(1)(a) van die
Nasionale Waterwet 36 van 1998,
hersien en tersyde gestel word.
[11] Die lasgewings
is vervat in die Departement se brief gedateer 25 Augustus 2014. In
die brief word applikant in terme van artikel
53(1) van die Nasionale
Waterwet aangemaan ‘to undertake the following measures and
comply with the following requirements
in connection with such
measures’. Vier lasgewings word dan soos volg beskryf:
‘2.1 Cease to
discharge water from the Lemoenshoek Dam situated on the Huis River
on Farm 24 Portion 37 for conveyance to
the Tierkloof Dam situated on
the Eerste River on Farm 25 Portion 2 and/or any other property by
using Huis (Lemoenshoek) River
or by any means within (2) two
calendar days;
2.2 The maximum
permitted annual abstraction from the Huis River and/or the
Lemoenhoek Dam will be limited to 116 000m3 to be used
to sustain
irrigation of existing lawful and validated crops as per SAPWAT
within the envelope period 1 October 1997 to 1 October
1999 on Farm
24 Portion 37 only.
2.3 Cease to take
water from the Huis River (Lemoenshoek) via an impendence (sic) and
diversion waterworks on Farm 24 Portion 38
and/or Farm 25 Portion 2,
to the Tierkloof Dam within (2) two day
4. You are moreover
directed to apply for a licence to take and store water from either
the Huis- and Eerste- and Doringrivers collectively
for application
and use on all properties as listed per the Section 33 declaration
issued on 15 April 2002 by the Department.
This directive is in
accordance to paragraph 4 of the latter mentioned declaration.’
[12] Dit is nie in
geskil dat die uitreiking van die lasgewings ʼn administratiewe
handeling van die Departement was soos bedoel
in artikel 1 van die
‘Promotion of Administrative Act 3 of 2000 (PAJA)’ nie.
(Hierdie wet is nie in Afrikaans gepromulgeer
nie.) Applikant steun
op verskeie van die hersieningsgronde wat in sub-artikel 6(2) van
PAJA uiteengesit word.
[13] Voordat ek
applikant se hersieningsgronde bespreek is dit nuttig om twee
opmerkings van ʼn algemene aard te maak. Dit
blyk uit die
bepalings van artikel 53(1) van die Nasionale Waterwet dat ʼn
statutêre oortreding (‘contravention’)
ʼn
voorvereiste is vir die uitreiking van ʼn lasgewing ingevolge
daardie artikel. Die lasgewing kan dus nie self ʼn
oortreding
skep wat nie reeds bestaan nie. Dit is tweedens opmerklik dat die
statutêre bepalings wat na bewering deur applikant
oortree is,
nie in die betrokke brief omskryf is nie. Die vaagheid van ʼn
administratiewe handeling is ʼn erkende hersieningsgrond
in die
administratiefreg. Sien Hoexter Administrative Law in South Africa
second edition 332-333.
Die statutêre
raamwerk
[14] Die gebruik van
water word tans beheers deur die Nasionale Waterwet 36 van 1998 (‘die
Nasionale Waterwet’). Dit
het op 1 Oktober 1998 in werking
getree en die Waterwet 24 van 1956 (‘die 1956 Waterwet’)
herroep. Die Nasionale Waterwet
het egter sekere bestaande
gebruiksregte ingevolge die bepalings van die 1956 Waterwet, behou.
Hierdie bepalings word gevind in
Deel 3 van Hoofstuk 4 van die
Nasionale Waterwet. Die inleiding tot hierdie deel lees soos volg:
‘Bestaande
wettige watergebruike
Hierdie Deel
veroorloof die voortsetting, onder sekere omstandighede, van 'n
bestaande wettige watergebruik wat ontleen word aan
'n wet wat deur
hierdie Wet herroep word. 'n Bestaande wettige watergebruik, tesame
met voorwaardes wat daaraan geheg is, word
erken, maar kan slegs
voortgesit word in soverre dit nie deur hierdie Wet beperk, verbied
of beëindig word nie. Geen lisensie
word vereis om 'n bestaande
wettige watergebruik voort te sit nie, totdat 'n verantwoordelike
gesag van 'n persoon, wat op so 'n
wettige gebruiksreg aanspraak
maak, vereis om om 'n lisensie aansoek te doen. Indien 'n lisensie
uitgereik word, word dit die bron
van magtiging vir die watergebruik.
Indien 'n lisensie nie verleen word nie, is die gebruik nie meer
toelaatbaar nie.’
[15] Deel 3 van
Hoofstuk 4 van die Nasionale Waterwet omvat drie artikels, naamlik
nrs 32, 33 en 34. Hulle lees soos volg:
'32 Omskrywing van
bestaande wettige watergebruik
(1)'n Bestaande
wettige watergebruik beteken 'n watergebruik-
(a) wat plaasgevind
het te eniger tyd gedurende 'n tydperk van twee jaar onmiddellik voor
die datum van inwerkingtreding van hierdie
Wet en wat-
(i) gemagtig is by
of kragtens enige wet wat van krag was onmiddellik voor die datum van
inwerkingtreding van hierdie Wet;
(ii) 'n
stroomvloeiverminderingsbedrywigheid beoog in artikel 36 (1) is; of
(iii)'n beheerde
bedrywigheid beoog in artikel 37 (1) is; of
(b) wat kragtens
artikel 33 as 'n bestaande wettige watergebruik verklaar is.
(2) In die geval
van-
(a)'n
stroomvloeiverminderingsbedrywigheid wat kragtens artikel 36 (1)
verklaar is; of
(b) 'n beheerde
bedrywigheid wat kragtens artikel 38 verklaar is, beteken bestaande
wettige watergebruik 'n watergebruik wat plaasgevind
het te eniger
tyd gedurende 'n tydperk van twee jaar onmiddellik voor die datum van
die verklaring.
33 Verklaring van
watergebruik as bestaande wettige watergebruik
(1) 'n Persoon kan
by 'n verantwoordelike gesag aansoek doen om 'n watergebruik wat nie
'n watergebruik is soos beoog in artikel
32 (1) (a) nie, as 'n
bestaande wettige watergebruik te verklaar.
(2) 'n
Verantwoordelike gesag kan, uit eie beweging, 'n watergebruik wat nie
'n watergebruik is soos beoog in artikel 32 (1) (a)
nie, as 'n
bestaande wettige watergebruik verklaar.
(3) 'n
Verantwoordelike gesag kan slegs 'n verklaring kragtens subartikels
(1) en (2) doen, indien hy oortuig is dat die watergebruik-
(a) wettig
plaasgevind het meer as twee jaar voor die datum van inwerkingtreding
van hierdie Wet en om 'n goeie rede gestaak is;
of
(b) nog nie op enige
tydstip voor die datum van inwerkingtreding van hierdie Wet,
plaasgevind het nie, maar-
(i) wettig sou
gewees het indien dit aldus plaasgevind het; en
(ii) dat stappe tot
inwerkingstelling van die gebruik, voor die datum van
inwerkingtreding van hierdie Wet, te goeder trou gedoen
is.
(4) Artikel 41 is
van toepassing op 'n aansoek ingevolge hierdie artikel asof die
aansoek ingevolge daardie artikel gedoen is.
34 Magtiging om
bestaande wettige watergebruik voort te sit
(1) 'n Persoon, of
daardie persoon se regsopvolger, kan 'n bestaande wettige
watergebruik voortsit, behoudens-
(a) enige bestaande
voorwaardes of verpligtinge wat aan daardie gebruik geheg is;
(b) die watergebruik
se vervanging deur 'n lisensie ingevolge hierdie Wet; of
(c) enige ander
beperking of verbod deur of kragtens hierdie Wet.’
Die begrippe
‘normale stroming’ en ‘surpluswater in die 1956
Waterwet
[16] Die bepalings
van artikel 9(1) van die 1956 Waterwet (wat handel met normale
stroming) en artikel 10 (wat handel met surpluswater)
is relevant.
Die begrip ‘normale stroming’ word soos volg omskryf:
‘ die
hoeveelheid openbare water wat werklik en sigbaar in daardie openbare
stroom vloei en wat deur regstreekse besproeiing
uit daardie stroom,
hetsy deur middel van vore of andersins, maar sonder opgaring, vir
die besproeiing van oewergrond aan bedoelde
stroom nuttig aangewend
kan word.’
Artikel 9(1) van die
1956 Waterwet, insover relevant, lees soos volg:
‘9 Gebruik
van normale stroming van openbare stroom
(1) Behoudens die
bepalings van hierdie Wet, en enige bestaande reg, is elke
oewereienaar geregtig op redelike gebruik van so 'n
deel as wat hy
wettiglik van iemand anders mag verkry het en van sy deel (soos
ingevolge artikel twee-en-vyftig bepaal) van die
normale stroming van
'n openbare stroom met betrekking waartoe sy grond oewergrond is, vir
gebruik vir landbou- en stedelike doeleindes
op daardie grond: Met
dien verstande dat
… …
(e) behoudens die
bepalings van hierdie Wet, en enige bestaande reg, die eienaars van
oewergrond aan 'n takstroom van 'n openbare
stroom 'n voorkeurreg het
op die gebruik van soveel van die normale stroming van daardie
takstroom as wat hulle vir een of ander
voormelde doel nodig mag hê,
teenoor enige ander eienaar se reg om die normale stroming van
daardie takstroom vir sodanige
doeleindes te gebruik op grond wat
oewergrond daaraan is bloot uit hoofde daarvan dat dit oewergrond is
aan die hoofstroom waarin
daardie takstroom vloei.’
[17] Die begrip
surpluswater word soos volg omskryf in artikel 1 van die 1956
Waterwet :
‘ander
openbare water as die normale stroming (as daar is) wat in daardie
stroom vloei of daarin aangetref word’.
Artikel 10(1 ) van
die 1956 Waterwet handel met surpluswater. Dit lees soos volg:
‘10 Gebruik
van surpluswater van 'n openbare stroom
(1) Behoudens die
bepalings van hierdie Wet, en enige bestaande reg, is elke
oewereienaar geregtig op die gebruik van soveel van
die surpluswater
van 'n openbare stroom waaraan sy grond oewergrond is as wat hy vir
huishoudelike doeleindes, as suiping vir sy
vee, en vir landbou- en
stedelike doeleindes voordelig kan gebruik, en kan hy bedoelde
surpluswater vir daardie doeleindes opdam
en opgaar.
(2) 'n Oewereienaar
in subartikel (1) bedoel, is nie verplig om sy gebruik van enige
gedeelte van bedoelde surpluswater waarop
hy ingevolge daardie
subartikel geregtig is, ten gunste van 'n laer oewereienaar vir
daardie eienaar se huishoudelike gebruik of
as suiping vir sy vee of
vir landbou- of stedelike doeleindes in te kort nie, indien so 'n
laer eienaar nie uit hoofde van ooreenkoms
op die gebruik van daardie
water vir sodanige doeleindes geregtig is nie.’
[18] Soos blyk uit
die Departement se brief van 25 Augustus 2014 is die lasgewings wat
in die hersieningsaansoek aangeval word,
uitgereik ingevolge artikel
53(1)(a) van die Nasionale Waterwet. Artikel 53 lees soos volg:
‘53
Regstelling van oortredings
(1) 'n
Verantwoordelike gesag kan, by skriftelike kennisgewing aan 'n
persoon wat-
(a) enige bepaling
van hierdie Hoofstuk;
(b) 'n vereiste
gestel of 'n lasgewing gegee deur die verantwoordelike gesag kragtens
hierdie Hoofstuk; of
(c) 'n voorwaarde
wat van toepassing is op enige magtiging om water te gebruik,
oortree, daardie
persoon of die eienaar van die eiendom ten opsigte waarvan die
oortreding plaasvind, gelas om enige stappe te doen
wat in die
kennisgewing vermeld word om die oortreding reg te stel, binne die
tydperk (wat nie minder as twee werksdae is nie)
wat in die
kennisgewing vermeld word of enige ander langer tydperk deur die
verantwoordelike gesag toegelaat.
(2) Indien die
stappe nie gedoen word binne die tydperk in die kennisgewing vermeld,
of enige langer toegelate tydperk nie, kan
die verantwoordelike
gesag-
(a) enige werk
verrig en enige ander stappe doen wat hy nodig ag om die oortreding
reg te stel en kan hy sy redelike koste verhaal
op die persoon op wie
die kennisgewing beteken is; of
(b) by 'n bevoegde
hof om gepaste regshulp aansoek doen.’
Applikant se aanval
op die geldigheid van die lasgewings
[19] Applikant se
aanval op die geldigheid van die lasgewings kan soos volg saamgevat
word. Die water wat dit uit die Lemoenshoekrivier
onttrek is
surpluswater waarop dit ʼn gebruiksreg gehad het in terme van die
bepalings van artikel 10 van die 1956 Waterwet.
Hierdie gebruiksreg
is steeds geldig aangesien dit ingevolge die bepalings van die
Nasionale Waterwet behou word. Dit is applikant
se saak dat dit
geregtig is om surpluswater vanuit die Lemoenshoekrivier na die
Tierkloofdam af te voer en vandaar te benut op
al die grondstukke
waar dit tans aangewend word. Applikant betoog verder dat dit nie
die bepalings van artikel 9B(1) van die 1956
Waterwet oortree nie en
dat dit ook nie tans verplig is om aansoek te doen om ʼn
lisensie nie.
Die Departement se
redes
[20] Die Departement
se antwoordende eedsverklaring is deur sy Hoofdirekteur: Regsdienste,
mnr Puseletso Loselo, afgelê.
Hy het die geldigheid van die
lasgewings verdedig. Die Departement se vernaamste standpunte is in
paras 28, 29 en 30 van sy antwoordende
eedsverklaring saamgevat:
‘[28] The
Department however contends that the uncontrolled and free
inter-basis transfer of water from surplus water storage
in the
Lemoenskloof Dam to the Tierkloof Dam, and moreover the use thereof
on eight (8) other properties not riparian to the rivers
and on which
these dams were constructed in the absence of formal authorisation
thereto and in accordance with Section 9B(1(a)
of the 1956 Act,
constitutes a claim of “existing lawful use” and/or
“entitlement”.
[29] Furthermore, in
terms of Section 9(B)(1)(a) of the 1956 Act: No water “...
[will be capable of being abstracted or diverted
from a public
stream, in or by means of that water work, or that water work and any
other water works on the piece of land concerned
or any of the
subdivision concerned, except under the authority of a permit issued
by he Minister” (emphasis added). Nowhere
in the Applicant’s
papers does he contend that his predecessor had applied for such
permit to abstract the said surplus water
from the Huis River for
purposes of inter-basin transfer from the Lemoenshoek Dam to
theTierkloof Dam, for use on the 8 other properties
not riparian to
the Huis River.”
[30] As regards the
abstraction of water, First Respondent contends that, at best for the
Applicant, and bearing in mind the limitation
of records kept to
proof storage, abstraction and use, the declaration of the uses under
Section 33 of the 1998 Act on 15 April
2002 (“JAN1”)
and/or that took place prior, the abstraction and diversion of water
to irrigate 200ha of land constitutes
an existing lawful water use as
contemplated by Section 32 of the Act, has always been: “...
onderworpe aan alle bepalings
in voorskrifte van Artikels 9 en 10”.’
[21] Mnr Losielo het
verder beweer dat artikel 9C van die 1956 Waterwet met effek vanaf
25 Julie 1986 sekere veiligheidsveistes
met betrekking tot
opgaardamme ingevoer het. Die Lemoenshoekdam se kapasiteit is daarna
van 88 000 kubieke meter tot 176 000 kubieke
meter verhoog sonder die
vereiste goedkeuring van die Departement. Soortgelyke veranderings
is tussen 1991 en 1992 aan die Tierkloofdam
aangebring, ook sonder
die vereiste goedkeuring van die Departement.
[22] In ʼn
aanvullende eedsverklaring het mnr Bosielo egter die volgende gesê:
‘I confirm
that the Department admits that the building of the Lemoenshoek and
Tiekloof dams are in accordance with Sections
9B and 9C and the
storage of water therein as an existing lawful water use, however, I
contend that the uncontrolled inter-basin
transfer of water fom
storage in the Lemoenshoek Dam to the Tierkloof Dam and use thereof
on eight (8) other properties not riparian
to the rivers on which
these dams are constructed without obtain a formal authorisation
thereto are in accordance to Section B(1)(a)
of the Water Act and
thus deny that it constitutes a claim of “existing lawful use”
and/or “entitlement”.’
[23] Mnr Losielo het
betoog dat die Departement geregtig is om in besit geplaas te word
van rekords wat die aard en omvang van applikant
se besproeibare
grond en die beskikbare waterbronne vir die beproeiïng daarvan,
aantoon. Dit is ook nodig dat applikant ʼn
berekende skatting
maak van die hoeveelheid water in kubieke meter per hektaar wat nodig
is om ʼn jaarlikse oes suksesvol te
besproei. Die uitreiking van
ʼn lisensie sal die Departement in staat stel om behoorlike
beheer uit te oefen oor applikant
se wateronttrekking ten einde te
verseker dat dit op ʼn ordelike en regverdige wyse geskied.
[24] In sy
antwoordende eedsverklaring het mnr Losielo aangevoer dat applikant
nie sonder die goedkeuring van die Minister die beoogde
herstelwerk
aan die verdeelstruktuur mag aanbring nie. Volgens hom het applikant
die verdeelstruktuur na 1970 onwettig opgerig
en bedryf aangesien dit
nie oor ʼn permit kragtens artikel 9B(1) van die 1956 Waterwet
beskik het nie.
[25] Mnr Losielo het
voorts betoog dat die Departement geregtig is om te vereis dat ʼn
persoon wat water gebruik, aansoek moet
doen om ʼn lisensie. Hy
het aangevoer dat die doel die lasgewings in terme van artikel
53(1)(a) van die Nasionale Waterwet
onder meer is om applikant te
verbied om water op die agt grondstukke te gebruik wat nie oewergrond
aan die Lemoenshoekrivier is
nie.
[26] Die Departement
se redes is in sy advokaat se betoog verder ontwikkel. By ontleding
daarvan blyk dit dat die Departement
nie betwis dat applikant
ingevolge die 1956 Waterwet oor die reg beskik het om surpluswater
vanuit die Lemoenshoekrivier te gebruik
en dat hierdie reg in
beginsel steeds bestaan nie. Die Departement betwis egter die
geldigheid van sekere aspekte van applikant
se huidige gebruik van
water uit die Lemoenshoekrivier. Na my oordeel kan hierdie gebruike
puntsgewys saamgevat word. Die eerste
is die afvoer van water vanaf
die opvanggebied van die Lemoenshoekrivier na die opvanggebied van
die Tierkloofdam. Die tweede
is die gebruik van sodanige water op
agt grondstukke wat nie deel uitmaak van oewereiendom aan die
Lemoenshoekrivier is nie. Die
derde is dat applikant water afvoer
van die Lemoenskloofdam na die Tierkloofdam sonder ʼn permit van
die Minister ingevolge
artikel 9B(1) van die 1956 Waterwet. Die
vierde is applikant se gebruik van die water sonder ʼn lisensie
soos bedoel in artikel
40 van die Nasionale Waterwet. Ek bespreek
vervolgens elk van hierdie gewraakte gebruike.
Die afvoer van water
vanuit die Lemoenshoekrivier na die Tierkloofdam
[27] Die Departement
se beswaar is dat hierdie gebruik van die water deur applikant
neerkom op ʼn ontoelaatbare ‘inter-basin
transfer’
daarvan. Die Departement het het egter nie die betekenis van hierdie
begrip omskryf nie en ook nie die gronde
vir die beswaar nie. Die
begrip dui moontlik op die oordrag van water vanuit een rivier se
opvanggebied na dié van ʼn
ander rivier maar die
Departement het geen wetsbepaling of gemeenregtelike beginsel
aangevoer ter stawing van die standpunt dat
hierdie gebruik onwettig
sou wees nie.
[28] Prof J C de
Wet, daarenteen, het die posisie duidelik gestel in ʼn artikel
met die opskrif Waterreg in Opuscula Miscellanea
(1979) bl 45:
‘Alhoewel daar
vroeër soms gepraat is van grond in die opvanggebied van die
rivier, is grond nog steeds oewergond ook
al val die hele stuk grond
nie in die opvanggebied van die rivier nie. Waar ’n plaas dus
van die rivier af strek oor die
waterskeiding tussen daardie rivier
en ’n ander rivier, is die grond anderkant die waterskeiding
nog steeds oewergrond aan
eersgenoemde rivier ( sien Ex parte Coetzer
1 Watermeyer’s Reports 107; Ex parte Kruger 1 Watermeyer’s
Reports 120).’
[Let daarop dat die Kruger verslag op bl 129
verskyn en nie 120 nie]
[29] In die
omstandighede is ek van mening dat die Departement se beswaar teen
applikant se ‘inter-basin transfer’ van
die water wat
vanuit die Lemoenshoekrivier afkomstig is, nie geldig is nie. Dit
kan dus nie as ʼn regverdiging vir die lasgewings
dien nie.
Die gebruik van
water vanuit die Lemoenshoekrivier op grond wat nie oewereiendom
daartoe is nie.
[30] In die
getuienis is daar in hierdie verband na agt stukke grond verwys. Hul
beskrywing en presiese ligging is egter nie heetemal
duidelik nie.
Dit is nie in geskil nie dat die begrip oewereiendom in die huidige
konteks bepaal moet word met verwysing na die
eerste uitgifte waarvan
die betrokke grondstuk deel vorm. Daar is ʼn kaart wat deur ʼn
landmeter opgestel is wat as getuienis
ingedien is waarop onder meer
die grense van twee oorspronklike uitgifte Lemoenshoek nr 24 en
Lemoenshoek nr 25 aangetoon word.
Die kaart toon ook die ligging van
sommige van applikant se grondstukke, tweede respondent se eiendom,
die verdeelstruktuur, die
Lemoenshoek- en Doringriviere en die twee
damme. Dit blyk onder meer hieruit dat die oorspronklike uitgifte
Lemoenshoek nr 25
oewereiendom aan die Lemoenshoekrivier is en dat
die Tierkloofdam op dieselfde uitgifte geleë is. Lemoenshoek nr
25 is ook
oewereiendom aan die Doringrivier maar oor ʼn gebied
wat geleë is bokant die punt waar die Lemoenshoekrivier by die
Doringrivier
aansluit. Die Departement se standpunt is dat daar agt
grondstukke is wat nie deel uitmaak van die uitgifte Lemoenshoek nr
25
nie maar van eiendom wat wes daarvan geleë is.
[31] Applikant steun
op drie alternatiewe gronde vir die stelling dat sy gebruik van die
water vanuit die Lemoenshoekrivier via
die Tierkloofdam op die agt
grondstukke, nie strydig is met die bepalings van die Nasionale
Waterwet nie. In die eerste plek maak
applikant staat op ʼn
verklaring wat op 15 April 2002 kragtens artikel 33 van die Nasionale
Waterwet uitgereik is aan sy voorganger
in titel. Dit lees soos
volg:
‘GOEDKEURING
ART 33
AANSOEK OM ’N
WATERGEBRUIK VIR DIE BESPROEIING VAN 200 HEKTAAR UIT DIE DORING
RIVIER INGEVOLGE DIE BEPALINGS VAN ARTIKEL 33
VAN DIE NASIONALE
WATERWET, 1998 (WET 36 VAN 1998) AS ’N BESTAANDE WETTIGE
WATERGEBUIK TE VERKLAAR: VERSKEIE EIENDOMME:
AFDELING SWELLENDAM:
LEMOENSHOEK PLASE (PTY) LTD
1. U aansoek
gedateer 12 November 2001 het betrekking.
2. Goedkeuring word
hiermee aan u soos volg verleen:
2.1 Kragtens artikel
33 van die nasionale Waterwet, 1998 word die watergebruik vir die
besproeiing van 200 ha op die voormelde eiendomme
as ’n
Bestaande Wettige Watergebruike verklaar onderworpe aan alle
bepalings en voorskrifte van artikels 9 en 10 van die
herroepte
Waterwet, 1956 (Wet 54 van 1956), sowel as alle bepalings en
voorskrifte van alle tersaaklike Goewerments-kennisgewings

gepubliseer kragtens voormelde Wet. (Lys van eiendomme, groottes eng
gewasse aangeheg as aanhangsel A).
3. Kragtens Hoofstuk
5 van die Nasionale Waterwet, 1998 kan ’n heffing vir die
onttrekking en gebruik van die water gehef
word.
4. U kan voortgaan
met die onttekking en gebruik van die goedgekeurde Watergebruik
totdat kennis gegee word om aansoek te doen om
’n verpligte
lisensie vir sodanige goedgekeurde gebruik van water.
AANHANGSEL A
EIENDOM
GROOTTE
BESPROEIING
1. Restant Ged 1 van
die plaas Doornriviers Valley No 30 808,7586 ha Alles weiveld (Geen
besproeiing)
2. Gedeelte 1 van
die plaas Doornriviers Outspan No 31 65,2459 ha Slegs weiveld (Geen
besproeiing)
3. Gedeelte 1 van
die plaas Stryd No 33 64,3284 ha 5 ha Pere
4 ha Perskes
4. Restant van die
plaas Stryd No 33 56,8309 ha Alles pere
5. Gedeelte 1
(Goedvertrouw) van die Plaas No 32 2,8995 ha Alles pere
6. Gedeelte 6 van
die plaas Lemoenshoek No 25 76,1906 ha Weiveld (Geen besproeiing)
7. Restant van die
plaas Lemoenshoek No 25 358,7173 ha Weiveld (Geen besproeiing)
8. Gedeelte 2 van
die plaas Lemoenshoek No 25 283,0639 ha Weiveld (Geen besproeiing)
9. Gedeelte 37 (ged
van Ged 1) van die plaas Lemoenshoek No 24 48,3834 ha 20 ha boorde en
lusern
10. Restant van
Gedeelte 31 (Henning Nes Krans (ged van Ged 8) van die plaas
Lemoenshoek No 24 351,8683 ha Slegs weiveld (Geen besproeiing)
11. Gedeelte 2 van
die plaas Lemoenshoek No 14 312,5070 ha 1 ha lusern 9 ha perskes
12. Gedeelte 2 van
die plaas Lemoenshoek No 14 412,7807 ha 25 ha lusern Res weiveld
13. Gedeelte 4 van
die plaas Lemoenshoek No 14 3,3647 ha Slegs weiveld
14. Restant van die
Plaas No 581 280,974 ha Slegs weiveld
15. Gedeelte 3 van
die plaas Lemoenshoek No 14 212,1899 ha 10 ha perskes 20 ha lusern
16. Gedeelte 7 van
die plaas Lemoenshoek No 24 23,6275 ha Alles lusern
17. Gedeelte 18 van
die plaas Lemoenshoek No 24 2,9236 ha Alles lusern
18. Restant van
Gedeelte 20 van die plaas Lemoenshoek No 24 31,3259 ha Alles lusern
19. Gedeelte 22 (ge
van Ged 10) van die plaas Lemoensbhoek No 24 15,7359 ha Alles lusern
20. Plaas No 643
98,8861 ha 8 ha pere 5 ha lusern
21. Gedeelte 77 van
die plaas Bellair No 13 40,3298 ha Woonhuis en weiveld (Geen
besproeiing)
22. Plaas No 644
282,6103 ha 10 ha perskes 50 ha lusern
[32] Dit is
gemeensaak dat die betrokke agt grondstukke deel vorm van die 22
eiendomme wat in die verklaring vermeld word. Dit
is applikant se
betoog dat die artikel 33 verklaring regskrag verleen het aan sy
gebruik van die water vanuit die Lemoenshoekrivier
op die agt
grondstukke daarin vermeld en dat daardie gebruiksreg steeds bestaan.
[33] Ek stem nie
saam met hierdie betoog nie. Die inhoud van die artikel 33
verklaring moet gelees word in die konteks van die
aansoek wat
applikant se voorganger in titel op 12 November 2001 aan die
Departement gerig het. Uit die opskrif tot die aansoek
en die
Departement se goedkeuringsbrief blyk dit dat aansoek gedoen is vir ʼn
verklaring dat die besproeïng van 200 hektaar
grond met water
vanuit die Doringrivier opvanggebied as ʼn bestaande wettige
gebruik verklaar word. Gedeeltes van die gebied
stroomop in die
Doringrivier behoort ook aan applikant maar is nie deel van die
uitgifte Lemoenshoek nr 25 nie. Bo en behalwe
die aansoek is daar is
dokumentasie voor die hof geplaas deur die Departement ingevolge
Hofreël 53. Ek vind dit nie nodig
om in besonderhede met die
inhoud van hierdie dokumente te handel nie. Ek kan volstaan deur te
sê dat die aansoek en die
goedkeuring daarvan hoofsaaklik
gehandel het met water wat vanuit die Doringrivier aangewend is op
eiendom wat nie deel van die
uitgifte Lemoenshoek nr 25 is nie.
[34] Ek is derhalwe
van mening dat die Departement se verklaring van 15 April 2002
ingevolge artikel 33 van die Nasionale Waterwet
nie bots met die
lasgewings wat die onderwerp van die huidige aansoek vorm nie.
[35] Applikant se
advokaat het in die tweede plek staatgemaak op die algemene beginsel
dat ʼn hoofstroom ook geag word oewereiendom
aan ʼn takstroom
van daardie hoofstroom te wees. Die toepassing van hierdie beginsel
in die onderhawige geval, so is betoog,
beteken dat die agt stukke
grond wat oewereiendom aan die Doringrivier as hoofstroom is, ook
oewereiendom aan die Lemoenshoekrivier
as ʼn takrivier van die
Doringrivier is.
[36] Ek stem nie
saam met hierdie betoog nie. Dit maak nie sin nie en word nie
gestaaf deur die gesag waarop applikant se advokaat
steun nie. Dit
is ʼn basiese beginsel van die waterreg dat die gebruiksreg op
water aan oewereiendom kleef, di eiendom wat
grens aan die rivier
waarin die betrokke water vloei. Dit is so dat daar ʼn algemene
reël is dat oewereiendom aan ʼn
hoofstroom ook oewereiendom
aan ʼn takrivier is. Na my mening is die ratio vir hierdie reël
egter dat oewereiendom wat
stroomaf van die punt waar die twee
riviere bymekaar aansluit, ʼn reg het om in die gebruik van die
water te deel omdat dit
die water vanuit die takrivier insluit.
Oewereiendom wat in die hoofrivier stroomop van die aansluitingspunt
van die twee riviere
geleë is, grens egter glad nie aan die
water wat vanuit die takrivier in die hoofrivier invloei nie.
[37] Applikant se
advokaat het in hierdie verband gesteun op drie uitsprake. Die
eerste is Brouwer and Others v De Witt and Others
(1908) 25 SC 801.
Die beginsel word soos volg opgesom in die kopnota: ‘A riparian
owner below the junction of a tributary to the main stream
is
riparian also to the tributary.’ [My onderstreping]
[38] Die advokaat
vir applikant het tweedens verwys na Smartt Syndicate Ltd v Certain
Riparian Owners
1921 CPD 548.
Die blyk egter uit daardie uitspraak
dat die hof te doen gehad het met ‘riparian owners on the main
stream below the point
of junctionof the tributaryand the main
stream’. [My onderstreping]
[39] In die die
derde plek het die advokaat gesteun op die volgende passassie in Le
Roux en ʼn Ander v Le Roux 1967(1) SA 446
(A) te 461:
‘Onthou sal
word dat Welgevonden as oewergrond aan die Olifantsrivier onderkant
die aansluiting met die Kamanassierivier,
wel regtens oewergrond aan
die Kamanassierivier is, en 'n toekenning van 'n deel van die normale
stroming van die Kamanassierivier
aan die eienaars van Welgevonden
sou dus nie met die wetsbepalings met betrekking tot water in stryd
gewees het nie. (Sien arts.
10 (4) en 12 van Wet 8 van 1912, en
Smartt Syndicate Ltd v Certain Riparian Owners,
1912 CPD 548
en art.
9 (1) (e) van Wet 54 van 1956).’ [My onderstreping]
[40] Dit blyk dus
uit hierdie passassies dat die ligging van die betrokke oewergrond
aan die hoofrivier in elke geval stroomaf was
van sy aansluiting met
die takrivier (die Kamanassierivier). Nie een van hierdie
beslissings is dus gesag vir die stelling dat
oewereiendom aan ʼn
hoofrivier wat bokant die aansluitingspunt met ʼn takrivier geleë
is, terselftertyd oewereiendom
aan die takrivier is nie.
[41] Die argument
van applikant se advokaat sal boonop die absurde gevolg hê dat
oewereiendom naby die oorsprong van ʼn
hoofrivier ook geag word
oewereiendom te wees aan al die takriviere wat by die hoofrivier
aansluit tot by die see. Ek is derhalwe
van mening dat applikant se
tweede argument ook nie slaag nie.
[42] In die derde
plek is namens applikant op die uitleg van artikel 10 van die 1956
Waterwet (hierbo aangehaal) gesteun. Volgens
die normale en
duidelike betekenis van die woorde wat die wetgewer gebruik het, so
is betoog, plaas hierdie artikel geen verbod
op die die gebruik van
surpluswater op grond wat nie oewereiendom is aan die rivier waaruit
die water onttrek word nie. Die enigste
relevante beperking in
artikel 10 is dat die oewereienaar die surpluswater voordelig moet
gebruik.
[43] Die bepalings
van artikel 10 van die 1956 Waterwet verskil in hierdie opsig
wesenlik van die vergelykbare bewoording van artikel
9(1) van die
1956 Waterwet wat met normale stroming handel. Ek haal die relevante
gedeelte daarvan weer aan:
‘… …
elke oewereienaar [is] geregtig op redelike gebruik van … …
sy deel van die normale stroming
van 'n openbare stroom met
betrekking waartoe sy grond oewergrond is, vir gebruik vir landbou-
en stedelike doeleindes op daardie
grond sonder opgaring, vir die
besproeiing van oewergrond aan bedoelde stroom nuttig aangewend kan
word.’ [My onderstreping]
[44] Daar kan
moontlik aan die hand gedoen word dat artikel 10 van die 1956
Waterwet ʼn stilswyende bepaling bevat tot die effek
dat die
betrokke surpluswater gebruik moet word op die oewereiendom uit
hoofde waarvan eienaar op die surpluswater geregtig is.
Die
vereistes vir die implikasie van ʼn statutêre bepaling is
egter streng. In Masetlha v President of the Republic
of South
Africa and Another
[2007] ZACC 20
;
2008 (1) SA 566
(CC) para 192 het die
Konstitusionele Hof die volgende formulering daarvan bevestig:
"'words cannot
be read into a statute by implication unless the implication is a
necessary one in the sense that without it
effect cannot be given to
the statute as it stands''. In addition, such implication must be
necessary in order to realise the ostensible
legislative intention or
to make the [legislation] workable. . ".'
[45] Na my oordeel
voldoen hierdie stilswyende bepaling beslis nie aan hierdie vereistes
nie. Daar is boonop ʼn gevestigde
uitlegreël dat die
uitdruklike verandering van die woorde wat die wetgewer gebruik, ʼn
prima facie aanduiding is van ʼn
verandering van sy bedoeling.
Sien Steyn Uitleg van Wette vyfde uitgawe bl 155; Port Elizabeth
Municipal Council v Port Elizabeth
Electric Company Co Ltd
1947 (2)
SA 1269
(A) te 1279:
‘These changes
which were made in the language of clause 22 of the new agreement
must have some significance. In the construction
of statutes a
deliberate change of expression is prima facie taken to import a
change of intention.’
[46] Hierdie uitleg
van artikel 10(1) van die 1956 Waterwet word verder gesteun deur die
kommentaar van Hubert Thompson Water Law
(2006) op bl 86:
‘A riparian
owner was entitled to use as much of the surplus water of a public
stream to which his or her land was riparian
as the person could
beneficially use for domestic purposes, for the watering of his or
her stock and for agricultural and urban
purposes. The owner was not
compelled to share the water with other owners, except if a
downstream owner was entitled to the water
in terms of an agreement.
An upstream owner could therefore use surplus water in preference to
downstream owners.
The Act did not
specify that surplus water had to be used only on riparian
properties. Therefore, it seems that a riparian owner
could use
surplus water also on non-riparian properties that belonged to him or
her.’
[47] Prof J C de Wet
het 'n artikel geskryf in 1973 Tydskrif vir Hedendaagse
Romeins-Hollandse Reg bl 28 wat die aanbevelings bevat
het wat hy
gelewer het met betrekking tot die 1956 Waterwet toe dit nog in 'n
ontwerpstadium was. Dit is insiggewend om te let
op sy kommentaar,
op bl 49, ten opsigte van die kwessie van die aanwending van normale
stroming en surpluswater: Hy het die volgende
gesê:
‘Soos reeds
hierbo by die bespreking van regte ten aansien van normale stroom
opgemerk, is daar sekere beginsels wat toepaslik
is op die aanwending
van normale stroom én surpluswater, bv die beginsels genoem in
art 51 (3), (4) en (5). Tot sekere
hoogte word party van die
stellings al gedek deur die bewoording van die verleningsartikels,
maar dit kan tog goed wees om, ex
abundanti cautela, ’n paar
beginsels op die voorgrond te stel. Behalwe die beginsels in art 51
genoem, moet ook die beginsel
dat openbare water net op oewergrond
aangewend mag word, sterker beklemtoon word. Hierdie beginsels moet
in ’n selfstandige
artikel onmidddellik na rrtikels 9 en 10
ingevoeg word. In aansluiting by art 52 (3), (4) en (5) van die
Ontwerp, en by wat so
pas gesê is, stel ek dus voor:
“Art 11
Ondanks artikels 9 en 10 mag niemand –
(a) openbare water
aanwend op grond wat nie oewergrond is ten opsigte van die rivier
waaruit die water kom nie;... “’
behalwe kragtens ’n
vergunning verleen in terme van art 11 (2);”’
[48] Die wetgewer
het nie Prof de Wet se aanbeveling in hierdie verband gevolg nie.
Sien De Wet Opuscula Miscellanea supra bl 6
. Hierdie feite bied
addisionele stawing vir die argument namens applikant dat 1956
Waterwet nie die gebruik van surpluswater
op grond wat nie
oewereiendom is, verbied het nie.
[49] Ek is derhalwe
van mening dat appellant se gebruik om surpluswater wat vanuit die
Lemoenshoekrivier onttrek word op grond
wat nie oewereiendom aan
daardie rivier is nie, nie as sodanig onwettig is nie.
Die toepassing van
artikel 9B(1) van die 1956 Waterwet
[50] Applikant en
die Departement verskil wat betref die korrekte uitleg van die
bepalings van artikel 9B(1)(a) van die 1956 Waterwet.
Dit lees volg:
‘9B Beheer
oor opdam of uitneem van openbare water bo 'n sekere hoeveelheid
(1) (a) Ondanks
andersluidende bepalings van hierdie Wet of 'n ander wet maar
behoudens die bepalings van 'n kennisgewing kragtens
subartikel (1C)
mag niemand op een of meer stukke grond wat op die datum van
inwerkingtreding van die Waterwysigingswet, 1975,
as 'n afsonderlike
stuk of afsonderlike stukke grond in die registrasiekantoor van aktes
geregistreer is, of waar sodanige stuk
grond na die genoemde datum
onderverdeel is of word, op een of meer van daardie onderverdelings
of op enige van daardie onderverdelings
en enige ander stuk grond, 'n
waterwerk oprig, verander of vergroot nie indien daar in of deur
middel van daardie waterwerk, of
daardie waterwerk en enige ander
waterwerk of waterwerke op die betrokke stuk grond of enige van die
betrokke onderverdelings,
meer as 250 000 kubieke meter openbare
water opgedam of opgegaar kan word of na voltooiing van die
oprigting, verandering of vergroting
sal kan word, of meer as 110
liter water per sekonde uit 'n openbare stroom geneem of gekeer kan
word, of na bedoelde voltooiing
geneem of gekeer sal kan word,
behalwe op gesag van 'n permit deur die Minister uitgereik, en op die
voorwaardes in daardie permit
uiteengesit, wat voorwaardes met
betrekking tot die bedryf van enige van die betrokke waterwerke kan
insluit.’
[51] Dit is
gemeensaak dat applikant nie oor ʼn permit beskik soos bedoel in
artikel 9B(1) nie. Volgens die Departement se
uitleg van hierdie
artikel is applikant, sonder ʼn permit wat deur die Minster
uitgereik is, glad nie geregtig om (i) water
in die Lemoenskloofdam
op te gaar nie; (ii) water vanaf die Lemoenskloofdam na die
Tierkloofdam te lei nie of (iii) water uit die
Lemoenskloofrivier te
onttrek deur middel van die verdeelstruktuur op tweede respondent se
grond nie. Die Departement se betoog
ter stawing van hierdie uitleg
is vir my egter nie duidelik nie.
[52] Namens
applikant is betoog dat artikel 9B(1) van die 1956 Waterwet nie die
gebruik van sy waterwerke affekteer het nie.
Die handelinge
waarvoor ʼn permit benodig word is net die oprigting, verandering
of vergroting van ʼn waterwerk en slegs
indien daar aan die een
of die ander van twee kwantitatiewe voorvereistes voldoen is, naamlik
(i) meer as 250 000 kubieke meter
openbare water daarin opgegaar kan
word; of (ii) meer as 110 liter water per sekonde uit 'n openbare
stroom by wyse daarvan geneem
of gekeer kan word. Hierdie uitleg is
bevestig in Hexvallei Besproeiingsraad en 'n Ander v Geldenhuys NO en
Andere
[2008] ZASCA 69
;
2009 (1) SA 547
(SCA) para [13]:
‘[13] Die
verwysing in Kennisgewing 290 na art 9B help nie die appellante nie.
Hoewel die artikel met die beheer oor die
opdam en uitneem van
openbare water bo 'n sekere hoeveelheid handel, is die artikel se
verbod bloot op die oprigting, verandering
of vergroting van 'n
waterwerk gerig. Met ander woorde, die opdam van meer water as wat
deur die vervalle permit veroorloof is,
word nie verbied nie; wat
verbied word, is werke wat die bestaande kapasiteit bo die
voorgeskrewe norm vergroot. Nogtans, weens
die bepalings van
Kennisgewing 283, wat ingevolge art 9B(1C)(a) van die Wet afgekondig
is (waarkragtens die limiete in art 9B(1)(a)
drasties verlaag is),
mag die betrokke boere nie water in nuwe werke stoor wat hierdie
voorgeskrewe limiet oorskry nie. Dit beteken
dat as daar damme op 'n
plaas is wat ten tye van die afkondiging van die
staatswaterbeheergebied reeds bestaan het en wat meer
water kon berg
as wat deur die herroepe permitte gemagtig was, sou 'n boer tans
geregtig wees om daardie damme se kapasiteit ten
volle te benut binne
die perke deur art 10 opgelê.’
[53] Artikel 9B(1)
van die 1956 Waterwet is deur Wet 36 van 1971 met werking vanaf 19
Mei 1971 in die 1956 Waterwet ingevoeg. Dit
is gewysig ingevolge
artikel 2 van Wet 43 van 1975 wat met effek vanaf 28 Mei 1975 in
werking getree het. Die artikel is derhalwe
nie van toepassing op
waterwerke wat voor 19 Mei 1971 opgerig, verander of vergroot is
nie. In die onderhawige geval het mnr
Crafford aangevoer dat die
kapasiteit van die Lemoenshoekdam op een stadium 200 000 kubieke
meter was maar dat dit later na 176
000 kubieke meter verlaag is.
Dit is kennelik minder as die perk in artikel 9B(1) gestel. Die
Tierkloofdam was in of voor 1970
opgerig. Die verdeelstruktuur op
tweede respondent se grond was teen 1970 reeds in plek en word dus
ook nie geraak deur die perke
wat in die gewysigde artikel 9B(1)
vervat is nie. Hierdie bewerings is nie wesenlik deur die
respondente weerspreek nie.
[54] Ek stem
gevolglik saam met die betoog namens applikant. Die bepalings van
artikel 9B(1) van die 1956 Waterwet dien nie as
ʼn regverdiging
vir die lasgewings wat deur die Departement uitgereik is nie.
Die lisensievereiste
[55] Die Departement
se vierde lasgewing is daarop baseer dat applikant nie oor ʼn
lisensie beskik soos vereis in artikel 22
(1) van die Nasionale
Waterwet nie. Hierdie artikel lees soos volg:
‘22
Toelaatbare watergebruik
(1) Iemand kan
slegs water gebruik-
(a) sonder 'n
lisensie-
(i) indien daardie
watergebruik kragtens Bylae 1 toelaatbaar is;
(ii) indien daardie
watergebruik toelaatbaar is as 'n voortsetting van 'n bestaande
wettige gebruik; of
(iii) indien daardie
watergebruik ingevolge 'n algemene magtiging wat kragtens artikel 39
uitgereik is, toelaatbaar is;
(b) indien die
watergebruik deur 'n lisensie kragtens hierdie Wet gemagtig is; of
(c) indien die
verantwoordelike gesag met 'n lisensievereiste kragtens subartikel
(3) weggedoen het.’
[56] Die relevante
bepalings van die Nasionale Waterwet kom in Deel 7 en Deel 8 van
Hoofstuk 4 voor. Deel 7 handel met individuele
aansoeke om lisensies
en Deel 8 met verpligte aansoeke om lisensies. Deel 8 is kennelik
nie van toepassing in die onderhawige
geval nie. ʼn Verpligte
aansoek om ʼn lisensie moet voorafgegaan word deur bepaalde
stappe wat die Departement moet neem
en daar is geen getuienis dat
daaraan voldoen is nie.
[57] Die Departement
maak dus staat op die bepalings van Deel 7, in besonder artikel 40.
Dit lees soos volg:
‘40 Aansoek
om lisensie
(1) 'n Persoon van
wie vereis word of wat verlang om 'n lisensie te bekom om water te
gebruik, moet by die betrokke verantwoordelike
gesag om 'n lisensie
aansoek doen.
(2) Waar 'n persoon
aansoek gedoen het om 'n magtiging om water te gebruik kragtens 'n
ander Wet, en daardie aansoek by die inwerkingtreding
van hierdie Wet
nog nie afgehandel is nie, word die aansoek geag 'n aansoek om
watergebruik kragtens hierdie Wet te wees.
(3) 'n
Verantwoordelike gesag kan 'n redelike fooi hef vir die prosessering
van 'n aansoek om 'n lisensie, waarvan in verdienstelike
gevalle
afstand gedoen kan word.
(4) 'n
Verantwoordelike gesag kan weier om 'n aansoek om 'n lisensie vir die
gebruik van water, waarop die aansoeker alreeds geregtig
is by wyse
van 'n bestaande wettige watergebruik of kragtens 'n algemene
magtiging, te oorweeg.’
[58] Dit is die
Departement se betoog dat applikant ingevolge artikel 40(1) van die
Nasionale Waterwet ʼn persoon is van wie
vereis is om 'n lisensie
te bekom om water te gebruik. Soos blyk uit lasgewing nr 4 (hierbo
aangehaal) is dit die Departement
se standpunt dat sodanige vereiste
gestel was in paragraaf 4 van die artikel 33 verklaring wat op 15
April 2002 aan applikant se
voorganger in titel uitgereik is.
Volledigheidshalwe haal ek dit weer aan:
‘4. U kan
voortgaan met die onttrekking en gebruik van die goedgekeurde
Watergebruik totdat kennis gegee word om aansoek te
doen om ’n
verpligte lisensie vir sodanige goedgekeurde gebruik van water.’
[59] Ek stem nie
saam met die Departement se uitleg nie. Dit is duidelik dat
lasgewing nr 4 geen vereiste bevat nie. Dit verwys
bloot na ʼn
toekomstige gebeurtenis wat die effek sal hê dat die
goedgekeurde waterverbruik tot ʼn einde sal kom.
Die toekomstige
gebeurtenis in die huidige geval is ʼn kennisgewing om aansoek te
doen om ’n verpligte lisensie. Dit
het nog nie plaasgevind
nie.
[60] Die Departement
steun in die alternatief daarop dat sy herhaalde aanmanings aan
applikant voor en in die huidige verrigtinge
om aansoek te doen om ʼn
lisensie, neerkom op vereis soos bedoel in artikel 40(1) van die
Nasionale Waterwet. Ek stem nie
met hierdie uitleg saam nie. Na my
mening dui die begrip vereis op statutêre vereistes wat die
Nasionale Waterwet self stel.
Dit dui nie op vereistes wat ad hoc
deur enige amptenaar gestel kan word nie. Anders gestel, die persoon
wat die aansoek om ʼn
lisensie vereis moet ʼn statutêre
bevoegdheid hê om dit te kan doen.
[61] My siening van
die betekenis van vereis in artikel 40(1) word gestaaf deur die
kommentaar van Hubert Thompson op cit 464:
‘Matters
applicable to all licences
A person intending
to use water which is not permissible as a continuation of an
existing lawful water use, in terms of a published
general
authorisation or under Schedule 1 to the NWA, requires a licence for
that use. A licence is also needed if a person intends
to extend the
scope of its activities beyond the extent of the authorised water use
or the person intends to carry on with an authorised
water use, if
the authorisation lapses, is withdrawn or is amended and the water
use does not fall within the scope of the authorisation
after the
amendment.’
[62] Ek is derhalwe
van mening dat die feit dat applikant nie om ʼn lisensie aansoek
gedoen het nie, nie ʼn geldige grond
vir die uitreiking van
lasgewing nr 4 was nie.
[63] Ek is derhalwe
van mening dat die uitreiking van die Departement se lasgewings die
resultaat was van wesenlike gebreke in die
Departement se
besluitnemingsproses. Verkeerde regsbeginsels is toegepas, die
besluitnemer het nie sy aandag bestee aan die saak
nie, irrelevante
oorwegings het die proses gekenmerk en die uitslag was uiters
onredelik . Ek is dus van oordeel dat die uitreiking
van die
Departement se lasgewings tersyde gestel moet word.
Die interim
serwituutaansoek
[64] Applikant vra
die regshulp met die volgende strekking aan in die interim
serwituutaansoek:
(1) Dat applikant
gemagtig word om, hangende die finale beregting van die
hersieningsverrigtinge, alternatiewelik die hofaansoeke
waarna in
afdeling “A” hierbo verwys word:
(a) die bestaande
verdeelstruktuur wat geleë is op die eiendom van tweede
respondent op applikant se eie koste te herstel en
aan te pas
ooreenkomstig die beskrywing en afmetinge daarvan en op die wyse soos
in meer besonderhede uiteengesit word in paragrawe
4.1 en 4.2 van die
konsep Notariële Akte van Serwituut wat by die Alternatiewe Ope
Tender, aanhangsel “Jan 3”
tot applikant se funderende
eedsverklaring aangeheg is;
(b) na voltooiing
van die herstelwerk aan die verdeelstruktuur, die water, hetsy
surpluswater, hetsy losgelate damwater vanuit die
Lemoenshoekdam
stroomop van die verdeelstruktuur, wat die verdeelstruktuur
binnevloei na outomatiese verdeling daarvan deur die
meganisme van
die gesegde verdeelstruktuur met die bestaande grondsloot wat vanaf
die verdeelstruktuur loop te neem na die applikant
se eiendom, bekend
as Gedeelte 2 (Lemoenshoek) van die Plaas Lemoenshoek Nr 25 in die
Boland Distriksmunisipaliteit, Afdeling Swellendam
(gehou kragtens
akte van transport T61844/2002) en dit aldaar aan te wend soos
verduidelik en omskryf in paragraaf 4.4 en onderworpe
aan die
voorwaardes vervat in paragraaf 4.3 van gesegde Aanhangsel “Jan
3”.
[65] Die
‘hofaansoeke’ waarna applikant in die inleidende gedeelte
van bede (2) hierbo verwys, is in saaknrs 23702/2010
en 12863/2011
onderskeidelik deur applikant teen tweede respondent geloods. In
saaknr 23702/2010 vra applikant ʼn bevel aan
in die volgende
terme:
Wat gelas dat ‘n
serwituut van opdamming en waterleiding ten gunste van applikant se
eiendom, beskryf as:
Gedeelte 2
(Lemoenshoek) van die plaas Lemoenshoek nr 25 in die Boland
Distriksmunisipaliteit, Afdeling Swellendam
Groot : 283,0639
hektaar
Gehou kragtens
Transportakte Nr T61844/2002
as heersende
eiendom, toegeken word oor die eiendom van tweede respondent bekend
as:
Gedeelte 38 (‘n
gedeelte van gedeelte 31) van die plaas Lemoenshoek nr 24, in die
Afdeling van Swellendam, Provinsie Wes-Kaap
Groot : 5,3055
hektaar
Gehou kragtens
Transportakte Nr T98934/2005
as dienende eiendom,
ooreenkomstig die terme en voorwaardes vermeld in die konsep
notariële serwituutakte en konsep diagram
daartoe, hierby
aangeheg as Aanhangsel “KM1”. Aanhangsel ‘KM’
,kan ek meld, is dieselfde as aanhangsel
‘JAN 3’ wat by
applikant se kennisgewing van mosie in die serwituutaansoek nr
23702/2010 aangeheg is.
[66] In die tweede
aansoek waarna applikant in bede (1) hierbo verwys het, vra applikant
onder saaknr 12863/2011 ʼn tydelike
interdik aan in die volgende
terme:
Dat eerste en tweede
respondente en/of hulle werknemers verbied word om hangende die
beregting van saaknr 23702/2010 in hierdie
hof, en wanneer water in
die Lemoenshoekrivier vloei, op enige wyse in te meng en/of hulle te
bemoei met die bedryf van die water
verdelingswerke geleë op
Gedeelte 38 (‘n Gedeelte van Gedeelte 31) van die Plaas
Lemoenshoek Nr. 24 in die Afdeling
van Swellendam, Provinsie
Wes-Kaap;
[67] Die
aansoekstukke in die serwituutaansoek en die interdikaansoek is reeds
gesluit en beide aansoeke is verwys vir die aanhoor
van mondelinge
getuienis. Daar is egter nog geen verhoordatum bepaal vir die
aanhoor daarvan nie.
[68] Applikant se
huidige aansoek het die toekenning van ʼn interim serwituut ten
doel. Die inleiding tot die aangevraagde
regshulp is egter nie
heeltemal duidelik nie. Die interim regshulp is klaarblyklik bedoel
om van toepassing te wees hangende die
beregting van die
serwituutaansoek self. Dit kan egter nie onvoorwaardelik afhang van
die hersieningsaansoek se uitslag nie omdat
laasgenoemde nie
noodwendig finaliteit sal bring in die serwituutaansoek wat hangende
is in saaknr 23702/2010 nie. Die tydelike
interdik wat in saaknr
12863/2011 aangevra word is duidelik bedoel om ook te geld hangende
die finale beregting van die serwituutaansoek.
Die gronde van
applikant se aanspraak om ʼn serwituut te vestig
[69] Applikant se
aanspraak om ’n serwituut van opdamming en waterleiding met
betrekking tot die verdeelstruktuur te vestig
is gegrond op artikels
127, 128, 129 en 130 van die Nasionale Waterwet. Hierdie artikels
kom voor in Deel 2 van Hoofstuk 13 van
die Nasionale Waterwet. Die
inleiding tot Hoofstuk 13 lees soos volg:
‘'n Serwituut
is 'n reg wat 'n persoon het oor eiendom wat aan 'n ander persoon
behoort. Hierdie Deel veroorloof 'n persoon
wat gemagtig is om water
kragtens hierdie Wet te gebruik om 'n serwituut oor 'n ander persoon
se grond te eis waar dit noodsaaklik
is om daardie watergebruik
effektief te maak. Dit mag byvoorbeeld noodsaaklik wees om water oor
'n ander persoon se grond te lei,
om dit van die hulpbron na die
gemagtigde watergebruiker se grond te neem, en 'n serwituut sal
noodsaaklik wees om dit te doen.
'n Serwituut kan nie geëis word
tensy die eiser gemagtig is om water te gebruik nie, en indien die
magtiging ingetrek is of
andersins beëindig is, sal die
serwituut verval. Serwitute word by ooreenkoms verkry tussen die
gemagtigde watergebruiker
en die betrokke grondeienaar óf
ooreenkomstig die bestaande prosedure voorgeskryf in die Registrasie
van Aktes Wet óf
by wyse van 'n ooreenkoms wat 'n hofbevel
gemaak word. Prosedure besonderhede aangaande die verkryging van
serwitute en hul registrasie
word nie in hierdie Deel uiteengesit
nie, maar is vervat in Bylae 2.’
[70] Artikel 126 van
die Nasionale Waterwet bevat sekere woordomskrywings. Die volgende
twee is relevant:
‘In hierdie
Hoofstuk beteken-
(a) "serwituut
van opdamming" die reg om, by wyse van 'n waterwerk, die bedding
of wal van 'n stroom of aangrensende grond
wat aan 'n ander behoort,
te okkupeer;
(b) "serwituut
van waterleiding" die reg om grond wat aan 'n ander behoort by
wyse van 'n waterwerk vir onttrekking of
leiding van water te
okkupeer;’
[71] Artikel 127 van
die Nasionale Waterwet handel met die verkryging van serwitute. Dit
lees soos volg:
‘127
Verkryging van serwitute
(1) 'n Persoon wat
kragtens hierdie Wet gemagtig is om water te gebruik, kan-
(a) 'n serwituut
van-
(i) opdamming;
(ii) waterleiding;
of
(iii) oorstroming,
eis; of
(b)'n wysiging van
enige bestaande serwituut van opdamming, waterleiding of oorstroming
verkry,
vir sover dit
noodsaaklik is om aan daardie magtiging uitvoering te gee.
(2) Die serwituut
wat kragtens subartikel (1) (a) geëis word, kan-
(a) 'n persoonlike
serwituut ten gunste van die eiser wees; of
(b) 'n erfserwituut
ten gunste van die eiser wees in die eiser se hoedanigheid as eienaar
van grond waarop die eiser die water kan
gebruik.
(3) 'n Serwituut
kragtens hierdie Hoofstuk kan ook geëis word ten opsigte van 'n
bestaande waterwerk.
(4) Iemand wat van
plan is om kragtens hierdie artikel 'n serwituut te eis, moet die
prosedure volg wat in Bylae 2 uiteengesit
word.
[72] Artikel 128 van
die Nasionale Waterwet handel met die regte en pligte van
serwituuthouers en grondeienaars en artikel 129 met
die prosedure vir
die verkryging en wysiging van serwitute. Artikel 130 beskryf die
bevoegdhede van die hof met betrekking tot
ʼn eis vir ʼn
serwituut: Dit lees soos volg:
‘130
Bevoegdhede van Hoë Hof met betrekking tot eis vir serwituut
‘By die
aanhoor van 'n eis vir 'n serwituut of vir 'n wysiging aan 'n
serwituut ingevolge hierdie Hoofstuk, kan 'n Hoë
Hof-
(a) die eis toestaan
met of sonder aanpassings, op die voorwaardes wat hy billik ag;
(b) vergoeding
toestaan of weier om vergoeding toe te staan;
(c) bepaal of 'n
proporsionele bedrag aan vergoeding betaal behoort te word aan die
houer van 'n huurreg, verband, vruggebruik of
soortgelyke reg oor
eiendom, en beveel dat sodanige vergoeding betaal word; of
(d) die eis van die
hand wys.’
[73] Tweede
respondent bestry die interim serwituutaansoek. In sy antwoordende
eedsverklaring het hy onder meer beweer dat die
opening in die
langmuur van die verdeelstruktuur in die verlede altyd met planke
toegehou is behalwe wanneer applikant water vanaf
die Lemoenshoekdam
na die Tierkloofdam afgevoer het. Meeste van die tyd het water deur
die struktuur en in die rivier af gevloei.
Applikant het egter later
die opening konstant oopgehou. Daarna was daar nie genoeg water oor
vir laerliggende oewereienaars
nie. Nadat die dwarsmuur van die
struktuur in 2012 gedeeltelik weggespoel het, het die ekologie en die
situasie van stroomaf boere
baie verbeter want min water het toe deur
die opening in die langmuur gevloei. Tweede respondent het gesê
dat hy nie beswaar
het teen die oprigting van een of ander struktuur
nie mits dit wettig is en die ekologie van die omgewing en die
watergebruik van
stroomaf oewereienaars in ag neem. Hy het verwys na
applikant se twee oop tenders. Die eerste, volgens hom, sou meer
water in
die rivier laat afloop as die serwituut waarvoor applikant
tans aansoek doen. Die tweede oop tender sou egter minder gunstige
wees vir hom en die laerliggende oewereienaars. Tweede respondent
het sy eie oop tender aan applikant aangebied ten einde die gesille

tussen hulle op te los.
[74] Tweede
respondent het voorts betoog dat die vestiging van applikant se
beoogde serwituut strydig sal wees met die bepalings
van die Wet op
Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 (‘NEMA’) of die
‘Environmental Impact Assessment Regulations’
wat
ingevolge die bepalings van die National Environmental Management:
Waste Act 59 of 2008 (hierdie Wet is nie in Afrikaans gepromulgeer

nie) uitgevaardig is tensy applikant die nodige magtiging kry in
terme van sodanige bepalings. Hy het verder daarop gewys dat
eerste
respondent tans besig is met die vasstelling van ʼn reserwe in
terme van artikel 16 van die Nasionale Waterwet. Indien
dit gebeur
mag dit verreikende implikasies vir applikant se waterregte inhou.
Om daarde rede, so is betoog, sou dit voortydig
wees vir die hof om
hierdie stadium ʼn bevel uit te reik soos deur applikant aangevra
word.
[75] Die gronde
waarop tweede respondent die interim serwituutaansoek bestry, kan na
my mening in die volgende tien sub-paragrawe
saamgevat word:
(1) Die waterregte
waaroor applikant na bewering kragtens die Nasionale Waterwet beskik,
is geldig op ’n vertikale vlak tussen
applikant en die
Departement. Dit geld nie op ’n horisontale vlak tussen
applikant en tweede respondent nie.
(2) Die bepalings
van die 1956 Waterwet insake serwitute is nie van toepassing nie
omdat die beoogde dienende en heersende eiendomme
ten tyde van die
inwerkingtreding van die Nasionale Waterwet aan dieselfde persoon
behoort het, naamlik Mnr Fullard. Ingevolge
die gemenereg kan een
eiendom nie gelyktydig die heersende en die dienende eiendom met
betrekking tot ʼn serwituut wees nie.
(3) Applikant se
eedsverklarings bevat geen stelling dat dit oor ’n serwituut
beskik of een kan vorder nie. Applikant erken
inderdaad dat daar
geen ooreenkoms tussen dit en tweede respondent bestaan nie.
Applikant beweer bloot dat sy gebruik van die
verdeelstruktuur ’n
voortgesette waterverbruik is wat geld ingevolge die
beskermingsbepalings van die Nasionale Waterwet.
(4) Applikant het
reeds die twee aansoeke gebring waarna hierbo verwys is. Beide
aansoeke word bestry deur tweede respondent en
is verwys vir die
aanhoor van mondelinge getuienis. Hierdie prosedure veroorsaak
ongerief vir almal en dit vereis dat die hof
deur die omvangryke
stukke in beide addisionele aansoeke moet ploeg ten einde die huidige
aansoek te bereg.
(5) In terme van
artikel 127(1) van die Nasionale Waterwet kan applikant slegs ’n
serwituut eis ‘vir sover dit noodsaaklik
is om aan daardie
magtiging uitvoering te gee.’ Applikant, so word betoog, het
nie prima facie bewys gelewer van sodanige
noodsaak nie.
(6) Ingevolge
artikel 127(1) van die Nasionale Waterwet kan ’n serwituut
slegs gevorder word indien die aanspraakmaker gemagtig
is om water te
gebruik kragtens die Nasionale Waterwet. Applikant moet dus eers oor
’n lisensie beskik voordat dit ’n
serwituut kan eis.
(7) In terme van
artikel 129(1)(a) van die Nasionale Waterwet kan applikant slegs ’n
serwituut kry by wyse van ’n hofbevel
waaroor applikant nie
beskik nie.
(8) Hierdie hof kan
nie ’n serwituut toestaan in die lig van applikant en tweede
respondent se botsende bewerings oor die
aard van die beoogde
struktuur nie. Beide partye het voorstelle voor die hof geplaas maar
hulle bots steeds wesenlik.
(9) Die vestiging
van applikant se beoogde serwituut sal strydig wees met die bepalings
van NEMA en van die ‘Environmental
Impact Assessment
Regulations’.
(10) Die Departement
mag binnekort die vasstelling van ʼn reserwe in terme van artikel
16 van die Nasionale Waterwet maak.
Die serwituutaanspraak sal dan
van bloot akademiese belang word.
[76] Na my oordeel
is tweede respondent se besware nie geldig nie. Ek lewer puntsgewyse
kommentaar op die voorgaande tien sub-paragrawe
waarin ek tweede
respondent se verwere opgesom het:
(1) Ad sub-paragraaf
1
Die vestiging van
die serwituut waarvoor applikant aansoek doen moet klaarblyklik aan
die bepalings van die Nasionale Waterwet voldoen.
In daardie sin geld
applikant se regte vertikaal. Die oogmerk van sy aanspraak is egter
om, by wyse van ’n statutêre
proses, ’n reg te
bekom wat horisontaal teenoor tweede respondent sal geld.
(2) Ad sub-paragraaf
2
Die beoogde
serwituut sal nie sy regskrag kry op sterkte van die partye se
onderliggende regte en verpligtinge soos dit bestaan
het in 1998 toe
die Nasionale Waterwet in werking getree het nie. Die feitelike
posisie in 1998 en daarna mag indirek relevant
wees wanneer die aard
en dimensies van die beoogde struktuur oorweeg word. Die hof is
egter nie gebonde om enige bestaande of
historiese struktuur sonder
meer te aanvaar nie.
(3) Ad sub-paragraaf
3
Die antwoord op die
derde beswaar is dat applikant juis nie op ’n bestaande of
ooreengekome serwituut staatmaak nie. Dit
maak gebruik van die
toepaslike statutêre bepalings van die Nasionale Waterwet.
(4) Ad sub-paragraaf
4
Die huidige aansoek
is gerig op interim regshulp. Die regs- en feitelike vereistes
daarvoor verskil van die vereistes vir ’n
finale bevel. Dit is
so dat daar onnodige duplikasie in die stukke is van die feitelike
bewerings en regsargumente in al drie
aansoeke. Die ongerief en
koste wat daardeur veroorsaak is, kan egter vergoed word by wyse van
’n gepaste kostebevel by
die aanhoor van die serwituutaansoek
self.
(5) Ad sub-paragraaf
5
Die antwoord op
tweede respondent se vyfde beswaar is dat applikant na my mening wel
bewys van ‘noodsaak’ in ’n
praktiese sin gelewer
het. Mnr Crafford het herhaaldelik beweer dat sy boerdery inmekaar
sal stort sonder die betrokke water en
dit is nie wesenlik weerspreek
nie.
(6) Ad sub-paragraaf
6
Ek het reeds hierbo
met die kwessie van ’n lisensie gehandel en vind dit nie nodig
om dit te herhaal nie.
(7) Ad sub-paragraaf
7
Daar is nie meriete
in tweede respondent se sewende beswaar nie. Applikant se
serwituutaansoek is juis daarop gemik om ʼn hofbevel
te kry ter
vestiging van die serwituut in terme van artikel 130 van die
Nasionale Waterwet.
(8) Ad sub-paragraaf
8
Die botsings tussen
die feitelike getuienis aangaande die beoogde aard en vorm van die
struktuur kan in die lig van die implikasies
van hierdie hof se
bevindings in die hersieningsaansoek waarskynlik by ooreenkoms of by
wyse van ʼn minimum addisionele getuienis
opgelos word. Ek
handel hieronder meer volledig met hierdie aspek van die saak.
(9) Ad sub-paragraaf
9
Applikant betwis die
bewering dat die beoogde serwituut strydig sal wees met die bepalings
van NEMA of die ‘Environmental
Impact Assessment Regulations’.
Dit is egter nie nodig om hierdie verskille op te los nie want
hierdie hof se uitspraak
handel net met applikant se regte ingevolge
die Nasionale Waterwet. Dit gee nie voor om applikante se regte en
verpligtinge met
betrekking tot sodanige wette te bepaal nie en sal
geen effek hê op die kwessie van die impak van die betrokke
bepalings
nie.
(10) Ad
sub-paragraaf 10
Artikel 16 van die
Nasionale Waterwet handel met die vasstelling deur die Minister van
reserwes wat uit twee dele bestaan, naamlik
basiese menslike
behoeftes-reserwes en ekologiese reserwes. Dit is gemeensaak dat die
Minister nog geen vasstelling met betrekking
tot die betrokke gebied
gemaak het nie. Hierdie hof kan die huidige aansoek net beslis in
die lig van bestaande wetgewing en nie
op sterkte van bespiegeling
oor moontlke toekomstige wetgewing nie.
Die regshulp
toegestaan te word
[77] Ek is derhawe
van mening dat applikant geregtig is om ʼn serwituut van
opdamming en waterleiding met betrekking tot die
verdeelstruktuur op
tweede respondent se grond te vestig. Die vraag ontstaan egter
presies welke regshulp wat hierdie hof behoort
toe te staan. Dit is
eerstens nodig om te beklemtoon dat die hof ʼn wye diskresie het
wanneer dit kom by die verlening van
interim regshulp. Dit blyk uit
die klassieke formulering van die vereistes daarvoor in Eriksen
Motors (Welkom) Ltd v Protea Motors,
Warrenton and Another
1973 (3)
SA 685
(A) te 691C-G:
‘The granting
of an interim interdict pending an action is an extraordinary remedy
within the discretion of the Court. Where
the right which it is
sought to protect is not clear, the Court's approach in the matter of
an interim interdict was lucidly laid
down by INNES, J.A., in
Setlogelo v Setlogelo,
1914 AD 221
at p. 227. In general the
requisites are -
(a) a right which,
'though prima facie established, is open to some doubt';
(b) a well grounded
apprehension of irreparable injury;
(c) the absence of
ordinary remedy.
In exercising its
discretion the Court weighs, inter alia, the prejudice to the
applicant, if the interdict is withheld, against
the prejudice to the
respondent if it is granted. This is sometimes called the balance of
convenience.
The foregoing
considerations are not individually decisive, but are interrelated;
for example, the stronger the applicant's prospects
of success the
less his need to rely on prejudice to himself. Conversely, the more
the element of 'some doubt', the greater the
need for the other
factors to favour him. The Court considers the affidavits as a whole,
and the interrelation of the foregoing
considerations, according to
the facts and probabilities; see Olympic Passenger Service (Pty.)
Ltd. v Ramlagan,
1957 (2) SA 382
(D) at p. 383D - G. Viewed in that
light, the reference to a right which, 'though prima facie
established, is open to some doubt'
is apt, flexible and practical,
and needs no further elaboration.’
[78] Dit blyk ook
dat ʼn hof wat die finale serwituutbevel gee oor ʼn wye
diskresie beskik ingevolge artikel 130(a) van
die Nasionale Waterwet.
Die hof kan ‘die eis toestaan met of sonder aanpassings, op
die voorwaardes wat hy billik ag.’
Dit spreek vanself dat
hierdie wye diskresie ook van toepassing is waar 'n interim serwituut
toegeken word.
[79] Dit is uit die
aard van die saak prakties onmoontlik om op die getuienis voor my al
die relevante faktore te kwantifiseer.
Die eedsverklarings in die
aansoeke bevat hewige en uitgebreide feitegeskille. Ek is dus
verplig om ʼn praktiese en robuuste
benadering te volg.
Applikant, aan die een kant, het daarin geslaag om sy regte met
betrekking tot die serwituut te vestig. Die
belange wat tweede
respondent hierin verteenwoordig het, kan egter nie buite rekening
gelaat word nie. Na my oordeel sal dit billik
teenoor beide partye
wees indien ek gelas dat die vorm en dimensies van die tydelike
verdeelstruktuur sodanig moet wees dat dit
applikant in staat sal
stel om 'n hoeveelheid van twee derdes van die water af te voer,
vergeleke met die hoeveelheid water wat
hy sou kon afvoer met die
struktuur wat sy serwituutaansoek in die vooruitsig stel. Applikant
sal verantwoordelik wees vir al
die koste verbonde aan die oprigting
van die interim verdeelstruktuur.
[80] Dit mag wees
dat dit nie eenvoudig is om die twee derde/een derde riglyn prakties
toe te pas nie. Ek voeg dus die volgende
direktief by. Indien
applikant en tweede respondent nie binne 'n tydperk van een maand
vanaf die datum van hierdie uitspraak kan
ooreenkom oor die vorm en
dimensies van die interim struktuur nie, kan hulle hierdie hof nader
met 'n bondige motivering van hul
botsende voorstelle vir 'n
gewysigde bevel.
Gedingskoste
[81] Dit laat die
kwessie van gedingskoste. Applikant was suksesvol in die
hersieningsaansoek en is in beginsel geregtig op sy koste.
Dit was
ook suksesvol in die interim serwituutaansoek maar die normale reël
wanneer interim regshulp toegestaan word, is
dat koste oorstaan vir
beregting by die aanhoor van die hoofaansoek. Dit is dus nodig dat
die geheel van applikant se koste in
beide aansoeke verdeel moet moet
word tussen die hersieningsaansoek en die interim serwituutaansoek.
Dit is egter onmoontlik om
die verdeling presies te bereken sodat ’n
praktiese en robuuste benadering onvermydelik is. Sien EMS Belting
Co of SA (Pty)
Ltd and Others v Lloyd and Another
1983 (1) SA 641
(E)
at 647GH:
‘Finally there
is the fractional basis, where it is difficult or impracticable to
divide the issues or to allocate the costs
on a time basis. The Court
in such a case makes an assessment of the proportion of the total
costs that should be awarded to the
successful party. At very best
this can only be an approximation. See the Gentiruco case supra at
673A. Such an order was made,
for example, in Rondalia
Versekeringskorporasie van Suid-Afrika Bpk v Pretorius
1967 (2) SA
649
(A) at 658A - F.’
[82] Word die twee
aansoeke op daardie basis vergelyk dan is ek van mening dat die
hersieningsaansoek nie net finaal van aard is
nie maar ook meer
gewigtige feitelike en regsgeskilpunte bevat as die interim
serwituutaansoek. Dit sou na my mening in al die
omstandighede
regverdig wees indien die Departement aanspreeklik gehou word vir
twee derdes van die geheel van applikant se koste
in beide aansoeke.
Die oorblywende een derde van die geheel van applikant se koste sal
oorstaan vir beregting by die aanhoor
van die serwituutaansoek.
Gevolgtrekking
[83] Ek verleen
gevolglik die volgende bevele:
(1) In die
hersieningsaansoek:
(a) Die lasgewings
wat vervat is in paragrawe 2.1, 2.2, 2.3 en 4 van eerste respondent
(die Departement) se brief gedateer 25 Augustus
2014, word hersien en
tersyde gestel.
(b) Eerste
respondent word gelas om twee derdes van applikant se koste in beide
aansoeke te betaal.
(2) In die interim
serwituutaansoek:
(a) Hangende die
finale beregting van applikant se serwituutaansoek in saaknr
23702/2010 word 'n bevel verleen in terme van bede
2(c) van applikant
se kennisgewing van mosie in die huidige aansoek met dien verstande
dat applikant nie meer as twee derdes van
die water in die
Lemoenshoekrivier deur middel van die verdeelstruktuur mag onttrek en
wegvoer as wat hy sou kon onttrek en wegvoer
het indien sodanige
regshulp ongekwalifiseerd verleen was nie.
(b) Die regshulp in
wat in sub-paragraaf (a) hierbo verleen word, is onderhewig aan die
kwalifikasies wat in para [80] van hierdie
uitspraak vervat is.
(c) Een derde van
applikant se koste in beide aansoeke staan oor vir beregting by die
aanhoor van applikant se serwituutaansoek
in saaknr 23702/2010.
A P BLIGNAULT