About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2011
>>
[2011] ZAWCHC 499
|
|
Van der Vyver v Minister van Veiligheid en Sekuriteit van die Republiek van Suid-Afrika (7875/2008) [2011] ZAWCHC 499 (15 August 2011)
DIE
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
WES-KAAPSE PROVINSIALE AFDELING,
KAAPSTAD
SAAK NR: 7875/2008
In die saak tussen:
FREDERIK BAREND VAN DER VYVER
`
…....................................................................
Eiser
en
DIE MINISTER VAN VEILIGHEID EN
SEKURITEIT
VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
….......................................................
Verweerder
UITSPRAAK: 15 AUGUSTUS 2011
VELDHUIZEN R
:
Die eiser vorder skadevergoeding van
die verweerder op grond van kwaadwillige vervolging. Ingevolge die
partye se ooreenkoms staan
die
quantum
van die eiser se skade
oor vir latere beregting, indien nodig. Ek hoef my gevolglik slegs
te bepaal by die vraag of die verweerder
aanspreeklik is vir
sodanige skade as wat bewys mag word.
AGTERGROND
:
Op 16 Maart 2005 is die eiser se
vriendin, me Inge Lotz (‘die oorledene’), in die
sitkamer van haar woonstel
te Welgevonden Landgoed, Stellenbosch
vermoor terwyl sy op ‘n rusbank gesit het. Sy het erge
kopwonde, die gevolg van stompgeweld,
asook steekwonde aan haar bors
gehad.
Die eiser is op 15 Junie 2005 in
hegtenis geneem en op borg van R10 000 vrygelaat. Verskeie versoeke
van die eiser se regsverteenwoordigers
aan die Direkteur van
Openbare Vervolging, Wes-Kaap (“die DOV”), om die
aanklag te laat vaar, is telkens geweier.
Die eiser se verhoor op
die aanklag van moord het op 12 Februarie 2007 voor regter Deon Van
Zyl en twee assessore begin. Op 29
November 2007 is die eiser
onskuldig bevind. Die verrigtinge van die strafverhoor is, by
ooreenkoms tussen die partye, ingehandig.
TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
:
In
Minister for Justice &
Constitutional Development v Moleko
[2008] 3 All SA 47
(SCA)
bevestig Van Heerden AR op bl 50d-f die vereistes vir ‘n
aksie, gegrond op kwaadwillige vervolging, om te kan
slaag. Wat
beweer en bewys moet word is:
‘
(a)
that the defendants set the law in motion (instigated or instituted
the proceedings);
that the defendants
acted without reasonable and probable cause;
that the defendants
acted with “malice” (or
animo
injuriandi
); and
that the prosecution has
failed.’
Wat presies word bedoel met die
vereiste van ‘malice’? In
Rudolph v Minister of
Safety and Security
2009(5) SA 94(SCA) beslis Mthiyane AR en Van
Heerden AR op bl 100E-G soos volg:
‘
The
requirements of “malice” has been the subject of
discussion in a number of cases in this court. The approach now
adopted by this court is that, although the expression “malice”
is used, the claimant’s remedy in a claim for
malicious
prosecution lies under the
actio
injuriarum
and
that what has to be proved in this regard is
animus
injuriandi.
See
Moaki
v Reckitt and Colman (Africa) Ltd and Another
[1968
(3) SA 98
(A) at 103G-104E]; and
Prinsloo
and Another v Newman
[1975
(1) SA 481
(A) at 492A-B]. By way of further elaboration in
Moleko
it
was said:
“
The
defendant must thus not only have been aware of what he or she was
doing in istituting or initiating the prosecution, but must
at least
have foreseen the possibility that he or she was acting wrongfully,
but nevertheless continued to act, reckless as to
the consequences of
his or her conduct (
dolus eventualis
).
Negligence on the part of the defendant (or, I would say, even gross
negligence) will not suffice.” [Paragraph 64.]’
Die eiser se eis is nie teen die
vervolgingsgesag, wat die besluit geneem het om die eiser te
vervolg, gemik nie. Gevolglik moet
aandag gegee word aan wat presies
bedoel word met die vereiste dat die verweerder verantwoordelik is
vir die aanstigting van
die vervolging. In
Lederman v Moharal
Investments (Pty) Ltd
1969 SA 190
(AD) het Jansen AR te 197A
beslis:
‘
Inherent
in the concept “set the law in motion”, “instigate
or institute the proceedings”, is the causing
of a certain
result, i.e. a prosecution, which involves the vexed question of
causality. This is especially a problem where, as
in most instances,
the necessary formal steps to set the law in motion have been taken
by the police and it is sought to hold someone
else responsible for
the prosecution. Amerasinghe,
Aspects
of the Action Injuriarum in Roman-Dutch law
,
recognises that
“
the
problem is essentially one of causation” and suggests (at p.
20):
“
The
principle is that where a person acts in such a way that a reasonable
person would conclude that he” (i.e. the defendant)
“
is
acting clearly with a specific view to a prosecution of the plaintiff
and such prosecution is the direct consequence of that
action, that
person is responsible for the prosecution.”
The learned author
obviously applies the direct consequences theory and points out in a
footnote that
“
indeed,
in all cases it would be a question of deciding whether the act of
the authorities in instituting the prosecution could
be called a
novus
actus interveniens
.”
It is, however,
unnecessary in the present case to express any opinion upon the
validity of this “priciple” for our
law.’
Die geleerde regter maak dit duidelik,
met verwysing na
Waterhouse v Shields
1924 CPD 155
, dat daar
‘n kousale verband bewys moet word tussen die gedrag van die
aanstigter en die besluitnemer se besluit om te vervolg.
Gevolglik moet ‘n eiser, om te
kan slaag, op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys dat die
wederregtelike en opsetlike
optrede van ‘n verweerder die
besluit om te vervolg tot gevolg gehad het. Om dit anders te stel,
‘n eiser moet bewys
dat as dit nie was vir die wederregtelike
en opsetlike gedrag van die verweerder nie, sou daar nie ‘n
vervolging gewees
het nie.
Sien ook:
LAWSA VOL 15: Malicious
Proceedings
p 280 para 445.
En:
Prinsloo and Another v Newman
1975(1) SA 481(AD) te bl 492C-G.
BESPREKING
:
In sy besonderhede van vordering
beweer die eiser dat die verweerder se werknemers in die loop van
hulle diens die vervolging
van die eiser aangestig het deur in drie
opsigte vals verklarings aan die DOV voor te lê. Die opsigte
waarna verwys word
is:
Die voorwerp wat gebruik is om die
oorledene se kopwonde toe te dien;
Die voorwerp waarvan die eiser se
vingerafdruk gelig is; en
Die veroorsaking van ‘n
bloedsmeer in die badkamer van die oorledene se woonstel.
Ek behandel elk van hierdie bewerings
hierna, maar gerieflikheidsonthalwe nie in die volgorde wat hulle in
die besonderhede van
vordering verskyn nie.
In paragraaf 5.4 van sy besonderhede
van vordering beweer die eiser:
‘
5.4.1 In an
affidavit dated 7
th
June 2005 .
. . Captain Maritz set out and referred to various tests that he had
carried out with an ornamental hammer belonging
to plaintiff, to
photographs he had taken and results that he had consequently
obtained and concluded that he could not “include
or exclude”
the said hammer as being the murder weapon.
5.4.2 The said affidavit was not a
fair and honest statement, but false and misleading inter alia in
that Captain Maritz did not
disclose the following relevant facts:
5.4.2.1 That the bottle-opener part of
the plaintiff’s hammer bent the first time it was used in the
tests;
5.4.2.2 That the results that Captain
Maritz referred to in his above-stated affidavit were obtained not
only by using plaintiff’s
hammer, but also by the use of two
other hammers, the one a ball and claw hammer that was bigger than
the ornamental hammer of
the plaintiff, and the other a similar
hammer to that of the plaintiff, but significantly stronger than
plaintiff’s;
5.4.2.3 That the hammer embedded in a
sheep’s head in photos 15 and 16 of his report, was not the
plaintiff’s hammer
(as stated in his report), but the stronger
hammer referred to above.’
Ek vind dit onnodig om die getuienis
van die deskundiges, wat oor die kopwonde van die oorledene en die
moontlikheid dat die eiser
se hamer dit kon veroorsaak het, getuig
het, te behandel. Die rede hiervoor is dat, tot die kennis van die
DOV, daar geen bloed
of weefsel op die eiser se hamer gevind is nie.
Daar was gevolglik niks wat die eiser se hamer met die aanval op die
oorledene
verbind het nie. Die opinie, wat kaptein Maritz in sy
verklaring uitgespreek het, is neutraal en kon nie en het inderdaad
nie
bygedra tot die besluit van die DOV om die eiser te vervolg nie.
Wat die eiser se vingerafdruk betref
beweer die eiser in paragraaf 5.1 en 5.2 van sy besonderhede van
vordering soos volg:
‘
5.1
Constable
Elton John Swartz
5.1.1 In an affidavit dated the 14
th
April 2005 and attested to at Paarl, Constable Swartz stated that a
fingerprint of the plaintiff, that appeared on a folien and
numbered
by the police as folien no. 1 (folien 1), was lifted by him from a
DVD cover that was found in the flat of the plaintiff’s
aforestated girlfriend. (Hereinafter also referred to as “the
deceased”). The relevant paragraph reads as follows:
“
During the
investigation I found the following:- Folien 1: F/P lifted from a DVD
disk holder which was found on coffee table in
lounge and show’s
sideways to the left.”
The above statement was further
confirmed by Constable Swartz in an affidavit dated the 18
th
July 2005.
The statement was false because the
fingerprint on folien 1 was not lifted from the DVD cover
found in the deceased’s
flat, but from a glass.
Had the statement that the
plaintiff’s fingerprint was lifted from the DVD cover been
true, it would have meant that
plaintiff had been in the
deceased’s flat during the afternoon/evening of the 16
th
March 2005, - during which time she was murdered – and that
plaintiff’s alibi of being at work at Old Mutual,
Pinelands,
Cape Town, during that time, was false.
Director Rubin Botha and
Superintendent VLC Meyer
In a report dated 19
th
December 2005 Director Botha and Superintendent VLC Meyer, as
fingerprint experts, stated that it was:
“
. . . very
possible that the fingerprints lifted by Constable Swartz originates
from open DVD holder as found on coffee table on
top of magazines.”
The said report was not a fair and
honest report, and was in fact false and misleading in that folien
1 could not “possibly”
have been lifted from a DVD
cover.’
Dit is gemene saak dat konstabel
Swartz, wat aan die Provinsiale Kriminele Rekord Sentrum (‘PKRS’),
Paarl verbonde
was, op 17 Maart 2005 na die oorledene se woonstel is
om met die ondersoek behulpsaam te wees. Inspekteurs M Booysens en
H Coetzee
het hom bygestaan. Inspekteur Booysens het voorwerpe
in die sitkamer gepoeier terwyl inspekteur Coetzee die voorwerpe in
die
kamers en ander areas gepoeier het. Konstabel Swartz was
egter alleen verantwoordelik vir die lig van die vingerafdrukke met
behulp van folien en kleefband. Hy het vingerafdrukke van ‘n
DVD-houer en ‘n drinkglas met folien gelig. Ander
vingerafdrukke is met behulp van kleefband gelig. Konstabel Swartz
het nagelaat om die departementele voorskrifte na te kom deurdat
hy
versuim het om die agterkante van die foliene op die toneel te
voltooi. Hy het dit eers later op kantoor voltooi. Die
vingerafdrukke
is later op ‘n grootboogkaart aangebring en op
die polisie se rekenaarstelsel ingevoer. Die rekenaarstelsel staan
bekend
as OVIS wat ‘n akroniem is vir ‘outomatiese
vingerafdruk identifikasie sisteem’.
Konstabel Swartz het nie self die
eiser se vingerafdruk met die vingerafdrukke wat op die moordtoneel
gelig is vergelyk nie. Wat
gebeur het is dat die polisie op 12 April
2005 vingerafdrukke van die oorledene se vriende by die kantore van
die Ernstige Geweld
Misdaad Eenheid te Bishop Lavis geneem het. Dit
was ‘n roetine prosedure wat vir uitskakelingsdoeleindes
gedoen is. Later
die dag het inspekteur J Bester vasgestel dat die
eiser se vingerafdrukke ooreenstem met ‘n vingerafdruk wat op
die grootboogkaart
verskyn. Die inligting tot Bester se beskikking
het aangetoon dat die vingerafdruk op die grootboogkaart van die
DVD-houer gelig
is. Dit is gemene saak dat hierdie inligting van
konstabel Swartz afkomstig was. Dit is van belang om te meld dat
indien hierdie
inligting korrek was dit sou beteken dat die eiser
die oorledene besoek het nadat sy om ongeveer 3nm op 16 Maart 2005
die DVD by The Video Place, Stellenbosch gehuur het. So ‘n
besoek sou teenstrydig wees met sy alibi dat hy later die oggend,
nadat hy klas bygewoon het en by ‘n meubelwinkel was, terug is
na sy werksplek te Ou Mutual, Pinelands.
Op 14 April 2005 verklaar konstabel
Swartz onder eed dat die vingerafdruk op folien 1 (‘folien 1’)
van die DVD-houer
gelig is. Dit het hy weer bevestig in ‘n
eedsverklaring van 18 Julie 2005. Dat hierdie vingerafdruk op
daardie stadium
een van die hoekstene van die staat se saak teen die
eiser was kan nie betwyfel word nie. Brigadier Trollip, wat in ‘n
toesighoudende hoedanigheid betrokke was, het self getuig dat die
eiser se vingerafdruk, na sy mening, die eiser op die kritieke
tyd
op die moordtoneel geplaas het. Ook in sy eedsverklaring van 9 Junie
2005 ter ondersteuning van die aansoek vir ‘n
lasbrief vir die
arrestasie van die eiser steun hy sterk op die beweerde feit dat die
eiser se vingerafdruk op die DVD-houer
gevind is.
Eers veel later op 13 Desember 2006,
kort voor die eiser se strafverhoor sou begin, het die DOV te kenne
gegee dat daar nie langer
op die vingerafdrukgetuienis gesteun word
nie. Tydens die strafsaak het die staatsadvokaat dit op rekord
gestel dat die getuienis
aangaande die vingerafdruk slegs aangebied
word om die bewering van
mala fides
aan die kant van die
polisiebeamptes te weerlê.
Voor my het mnr Arie Jacob
Zeelenberg, die senior adviseur ten aansien van vingerafdrukke vir
die Nasionale Polisieagentskap in
Nederland, getuig. Hy het ‘n
indrukwekkende
curriculum vitae
. Hy het folien 1 ondersoek
met die oog daarop om die oorsprong van die vingerafdruk wat daarop
vasgelê is vas te stel.
Volgens die getuie is die vingerafdruk
van ‘n drinkglas en nie van ‘n DVD-houer gelig nie. Hy
het aan die hand van
‘n skyfievertoning verduidelik dat daar
parallelle lyne, wat ‘n effense kurwe toon, op folien 1
voorkom. Die rede
daarvoor is omdat ‘n drinkglas vanaf die oop
kant afdun na onder en die lip aan die oop kant tipies sulke lyne
sal laat.
‘n DVD-houer se rand sal nie ‘n kurwe nie maar
reguit lyne laat. ‘n Verdere afdruk is na sy mening ‘n
lipafdruk wat op die drinkglas gelaat is. Hy het op oortuigende wyse
verduidelik dat folien 1 getuienis bevat van waterdruppels
wat op
die glas agtergelaat is. Na sy mening strook folien 1, wanneer die
lipmerk, waterdruppelmerke, die parallelle lyne en
ook ander
onsuiwerhede en artifakte wat daarop gevind is, in alle opsigte met
‘n afdruk wat van ‘n drinkglas gelig
is.
Mnr Jacobus Albertus Bierman het
namens die verweerder getuig. Hy was voorheen as ‘n
vingerafdrukdeskundige aan die Suid-Afrikaanse
Polisiediens (‘die
SAPD’) verbonde. Volgens hom is die ‘lipafdruk’ op
folien 1 deur ‘n handskoen,
wat vingerafdrukdeskundiges
gebruik, veroorsaak. Die getuie was dogmaties dat die afdruk nie van
‘n lip nie maar van ‘n
handskoen afkomstig is. Ook die
merkies, wat volgens mnr Zeelenberg deur druppels veroorsaak is,
skryf hy toe aan die tekstuur
van ‘n handskoen. Ek vind mnr
Bierman se opinie en verduidelikings oor hoekom die vingerafdruk
afkomstig is van ‘n
DVD-houer en nie van ‘n drinkglas
nie geforseerd en gekunsteld. Hy het in die getuiebank gedemonstreer
dat ‘n persoon,
wie se lip so ‘n merk laat, nie
vloeistof uit ‘n glas kon gedrink het sonder om te mors nie.
Hierdie demonstrasie
het klaaglik misluk toe daar tydens
kruisondervraging getoon is hoe dit inderdaad moontlik is. Na my
mening is die opinie van
mnr Zeelenberg gefundeerd. Ek verkies sy
opinie bo dié van mnr Bierman. Na my mening is dit duidelik
dat die afdruk op
folien 1 van ‘n drinkglas en nie van ‘n
DVD houer nie gelig is.
Dit noop my om te bepaal of konstabel
Swartz op leuenagtige wyse verklaar het dat die eiser se
vingerafdruk van die DVD-houer
gelig is en of hy met die nodige
animus injuriandi
opgetree het.
Konstabel Swartz het gedurende
Oktober 2000 by die SAPD aangesluit. In 2003 het hy ‘n basiese
opleidingskursus, wat onder
andere ingesluit het die lig van
vingerafdrukke, voltooi. Hy het die kursus geslaag en het toe werk
gedoen as ‘n vingerafdrukondersoeker
maar was nie ‘n
vingerafdrukdeskundige nie. Hy was nie gemoeid met die vergelyking
van vingerafdrukke nie, dit was die
taak van
vingerafdrukdeskundiges.
Voor hierdie hof het konstabel Swartz
(tans ‘n sersant) getuig dat hy steeds oortuig is dat hy
folien 1 van die DVD-houer
gelig het. Hy het egter toegegee dat ‘n
fout kon ingesluip het en dat hy hom mag vergis het. Hy was ‘n
onindrukwekkende
getuie. Hy was ontwykend en vaag. Hy het ook
teenstrydige getuienis gelewer oor onder andere hoe en waar hy die
vingerafdrukke
gelig het en wie teenwoordig was tydens die ondersoek
in die woonstel. Dit is tog van belang dat, op die stadium toe hy
verklaar
het dat folien 1 van die DVD-houer gelig is, hy nie geweet
het of kon geweet het dat dit van belang is of die vingerafdruk van
die drinkglas of van die DVD-houer afkomstig is nie. Dat hy nalatig
of selfs roekeloos was staan vas. Maar na my mening, selfs
inaggenome sy swak getuienis, is die afleiding dat hy in dié
opsig leuenagtig was en met
animus injuriandi
opgetree het
nie geregverdig nie.
Laastens is daar die bewerings
aangaande die bloedsmeer wat in die badkamer van die oorledene se
woonstel gevind is. In paragraaf
5.3 van sy besonderhede van
vordering beweer die eiser:
‘
5.3.1 On the
22
nd
August 2005
and in Cape Town, Captain Bartholomew stated in an affidavit that he
was a shoeprint analyst and concluded as follows:
“
. . .
Betreffende die soort, grootte, plek, posisie en verhouding van die
unieke kenmerke tot mekaar, stem die skoen-afdrukke se
klas ooreen
met die regter-skoen wat aan ene Frederick Barend van der Vyver
behoort.”
5.3.2 The said statement referred to a
mark on the bathroom floor of the deceased, and was false in that the
mark on the bathroom
floor could not have been identified as having
been made by any shoe, let alone the right (Hi-tech sport) shoe of
the plaintiff.’
Indien die opinie van mnr
Bartholomew, voorheen ‘n kaptein in diens van die SAPD, korrek
is sal dit tot die onvermydelike
gevolgtrekking lei dat die eiser by
die oorledene se moord betrokke was. Sy opinie was gegrond op die
algemene kenmerke of klaskenmerke
van die skoen wat volgens hom die
bloedsmeer gepas het. Ook het hy later drie wit kolletjies, wat op
die foto van die bloedsmeer
verskyn, verbind met sand wat in die hak
van die een skoen teenwoordig was. Kort voor die strafverhoor is die
drie kolletjies
tot vier kolletjies uitgebrei. Mnr Bartholomew se
opinie het soos ‘n seer vinger uitgestaan. Plaaslike lede van
die PKRS
het nie met hom saamgestem nie. Hy is na die forensiese
labaratorium in Pretoria. Daar het kommissaris Piet du Toit,
direkteur Vorster, en kaptein Ziets Alberts ook van hom verskil.
Hulle was almal van mening dat die skoen nie met die bloedsmeer
verbind kan word nie. Op 29 November 2005 het lede van die DOV met
die eiser se verdedigingspan byeengekom. Die lede van die
DOV was
bewus van die feit dat geen ander lede van die forensiese eenheid
met kaptein Bartholomew saamgestem het nie.
Einde ten laaste is kaptein
Bartholomew na Amerika om een van die wêreld se voorste
deskundiges op die gebied van skoenspoor-identifikasie,
mnr William
John Bodziak, te raadpleeg. Die ooreenkoms met mnr Bodziak was dat
hy in ‘n adviserende hoedanigheid sou optree
en nie na
Suid-Afrika sou hoef te kom om te getuig nie.
Mnr Bodziak het getuig dat merke of
spore by ‘n toneel vergelyk word met ‘n voorwerp,
byvoorbeeld ‘n skoen,
om eerstens vas te stel of daar
ooreenstemmende klaskenmerke, soos skoengrootte en patrone,
teenwoordig is. Indien daar klaskenmerke
teenwoordig is, word die
voorwerp daarna ondersoek om vas te stel of dit unieke kenmerke toon
wat met die spoor by die toneel
verbind kan word. Tydens mnr
Bartholomew se besoek is sekere toetse gedoen en hy het aan mnr
Bartholomew uitgewys dat die vuiligheid
in die hak van die skoen te
diep is om die kolletjies, wat op die fotos van die bloedsmeer
verskyn, te gemaak het. Hy het nie
mnr Bartholomew se opinie
ondersteun nie. In hierdie hof het mnr Bodziak volledig
verduidelik dat die bloedsmeer op die
badkamervloer van die
oorledene se woonstel geen klaskenmerke of unieke kenmerke toon wat
dit sou moontlik maak om dit met die
eiser se skoen te verbind nie.
By sy terugkeer het mnr Bartholomew
te kenne gegee dat mnr Bodziak hom ondersteun. As gevolg van sy
mededelings het brigadier
Trollip ‘n verslag opgestel wat mnr
Bartholomew onder oë gehad het. Ek is tevrede dat die verslag
vals en misleidend
was. Mnr Bodziak het hoegenaamd nie met hom
saamgestem nie. Ek vind dit nie nodig om mnr Bodziak se getuienis in
enige detail
te behandel nie. Ek wil dadelik sê dat hy nie net
‘n indrukwekkende getuie was nie maar ook duikelik ‘n
kenner
op sy gebied. Waar sy opinie en sy getuienis oor wat in
Amerika gebeur het met dié van mnr Bartholomew bots, aanvaar
ek
die getuienis van mnr Bodziak sonder aarseling.
Om aan te toon hoe onhoudbaar die
opinie van mnr Bartholomew is, is dit slegs nodig om na ‘n
gedeelte van sy getuienis
te verwys:
‘
HOF
:
Ek wou vir u vra, u sê nou dit is die Advokaat se mening? Maar
kom ons kyk nou na 3H. Dit gaan oor klaskenmerke. Ek wil
verstaan wat
u sê. Dit is nou so oorgedra, né? - - - Dit is korrek,
Edele.
Nou, as ons kyk na daardie
ovaalvormige deel wat ek gesê het, daar kry ons ‘n inham,
strepie, daar is een, twee, drie,
vier, vier van daardie strepies? -
- - Dit is korrek, Edele.
Die res bult uit? - - - Dit is korrek.
So, as ‘n mens met daardie deel
van die skoen in die bloed sou trap, dan sou daardie dele wat
uitbult, die bloed verplaas?
Dit is wat ‘n mens sou verwag, nie
so nie? - - - Dit is korrek, Edele.
En dan die middelste deel nie? So ‘n
mens sou dan verwag om strepe te kry? - - - Normaalweg, ja.
Normaalweg? Ek weet nie, dit klink vir
my logies? - - - Dit is korrek, Edele.
En u moet vir my sê want dikwels
is logika, is ‘n mens se logika verkeerd? - - - Dit is
verkeerd.
Maar ek wil weet of u, stem u met my
saam of nie? Is dit so? - - - Dit is korrek, Edele.
Nou, al wat u vir ons aantoon hier, op
HHH is dat daar is ‘n boogvormige merk, en dit is nou bloed,
reg? - - - Dit is korrek.
Daardie swart is veronderstel om bloed
te wees? Nou maar waar sien u, is daar enigiets wat aandui dat daar
bloed verplaas is? -
- - daar is niks wat aandui dat bloed verplaas
is nie, Edele.
Nie? - - - Nee.
Nie, so al wat ‘n mens het is ‘n
bloedmerk wat rond is, of half rond is aan die een kant? Dit is al? -
- - Dit is korrek,
Edele.
Dit is die hoogwatermerk soos ek dit
sien, van daardie? - - - Dit is korrek.’
Nie een van redes wat mnr Bartholomew
aangevoer het, ten opsigte van die klaskenmerke of die unieke
kenmerke, het staande gebly
nie. Hierdie getuie se opinie is in alle
opsigte nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Op ‘n laat stadium maar voordat
die strafverhoor begin het, is dit onder die aandag van die lede van
die DOV gebring dat
mnr Bodziak inderdaad nie die mening van
mnr Bartholomew ondersteun nie. Mnr Bodziak het dit in ‘n
telefoniese onderhoud
met hulle bevestig.
Ek is tevrede dat mnr Bartholomew nie
‘n eerlike getuie is nie. Ek bevind dat hy nie eerlik kon
geglo het en inderdaad nie
geglo het dat sy opinie reg is nie. Daar
het ‘n plig op hom gerus om enige twyfel wat hy gehad het en
wat hy, na my mening,
inderdaad gekoester het aan die
vervolgingsgesag oor te dra. Dit het hy nie gedoen nie. In stede
daarvan het hy volhard met sy
mening. Hy het in die opsig, met die
nodige opset, hom skuldig gemaak aan die aanstigting van die
vervolging.
Ten spyte van die feit dat hulle nie
meer op die vingerafdrukgetuienis sou steun nie en geweet het dat
mnr Bodziak ook nie
mnr Bartholomew se mening deel nie is daar
besluit om met die vervolging voort te gaan en inderdaad Bartholomew
se getuienis
aan te bied. Om die verloop van sake en die besluit om
met die vervolging voort te gaan het advokaat Christénus van
der
Vijver van die DOV, wat een van die aanklaers in die strafsaak
was, getuig. Hoewel hy sy bedenkinge oor mnr Bartholomew se opinie
gehad het, was hy van mening ‘. . .hy is seer
sekerlik geregtig op sy opinie en dat die opinie getoets word deur
die Hof, en kom ons sit dit dan maar in die skaal.’ Die DOV
het dus duidelik in ‘n meerdere of mindere mate op die
opinie
van mnr Bartholomew gesteun om die staat se saak te bewys. As sulks
bestaan daar ‘n kousale verband tussen mnr Bartholomew
se
opinie en die voortsetting van die vervolging.
Dit is vir my nodig om te handel met
sekere verdere getuienis van adv van der Vijver. Volgens hom sou
hulle ernstig oorweeg het
om nie mnr Bartholomew se getuienis aan te
bied nie indien hy hulle sou meegedeel het dat hyself bedenkinge het
aangaande die
geldigheid van sy opinie. Adv van der Vyjver het egter
voortgegaan en getuig:
‘
Ja --- Maar
dit sou nie ons besluit beïnvloed het om met die saak voort te
gaan nie.’
Volgens adv van der Vijver was die
omstandigheidsgetuienis van so ‘n aard dat hulle, welwetende
dat: (a) hulle nie die hamer
met die moord kon verbind nie, (b) die
vingerafdrukgetuienis nie aangebied sou word om te bewys dat
DVD-houer die eiser se vingerafdruk
bevat het nie, en (c) mnr
Bartholomew se getuienis buite rekening gelaat moet word, steeds met
die vervolging sou voortgegaan
het.
Ek moet dadelik sê dat ek sy
getuienis verstommend vind.Die feit is egter dat mnr Bartholomew nie
eerlik met die DOV was
nie en adv van der Vijver se getuienis is dus
hoogstens ‘n opinie van wat sou gebeur het indien mnr
Bartholomew eerlik
was. Dit is my plig om te bepaal of daar op ‘n
oorwig van waarskynlikhede, sy opinie inaggenome, bewys is dat die
vervolging
sou voortgegaan het.
Volgens adv van der Vijver sou hulle
‘n verskeidenheid faktore in ag geneem het. Ek behandel hierna
die belangrikste van
die faktore.
Daar was geen tekens dat gedwonge
toegang tot die oorledene se woonstel verkry is nie. Ek gebruik die
woorde ‘geen teken’
doelbewus want die blote feit dat
daar geen teken van gedwonge toegang was nie beteken nie dat die
oorledene haar aanvaller
ingelaat het nie. Toegang kon op ‘n
ander wyse verkry gewees het sonder om tekens daarvan te laat.
Behalwe vir die feit dat ‘n
mes en die oorledene se afstandbeheerder weg was, is niks uit die
woonstel vermis nie. Dit
sou dui daarop dat die motief vir die
moord nie roof was nie. Dit is na my mening spekulasie. Niemand
weet wat presies voor
of na die aanval op die oorledene gebeur het
nie.
Die wyse waarop die oorledene op die
rusbank gevind is, is aanduidend daarvan dat sy haar aanvaller
geken het. Ook dit is spekulasie.
Daar was die vorige aand ‘n
struweling tussen die oorledene en die eiser. Hierdie feit is
gemene saak. Die volgende dag
het sy egter in ‘n brief die
eiser lof toegeswaai en haar ewigdurende liefde vir hom beloof.
Alle aanduidings is dat
die struweling nie baie ernstig was nie en
sekerlik nie van so ‘n aard dat dit ‘n motief vir moord
daarstel nie.
Ene Swart, wat by ‘n
meubelwinkel in Stellenbosch gewerk het, het verklaar dat die eiser
om en by middagete in die winkel
was om ‘n kassie op te tel.
Die tyd van dié besoek, selfs al sou dit aanvaar word, sou
glad nie die staat se saak
bevorder het nie. Die tyd het nie
ingepas by die staat se eie weergawe oor wanneer die oorledene
aangeval is nie.
[34] Teenoor die
omstandigheidsgetuienis moet die eiser se alibi, wat te alle
relevante tye aan die DOV bekend was, opgeweeg word.
Daar is geen
aanduiding dat die eiser sy werkplek verlaat het nie. Die
sekuriteitstelsel is van so ‘n aard dat ‘n mens
sou
verwag dat die eiser se bewegings vasgelê sou gewees het, dit
is indien hy sy werkplek verlaat het en weer teruggekeer
het. Ook die
eiser se selfoonrekord het sy weergawe, dat hy die middag by Ou
Mutual was, gesteun. Volgens die staat se eie weergawe
was die eiser
om 15h29, toe hy sy selfoon gebruik het, en weer om 17h14, toe hy sy
rekenaar aangeskakel het, by sy werkplek. In
die tussentyd het sy
selfoon ook boodskappe ontvang terwyl dit in Ou Mutual omgewing was.
Die tyd om vanaf sy werkplek na Stellenbosch
te gaan, die moord te
pleeg, van klere te verwissel, en weer na sy werkplek terug te keer
was eenvoudig nie genoeg nie. Die staat
het op geen stadium enige
getuienis, behalwe dié van mnr Bartholomew, gehad om die eiser
se alibi te weerlê nie. Om
te sê dat sy alibi nie
waterdig was nie, baat eenvoudig nie. Die staat het die bewyslas
gedra om sy alibi te weerlê
en daarvoor was mnr Bartholomew
se getuienis onontbeerlik. Sonder sy getuienis kon die DOV nie die
eiser se alibi weerlê
nie.
[35] Na my mening was daar, indien mnr
Bartholomew se opinie buite rekening gelaat word, op die stadium toe
daar besluit is om met
die vervolging voort te gaan, nie ‘n
prima facie
saak teen die eiser nie. Die waarskynlikheid is
oorweldigend dat ‘n redelike lid of lede van die DOV, in die
afwesigheid
van mnr Bartholomew se opinie, nie met die vervolging sou
voortgegaan het nie.
GEVOLGTREKKING
:
[36] Ek het tot die gevolgtrekking
gekom dat die eiser daarin geslaag het om hom van sy bewyslas te kwyt
en dat die verweerder verantwoordelik
is vir sodanige skade as wat
die eiser mag bewys voortgevloei het uit sy vervolging. Die
verweerder word gelas om die eiser se
koste, insluitend die koste van
twee advokate, te betaal. Ook sal die voorbereidingsfooie van die
getuies, prof. Gert Saayman
, mnr Arie Jacob
Zeelenberg en mnr William John Bodziak op taksasie toegelaat word.
____________________________
A.H. VELDHUIZEN
REGTER VAN DIE
HOOGGEREGSHOF