G.L v W.G.L (20811/08) [2011] ZAWCHC 228 (17 May 2011)

60 Reportability

Brief Summary

Divorce — Maintenance — Claim for maintenance by wife following separation — Wife seeking R31,000 per month — Husband contesting maintenance obligations — Court considering financial circumstances of both parties and the welfare of children — Husband previously ordered to pay R20,000 per month but failed to comply — Court finding that husband’s refusal to accept the reality of the divorce and his emotional issues do not absolve him of maintenance responsibilities — Maintenance claim granted, with the court emphasizing the need for financial support for the children and the wife’s well-being.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2011
>>
[2011] ZAWCHC 228
|

|

G.L v W.G.L (20811/08) [2011] ZAWCHC 228 (17 May 2011)

SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been redacted
from this document in compliance with the law and
SAFLII
Policy
.
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
(WESKAAPSE
HOË HOF, KAAPSTAD)
Saaknr.
20811/08
In
die saak van:
GL
............................................................................................................
Eiseres
en
WGL
.......................................................................................................
Verweerder
Uitspraak
gelewer op Dinsdag, 17 Mei 2011
UITSPRAAK
S
Olivier, WnR
1.
Hierdie is ˊn bestrede egskeidingsaksie waar die partye in ˊn
bittere emosionele stryd gewikkel was en waaraan hulle
uiting gegee
het in die beregtiging van die enigste wesentlike dispuut wat tussen
hulle oorgebly het – dié van onderhoud.
2.
GL, die eiseres, het die moeilike taak gehad om onverteenwoordigd te
verskyn nadat sy onsuksesvol gepoog het om regshulp te
bekom GL se
totale onderhouds-eis nagenoeg R31 000,00 per maand beloop
3.
Mnr de la Rey, wat namens WGL verskyn, het die aanbied van WGL se
saak, en in besonder in sy kruisverhoor van GL, heel tereg beperk,

met verwysing na die geskille soos vervat in die pleitstukke, tot die
finansiële aspekte van die geskil tussen die partye,
asook die
bewoording van ˊn enkele klousule van die ouerplan
[1]
wat origens tussen die partye ooreengekom was.
4.
GL is huidiglik 45-jaar oud. Sy het ˊn BA Ed-graad met ˊn
honneursgraad in Afrikaans. Sy is ˊn kunstenares wat
skilderkuns
en fotografie beoefen. Sy het al ˊn digbundel gepubliseer en
tree ook op as ˊn werwingsagent vir die Registrateur
vir
Handelsmerke. Sy ly aan fibromyalgia wat chroniese moegheid en
spierpyn meebring, veral wanneer sy blootgestel word aan spanning.
Sy
is eers in 1997 gediagnoseer, maar sy het reeds die simptome van die
siekte sedert 1989 getoon. Dr Anne Halland het steroied-vervangings

hormone aan haar voorgeskryf. Sy het in 1997 vrugbaarheidsbehandeling
ondergaan en WGL teenoor haar gebieg het dat hy ten tye met

prostitute omgegaan het.
5.
Die verweerder is ˊn mediese dokter wat by die Netcare B[…]
Hospitaal te M[…] [werksaam is]. Hy is ook ˊn
skrywer.
WGL het aan die Universiteit van Pretoria voorgraads gestudeer en het
in 1998 gespesialiseer as
ˊ
n
oor-, neus- en keelspesialis aan die Universiteit van Stellenbosch.
6.
Die partye is op 16 Desember 1989 te Warmbad buite gemeenskap van
goedere met toepassing van die aanwasbedeling, ooreenkomstig
die
bepalinge van ˊn huweliksvoorwaarde-kontrak, met mekaar getroud.
7.
Daar is vier kinders gebore uit die huwelik, te wete AL1, gebore op
6 Augustus 1991, meerderjarig, PL, gebore op 23 Desember
1992, ook
meerderjarig; KL, gebore op 31 Julie 2000 (10-jaar oud), en AL2,
gebore op 25 Junie 2003, tans 7-jaar oud.
8.
Sedert 1996 het GL die kinders getuis-skool omdat hulle Midde-Ooste
toe wou gaan. Tuis-skoling het baie groot besparings meegebring.

Hulle was in Abu Dhabi vir ˊn periode van drie jaar woonagtig.
9.
AL1 het so pas sy tweejaar-kursus voltooi en doen huidiglik ˊn
internskap vir een jaar by ˊn filmmaatskappy. PL het
begin met
ˊn drie-jaar studiekursus. Hulle is beide nog finansieel
afhanklik van hul ouers.
10.
Die huwelik tussen die partye het onherstelbaar verbrokkel. Dit was
eers in November 2009, 17 jaar en 11 maande na hul troue,
dat GL tot
die slotsom gekom het dat hulle moes skei en het sy WGL aldus
ingelig. Sy het die verbrokkeling toegedig aan foute wat
aan beide
kante gemaak is. WGL voer aan dat die rede vir die verbrokkeliing sy
wederhelf se owerspelige optrede was, terwyl sy
op haar beurt aanvoer
dat hy homself emosioneel onttrek uit die gesinslewe en
gesins-aktiwiteite.
11.
WGL is onwillig om te skei. Hy het haar eise met mening teengestaan
– op ˊn webwerfblad “Victims of Divorce”
het
hy aangevoer dat “we are against a system of no fault divorces”
en verder “
if
you are a perp, we will see you in court.
You do not deserve the oxygen you breathe”
.
12.
WGL glo onwrikbaar dat skuldlose egskeiding verkeerd is. Hy het
getuig dat hy hom berus by die beginsel van skuldlose egskeiding
(en
dat dit nie verander gaan word nie), alhoewel hy daarteen gekant is.
Alhoewel ek nie nodig het om die beginsel aan te spreek
nie, moet ek
vermeld dat skuld in die onderhawige geval alles behalwe voor die
hand liggend is. Waar begin die skuld as die man
lank gelede reeds
besoeke by prostitute afgelê het?
13.
WGL het getuig dat die huwelik op die rotse beland het toe hy
e-posse van haar op ˊn rekenaar by sy praktyk gevind het
waaruit
dit geblyk het dat sy in “ˊn Internetseksverhouding”
gewikkel was. WGL het getuig dat hy ongelooflik getraumatiseer
was
deur sy vrou se owerspelige optrede en dat hy aan ˊn
post-traumatiese stress sindroom ly as gevolg daarvan en op die punt

was om selfmoord te pleeg. Sy hele lewe het in ˊn enkele oomblik
in duie gestort. Vir hom is dit ˊn emosionele nagmerrie.
Hy is
van berading bedien deur mev Jean Verster. Hy het geweier om te
aanvaar dat die huwelik ten einde was en glo nog steeds dat
die
huwelik gered kan word. Hy het in die getuiebank steeds sy liefde
teenoor GL betoon. WGL ontken dat hy GL emosioneel geteister
het of
dat hy nie die onderhoudshofbevel nagekom het nie. Hoe kan dit
teistering wees as dit die waarheid is? het hy gevra. Hy
wou nie
antwoord op die vraag dat hy nie die realiteit van die egskeiding in
die gesig kan staar nie. Hy het aangevoer dat dit
sy wederhelf was
wat verantwoordelikheid moes aanvaar. Sy het ˊn hartverskeurende
lewensbesluit geneem wat bestraf moes word.
WGL het erken dat hy deel
het aan die probleme maar dra geen verantwoordelikheid vir haar
beweerde owerspel nie. Hy het ook toegegee
dat hy geld van haar
weerhou het uit weerwraak.
14.
GL, op haar beurt, het getuig dat sy beswadder word deur WGL, wat
haar daarvan beskuldig dat sy owerspelig is en ˊn
kinderverkragter
is. Hy sou ook besonderhede van hul intieme sekslewe
aan almal bekend gemaak het. Hy het [haar] voor die kerkgemeenskap in
Melkbosstrand
gekonfronteer met haar beweerde owerspel. Dit het hy
gedoen tot die mate dat die jongste dogter haar ore toegedruk het. Hy
het
ook nie ontken dat hy die apteker sou uitgetrap het, lank nadat
die partye reeds uiteen was, oor die voorbehoedmiddel wat sy sou

aangevra het. Hy het dit as ˊn ongelooflike emosionele
vernedering ervaar dat sy en die kinders saam met ˊn mansvriend

van haar saam sou weggaan. Hy het getuig dat hy die apteker “bedaard”
meegedeel het dat sy owerspel pleeg.
15.
Alhoewel hy haar nie meer sou beskuldig as ˊn kinderverkragter
nie, doen dit nie afbreek aan die waarheid nie, so het
hy aangevoer.
Die waarheid, so het dit geblyk, was dat GL as ˊn kind
gemolesteer was. WGL voer aan dat sulke slagoffers dikwels
hulleself
aan soortgelyke optrede skuldig maak in hul latere lewe, en derhalwe,
as ek dit reg verstaan, noem hy haar by voorbaat
ˊn
kinderverkragter. Hierdie benadering van WGL doen niks minder as om
die slagoffer weereens bloot te stel aan die vorige
molestasie en dan
boonop die skuld daarvoor aan haar toe te dig nie. Ek vind dit ˊn
weersinnige en afkeurenswaardige benadering
waarteen ek my nie sterk
genoeg kan uitspreek nie. Ek vertrou dat WGL homself nooit weer in
die toekoms daaraan sal skuldig maak
om so ˊn bewering ten
aansien van GL te maak nie.
16.
GL het reeds in April 2008 ˊn egskeidingsaksie aanhangig gemaak
in die Suidelike Egskeidingshof. Dit is by ooreenkoms
teruggetrek en
is daar opnuut dagvaarding in hierdie Hof uitgereik.
17.
Daar was ook ˊn onsuksesvolle mediasie voor mev Rosa
Bredenkamp.
18.
GL het in Oktober 2008 ˊn gesinsgeweldinterdik bekom, wat
hangende is voor die landdroshof in Atlantis. WGL het aangevoer
dat
die beweringe van gesinsgeweld wat gemaak was in die interdikaansoek
vals was. GL het aangevoer dat die toedrag van sake so
plofbaar was,
dat sy daartoe genoop was om ˊn aansoek te bring. Hy sou haar
meegedeel het dat indien hy gearresteer sou word,
hy sou sorg dat hy
geen inkomste het nie. WGL het geantwoord dat dit ˊn gruwelike
verdraaiing was, en dat hy haar bloot daarop
gewys het wat die
gevolge sou wees indien hy gearresteer sou word.
19.
Op 16 Februarie 2009 het hierdie Hof ˊn bevel ingevolge reël
43 verleen ingevolge waarvan WGL R18 640,00 onherhoud
en R8 500 vir
verblyf per maand aan GL moes betaal. Hy moes ook ˊn bydrae tot
haar regskoste in die bedrag van R20 000 maak.
WGL het tydens die
verrigtinge self toegestem om R20 000 per maand onderhoud te betaal
(bo en behalwe die mediese en opvoedkundige
uitgawes van die GL en
die kinders)
[2]
. Hy het erken
dat hy geweier het om die bedrag van R20 000, soos gelas in die
bevel, te betaal.
20.
WGL het getuig dat sy grootste vrees was dat hy die kinders sou
verloor. In sy poging om die huwelik te red het hy probeer
om aan die
finansiële aansprake van sy vrou te voldoen. Hy het getuig dat
hy R20 000 in die reël 43-aansoek aangebied
het omdat hy niks
wou doen wat GL kwaad sou maak nie. Hy het geen idee gehad wat
werklik in sy finansies aan die gang was nie.
Hy het nie die reël
43-verrigtinge bygewoon nie en het onmiddellik besef dat hy nie sou
kon voldoen aan die bevel ingevolge
waarvan hy gelas is om R27 000
per maand onderhoud te betaal nie. Hy het vir 7 maande aan die bevel
voldoen en toe agtergeraak.
Alhoewel hy dit nie kon bekostig nie, het
hy haar R20 000 en soms meer per maand betaal. Hy het ter nouer nood
self ˊn “hersieningsaansoek”
gebring op 1 November
2009
[3]
. Dit het op niks
uitgeloop nie. Die besluit om eensydiglik R15 000 per maand onderhoud
te betaal was in oorleg met sy rekenmeester,
mnr Pienaar le Roux,
geneem. GL het toegegee dat WGL nooit minder as R15 000 per maand
onderhoud betaal het, alhoewel dit nie altyd
betyds betaal is nie.
21.
Die partye het, behoudens vir ˊn enkele bepaling, op die inhoud
van ˊn ouerplan ooreengekom. Ten einde die verhouding
met hul
kinders te beredder het GL ook aangedring op ˊn klousule wat
neerlê hoe daar teenoor die kinders opgetree moet
word.
[4]
Die klousule (1.2.7.4) is op aandrang van GL ingevoeg om voorsiening
te maak vir daardie geval waar WGL nie die kinders by hom
kan neem
wanneer hy andersins daartoe geregtig sou wees nie. Die gedeelte
onderstreep is op aandrang van WGL ingevoeg. Die klousule
lui as
volg-

Should
Party B not be able to take leave during the children's school
holidays and the children therefore remain with Party A for
the
entire school holiday, Party B shall be entitled to contact with the
children as per the normal contact arrangements as set
forth in
paragraphs 1.2.6.1 and 1.2.6.2 during only his one half of the school
holiday. Should Party A and the children spend their
one half of the
school holiday at Party A's residence, Party B agrees that he is not
entitled to exercise his normal contact arrangements
during Party A's
one half of the school holiday.

Should
Party B not be able to take leave during the children's school
holidays the children shall reside with Party B from 18h00
on
weeknights until before work the next morning, during Party B holiday
period. Should Party A not be able to look after the children
during
daytime in these circumstances, then the parties shall appoint a
caregiver and share the costs thereof equally.”
22.
GL het aan die hand gedoen dat die klousule moes bly, maar sonder
die invoeging van WGL. Sy vind dit belaglik dat sy moet betaal
vir
(of bydra tot die koste van) ˊn au pair indien sy ook nie by
magte sou wees om na die kinders om te sien nie. Sy vermoed
dat haar
man, om haar te kortwiek om byvoorbeeld kunstefeeste by te woon, nie
verlof sal neem nie en haar dan dwing om na die kinders
om te sien.
Sy het egter toegegee dat daar nie vir alle moontlike gebeurtenisse
voorsiening gemaak kan word nie, en dat beide redelik
sal moet optree
in die beste belang van hul kinders.
23.
WGL het getuig dat hy sou berus by die bevinding wat die hof sou
maak. Hy was tevrede dat die ouerplan in enige hofbevel vervat
word.
24.
Ek is derhalwe daartoe geneë om die ouerplan goed te keur,
insluitend klousule 1.2.7.4, maar met weglating van die gedeelte
wat
onderstreep is.
25.
Sedert Februarie 2008 het Louw dit baie moeilik gevind om ˊn
inkomste te verdien – die spanning van die egskeiding
het die
fibromyalgia vererger. As gevolg van die fibromyalgia kon sy nie
voltyds werk nie. Sy kon nie meer die tuisskoling volhou
nie en sy
was bevrees dat WGL haar fisies leed sou aandoen indien sy die
kinders, en in besonder die jongste, KL, in nasorg sou
plaas. Die
skool kom 1 uur smiddae uit en KL neem deel aan dans en ballet en
doen ook klavier en koor. Sy sou haar werk so inrig
dat sy smiddae na
die kinders kan omsien. Sy wys daarop dat die kinders haar werklik
nodig het by die huis.
26.
Die gesin was woonagtig in ˊn vyf-slaapkamer woning met drie
leefareas. GL het aanvanklik voorgestel dat sy en die kinders
in die
woonhuis aanbly, totdat dit verkoop word om die laste te verminder,
maar WGL wou dit nie aanvaar nie – hy het haar
meegedeel dat hy
“bid daaroor, maar is nie so gelei nie”
.
27.
GL het ˊn duplex in Melkbos[strand] vir R4 700 per maand gevind
en sy en die kinders bly daar – die vier kinders
deel twee
kamers. Die huurkontrak is vir ˊn periode van een jaar, maar sy
voorsien dat dit hernu sal kan word. Die huur sluit
water in. Die
twee seuns het verkies, ten spyte van ˊn uitnodiging van WGL, om
by haar aan huis te bly. Sy het waar moontlik
uitgawes gesnoei.
28.
Sy het ˊn lening
[5]
van
R30 000 ontvang aan die begin van Januarie 2010. Die het sy vereffen
en stuksgewys weer geleen. Teen Desember 2010 het die
lening R25 000
beloop (sy wou nie openbaar wie die lening aan haar gemaak het nie).
Sy was verder R12 910 aan mnr H Lochner verskuldig
en R22 822 aan
mnre Smit Kruger Ing.
[6]
Haar
ouers het haar bygestaan om die kostes van haar trek te delg.
29.
Sy het nie ondervinding om ˊn ander beroep te vind op haar
ouderdom nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat sy ˊn betrekking
as
ˊn onderwyseres sal bekom. Sy sal graag met die handelsmerk werk
wil voortgaan asook om haar skliderkuns te bemark. Geeneen
bied egter
enige vaste inkomste. Haar oogmerk is om kreatiewe werkswinkels aan
te bied in skilder, fotografie en skryf. Die dupleks
het net een
leefvertrek, derhalwe is daar [nie] plek vir ˊn ateljee om haar
skilderkuns en fotografie te beoefen nie en kan
sy ook nie kursusse
aanbied vir voornemende kunstenaars of fotograwe nie.
30.
Sy skat haar inkomste op R2 000 per maand.
[7]
Gedurende die tydperk April tot Desember 2010 het sy nagenoeg R2 760
per maand verdien. Sy het byvoorbeeld ˊn skildery vir
R6 900
verkoop en bedrae uit haar handelsmerk werk verdien.
[8]
Die berekening van haar uitgawes is gebaseer op historiese uitgawes.
31.
WGL, op sy beurt, voer aan dat GL weier om te werk. Hy het aangevoer
dat sy goed gekwalifiseer is en daarop gewys dat sy [as]
ontvangsdame
R7 000 per maand verdien. Hy ontken nie dat sy fibromyalgia het nie,
maar voer aan dat daar geen kliniese getuienis
is oor hoe dit haar
werkvermoeë inkort nie. Sy het geweier om ˊn effektiewe
middel, Lyrica, wat by sommige pasiente nadelige
newe-effekte
veroorsaak te neem, sodat ˊn mens nie weet of sy ook gebuk sou
gaan aan die newe-effekte.
32.
Hy het GL daarvan beskuldig dat sy sou gesê het dat sy net
haar ogies flikker dan gee WGL vir haar nog geld. Hy het haar
daarvan
beskuldig dat sy R7 000 op ˊn rekenaar spandeer het sodat sy
mansvriende op die Internet kon ontmoet, terwyl dit geld
is wat vir
die gesin aangewend moes word. Hy het haar verwyt dat sy haar hele
klerekas vervang het, nog voor die bom gebars het,
en, ondermeer, dat
sy tien pare skoene gekoop het. GL het aangevoer dat sy R900 se
oorskot fabriekskoene aangekoop het. Hy het
toegegee dat sy 12
kilogram gewig verloor het, maar volhard dat sy slegs “designer
labels” aangeskaf het.
33.
Dit is na my mening duidelik dat GL nie in die afsienbare toekoms
baie meer sal verdien as wat huidiglik die geval is nie.
34.
Haar eis om onderhoud is in alle opsigte redelik and kan daar met
moeite aangevoer word dat daar nie aan voldoen moet word
nie. Die
teenstand teen haar aansprake, soos hieronder uiteengesit sal word,
was dat WGL dit dood eenvoudig nie kan bekostig nie.
35.
GL se eis om onderhoud sluit in ook onderhoud ten aansien van die
twee meerderjarige seuns wat nog by haar woonagtig is. WGL
verwag,
omdat die twee seuns reeds hul skoolopleiding voltooi het, en omdat
hulle meerderjarig is, om direkte onderhoudsbetalings
aan hulle te
maak. Hy maak self ook voorsiening vir betaling van onderhoud ten
aansien van die minderjarige kinders, as ˊn
afsonderlike
berekening, en kom dit derhalwe nie daarop aan, vir
berekeningsdoeleindes, of GL regtens op ˊn bevel vir onderhoud

ten opsigte van die meerderjarige seuns geregtig sou wees nie.
36.
Behoudens om te vermeld dat daar wesenlike probleme bestaan in die
verhouding wat WGL met sy kinders het, en dat hy van tyd
tot tyd
hulle ˊn speelbal gemaak het in die egskeidingstwis, is dit nie
gewens of in belang van die kinders om verder daarop
uit te brei nie.
Die getuienis voor my was reeds dat WGL somtyds moedswillig opgetree
het teenoor die kinders en wil ek ˊn
herhaling van sodanige
optrede voorkom.
37.
AL1 verdien nog nie sy eie inkomste nie – waar hy nog besig is
met indiensopleiding. PL is egter nog steeds aan die studeer
en is hy
derhalwe ook nog onderhoudsbehoeftig. Na my mening sal dit in die
beste belang van al die partye, insluitend die kinders,
wees, indien
alle onderhoudsbetalings direk aan GL gemaak word.
38.
WGL bedryf ˊn praktyk te Netcare B[…]. Dit is in die
vinnig groeiendste deel van K[…]. Hy doen ook as deel
van
daardie praktyk konsultasiewerk te A[…] op Vrydae. Hy bedryf
die praktyk op sy eie en word bygestaan deur ˊn ontvangsdame
en
ˊn boekhouer, vreemd genoeg, van Bloemfontein. Dit is skynbaar
nie ˊn florerende praktyk nie.
39.
Tydens die huwelik het hy nooit behoorlik aggeslaan op finansies
nie. WGL het getuig dat, in retrospek, hulle reeds in 2005-6,
toe hy
nog ˊn praktyk in P[…] gehad het, bo hulle inkomste
geleef het. Alhoewel hulle nie spandabelrig was nie, het
hy niks
oorgehou na verrekening van die praktyk se uitgawes nie. Die uitgawes
het hy uit sy oortrokke rekening, verdere verband
finansiering en die
terughou van belasting gefinansier. Dit was nie volhoudbaar nie.
40.
In 2006 het hy begin met sy nuwe praktyk en die verwagting gekoester
van groot groei. Die B[…] hospitaal het egter nie
gegroei soos
verwag was nie. Hy woon nie bestuursvergaderings nie en kon hy
gevolglik nie kommentaar lewer op die groei in pasiënte
en
bedbesetting nie. Nog steeds kon hy die lewensstyl nie finansier nie.
41.
Die praktyk het gegroei en toe gestagneer en sy 2009 inkomste was
laer as in 2008. WGL het besluit op ˊn nuwe fooistruktuur
wat
geblyk het ˊn fout te wees. Sy inkomste het onmiddellik gedaal.
Hy het in Oktober 2010 teruggekeer na die ou struktuur
en dit gaan
nou beter.
42.
GL het aangevoer dat WGL ˊn hoë verdienste-potensiaal het
en dat hy baie beter kan doen uit sy praktyk. Die egskeiding
het
ooglopend ˊn negatiewe invloed op sy verdienvermoë. Sy voer
nie aan dat hy doelbewus minder verdien nie, eerder dat
hy nie ˊn
emosionele oplossing vir die verbrokkeling van die huwelik wil vind
nie, en haar probeer bestraf. Sy het aan die
hand gedoen dat WGL ˊn
skuldberader moes gaan sien en dat hy sy eie praktyk saboteer deurdat
hy homself bemoei met haar en
haar e-posse deurgaan. Hy kan beter
doen in sy praktyk indien hy daarop konsentreer.
43.
GL het aangevoer dat sy en die kinders nie vir WGL se swak bestuur
bestraf moet word nie. Sy het aangebied om hom te help om
R350 000
agterstallige skulde van sy praktyk in te vorder.
44.
Verdermeer doen hy locum-werk vir ˊn dr De Haan, wat huidiglik
in Australië is. Dr de Haan is aangestel as die senior

ENT-spesialis te Alice Springs Hospitaal. Alhoewel WGL aanvanklik
aangevoer [het] dat dit slegs ˊn deeltydse pos is, het hy

toegegee, toe hy met dokumentasie gekonfronteer is, dat die
aansteiling na ˊn redelike vaste aanstelling lyk. Dr de Haan sal

ooglopend vir die afsienbare toekoms in Australië wees. Die
waarskynlikhede moet dan wees dat WGL in die toekoms steeds fooie
uit
die locum-praktyk sal verdien.
45.
Die inkomste wat hy uit die
locum
-werk
verdien beloop R18 545 per maand.
[9]
Hierdie syfer is slegs ˊn kontantvloeisyfer. Die omsetsyfer is
heelwat hoër. Die omset van die locum
-
praktyk
het R241 715 beloop, waarvan R154 545 reeds ontvang was, dit wil sê,
die omset is bykans 1.5 keer die kontantvloei.
Die maandelikse
inkomste uit die locum
-
praktyk
beloop derhalwe nagenoeg R27 750 (R18 500 maal 1.5).
46.
Hy lewer konsultasiedienste aan te die T[…] Hospitaal aan die
Weskaapse Gesondheids Departement teen R11 000 per maand.
47.
Laastens verdien hy ook tantième uit sy Afrikaanse boek “Mr
Humperdink’s wonderful whatsit” wat vir
skole voorgeskryf
is. Die tantième beloop 10% van die rakprys van die boeke wat
op grootmaat aan spesifieke skole gelewer
word. ˊn Verdere boek
is op pad. Hy het getuig dat die inkomste nie meer as R1 000,00 per
maand beloop nie.
48.
Die verweerder verdien ook inkomste uit twee meenthuise waarvan die
inkomste R3 000,00 per maand per meenthuis is. Die meenthuis
V[…]
C[…] (Table View – aangekoop vir R275 000) se waarde is
R470 000, terwyl die verband R475 000 beloop.
Gedurende Januarie 2008
het die verweerder ook ˊn meenthuis te V[…] F[…]
(Parklands) aangekoop vir R510 000,00
kort voor die eiendomsmark in
duie gestort het. Dié se waarde is R461 000 en is daar ˊn
verband van R560 000,00 daaroor
geregistreer.
49.
Die waardasies is van Remax bekom. Die meenthuise is identies en
meen hy die waardasies is in die kol. Ten aansien van die
meenthuis
wat leeg gestaan het, het hy verduidelik dat hy ernstige probleme met
huurders gehad het en dat die regsproses tyd geneem
het. Hulle het
huidiglik huurders vir beide die Table View (R4 000) en Parklands (R3
800) meenthuise, terwyl die verbandbetalings
R8 800 per maand beloop.
Die munsipale waardasie van V[…] C[…] beloop R770 000,
en is in geskil geplaas met die munisipaliteit.
V[…] F[…]
se munisipale waardasie van R403 000 is na bewering ook verkeerd. GL
het ook beswaar aangeteken teen die
eiendomswaardasies waarop haar
man gesteun het; dit verskil nie veel van die munispale waardasies
nie. Sy ontken dat daar nie ekwiteit
in die woonstelle is nie. Die
waardasies waarop haar man steun kan nie korrek wees nie.
50.
Ten aansien van huisvesting het hy getuig dat hy ˊn klein
twee-slaapkamer woning gevind het vir R6 000, maar kon hy ongelukkig

nie ˊn kontrak sluit nie. Hy het eerder ˊn vier-slaapkamer
huis vir R8 250 per maand gehuur sodat daar ook blyplek vir
die twee
seuns sou wees. Hulle het egter verkies om by hul moeder tuis te
gaan, omdat hulle hom blameer vir die verbrokkeling van
die huwelik.
Hy voer aan, sonder om redes te verskaf, dat dit “moeilik is om
te regverdig om die huis te verander”.
Omdat hy reeds ˊn
huurder gehad het, het hy gevoel dat die huur nie buitensporig was
nie. Hy aanvaar dat die kinders meestal
by haar is en dat sy hulle
rondry. Die een loseerder het regskennis en het dienste van R20 000
gelewer het, wat teen sy huur van
R2 000 per maand verreken word –
dit sal slegs nog 4 maande duur voordat hy sal moet begin om huur te
betaal. Die ander loseerder
is ˊn motorwerktuigkundige wat ook
aan sy voertuig werk en hom van tyd tot tyd voorsien van ˊn
leenvoertuig wanneer sy
voertuig aan gewerk word. Dit het meegebring
dat, vir twee maande, [daar] geen huur inkomste was nie.
51.
Die duur woning, wat veel meer kamers het as wat WGL benodig, is na
my mening oorbodig. Die gedagte om huur van loseerders
te vorder het
ooglopend misluk. Daar is derhalwe geen regverdiging vir WGL om voort
te gaan om R8 250 per maand aan huur te spandeer
nie. Hy sal ˊn
ander en goedkoper plan moet maak.
52.
WGL het ˊn ernstige kontantvloei tekort in die middel van 2008
ondervind. Hy het ˊn persoonlike lening van R150 000
van sy
moeder ontvang. R50 000 is aangewend vir die studies van AL1 en R100
000 om sy oortrokke rekening onder beheer te bring.
Hy ontken dat hy
ooit sou gese het dat die lening nie terugbetaalbaar was nie. Hy het
egter ˊn verdere R45 000 by sy moeder
geleen. Nog ˊn
verdere R40 000 is by haar geleen vir die regskoste in die
onderhawige geding. Die totale bedrag geleen beloop
R235 000 (Hy maak
voorsiening vir terugbetaling aan sy moeder in die bedrag van R3 608
per maand).
[10]
GL het
aangevoer dat die lening van sy moeder was nie ˊn ware lening
nie, maar deel van sy erfporsie. WGL het getuig dat dit
lenings was
en nie geld wat hom sou toekom as ˊn erfporsie nie.
53.
Ten aansien van AL1 se lening het hy getuig dat sy moeder R45 000
aan AL1 geleen het, maar voer WGL aan dat daar ˊn verdere

ooreenkoms tussen hom en sy moeder is dat WGL die lening sou
terugbetaal. Dit is nieteenstaande sy getuienis dat die lening sou

dien om AL1 verantwoordelikheid vir sy eie finansiële sake aan
te leer. Dit lyk my dat ˊn terugbetaling deur WGL hierdie

oogmerk van die lening sal ondergrawe. Hy sal sy moeder vra of sy AL1
se studies vir ˊn verdere jaar sal betaal. Daar kan
tog, op sy
eie getuienis, geen verpligting op WGL rus om die lening gemaak aan
AL1 aan sy moeder terug te betaal nie.
54.
Die bedrag van agterstallige onderhoud beloop R83 767,68. GL het
getuig dat sy haar teen ˊn muur vasgeloop geloop het.
In
November 2010 is sy van bakboord na stuurboord gestuur in die
onderhoudshof te Atlantis. Intussen het sy ook ˊn kriminele
klag
vir die agterstallige onderhoud aanhangig gemaak in die Atlantis
landdroshof. Sy het ook gevra om dat hy gearresteer word.
Mnr Lotz,
die aanklaer, het skynbaar besluit (na oorleg met GL se destydse
prokureur) om nie te vervolg nie en is die saak omskep
in ˊn
ondersoek na sy vermoeë om die agterstallige onderhoud te
betaal. WGL is geadviseer om die Hooggeregshof te nader
indien hy die
onderhoud sou wou verlaag. Hierdie ondersoek is nog hangende.
55.
Hy het toegegee dat hy vanaf 2009 nie voldoen het aan die
onderhoudsbevel nie, en dat self waar hy betalings gemaak het, dit

dikwels laat was. Hy het verduidelik dat die Ontvanger ˊn agent
aangestel het wat beslag gelê het op die opbrengs van
die
verkoop van die gemeenskaplike woning en dat dit drie maande geduur
het om die probleem op te los. Sy wys daarop dat WGL R35
000 ten
aansien van PL se studies kon betaal terwyl die agterstallige
onderhoud R80 000 beloop het. Haar onderhoud was so ver agterstallig

dat sy lenings moes aangaan. WGL was heeltemal bereid om die lening
van R12 000 wat mnr Lochner gemaak het terstond terug te betaal.
56.
Hy wou nie toegee dat daar ˊn verptigting op hom gerus het om
die agterstallige onderhoud te betaal nie, dit laat hy in
die hande
van die Hof. Hy voer aan dat hy nie bloot die bevel verontagsaam het
nie. Hy sou nie ˊn onderhoudsbevel minag nie,
maar as daar nie
geld is nie, sal hy bloot nie kan betaal nie.
57.
WGL het sy versuim om sy verpligtinge teenoor die Ontvanger na te
kom. Die misverstand wat bestaan het tussen hom en die Ontvanger
is
uit die weg geruim. Alhoewel die Ontvanger op 16 November 2010
ingevolge artikel 91(1) van die Inkomstebelastingwet, 58 van
1962,
vonnis teen WGL geneem het in die bedrag van R383 267.45
[11]
,
is hy gewikkel in onderhandelinge om die agterstallige belasting te
vereffen. Die Ontvanger neem direk besit van sy persoonlike
inkomste.
Omdat hy sy praktyk geïnkorporeer het op 7 September 2010 kan
die Ontvanger nie verder beslag lê op inkomste
van die praktyk
nie. Hy was steeds nie by magte om sy voorlopige belasting betalings
te maak nie. Sy het haar daaroor bekla dat
hy nie teenoor haar
verduidelik het wat die posisie was nie. Sy het nie insae in sy
belasting verpligtinge gehad nie. Sy het aangevoer
dat dit nie haar
skuld was dat die belastings agterstallig was nie. Hy het aanvaar dat
die ontvanger se eise voorkeur geniet bo
dié van die
onderhoudsbevel.
58.
Absa het reeds sy fasiliteite opgeroep. Hy is deur Absa op ˊn
swartlys geplaas en kan derhalwe geen finansiering bekom
nie. Sy
ooreenkoms met Absa is dat hy voortaan sy skuld soos ooreengekom moet
terugbetaal. Die uitstaande bedrag van R186 243.75
[12]
verskuldig aan Absa moet terugbetaal word aangesien dit ˊn
krimpende fasiliteit [is]. Die verbandspaaiemente word ook vanuit

hierdie rekening gedelg.
[13]
Behoudens vir die betaling van die verbandspaaiemente is sy rekeninge
by Absa andersins dormant. Sy kredietkaart by Absa is gevries
en moet
hy R3 000 per maand op die verskuldigde bedrag van R75 000 betaal.
Absa het aangedring op R5 000 per maand.Die FNB-rekening
toon ˊn
batige saldo.
[14]
Hy betaal sy
persoonlike uitgawes uit die FNB-rekening van die praktyk in die naam
van die maatskappy.
59.
Hy het self ˊn begroting opgestel. Daarin word voorsiening
gemaak vir R4 000 vir ˊn voertuig. Hy het aangevoer dat
sy
bestaande motor reeds 350 000 km afgelê het; dat hy nie sonder
ˊn motor kan klaar kom nie en dat ˊn motor ˊn
invloed
op sy praktyk het. Hy spandeer R500 per week aan brandstof. WGL het
getuig dat dit onvanpas is vir ˊn mediese spesialis
om in ˊn
1995 model voertuig rond te ry wat reeds meer as 350 000 km afgelê
het. Hy het toegegee dat hy nooit ˊn
luukse motor gehad het nie,
en daarop gewys dat hy, omdat hy op ˊn swartlys is, ook nie nou
een sal kan aanskaf nie. Ek laat
derhalwe die voorsiening in die
begroting buite rekening.
60.
Dit is uit voorgaande duidelik dat beide partye hulself in ˊn
finansiële verknorsing bevind. Dit is onder die omstandighede

onaanvaarbaar dat WGL probeer om sy huidige woning – met die
huur daaraan verbonde – te regverdig.
61.
Die indruk wat die getuienis van WGL op my gemaak het is dat hy
onwillig is om sy egskeiding te aanvaar, dat hy die skuld daarvoor
op
die skouers van GL plaas, en dat hy bereid is om haar en die kinders
te laat kort skiet om haar te straf. Die finansiële
inligting is
karig en slaan nie ag op sy inkomste nie, maar op kontantvloei. Daar
is afwykings tussen kontant-ontvangstes en -uitgawe.
Geen
ooglopende stappe word gedoen om nagenoeg R350 000 se debiteure in te
vorder nie. Hy het eensydiglik besluit, nie net om nie
die
tussentydse onderhoudsbevel na te kom nie, maar ook om terselfertyd
nie sy eie onderneming om R20 000 per maand te betaal,
ook na te kom
nie. Dit is eweneens onaanvaarbaar.
62.
Sy gemiddelde maandelikse praktyksinkomste beloop R106 000. Dit is
egter ook ˊn kontanvloeisyfer. Rekeningkundig moet
WGL se
inkomste bereken word met verwysing na sy omset (en nie
kontant-ontvangstes nie). Die syfers moet eweneens aangepas word.
Die
omset van die Blaauwberg praktyk het R902 747 beloop, waarvan R813
006 reeds ontvang was. Sy omset beloop derhalwe nagenoeg
R120 000 per
maand.
63.
GL het daarop gewys dat R106 000 se ontvangste nie uit die bankstate
blyk nie. WGL het verduidelik dat alle geld van die praktyk
gaan deur
die boeke van die praktyk, maar nie noodwendig deur die bank nie –
vele uitgawes word direk in kontant vereffen.
Dit onderstreep des te
meer waarom dit nie van pas is om bloot op die kontantvloei
berekeninge staat te maak nie, en boesem dit
ook geen vertroue ten
aansien van die betroubaarheid van die syfers nie. Die aanpassing ten
aansien van omset beloop alreeds nagenoeg
R23 000 (R14 000 in die
Blaauwberg praktyk en R9 000 in die praktyk van dr De Haan).
64.
GL het self bereken dat die uitgawes van die praktyk R25 000 beloop.
Sy was baie nou betrokke by die administrasie van sy praktyk,
maar
het sy sedert 2007, nadat WGL haar kredietkaart opgeknip het, nie
meer insae is sy praktyk gehad nie. Sy het egter aangevoer
dat die
trekkings uit sy praktyk oordadig was, en dat sy rekenmeester hom nie
van goeie advies bedien het nie. WGL het getuig dat
navorsing
aangetoon het dat die gemiddelde koste om die praktyk van ˊn
oor-neus-keel spesialis te bedryf, R55 000 per maand
beloop en
aangevoer dat sy praktyks uitgawes van R44 500 derhalwe billik was.
Ek is bereid om ˊn bedrag van R44 000 as billik
aan te merk.
65.
WGL maak self aanspraak op R30 000,00 per maand vir onderhoud
-hierdie berekening behoef nadere beskouing – veral aangesien

dit ook insluit ˊn gedeelte van die onderhoud ten opsigte van
die kinders en hulle skoolgelde, en waar dit voorsiening maak
vir
items wat nie nou tersprake kan wees nie, soos die R4 000 vir die
motorvoertuig, en die oordadige huur van R8 250 per maand.
Hierdie
laasgenoemde twee items alleen behoort ten minste ˊn
vermindering van R6 000 op die begroting in te hou.
66.
GL het getuig dat sy deurgaans gevra het vir ˊn
kontantvloeistaat, maar daar is nooit volledige state verskaf sodat
daar
ˊn vergelyk getref kon word of ontledings gemaak kon word
nie. Sy het in besonder die geloofwaardigheid van die staat verskaf

op 1 Februarie 2011
[15]
aangeval, omdat dit beweerdelik ˊn vervalsing van die stempel
van ˊn kommisaris van ede bevat het. Die kritiek op die
stempel
is nooit opgeklaar nie aangesien die rekenmeester nooit as ln getuie
geroep is nie. WGL het nooit sy beloftes nagekom om
te reël dat
sy met sy rekenmeester ontmoet nie. Sy het getuig dat sy die
bestuurstate bevraagteken aangesien sy van geen ondersteunende

dokumentasie voorsien is nie, en aangesien sy nooit met die
rekenmeesters kon ontmoet nie.
67.
WGL het ˊn verdere bundel van finansiële ontledings
ingehandig.
[16]
Dit het die
uiteensetting van 3 Februarie 2011
[17]
verder gekwalifiseer.
68.
GL het baie gewag gemaak van die afwykings wat voorgekom het in die
berekeninge deur WGL en sy rekenmeester. So byvoorbeeld
het sy daarop
gewys dat sy begroting van 3 Februarie 2011
[18]
,
voorsiening gemaak het vir ˊn bedrag van R30 990 per maand vir
WGL, ˊn enkeling, terwyl sy begroting van 28 Januarie
2010 R26
185,30 beloop het.
[19]
69.
WGL het daarop gewys dat hierdie begroting nie ˊn begroting is
slegs vir hom as enkeling nie, maar dat vele van die uitgawes
ook
uitgawes van die geheel van die gesin is – soos byvoorbeeld
kruideniersware, waar hy twee maal per dag kos vir die twee
dogters
voorsien, en ook R10,00 per dag per kind gee vir kos by die skool.
70.
GL het daarop gewys dat die tendens wat die syfers openbaar ontleed
moes word. In Maart 2008 het hy R58 000,00 verdien het,
en ˊn
jaar later word ˊn bedrag begroot in Maart 2009 vir R105
000.00
[20]
. Sy inkomste het
gegroei met 24% vanaf Maart 2009 tot September 2009, en is hy nou in
ˊn beter finansiële posisie as
wat hy was tydens die reël
43-aansoek. GL wys voorts daarop dat die inkomste van diemeenthuise
met 53% verhoog het. Rentekoerse
op verbande het ook verminder
71.
Ten aansien van WGL se begroting
[21]
vermeld sy dat die skoolgelde ten aansien van PL nou wegval. Sy
studies is reeds voor betaal. Die skoolgelde van die kinders moet
ook
afwaarts aangepas word (die syfer van R1 400 is slegs van toepassing
op die vorige jaar).
72.
GL het in besonder klem gelê daarop dat terwyl sy geregtig is
op onderhoud in die bedrag van nagenoeg R26 000,00, WGL
se
persoonlike trekkings uit sy praktyk R26 719 beloop (terwyl hy aandui
dat haar onderhoud R31 651 beloop).
[22]
73.
Ten aansien van sy trekkings
[23]
het WGL getuig dat hy heelwat kontant OTM-onttrekkings maak en dit
gebruik om ander items te befonds. Hy het verduidelik dat sy
hoë
kontanttrekkings daaraan te wyte was dat hy kontant gebruik om ander
uitgawe-items te befonds.
74.
Sy gemiddelde trekkings beloop R48 000 per maand (wat onderhoud aan
GL in die bedrag van R15 000 na R18 000 per maand insluit).
Die
beskikbare bedrag vir onttrekkings beloop R28 966 per maand Daar moet
egter R27 000 per maand bygevoeg word as synde inkomste
uit die
locum
-praktyk.
75.
Mnr de la Rey het aan haar gestel dat daar eenvoudig nie genoeg
fondse is om aan beide se behoeftes te voldoen nie, en dat
hy
eenvoudig nie kan voldoen aan ˊn onderhouds-eis van R31 000 per
maand nie.
76.
Mnr de la Rey wys daarop dat WGL R63 000 per maand sal moet
beskikbaar hê om aan beide van hulle se begrotings te kan

voldoen. Die beskikbare bedrag beloop egter R47 966 per maand (R28
966 waarby bygevoeg moet word ˊn verdere R18 500 wat ontvang

word uit die
locum
-werk vir dr De Haan asook die tantieme
verdien uit sy skryfwerk, R500). Na GL se aanspraak van R31 000, laat
dit vir hom met R16
000 (die helfte van sy begroting). Na inagneming
van die kinders se skoling (R3 000) hou hy R13 000 oor.
77.
Die berekening van mnr de la Rey moet egter met die omset hierbo na
verwys aangepas word, en die onnodige uitgawes moet geïgnoreer

word. Dan wil dit my voorkom dat die berekening dan as volg lyk: die
beskikbare bedrag beloop R61 000 (R28 966 plus R14 000 en
R18 500
plus R9 000) asook die tantieme van die boek). Dit laat hom met R30
000 na die aanspraak van GL, en dan hou hy nog steeds
R28 000 oor na
inagneming van R3 000 op skoolfooie.
78.
Op 18 Januarie 2011 het WGL ˊn formele aanbod
[24]
aan haar gemaak waarin hy R15 000,00 per maand onderhoud aangebied
het, indien dit ook die twee seuns, AL1 en PL, insluit. Hy het

aangedui dat hy sou verkies om hulle "apart" te onderhou,
in welke geval hy GL R11 000,00 per maand aangebied het. Hy
het
voortgegaan "indien ons nie tot ˊn vergeiyk kan kom nie sal
ek die hof vra om jou net R10 000 per maand te gee. Dit
is billik
omdat jy maklik R7 000 of meer per maand as ontvangsdame of PA kan
verdien. Jy kan nog meer verdien as onderwyseres.
Die hof sal dit dan
waarskynlik toestaan."
79.
WGL het aangevoer dat hy nie in staat is om die R30 990 wat sy
begroting in die vooruitsig stel te trek nie. WGL het aangevoer
dat
indien hy gelas sou word om meer as R18 000 per maand onderhoud te
betaal hy die bevel noodwendigerwys nie sou kon nakom nie
(ˊn
situasie wat hy graag sou wou vermy). Hy het aangevoer, met verwysing
na ˊn begroting opgestel deur sy rekenmeester,
dat hy nie meer
as R10 000 per maand kon betaal vir onderhoud en huisvesting nie. Hy
het verskeie voorstelle aan die hand gedoen
om die tekort aan te
spreek – alles daarvan het geslaan op wat GL sou moes doen om
uitgawes te verminder.
80.
Dit wil my egter voorkom dat die submissies nie korrek is nie. Selfs
indien WGL nie die volle voordeel van sy omset ontvang
as gevolg van
slegte skulde nie, is hy nog steeds heelwat beter daaraan toe as wat
die berekening sou wou voorgee. Verdermeer kom
dit my voor dat sy
begroting in iedere geval oordadig is – die items vir die
voertuig en huur moet verminder word met nagenoeg
R6 000. Hierdie
geringe aanpassings sal beide die begrotings van WGL en GL haalbaar
maak. WGL sal in iedere geval stappe moet doen
om sy agterstallige
skuld van R350 000 spoedig moontlik in te vorder
81.
Alhoewel ek bereid is om ˊn voordeel van twyfel aan WGL te gee,
meen ek nog steeds dat hy in staat sal wees om R24 000
onderhoud per
maand te kan betaal.
82.
GL verwyt hom vir die oploop van skuld in die regsproses. Hy het
aangevoer dat die regskoste reeds meer as R330 000 beloop
en dat die
koste van die huweliks berader ook nog uitstaande was. Hierdie was
alles onnodige kostes. Hy het by sy moeder geld geleen
om die
egskeidingsaksie se regskostes te finansier. Ten aansien van die
regslui het hy aangevoer dat hulle optrede immoreel was.
Hy het
getuig dat mnr Kruger ondubbelsinnig bewus van sy omstandighede was
en dat hy dan liewer nie die saak namens GL moes neem
nie. WGL het
aangevoer dat hy nie verantwoordelik gehou kan word vir die koste van
ˊn ander party (die prokureur) nie –
mnr Kruger het nie
het nodig gehad om sy skrywes te beantwoord nie en daardeur die
kostes op te loop nie. Hy is daarop gewys dat
die baie kostes
opgeloop was in die reël 43(6) aansoek om vermindering van
onderhoud. Hy het hom bekla oor die verloop wat
die aansoek geneem
het. GL was grotendeels suksesvol met haar aansprake en is sy
geregtig op haar koste. Sy het gevra dat ek drie
kwart van haar
totale koste moet toestaan. Dit is gelykstaande aan die gebruiklike
party en party koste skaal.
83.
Ek verleen derhalwe die volgende bevele:
(a)
......
ˊn
Egskeidingsbevel ingevolge waarvan die huwelik tussen die partye
ontbind word.
(b)
.....
ˊn
Bevel ingevolge waarvan die ooreengekome ouerplan (met weglating van
die gedeelte in kursief van klousule 1.2.7.4) waarkragtens
die partye
hul ouerlike regte en verantwoordelikhede soos omskryf in artikel 18
van die Kinderwet, Wet 38 van 2005 ten opsigte
van die minderjarige
kinders, KL (gebore op 31 Julie 2000) en AL2 (gebore op 25 Junie
2003) sal behou, hierby aangeheg, gemerk
"A" ingesluit word
by die egskeidings bevel.
(c)
.....
Ten
aansien van die twee minderjarige kinders, asook Adriaan Gerrit en
Petrus Johannes, ˊn bevel in terme waarvan Verweerder
gelas word
om onderhoud ten opsigte van die kinders aan Eiseres te betaal tot
hul 18de verjaarsdag of totdat elkeen hul Graad 12
skooljaar of hul
tersiere studies suksesvol voltooi het (welke ookal laaste mag wees),
soos volg:
(i)
.....
Deur
betaling van ˊn bedrag van R3 000,00 per maand per kind, voor/op
die 1ste dag van elke maand by wyse van debietorder direk
in sodanige
rekening as wat Eiseres van tyd tot tyd mag nomineer.
(ii)
....
Verweerder sal alle redelike uitgawes ten opsigte van die
kinders se mediese, tandheelkundige, hospitaal, ortodontiese en
oftalmotogiese
behandeling betaal, insluitend enige bedrag betaalbaar
aan ˊn fisioterapeut, arbeidsterapeut, psigiater, sielkundige of
chiropraktisyn,
medikasie (verkry op skriftelike voorskrif) en die
koste verbonde aan die voorsiening waar nodig van ˊn bril of
kontaklense
en vir hierdie doe! sal Verweerder die kinders
geregistreer hou as afhanklikes op sy huidige mediese fonds of
sodanige ander fonds
met soortgelyke voordele.
(iii)
...
Verweerder
sal die kinders se redelike opvoedkundige uitgawes betaal met
insluiting van die volgende (hoewel dit nie beperk sal
wees hiertoe
nie): Alle skoolgelde en addisionele onderriggelde (waar redelik
benodig deur die kinders), die koste van skooluitstappies
en kampe,
redelike buite-muurse en sportaktiwiteite waaraan die kinders mag
deelneem, die koste van klubfooie en sporttoere (sowel
as die
redelike vervoer en akkommodasiekoste daaraan verbonde), kompetisies,
olimpiades en dies meer en die koste van skoolboeke,
skryfbehoeftes,
skooluniforms, sowel as klere en toerusting benodig vir die
buite-muurse en sportaktiwiteite en die koste van rekenaars,
die
Internet, musiekinstrumente en dies meer.
(iv) Verweerder
sal die redelike koste verbonde aan die kinders se tersiere
opvoeding, met insluiting van hul klasgelde en enige
ander fooie
gehef deur ˊn tersiere inrigting, die koste van boeke,
skryfbehoeftes, buitemuurse en sportaktiwiteite en die
koste van
rekenaars, die Internet, musiekinstrumente en dies meer.
(v)
....
Die
onderhoudsbedrag vermeld in (i) hierbo sal jaarliks verhoog op die
datum van herdenking van die egskeiding met die persentasie
in die
Verbruikersprysindeks so os gepubliseer deur die Sentrale
Statistiekburo van Suid-Afrika (gebaseer op die twaalf woonareas
soos
gereflekteer in die middel uitgawe groep) vir die voorafgaande twaalf
maande.
(d)
......
ˊn
Bevel in terme waarvan Verweerder gelas word om Eiseres te onderhou
tot haar dood of hertroue, welke ookal eerste mag plaasvind,
soos
volg:
(i)
......
Deur
betaling van ˊn bedrag van R12 000,00 per maand betaalbaar
voor/op die 1ste dag van elke maand by wyse van debietorder
direk in
sodanige rekening as wat Eiseres van tyd tot tyd mag nomineer.
(ii)
....
Deur Verweerder se redelike uitgawes te betaal ten opsigte van
haar mediese, tandheelkundige, chirurgiese, hospital, ortodontiese
en
oftalmologiese behandeling, insluitend enige bedrag betaalbaar aan ˊn
fisioterapeut, arbeidsterapeut, psigiater, sielkundige
of
chiropraktisyn, die koste van medikasie (verkry op skriftelike
voorskrif) en die voorsiening waar nodig van ˊn bril of

kontaklense en haar vir hierdie doel as afhanklike op sy huidige
mediese fonds te registreer of ˊn fonds met soortgelyke
voordele.
(iii)
....
Die
onderhoudsbedrag vermeld in (i) hierbo sal jaarliks verhoog op die
datum van herdenking van die egskeiding met die persentasie
in die
Verbruikersprysindeks soos gepubliseer deur die Sentrale
Statistiekburo van Suid-Afrika (gebaseer op die twaalf woonareas
soos
gereflekteer in die middel uitgawe groep) vir die voorafgaande twaalf
maande.
(e)
......
Geen
bevel word verleen ten aansien van die verdeling van die partye se
gemeenskaplike boedel nie.
(f)
......
Verweerder
word gelas om die Eiseres se regskostes, insluitend enige verspilde
koste, soos ooreengekom of getakseer, te betaal.

.....
Sven
Oliver, WnR
[1]
Bundel, bladsy 76–85.
[2]
Bundel, bladsy 2235, paragraaf
41.
[3]
Bundel, bladsy 259.
[4]
Bundel, bladsy 82.
[5]
Bundel, bladsy 170.
[6]
Bundel, bladsy 143.
[7]
Bundel, bladsy 280 (33 van die
inskrywings stel onderhoud daar).
[8]
Bundel, bladsy 280.
[9]
Bundel, bladsy 307.
[10]
Bundel, bladsy 278.
[11]
Bundel, bladsy 253.
[12]
Bundcl, bladsy 126.
[13]
Bundel, bladsy 104–106.
[14]
Bundel, bladsy 93–103.
[15]
Bundel, bladsy 6A.
[16]
Bundel, bladsy 305–307.
[17]
Bundel, bladsy 278.
[18]
Bundel, bladsy 304.
[19]
Bundel, bladsy 3.
[20]
Bundel, bladsy 58.
[21]
Bundel, bladsy 304.
[22]
Bundel, bladsy 59.
[23]
Bundel, bladsy 305.
[24]
Bundel, bladsy 286.