About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2010
>>
[2010] ZAWCHC 81
|
|
Boerboonfontein BK v La Grange NO and Another (A409/09) [2010] ZAWCHC 81; 2011 (1) SA 58 (WCC) (15 April 2010)
IN
DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP
HOE HOF, KAAPSTAD)
REPORTEERBAAR
In
die saak tussen:
Saak
No. A409/09
BOERBOONFONTEIN
BK
Appellant
and
CEDRIC
B LA GRANGE N.O.
(in
sy hoedanigheid as Eksekuteur van
Boedel
Wyle Japie la Grange)
Eerste
Respondent
CT
LA GRANGE
Tweede
Respondent
UITSPRAAK
GELEWER OP 15de DAG VAN APRIL 2010
BIINNS-WARD
R:
Inleiding
[1]
Boerboonfontein BK is in 1993 deur Mnre Van Tonder en La Grange
gestig met die doel om 'n sekere plaaseiendom, Boerboonfontein,
te
bekom en in besit te hou. Die grond waaropBoerboonfontein gelee is le
tussen die twee plase wat Van Tonder en La Grange reeds
jare lank vir
hul eie onderskeie rekeninge geboer het. Hulle was hegte vriende en
toe die eiendom op die mark gekom het wou hulle
nie teen mekaar
daarvoor bie nie. Daar is gevolglik tussen hulle ooreengekom op die
stigting van 'n beslote korporasie as 'n wyse
waarop hulle effektiewe
mede-eienaarskap oor die grond kon bekom en beoefen.
[2]
Die aanvanklike plan, wat wel in werking gestel is, was dat die
korporasie, as selfstandige eenheid, sake sou doen deur op die
eiendom te boer. Later het die twee here, wat te alle tye die enigste
lede van die korporasie was, onderling besluit om liewers
vir hulle
eie rekening op afsonderlike dele van die eiendom te boer.
Inderwaarheid is 'n draadheining gespan wat die plaaseiendom
rofweg
in twee dele vir hierdie doeleinde verdeel het. Gedurende die tydperk
wat die korporasie die boerdery bedryf het, het die
twee lede 'n
kontrak aangegaan wat, in wese, 'n opsie aan die oorlewende lid
verleen het om na die afsterwe van eerssterwende van
die twee op
bepaalde terme laasgenoemde se ledebelang aan te koop.
[3]
In 2007 is La Grange oorlede. Die eerste respondent, wat La Grange se
broerskind was, is as eksekuteur van die oorledene se
boedel
aangestel. Luidens sy testament word wyle La Grange se plaas,
Rietfontein, aan die eerste respondent bemaak. Van Tonder
het vir die
eerste respondent van die kontrak wat tussen hom en La Grange
aangegaan is vertel en aan hom kennis gegee van sy voorneme
om die
opsie uit te oefen om die oorledene se ledebelang te bekom. Die
eerste respondent het na bewering eers te kenne gegee dat
La Grange
se erfgename geen probleem daarmee sou he nie. Etlike weke daarna het
dit egter geblyk dat Van Tonder en die eerste respondent
nie met
mekaar eens is oor die uitleg van die bepalings van die skriftelike
ooreenkoms wat tussen Van Tonder en wyle Mnr La Grange
aangegaan is
nie. Uiteindelik het die eerste respondent, in sy hoedanigheid as
eksekuteur, Van Tonder se eis om oordrag van die
oorledene se
ledebelang in die beslote korporasie verwerp.
[4]
Na La Grange se heengaan het die eerste respondent sy seun, wat as
tweede respondent in die verrigtinge in die hof
a
quo
gesiteer
is, op Rietfontein laat boer. Laasgenoemde het volgehou met die
gebruik van die grond op dieselfde wyse as sy oorlede grootoom,
deur
van sy lewende hawe op die gedeelte van Boerboonfontein wat wyle La
Grange voor sy sterfte vir eie rekening gebruik het, te
laat wei.
(Daar is aantygings deur Van Tonder gemaak dat die tweede respondent
die drakrag van die grond oorskry het deur te veel
van sy diere op
die veld te laat wei.)
[5]
Van Tonder het aan die eerste respondent kennis gegee dat hy dit sou
goedvind as laasgenoemde, as nuwe eienaar van Rietfontein,
vir 'n
verdere ses maande na La Grange se oorlye die helfte van
Boerboonfontein nog sou gebruik, waarna dit ontruim moet word.
Die
tweede respondent het aanvanklik laat blyk dat hy hieraan gehoor sou
gee, maar het van houding verander na die geskil ontstaan
het oor die
terme waarop Van Tonder die oorledene se ledebelang sou kon bekom.
Die houding van beide respondente was dat tweede
respondent geregtig
was om die gedeelte van Boerboonfontein wat La Grange gedurende sy
leeftyd gebruik het in besit te hou. Respondente
se standpunt is dat
die beweerde besitsreg 'n uitvloeisel is van die oorledene se
ledebelang in die beslote korporasie, wat nog
nie aan of Van Tonder
of enigiemand anders oorgedra is nie.
[6]
Op 28 Augustus 2007 is die aansoek geloods waarin die uitsetting van
die tweede respondent van die gedeelte van Boerboonfontein
wat hy
okkupeer geeis word. Volgens die stukke was die beslote korporasie
die applikant. Die eerste respondent, in sy hoedanigheid
as
eksekuteur, is as 'n party in die geding gesiteer, oenskynlik om te
verseker dat enige uitsettingsbevel wat deur die hof toegestaan
mag
word ook op wyle Mnr La Grange se boedel bindend sou wees. Van Tonder
het in die aansoek namens die korporasie opgetree.
[7]
Die respondente het, onder andere, 'n spesiale verweer geopper dat
die instelling van die verrigtinge nie deur die korporasie
gemagtig
is nie. Die hof
a
quo
(Roux
Wn R) het hulle gelyk gegee. Die aansoek is gevolglik van die hand
gewys en Van Tonder is gelas om persoonlik die respondente
se
gedingskoste te betaal. Die hof
a
quo
het
ook bevind dat die respondente geregtig is om die betrokke deel van
die korporasie se grond te okkupeer en te gebruik voortspruitend
uit
die oorledene se ledebelang terwyl die ledebelang nog in die boedel
gevestig het. Die hof
a
quo
het
verlof verleen om teen sy bevindings na die Volbank van hierdie hof
te appelleer.
Die
partye se betoe
[8]
Die appellant se prokureur doen aan die hand dat Van Tonder, as die
enigste oorlewende lid van die korporasie, voldoende regsbevoegdheid
het om alleen, en sonder inagneming van die siening van enigiemand
anders, die korporasie by die bring van die aansoek te
verteenwoordig.
Die respondente voer egter aan dat verrigtinge slegs
deur die korporasie ingestel kan word indien 'n besluit in dier voege
geneem
word deur die houers van 'n meerderheid - in persentasie terme
- van die ledebelang daarin. Eerste respondent maak staat op a. 29(3)
van die Wet op Beslote Korporasies 69 van 1984 ('die Wet').
[9]
Dit is gerieflik vir die doeleindes van hierdie uitspraak om a. 29(2)
en (3) van die Wet aan te haal:
29
Vereistes vir lidmaatskap
(1)....
(1A)...
(2)
Die volgende persone kwalifiseer vir lidmaatskap van 'n korporasie-
'n
Natuurlike persoon wat geregtig is op 'n ledebelang;
'n
natuurlike persoon of 'n regspersoon,
nomine
officii
,
wat 'n trustee is van 'n testamentere trust wat geregtig is op 'n
ledebelang, mits-
(i)
geen regspersoon 'n bevoordeelde van sodanige trust is nie; en
(ii)
indien die trustee 'n regspersoon is, sodanige regspersoon nie
regstreeks of onregstreeks beheer word deur 'n bevoordeelde
van die
trust nie; en
(c)
'n natuurlike persoon of 'n regspersoon,
nomine
officii
,
wat, in die geval van 'n lid wat insolvent, oorlede, geestesongesteld
of andersins onbekwaam of onbevoeg is om sy of haar sake
te behartig,
'n kurator van sy of haar insolvente boedel of 'n administrateur,
eksekuteur of ander kurator ten opsigte van so 'n
lid is of iemand is
wat andersins sy of haar behoorlik aangestelde of gemagtigde
regsverteenwoordiger is.
(3)
(a) Die lidmaatskap van 'n persoon wat daarvoor kwalifiseer ingevolge
subartikel (2) neem 'n aanvang op die datum van die registrasie
van
'n stigtingsverklaring van die korporasie wat die besonderhede wat
deur artikel 12 vereis word betreffende so 'n persoon en
sy of haar
ledebelang bevat.
(d)
Waar iemand 'n lid staan te word van 'n geregistreerde korporasie
moet die bestaande lid of lede van die korporasie toesien
dat voldoen
word aan die vereistes van artikel 15 (1) betreffende die indiening
van 'n gewysigde stigtingsverklaring by die Registrateur.
(e)
'n Kurator van 'n insolvente boedel, administrateur, eksekuteur of
ander kurator, of ander regsverteenwoordiger, bedoel in subartikel
(2) (c) , ten opsigte van 'n lid van 'n korporasie, wat nie verplig
is of wat nie beoog om die belang van die lid in die korporasie
ooreenkomstig die bepalings van hierdie Wet binne 28 dae na
ampsaanvaarding deur hom of haar aan iemand anders oor te dra nie,
moet binne daardie tydperk of enige verlengde tydperk wat die
Registrateur op sy of haar aansoek toestaan, die bestaande lid of
lede van die korporasie versoek om ooreenkomstig artikel 15 (1) 'n
gewysigde stigtingsverklaring wat hom of haar,
nomine
officii
,
as verteenwoordiger van die betrokke lid aanwys, by die Registrateur
in te dien.
Waar
die korporasie geen ander lid het nie, moet so 'n verteenwoordiger
self, onder die omstandighede in paragraaf (c) beoog, namens
die
korporasie ooreenkomstig die bepalings van artikel 15 (1), gelees met
genoemde paragraaf (c) , optree.
Die
bepalings van paragrawe (c) en (d) raak nie die bevoegdheid van so 'n
verteenwoordiger om, vanaf sy of haar ampsaanvaarding,
en hetsy so 'n
gewysigde stigtingsverklaring ingedien is al dan nie, die betrokke
lid in alle aangeleenthede waarin hyself as lid
sou kon optree, te
verteenwoordig nie, totdat die belang van daardie lid in die
korporasie ooreenkomstig die bepalings van hierdie
Wet aan 'n ander
bevoegde persoon oorgedra is.
[10]
Die eerste respondent het versuim om stappe te neem om as lid
geregistreer te word, soos in a. 29(3)(c) voorsien word. Hy beweer
nietemin hy dat die effek van a. 29(3)(e) van die Wet is dat hy, as
eksekuteur, geken moes word in enige voorneme deur die korporasie
om
enige regsverrigtinge in te stel en dat hy die geleentheid gegun moes
word om op 'n vergadering van lede die stemreg wat wyle
La Grange as
geregistreerde lid sou kon uitoefen, namens die oorledene uit te
bring. Dit moet ook gemeld word dat ondanks sy kennis
dat die eerste
respondent as die eksekuteur van wyle La Grange se boedel aangestel
is, Van Tonder, as die oorlewende lid, niks
ingevolge a. 29(3)(b)
gedoen het om hom in staat te stel om 'n gewysigde
stigtingsverklaring, wat eerste respondent as verteenwoordigende
lid
sou aandui, by die Registrateur in te handig nie.
[11]
Die appellant se prokureur betwis die stelling dat die besluit deur
Van Tonder dat die korporasie regsverrigtinge sou instel
vir die
uitsetting van respondente van die korporasie se plaas die eerste
respondent se goedkeuring moes dra om effektief te wees.
Met beroep
op die bepalings van aa. 46(a),(b) en (e) en 54 van die Wet betoog hy
dat Van Tonder die enigste lid van die korporasie
was ten tye van die
instelling van die aansoek en dat hy daarom volle seggenskap oor die
korporasie se doen en late gehad het.
Hy voer verder aan dat Van
Tonder in elk geval, as lid met gelyke reg tot deelname in die bedryf
van die besigheid van die korporasie,
deur die Wet gemagtig was om
die verrigtinge uit eie beweging namens die korporasie in te stel.
[12]
Artikel 46 van die Wet bepaal:
46
Veranderbare
reels betreffende interne verhoudings
Die
volgende reels is ten opsigte van interne verhoudings in 'n
korporasie van toepassing vir sover hierdie Wet of 'n
samewerkingsooreenkoms
ten opsigte van die korporasie nie anders
bepaal nie-
(a)
Elke lid is geregtig om deel te neem aan die dryf van die besigheid
van die korporasie;
(b)
behoudens die bepalings van artikel 47 het lede gelyke regte met
betrekking tot die bestuur van die besigheid van die korporasie
en
met betrekking tot die bevoegdheid om die korporasie te
verteenwoordig by die dryf van sy besigheid: Met dien verstande dat
die skriftelike toestemming van 'n lid wat 'n ledebelang van minstens
75 persent, of van lede wat tesame minstens daardie persentasie
van
die ledebelange, in die korporasie hou, vereis word vir-
(i)
'n
verandering van die vernaamste besigheid wat deur die korporasie
gedryf word;
(ii)
'n
beskikking oor die hele, of wesenlik die hele, onderneming van die
korporasie;
(iii)
'n
beskikking oor al, of die grootste gedeelte van, die bates van die
korporasie; en
(iv)
enige
verkryging of vervreemding van onroerende eiendom deur die
korporasie;
(c)
verskille
tussen lede oor aangeleenthede in verband met 'n korporasie
se
besigheid word deur 'n meerderheid van stemme op 'n vergadering
van lede van die
korporasie beslis;
(d)
op 'n vergadering van lede van 'n korporasie het elke lid die aantal
stemme wat ooreenstem met die persentasie van sy of haar
belang in
die korporasie;
(e)
'n korporasie vergoed elke lid ten opsigte van uitgawes deur hom of
haar aangegaan of aangegaan te word-
(i)
by
die gewone en behoorlike dryf van die besigheid van die korporasie;
en
(ii)
met
betrekking tot enigiets wat gedoen is of gedoen staan te word vir
die
bewaring van die besigheid of eiendom van die korporasie;
en
(f)
betalings
deur 'n korporasie aan sy lede slegs uit hoofde van hulle
lidmaatskap
ingevolge artikel 51(1) moet vir die bedrae wees en
geskied op die tye waaroor die
lede van tyd tot tyd ooreenkom, en
sodanige betalings word aan die lede gedoen in
verhouding tot
hulle onderskeie belange in die korporasie.
en
a 54 bepaal soos volg:
54
Bevoegdheid van lede om korporasie te bind
(1)
Behoudens die bepalings van hierdie artikel is elke lid van 'n
korporasie ten opsigte van iemand wat nie 'n lid is nie en met
die
korporasie sake doen, 'n verteenwoordiger van die korporasie.
(2)
'n Handeling van 'n lid bind 'n korporasie, hetsy sodanige handeling
verrig word vir die dryf van die besigheid van die korporasie
al dan
nie, tensy die lid wat aldus handel in werklikheid geen bevoegdheid
het om namens die korporasie in die besondere aangeleentheid
te
handel nie en die persoon met wie die lid sake doen, kennis dra of
redelikerwys kennis behoort te dra van die feit dat die lid
geen
sodanige bevoegdheid het nie.
[13]
Die appellant se prokureur het betoog dat a. 46 aan elke lid volmag
verleen om na eie goeddunke namens die korporasie op te
tree. Hy het
ook betoog dat a.54 tot gevolg het dat derde partye gebonde is om te
aanvaar dat enige lid wat voorgee om namens 'n
beslote korporasie op
te tree wel daartoe gemagtig is.
Benadering
[14]
Ingevolge a. 2 van die Wet is 'n geregistreerde beslote korporasie 'n
regspersoon. Dit bring mee dat die korporasie 'n regspersoonlikheid
van sy eie het wat apart en onderskeibaar van die van sy lede is. In
hierdie opsig is 'n beslote korporasie juridies net soos 'n
maatskappy
1
of 'n ingelyfde assosiasie en verskil dit in aard van 'n vennootskap.
Soos in die geval van enige ander regspersoon hang die beslissings
en
optrede van 'n beslote korporasie af van die besluite van die
natuurlike persone wat dit beheer. 'n Onhoudbare situasie sou
ontstaan as die besigheid van regspersone nie op 'n samehangende wyse
gevoer word deur die mense in beheer daarvan nie. Dit beteken
dat
elke sodanige mens slegs binne sy of haar magte ingevolge die statuut
of stigtingsverklaring van toepassing op die regspersoon
ter sake kan
optree. Waar daar 'n meervoud van mense in beheer is met gelyke magte
om die regspersoon se sake te bedryf kan die
regspersoon samehangend
funksioneer slegs as sy beslissings en optrede deur 'n beslissende
stem in 'n vergadering van sodanige
mense bepaal word. As dit anders
was sou dit onmoontlik wees om 'n doeltreffende onderskeid te tref
tussen die handelinge en bedoelinge
van 'n regspersoon en die van
elkeen vandie verskeie natuurlike persone wat ten opsigte daarvan 'n
individuele bestuursfunksie
het.
[15]
Na my oordeel le die appellant se prokureur se betoog oormatige klem
op a. 46(a) en die eerste gedeelte van a. 46(b) en toon
dit
onvoldoende inagneming van die bepalings van paragrawe (c) en (d) van
die artikel. Die bepalings van a. 46 van die Wet moet
natuurlik op 'n
kontekstueel samehangende wyse uitgele word. As hulle op die
aangewese manier benader word is dit duidelik dat
elke lid van 'n
beslote korporasie, anders as in die geval van 'n maatskappy waar die
daaglikse bedrywighede van die maatskappy
deur die direkteure beheer
en bestuur word, geregtig is om direk betrokke te wees in die bestuur
van die korporasie (mits daar
nie 'n samewerkingsooreenkoms is wat
tot die teendeel bepaal nie). Die verlening van die reg tot deelname
aan elke lid is nie gelyk
aan die verlening van 'n reg om beslissings
namens die korporasie te maak sonder inagneming van die ander lede of
hulle verteenwoordigers
nie. Paragrawe (c) en (d) bepaal inderdaad
die teendeel: beslissings van 'n beslote korporasie word geneem deur
'n
meerderheid van die stemregte wat by 'n ledevergadering uitgebring
is. Die reg van deelname bring mee dat elke lid geregtig is
om
kennisgewing van enige vergadering van lede te kry en om enige
sodanige vergadering by te woon, en om sy of haar stemreg by
die
vergadering te uit te oefen.
[16]
In
Mall
(Cape) (Pty) Ltd v Merino Ko-operasie Bpk
1957
(2) SA 347
(C) het hierdie hof in 'n uitspraak deur die Volbank
homself soos volg uitgelaat (te bl. 351D-352B) ten opsigte van die
instelling
van regsverrigtinge deur regspersone ('artificial
persons'):
'In
such a case there is judicial precedent for holding that objection
may be taken if there is nothing before the Court to show
that the
applicant has duly authorised the institution of notice of motion
proceedings (see for example
Royal
Worcester Corset Co v Kesler's Stores,
1927
CPD 143
;
Langeberg
Ko-operasie Beperk v Folscher and Another,
1950
(2) SA 618
(C)). Unlike an individual, an artificial person can only
function through its agents and it can only take decisions by the
passing
of resolutions in the manner provided by its constitution. An
attorney instructed to commence notice of motion proceedings by, say,
the secretary or general manager of a company would not necessarily
know whether the company had resolved to do so, nor whether
the
necessary formalities had been complied with in regard to the passing
of the resolution. It seems to me, therefore, that in
the case of an
artificial person there is more room for mistakes to occur and less
reason to presume that it is properly before
the Court or that
proceedings which purport to be brought in its name have in fact been
authorised by it.
There
is a considerable amount of authority for the proposition that, where
a company commences proceedings by way of petition,
it must appear
that the person who makes the petition on behalf of the company is
duly authorised by the company to do so (see
for example
Lurie
Brothers Ltd v Arcache,
1927
NPD 139
, and the other cases mentioned in Herbstein and van Winsen,
Civil
Practice of the Superior Courts in South Africa
at
pp. 37, 38). This seems to me to be a salutary rule and one which
should apply also to notice of motion proceedings where the
applicant
is an artificial person. In such cases some evidence should be placed
before the Court to show that the applicant has
duly resolved to
institute the proceedings and that the proceedings are instituted at
its instance. Unlike the case of an individual,
the mere signature of
the notice of motion by an attorney and the fact that the proceedings
purport to be brought in the name of
the applicant are in my view
insufficient. The best evidence that the proceedings have been
properly authorised would be provided
by an affidavit made by an
official of the company annexing a copy of the resolution but I do
not consider that that form of proof
is necessary in every case. Each
case must be considered on its own merits and the Court must decide
whether enough has been placed
before it to warrant the conclusion
that it is the applicant which is litigating and not some
unauthorised person on its behalf.
Where, as in the present case, the
respondent has offered no evidence at all to suggest that the
applicant is not properly before
the Court, then I consider that a
minimum of evidence will be required from the applicant (cf.
Parsons
v Barkly East Municipality, supra; Thelma Court Flats (Pty.) Ltd v
McSwigin
1954
(3) SA 457
(C) ).'
Hierdie
passasie is telkemale goedgekeur in daaropvolgende uitsprake van die
howe landswyd.
2
[17]
Die appellant se prokureur het aan die hand gedoen dat die beginsels
in die passasie aangehaal uit die uitspraak in
Mall
nie
van toepassing is in die geval van 'n beslote korporasie nie,
aangesien 'n korporasie nie 'n statuut het nie. Hierdie betoog
hou
nie water nie. In die geval van 'n beslote korporasie staan die
bepalings van die Wet, tesame met enige tersaaklike bepalings
van
enige samewerkingsooreenkoms soos deur die Wet beoog, in die plek van
die 'constitution' waarna Watermeyer R in
Mall
te
351E verwys het. Die Wet en die tersaaklike bepalings van enige
samewerkingsooreenkoms bepaal hoe die lede namens die korporasie
kan
optree. Enige besluit deur 'n beslote korporasie om regsverrigtiginge
in te stel moet deur sy lede geneem word ingevolge die
besluitsnemingsmeganisme soos bepaal in die Wet, gelees, indien
gepas, tesame met enige samewerkingsooreenkoms wat ter sake mag
wees.
[18]
Die wilsuiting van 'n beslote korporasie word weergegee in 'n
beslissing wat die ondersteuning het van 'n meerderheid van die
stemme van sy lede. Die aantal stemme wat 'n lid kan uitbring stem
ooreen met die persentasie van sy of haar ledebelang in die
korporasie. Cf.
De
Franca v Exhaust Pro CC (De Franca Intervening)
1997
(3) SA 878
(SE). Insover dit die instelling van verrigtinge namens 'n
korporasie betref, is die enigste uitsondering op hierdie beginsel
die
waarvoor voorsiening gemaak is ingevolge a. 50(1) van die Wet.
Daar is tereg geen suggestie deur enige van die partye dat a. 50
van
die Wet in hierdie saak van toepassing is nie. Selfs in die geval
waar verrigtinge deur 'n lid namens die korporasie ingevolge
a. 50
ingestel word, kan dit gebeur slegs nadat die betrokke lid eers al
die ander lede in kennis gestel het van sy voorneme.
[19]
In die huidige geval was dit nie moontlik vir Van Tonder, wat 'n 50%
ledebelang het, om op sy eentjie 'n meerderheids beslissing
te behaal
nie. Die betoog deur die appellant se prokureur was egter dat Van
Tonder in die besondere omstandighede die enigste lid
was wat bevoeg
was om sy stem uit te bring en dat sy beslissing gevolglik die
goedkeuring gedra het van 100% van die lede wat op
daardie stadium
stemgeregtig was. Na my oordeel sien hierdie betoog die bepalings van
aa. 29(3)(e) en 48 van die Wet oor die hoof.
Artikel 29(3)(e) is
reeds hierbo aangehaal
3
Artikel 48 maak voorsiening soos volg (ek haal slegs die sub-artikels
aan wat hier tersaaklik is):
48
Vergaderings van lede
(1)
'n Lid van 'n korporasie kan by kennisgewing aan elke ander lid en
elke ander persoon wat geregtig is om 'n vergadering van
lede by te
woon, 'n vergadering van lede bele vir 'n doel wat in die
kennisgewing bekend gemaak word.
(2)
Tensy 'n samewerkingsooreenkoms anders bepaal-
(a)
moet 'n kennisgewing in subartikel (1) bedoel, wat betref die datum,
tyd en plek van die vergadering, 'n redelike datum en tyd,
en 'n plek
wat redelikerwys geskik is vir alle persone wat geregtig is om die
bepaalde vergadering by te woon, vasstel;
(b)
maak drie-kwart van die lede wat persoonlik op die vergadering
teenwoordig is, 'n kworum uit; en
(c)
kan slegs lede wat persoonlik op die vergadering teenwoordig is, op
daardie vergadering stem.
(5)
(a) 'n Korporasie moet 'n verslag van die verrigtinge
op
'n vergadering van sy lede binne 14 dae na die datum waarop die
vergadering gehou is in 'n notuleboek aanteken wat by die
geregistreerde
kantoor van die korporasie gehou moet word.
(b)
'n Skriftelike besluit deur al die lede onderteken en in die
notuleboek ingeskryf, is so geldig en effektief asof dit op 'n
vergadering van lede wat behoorlik bele en gehou is, geneem is.
[20]
Die eerste respondent is ongetwyfeld 'n 'verteenwoordiger' soos in a.
29(3)(e) van die Wet bedoel. Die effek van a. 29(3)(e)
is dat
sodanige verteenwoordiger vanaf die datum van sy of haar aanstelling
as kurator van 'n insolvente boedel, administrateur,
eksekuteur of
ander kurator, wat ookal die geval mag wees, die bevoegdheid het om
die betrokke lid - in hierdie geval wyle Mnr
La Grange - te
verteenwoordig in alle aangeleenthede waarin hyself as lid sou kon
opgetree het. Dit bring mee dat die eerste respondent
geregtig was om
met betrekking tot die bedrywighede van die korporasie op te tree
asof hy 'n geregistreerde lid van die korporasie
was, ondanks die
feit dat 'n gewysigde stigtingsverklaring nie geregistreer is nie
.
4
Hierdie
toedrag van sake sal voortduur totdat die ledebelang van die
oorledene oorgedra word aan 'n ander bevoegde persoon, soos
beoog in
a. 35 van die Wet. 'n Eienskap van hierdie verteenwoordigende mag is
dat die eerste respondent geregtig is om kennis te
ontvang van enige
vergadering van lede. Hy is ook geregtig om enige sodanige
vergadering by te woon en die stemreg wat aan die
oorledene se
ledebelang heg by die vergadering uit te bring. Na my oordeel is die
eerste respondent derhalwe 'n 'ander persoon
wat geregtig is om 'n
vergadering van lede by te woon' soos in a. 48(1) van die Wet
bedoel.
5
[21]
Dit is gemeensaak dat die eerste respondent nie die geleentheid gegun
was om 'n ledevergadering by te woon waar 'n beslissing
om die
aansoek in die hof
a
quo
in
te stel oorweeg sou word nie. Klaarblyklik sou hy nie daartoe
ingestem het nie. Van Tonder sou nie as gevolg van die eerste
respondent se teenstand sonder 'n regsremedie gelaat word nie. Hy kan
regsverrigtinge in sy eie naam instel om sy beweerde regte
ingevolge
sy ooreenkoms met wyle Mnr La Grange af te dwing. In der waarheid lyk
dit vir my of die aansoek wat Van Tonder in die
naam van die
korporasie geloods het eintlik deur hom bedoel was as surrogaat vir
'n eis om afdwinging van die omstrede ooreenkoms.
[22]
Onder die omstandighede is dit duidelik dat die verrigtinge nie deur
die korporasie gemagtig was nie. Volledigheidshalwe moet
ek meld dat
die appellant se prokureur se beroep op a. 54 nie die saak verder vat
nie. Daardie bepaling het niks met die magtiging
van lede om die
korporasie te verteenwoordig te make nie. Die doel van a. 54 is die
beskerming van
bona
fide
derde
partye wat in die loop van besigheid handel met lede van beslote
korporasies wat oenskynlik namens die korporasie optree.
Dat die
bepaling geen magtiging aan 'n individuele lid verleen wat hy/sy
andersins nie sou gehad het ingevolge die Wet of 'n
samewerkingsooreenkoms
nie blyk onomwonde uit die bepalings van a.
54(2). Dit is duidelik dat beskerming deur die artikel nie aan 'n
derde party buitestander
gebied word wat weet of redeliker wyse
behoort te weet dat die lid wat voorgee om namens die korporasie op
te tree inderwaarheid
nie daartoe gemagtig is nie. Artikel 54 van die
Wet word as volg in Meskin,
Henochsberg
on the Close
Corporations
Act
(Issue
21, te Com-149) beskrywe: 'The rationale behind s 54 is to protect
the interests of third parties who deal with the corporation
through
a member, unaware that he/she has no authority torepresent the
corporation, and who are not negligent in failing to establish
the
true position.'
[23]
Die slotsom dat die verrigtinge nie deur die korporasie gemagtig was
nie beteken dat ons nie geroepe is om in hierdie uitspraak
met die
kwessie van die omstrede okkupasie van 'n gedeelte van die korporasie
se grond deur die tweede respondent te handel nie.
[24]
Gevolglik behoort die appel van die hand gewys te word. Vir die redes
wat in die uitspraak van die geleerde regter van eerste
instansie
uiteengesit is, is dit gepas dat Mnr Van Tonder persoonlike
aanspreeklikheid vir betaling van die respondente se gedingskoste
moet aanvaar.
[
25]
Ek sou die volgende bevel maak:
1.
Die appel word van die hand gewys met koste.
2.
Mnr
Alfred Snyman Van Tonder, die deponent tot die funderende
eedsverkaring in die aansoek in die hof a
quo,
word
gelas om die respondente se gedingskoste in die appel de
bonis
propriis
te
betaal.
BINNS-WARD,
R
LOUW
R:
Ek
stem saam en dit word so gelas.
LOUW,
R
SALDANHA
R:
Ek
stem ook saam.
SALDANHA,
R
1
Cf.
Airport
Cold Storage (Pty) Limited v Ebrahim and Others
[2007] ZAWCHC 25
;
2008
(2) SA 303
(C) at para.
[17]
.
2
Sien
ook 'n latere Volbank beslissing van hierdie hof in
Yiba
and Others v African Gospel
Church
1999
(2) SA 949
(C) te 957H -958H
3
In
para. [9].
4
'Indien
die
[oorlye]
lid
se ledebelang nie binne 28 dae na ampsaanvaarding deur die trustee
aan iemand anders oorgedra is nie, moet hy die bestaande
lid of lede
versoek om n gewysigde stigtingsverklaring in te dien waarin hy
nomine
officii
aangedui word as die verteenwoordige van die betrokke lid. Maar
selfs in die afwesigheid van so n gewysigde stigtingsverklaring
is
sodanige "verteenwoordiger" bevoeg om die
[oorlye]
lid
te verteenwoordig tot tyd en wyl die betrokke ledebelang aan n
bevoegde persoon oorgedra is';
aldus
Celliers et al
Close
Corporations Service
(Butterworths
LexisNexis, ed. Benade et al) [Uitgawe 28 te 3-6].
5
In
Meskin,
Henochsberg
on the Close Corporations Act
(ed
JA Kunst) word die waarneming gemaak mbt tot a.48(1) van die Wet
'The Act contains no provisions according a right to anyone
who is
not a member to attend a meeting of members. Such a right is not
accorded even to the accounting officer if he is not
a member of the
corporation. Presumably, the intention here is to refer to a person
who is not a member but who in terms of an
agreement (whether or not
it is an association agreement or an agreement envisaged by s 44(3))
is accorded such a right, eg a
proxy of a member where in terms of
an association agreement vote by proxy is permissible'. Dit skyn vir
my, met eerbied, dat
die geleerde redakteur die bepalings van a.
29(3)(e) van die Wet in hierdie opsig oor die hoof gesien het. 'n
Verteenwoordiger
ingevolge a. 29(3)(e) is sekerlik nie 'n lid (soos
omskryf) nie, maar is wel bevoeg om op te tree asof hy/sy 'n lid is.