About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2013
>>
[2013] ZAWCHC 108
|
|
Bester NO and Another v Scholtz (24447/11) [2013] ZAWCHC 108 (15 August 2013)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAPSE HOOGGEREGSHOF,
KAAPSTAD)
Saak No 24447/11
In die saak tussen:
LAMBERTUS VON WIELLIGH BESTER
N O
..........................
Eerste
Eiser
T S DE SITO MATHEBULA N O
................................................
Tweede Eiser
(in hul hoedanigheid
as mede-kuratore in die
insolvente boedel van John Levey)
en
OLGE SCHOLTZ
..........................................................................
Verweerderes
Hof:
Griesel R
Aangehoor:
29 Julie 2013
Gelewer:
15 Augustus 2013
____________________________________________________________________
UITSPRAAK
____________________________________________________________________
Griesel R:
Die
eisers tree hierin op in hul hoedanigheid as die mede-kuratore in
die insolvente boedel van John Levey (‘die insolvent’),
wie se boedel op 24 Maart 2010 voorlopig en op 20 Oktober 2010
finaal deur hierdie hof gesekwestreer is. Die verweerderes is
die
eggenote van die insolvent, met wie hy buite gemeenskap van goed
getroud is.
Die
insolvent en die verweerderes was vanaf 28 Februarie 2001 tot 29
September 2010 die mede-eienaars van onroerende eiendom bekend
as
Erf 37614, Bellville (‘die eiendom’). Uit die eisers se
gewysigde besonderhede van vordering blyk dit dat die
insolvent en
die verweerderes drie afsonderlike leningsooreenkomste,
beskryf as ‘housing loans’, met Nedbank
Bpk (‘Nedbank’)
gesluit het, soos volg:
17/8/04
R1 000 000
17/8/04 R1 500 000
25/7/05
R3 500 000.
1
Die
onderskeie lenings is verseker deur vier afsonderlike verbande
gepaseer oor die eiendom ten gunste van Nedbank, soos volg:
13/8/02 R2 000 000
28/7/04
R500 000
15/8/05 R2 000 000
26/4/07 R1 000 000.
Ingevolge
die bepalings van elk van die leningsooreenkomste was die
insolvent en die verweerderes gesamentlik en afsonderlik
(‘jointly
severally and in solidum’) teenoor Nedbank aanspreeklik vir
terugbetaling van die lenings, wat sou
geskied by wyse van 240
maandelikse paaiemente.
Pleitstukke
Die
eisers beweer dat die insolvent gedurende die periode Augustus 2004
tot Augustus 2009 sekere betalings in ’n totale
bedrag van
R3 313 530,51 aan Nedbank gemaak het ingevolge die
geldleningsooreenkomste en verbande. Die eisers
eis hierin
betaling deur die verweerderes van een helfte van sodanige bedrag.
Hul eis word op drie alternatiewe gedingsoorsake
gebaseer, wat
in meer besonderhede hieronder bespreek word.
In
antwoord op die besonderhede van vordering het die verweerderes
aanvanklik ’n algemene ontkenning gepleit. Ongeveer ’n
maand voor die verhoor is kennis gegee van die verweerderes se
voorneme om haar pleit te vervang met ’n gewysigde
pleit
waarin aangevoer word, weens ’n verskeidenheid van redes, dat
geeneen van die eisers se eise soos gepleit regtens
’n
skuldoorsaak daarstel nie. In effek kom die gewysigde pleit derhalwe
op ’n eksepsie neer, sonder dat dit pertinent
daardie etiket
dra.
Tydens
’n voorverhoor konferensie tussen die onderskeie
regsverteenwoordigers gehou ingevolge reël 37 is daar
namens die verweerderes voorgestel dat die regspunte geopper in
die voorgestelde gewysigde pleit ingevolge reël
33(4)
afsonderlik bereg word. Nadat die eisers aanvanklik beswaar
aangeteken het teen die voorgestelde wysiging sowel as
die
voorgestelde werkswyse, is daar by die aanvang van die verhoor
tussen die partye ooreengekom dat die verweerderes wel toegelaat
sal word om die betrokke regspunte
in limine
te argumenteer
asof daar betyds eksepsie aangeteken is. Dit is onderhewig aan die
voorbehoud dat ’n uitspraak in die
guns van die
verweerderes op die regspunte nie sondermeer aanleiding
sal gee tot afwysing van die eisers se eis nie,
maar dat hulle
geleentheid gebied sal word (indien aldus geadviseer) om hul
besonderhede van eis te wysig, soos wanneer ’n
eksepsie
gehandhaaf sou word.
Ek
het daarop die voordeel geniet van deeglike debat aangaande die
regspunte deur Adv
Van der Walt SC
namens die eisers en Adv
De Vos SC
namens die verweerderes onderskeidelik. Ek oorweeg
vervolgens die drie afsonderlike gedingsoorsake agtereenvolgens
teen
die agtergrond van die besware daarteen geopper.
Hoofeis
In
die
hoofeis
word gepleit, na uiteensetting van die feitebewerings hierbo
opgesom, dat die insolvent die bogemelde betalings aan Nedbank
gemaak het
‘
11.
. . . tot voordeel van beide die insolvent en die verweerderes en ter
delging van hulle gesamentlike en afsonderlike aanspreeklikheid
teenoor Nedbank, en ter behoud van die eiendom.
12.
In die vooropstelling is die verweerderes aanspreeklik om haar
pro
rata
gedeelte
van die gesamentlike skuld wat die insolvent aan Nedbank betaal het,
aan die eisers in hulle hoedanigheid as die medekuratore
van die
boedel van die insolvent te betaal.’
Uit
hierdie formulering blyk dit dat hierdie eis twee afsondelike
gedingsoorsake ineenvleg: enersyds is dit gebaseer op ’n
onderlinge verhaalsreg van medeskuldenaars (
in
solidum
) waar die gesamentlike skuld
deur een van hulle gedelg is; andersyds, op die regsverhouding
tussen mede-eienaars.
2
Die eisers se saak is dan ook op beide grondslae
voor my geargumenteer en word vervolgens afsonderlik oorweeg.
Medeskuldenaars
Die
posisie in ons reg aangaande die onderlinge verhaalsreg van
medeskuldenaars wat gesamentlik en afsonderlik ten opsigte van
’n
bepaalde skuld aanspreeklik is, is allesbehalwe duidelik. So bv
merk De Wet & Van Wyk
3
op: ‘Ons ou skrywers praat ’n bietjie
deurmekaar oor hierdie kwessie’ terwyl Van der Merwe ea
4
daarop wys dat ‘[d]ie regspraak oor die
onderwerp nie besonder duidelik [is] nie.’
Nieteenstaande
die onsekerheid waarna die geleerde skrywers verwys en die
afwesigheid van direkte gesag op die punt, is die oorwig
van gesag
waarna ek verwys is tot die effek dat ’n medeskuldenaar
in
solidum
wat die skuld vereffen het in
beginsel wel ’n verhaalsreg teen die ander medeskuldenaars
het, net soos in die geval van
’n medeborg wat die hoofskuld
gedelg het. Sodanige verhaalsreg ontstaan wanneer die medeskuldenaar
die hele gesamentlike
skuld betaal het, in welke geval sodanige
medeskuldenaar van elke ander medeskuldenaar betaling kan eis
van sy of haar
pro rata
gedeelte
van die skuld.
5
Waar die hele skuld nie gedelg is nie, is dit
onduidelik of een medeskuldenaar wat betaal het wel enige
verhaalsreg teen ander
medeskuldenaars kan uitoefen.
6
Hoe dit ookal sy, indien dit vir huidige
doeleindes ten gunste van die eisers aanvaar sou word dat ’n
medeskuldenaar
wel in beginsel ’n verhaalsreg kan uitoefen
alvorens die
volle
skuld
betaal is, moet dit myns insiens op die beskikbare gesag verder
aanvaar word (a) dat sodanige reg slegs kan ontstaan
waar die
medeskuldenaar meer as sy of haar
pro
rata
gedeelte van die skuld betaal
het; in welke geval (b) die eis beperk is tot die gedeelte van
die betaling wat sy of haar
pro rata
gedeelte oorskry.
7
In
die eisers se hoofeis word dit nie beweer dat die insolvent die hele
skuld betaal het nie; trouens, uit die somme blyk dit
dat hy dit nie
kon betaal het nie, aangesien die drie lenings in totaal tussen
R4.5 m en R6 m beloop, wat etlike jare
se rente uitsluit.
(Die totale verbandskuld beloop R5.5m plus rente en ander koste.)
Voorts word dit ook nie in die besonderhede
van vordering beweer dat
die insolvent meer as sy
pro rata
gedeelte van die gesamentlike skuld
betaal het nie. Namens die eisers is gepoog om hierdie leemte aan te
vul deur te argumenteer
dat elke afsonderlike paaiement wat ten
opsigte van die lenings betaalbaar was as ’n afsonderlike
skuld beskou
moet word, met die gevolg dat die insovent geregtig is
om ’n
pro rata
gedeelte
van elke paaiement van die verweerderes te verhaal. Ek is nie
na enige gesag verwys ter ondersteuning van hierdie
vindingryke
argument nie en kan my nie met hierdie benadering vereenselwig nie.
Volgens my oordeel moet daar onderskei word tussen
’n
skuld
,
aan die een kant, en die
wyse van
betaling
van die skuld, aan die ander
kant. Die feit dat die totale skuld betaalbaar was by wyse van 240
maandelikse paaiemente beteken
nie dat daar nou 240 afsonderlike
skulde
tussen
die partye tot stand kom, ten opsigte van elk waarvan ’n
medeskuldenaar wat betaal het ’n verhaalsreg teen
die ander
medeskuldenaars verwerf nie. So ’n benadering sou
klaarblyklik ’n onhoudbare situasie skep as
gevolg van
die potensiële veelvuldigheid van aksies. Ek is van mening dat
die
skuld
waarvoor
die insolvent en die verweerderes gesamentlike aanspreeklikheid
aanvaar het die totale bedrag van die onderskeie
lenings omvat,
gevolglik moet die partye se
pro rata
aanspreeklikheid bepaal word met
verwysing na daardie globale bedrag.
8
My
gevolgtrekking is derhalwe dat die besonderhede van vordering nie
genoegsame bewerings bevat om ’n gedingsoorsaak gebaseer
op
die medeskuldverhouding te ondersteun nie.
Mede-eiendom
Die
volgende vraag is of die besonderhede soos gepleit wel vatbaar is
vir ’n eis gebaseer op mede-eiendom. In hierdie verband
steun
die eisers op die beginsel dat alle mede-eienaars verplig is om
proporsioneel tot noodsaaklike uitgawes ter behoud
van die
eiendom by te dra.
9
Op die veronderstelling dat
paaiemente op lenings aangegaan wel as ‘noodsaaklike uitgawes
ter behoud van die eiendom’
beskou kan word (’n aspek
waaroor dit nie tans nodig is om ’n mening uit te spreek nie),
gaan hierdie gedeelte van
die eis om dieselfde redes mank aan die
nodige bewerings, aangesien dit nie beweer word dat die insolvent
meer as sy proporsionele
gedeelte van die uitgawes betaal het.
Dit
volg dus, volgens my oordeel, dat die hoofeis soos tans gepleit nie
’n gedingsoorsaak openbaar nie.
Eerste alternatiewe eis
In
die
eerste alternatiewe eis
word die bogenoemde
feitebewerings aangaande die lenings, verbande en betalings
herhaal en by hierdie eis ingelyf, waarna
die volgende gepleit word:
‘
14.
Ten einde te verhoed dat die eiendom ingevolge die bepalinge van die
gemelde geldleningsooreenkomste en verbande uitgewin
word, het
die insolvent gedurende die periode Augustus 2004 tot Augustus 2009
die bedrag van [R3.3 m] aan Nedbank betaal,
welke bedrag
gesamentlik en afsonderlik deur die insolvent en die verweerderes
verskuldig was aan Nedbank en versekureer was
deur die gemelde
verbande wat oor die eiendom geregistreer was.
15.
In die proses het die insolvent die belange van die verweerderes
behartig deurdat hy die bedrag van [R1.65 m] wat die
verweerderes
pro
rata
ingevolge die leningsooreenkomste gesluit met Nedbank aan
hulle verskuldig was, betaal het.
16.
In die vooropstelling was die verweerderes ten koste van die
insolvent verryk en was die insolvent dienooreenkomstig verarm
in die
bedrag van [R1.65 m].’
Insoverre
hierdie eis op verryking berus, is dit namens die eisers duidelik
gemaak dat daar nie op die
condictio
indebiti
(of enige ander
condictio
)
gesteun word nie, maar wel op die beginsels van
negotiorum
gestio
(of saakwaarneming). Dit is
egter belangrik om in gedagte te hou, soos Van Zyl
10
tereg aantoon, dat elke
saakwaarnemingsaksie nie outomaties ’n verrykingsaksie
is nie: uit die gesag blyk
dit naamlik dat saakwaarneming slegs in
sekere eng omskrewe omstandighede verrykingsaanspreeklikheid
tot gevolg
het.
11
Gelukkig
is dit nie vir my nodig om vir huidige doeleindes in diepte op die
groot volume geleerdheid oor hierdie interessante
onderwerp in
te gaan nie. Volgens my oordeel kan die huidige saak beslis word op
die basis dat die eisers se verrykingseis
regtens onbestaanbaar is,
aangesien een van die essensiële vereistes vir ’n
verrykingsaksie ontbreek, naamlik
die vereiste dat die
verryking ongeregverdig of
sine causa
moet wees.
12
Die
probleem met die eisers se eis soos tans geformuleer is dat enige
verryking aan die kant van die verweerderes nie ongeregverdig
of
sine causa
kan
wees nie, aangesien sy en die insolvent in ’n konraktuele
verhouding tot mekaar gestaan het as medeskuldenaars.
Soos
hierbo aangetoon, het die insolvent in beginsel wel ’n
verhaalsreg teenoor die verweerderes (as medeskuldenaar
in
solidum
) vir betalings deur hom gemaak
namens albei van hulle. Dit volg dat daar nie in hierdie
omstandighede sprake kan wees van
verrykingsaanpreeklikheid
nie. Die insolvent se remedie (indien enige) moet derhalwe in die
kontraktuele verhouding
tussen die partye gesoek word.
Dit
volg derhalwe dat die bewerings in paragrawe 14 16 van die
besonderhede van vordering insgelyks nie ’n gedingsoorsaak
openbaar nie.
Tweede alternatiewe eis
Ter
ondersteuning van die tweede alternatiewe eis beweer die eisers dat
die betrokke betalings deur die insolvent aan Nedbank
‘vervreemding
van goed van die insolvent’ is, soos bedoel in art 26 van
die Insolvensiewet, 24 van 1936. Hulle
pleit dan verder:
‘
19.
Vyftig present van die betrokke betalings (vervreemdings) was gemaak
tot voordeel van die verweerderes deurdat die insolvent
die
verweerderes se
pro
rata
gedeelte van die gesamentlike skuld wat die insolvent en die
verweerderes aan Nedbank Bpk verskuldig was, betaal het
sonder dat die insolvent teenwaarde daarvoor vanaf die verweerderes
ontvang het.
20.
Die bedrag van ongeveer R1 076 897.41 wat aldus betaal is
en wat deel is van die gemelde
pro
rata
gedeelte van die betrokke gesamentlike skuld wat die verweerderes aan
Nedbank verskuldig was, was betaal meer as twee jaar voordat
die
boedel van die insolvent gesekwestreer is.
21.
Onmiddellik nadat die bedrag in paragraaf 20 gemeld betaal was, het
die insolvent se laste sy bates oorskry.
22.
Die bedrag van R579 867.84 wat aldus betaal is en wat deel is
van die gemelde
pro
rata
gedeelte van die betrokke gesamentlike skuld wat die verweerderes aan
Nedbank verskuldig was, was betaal binne twee jaar voor die
sekwestrasie van die boedel van die insolvent.
23.
Gevolglik behoort die vervreemding of vervreemdings
vis-à-vis
die
insolvent en die verweerderes ingevolge die bepalinge van art 26 van
die Insolvensiewet, 24 van 1936, deur die Hof tot
niet gemaak te
word.’
Ingevolge
die bepalings van art 26 is die hof by magte om ‘elke
vervreemding van goed sonder teenwaarde’
tot niet te maak
waar sodanige vervreemding in insolvente omstandighede gemaak is (om
die ietwat omslagtige bewoording van die
artikel te parafraseer).
Hierdie been van die eis is gebaseer op die foutiewe
veronderstelling dat die vervreemdings tersyde
gestel kan word
indien die insolvent geen teenwaarde ontvang het
van
die verweerderes
vir die betalings wat
hy aan Nedbank gemaak het ten opsigte van haar
pro
rata
gedeelte van die skuld nie. Die
ware posisie, volgens my oordeel, is dat die waarde nie vanaf die
verweerderes afkomstig hoef
te wees nie; die hof kyk objektief na
die vraag of die insolvent wel enige waarde in ruil vir die
vervreemding ontvang het,
afgesien vanwaar dit afkomstig was.
13
In
die huidige saak het die insolvent sekere betalings aan Nedbank
gemaak uit hoofde van sy eie bestaande kontraktuele verpligting
teenoor die bank. Deur sodanige betalings is die insolvent se
eie
skuld teenoor die bank
pro tanto
verminder, met die
gevolg dat hy klaarblyklik waarde vir die vervreemding ontvang
het.
Bindende
gesag vir hierdie benadering is te vind in die uitspraak van die
Appèlhof in
Estate Jager v
Whittaker & another
,
14
waar die toepaslike beginsel soos volg opgesom
is:
‘
The
words “disposition not made for value” mean, in their
ordinary signification, a disposition for which no benefit
or value
is or has been received or promised as a
quid
pro quo
.
. . . If a lawful obligation to pay the money in fact
exists, then the obvious benefit which the payer receives in return
for such payment is a discharge from his liability to pay. Such a
payment decreased his assets, but at the same time it diminishes
his
liabilities, and in transactions which are entered into in the
ordinary course of business such a discharge from a liability
would
be value for the payment made.’
Presies
dieselfde oorwegings geld hier, met die gevolg dat die besonderhede
van vordering ten opsigte van hierdie eis insgelyks
nie ’n
gedingsoorsaak daarstel nie.
Gevolgtrekking
Weens
die bostaande redes is ek derhalwe van mening dat geeneen van die
eisers se eise, soos tans geformuleer, ’n afdwingbare
skuldoorsaak teen die verweerderes daarstel nie. Dit volg derhalwe
dat paragrawe 11 23 van die eisers se gewysigde besonderhede
van vordering deurgehaal behoort te word. Dit volg verder dat die
verweerderes wesenlik suksesvol was in haar regsargumente
en
dat sy gevolglik op haar koste van die argument geregtig is, asof ’n
suksesvolle eksepsie aangeteken was.
Namens die eisers is ek egter
versoek om die verweerderes te gelas om die eisers se verspilde
koste te betaal wat teweeggebring
is deur die feit dat hulle verplig
was om voor te berei vir die verhoor wat op 29 Julie 2013 sou begin,
maar wat nie voortgegaan
het nie omdat die partye ooreengekom het om
die regspunte te argumenteer. Namens die verweerderes is egter
aangevoer dat
die eisers vir geruime tyd voor die verhoor reeds
bewus was van die verweerderes se voorneme om aansoek te doen om
wysiging van
haar pleit ten einde die bogenoemde regspunte te opper
en dat die eisers derhalwe op hul eie risiko voorberei het vir die
verhoor.
Volgens my oordeel behoort elk van die partye in die
omstandighede verantwoordelik te wees vir enige verspilde
voorbereidingskoste
ten opsigte van die verhoor wat nie
voortgegaan het nie.
Gevolgtrekking
In
die omstandighede word dit soos volg beveel:
1.
Paragrawe 11–23 van die eisers se gewysigde besonderhede van
vordering word deurgehaal.
2.
Verlof word aan die eisers verleen, indien aldus geadviseer, om binne
15 dae vanaf datum van hierdie uitspraak aansoek te doen
om hul
besonderhede van vordering te wysig.
3.
Die eisers word gelas om die verweerderes se gedingskoste meegebring
deur die argument te betaal.
4. Elke party sal
aanspreeklik wees vir sy of haar eie verspilde koste meegebring
deur voorbereiding vir die verhoor van die
aksie op 29 Julie 2013,
indien enige.
B M Griesel
Regter
1
Uit
die skedule vervat in die ooreenkoms wil dit voorkom asof slegs ’n
bedrag van R2 014 234 werklik voorgeskiet
is uit hoofde
van hierdie leningsooreenkoms.
2
Dit
mag wees dat daar ook ’n verdere dimensie tot die hoofeis
bestaan uit hoofde van die feit dat die insolvent (in wie
se skoene
die eisers vir huidige doeleindes staan) en die verweerderes met
mekaar getroud is. Dit sou kon meebring dat beginsels
van die
huweliksreg – wat insluit die wedersydse onderhoudsplig
tussen eggenote; gesamentlike en afsonderlike aanspreeklikheid
vir huishoudelike uitgawes; en ’n moontlike regresreg
tussen eggenote – ook by beregting van die huidige
eise
ter sprake mag kom, soos in die verweerderes se voorgestelde
wysiging tot haar pleit in die vooruitsig gestel word. Hierdie
aspekte is egter nie tydens argument voor my aangespreek nie en word
gevolglik vir huidige doeleindes buite rekening gelaat.
3
Kontraktereg
& Handelsreg
5de uitg Vol 1 p 139.
4
SWJ
van der Merwe, LF van Huyssteen, MFB Reinecke & GF Lubbe
Kontraktereg – Algemene Beginsels
4de uitg (2012) pp
231 232.
5
Benewens
die skrywers na verwys in die vorige twee voetnote, sien ook JW
Wessels
The Law of Contract in South Africa
(1937)
§1553 1559; RH Christie & GB Bradfield
Christie’s
The Law of Contract in South Africa
6ed pp 263 266;
Contract
5(1)
Lawsa
2ed para 423;
Gerber v Wolson
1955 (1) SA 158
(A) op 164F G;
ASA Investments v Smit
1980 (1) SA 897
(K) op 901G 903C.
6
Sien
bv CF Forsyth & JT Pretorius
Caney’s The Law of
Suretyship
6de uitg p 176 180; 26
Lawsa
2ed
para 308
sv Suretyship
; Ellison Kahn
Contract and
Mercantile Law through the Cases
2ed Vol 2 p 819; JT
Pretorius ‘A running contribution between co-sureties?’
100
[1983]
SALJ
387
at 391.
7
Sien
bv Wessels
op cit
§1558; DJ Joubert
General
Principles of the Law of Contract
p 315;
Lever v Buhrmann
1925 TPD 254
at 262 and 265
in fin
.
8
Vgl
ASA Investments v Smit, supra,
op 903B C.
9
CG
van der Merwe
Sakereg
2de uitg (1989) p 384. Sien ook
Things
27
Lawsa
1st reissue para 411.
10
DH
van Zyl
Die Saakwaarnemingsaksie as Verrykingsaksie in die SA Reg
(Proefskrif, Leiden 1970) p 147 ev.
11
Sien
ook, deur dieselfde skrywer,
Negotiorum Gestio in South African
Law
(Butterworths 1985) pp 86 ev;
Enrichment
9
Lawsa
2ed para 223;
Mandate and Negotiorum Gestio
17
Lawsa
2ed para 35 39; Daniel Visser
Unjustified Enrichment
pp 565 590;
Odendaal v Van Oudtshoorn
1968 (3)
SA 433
(T) te 438;
Absa Bank Ltd t/a Bankfin v Stander t/a CAW
Paneelkloppers
1998 (1) SA 939
(C) te 944J 956H. Sien ook
LTC Harms
Amler’s Precedents of Pleadings
7de uitg op
298.
12
Sien
bv
Enrichment
9
Lawsa
2ed para 209 en die gesag
aangehaal in n 36.
13
Sien
bv Bertelsmann
et al, Mars – The Law of Insolvency in South
Africa
9ed para 13.4, 13.6; Catherine Smith
The Law of
Insolvency
3de uitg p 123.
14
1944
AD 246
te 250 251.