About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2013
>>
[2013] ZAWCHC 102
|
|
S v Swartz (VSH 23/13) [2013] ZAWCHC 102 (31 July 2013)
IN DIE HOЁ HOF
VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOЁ
HOF, KAAPSTAD)
SPESIALE HERSIENINGSNR:
13669
LANDDROS SE REEKSNR:
19/13
SAAK NO: VSH 23/13
In die saak tussen:
DIE STAAT
vs
THYS SWARTZ
HERSIENINGSUITSPRAAK:
31 JULIE 2013
STEYN, R:
1] Hierdie aangeleentheid
dien voor hierdie hof op spesiale hersiening ingevolge die bepalings
van art 304A van die Strafproseswet,
51 van 1977, (‘die Wet’)
nadat die streeklanddros van Vredendal van oordeel was dat die
skuldigbevindings- verrigtinge
in die hof
a quo
nie
ooreenkomstig die reg geskied het nie.
2] Die beskuldigde was
aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer, deurdat
hy die klaagster op 5 April 2012 met
‘n mes
op
die bors
gesteek het. Die beskuldigde het regsverteenwoordiging gehad en het
onskuldig gepleit. In sy breedvoerige pleitverduideliking
het hy
ontken dat dit hy was wat die klaagster met ‘n mes gesteek het.
Getuienis is aangehoor en na die skuldigbevinding
is die saak deur
die verhoorlanddros na die streeklanddros verwys ingevolge die
bepalings van artikel 116 van die Wet vir vonnisoplegging.
3] Op die stadium toe die
saak voor die streeklanddros gedien het was die beskuldigde
verteenwoordig deur ‘n nuwe regsverteenwoordiger.
Sy het na
konsultasie met die beskuldigde, bestudering van die rekord en na
aanleiding van instruksies betoog dat reg nie behoorlik
geskied het
in die hof
a quo
voor die skuldigbevinding nie en versoek dat
die saak ingevolge die bepalings van art 304A vir spesiale hersiening
na die Hoë
Hof verwys word. Haar betoog was hoofsaaklik, soos sy
dit gestel het, dat die verhoorlanddros in die arena afgedaal het en
verblind
was deur die stof wat opgeskop was in die proses.
4] Dit is duidelik uit
die bestudering van die rekord dat daar onreëlmatighede met die
verhoor en ook probleme met die opname
van die verrigtinge was. Die
klaagster het so gemompel dat haar antwoorde op vrae gereeld as
‘onhoorbaar’ genotuleer
was. Die landdros het oordrewe
entoesiasties deelgeneem aan die lei van die staatsgetuies en die
kruisverhoor van die beskuldigde
en sy getuie Me Swartz.
5] Aan die einde van die
staatsaak is ‘n J88 mediese verslag deur die staat ingehandig
as ‘n bewysstuk, sonder dat die
getuienis van die mediese
beampte gelei is. Die datum van die verslag was meer as ‘n
maand na die beweerde insident met
geen verduideliking vir die
tydsverloop nie. Benewens die naam van die klaagster en die datum is
die verslag vir my bykans onleesbaar.
Die woord ‘messteek’
verskyn en dit blyk dat die klaagster ook ‘n blindederm
operasie ondergaan het in die
Paarl hospitaal. Volgens die skets op
die J88 is daar ‘n lang snywond in die middel van die borskas
van die klaagster.
Hierdie skets stem nie heeltemal ooreen met die
klaagster se getuienis nie. Sy was ook tydens haar getuienis vaag oor
die operasie.
Die erkende drankgebruik deur die klaagster tydens die
relevante aand kon bygedra het tot verwarring aan haar kant.
6] Na die inhandiging van
die mediese verslag en die sluiting van die staatsaak het die
beskuldigde se verteenwoordiger versoek,
op die instruksies van die
beskuldigde, dat die klaagster weer geroep word om by haar vas te
stel wat haar getuienis presies was
met betrekking tot die messteek.
Hierdie getuienis kon dalk dui op die geloofwaardigheid en
betroubaarheid van die klaagster se
getuienis. Die landdros, wat
spekulatiewe afleidings gemaak het uit die skets van die mediese
praktisyn, het geweier om aan hierdie
versoek gehoor te gee.
7] Die beskuldigde se
nuwe regsverteenwoordiger se versoek dat die saak vir hersiening
verwys moet word, op die stadium wat die
verrigtinge voor die
streeklanddros gedien het voor vonnisoplegging, is nie opponeer deur
die staat nie. Die streeklanddros het
die saak na 3 September 2013
uitgestel in afwagting van die uitslag van die spesiale hersiening
(dit sou beter gewees het indien
die saak
sine die
uitgestel
was). Die beskuldigde het borg gekry hangende die afhandeling van die
hersieningsaansoek.
8] Die streeklanddros se
versoek aan hierdie hof meld dat:
‘
Na deurlees
van die saak rekord en na aanhoor van die betoë namens die
beskuldigde en die staat bestaan daar twyfel by die
streeklanddros of
die verrigtinge in die hof
a quo
ooreenkomstig die reg geskied
het.’
9] Verskeie aspekte word
genoem ter illustrasie van die redes vir die streeklanddros se
ongemak met die skuldigbevindingsverrigtinge,
wat insluit belangrike
weersprekings tussen die getuies wat
geї
gnoreer
was. Daar word ook kritiek gelewer op die intensiewe kruisverhoor
van die beskuldigde en Me Swartz deur die landdros wat
oor bladsye
van die rekord strek. Die streeklanddros het gevolglik betwyfel of
geregtigheid tydens die skuldigbevindingsprosedure
geskied het.
10] Artikel 304 A van die
Strafproseswet bepaal dat:
‘
(a) Indien ‘n
landdros of streeklanddros na skuldigbevinding maar voor vonnis van
mening is dat die verrigtinge ten opsigte
waarvan hy ‘n
skuldigbevinding uitgebring het nie ooreenkomstig die reg is nie of
dat twyfel bestaan of die verrigtinge ooreenkomstig
die reg is, moet
hy, sonder om die beskuldigde te vonnis, die redes vir sy mening op
skrif stel en dit tesame met die oorkonde
van die verrigtinge stuur
aan die Griffier van die Provinsiale Afdeling wat regsbevoegdheid
het, ... vir hersiening voor ‘n
regter in kamers, wat dieselfde
bevoegdhede ten opsigte van daardie verrigtinge het asof die oorkonde
daarvan ingevolge artikel
303 aan hom voorgelê is.’
11] Verwysings onder
hierdie artikel vir spesiale hersiening is ook van toepassing waar ‘n
ander landdros as die landdros
wat die skuldigbevinding gemaak het
die saak verder aanhoor en geskied nie in omstandighede wanneer daar
slegs ‘n
twyfel
bestaan of geregtigheid geskied het of
wanneer daar ‘n beuselagtige onreëlmatigheid is wat nie
noodwendig lei tot regskending
met wesenlike benadeling vir ‘n
beskuldigde nie. Die toets is of dit onregverdig sou wees en tot
onherstelbare nadeel vir
‘n beskuldigde sou lei om toe te laat
dat die saak sy finale verloop neem voordat daar regterlike inmenging
is.
12] Hiemstra,
Suid-Afrikaanse Strafproses, 6de Uitgawe, bl. 810 huldig die mening
dat artikel 304A slegs van toepassing is waar
die beskuldigde nie by
die verhoor regsverteenwoordiging geniet het nie. Hy verwys na
S
v Klaase 1998(1) SASV 317 (K).
In die gemelde uitspraak van
Rose-Innes R, met wie Motale WR saamgestem het, is die volgende
gemeld:
‘
Dit is na my
mening egter
sterk te betwyfel
dat art 304A van toepassing is
waar die beskuldigde deur ‘n regsadviseur bygestaan word tydens
die verrigtinge waar die beskuldigde
skuldig bevind is asook tydens
die vonnisverrigting voor die ander landdros wat ingevolge art 275
die saak oorneem. Die bevoegdhede
wat hierdie hof ingevolge art 304A
verleen word, is uitdruklik dieselfde as in die geval van ‘n
hersiening in die gewone
loop in terme van art 303. So ‘n
hersiening is slegs van toepassing ten opsigte van ‘n
beskuldigde wat nie deur ‘n
regsadviseur bygestaan is nie
(Sien art 302(3)). In die huidige saak is die beskuldigde nie ‘n
onverteenwoordigde beskuldigde
nie en kan hy sy reg van appèl
of hersiening van gebruik maak indien hy wil.’
13] Rose-Innes R verwys
onder andere na
S v Makhubele 1987(2) SA 541 (T)
waar art
304A deeglik bespreek is. In daardie uitspraak het die hof neergelê
dat die artikel uitgelê moet word in
samehang met die
prosedure vir hersiening ingevolge artikels 302 tot 306 en 309 (3)
van die Wet. Daar word gemeld dat die toets
vir inmenging op
hersiening voor vonnisoplegging is of dit onregverdig sou wees en tot
onherstelbare nadeel vir ‘n beskuldigde
sou lei om toe te laat
dat die saak tot ‘n einde gevoer word voor inmenging.
14] Die benadering in
Klaase
, supra, dat art 304A moontlik nie van toepassing is
waar ‘n beskuldigde verteenwoordigd is nie, was ‘n
obiter
dictum
- en die hof het slegs ‘n twyfel uitgespreek, maar
in daardie saak het die Hof bevind dat geen onreëlmatigheid
plaasgevind
het nie en die saak is terugverwys vir vonnis.
15] Dit blyk uit die
uitspraak in
S v Williams 2005 (2) SAKV 290 (K
) dat die hof
aanvaar het dat Klaase reg beslis is, maar die strekking van die
bepalings van art 304A was nie pertinent van toepassing
of bespreek
nie.
16]
S
v Khumalo [2012] ZAGPJHC 14
is ‘n uitspraak van Wepener R met wie Meyer R saamgestem het.
In ‘n gedetaileerde en wel deurdagte uitspraak het die
hof tot
die gevolgtrekking gekom dat Rose-Innes R se afleiding in Klaase, dat
art 304A moontlik nie van toepassing was op ‘n
verteenwoordigde
beskuldigde nie, ongegrond was en dat ‘n spesiale hersiening
ingevolge die bepalings van art 304A van toepassing
was ongeag of ‘n
beskuldigde behoorlik verteenwoordig was of nie. Na my mening is
hierdie die korrekte benadering vir die
redes soos uiteengesit in die
gemelde uitspraak. Met verwysing na die aspekte waarna ek hieronder
verwys, dink ek egter nie ek
hoef ‘n bindende bevinding op
hierdie aspek te maak nie.
17] Nie elke
onreëlmatigheid sal daartoe lei dat hofverrigtinge nietig
verklaar word nie. Sien
S
v Chukwu & Another 2010(2) SAKV 29 (GNP)
en ook
S v Nghondzweni
2013(1) SAKV 272 (FB)
.
Hierdie sake het gehandel met regsverteenwoordigers wat nie deurgaans
die reg tot regsverskyning geniet het nie. Waar die
regsverteenwoordiger
wat verskyn het goed gekwalifiseer was en sy
verteenwoordiging van die beskuldigde nie gelei het tot die
beskuldigde se nadeel
nie het die hof bevind dat die beskuldigde wel
regverdig behandel was. Maar, waar die gebrek a
an
‘n regsverteenwoordiger se reg om te verskyn gedurende ‘n
gedeelte van die verhoor die regsproses nadelig beїnvloed
het
,
mag die proses in die geheel tersyde gestel word.
18] In
S v Dlamini
en ‘n Ander 2008(2) SAKV 202 (T)
is bevind dat die
deelname van ‘n regsverteenwoordiger sonder
verskyningsbevoegdheid aan verrigtinge ‘n onreëlmatigheid
daar gestel het wat van so ‘n aard was dat dit
per se
tot regskending gelei het. Die verrigtinge was tot so ‘n mate
deur die onreëlmatigheid besmet dat dit in die geheel
tersyde
gestel is en die hof het dit vir die Direkteur van Openbare
Vervolging gelaat om te besluit of hy opnuut wou vervolg.
19] In
S v Shamatla
2004(2) SAKV 570 (E)
was ‘n verteenwoordigde beskuldigde
nie die geleentheid gegun om die hof toe te spreek voor uitspraak
nie. In hierdie
saak is beslis dat wanneer dit vasgestel is dat ‘n
beskuldigde se konstitusionele reg tot ‘n regverdige verhoor
benadeel
is, onder andere deurdat hy nie die geleentheid gegun is om
die hof toe te spreek voor uitspraak op die meriete van die saak nie,
word die regsgeldigheid van die proses vernietig.
20] In bogemelde saak was
die verrigtinge na die Hoër Hof verwys op spesiale hersiening
ingevolge die bepalings van art 304A
van die Wet en is daar
spesifiek oorweeg of daar beoog was dat die prosedure uiteengesit in
hierdie artikel ook van toepassing
is by geleenthede waar ‘n
beskuldigde persoon behoorlik verteenwoordig was. Die hof het bevind
dat selfs indien die saak
nie behoorlik verwys was na die Hoër
Hof op spesiale hersiening nie, die feit onbetwisbaar is dat indien
die Hoër Hof
op daardie stadium bewus was van die feit dat daar
‘n ernstige onreëlmatigheid in die verhoor prosedure
plaasgevind
het, die vraag is of die onreëlmatigheid van so ‘n
aard was dat die prosedure ter syde gestel moes word.
21] Indien die bevinding
was dat daar wel ‘n ernstige onreëlmatigheid was, sodat
die prosedure in elk geval uiteindelik
ter syde gestel sou word, het
die hof bevind dat dit ‘n sinnelose, nuttelose oefening sou
wees om aan te dring dat die
letter van die wet nougeset toegepas
word en dat ‘n saak by ‘n landdros moet bly om hom toe te
laat om ‘n vonnis
op te lê wat net mettertyd ter syde
gestel sou word.
22] Die houding van
Pickering R in
S v Shamatla
, supra, was dat indien dit
vasgestel is dat ‘n beskuldigde se konstitusionele reg tot ‘n
regverdige verhoor benadeel
is sal die regsgeldigheid van die
prosedure vernietig wees en behoort die skuldigbevinding en vonnis
ter syde gestel te word.
Dit sou geen doel dien om die landdos te
verplig om vonnis op te lê op ‘n beskuldigde en dan van
die beskuldigde te
verwag om mettertyd die Hoër Hof te nader om
‘n onreëlmatigheid ter syde te stel nie. Die
skuldigbevinding van
die beskuldigde was ter syde gestel en die saak
was terug verwys na die landdroshof vir verhoor voor ‘n ander
landdros.
23] In
S v Mabote
en Andere 1983(1) SA 745 (O)
is ‘n saak op hersiening
gestuur deur die landdros wat toegegee het dat ‘n
onreëlmatigheid plaasgevind het, maar
van mening was dat daar in
elk geval voldoende getuienis was om die skuldigbevinding van die
beskuldigde te regverdig. Die landdros
het derhalwe aangevoer dat
die verrigtinge nie ter syde gestel moes word nie omdat die
beskuldigde nie benadeel is deur die onreëlmatigheid
nie. In
daardie saak het MT Steyn R, met wie LC Steyn R saamgestem het, op
bl 746 G – H die volgende gesê:
‘
Dit is
kernbeginsels van ons strafreg dat ‘n aangeklaagde die reg het
om die hof wat hom verhoor toe te spreek voor uitspraak
op die
meriete van die misdryf hom ten laste gelê en dat die
geleentheid hom gegun word om daardie reg uit te oefen ongeag
sy
vooruitsigte van sukses. ‘n Versuim om hom daardie geleentheid
te gun tas die wese van ons strafregpleging aan en kan
nie anders of
minder as ‘n growwe onreëlmatigheid beskou word nie. Só
‘n onreëlmatigheid vernietig
die regverdigheid en
gevolglik ook die regsgeldigheid van die betrokke verrigtinge.’
24] Dit is vir my
duidelik dat waar regsbelang vereis dat die Hoër Hof inmeng, die
hof nie moet huiwer om dit te doen nie,
ten spyte van die feit dat ‘n
beskuldigde verteenwoordig was gedurende sy of haar verhoor, in
omstandighede waar ‘n
ander landdros, heeltemal korrek, van
mening was dat daar regskending plaasgevind het van so ‘n aard
dat die beskuldigde
nie ‘n regverdige verhoor gehad het nie.
Al geleentheid wanneer die verhoor en skuldigbevinding nie ter syde
gestel mag
word na aanleiding van ‘n onreëlmatigheid nie,
is wanneer, ten spyte van die onreëlmatigheid, daar nie
regskending
plaasgevind het nie.
25] Dit is my mening dat
in hierdie saak, wat na my verwys is, ‘n onreëlmatigheid
plaasgevind het as gevolg van die optrede
van die landdros wat
onbehoorlik ingemeng het in die verrigtinge en ook nie aan die
beskuldigde die geleentheid gegee het nie om
die klaagster terug te
roep vir ondervraging na aanleiding van nuwe getuienis wat voor die
hof geplaas is by wyse van die J88 verslag
van ‘n mediese
beampte, in omstandighede waar die inhoud van die verslag nie
voor-die-hand-liggend was nie. Die regsverteenwoordiging
van die
beskuldigde tot en met sy skuldigbevinding behoort nie ‘n rede
te wees waarom hierde beskuldigde nie reeds voor vonnis
die
verhooronreëlmatighede kan aanspreek en die skuldigbevinding
laat ter syde stel nie. Om van hom te verwag om in hierdie
omstandighede voort te gaan met vonnisprosedure en daarna die moeite
en koste te moet aangaan van verdere regstappe omdat hy nie
‘n
regverdige verhoor gehad het nie, is na my mening sinneloos en
nadelig vir die beskuldigde en nie in belang van geregtigheid
nie.
26] Dit is ongelukkig
onteenseglik waar dat daar voorsittende beamptes is wat
regsverteenwoordigers soms manipuleer of intimideer
of nie altyd
volgens regterlike voorskrifte optree nie. Wanneer sulke optrede
daartoe lei dat ‘n beskuldigde nie ‘n
regverdige verhoor
het nie, behoort die feit dat die beskuldigde, wat benadeel word deur
die optrede van die voorsittende beampte,
regsverteenwoordiging
geniet het, nie ‘n belet te wees teen hersiening ingevolge die
bepalings van hierdie artikel van die
Wet nie.
27] In die omstandighede
van hierdie saak is die bevel dus:
1. Die skuldigbevinding
van Thys Swartz in saak no VSH 23/13 in die Vredendal Landdroshof op
22 Januarie 2013 word ter syde gestel;
2. Die Direkteur van
Openbare Vervolging mag oorweeg of die saak weer op die rol geplaas
moet word vir verhoor
de novo
voor ‘n ander landdros.
____________
E.T. STEYN, R.
Ek stem saam.
____________
O. ROGERS, R.