Abrahams v S (A118/12) [2013] ZAWCHC 88 (30 April 2013)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Appeal against conviction — Appellant convicted of murder and sentenced to eight years' imprisonment — Appellant contending that he did not fire the fatal shot and lacked intent to kill — Evidence indicating appellant fired shots in the direction of a fleeing group, but no direct evidence linking him to the fatal shot — Court considering the sufficiency of evidence and the standard of proof required for a murder conviction — Conviction upheld as evidence supported the finding of culpability.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2013
>>
[2013] ZAWCHC 88
|

|

Abrahams v S (A118/12) [2013] ZAWCHC 88 (30 April 2013)

Republiek van
Suid-Afrika
IN DIE HOË
HOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOË
HOF, KAAPSTAD)
Rapporteerbaar
Saaknr: A118/12
In
die appél van:
ROBERT WILLIAM
ABRAHAMS
.......................................................
Appellant
teen
DIE STAAT
............................................................................................
Respondent
UITSPRAAK
:
30APRIL 2013
Schippers R:
Die vraag wat in
hierdie appél beslis moet word is of the appellant korrek aan
moord in die Streekhof te Wynberg skuldig
bevind is en of die
uitspraak een van strafbare manslag moes wees. Die appellant is
gevonnis tot agt (8) jaar gevangenisstraf
waarvan vyf (5) jaar
opgeskort is vir ‘n periode van vyf (5) jaar op voorwaarde dat
hy nie skuldig bevind word aan moord,
of aanranding met die opset om
ernstig te beseer en waarvoor hy tot gevangenisstraf gevonnis word
sonder die keuse van ‘n
boete, gepleeg gedurende die tydperk
van opskorting nie. Daarbenewens is die appellant gevonnis tot drie
(3) jaar korrektiewe
toesig ingevolge Artikel 276(1)(h) van die
Strafproseswet 51 van 1977.Die appellant kom nou in hoër beroep
teen slegs die
skuldingbevinding, met verlof van die verhoorhof.
Die appellant was
regsverteenwoordig en het onskuldig gepleit. In sy
pleitverduideliking het hy die volgende erkennings gemaak.
Op 4
September 2005 was hy die platejoggie by die “
Cameo
Lounge
”, of “
die klub
”,in Heideveld,
Athlone, Wes-Kaap. In die loop van die aand was daar ‘n
stryery en later ‘n bakleiery tussen
ene Bradley August
(“
August
”) en sy vriende aan die een kant en die
oorledene en sy vriende aan die ander. August en sy vriende het die
oorledene en
sy vriende gejaag en ten einde hierdie jaagtog en
bakleiery stop te sit het die appellant skote met sy vuurwapen in
die lug geskiet.
Hierdie erkennings is ingevolge Artikel 220 van die
Strafproseswet as formele erkennings aangeteken. Voorts erken die
appellant
dat die oorledene se dood deur ‘n skietwond aan die
kop veroorsaak is en die gevolge daarvan; dat die oorledene geen
verdere
beserings opgedoen het tussen sy dood en die uitvoering van
die lykskouing op sy liggaam nie; en die oorledene se identiteit.
Die appellant het egter ontken dat hy op die oorledene gevuur het.
Die appellant vermoed dat skote wat afgevuur is deur August
en sy
vriende die oorledene gedood het. Verder ontkendie appellant dat sy
optrede onwettig was en beweer dat hy geen opset gehad
het om die
oorledene te dood nie.
Die Staat het11
getuies geroep. Geriefliksheidsonthalwe het die landdros hierdie
getuienis in vier groepe opverdeel. Die eerste
groep getuies is dié
wat saam met die oorledene was, onder andere Me Yolanda van der Vent
(“
Yolanda
”) en Mnr Theodore van der Vent
(“
Theodore
”). Die tweede groep is dié van
August wat sy eie getuienis insluit; die derde, dié van die
polisie beamptes
en ander formele getuies; en die vierde,die
appellant se getuienis en dié van Mnr Moegamat Stemmet, sy
getuie.
Daar is geen
direkte getuienis oor wie die oorledene geskiet het nie. Dit is
gemene saak dat die oorledene en sy vriende asook
August en sy
vriende by die klub op 4 September 2005 was en dat daar ‘n
onderonsietussen hulle was. Dit het tot gevolg
gehad dat bierbottels
na die oorledene en sy vriende gegooi is.Laasgenoemde groep het die
klub verlaat waarna August en sy vriende
hulle agterna gesit het.
Terwyl diejaagtog aan die gang was, is die oorledene noodlottig aan
sy kop gewond. Dit is verder gemenesaak
dat daar sespatroondoppies
op die toneel gevind is wat almal uit die appellant se vuurwapen
afgevuur is.
Die rekord is belas
met onnodige getuienis en bevat langdradige, moeisame en onnodige
kruisverhoor van die staatsgetuies oor talle
irrelevante aspekte. By
ontleding van die getuienis blyk dit egter dat die getuienis van
slegs sowat vyf getuies op die wesenlike
aspekte van die saak
betrekking het. Hulle is Yolanda, Theodore, twee polisiebeamptes en
die appellant.Oor die skietvoorval self
is die getuienis maar karig.
Die staat het nietemin voortgegaan om vele ander getuies se
getuienis aan te bied wat nie sy saak
verder geneem het nie.
Derhalwe vir huidige doeleindes is dit onnodig om die getuienis van
al die getuies te ontleedbehalwe slegs
die relevante getuienis.
Yolanda se
getuienis is basies die volgende. Sy was dié betrokke aand
saam met die oorledene, haar aanstaande, by die klub.
Hulle was deel
van ‘n groep. August se groep het na hulle gekom. Daar was ‘n
gestryery wat in ‘n bakleiery
ontaard het. Die oorledene se
groep het weggehardloop en August se groep het hulle agterna gesit
en met bierbottels bestook.
Soos die August groep gehardloop het,
hoor sy dat August sê, dat sy “
gun”
geval
het. Die Staat het egter geen getuienis aangebied dat August ‘n
vuurwapen gehad het nie. Dít bevestig die
appellant ook. Die
getuienis is slegs dat tydens sy visentering toe hy die klub
binnegegaan het, het August ‘n pistoolsak
gedra. Soos sy en
Theodore die klub verlaat het, vra die appellant vir hulle wat gaan
aan. Theodore meld dat August en sy vriende
begin baklei het. Hierop
sê die appellant dat daar moeilikheid is elke keer wanneer die
August groep in die klub is.
Soos Yolanda buite
kom het die oorledene verby haar gehardloop terwyl die August groep
hom agterna gesit het en met bierbottels
gooi. Sy was besig omdrank
wat hulle in die klub gekoop het in die voertuig se kattebak te sit,
toe hoor sy skotegaan af. Dit
was donker en sy kon nie sien wie
geskiet het nie. Beide Yolande en Theodore getuig egter dat hulle
gesien het dat skote deur
‘n persoon gevuur is wat aan die
linker kant van die klub gestaan het. Hulle sê ook dat daar
vonkies uit hierdie
vuurwapen gekom het. Yolande kon sien dat daar
naMnr. Byron van der Vent en die oorledene geskiet is terwyl hulle
gehardloop
het en dat die persoon wat geskiet het wel in die rigting
van die groepe wat gehardloop het geskiet het, dwsbeide groepe.Sy
het
ook gesien dat vuur by ‘n “
gun
” uitkom.
Sy het slegs twee skote gehoor, geskree en na die klub
teruggehardloop. Sy het by die deur van die klub ingegaan
maar het
nie vir die appellant gesien nie. Sy het later verneem dat die
oorledene geskiet was. Na die skietery het sy gesien
dat August se
voertuig vinnigoptrek, lede van sy groep het daarin gespring en
hulle het vinnig weggery.
Theodore getuig dat
hulle by die klub ingegaan het om slegs drank te koop. Hulle wou nie
daar bly nie. Die oorledene het na een
van die August groep gestap
en in ‘n stryery betrokke geraak. Theodore het na hulle toe
gestap. August het van sy tafel
af opgestaan en na hulle gegaan. Hy
het die oorledene by die bors gegryp waarna die bakleiery en
bottelsgooiery begin het. Die
oorledene se groep het besluit om die
klub te verlaat omdat die August groep groter was. By die deur
ontmoet hulle die appellant.
Hy vra hulle wat gaan aan. Theodore
antwoord dat die mense in die klub deurmekaar is,verlaat die klub en
is na sy motor. Daarna
kom die August groep by die deure van die
klub uitgebars. Hulle was 11 of 12 mense. Hy hoor August sê
vir ‘n lid
van die groep hy moet die “
gun

uit die kar gaan haal. Theodore het egter nie ‘n vuurwapen by
die August groep gesien nie. Hy hoor een van die groep
skree dat die

gun
” het geval. Hy en die oorledene het besluit
om te hardloop omdat hul lewens in gevaar was. Hy was voor gewees en
die oorledene
agter hom terwyl die August groep hulle gejaag het.
Soos hulle hardloop hoor Theodore meer as eenskoot afgaan waarop hy
en die
oorledene gelyk geval het. Hy sê dat die skoot
definitief van agter hulle gevuur is maar kon nie sê wie dit
afgevuur
het nie. Na die skoot het hy opgestaan en gesien dat die
oorledene nog altyd blylê. Hy gaan toe na die oorledene want
hy
het gedink dat die August groep die oorledene sou slaan. Hulle
het egter verby die oorledene gehardloop en vir Theodore gejaag.
Die
oorledene het daar bly lê. Theodore en Mnr Byron van der Vent
het saam weggehardloop na ‘n vriend. Hy het ook
later verneem
dat die oorledene geskiet is. Hy getuig ook dat hy niemand met ‘n
vuurwapen sien rondhardloop nie.
Die getuienis van
Yolanda en Theodore stem ooreen met ander getuienis dat
die
patroondoppiesin die parkeerarea van die klub
gevind was.
Hierdie patroondoppies, soos deur die deskundige getuig en die
appellant self bevestig, is uit die appellant se vuurwapen
gevuur.
Yolanda het in kruisondervraging toegegee dat sy nie met sekerheid
kon sê of die skote op die groep geskiet is
nie. Niks wentel
egter hierom nie omdat die getuienis daarop dui dat die appellant
wel in die rigting van die bewegende groepe
geskiet het. Ek keer
aanstonsna hierdie aspekte terug.
Sersant Swarts
getuig dat hy op 4 September 2005 die moordtoneel bygewoon het waar
hy fotos geneem het en slegs ses9 mm patroondoppies
gevind het. Die
kegels op foto’s 1 en 2, op die parkeerarea buite die klub dui
aan waar die patroondoppies gevind is–
naby die voordeur van
die “
Cameo Inn
”. Foto 3 wys die oorledene in die
voorgrond met die kegels waar die patroondoppies gevind is in die
agtergrond. Die afstand
tussen die oorledene en die naaste patroon
doppie was 28.7 meter. Toe Sersant Swarts by die toneel aankom was
die kegels reeds
deur ander polisiebeamptes geplaas om die
patroondoppies uit te merk. Hy het gekyk of hy verdere bewystukke op
die toneel kon
vind, maar het nie.
Superindent Rance,
‘n polisiebeampte met 10 jaar diens by die wetenskaplike
laboratorium, het ook die toneel bygewoon. Hyhet
getuig dat hy geen
bewystukke van enige ballistiese getuienis kon kry nie. Hy het buite
reg om die hele gebou, in die pakeerarea
en die wyer buitekant van
die perseel vir vasslaan merke van koeëls gesoek, maar kon niks
vind nie. Hy het verder getuig
dat hy ‘n Norinco
semi-automatiese pistool (wat aan die appellant behoort) met een
magasyn, ses 9 mm Parabellum kaliber
patrone asook ses 9 mm
Parabellum kaliber gevuurde doppies forensies ondersoek het. Hierdie
ondersoek het behels onder andere
die identifikasie van ammunisie en
gevuurde patroondoppies, mikroskopiese identifiseering van gevuurde
patroondoppies, vuurwapen
meganieka ondersoeke en die ondersoek van
die misdaad toneel. Hy het die pistool getoets en gevind dat dit
normaal en sonder
enige defekte funksioneer. Hy het ook bevind dat
die ses afgevuurde doppies deur die appellant se Norinco vuurwapen
afgevuur
is.
Die laaste
staatsgetuie was Inspekteur Abrahams (“
Abrahams
”),
die ondersoek beampte. Sy getuienis is kortliks dat hy na die
misdaad toneel gegaan het en die oorledene gevind waar
hy op ‘n
sementblad aan die regterkant van die “
Cameo Lounge

in ‘n plasbloed gelê het, met ‘n koeëlwond
aan sy kop. Daar was reeds tweeander polisiebeamptes
op die toneel,
wat reeds afgekordon was. Hy het gesien dat daar sespatroondoppies
afgemerk was in die omgewing van die hoek van
die regter kant van
die hoofingang van die klub. Dit is die rigting wat na die oorledene
toe gaan. Na sy ondersoek het hy vasgestel
dat die appellant wel die
persoon is wat skote op die toneel afgevuur het en is hy aangekla.
Die getuienis van Inspekteur Abrahams
behels ongeveer vyf bladsye
van die rekord. Hierteenoor beswaar sy kruisondervraging die rekord
met sowat 45 bladsye wat basies
daarop neerkom dat August in stede
van die appellant in die beskuldigde bank hoort. En dít
terwyl daar geen getuienis
is dat August ‘n vuurwapen gehad
het, laat staan nog dat hy ‘n skoot op die toneel afgevuur het
nie. Dit is dus nie
verbasend dat toe dit aan Abrahams gestel word
dat die moontlikheid nie uitgesluit kon word dat nog ‘n
vuurwapen die oorledene
se dood kon veroorsaak het nie, hy eenvoudig
geantwoord het dat daar nie nog ‘n vuurwapen op die toneel
gekry is nie.
Die appellant, 49
jaar oud, het getuig dat hy die betrokke aand as ‘n
platejoggie by die klub werksaam was. Hy werk al 28
jaar vir die
klub as die platejoggie en assistent bestuurder. Dit blyk dat die
appellant nie alkohol gebruik nie want hy het
getuig dat hy nog
nooit gedrink, gerook of dwelms gebruik het nie. Hy het die
spesifieke aand in die sportkroeg die sokker hoogtepunte
gekyk. Hy
is deur Me George, wat in die drankwinkel werk, meegedeel dat daar
‘n 14 jarige meisie daar staan en bang is
om huis toe te gaan.
Hy vra toe of die polisie reeds gebel is, waarop Me George
bevestigend antwoord. Terwyl hy nog daar staan
en gesels daag twee
polisiebeamptes op om die meisie huis toe te neemen een van die
sekuriteitbeamptes wat by die dansplek werk
sê vir die
appellant dat daar ‘n geveg in die danssaal aan die gang is.
Die appellant is na die daanssaal terselfdetyd
toe die polisie daar
weg is met die meisie.
Soos die appellant
by die danssaal se ingang kom, was die oorledene en sy vriende
uitgelei deur die bestuurder, ene Pam. Hy ken
die oorledene.
Laasgenoemde was saam met Byron van der Vent, Theodore en Yolanda.
Hy het vir die oorledene gevra wat gaan aan
waarop hy geantwoord het
dat hulle (die August groep) met die oorledene en sy groep oor
vroumense baklei het. Soos die oorledene
en sy groep wou loop het
dit begin reën en die appellant sê vir hulle om in te kom
sodat hulle kon gesels. Hierop
bestorm die August groep die
oorledene en sy groep met wynbottels. Die oorledene en sy groep het
toe by die deur uitgehardloop
na hul voertuie, wat hulle probeer het
om oop te sluit. Hy sien toe dat August die kattebak van sy voertuig
oopmaak maar kon
nie presies sien wat hy daar gedoen het nie. Die
August groep het bakstene en stokke by ‘n perseel wat in
aanbou was opgetel
en die oorledene se groep daarmee bestorm. August
is toe van sy voertuig en ook agter die oorledene se groep aan. Die
appellant
het op die verste hoek by die winkel gestaan om te kyk wat
gaan aan.
Die appellant
getuig verder dat toe hy sien dinge ruk handuit, het hy sy vuurwapen
uitgehaal en vier skote in die rigting van
die sokkerveld gevuur. Hy
sê hy het die skote afgevuur om kalmte te kry want die August
groep was besig om die oorledene
of te dood of ernstig te beseer,
maar sonder sukses. Hy skree toe vir die August groep dat hy die
polisie gaan bel en is terug
na die klub waar hy vir die bestuurder,
Pam,sê dat sy die polisie moet bel want hy het vier skote
buitekant gevuur. Nog
voordat hulle in die danssaal kon gaan om die
skade te bepaal het drie polisiebeamptes na die appellant gegaan en
hom gevra of
hy Robert Abrahams is, of hy ‘n vuurwapen het en
of hy skote afgevuur het. Hy sê vir hulle dat hy vier skote
afgevuur
het. Die appellant het egter aanvaar dat daar ses en nie
vier patroondoppies op die toneel gekry is nie asook dat hy ses
skote
geskiet het. Die polisie sê vir hom dat daar ‘n
man buitekant doodlê en dat hy hulle na die polisiestasie toe

moet vergesel. Hy het die polisiebeamptes gevra hoe dit moontlik was
dat ‘n persoon buite geskiet was want hy het in die
rigting
van die sokkerveld gevuur. Hy was nog nooit in ‘n bakleiery
met nóg die oorledene en sy groep nóg
August en sy
groep. Hy het geen rede gehad om die oorledene te skiet nie.
Die landdros het
bevind dat die appellant die nodige opset gehad het in die vorm
van
dolus eventualis
en hy is gevolglik aan moord
skuldigbevind.Die landdros se redes kan as volg opgesom word. Die
appellant was die enigste persoon
wat op die betrokke aand geskiet
het. Alles inaggenome kon al die skote wat die appellant afgevuur
het, nie in die lug gewees
het nie en moes hy in die rigting van die
groep geskiet het. Die moontlikheid dat hy iemand kon raakgeskiet
het was wel daar.
Yolanda en Theodore het geen rede gehad om die
appellant valslik te beskuldig of inkrimineer nie. Voorts bevind die
verhoorhof
dat op die totaliteit van die getuienis, die enigste
redelike afleiding wat gemaak kan word is dat een van die skote wat
die
appellant afgevuur het die oorledene getref en hom gedood het.
Die appellant het dus op die groep geskiet en moes toe hy die skoot

afgevuur het, die moontlikheid voorsien het dat sy skoot iemand kon
tref. Desnieteenstaande het die appellant hom met daardie

moontlikheid versoen en voortgegaan omte skiet.
Die basiese grond
van appél is dat die appellant verkeerdelik aan moord skuldig
bevind is omdat die staat nie bo redelike
twyfel bewys het dat hy
inderdaad die dood van die oorledene as ‘n moontlike gevolg
van sy optrede voorsien het nie. Dit
word betoog dat die appellant
se bedoeling was om die twee groepe tot bedaring te bring en daarom
het hy die skote in die rigting
van die sokkerveld afgevuur; dat hy
redelikerwys behoort te kon sien het dat die oorledene kon sterf as
gevolg van sy optrede,
derhalwe was sy optrede nalatig; en dat hy
nie die nodige opset om te dood gehad het nie na oorweging van óf
die direkte
óf omstandigheidsgetuienis.
Ek handel
vervolgens met die vraag of die verhoorhof se bevinding korrek is.
Snyman beskryf
dolus eventualis
as volg:

Iemand tree met opset
in die vorm van
dolus
eventualis
op indien
die verrigting van die verbode handeling of die veroorsaking van die
verbode gevolg nie sy hoofdoel is nie, maar
hy subjektief die
moontlikheid voorsien dat, in die bereiking van sy hoof-doel, die
verbode handling wel verrig mag word of die
verbode gevolg wel mag
intree, en
(b) hy hom met hierdie
moontlikheid versoen
.”
1
Voorts sê
Snyman dat die eerste vereiste vir die bestaan van
dolus
eventualis
,
naamlik dat die beskuldigde die moontlikheid van die gevolg
voorsien, beskryf kanword as die kognitiewe been van die toets.
Die
tweede vereiste, dws dat die beskuldigde hom versoen met die idee
dat die gevolg mag intree, is die konatiewe (of voluntatiewe)
been
van die toets.
2
By die eerste
vereiste gaan dit om die voorstelling deur die beskuldigde van die
omstandighede of die gevolge van sy handeling.
Slegs die
moontlikheid in teenstelling met waarskynlikheid van die gevolg,
hoef voorsien te word.
3
By die tweede
vereiste gaan dit om die beskuldigde se besluit om voort te gaan met
sy handeling, nieteenstaande die feit dat hy
die moontlikheid van
die intrede van die gewraakte gevolg voorsien, maw dit maak vir hom
nie saak of dit gaan intree nie. Hy
is roekeloos of onverskillig ten
aansien van die intrede van die gevolg.
4
Omdat daar byna
nooit direkte bewys van die bestaan van die tweede been van die
toets vir
dolus
eventualis
is
nie, is ‘n hof dikwels genoop om afleidings uit die feite te
maak om tot ‘n bevinding te kom dat daar wel aan die
tweede
been van die toets voldoen is.
5
Hoe waarskynliker
die gevolg hoe geredeliker sal die hof tot die slotsom kom dat die
beskuldigde dit voorsien het.
6
In
Dlodlo
7
word bevestig dat
‘n afleiding van opset, soos enige afleiding uit
omstandigheidsgetuienis, aan die vereistes gestel in
Blom
8
moet
voldoen, dws die afleiding moet met al die bewese feite klop en die
feite moet elke redelike afleiding uitskakel behalwe
dié wat
gemaak word - dat die beskuldigde opsetlik gehandel het.
By ‘n
toepassing van die voormelde beginsels is ek van mening dat die
verhoorhof tereg die appellant aan moord skuldig bevind
het, en wel
om die volgende redes:
Die appellant het
inderdaad besef dat dit gevaarlik was om sy vuurwapen uit te haal en
te skiet op die tydstip toe die twee groepe
by die klub uitgestorm
het. Hou hierby in gedagte dat volgens die getuienis, die August
groep reeds besig was om die oorledene
se groep te jaag en met
bottels te bestook. In hierdie verband lees die appellant se
getuienis as volg:

They stormed out of the
Cameo Lounge, they are still in front of the Cameo Lounge, you are
also outside the Cameo Lounge. Why did
you not at that point in time
… (intervenes)
--- Ja, want daar was …
op daardie oomblik, Edelagbare, was baie … daar was baie mense
rondom my daardie …
om daardie oomblik te geskiet het, om jou
vuurwapen uit te haal, daai tyd, daai was baie gevaarlik.

Hoe die appellant
dan, op sy weergawe, oomblikke later ses skote kon geskiet het terwyl
daar twee bewegende groepe rondom hom was,
gaan my verstand te bowe.
Dit kan myns insiens slegs aan onverskilligheid ten opsigte van die
gevolge van sy optrede toegeskryf
word.
Die appellant se
verduideliking dat hy die skote afgevuur het in die teenoorgestelde
rigting van die twee groepe, dws in die rigting
van die sokkerveld
en weg van die parkeerarea, is so hoogsonwaarskynlik dat dit met
veiligheid verwerp kan word. Hoe kon hy dan
die oorledene tref tensy
hy nie in die rigting van laasgenoemde geskiet het nie? Hyself
getuig:
“…
ek het in die
rigting van die sokkerveld gevuur. Dit is ‘n verskillende
rigting, in wat dieoorledene en Bradley August-hulle
gehardloop het,
Edelagbare. Die rigting van die sokkerveld en die rigting waar hulle
gehardloop het is twee verskillende rigtings.

Die feit dat die
appellant nie die skote in die rigting van die sokkerveld afgevuur
het nie, word eerstens bevestig deur direkte
getuienis dat die
patroondoppies op die parkeerarea voor die ingang van die klub
gevind was. Die appellant se pogingom dit te
verduidelik - dat die
mense die patroondoppies kon geskop het soos hulle hardloop en
sodoende dit verskuif het - is vergesog.Tweedens
het die appellant
bevestig dat die patroondoppies nie agter hom kon geval het toe hy
geskiet het nie, en dat dit in die parkeerarea
geval het.Derdens is
die getuienis van Abrahams dat die patroondoppies in die rigting van
die oorledene gevind is, onbetwis.
Die naaste patroondoppie was 28.7
m van die oorledene. Vierdens, die feit dat die appellant in die
rigting van die oorledene
geskiet het word ook bevestig deur die
direkte getuienis van Yolanda en Theodore. Hulle het getuig dat
hulle vonkies uit die
vuurwapen gesien het. Yolanda was by ‘n
voertuig in die parkeerarea toe sy dit gesien het. Die appellant
getuig self dat
die oorledene se voertuig en dié van August
voor die klub ‘n paar meter vanaf die deur geparkeer was.
Theodore was
langs die oorledene wat reeds geval het, toe hy die
vonkies gesien het. Hy getuig ook dat die skoot defnitief van agter
hulle
gevuur is, dws in die rigting wat die oorledene gehardloop
het. Hierdie twee getuies was deel van die oorledene se groep en
daar
is hoegenaamd geen rede hoekom hulle hierdie getuienis sou
fabriseer of die appellant valslik inkrimineer nie.
Verder is daar die
appellant se eie getuienis dat hy weet dat die polisie gereeld in
die omgewing patrolleer en dat hulle binne
vyf minute van die
skietery op die toneel was. Hy verskaf egter geen rede hoekom hy die
polisie nie onmiddellik laat ontbied
het toe die bakleiery begin het
nie. Hy het ook geweet wie die moeilikheidmakers was – volgens
hom August en sy groep wat
altyd probleme by die klub skep. Die
appellanthet dus geen rede gehad om sy vuurwapen uit te haal en ses
skote in die rigting
van die oorledene te vuur nie. In ieder geval,
op die appellant se eie weergawe was dit vir hom onnodig om buite
die klub te
skiet. Hy self getuig dat “
die reëls van
die

Cameo Inn

is wat buitekant die
‘Cameo Inn’ gebeur is buite en wat binne die

Cameo
Inn

gebeur is binne
”.Dit is ook insiggewend
dat die appellant nie vir Pam gesê het dat sy die polisie moes
ontbied omdat daar ‘n
bakleiery plaasgevind het nie, maar
omdat hy vier skote afgevuur het. Hy het geweet dat hy iemand
raakgeskiet het. Dit strook
met die staat se getuienis dat die
appellant lede van die August groep vermaan het oor wat hul gedrag
veroorsaak het –
dat die oorledene geskiet is.
Laastens is daar
die appellant se poging om die skuld aan August te gee. Hy self
getuig dat hy nie vir August met ‘n vuurwapen
gesien het of ‘n
skoot sien afvuur nie. Die appellant het wel geweet dat hy die
enigste persoon is wat op die toneel geskiet
het en dathy die
oorledene getref het.
Die wesenlike
bewese feite in hierdie saak is dan die volgende:
Die oorledene is
dood as gevolg van koeëlwond aan sy kop en die gevolge daarvan.
Die appellant is
die enigste persoon wat tydens die voorval met ‘n vuurwapen
bewapen was en wat op die toneel geskiet het.
Die appellant het
ses skote op die toneel afgevuur.
Sespatroondoppies
is in die parkeerterrein gevind aan die regterkant van die
hoofingang van die klub, in die rigting waar die
oorledene gelê
het.
Hierdie
sespatroondoppiesis deur die appellant se Norinco vuurwapen
afgevuur.
Toe die twee groepe
by die klub uitstorm het die appellant nie sy vuurwapen uitgehaal
nie, vandaar hy besef het dat dit baie gevaarlik
was om op daardie
oomblik skote af te vuur.
Die appellant het
ses skote in die rigting van die oorledene geskiet en nie in die
rigting van die sokkerveld nie.
Die enigste vraag
is of daar uit hierdie feite ‘n afleiding gemaak kan word dat
die appellant die nodige opset gehad het.
Die appellant het
subjektief die moontlikheid voorsien daar baie mense rondom hom was
en dat in sulke omstandighede dit baie
gevaarlik was omskote af te
vuur. Enige regdenkende persoon sou besef dat ‘n persoon wel
getref en ernstig of noodlottig
beseer kan word as hy skote in die
rigting van persone wat hardloop afvuur, of hulle die aanvallers is
al dan nie.
9
By
‘n oorweging van die totaliteit van die getuienis, is die
enigste redelike afleiding na my mening dat die appellant hom
met
hierdie moontlikheid versoen het. Daar is dus aan die vereistes van
dolus
eventualis
voldoen
en derhalwe is die appellant tereg aan moord skuldig bevind.
Daar is egter een
oorblywende vraag. Dit is of die verhoorhof die bepalings van die
Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000 (“
die
Wet op Vuurwapens

)
toegepas het.
Artikel 103(1) van
die Wet op Vuurwapens bepaal dat tensy ‘n hof andersins
beslis, word ‘n persoon onbevoeg om ‘n
vuurwapen te
besit indien hy skuldig bevind word aan onder andere enige misdaad
waarby die onwettige gebruik of hantering van
‘n vuurwapen
betrokke is, hetsy die vuurwapen gebruik of gehanteer is deur
daardie persoon of deur ‘n ander deelnemer
van daardie
misdryf.
10
In
Mkhonza
11
is
beslis dat die Wetgewer se bedoeling met ‘n artikel 103(1)
ondersoek is tenminste dat alle relevante faktore aangaande
die
misdaad in ag geneem moet word. ‘n Verhoorhof is verplig, met
inagneming van al die relevante feite, om behoorlik te
oorweeg of
die beskuldigde onbevoeg verklaar moet word om ‘n vuurwapen te
besit, al dan nie. Enige faktor wat op die aangeleentheid
betrekking
het moet oorweeg word en wesenlike feite wat nie voor die hof is
nie, moet voor hom geplaas word. Die wesenlike feite
sluit onder
andere die volgende in:die beskuldigde se ouderdom en persoonlike
omstandighede; vorige veroordelings of ‘n
skoon rekord; die
aard en erns van die betrokke misdaad en die verband tussen die
misdaad en die gebruik van die vuurwapen; die
beskuldigde se
agtergrond en of dit aandui dat hy sy gelisensieerde vuurwapen mag
gebruik om ‘n misdryf te pleeg; of dit
in die belang van die
gemeenskap is dat die beskuldigde onbevoeg verklaar moet word om ‘n
vuurwapen te besit; en die tydperk
waartydens die beskuldigde ‘n
gelisensieerde vuurwapen besit het en of daar enige anduiding van
vorige onverantwoordelikheid
was met betrekking tot daardie besit en
gebruik.
12
Die getuienis voor
die verhoorhof is dat die beskuldigde twee Norinco vuurwapens besit
wat albei gelisensieer is. In sy getuienis
in hoof het hy getuig dat
dit deel van sy werk was om ‘n vuurwapen te besit want hy werk
met geld, sit groot bedrae geld
weg en sluit die klub wat in ‘n
baie gevaarlike area geleë is. Die verhoorhof se bevinding
aangaande die appellant
se bevoegdheid om ‘n vuurwapen te
besit is beide beknop en dubbelsinnig:“
Daar is geen rede
waarom die hof nie die beskuldigde moet onbevoeg bevind nie, hy was
bevoeg om ‘n vuurwapen te besit
.” Dit blyk egter uit
die rekord dat die verhoorhof nie ‘n behoorlike ondersoek
ingevolge artikel 103(1) van die Wet
op Vuurwapens gehou het nie.
Bygevolg sou ek die
volgende bevel maak:
Die appél
word afgewys en die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.
Die saak word na
die verhoorhof terugverwys vir ‘n beslissing of die appellant
onbevoeg verklaar moet word om ‘n vuurwapen
te besit aldan
nie, ingevolge die bepalings van artikel 103(1) van Wet 60 van 2000.
SCHIPPERS R
Ek stem saam. Dit
word so gelas.
SALDANHA R
Counsel for the Appellant
:
Mr M Calitz
Justice Centre
Cape Town
Counsel
for Respondent
:
Adv. SFA Raphels
National
Prosecuting Authority
Dates
of hearing
:
15 March 2013
Date
of judgment
:
30 April 2013
1
Snyman
Strafreg
(5de uitgawe
2006) op 183.
2
Snyman
opcit
op 184.
3
S
v Malinga
1963 (1) SA
692
(A) op 694G;
S v
Nkombani
1963 (4) SA
877
(A) op 891C-D;
S v
Sigwahla
1967 (4) SA
566
(A) op 736F.
4
S
v Ngubane
1985 (3) SA
677
(A) op 685A-H.
5
Snyman
op
cit
op186
6
S
v Shaikand Others
1983
(4) SA 57
(A) op 62E.
7
S
v Dlodlo
1966 (2) SA
401
(A)op .
8
R
v Blom
1939 AD 188
op 202-203.
9
Makgatho
v S
(732/12)
[2013] ZASCA 34
(28 March 2013) para 15.
10
Artikel
103 (1) (b).
11
S
v Mkhonza
[2009] 3 All SA 358
(KZP) para 22.
12
S
v Pharoe en agt ander
soorgelyke sake
1991 (2) SACR 384
(NC) op
387a-d;
Mkhonza
n 10 para 22.