S v Siluale and Others (644/96) [1999] ZASCA 33; [1999] 3 All SA 418 (A) (26 May 1999)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Cumulative effect of sentences — Appellants convicted of multiple serious offenses including murder and armed robbery — Sentences imposed resulted in extraordinarily lengthy effective terms of imprisonment — Court held that such sentences were inappropriate and unrealistic, suggesting life imprisonment as a more suitable penalty for the gravity of the crimes committed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1999
>>
[1999] ZASCA 33
|

|

S v Siluale and Others (644/96) [1999] ZASCA 33; [1999] 3 All SA 418 (A); 1999 (2) SACR 102 (SCA) (26 May 1999)

Saaknommer: A 644/96
In die saak tussen:
MESHACK SILUALE
Eerste
Appellant
VIVIAN KHALELANI MAYESA
Tweede
Appellant
HENRY JOHNSON
Derde
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
Coram
:
Grosskopf, Howie en Marais, ARR
Verhoor
:
17 Mei 1999
Gelewer
:
26 Mei 1999
Vonnisse - buitengewone lang termyne van gevangenisstraf
- verlof om slegs teen kumulatiewe effek van vonnisse te appelleer -
effek
van so ’n bevel.
________________________________________________________________
U I T S P R A A K
________________________________________________________________
F H GROSSKOPF AR:
[1] Die drie appellante was
respektiewelik beskuldigdes 1, 2 en 4 tydens die verhoor in die
Transvaalse Provinsiale Afdeling
voor
Weyers
R
en twee
assessore. Al drie die appellante is skuldig bevind op drie
aanklagte van moord (aanklagte 1, 2 en 3), een van poging
tot moord
(aanklag 8) asook aan roof met verswarende omstandighede (aanklag
4). Die eerste en tweede appellante is verder skuldig
bevind aan
die wederregtelike besit van AK 47-gewere en ammunisie (aanklagte 5
en 7) en die wederregtelike besit van ander vuurwapens
(aanklag 6).
Vir sover daar enige twyfel mag bestaan het, is die oorkonde op
aansoek van die respondent, en met instemming van
die derde
appellant se advokaat, by die aanvang van die appèl
reggestel sodat dit nou duidelik is dat die derde appellant
wel
skuldig bevind is op aanklag 4 (roof met verswarende omstandighede.)
[2] Die eerste en tweede appellante is elkeen vir die
volgende termyne van gevangenisstraf op die onderskeie aanklagte
gevonnis:
aanklag 1 (moord) 35 jaar
aanklag 2 (moord): 35 jaar
aanklag 3 (moord): 35 jaar
aanklag
4 (roof): 20 jaar
aanklagte 5, 6 en 7 (besit van vuurwapens en
ammunisie): 15 jaar
aanklag
8 (poging tot moord): 15 jaar
___________
Totaal: 155 jaar
Die verhoorregter het egter gelas dat die vonnisse op
aanklagte 5, 6, 7 en 8 gesamentlik uitgedien word, wat meegebring
het dat
die eerste en tweede appellante elkeen tot ’n
effektiewe termyn van 140 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
[3] Die derde appellant is soos volg op die
verskillende aanklagte gevonnis:
aanklag
1 (moord): 30 jaar
aanklag 2 (moord): 30 jaar
aanklag 3 (moord): 30 jaar
aanklag 4 (roof): 15 jaar
aanklag 8 (poging tot moord): 10 jaar
_____ __
Totaal: 115 jaar
_______
In sy geval is gelas dat die vonnisse op aanklagte 4 en
8 gesamentlik uitgedien word, wat tot gevolg het dat sy vonnis ’n

effektiewe termyn van 105 jaar gevangenisstraf beloop.
[4] Die hof
a
quo
het verlof tot
appèl teen die skuldigbevindings en vonnisse in die geval van
al drie die appellante geweier. Na oorweging
van petisies gerig
aan die Hoofregter is verlof tot appèl aan die eerste en
derde appellante verleen, maar slegs teen
die onderskeie vonnisse
wat hulle opgelê is. In die geval van die tweede appellant is
verlof tot appèl slegs teen
die kumulatiewe effek van sy
vonnisse verleen. Die vraag of die bevoegdheid van hierdie hof om
vryelik met die tweede appellant
se vonnis in te meng daardeur
beperk is, sal later bespreek word.
[5] Dit is nodig om kortliks te beskryf onder watter
omstandighede die misdrywe gepleeg is, en watter rol elkeen van die
drie
appellante by die pleging daarvan gespeel het.
[6] Gedurende die vroeë oggendure van Woensdag 1
September 1993 het twee motorvoertuie van SBV Dienste vanaf hulle
hoofkwartier
in Midrand vertrek en in ’n noordelike rigting
met die N1-snelweg gery. SBV is ’n onderneming wat banknote
en munte
namens sekere groot handelsbanke langs bepaalde roetes na
verskillende banktakke vervoer. Die twee SBV-voertuie wat op
hierdie
bepaalde Woensdagoggend noord gery het, was ’n Toyota
Hi-Ace pantservoertuig, waarin ’n bedrag van R3,114 miljoen in

banknote vervoer is, en ’n Toyota Corolla motor wat as
begeleidingsvoertuig gedien het. In elkeen van hierdie voertuie
was
daar ’n bestuurder en ’n passasier gewapen met
vuurwapens.
[7] Die derde appellant het op
daardie stadium reeds ’n geruime tyd by SBV gewerk en het
geweet dat SBV-pantservoertuie
met geld op Woensdagoggende die
N1-roete vanaf Midrand na die noorde volg. Die derde appellant het
hierdie inligting aan sy
vriend Trevor Liesering (beskuldigde 3 in
die hof
a quo)
oorgedra, en dit ook met ander mededaders bespreek.
Die
derde appellant het dit gedoen met die wete dat hulle beplan om ’n
SBV-voertuig te beroof. Op die dag van die rooftog
was die derde
appellant egter saam met ander SBV-voertuie wat vroeër daardie
oggend na die noorde vertrek het.
[8] ’n Swaar gewapende bende
van ongeveer vyftien rowers het die betrokke twee SBV-voertuie dié
Woensdagoggend
voorgelê en in ’n Ford bakkie en Mikrobus
agtervolg.
Die eerste
appellant het die bakkie bestuur. Die tweede appellant was saam
met ’n groep rowers agterop die bakkie. Hulle
was gewapen met
AK 47-gewere. Die bakkie het die pantservoertuig op die N1-snelweg
in die omgewing van Centurion ingehaal en
die groep op die bakkie
het met die AK 47-gewere op die twee insittendes van die
pantservoertuig losgebrand. Die bestuurder
van die pantservoertuig
is doodgeskiet (aanklag 1), maar sy passasier (die klaer in aanklag
8 ) het die aanval gelukkig oorleef.
Die pantservoertuig het daarna
teen ’n wal langs die pad tot stilstand gekom.
[9] ’n Broodafleweringsvragmotor het pas tevore
met ’n oprit vanaf Centurion op die N1-snelweg opbeweeg. Die
bestuurder
van daardie voertuig en sy passasier het gesien hoe die
Mikrobus langs die begeleidingsvoertuig inbeweeg en hoe daar deur
die
oop skuifdeur van die Mikrobus met AK 47-gewere op die
insittendes van die begeleidingsvoertuig geskiet word. Beide die
bestuurder
van die begeleidingsvoertuig en sy passasier is daar
doodgeskiet (aanklagte 2 en 3). Die begeleidingsvoertuig het onder
’n
bos op die grondstrook tussen die twee bane van die snelweg
tot stilstand gekom.
[10] Die Mikrobus het ’n u-draai gemaak en
teruggekeer na waar die pantservoertuig tot stilstand gekom het.
Die eerste
appellant het daar opgedaag en ’n sogenaamde “lang
vuurwapen” op die insittendes van die broodvragmotor gerig
en
hulle aangesê om stil te sit. Die eerste appellant het ook ’n
handwapen teen die kop van mnr Momberg (die passasier
in die
pantservoertuig) gedruk en hom beveel om die sleutel van die
agterste deur van die pantservoertuig aan hulle te oorhandig.
Die
tweede appellant het toe die traliehek aan die binnekant van die
pantservoertuig met ’n breekyster oopgebreek. Die
rowers het
sakke met geld agter uit die pantservoertuig verwyder en in die
Mikrobus gelaai en toe weggejaag (aanklag 4). Een
geldsak met R175
000,00 se banknote het egter in die pantservoertuig agtergebly.
[11] Al drie die appellante het in die buit gedeel.
Die polisie het ook later groot bedrae kontant gevind wat deur die
onderskeie
appellante versteek is.
[12] Die rooftog was klaarblyklik deeglik vooraf
beplan en toe volgens plan deur ’n bende swaar gewapende
rowers uitgevoer.
Hulle het die oorledenes sonder genade
koelbloedig met outomatiese gewere afgemaai sodat hulle ongehinderd
met die roof van
die geld kon voortgaan. Die eerste en tweede
appellante het aktief deelgeneem. Die derde appellant was weliswaar
nie op die
toneel teenwoordig toe die moorde en roof gepleeg is nie,
maar hy was ’n belangrike skakel in die uitvoering van hulle

gemeenskaplike oogmerk.
[13] Daar kan geen twyfel bestaan oor die erns van
die reeks misdade wat die appellante gepleeg het nie. Hulle doel
was klaarblyklik
om hulleself wederregtelik te verryk. Die
appellante het almal gewerk en ’n inkomste gehad. Die roof
is uit suiwer hebsug
gepleeg, en in die proses het hulle letterlik
oor lyke geloop om hulle doel te bereik.
[14] Volgens die betoog van die
respondent vereis die gemeenskapsbelang dat daar baie streng teen
hierdie soort misdadigers
opgetree word. Hierdie hof het inderdaad
reeds by herhaling beslis dat die elemente van afskrikking en
vergelding sterk op die
voorgrond tree wanneer die doelstellings van
straftoemeting in gevalle van gewapende roof met gepaardgaande
verlies aan menselewens
oorweeg word. Die appellante het betoog dat
die element van hervorming nogtans nie uit die oog verloor moet word
nie. In dergelike
gevalle word enige vooruitsig op hervorming
egter heeltemal oorskadu deur die elemente van afskrikking en
vergelding. (Kyk
S
v D
1991(2) SASV
303(A) op 307G;
I
Molefe v Die Staat,
ongerapporteerde
uitspraak van
Kriegler
Wnd AR
in hierdie
hof, gelewer op 11.03.93 onder saaknommer 120/92;
J Mnisi v Die Staat,
ongerapporteerdee uitspraak van
Smalberger
AR
in hierdie hof,
gelewer op 16.03.93 onder saaknommer A1/92;
S
v Mhlakaza and Another
1997(1) SASV 515 (A) op 519 d-i.)
[15] Die persoonlike omstandighede
van die appellante kan in hierdie geval ook nie opweeg teen die erns
van die misdade en die
gemeenskapsbelang nie. Die appellante is
almal as eerste oortreders behandel. Die eerste appellant was
egter ’n welvarende
besigheidsman wat uit blote gierigheid aan
die rooftog deelgeneem het. Daarbenewens het hy ’n leidende
rol tydens die
pleging van die misdade gespeel. Die tweede
appellant was beslis ook nie ’n passiewe meeloper nie. Die
derde appellant
was weliswaar nie op die toneel teenwoordig toe die
misdade gepleeg is nie en die hof
a quo
het in sy
guns aanvaar dat daar in sy geval nie
dolus
directus
nie maar
slegs
dolus
eventualis
aanwesig was. Die vonnis wat die verhoorregter hom opgelê
het, was dan ook ietwat ligter as dié van die eerste
en
tweede appellante.
[16] Die appellante was
onderskeidelik 35, 27 en 31 jaar oud toe hulle gevonnis is. Die
verhoorregter het doelbewus vir elkeen
van die appellante ’n
effektiewe termyn van gevangenisstraf opgelê wat sy verwagte
lewensduur ver oorskry het. Dit
is gedoen ten einde te verseker dat
die appellante nooit weer vrygelaat sou word nie. Ondanks
die erns van die misdade
en al die strafverswarende omstandighede
van die geval is ek van mening dat die kumulatiewe effek van die
opeenvolgende vonnisse
meebring dat die effektiewe termyn van
gevangenisstraf wat elke appellant opgelê is, so buitengewoon
lank is dat dit heeltemal
ontoepaslik en onrealisties is. Soos
beslis in die saak van
S
v Nkosi
1993(1)
SASV 709(A) op 717 g-h (waar die termyne van gevangenisstraf
gesamentlik 122 jaar en ses maande beloop het) is ’n
vonnis
van lewenslange gevangenisstraf veel meer realisties in ’n
geval soos hierdie, ook “omdat dit nie een is wat
die
appellant nooit sal kan uitdien nie”. (Kyk verder
Mhlakaza
se saak,
supra
,
op 522 h-i en 523 c-i;
S v Tcoeib
1991(2)
SASV 627 (NmS).) Trouens, indien die omstandighede van ’n
saak vereis dat die oortreder vir alle praktiese doeleindes

permanent uit die samelewing verwyder word, is lewenslange
gevangenisstraf die enigste gepaste straf. Dit is bedoel as die
swaarste vonnis wat opgelê kan word, maar daar is darem ook
erkende prosedures wat parool in gepaste gevalle moontlik maak,
bv
waar die oortreder (selfs teen alle verwagting in) werklik hervorm.
Om daarenteen so ’n buitengewone lang termyn van

gevangenisstraf op te lê dat dit geen moontlike hoop vir die
oortreder inhou dat hy ooit vrygelaat sal word nie, al gebeur
wat
ook al, pas nie by ’n beskaafde regstelsel nie.
Volgens my oordeel is lewenslange
gevangenisstraf die mees gepaste vonnis vir al drie die appellante
in die onderhawige saak.
[17] Die verhoorregter wou verder
klaarblyklik verhoed dat die verlening van parool en moontlike
begenadiging deur die uitvoerende
gesag enige werklike effek op die
appellante se vonnisse sou hê. Daardie oorweging kan egter
nooit die oplegging van ’n
onrealistiese swaar vonnis
regverdig nie. ’n Hof is immers nie bevoeg om deur middel van
’n ontoepaslike vonnis
die toekenning van parool te probeer
neutraliseer nie. (Kyk
Mhlakaza
se saak,
supra,
521
e -522 h.)
[18] Die enigste oorblywende vraag is egter of
hierdie hof bevoeg is om die tweede appellant se vonnis na een van
lewenslange
gevangenisstraf te verander, gesien die beperkte verlof
tot appèl wat in sy geval verleen is, en wat soos volg lui:

The applicant is granted leave to appeal to the
Appellate Division but only in respect of the cumulative effect of
his sentences.”
[19] In
Mhlakaza
se saak,
supra
,
is verlof tot appèl in soortgelyke terme toegestaan en het
die hof soos volg op 517f opgemerk:

Pursuant to a petition addressed to the Chief
Justice, leave to appeal was granted to this Court only in respect
of the cumulative
effect of the sentences imposed by the trial
Court. The individual sentences were thus not the subject of any
debate before this
Court, and it has to be assumed that they are
proper.”
Dit is nie heeltemal duidelik waarom dit in daardie
geval veronderstel moes word dat die individuele vonnisse gepas was
nie.
Dit kan wees omdat die toepaslikheid van die individuele
vonnisse nie gedebateer was nie, of dit kan wees omdat die verlof om

te appelleer die appellant tot so ’n mate beperk het dat hy
nie geregtig was om die individuele vonnisse as sodanig te

bevraagteken nie. Ek kan egter nie aanvaar dat die bewoording van
die tweede appellant se verlof om te appelleer in die onderhawige

geval meebring dat hierdie hof in die uitoefening van sy diskresie
beperk word nie. Dit sou beteken dat al slaag die appèl
op
die besondere grond waarop verlof om te appelleer aan hom toegestaan
is, nl die kumulatiewe effek van die vonnisse, daardie
kumulatiewe
effek slegs op een manier deur hierdie hof verlig sou kon word, nl
deur te gelas dat sekere van die vonnisse samelopend
uitgedien word.
Hierdie hof sou dan nie by magte wees om bv lewenslange
gevangenisstraf as moontlike vonnis vir die tweede
appellant te
oorweeg nie.
[20] Na my mening verleen die bepalings van
subartikels 322(2) en (6) van die Strafproseswet 51 van 1977 in
ieder geval wye
bevoegdhede aan hierdie hof om strawwe op appèl
te verander, en kan die diskresie wat aldus deur die wet aan die hof
verleen
word nie deur die verlening van verlof om te appelleer
beperk word nie. Die betrokke subartikels lui soos volg:

(2) By ’n appèl ingevolge artikel
316 of 316B teen ’n vonnis, kan die appèlhof die vonnis
bekragtig
of dit tersyde stel of wysig en die straf oplê wat
by die verhoor opgelê behoort te gewees het.”

(6) Die bevoegdhede wat by hierdie artikel aan
die appèlhof met betrekking tot die oplegging van strawwe
verleen word,
sluit die bevoegdheid in om ’n straf op te lê
wat swaarder is as dié wat die hof benede opgelê het of

om ’n ander straf in die plek van of benewens sodanige straf
op te lê.”
[21] Soos reeds in paragraaf
[16] hierbo gemeld, is ek van oordeel dat lewenslange
gevangenisstraf die gepaste vonnis vir
al drie die appellante is.
Die bewoording van die verlof wat aan die tweede appellant verleen
is om teen sy vonnisse te appelleer,
verhoed myns insiens nie dat
ook hy lewenslange gevangenisstraf opgelê word nie.
Die
verhoorregter het die derde appellant ’n effens ligter vonnis
opgelê as dié van die ander twee appellante.
Die
derde appellant se effektiewe vonnis was egter steeds 105 jaar. Na
my oordeel verdien die derde appellant egter wel lewenslange

gevangenisstraf.
’n
Ligter vonnis sal myns insiens onvanpas wees in die lig van sy
besondere deelname aan die misdade.
[22] Daar is geen beswaar dat
aanklagte op appèl tesame geneem word vir doeleindes van
vonnis nie. (Kyk
S
v Nkosi, supra
, op
717 h-i.) In die onderhawige geval kan aanklagte 1,2,3,4 en 8 aldus
tesame geneem word en kan ’n vonnis van lewenslange

gevangenisstraf dan vir al daardie aanklagte saam opgelê word.
Wat die statutêre oortredings betref waar die wetgewer
’n
maksimum vonnis neergelê het, nl aanklagte 5,6, en 7, kan die
opgelegde bepaalde vonnisse van gevangenisstraf
bly staan aangesien
sulke vonnisse in ieder geval volgens die bepalings van art 32(2)(a)
van die Wet op Korrektiewe Dienste 8
van 1959 saam moet loop met ’n
vonnis van lewenslange gevangenisstraf.
[23] Gevolglik slaag die appèl van al drie
die appellante in die volgende opsigte teen die onderskeie vonnisse
wat
hulle opgelê is:
1. In die geval van die eerste en tweede appellante
word al die vonnisse wat hulle op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê
is,
tersyde gestel.
2. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8
tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die eerste en tweede
appellante
elkeen ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf op
daardie aanklagte opgelê.
3. Die vonnisse wat die eerste en tweede appellante op
aanklagte 5,6,en 7 opgelê is, bly onveranderd staan.
4. In die geval van die derde appellant word al die
vonnisse wat hom op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê is, tersyde
gestel.
5. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8
tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die derde appellant
’n
vonnis van lewenslange gevangenisstraf op daardie aanklagte
opgelê.
-----------------------
F
H GROSSKOPF
Appèlregter
Howie AR)
Marais AR) stem saam