S v Odendaal en Andere (17/95) [1995] ZASCA 133 (21 November 1995)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Common purpose — Appellants convicted of murder following violent altercation resulting in death of victim — Victim assaulted by one appellant and later left unconscious by others — Evidence of intent to kill inferred from actions of appellants and circumstances surrounding the incident — Appeal against conviction dismissed, with original finding of murder upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 133
|

|

S v Odendaal en Andere (17/95) [1995] ZASCA 133 (21 November 1995)

SAAKNR: 17/95
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
MARGARINUS ODENDAAL Eerste Appellant
WILLEM ODENDAAL Tweede
Appellant
CHRISTIAAN DU TOIT Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM
: NESTADT, HARMS, ARR en SCOTT, Wnd AR
VERHOOR
: 6 NOVEMBER 1995
GELEWER
: 21 NOVEMBER 1995
UITSPRAAK
HARMS AR/ ...
2
HARMS AR:
Op die Odendaals se plaas Rietgat in die distrik
Riversdal is die verhouding tussen werkgewer en werknemer eerder een van
leenheer
en vasal, baas en kneg, dominus et servus. Die werkgewer, sy seuns en
plaasvoorman eien hulle die reg toe om die plaaswerkers te
tugtig, "reg te
sien", vir die grap te skop en klap en dan weer as troosprys van drank te
voorsien. Hierdie aanmatiging strek nog
verder en wel tot by die bure se
werkers. Besoekers en gaste van werkers word van die plaas geweer. Maar dinge
het skeefgeloop. Mnr
Hans Muggels, 'n werknemer van 'n buurman, is op 2
September 1991 dood gevind in 'n verlate waenhuis. Sy dood is aan die appellante
toegedig en wel na aanleiding van gebeure op 31 Augustus op die plaas.
Die appellante appelleer teen 'n skuldigbevinding aan die moord op die
oorledene. Hulle het in die streekhof
3
te Riversdal tereggestaan op meerdere aanklagte
.1
'n
Mede-beskuldigde, Morkel (No 2), is onskuldig bevind. No 1 was destyds 'n 17
jarige skoolseun, en is 'n seun van die plaaseienaar.
No 3 is sy ouer broer en
was die klaarblyklike aanvoerder van die straf-ekspedisie, terwyl No 4 'n
plaasvoorman was. Na 'n uitgerekte
verhoor is No 3 skuldig bevind aan gewone
aanranding op mnre Coller, Koos Japhta en Julie Japhta en aan aanranding met die
opset
om ernstig te beseer op mnr Gert Meyers. No 4 is skuldig bevind aan gewone
aanranding op Gert terwyl No 1 skuldig was aan die rig
van 'n vuurwapen op hom.
Daarbenewens is aldrie op aanklag 5 skuldig bevind aan strafbare manslag na
aanleiding van die dood van
Muggels. Die vonnisse in lg verband was:
No 1 - 6 houe en 18 maande opgeskort,
1
Vir doeleindes van hierdie uitspraak gebruik ek die
nommers soos in die streekhof aangewend
4
No 3 - 6 jaar waarvan 2 jaar opgeskort,
No 4 - 3 jaar waarvan 1 jaar opgeskort.
Die
appèl na die Kaapse Provinsiale Afdeling (per Thring R; King R het
saamgestem) het nie alleen misluk nie, maar die skuldigbevinding
aan strafbare
manslag is gewysig na een van moord. Die saak is na die streekhof vir
vonnisdoeleindes terugverwys en die nuwe vonnisse
opgelê is:
No 1 - Gemeenskapsdiens plus 3 jaar gevangenisstraf
opgeskort,
No 3 - 7 jaar,
No 4 - 5 jaar met 2 jaar opgeskort.
Die huidige appèl is slegs teen die skuldigbevinding aan aanklag 5
gerig en geskied met die verlof van die hof a quo. Tensy
nodig ter beregting van
hierdie geskilpunt, is ek nie van voorneme om na die
5
besonderhede van die ander misdrywe te verwys nie. Ek mag net meld dat
die aanrandings op die ander klaers nie van 'n buitengewoon
ernstige aard was
nie. Dit word daardeur gestaaf dat No 3 t a v die vier aanrandings waaraan hy
skuldig bevind is, 'n totale boete
van R800 met 'n alternatief van 350 dae
gevangenisstraf opgelê is. Die hof a quo, wat die hele saak krities in
oënskou
geneem het, was klaarblyklik tevrede met die gepastheid van daardie
vonnisse.
Afgesien van die appèl dien daar ook 'n aansoek om verdere
getuienis aan hierdie hof voor te lê. Dit is, heel verkeerd,
as 'n
hersieningsaansoek ingeklee maar niks wentel daarom nie. Die doel van die
aansoek is om die verklarings wat een van die staatsgetuies
aan die polisie
gemaak het, voor die hof te plaas. Die staatsaanklaer het nie die inhoud van die
verklarings tydens die verhoor
6
geopenbaar nie. Dit, volgens die betoog, het op 'n growwe regskending
neergekom. Mettertyd meer hieroor.
Wat die oorsaak van dood betref,
is die onbetwiste mediese getuienis dat die oorledene dood is as gevolg van
subdurale bloeding en
dit is op sy beurt veroorsaak deur 'n breuk aan die
skedelbasis, posterior, meer na links. Dit was die gevolg van die toediening
van
geweld deur 'n langwerpige stomp voorwerp soos 'n kierie of 'n skoen. (Die ander
beserings, t w kneusings en skaafwonde, wat
aan die lyk gevind is, is tans nie
ter sprake nie omdat hulle geensins tot die dood bygedra het nie.) Subdurale
bloeding word veroorsaak
wanneer die skedelbeen beweeg en dan skielik tot
stilstand kom — die brein beweeg 'n entjie verder en dit versteur die
bloedvate
wat dan tot 'n bloeding lei. So 'n tipe besering skep verskillende
moontlike beelde en aangesien dit later
7
relevant word, is dit dienstig om Dr Schwär, die geregtelike
patoloog, volledig daaroor aan te haal:
"... (hy) kan of onmiddellik bewusteloos wees en dan herstel of hy hoef glad
nie bewusteloos te wees nie en hierdie persone gaan nie
onmiddellik dood nie.
Die beeld wat ons gewoonlik sien in hierdie gevalle is dat die mense byvoorbeeld
as hulle met aanrandings,
met motorvoertuigongelukke of ander ongelukke, dat
hulle hospitaal toe gaan, hulle word ondersoek en hulle kom heeltemal normaal
voor, hulle word huis toe gestuur. Dit is 'n ontsettend stadige bloeding en dan
na 'n dag of twee kom hulle terug hospitaal toe met
simptome van hoofpyn,
naarheid, swakheid en dies meer."
"Edelagbare van die beserings as sulks is dit moeilik om presies te sê
wat aan die begin gebeur het, hy kon bewusteloos gewees
het, hy kan miskien net
vir 'n paar sekondes bietjie deurmekaar gewees het, maar hy kon ook vir 'n kort
periode bewusteloos gewees
het en dan sy bewussyn weer herwin het. Maar dit kan
ook wees dat hy glad nie sy bewussyn verloor het
nie."
Die oorledene is laas op 31 Augustus
1991
8
lewendig gesien. Sy lyk is, soos gesê, twee dae later in 'n verlate
waenhuis gevind. Hy is klaarblyklik daar neergelê
terwyl hy óf
bewusteloos óf reeds dood was. Dit word daarvan afgelei dat hy op sy rug
met sy bene reguit en teen mekaar
en sy arms styf teen sy lyf gelê het. Hy
het net een skoen aangehad, die ander skoen was in die hoek van die waenhuis. Ek
mag
net meld dat die hof a quo bevind het dat toe die oorledene neergelê
is, was hy bewusteloos en nog nie dood nie, 'n bevinding
waarmee ek later
handel.
Om dan na die gebeure op 31 Augustus terug te keer. Dit was maand-einde.
Die plaaswerkers is betaal en is dorp toe vir inkopies. Op
die agenda was ook
drank-aankope. Die oorledene kon nie self dorp toe nie en het vir Gert geld
gegee om vir hom drank te koop. Gert
het dit egter goed gedink om die geld op
homself te spandeer en net
9
vir homself drank te koop.
Hieroor was die oorledene
ontevrede en het hy vir Gert daaroor aangespreek. Gert het hom vervies en,
volgens almal teenwoordig, die
oorledene twee klappe deur die gesig gegee. Die
oorledene, wat gehurk gesit het, het omgeval. Al die getuies (behalwe mej Sarah
Willemse)
het spontaan gesê dat hy nie op sy kop nie maar op sy arm of
skouer geval het. Die oorledene het nie gereageer nie. Vir Gert
was dit egter
nie genoeg nie. Hy het 'n knopkierie waarmee ystervarke gejag word, gaan haal en
hom een hou, soos 'n bylkap, op die
maag geslaan. Die oorledene was hierna
bewegingloos en het vir ongeveer 'n halfuur in die son bly lê. Daarna is
hy deur twee
mans opgetel en "soos 'n sak suiker" weggedra en onder 'n
koelteboom neergelê waar hy vir 'n geruime tyd bly lê het.
Om kortliks af te wyk van die relaas om
die
10
oorledene: kort na hierdie gebeure is Gert na die huis van mev Lena
Francis, het die appellante opgedaag, Gert het weggehardloop,
hy is agtervolg,
No 1 het 'n geweer op hom gerig, Gert is opgelaai en na die Odendaal-opstal
vervoer. Daar is hy 'n stoor ingeneem,
aangerand en gelaat. Gert het mettertyd
ontsnap en na sy pa, mnr Willem Meyers, se huis gegaan.
Die oorledene het intussen sy bewussyn herwin, is ook na Willem se huis
en het op dié se bed gaan lê. Dit het Willem
nie aangestaan nie. Hy
het die oorledene ook met 'n kierie bygekom : volgens hom met twee houe oor die
blaaie, volgens Gert met twee
houe op die rug en volgens Julius Japhta, met houe
oor die bene en bors.
Weer het die oorledene eers bly lê en toe na ongeveer tien minute
opgestaan en sonder om enigiets te sê, weggestap, huis
toe. Toe hy deur
die grensdraad wou kruip.
11
het die appellante met 'n bakkie opgedaag, die oorledene opgelaai en
terwyl hy agter-op gesit het, is hulle terug plaaswerf toe.
Wat hierna gebeur het, blyk slegs uit die getuienis van mej Anna Meyers,
Gert se suster. Sy het reeds vroeër die dag Gert se
aanranding op die
oorledene waargeneem. Nadat die oorledene toe in die koelte neergelê is,
is sy na die huis van mev Lena Francis,
geleë op die plaaswerf. Sy het o a
deur die venster waargeneem toe Gert met die bakkie na die stoor geneem is. Hoe
dit ook sy,
heelwat later het sy weer die bakkie gehoor. Sy het by die venster
uitgekyk en gesien dat die oorledene agter-op sit. Die bakkie
het voor 'n ander
stoor stilgehou. Twee van die appellante het die oorledene aan sy arms van die
bakkie afgehelp. Die oorledene kon
nog staan en hy en die appellante is die
stoor in. Na 'n wyle het sy die
12
oorledene se uitroep van pyn en om hulp gehoor. Daarna het sy gesien hoe
die appellante met die oorledene die stoor verlaat het. Van
belang is haar
beskrywing van die toestand van die oorledene op daardie stadium : hy het bloed
aan sy gesig en hemp gehad; hoewel
hy "slap" was en nie regop kon loop nie, het
hy wel met die hulp van die appellante geloop. Tydens kruisondervraging kleur sy
die
prentjie donkerder : sy bene was slap, sy arms was slap, sy voete het
gesleep en hy is deur die appellante gesleep — nogtans
het hy self na die
bakkie geloop. Ten besluite, die appellante het die oorledene op die bakkie
getel en terwyl hy agterop lê,
het die bakkie vertrek.
Die Staat se getuienis op hierdie aanklag is deur die getuienis van die
vind van die lyk afgerond. Net No 1 en No 3 het ter verdediging
getuig. No 4 het
van sy swygreg gebruik gemaak. Ek sal die verdedigingsgetuienis
13
by beoordeling van die saak buite rekening laat. Dit was leuenagtig maar
het nie enige stawing vir die staatsaak gebied nie.
Soos gemeld, is die appellante in die hof van eerste instansie aan
strafbare manslag skuldigbevind. Die beslissing was daarop gebaseer
dat die
skedelbreuk in die stoor opgedoen is tydens 'n langdurige aanranding waaraan
meerdere persone moes meegedoen het. Die appellante
het die oorledene daarna
lewend, maar bewusteloos, in die waenhuis gelaat — ongevoelig,
onverskillig en roekeloos oor sy lot.
Die landdros was ook van mening dat
vanweë die erns en geweld van die aanranding 'n ander hof moontlik kon
bevind dat dolus
eventualis teenwoordig was, maar het self bevind dat opset nie
bo redelike twyfel bewys is nie.
Die motivering van die hof a guo se bevinding van skuldig aan moord kan
soos volg saamgevat word:
14
[1.] Daar was "geen sprake daarvan" dat die oorledene tydens die insident
met Gert 'n hoofbesering kon opgedoen het nie.
[2.] Die appellante
se gedrag dié dag, ook teenoor die ander klaers, toon dat hulle met 'n
gemeenskaplike opset gehandel het.
[3. ] Die oorledene is in die stoor aangerand en die hoofbesering is daar
toegedien.
[4.] "Nadat hulle die oorledene in die stoor aangerand het , het die
appellante hom weer daaruit gebring en op beskuldigde nommer
3 se bakkie gelaai.
Op daardie stadium moes die oorledene nog gelewe het, want, indien hy reeds dood
was, sou daar, op die mediese
getuienis, alkohol in sy bloed gevind gewees het,
aangesien hy op die getuienis van getuies Gert en Willem Meyers kort vantevore
taamlik sterk onder die
15
invloed van drank was, en dit tyd sou geneem het voordat die oorledene
die alkohol uit sy bloed sou kon skei. ' n Lyk kan nie alkohol
uitskei nie. Die
appellante het ook geweet dat die oorledene nog gelewe het, want hulle het hom
regop uit die stoor gebring, in die
sin dat beskuldigdes nommers 1 en 3 aan
weerskante van hom onder die skouers gestut het, en sy voete op die grond gehang
het. So
word ' n lyk natuurlik nie gedra nie. Terselfdertyd moes dit egter aan
die appellante duidelik gewees het dat die oorledene op daardie
stadium, en wel
as gevolg van hulle aanranding op hom, ernstig beseer was, want Anna Meyers
beskryf die oorledene se toestand soos
volg."
[Dan volg 'n lang aanhaling uit Anna se getuienis wat
reeds
opgesom is.]
"Alhoewel hy nog gelewe het, was die
oorledene
16
klaarblyklik op daardie stadium in 'n veel erger toestand as wat hy was toe
hulle hom die stoor ingeneem het. Toe hulle hom weer uitgebring
het, moes hy
óf bewusteloos óf half-bewusteloos gewees het, en wel as gevolg
van die aanranding wat die appellante
op hom gepleeg het."
[5] Hulle het die bewustelose oorledene in die waenhuis weggesteek, wetende
dat hy leef. Dit het hulle gedoen terwyl hulle besef het
dat hy aan sy beserings
kon sterf en sonder dat hulle omgegee het of hy sou oorleef of
nie.
Dit is nodig om van hierdie bevindings nou onder
die loep te neem.
Ad [l]
: Het die oorledene noodwendig die hoofbesering wat tot die
subdurale bloeding aanleiding gegee het, opgedoen
nadat
die appellante
hom by die grensdraad opgelaai het?
17
Soos gesê, het die hof a guo bevind dat daar "geen sprake" daarvan
was dat dit vroeër toegedien kon gewees het nie. Dit
was 'n oordrywing. Ten
eerste het mev Sarah Willemse getuig dat die oorledene as gevolg van die klappe
op sy kop geval het. Haar
getuienis is weliswaar deur die landdros verwerp op
die grondslag dat sy ontken het dat sy gedrink was terwyl "al" die ander getuies
getuig het dat sy wel gedrink was. Dit was ook 'n oordrywing. Daarbenewens was
al die ander getuies self gedrink of dronk en is haar
getuienis dat sy
vanweë mediese redes nie kon drink nie, oorgesien. Die tweede grondslag van
die verwerping van haar getuienis
was dat haar relaas "onsamehangend" was, 'n
bevinding waarmee ek nie saamstem nie.
Ten tweede was daar die getuienis oor die oorledene se vreemde gedrag
nadat Gert hom begin aanrand het — apatie, bewusteloosheid
en herwinning
van bewussyn.
18
Dié beeld pas in by die beeld wat Dr Schwär in sy aangehaalde
getuienis oor die gevolge van subdurale bloeding gegee het.
Derdens is dit opvallend hoe "spontaan" die staat se getuies getuig het
dat die oorledene nie op sy kop geval het — na my oordeel
te spontaan.
Gert was een van hierdie getuies. Hy was 'n verdagte. Hy het die oorledene
immers aangerand. Hy het dus alle rede gehad
om die erns van sy aanranding af te
water. Hy kon dit maklik doen sonder om sy algemene geloofwaardigheid in gedrang
te bring. Hy
was 'n "quasi-accomplice" en sy getuienis moes aan "particular
scrutiny" onderwerp gewees het (Hoffmann & Zeffertt, The SA Law
of Evidence,
4
e
uitg p 576). Dit het die howe benede nie in ag geneem of gedoen
nie.
Dit laat dan vir Anna, die sleutelgetuie wie se getuienis wesenlik sonder
voorbehoud aanvaar is. Die
19
aansoek om verdere getuienis te lei, het naamlik betrekking op twee
verklarings wat hierdie getuie aan die polisie gemaak het en wel
op 3 en 10
September 1991, pas na die voorval. In die eerste verklaring het sy gesê
dat Gert die oorledene "herhaalde keredeur
die gesig geklap" het en dat sy
"gemerk het dat die oorledene se gesig en neus bloei en dat sy kop vol bloed
is". In die tweede het
sy ook verwys na die herhaalde klappe maar bygevoeg dat
sy gemerk het dat die oorledene "se mond en neus bloei en dat sy kop agter
sy
oor bloei". Sy het Gert ook gewaarsku dat hy die oorledene gaan doodslaan,
waarop Gert geantwoord het dat hy nie omgee nie.
Die relevantheid van hierdie verklarings spreek vir sigself. Daar is 'n
wesenlike verskil tussen twee klappe met oënskynlik geen
eksterne letsels
en herhaalde klappe wat nie alleen die mond en ore laat bloei het nie,
20
maar ook die kop. (Volgens die mediese verslag was
daar
ook net een geskeurde wond aan die kop, nl binne
die
haarlyn en 20mm lank. Dit blyk nie of die skaafwonde
aan
die gesig sou gebloei het nie.) As dit waar is, is
dit
ondenkbaar dat Gert se aanvanklike aanranding slegs
uit
klappe kon bestaan het. Die oorledene se reaksie of
gebrek
aan reaksie, sy bewusteloosheid, dit alles verkry
'n
heeltemal ander kleur. Die vraag ontstaan ook of
Willem
(ook 'n "quasi-accomplice") se aanranding nie deur
veral
hom en Gert op 'n soortgelyke wyse afgewater is nie.
Dis
ook van belang dat Anna in haar getuienis die
bloedbelope
gesig van die oorledene verplaas het tot na sy ervarings
in
die stoor en dat sy enige bloed vóór die tydstip
verswyg
het.
Ek is van oordeel dat daar dus 'n wesenlike verskil tussen Anna se
verklaring en haar getuienis is en
21
dat, as haar verklaring tydig geopenbaar is, bevinding 1 nie noodwendig
gemaak sou kon word nie, veral aangesien die verklaring tot
'n wesenlike
koersaanpassing van die kruisondervraging van die ander staatsgetuies,
insluitend Dr Schwär, aanleiding sou gegee
het.
Ad [3] en [4]
: Ek kom nou by die vraag of die staat bewys het dat
die oorledene deur die appellante aangerand is. Soos gesê, is die staat
se
saak uitsluitlik op Anna aangewese. (Lena wat saam met haar die gebeure by die
stoor sou gehoor en gesien het, is deur die staat
gediskrediteer.) Dit is reeds
tydens die verhoor vasgestel dat Anna fisies nie alles kon waarneem wat sy
volgens haar getuienis gesien
het nie. Dis haar verskoon. Sy sou dit bloot
"gesuggureer" het dat sy die waarnemings gemaak het en dat sy eintlik maar net
'n af
leiding gemaak het. Hierdie judisiële afwatering is nie heeltemal
regverdigbaar
22
nie omdat sy uitdruklik met haar onvermoë gekonfronteer is en sy
aanvaar het dat as sy nie kon gesien het nie, sy nie die waarheid
praat nie. Ek
verkies egter om nie 'n finale oordeel hieroor uit te spreek nie omdat haar
eerste polisieverklaring weer eens relevant
word.
Deel van haar waarneming volgens haar getuienis was oor hoe die oorledene
uit die stoor geneem is en sy fisiese toestand op daardie
tydstip. Dit is die
basis van die bevinding genommer [4] van die hof a guo. Volgens haar eerste
verklaring het sy egter gaan lê
nadat sy die oorledene hoor skreeu het. Sy
het "gehoor" dat die bakkie wegry.
Lena
het toe vir haar gesê dat
dit Odendaal is "en dat die oorledene by hulle op die bakkie is". Die verklaring
is slegs vir een
uitleg vatbaar en dit is dat sy nie gesien het hoe die
oorledene uit die stoor gekom het en op die bakkie gelaai is nie. Dis in skrille
kontras tot
23
haar mondelinge getuienis. As die inhoud van haar verklaring juis is, is
daar geen getuienis op rekord wat die laas aangehaalde bevinding
onder punt [4]
van die hof a guo onderskraag nie.
Dit opper die vraag of, as die hof van hierdie teenstrydigheid in haar
getuienis bewus was, haar sou geglo het toe sy getuig het dat
sy gesien het hoe
die oorledene die stoor ingeneem is en dat sy sy geskreeu gehoor het. In hierdie
verband lewer haar verklarings
ook probleme. Haar tweede verklaring eindig waar
sy die gebeure wat ter sake is by Gert se aanranding, waargeneem het, gaan

het, die bakkie hoor wegry, later — toe dit skemer was — sy
neus voor die stoor gesien het en toe gaan slaap het. Volgens
haar eerste
verklaring is Gert eers by die stoor laat die aand aangerand, nadat die
oorledene se aanranding reeds plaasgevind het.
Dis nog iets wat nie met haar
getuienis
24
te rym is nie.
Bevinding [4] van die hof a guo omvat ook 'n
ander wesenlike punt waarby ek 'n wyle wil stilstaan. Dit is dat die oorledene
dié
middag "taamlik sterk onder die invloed van drank was". Dit is op die
getuienis van Gert en Willem gebaseer — persone wat nie
alleen die
oorledene aangerand het nie maar self dronk was. Ek kan ongelukkig nie met die
hof a quo se bevinding saamstem nie. Dit
is op 'n eenogige beskouing van die
getuienis gegrond. Anna, wie se getuienis beide howe benede beïndruk het,
het onomwonde
getuig dat die oorledene nie gedrink het nie en dat hy
"bloednugter" was. Sarah het haar gestaaf. Die hof a quo het hierdie getuienis
van Anna oorgesien. As mens dan ook in gedagte hou dat Gert nie sy mandaat om
vir die oorledene drank te koop, nagekom het nie —
iets waaroor die
oorledene bitter was — is dit des te meer waarskynlik dat
25
hy nie gedrink was nie. Die grondslag van die hof a quo se gevolgtrekking
val dus weg.
Daar bestaan dus gegronde rede om te glo dat as Anna se
verklarings tydig geopenbaar is, die hof a guo nie bevindings [3] en [4] sou
kon
gemaak het nie.
Ad [5]
: Wat bevinding [5] betref, het die hof a guo
nagelaat om 'n wesenlike faktor wat vir doeleindes van kousaliteit relevant is,
in ag
te neem. Dit is of die getuienis aantoon dat as die appellante nie die
oorledene in die waenhuis weggesteek het nie (natuurlik op
die veronderstelling
dat hy toe nog geleef het) en hy mediese behandeling ontvang het, hy waarskynlik
nie sou gesterf het nie. Tensy
dit bewys is, het die staat nie bewys dat die
wegsteek van die oorledene 'n handeling is wat tot sy dood bygedra het nie. Om
korte
mette van die punt te maak : die staat het nie eens gepoog om hierdie feit
te bewys nie.
26
Om dan uit die meriete van die aansoek om verdere getuienis te lei af te
handel : dit is namens die staat toegegee dat Anna die twee
verklarings gemaak
het. Dit is egter betoog dat die verklarings onontvanklik is omdat die
appellante nie vroeër die verklarings
aangevra het nie. Die verklarings is
vermoedelik eers gedurende Julie 1995 versoek, ietwat meer as drie maande voor
die aanhoor van
die appèl. Op die veronderstelling dat daar 'n versuim
aan die kant van die appellante in hierdie opsig was — iets wat
ek moeilik
begryp — faal die betoog omdat niemand hierdeur benadeel is nie.
Dit is geykte reg dat daar op die staat 'n verpligting rus om 'n
staatsgetuie se verklaring aan die verdediging te openbaar as daar
'n "serious
discrepancy" op 'n wesenlike aspek van die saak tussen die getuie se verklaring
en sy getuienis is. Die versuim om dit
te doen,
27
kom op 'n onreëlmatigheid neer. Sien bv S v Xaba 1983(3) SA 717 (A)
op 728H-729H.
Mnr Nel, namens die staat, het heel billik aangedui dat as hy in die
skoene van die destydse aanklaer gestaan het, hy die verklarings
van Anna
openbaar sou gemaak het. Hy het nogtans betoog dat daar nie ernstige afwykings
tussen Anna se verklarings en haar getuienis
was nie.
Wat verontrustend is, is dat die aanklaer se herverhoor van Anna net twee
aspekte gedek het : haar verklarings en die identiteit van
die stoor. Sy is
gevra of sy sekere aspekte in haar verklarings gemeld het. Dit blyk nou dat haar
een antwoord onwaar was. Die aanklaer
het dit egter daargelaat. Nadat die
landdros vrae ter opheldering gevra het, is een van die verdediging se
raadsmanne toegelaat om
'n vraag oor die inhoud van haar
28
verklaring te vra. Haar antwoord weet ons nou was weer vals. Weer het die
aanklaer geswyg.
Wat mnr
Nel
se betoog betref, het ek reeds
in loop van hierdie uitspraak aangedui dat die afwykings wesenlik was en dat as
die verklarings geopenbaar
is, sou die verhoor waarskynlik 'n heel ander wending
aangeneem het. Anna kon óf gediskrediteer gewees het óf sy kon
die
geleentheid geskep het vir verdere kruisondervraging of ondersoeke. Die uiteinde
hiervan is nie nou te bepale nie. Daar was dus
'n miskenning van geregtigheid
wat tot die wese van die saak gaan.
Ek het oorweging daaraan geskenk of die onreëlmatigheid nie net
betrekking het op die doodslag van die oorledene nie, m a w dat
dit ten spyte
daarvan vasstaan dat die appellante aan aanranding (met of sonder 'n besondere
opset) skuldig is. Hoewel ek aanvaar
dat die
29
appellante die oorledene opgelaai het en dood (of vir dood) in die
waenhuis neergelê het, skep die onreëlmatigheid soveel
vrae oor die
toestand van die oorledene toe hy opgelaai is dat mens nie met enige vertroue
tot 'n bevinding kan geraak nie. Dit is
net nie moontlik om enige spesifieke
besering met enige mate van sekerheid aan die appellante toe te dig nie. Daarmee
wil ek nie
te kenne gee dat daar nie goeie rede is om die appellante te verdink
nie, maar 'n redelike verdenking bewys nie strafregtelike skuld
nie.
Ek het reeds gemeld dat No 1 en 3 se leuens en No 4 se stilswye nie die
leemtes in die staat se saak gevul het nie. Hulle ontkenning
dat hulle die
oorledene opgelaai het (waarskynlik met die doel om hom aan te rand) en in die
waenhuis uitgelê het, beide vals,
kan in gewone omstandighede 'n afleiding
regverdig dat hulle hom wel
30
aangerand het. As die redelike moontlikheid oorweeg word dat hy onder
hulle beheer en toesig dood is as gevolg van beserings vantevore
opgedoen en as
daarmee hulle algemene boefagtige gedrag dié dag in ag geneem word, is
dit goed denkbaar dat hulle kon glo
dat die waarheid nie waarskynlik sou klink
nie (Hoffmann & Zeffertt op cit p 602-603). Dus die leuens.
Dit volg dan dat die appél slaag en die volgende bevel word
gemaak:
1. Die aansoek om verdere getuienis voor te lê, word
toegestaan.
2.
Die
appèl slaag.
3.
Die
appellante se skuldigbevinding aan en vonnis
op
31 aanklag 5 word ter syde
gestel.
L T C HARMS APPèLREGTER