S v Maritz (125/94) [1995] ZASCA 130 (17 November 1995)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Intent — Appellant, a police officer, found guilty of murder after a suspect died while being restrained and forced to run in front of a moving police vehicle — Appellant's claim of lack of intent rejected by the court — Evidence indicated that appellant's actions were reckless and constituted dolus eventualis — Appeal against conviction dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 130
|

|

S v Maritz (125/94) [1995] ZASCA 130 (17 November 1995)

CG SAAKNOMMER: 125/94
IN NIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (
APPèLAFDELING)
In die saak van:
ANTON MARITZ Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM
: SMALBERGER, VAN DEN HEEVER ARR et VAN COLLER Wnd
AR
AANGEHOOR
: 3 NOVEMBER 1995
GELEWER
:
17 NOVEMBER 1995
UITSPRAAK
VAN DEN HEEVER AR
2
Vier lede van die Suid-Afrikaanse Polisie het in die Suid-oos Kaapse
Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof tereggestaan op 'n aanklag
van moord.
Appellant is skuldig bevind soos aangekla, sy mede-beskuldigdes aan begunstiging
van moord. Appellant is ook aangekla
van en skuldig bevind aan poging tot
regsverydeling. Op die eerste aanklag is hy gevonnis tot agt jaar
gevangenisstraf waarvan twee
opgeskort is. Weens die poging tot regsverydeling
was sy vonnis twee jaar waarvan een moet saamloop met die gevangenisstraf wat hy
vir die moord moet ondergaan. Die verhoorhof het sy aansoek om verlof om te
appelleer van die hand gewys. Hierdie Hof het verlof
verleen tot appél
teen sy skuldigbevinding op die eerste aanklag en, sou dit gedeeltelik slaag,
teen die betrokke vonnis.
Appellant het naamlik aan die einde van die Staat se
getuienis sy aanvanklike pleit van onskuldig op beide klagtes verander na een
van skuldig op die tweede aanklag, en skuldig aan strafbare manslag op die
eerste. Die Staat was nie bereid om óf die pleit
óf appellant se
feite-uiteensetting op grond waarvan dit aangebied is, te
3
aanvaar nie.
Volgens die klagstaat en opsomming van wesenlike feite deur
die Staat verstrek, het ene Hendrik Sphiwo Ntluko ("die oorledene") terwyl
hy in
polisiebewaring was, sy dood gevind onder 'n Nyala gepantserde voertuig nadat hy
met 'n nylon sleeptou ("die band") aan die
voorkant daarvan vasgemaak is en
aangesê is om voor die bewegende voertuig uit te hardloop, en raakgetrap
is. Die tweede aanklag
het gespruit uit wat daarna gedoen, gesê en geskryf
is deur appellant en drie kollegas wat by sy verhoor Staatsgetuies was,
om voor
te gee dat oorledene probeer het om te ontsnap en in 'n agtervolgingsproses per
abuis voor die voertuig in gehardloop het.
Die vier beskuldigdes was in die eerste plek die appellant: onder-sersant
Maritz, 22 jaar oud ten tye van die relevante gebeure, 23
toe hy verhoor is,
gestasioneer op Port Elizabeth as lid van die Binnelandse Stabiliseringseenheid
wat voorheen bekend was as die
Onluste-eenheid. Die ander drie was lede van die
Misdaadondersoekdiens op Humansdorp,
4
aldrie ouer en met 'n hoër rang as appellant: beskuldigde nr 2,
speurder-sersant Muller (30); nr 3, adjudant-offlsier Barnard
(32); en nr 4,
speurder adjudant-offisier Kleyn (30). Ek verwys hiema na hulle volgens hulle
nommers in die verhoorhof.
Op 23 Julie 1992 is oorledene deur beskuldigdes 2 en 3, wat 'n moord (op
Stormsrivier gepleeg) ondersoek het, in die Transkei gearresteer.
Hy het aan
hulle 'n bekentenis gemaak waarin hy 'n ander by die moord betrek het. Oorledene
was bereid om die persoon se woonplek
in Port Elizabeth of die man self aan die
polisie uit te wys. Vir dié doel het beskuldigdes 2, 3, 4, oorledene en
assistent-konstabel
Nomganga (as tolk), met twee voertuie op 24 Julie vanaf
Humansdorp na Port Elizabeth gery, waar gereël is dat hulle deur lede
van
die Binnelandse Stabiliseringseenheid in die swart gebied Kwazakhele in begelei
sou word. Dáár aangekom het hulle
by die basis die groep ontmoet
wat hulle sou begelei: appellant, onder-sersant Cullis, en konstabels Midmer,
Kubeka, Williams en
Willard, wat die betrokke nag
5
tot op daardie stadium gepatrolleer het op modderpaaie in mistroostige weer
in 'n Nyala gepantserde voertuig. Daar is ooreengekom
dat, eerder as om drie
voertuie te gebruik, almal in die Nyala na Kwazakhele sou ry. Appellant wat 'n
kursus gedoen het om hom daarvoor
te bekwaam, het die Nyala bestuur. Cullis was
voor in die passasiersitplek. Die ander het agter gesit. Oorledene se hande is
op Humansdorp
al agter sy rug geboei.
Na baie draaie en gesukkel om by 'n besondere adres uit te kom, is
uiteindelik by 'n huis stilgehou. Deursoeking daarvan het niks
opgelewer nie.
Oorledene het gepraat van 'n aansluiting waar daar verkeersligte was, waar hy en
sy mede-verdagte die swart woongebied
sou binnegekom het. ïn die hoop (lei
mens af) dat hy hom daar sou kon oriënteer, is die geselskap na 'n
aansluiting waar
appellant, Cullis, Williams, oorledene en die tolk uitgeklim
het. Oorledene het egter nie die area herken nie. Op Cullis se voorstel
is hulle
na 'n aansluiting in Deal Party wat volgens Cullis moontlik voldoen aan
oorledene se
6
beskrywing. Volgens die Staatsgetuies het almal daar uit die Nyala geklim.
Ondanks por en mor kon of wou oorledene niks herken of
uitwys nie. Midmer het
hom geklap. Appellant het die band wat volgens skatting ongeveer agt meter lank
was, onder 'n sitbank in die
Nyala uitgehaal. Die band het hy altyd saamgeneem
waar hy ry: hy het heelwat sukses behaal met die opspoor van gesteelde voertuie,
wat hy summier daarmee ingesleep het na die polisiestasie. Die glydeure aan
weerskante van die Nyala was oop en die motor het geluier.
Appellant het die
krambout wat aan die een end van die band was, om oorledene se pols vasgemaak,
die ander end van die band voor
aan die Nyala, en oorledene aangesê om te
hardloop. Hy het Williams opdrag gegee om saam te draf, self teruggeklim in die
Nyala
en begin ry. Kort daarna het oorledene onder die Nyala beland. Appellant
het die Nyala feitlik onmiddellik tot stilstand gebring.
Die lengte van die
noodlottige tog van begin tot einde was volgens appellant ongeveer 60 meter. Die
Nyala weeg sewe ton. Oorledene
is op slag dood. Sy lyk het bo en behalwe
7
kneusings en skaafplekke en laserasies, 'n verbryselde skedel getoon,
asook frakture van die linker kakebeen, linker bo-arm en linker ribbes,
en verstuite rugkolom-werwels: een van die nek, twee torakales.
Toe appellant aan die einde van die Staat se saak sy pleit
verander,
is 'n verklaring in terme van artikel 112 van Wet 51
van 1977 wat hy
onderteken en bevestig het, ingedien. Daarin beweer hy:
"Die rede waarom ek die oorledene so vasgemaak en voor die voertuig laat
uitbeweeg het, was soos volg:
(a)
sodat hy homself kon
oriënteer ten opsigte van die gebied, en
(b)
omdat ek geglo het dat die oorledene moedswilliglik besig was om ons
te mislei.
My bedoeling was dat die oorledene vir 'n
kort distansie voor die voertuig moes uitbeweeg. Ek sou hom op 'n veilige
afstand volg,
waama ek sou stilhou en die ander lede weer saam met ons in die
voertuig sou klim. Net voor die botsing het die oorledene, wat op
daardie
stadium links voor die voertuig gedraf het, verder na links beweeg, die
sypaadjie bestyg en daar voortgedraf. Ek wou stilhou.
Vir die doel wou ek die
voertuig uit rat haal. My linkerarm het aan my flitslig, wat op die enjinkonsole
gelê het, geraak en
dit het by my voete geval. Ten einde te verhoed dat
dit onder die rem- en koppelaarpedale beland, wat my sou
8
verhoed om te kon stop, het ek onmiddellik gebuk en dit opgetel. Gedurende
hierdie kort stonde het ek my aandag op die oorledene
verloor. Feitlik
onmiddellik hiema het ek gevoel dat die voertuig oor iets beweeg. Ek het groot
geskrik en besef dat dit die oorledene
moes wees. Ek het onmiddellik die
voertuig se remme aangeslaan en die voertuig tot stilstand gebring. In die
proses het ek ook gepoog
om na regs te swaai. Op geen stadium het ek die opset
gehad om oorledene te dood of selfs te beseer nie. Ek het insgelyks ook nooit
die moontlikheid voorsien dat my optrede tot die dood van die oorledene sou kon
lei nie. Ek was goed vertroud met hierdie voertuig
en het geglo dat ek dit
betyds tot stilstand sou kon bring indien nodig. Ek besef egter
nou
dat
my optrede nie redelik was in die omstandighede nie. Ek kan steeds nie verklaar
presies hoe die oorledene onder die voertuig
beland het nie. Ek aanvaar egter
die Staatsgetuie Williams se weergawe
daarvan."
Williams se getuienis hieromtrent was dat
nadat die oorledene aan die Nyala met die band gekoppel is, die Nyala
voortbeweeg het. Williams
het die oorledene op die sypaadjie gesien. Die band
was op daardie stadium nie gespan nie, dit het gehang. Oorledene het met 'n
rukslag
terugbeweeg, met sy rug skuins na agter. "Die wiel het oor die
9
tou beweeg soos dit vir my gelyk het" - dit is, die linker voorwiel. Toe
Williams weer sien het oorledene agter die voertuig uitgekom.
Die Nyala het
omtrent twee en 'n half na drie meter verder tot stilstand gekom. Op daardie
stadium was die band onder die linker
agterwiel.
Appellant en die ander beskuldigdes het daama almal getuienis afgelê en
is lank gekruisvra en ook deur die geleerde verhoorregter,
Kroon R,
ondervra.
ïn die loop van die verhoor is die voertuig geïnspekteer, verskeie
uitwysings gedoen aangaande wie waar was op bepaalde
oomblikke, en toetse gedoen
om getuies te laat aandui wat hulle skat die spoed was waarteen appellant op die
relevante tyd bestuur
het.
Kroon R het in sy bespreking van die geloofwaardigheid van die persone wat
getuig het, begin met die tweede aanklag en 'n verwerping
van appellant se
bewering dat hy die band van oorledene se gewrig verwyder het om sy pols te kan
voel vir tekens van lewe - dus nie
om die band as getuienis teen hom weg te maak
nie. Hy het bevind dat
10
ondanks gebreke in hul getuienis, dié van die medepligtiges te verkies
was bo dié van appellant. Williams en Willard
het die verhoorhof
beïndruk, veral Williams. Cullis daarenteen het homself in 'n beter lig
probeer voorstel as wat die ware
feite sou weerspieël, soseer so dat hy nie
die vrywaring teen vervolging verleen is wat die ander twee medepligtiges gekry
het
nie. Onbevredigende aspekte in appellant se getuienis is breedvoerig genoem,
ondermeer weer dié met betrekking tot die verwydering
van die band vanaf
oorledene se pols. "Laastens moet daar gekonstateer word dat [appellant]
telkemale, en sodra hy hom in moeilikheid
bevind het ten opsigte van sy
standpunt dat hy nie die opset om te dood in die vorm van dolus eventualis gehad
het nie, sy toevlug
tot die antwoorde dat hy nie weet nie of dat hy nie gedink
het nie, geneem het en die hele vertoning was onindmkwekkend en
onoortuigend."
Ten aansien van die eerste aanklag het Kroon R die volgende uiteensetting van
die verhoorhof se feitebevindings afgetel voordat hy
die
11
advokate se betoë bespreek het:
Eerstens, appellant se bedoeling was dat oorledene vir 'n onbepaalde
afstand straataf moes hardloop om hom mak te maak en te oorreed om
sy effektiewe samewerking te verleen.
Tweedens, Willard se getuienis word
aanvaar, appellant se ontkenning
daarvan verwerp, dat appellant iets soos "nou gaan jy fokken hardloop"
aan oorledene uitgeroep het.
Derdens, onmiddellik voor hy voor die Nyala beland het en omgery is en
terwyl hy op die sypaadjie gehardloop het, is oorledene skielik
teruggetrek tot 'n posisie voor die voertuig. "Die mees waarskynlike
verduideliking daarvan is dat as gevolg van die verskil tussen die spoed
van oorledene en die van die Nyala, die band tot 'n mate verslap het en
onder die linkervoorwiel van die voertuig vasgepen geword het wat die
uitwerking sou gehad het om oorledene terug te ruk."
Vierdens, appellant se verhaal van die flits wat geval het word verwerp.
(Redes vroeër genoem tydens bespreking van geloofwaardigheid, is dat
12
dit nooit aan sy kollegas genoem is nie, en Cullis nie gevra is of daar
'n
flits op die konsole tussen hom en appellant was nie.)
Vyfdens,
getuienis aangaande die spoed waarteen appellant die Nyala
bestuur het, het
gevarieer van sy eie "bitter stadig" wat geskat is op 7
kpu, tot Williams se
20 kpu waarop egter geen peil getrek kan word nie.
"Die werklike spoed moes êrens tussen die twee gewees het."
Sesdens, die remme van die Nyala was doeltreffend.
In die sewende plek, die getuienis van al vier die aangeklaagdes kan nie
verwerp word nie dat appellant, toe dit gebeur, uitgeroep het "O, God, ek
het bo-oor hom gery" of woorde met 'n dergelike strekking.
In sy bespreking van die advokate se betoë, het die verhoorregter feite
getabuleer wat volgens advokaat Hattingh, wat beide in
die Hof a quo en voor ons
namens die Staat opgetree het, belangrik is by beoordeling van appellant se mens
rea. Omdat daar in die
uitspraak verwys word na "die getabuleerde feite" en dit
onduidelik is na watter van die genommerde weergawes op daardie stadium
verwys
word, gee
13
ek ook hierdie latere een weer:
1 is 'n herhaling van die eerste van die verhoorhof se
afgetelde
feitebevindings.
2.
Oorledene is met 'n band van
ongeveer 8 meter lank vooraan die voertuig vasgemaak. As gevolg van die
vermindering van die lengte van
die band deur die vasmaakproses, moet die
afstand tussen oorledene en die voertuig niks anders as baie kort beskryf word
nie.
3.
Die padoppervlakte was nat, en tot
dermate glyerig, en die gebeure het in die nag in swak weersomstandighede
plaasgevind.
4.
Oorledene se hande was agter
sy rug geboei wat sy beweeglikheid en stabiliteit en in die besonder sy vermoe
om op sy voete te bly
nadelig sou geraak het.
5.
Die Nyalavoertuig was 'n groot, swaar, gepantserde motor en uitsig
vanuit die voorkant daarvan was baie beperk vanweë die hoogte
van die
voorruite en die pilare weerskante en tussen die voorruite. Appellant het self
erken dat daar blindekolle was.
14
6.
"Hoewel die spoed waarteen
[appellant] gery het in 'n sekere sin as stadig beskou kon word, in die
omstandighede wat geheers het,
was die spoed een wat as betreklik hoog beskryf
kan word."
7.
"Aansluitend daarby en by punt 2
is die feit dat indien, byvoorbeeld, oorledene sy balans verloor het (óf
as gevolg daarvan
dat hy gly óf omrede hy deur die band geruk word) en
voor die voertuig val rekening met reaksietyd aan [appellant] se kant
gehou moes
word."
Ek kom dan by die belangrikste deel van die
uitspraak, naamlik die bevinding oor appellant se mens rea. Advokaat Hattingh
het toegegee,
en die verhoorhof het aanvaar, dat dolus directus nie bewys is
nie. Die hof het egter dolus eventualis bewese bevind met 'n ongelukkige
woordkeuse waarmee hierdie deel van die uitspraak beide ingelui en afgesluit
word. Appellant se getuienis dat hy inderdaad nie voorsien
het nie dat oorledene
enigsins beseer, wat nog gedood, kon word, inoet beoordeel word - so is namens
hom betoog - in die lig van
ook sy kollegas se versuim om hom te verhoed om sy
planne deur te voer. Sy
15
kreet toe hy oor die oorledene ry bied ook stawing vir sy getuienis dat hy
inderdaad nie die moontlikheid van gevaar vir die oorledene
ingesien het
nie.
Ek nommer aangehaalde passasies uit die uitspraak vir gerief van latere
verwysing daama. (Die woordkeuse wat ek in paragrawe 1 en
8 beklemtoon, is myns
insiens simptomaties van 'n diepliggende mistasting by die toepassing van die
tersaaklike regsbeginsels op
die aangevoerde getuienis. Ek kom op die gepaste
plek hiema terug.)
1.
"...(D)ie blote feit dat
ander persone wat teenwoordig was moontlik 'n besondere siening van die
moontlikheid van gevaar gekoester
het, kan nie veel bydra tot 'n beantwoording
van die vraag of 'n sekere gemoedstoestand aan [appellant]
toeseskrvf moet
word nie
...
2.
'n Meer oortuigende en
betroubare toets sou wees om na die objektiewe feite te kyk en aan die hand
daarvan die aanvaarbaarheid al
dan nie van [appellant] se getuienis oor sy
subjektiewe gemoedstoestand te
besleg.
16
3.
Na 'n emstige oorweging van
die objektiewe feite wat vroeêr getabelleer is, is ons ... die eenparige
mening toegedaan dat die
omstandighede sodanig was dat nie alleen sou 'n
redelike persoon die gevaar vir oorledene voorsien het nie, maar ook dat
[appellant]
die gevaar moes voorsien het en derhalwe het hy dit
voorsien.
4.
Na ons oordeel ... was die gevaar
verbonde aan [appellant] se optrede so voor die hand liggend en so duidelik dat
die gevaar nie misgekyk
kon gewees het nie en vir soverre as wat [appellant],
wat hom persoonlik aanbetref, die teendeel wou voorgee, moet sy getuienis
verwerp
word.
5.
Die basis wat hy self
voorgehou het as die rede waarom hy die gevaar misgekyk het, hou geen steek nie.
Dit was eenvoudig dat hy nie
daaraan gedink het nie, iets wat ons geensins kan
aanvaar nie.
6.
Vir soverre as wat daar
moontlik op die voorgestelde doeltreffendheid van die Nyala se remstelsel
staatgemaak sou word en hoewel ons
nie in die valstrik van trukennis wil val
nie, kan daar daarop
17
gewys word dat, selfs op [appellant] se eie weergawe, toe hy bewus word dat
hy oor iets ry, die voertuig vir om en by 7 meter aangery
het voordat hy dit tot
stilstand kon bring ..."
7.
Insake die afleiding wat die
hof gevra is om te maak uit appellant se kreet toe hy oor die oorledene ry: "Na
ons oordeel gaan die
betoog nie op nie. 'n Besef van moontlike gevolge kan
gepaardgaan met 'n hoop of selfs 'n verwagting dat die gevolge nie inderdaad
sal
intree nie en 'n uitroep soos die onder bespreking kan so goed een van
verslaenheid wees dat die gevolg wat, hoewel voorsien
is, daar gehoop
of
verwag is
nie sou intree nie, inderdaad ingetree het, as een van verbasing."
(Weereens my beklemtoning.)
8.
"Die getuienis
is nie dat [appellant] enigsins stappe gedoen het om die moontlikheid van
oorledene se dood te vermy of selfs te verminder
nie en uiteraard vanweë
die grondslag van sy verdediging het en kon [appellant] nie soiets suggereer nie
en daar is geen ander
basis wat homself voordoen waarop daar beslis kan word
anders as dat [appellant]
18
wel in sy optrede volhard het, onverskillig of die dood van die oorledene wat
hy wel voorsien het, inderdaad intree nie. Die gewraakte
opset, in die vorm van
dolus eventualis, moet derhalwe aan [appellant]
toegeskryf word
en moet
hy derhalwe aan moord skuldig bevind word."
Advokaat Kingsley wat voor ons namens appellant verskyn het, het betoog dat
die verhoorhof misgetas het in sekere van sy feitebevindings
sowel as in sy
benadering tot appellant se geloofwaardigheid. Hy moet na my mening gelyk gegee
word. Dit is onnodig om die getuienis
aangevoer in die lang verhoor tot in die
fynste detail te ontleed. Ek raak wel aan faktore wat van belang is omdat dit
verbandhou
met die vraag of dolus eventualis bewys is.
Dat appellant se getuienis op baie punte onaanvaarbaar was, staan vas. Die
verhoorhof het egter myns insiens misgevat in sy bevinding
dat appellant se
bewering, dat hy nie voorsien het nie dat oorledene gedood kon word,
onaanvaarbaar is vanweë sy "ek-weet-nie"
antwoorde. Die Hof het aan hom
vrae gestel oor sy ex post facto kennis van die
19
moontlike gevolge van sy optrede die nag. Sy antwoorde het, glad nie
onverwags nie, maar net neergekom op 'n relaas van wat wel die
nag gebeur het.
Dat hy geantwoord het "Ek weet nie" op die volgende vraag verbaas ook nie. Dit
was "Nou hoe verduidelik u dat hierdie
gedagtegang nie by u posgevat het daardie
aand nie?" Dit sou seker die antwoord wees wat die grootste gros nalatige
persone gee na
'n kortstondige voorval wanneer hulle lank daama daaromtrent
ondervra word. Die gronde waarop appellant se verhaal oor die flits
verwerp is,
kan ook bevraagteken word: dit is nie aan die Staatsgetuies gestel nie omdat
hulle op die tersaaklike tydstip nie in
die Nyala was nie. Al het appellant
hieroor leuens vertel, sou dit in elk geval nie afdoende wees om die gewraakte
afleiding te regverdig
nie, in die lig van objektiewe feite wat die verhoorhof
óf verbygekyk óf verkeerd benader het.
Wat die verhoorhof se eerste feitebevinding betref, was dit op die
Staatsgetuienis duidelik dat appellant waarskynlik nie voomemens
was om
oorledene ver te laat draf nie. Die Nyala se sydeure was oop en
20
sommige (op sy medebeskuldigdes se weergawe) of dalk almal van sy kollegas
was nog min of meer waar hulle uit die voertuig geklim
het. Appellant het
volgens die Staatsgetuies minstens vir Williams aangesê om saam te
hardloop, volgens Cullis het appellant
uitgeroep "gaan julle nie saam hardloop
nie". Die bevinding dat oorledene se bedoeling was dat oorledene vir 'n
"onbepaalde afstand
straataf moes hardloop om hom mak te maak" is waarskynlik
bedoel as 'n verwerping van appellant se getuienis dat hy na ongeveer 60
tree
gedink het dat oorledene genoeg gedraf het, en reeds besluit het om te stop.
Indien dit meer as dit inhou, strook dit nie met
die feite so pas genoem
nie.
Die derde feitebevinding van die hof, wat saamhang met een in paragraaf 6 van
die uitspraak, word ook nie deur die getuienis ondersteun
nie, in dié
opsig dat niemand getuig het dat oorledene
voor
die Nyala beland het nie:
wel
onder
. Daar is na my mening meriete in advokaat Kingsley se betoog
dat dit heel moontlik is, inderdaad waarskynlik, dat oorledene onder
die linker
agterwiel van die Nyala ingepluk is. (Die
21
foto's toon dat dié 'n stompneus voertuig is, met 'n relatief lang
wielbasis.) Dit sou die afstand gery tussen appellant se
besef van wat gebeur en
sy effektiewe optrede deur te stop, verkort. Niemand kon met volle detail
sê presies wat gebeur het
nie. Op appellant se weergawe het oorledene voor
die Nyala in die pad gedraf. (Daar sou hy volgens bevindings by die hof se
inspeksie,
sigbaar wees vir die bestuurder mits die Nyala nie te na aan hom kom
nie.) Appellant getuig dat oorledene net voor die botsing na
links beweeg en die
sypaadjie bestyg het. Williams het hom 'n sekonde of wat voor die voorval wel op
die sypaadjie gesien. 'n Redelike
afleiding is dat dit hierdie beweging van die
oorledene was wat dit moontlik gemaak het dat die voorwiel, sou die band slap
geword
het, dit raaktrap: dit lê dan skuins, van die middel van die Nyala
waar dit vas is na die sypaadjie en juis in die baan van
die linkerwiele. En
indien die linkervoorwiel die band getrap het en oorledene sodoende geruk het,
waarna oorledene onder die voortbewegende
voertuig beland het, volg dit dat dit
waarskynlik die
22
agterwiel sou wees wat hom getref het.
Indien die verhoorhof in paragraaf
3 van sy uitspraak staat gemaak het op die feite soos getabuleer deur advokaat
Hattingh, is hy
in twee opsigte mislei. Daar is geen getuienis dat die band
verkort is omdat dit voor aan die Nyala vasgemaak is nie. Appellant het
in die
hof gewys na 'n foto van 'n Nyala wat as bewysstuk voor die hof geplaas is en
gesê "... reg in die middel van die registrasienommer
is daar 'n pen. Ek
het net die pen opgelig, die skakel in die middel gesit en weer die pen laat sak
dat hy in die middel van die
twee kante is U Edele ... Die skakel [wat van yster
gemaak is] van die band self' (Hattingh se paragraaf 2). Daar was ook geen
getuienis
hoegenaamd nie waarop Hattingh se paragraaf 3 kon steun. Waar die
voorval plaasgevind het, was die pad geteer en volgens foto's voor
die hof, nie
glad nie. Niemand het getuig dat die sypaadjie glyerig was nie, of wat die aard
van sy oppervlak was nie, waarskynlik
omdat die Staat se saak was dat oorledene
aangesê is om voor die Nyala uit te hardloop, dus op die teer. Dit was
onder al die
23
omstandighede van wesenlike belang om 'n bevinding te maak aangaande die
spoed waarteen die Nyala gery het - hoe vinniger, hoe erger
appellant se graad
van nalatigheid. Waar Williams se skatting van 20 kpu verwerp is, was dit myns
insiens onvoldoende om die vraag
af te maak deur iets tussen die twee te aanvaar
en dit as "betreklik hoog" te beskryf. Daar is geen rede nie, kortom, om
appellant
se getuienis dat hy baie stadig gery het, te verwerp as buite twyfel
vals, en is die gevaar van die situasie wat hy geskep het te
hoog aangeslaan,
veral inagnemend die feit dat hy self in beheer daarvan sou bly.
Voor daar gesê kan word dat die Staat hom gekwyt het van die bewyslas
wat hom beswaar waar hy op dolus eventualis steun vir
'n skuldigbevinding aan
moord, moet die getuienis wat hy aanbied sekere toetse slaag. Die primêre
een is natuurlik dat afleidings
uit die bewese feite moet voldoen aan die
reëls van die logika soos uitgespel in R v BLOM
1939 AD 188.
Om te besluit
dat opset by moontlikheidsbewussyn volgens daardie norme van die logika
buite
24
twyfel bewys is, is daar twee faktore wat moet vasstaan: nie alleen dat die
dader die moontlike gevolge van sy optrede voorsien het
nie, maar dat hy die
risiko daarvan bewustelik aanvaar het. Omdat dit wat in iemand se kop aangegaan
het nie fisies waameembaar is
nie, is 'n bevinding i.v.m. dolus eventualis altyd
afhanklik van afleidings uit ander feite. Merendeels is die feite aan 'n hof
voorgelê
van so 'n aard dat die tweede noodsaaklike afleiding, dat die
aangeklaagde vrede daarmee gehad het sou 'n voorsiene moontlike gevolg
intree,
noodwendig vloei uit die eerste. Dit is in sulke omstandighede oorbodig om
moeisaam uit te spel dat al die nodige trappe
van die logika geklim is en nie 'n
ongeregverdigbare sprong gemaak is nie. Krasse voorbeeld, ter illustrasie: drie
bendelede beplan
om 'n bank te beroof. A bestuur die voertuig waarmee hy die
ander twee aflaai en waarin hy wag om hulle te help ontvlug met die buit
waarin
hy ook gaan deel. Hy weet dat B en C vuurwapens wat A self gesteel en gelaai
het, saamneem. Hy weet ook dat beide geweldenaars
is wat nie sal skroom om te
skiet sou iemand
25
weerstand teen die rooftog bied nie. B en C gaan die bank binne, rig hulle
vuurwapens op die twee kassiere en eis geld. 'n Kliënt
hou hom braaf en
swaai met sy aktetas na B se wapen, gerig op een van die kassiere. B se wapen
val op die vloer. Wanneer die kliênt
buk om dit op te tel, skiet C hom
dood. Indien óf A óf B sou getuig dat hy nooit gedink het dat C
iemand soos die oorledene
sou skiet nie, of dit gedink het maar nie daarmee
verlief geneem het nie, hoef niemand somme te doen om te besluit beide lieg nie.
Andersoortige feite kan meer gedetailleerde ontleding noop, juis omdat
regsbeginsels klaarblyklik nie in die lug hang nie maar toegepas
moet word op
die feite van die besondere geval. (R v NSELE
1955 (2) SA 145
(A) 151.)
Die eerste twee genommerde paragrawe aangehaal uit die uitspraak van die hof
a quo, val reeds vreemd op. Die persone op die toneel
was almal lede van die
polisie en dit kan aanvaar word dat hulle die oorledene vir wie se welsyn hulle
eintlik almal verantwoordelik
was uit hoofde van hul nering, ongeskonde sou wou
laat terugplaas in sy sel.
26
Iedereen van hulle sou teëspoed optel en verduidelikende verklarings
moes gee indien dit nie gebeur nie. Dit is waarskynlik dat
hulle, of van hulle,
nie op daardie stadium gedink het dat oorledene kan beseer word nie, wat nog
gedood. So 'n waarskynlikheid is
per se 'n objektiewe feit -'n feit wat nie
slegs bestaan uit wat appellant beweer sy eie siening van die situasie was nie -
wat in
die weegskaal geplaas moet word: daar is geen rede waarom dit beskou moet
word nie oortuigingskrag te hê nie. Willard het homself
weerspreek oor die
vraag of hy die gevaar ingesien het dat oorledene kan seerkry aldan nie. Cullis
het wel getuig, na sy aanvanklike
bewering dat "I couldn't believe anything
serious would be happening as the investigating officer would be present with
his suspect",
dat hy
'n paar sekondes voor die oorledene agter die Nyala
sigbaar geword het
"said to the people next to me 'is this guy crazy, what
happens if the person falls'". Cullis se getuienis is soos reeds vroeër
aangemerk, as nie waffers betroubaar beskou nie maar hy het gesien waarvan
appellant nie bewus was nie, dat die band slap geword
het.
27
Volgens Williams, die medepligtige wat die beste indruk op die verhoorhof
gemaak het, was almal voor die Nyala toe appellant oorledene
vasmaak.
Beskuldigdes 2, 3 en 4 is die voordeel van die twyfel gegun omdat aldrie van
hulle vertel het dat hulle nie daar uit die
Nyala geklim het nie; maar waar dit
nie positief bevind is dat hy hierin verkeerd was nie, is dit ewe moontlik
(veral omdat die verhoorhof
nie beïndruk was met die drie beskuldigdes se
getuienis nie) dat Williams korrek is. Dit staan vas dat niemand probeer het om
appellant te keer nie, ook nie sy seniors nie wat direk verantwoordelik was vir
die oorledene. Dan is dit glad nie vergesog nie dat
appellant inderdaad nie die
moontlikheid voorsien het van wat toe wel gebeur het nie. Hy het waarskynlik op
die ingewing van die
oomblik opgetree. Hy het nie sy kollegas vertel wat hy van
plan was om te doen nie. Waar oorledene maar ongeveer 60 meter gedraf
het
voordat hy onder die Nyala beland het, was daar selfs teen 'n slakkepas van 7
kpu nie juis tyd vir besinning nie nadat die tog
begin is. Sy onmiddellike
reaksie dui ook daarop: sy kreet is inderdaad
28
deel van die res gestae. Die ander afleiding wat die hof a quo as 'n
moontlikheid voorgehou het, berus op bespiegeling. Paragraaf
7 van die uitspraak
bevat in elk geval 'n mistasting, omdat dit die tweede fondamentsteen van dolus
eventualis ondergrawe. Die moontlikheid
word naamlik erken dat hy nie verwag het
dat die gevolg sou intree nie en dat dit die rede vir sy uitroep kon wees.
Van belang in hierdie saak is dat, soos reeds genoem, appellant self in
beheer van die Nyala was. Hy was bedrewe in die bestuur daarvan,
die brieke was
goed. Dit kan 'n groot verskil maak aan die afleidings wat logies geregverdig is
ten aansien daarvan of iemand die
moontlikheid van gevaar voorsien het aldan
nie, of mens te doen het met 'n dader of 'n medepligtige. Dit moet noodwendig
ook 'n verskil
maak daaraan of die afleiding geregverdig is dat iemand hom
versoen het met die intree van 'n gevolg wat wel voorsien is. Ten opsigte
van
die dader self kan waameembare dade van nie-versoening wat nodig word ten
aansien van andermansoptrede (vgl S v BEUKES
1988 (1) SA 511
(A)
29
522 G-J) ontbeer word. Die dader self aanvaar nie die risiko van die
gevolge nie waar hy oortuig is dat hy die intree daarvan kan verhoed.
Dat sy oortuiging ex post facto blyk verkeerd te gewees het, ding
nie
daarvan af nie dat 'n mens tog nie kan sê dat iemand 'n gevolg
opsetlik
veroorsaak het, net omdat hy die gevolg voorsien het nie, indien
hy
gehandel het in die oortuiging dat dit tog nie sal intree nie (vgl De Wet
en Swanepoel, STRAFREG, 4de uitg bll 140) Dit word meer volledig
uitgespel in S v NGUBANE
1985 (3) SA 677
(A) 685 A-F:
"Conscious negligence is not to be equated with dolus eventualis. The
distinguishing feature of dolus eventualis is the volitional
component: the
agent (the perpetrator) 'consents' to the consequence foreseen as a possibility,
he 'reconciles himself to it, he
'takes it into the bargain'. (Cf the Dutch
authors cited in S v DLADLA EN ANDERE
1980 (1) SA 1
(A) at 4B-G.) Our cases
often speak of the agent being 'reckless' of that consequence, but in this
context it means consenting, reconciling
or taking into the bargain (cf Snyman
STRAFREG at 168, cited in S v SWANEPOEL
1983 (1) SA 434
(A) at 456h) and not the
'recklessness' of the Anglo American systems nor an aggravated degree of
negligence. It is the particular,
30
subjective, volitional mental state in regard to the foreseen possibility which
characterises dolus eventualis and which is absent
in
luxuria."
Ook op hierdie been van die bewyslas, is
appellant se kreet en voorkoms
na die voorval relevant. Volgens Willard was
appellant - inderdaad
almal van hulle - geweldig geskok. Luitenant Smith aan
wie die voorval
nog die nag gerapporteer is, beskryf hom as verskrik, uiters
geskok.
Cullis beskryf hom as "in a panic situation". Dit klink nie na
iemand
wat inderdaad vrede gemaak het met die intree van 'n voorsiene
risiko
nie.
Na my mening is dit egter nie eens nodig om tot hierdie
bevinding
te geraak nie. In S v STIGLING EN 'N ANDER
1989 (3) SA
720
(A)
het hierdie Hof op bl 723 C-D vir die soveelste keer gemaan, in die
woorde van Wessels AR in S v BRADSHAW 1977 (1) PH H 60, dat
"the Court should guard against proceeding too readily from 'ought to have
foreseen' to 'must have foreseen' and hence to 'by necessary
inference in fact
foresaw' the possible consequences of the conduct inquired into. The several
31
thought processes attributed to an accused must be established beyond any
reasonable doubt, having due regard to the particular circumstances
which
attended the conduct being enquired into".
Kyk ook S
v SIGWAHLA
1967 (4) SA 566
(A) 570 A; S v SEPHUTI
1985 (1) SA 9
(A) 12 I. Daar
moet hier minstens 'n redelike twyfel bestaan of appellant inderdaad voorsien
het dat die oorledene se dood kon spruit
uit die situasie wat hy geskep het. Die
verhoorhof het in sy benadering tot die objektiewe getuienis wat nie verwerp kon
word nie,
in die lokval getrap waarteen STIGLING se saak waarsku. Die
skuldigbevinding op die eerste aanklag moet derhalwe vervang word met
'n
skuldigbevinding aan strafbare manslag, want nalatig was appellant gewis.
Appellant was vir vonnisdoeleindes 'n eerste oortreder, redelik jonk toe hy
oortree het, en hierdie oortreding is gemotiveer deur
sy ywer. Volgens die
getuienis was hy inderdaad ywerig - hier inderdaad oor-ywerig. Hy het nie slegs
die ondersoekbeampte se taak
op homself
32
geneem nie, maar om misdaad te bekamp het hy self in misdaad verval. Sy
optrede teenoor die oorledene kan nie goedgepraat word nie.
Daar was getuienis
aangevoer van onder andere stres veroorsaak deur sy werksomstandighede. Daar was
'n gebrek aan ondersteuning in
sy pogings om misdaad te bestry. Hy en sy jong
kollegas in die eenheid waaraan hy verbonde was, is gebruik in situasies wat
eintlik
weermagtake moes gewees het en waarin van hulle gesneuwel het. Maar deur
sy optrede het hy die mag waarby hy vrywillig aangesluit
het, oneer aangedoen,
en die taak van sy kollegas wat die agting van die wetsgehoorsame gemeenskap
nodig het om hul werk behoorlik
te kan doen, bemoeilik. Lede van die polisiemag
word boonop huigelaars indien hulle vir hulself ander norme toe-eien as
dié
waaraan hulle die gewone burger wil hou. Dat hy boonop probeer het om
die reg te verydel wat hy veronderstel is om te dien, sou 'n
verdere verswarende
faktor wees, maar hy is reeds gepas daarvoor gestraf. Dit moet ooglopend buite
rekening gelaat word by bepaling
van wat nou van
33
appellant moet word waar die skuldigbevinding verander word na 'n mindere
kategorie van misdaad, wat egter steeds 'n ernstige bly.
In die gewone loop
sou 'n jong eerste oortreder wat skuldig bevind word aan strafbare manslag
spruitende uit die nalatige, selfs grof
nalatige bestuur van 'n voertuig, nie
direkte gevangenisstraf opgelê word nie. Deur middel van onder andere
opgeskorte gevangenisstraf
en korrektiewe toesig kan positiewe verpligtings aan
so 'n veroordeelde opgelê word waaruit hy kan leer en die samelewing kan
baat. Hierdie strafbare manslag het egter sy oorsprong nie slegs in nalatigheid
nie, maar in 'n misbruik van mag. Ek meen nie dat
korrektiewe toesig, waarvoor
sy advokaat gevra het, hier gepas sou wees nie. Die oorledene was weerloos toe
hy aan vernedering sowel
as gevaar blootgestel is. Dit is dié faktor wat
probleme veroorsaak met bepaling van 'n gepaste straf, en veroorsaak dat die
gemeenskapsbelang hier swaarder weeg as appellant s'n. Die waarskuwing bevat in
S v SCHUTTE 1995 (1) SASV 344 (C) 350 c-e is deur
hierdie Hof goedgekeur in
SINDEN v THE STATE, 19
34
September l995:
"...(C)ourts should be cautious not to debase the coinage of correctional
supervision as a form of punishment. It is an innovative
form of sentence, which
if used in appropriate cases and if applied to those who are likely to respond
positively to its regimen,
can serve to protect society without the destructive
impact incarceration can have on a convicted criminal's innocent family
members....
However, if it is used indiscriminately it will soon forfeit its
credibility. The courts could well become increasingly reluctant
to invoke its
provisions - even in circumstances where the sentence may well have best served
the interests of both society and the
offender."
Deur die straf aan appellant opgelê, moet die Hof sy en die samelewing
se weersin uitspreek in appellant se magsmisbruik wat
sulke katastrofale gevolge
gehad het.
Die appèl slaag. Die bevinding en bevel van die verhoorhof t.a.v. die
eerste aanklag word geskrap en vervang met die volgende:
1. Op die eerste
aanklag word die beskuldigde skuldig bevind aan strafbare manslag.
35
2. Die vonnis aan hom opgelê ten opsigte hiervan, is een van vier jaar
gevangenisstraf, waarvan twee jaar opgeskort word vir
drie jaar, op voorwaarde
dat beskuldigde nie skuldigbevind word nie óf aan nalatige of roekelose
bestuur van 'n voertuig,
óf aan aanranding, gepleeg binne die tydperk van
opskorting en ten opsigte waarvan hy gevonnis word tot direkte gevangenisstraf
sonder die keuse van 'n boete..
L VAN DEN HEEVER STEM SAAM:
SMALBERGER AR) VAN COLLER Wnd AR)