About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 105
|
|
Bophuthatswana Transport Holdings (Edms) Bpk. v Matthysen Busvervoer (Edms) Bpk (119/94) [1995] ZASCA 105; 1996 (2) SA 166 (SCA); (21 September 1995)
Rapporteerbaar: Ja/Nee SAAKNOMMER: 119/94
/jvdm
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
BOPHUTHATSWANA TRANSPORT HOLDINGS
(EDMS) BEPERK APPELLANT
en
MATTHYSEN BUSVERVOER (EDMS) BPK RESPONDENT
CORAM
: HEFER, VAN DEN HEEVER, HARMS, OLIVIER, ARR
et SCOTT, Wnd AR
VERHOOR
: 7 SEPTEMBER 1995
GELEWER
: 21 SEPTEMBER 1995
UITSPRAAK
HARMS AR/
2
HARMS AR:
In die Transvaalse bosveld, direk ten weste van Ellisras, bedryf Yskor
Bpk die Grootgeluk-steenkoolmyn. Daarnaas, te Onverwacht, 'n
dorpsgebied
aangrensend aan en deel van Ellisras, woon van Yskor se personeel. Ten suide van
Ellisras, te Thabazimbi, bedryf Yskor
'n ysterertsmyn. Sy hoofkantoor en ook een
van sy staalaanlegte is te Pretoria,
ongeveer 200 km suid-oos van Thabazimbi, geleë. Yskor het 'n
behoefte gehad om veral personeel en dié se familie van vervoer
tussen
dié drie punte te voorsien en het, met hierdie doeleinde in oog, 'n
openbare padvervoerpermit (die "Yskorpermit") bekom
met die volgende
magtiging:
"Eie blanke werknemers en gesinslede van sodanige werkers, hul persoonlike
bagasie en eie onderdele (slegs vir eie gebruik) alleenlik
wanneer dit benodig
word vir die onmiddeílike bona fïde herstel en/of instandhouding van
masjinerie en/of werktuigkundige
installasies wat defek geraak het en weens
dringende omstandighede spoedeisend berstel moet
word."
Aan die einde van 1990 het Yskor oënskynlik
besluit om nie meer self die vervoer te bedryf nie en het tenders vir die
vervoer
per pad van
3
personeel tussen Ellisras en Pretoria vir 'n periode van twee jaar vanaf
1 Maart 1991 aangevra. Die huidige respondent (en aansoekdoener
in die hof
benede), Matthysen Busvervoer (Edms) Bpk ("Matthysen"), was die suksesvolle
tenderaar en was, ingevolge die tendervoorwaardes,
alleen verantwoordelik vir
die verkryging van die nodige magtiging en padvervoerpermitte en moes, indien
daartoe versoek, bewys daarvan
aan Yskor tot dié se bevrediging verskaf.
Hoewel Matthysen 'n karweier is soos gedeGnieer in art 1 van die Wet op
Padvervoer
74 van 1977 ("die Wet"), nl iemand wat sake doen as vervoerder van
persone teen vergoeding, doen die maatskappy slegs busvervoer
op kontrakbasis op
bepaalde roetes en bepaalde tye of op 'n ad hoc basis vir georganiseerde groepe.
Matthysen het dus nie 'n bestaande
permit besit wat die betrokke vervoer
gemagtig het nie. Vermoedelik met die samewerking van Yskor is die geldende
Yskorpermit deur
die Plaaslike Padvervoerraad, Pretoria aan Matthysen oorgedra.
Wat egter agterweë gebly het, was 'n aanpassing aan die bewoording
van die
permit. Die gevolg was dat Matthysen vir die duur van die kontrak met
4
Yskor die werknemers van Yskor en dié se gesinslede vervoer het
kragtens 'n permit wat op "eie" werknemers en hul gesinslede
van toepassing was
en wat gratis moes geskied het.
Yskor het aan die einde van 1992
weer eens tenders aangevra vir die verskafGng van 'n soortgelyke diens. Meerdere
tenders is ontvang,
o a vanaf Matthysen maar ook vanaf die appellant,
Bophuthatswana Transport Holdings (Edms) Bpk ("BTH"). Matthysen se tenderprys
was
R16 000 per week terwyl BTH s'n vermoedelik laer was aangesien die tender
vir 'n periode van twee jaar, gereken vanaf 1 April 1993,
aan BTH toegeken is.
Dit was ook 'n voorwaarde van hierdie tender dat die suksesvolle tenderaar
alleen verantwoordelik sou wees vir
die verkryging van die nodige magtiging en
padvervoerpermitte en dat hy ook verplig was om, wanneer daartoe versoek, bewys
daarvan
tot tevredenheid van Yskor te verskaf. Anders as Matthysen, is BTH se
besigheid as karweier eerder op die verskafRng van vervoer
aan pendelaars
ingestel en besit BTH 'n magdom padvervoerpermitte wat hom in staat stel om op
bykans enige roete binne sy bedieningsgebied
'n
5
vervoerdiens te verskaf. BTH het dit onnodig geag om aansoek te doen vir
'n aparte permit om sy Yskorkontrak na te kom en het op die
samevoeging (of,
volgens Matthysen, die sameflansing) van 'n aantal losstaande permitte om die
roete te dek, staatgemaak.
Matthysen was nie met hierdie toedrag van
sake gediend nie en het, nadat die Staat geweier het om aan sy versoek te
voldoen om 'n
strafregtelike vervolging in te stel, 'n aansoek om 'n interdik in
die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen BTH ingestel. Daarvolgens
moes BTH
verbied word om padvervoer te onderneem op die roete soos beskryf in die
Yskorpermit (soos aan Matthysen oorgedra). Yskor
en die Voorsitter van die
gemelde Padvervoerraad is ook as respondente gevoeg sonder dat enige regshulp
teen hulle aangevra is. Hulle
het ook nie aan die verrigtinge deelgeneem nie.
Die aansoek was suksesvol en die hof benede (Du Plessis R) het BTH verbied om
padvervoer
soos vereis ingevolge die kontrak met Yskor op die roete tussen
Ellisras, Thabazimbi en Pretoria, te ondemeem. Die gebruiklike kostebevel
het
gevolg. 'n Aansoek om verlof tot appèl is deur
6
die verhoorregter van die hand gewys maar, na aanleiding van 'n petisie
aan hierdie hof gerig, is verlof tot appèl toegestaan.
Dit is
vooraf gerieflik om in meer besonderhede te handel met die grondslag van
Matthysen se bewering dat BTH se vervoer ingevolge
die kontrak met Yskor
onwettig sou wees. In hierdie verband is op art 31(a) en (b) van die Wet
staatgemaak. Daarvolgens is dit 'n
misdryf om padvervoer te ondemeem behalwe
kragtens 'n permit wat daardie padvervoer magtig of om dit in stryd met die
bepalings van
'n permit te onderneem. In die vestigende verklaring het Matthysen
volstaan met 'n bewering dat hy BTH se magtigings en padvervoerpermitte
nagegaan
het en dat BTH geen magtiging het om padvervoer oor die betrokke roete te
verskaf nie. In antwoord het BTH daarop gewys
dat hy in besit van 'n algemene
magtiging is wat, o a, die volgende twee bepalings bevat:
"2.3 Co-ordination if necessary of any own routes having a common route
or terminus.
2.4 Buses are authorised to operate between either terminus and
intermediate poínts on any particular route."
7
'n Aantal permitte is toe op gesteun wat, as hulle saamgevoeg sou word,
na bewering die roete dek. Matthysen het egter in repliek
afdoende aangetoon dat
die roete wat deur daardie permitte gedek word, nie die roete is wat fisies deur
BTH gebruik is nie. 'n Dupliek
het gevolg. Hierin het BTH toegegee dat hy nie
die roete gebruik het soos aanvanklik beweer nie, maar tegelykertyd op 'n ander
groep
permitte staatgemaak wat, weer eens saamgelees, die nodige magtiging sou
verskaf het. Die vraag is of die laaste groep permitte dit
magtig wat deur BTH
beweer word en in dié verband is twee aspekte geopper.
Ten einde die eerste te verstaan, eers weer 'n bietjie oorvereenvoudigde
aardrykskunde. Rustenburg lê ongeveer 100 km reg wes
van Pretoria.
Tussenin, en naby Pretoria, is Hartbeespoortdam. Die laaste stuk pad tussen die
dam en Pretoria is gemeenskaplik vir
verkeer vanaf Rustenburg en ook vanaf
Thabazimbi via Brits. BTH gebruik dan ook dié stuk pad vir
kontraksdoeleindes. Daarvoor
wend hy 'n permit wat vir roete 67 (b) bedoel is,
aan. Dis nie nodig om die permit in besonderhede aan te
8
haal nie. Dis voldoende om aan te dui dat die permit busvervoer magtig
vanaf Rustenburg oor Hartbeespoortdam tot op 'n plaas wat grens
aan die
munisipale gebied van Pretoria. Wat die permit nie magtig nie, is vervoer binne
die munisipale gebied van Pretoria; ook nie
vervoer vanaf Pretoria na Rustenburg
nie (en dus ook nie na Hartbeespoortdam nie). BTH moet as deel van sy
verpligtinge teenoor Yskor
vervoer binne die Pretoria-gebied en vervoer op die
terugreis na Ellisras verskaf.
Die tweede grond van onwettigheid hang saam met die magtiging om roetes
wat 'n gemeenskaplike roete of terminus het, te koordineer
. Ek sal poog om die
feite te vereenvoudig. Die kontrakroete het die volgende hoofpunte waar
aangedoen of verby gery word: (a) Onverwacht,
(b) Ellisras, (c) Thabazimbi, (d)
Koedoeskop, (e) Assen, (f) Brits, (g) Hartbeespoortdam, (h) Pretoria en terug.
Die permitte waarop
staatgemaak word, word met roetenommers aangedui en hulle
het, op hul beurt, die aangeduide hoofpunte: [1] Roete 2012: Groothoek
- (a) -
(b) - (c) en terug.
9
[2] Roete 2030: (b) - (c) - Northam - (e) - (f) -
Mabopane en terug.
[3] Roete 57: (c) - (d) - (e) - Ramakokstad en
terug.
[4] Roete 5012: Mothotlung - (f) - (g) - Schoemansville en
terug.
[5] Roete 67(b): Rustenburg - (g) - Pretoria grens.
Om op te som: van (a) tot (b) ry mens op [1], van (b) tot (c) op [1] of
[2],
van (c) tot (d) op [3], van (d) tot (e) op [3], van (e) tot (f) weer
op[2], van
(f) tot (g) op [4] en van (g) tot neffens (h) op [5]. Die hof benede het
bevind dat aangehaalde bepalings van BTH
se
algemene magtiging nie so 'n samevoeging van roetes gemagtig het
nie.
Hoewel ek prima facie van oordeel is dat sy gevolgtrekking in
hierdie
verband reg was, is dit, weens wat volg, nie nodig om 'n
Gnale oordeel oor
die aangeleentheid uit te spreek nie.
Op die veronderstelling dan dat BTH se uitvoering van
sy
kontrak met Yskor in stryd met 'n
statutêre verbod geskied het, ontstaan die
vraag of Matthysen die nodige locus standi besit het wat hom op 'n
interdik
10
geregtig sou gemaak het. 'n Verbandhoudende vraag is of hy 'n duidelike
reg gehad het wat d m v 'n interdik beskerm kon word.
Die
kernreël, soos deur Wessels HR in Roodepoort-Maraisburg Town Council v
Eastern Properties (Prop) Ltd
1933 AD 87
op 101 geformuleer, is:
"... (B)y our law any person can bring an action to vindicate a ríght
which he possesses (interesse) whatever that right may
be and whether he suffers
special damage or not, provided he can show that he has a direct interest in the
matter and not merely
the interest which all citizens
have."
Die stelling is met goedkeuring aaugehaal in
Cabinet of the Transitional Government for the Territory of South Africa v Eins
1988 (3) SA 369
(A) op 388H-I. Indien 'n landsburger egter beweer dat 'n
statutêre verbod in sy belang ingestel is sodat 'n verbreking van
so 'n
verbod op sy regte inbreuk maak, word die toets in Pafz v Green
1907 TS 428
op
433 neergelê, aangewend. Die toets, soos saamgevat in
Roodepoort-Maraisburg op bl 96 (per Stratford AR), is dit:
"Where it appears either from a reading of the enactment or from that
plus
11
surrounding circumstances that the Legislature has prohibited the doing of
an act in the interest of any person or class of persons,
the intervention of
the Court can be sought by any such person to enforce the prohibition without
proof of special damage."
Daar is dus twee moontlikhede.
Die eerste is dat die statuut, gelees in die lig van sy matriks, die verbod in
die belang van 'n persoon
in die posisie van die applikant, of die groep aan wie
die applikant behoort, ingestel het. Indien dit nie die geval is nie, kan
die
applikant aantoon dat, omdat hy besondere skade a g v die verbodsoorskryding
gely het, 'n reg van hom aangetas is. Wat "besondere
skade" daarstel, hoef nie
vir huidige doeleindes oorweeg te word nie.
Namens Matthysen is betoog dat die Wet die belange van die houers van
geldige padvervoerpermitte beskerm en dat ongemagtigde kompetisie
op 'n skending
van so iemand se werfkrag neerkom. Vgl Van Heerden en Neethling Die Reg
aangaande Onregmatige Mededinging (1983) par
2 8 (bl 154 e v); Sanachem (Pty)
Ltd v Farmers Agri-Care (Pty) Ltd
[1995] ZASCA 2
;
1995 (2) SA 781
(A) op 789B-G. Aangesien
Matthysen die houer van 'n
12
openbare padvervoerpermit (die Yskorpermit) was wat hom gemagtig het om
padvervoer langs die kontrakroete te verskaf, was die optrede
van BTH
onregmatig, nie net uit 'n strafregtelike oogpunt nie, maar ook jeens Matthysen.
Hierdie betoog is deur 'n feite- en regsargument
begroet wat vervolgens behandel
word.
In Herbst v Dittmar
1970 (1) SA 238
(T) het Bekker R beslis
dat, in die lig van die bepalings van die destyds geldende art 13 (3) van
die
Motortransportwet 39 van 1930, die verbodsbepaling nie in verband met die
beskerming van bestaande vervoerbelange staan nie maar eerder
in die openbare
belang ingestel is (op bl 244C-245H). Gevolglik het die hof geweier om ten
gunste van die houer van 'n geldige permit
die respondent, wat sonder geldige
permit en in kompetisie vervoer bedryf het, te verbied om daarmee voort te gaan.
Daar is nie in
die huidige Wet 'n bepaling wat met art 13 (3) ooreenstem nie en
dus kan die ratio van Bekker R nie goedsmoeds op die teenswoordige
van
toepassing gemaak word nie. In ieder geval het hierdie hof in Muller t/a SA
Trucking v Trencor Services (Pty) Ltd 1985 (3)
13
SA 213 (A) dit skynbaar veronderstel dat die houer van 'n geldige permit
wel op 'n interdik in sodanige omstandighede geregtig is.
M i is dit redelik
duidelik uit die bepalings van art 15 (2) van die Wet dat die Wetgewer die regte
van bestaande permithouers wou
beskerm. Hiermee wil ek nie te kenne gee dat
enige permithouer locus standi het nie. Hy sal dit slegs hê as die optrede
van
die respondent op mededinging neerkom. Die bediening van dieselfde roete
beteken natuurlik nie dat daar noodwendig mededinging is
nie want dit kan bv
blyk dat die respondent se optrede geen effek op die besigheid van die applikant
het nie.
Dit is onseker of die Yskorpermit, in Matthysen se hande, vir Matthysen
gemagtig het om die kontrakroete te bedien in ooreenstemming
met en in nakoming
van die nuwe tendervoorwaardes. Ek het aan die begin van hierdie uitspraak reeds
daarop gewys dat die permit van
toepassing was op "eie" werknemers en hulle
gesinslede. Letterlik verwys dit na Matthysen se werknemers en nie na dié
van
Yskor nie. Daarbenewens het dit geverg dat gemeïde persone gratis
vervoer moes word. Letterlik wou Matthysen nie die
14
vervoer gratis doen nie, maar moes Yskor daarvoor betaal. Dit mag wees
dat Matthysen op 'n rektifikasie van die permit geregtig sou
wees. Dit is egter
nie 'n aspek wat in die stukke aangespreek is nie en dit is dus onvanpas om 'n
finale oordeel daaroor uit te spreek.
Ander fasette van locus standi is ook
geopper, maar weer eens, is dit nie nodig om in die lig van my gevolgtrekking
oor die slotvraag,
waarmee ek vervolgens handel, tot 'n bevinding te geraak nie.
Ek sal bloot veronderstel dat Matthysen die nodige locus standi gehad
het.
Die slotvraag is dan of, ten spyte van voorgaande, die optrede van BTH op
onregmatige mededinging met Matthysen neergekom het. Soos
in Patz verduidelik,
al het 'n party 'n reg (in daardie saak op bl 436 genoem die reg "to carry on
his trade without wrongful interference
from others") en al tree die respondent
onwettig op, beteken dit nie dat die optrede vis-á-vis die applikant
onregmatig is
nie. Daar moet 'n aanduiding wees dat die "competition damages the
applicant in his business" (bl 437); en verder, "without proof
of injury there
is no proof of interference with his trade or of
15
an infringement of his right" (bl 438). Juis om hierdie rede was die
applikant in Patz onsuksesvol. Ek mag net terloops meld dat dit
namens Matthysen
tydens betoog voor ons vir die eerste maal geopper is dat hierdie aspek van Patz
hersien en omvergewerp moet word.
Ons moet volgens die betoog bevind dat skade
of "injury" nie aangetoon hoef te word nie. Hierdie ietwat desperate betoog is
nie gemotiveer
nie en verdien dus nie oorweging nie.
Die hof benede het in hierdie verband tot die volgende gevolgtrekking
geraak:
"Toe [BTH] getender het, moes hy gekompeteer het op die grondslag dat hy die
nodige permitte sal bekom. [BTH] hou vol dat hy oor die
nodige permitte beskik.
Dit volg dat hy nooit van voomeme was om verdere magtiging of permitte te bekom
nie. Deur nou die kontrak
uit te voer sonder die nodige permitte, bewys hy self
dat hy onregmatig om die kontrak meegeding het. Die feit dat die tender
afgehandel
is, het nie tot gevolg gehad dat [Matthysen] nie meer op 'n interdik
geregtig is nie. Die bewys dat [BTH] onregmatig opgetree het
kom nou eers na
vore. ... As aanvaar word dat [Matthysen] die kontrak sou gekry het, spreek dit
vanself dat daar op sy werfkrag inbreuk
gemaak word en dat hy skade
ly."
Ek kan nie met hierdie redenasie saamstem nie. Die
uitgangspunt dat Matthysen die tender sou gekry het, was 'n betwiste feit.
Matthysen
het
16
bloot daarop staatgemaak dat omdat hy vantevore 'n kontrak gehad het, sou
hy weer hierdie kontrak gekry het as dit nie vir BTH se
tender was nie. 'n Blote
deurlees van die tendervoorwaardes en, daarteen, Matthysen se tender, staaf nie
so 'n afleiding nie. Hy
het eenvoudig nie aan die tendervoorwaardes voldoen nie.
En volgens die tenderdokumente moes tenders in ooreenstemming met die
voorwaardes
daarin vervat, gewees het. Ek sal net na twee aspekte verwys. Die
prysgrondslag van die tender was 'n noodsaaklike vereiste daarvan
en moes op een
van twee basisse voorgelê gewees het. Die eerste was 'n vaste prys vir die
volle duur van die kontrak, nl twee
jaar. Die tweede was vir 'n prys onderworpe
aan 'n verstelling. Matthysen het nie die tweede opsie uitgeoefen nie maar het
ook nie
die eerste nagekom nie: hy het vir 'n vaste prys vir een jaar getender.
Die ander aspek waama ek wil verwys, is klousule 20 van die
tenderdokument. Dit
het bepaal dat Yskor hom die reg sou voorbehou om die ooreenkoms op enige
stadium gedeeltelik of as geheel te
beëindig indien dit volgens Yskor se
diskresie nodig sou blyk te gewees het. Matthysen het in sy tender
hierdie
17
term verwerp. Met inagneming van die bykomstige feit dat die hof by wyse
van 'n aansoek genader is, het Matthysen m i gefaal om sy
bewyslas ten aansien
van hierdie aspek te bewys.
Matthysen het verder in sy funderende
verklaring daarop staatgemaak dat dit 'n tendervoorwaarde was dat tenderaars ten
tye van tender
in besit van die nodige permitte moes gewees het en dat BTH
waarskynlik vir Yskor in hierdie verband mislei het. Soos aangedui, was
hierdie
uitgangspunt verkeerd. Eers ná toekenning moes die vereiste permitte
bekom word. Op tenderstadium was die besit van
'n permit deur BTH nie relevant
nie. Die besit van permitte was nie 'n faktor wat deur Yskor in ag geneem sou
word by die toekenning
van die tender nie. BTH het dus op regmatige wyse met
Matthysen om die kontrak meegeding. Daardie stryd het Matthysen
verloor.
Die wyse waarop BTH die kontrak uitgevoer het, het nie tot Matthysen se
skade bygedra nie. As Yskor sou versoek het dat BTH die permitte
moes
voorlê en BTH nie in staat sou wees om aan die versoek te
18
voldoen nie, kon Yskor seker die kontrak opgesê het. Dit beteken
egter nie dat Matthysen die kontrak sou gekry het nie. Yskor
kon ook van die
standpunt uitgegaan het dat dit vir BTH was om toe te sien dat sy sake in orde
is. Daar is geen rede om te aanvaar
dat BTH nie stappe sou geneem het, mits hy
tevrede was dat sy optrede in stryd met die Wet is, om die posisie reg te stel
nie deur
om 'n permit aansoek te doen. 'n Bedoeling om m die toekoms onregmatig
op te tree, kan, m i, in die algemeen ook nie 'n handeling
wat andersins
regmatig is, onregmatig maak nie (vgl Tsose v Minister of Justice
1951 (3) SA 10
(A) 17). Matthysen het skade (in die sin van sy verlies van inkomste omdat hy
nie die kontrak gekry het nie) gely hetsy BTH die Wet
oortree het of
nie.
Gekonfronteer met voorgaande het die respondent se advokaat tydens
mondelinge betoog toegegee dat die ratio van die hof benede op
hierdie deel van
die saak nie gehandhaaf kan word nie. Dit is toe betoog dat Matthysen se permit
hom die bevoegheid gee om vir Yskor
kontrakwerk te verrig en dat hy nie hierdie
bevoegdheid kan uitoefen solank BTH met sy
19
onwettige optrede volhard nie. Dus is op sy regte as permithouer inbreuk
gemaak. Die probleem met die argument is bloot dit: Matthysen
se permit was
sonder 'n kontrak met Yskor waardeloos. Hy het nie so 'n kontrak nie. Al staak
BTH sy onwettige optrede, het Matthysen
nog steeds nie 'n kontrak met Yskor
nie.
Dit volg dus dat die appèl gehandhaaf word met koste en
dat die bevel van die hof a quo tersyde gestel word en vervang word
met 'n bevel
wat die aansoek met koste afwys.
L T C HARMS
APPèLREGTER
HEFER, AR )
VAN DEN HEEVER, AR ) Stem saam
OLIVIER, AR )
SCOTT, Wnd AR )