About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 234
|
|
S v Botha en 'n Ander, S v Marais (625/1991, 197/1991) [1992] ZASCA 234; 1993 (2) SA 76 (AD); (27 November 1992)
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPéLAFDELING
)
In die saak tussen:
Saak No 625/1991
1.
DAVID PETRUS BOTHA
Eerste Appellant
ADRIAAN SMUTS
Tweede
Appellant
teen
DIE STAAT
Respondent
Saak No 197/1991
2.
EUGENE MARAIS
Appellant
teen
DIE STAAT
Respondent
CORAM: HEFER, VIVIER ARR et KRIEGLER Wn
AR.
VERHOORDATUM
: 12 NOVEMBER 1992
LEWERINGSDATUM
: 27 NOVEMBER
1992.
UITSPRAAK HEFER AR
:
2
HEFER AR
:
Hierdie twee appèlle wat gesamentlik aangehoor is en in 'n enkele
uitspraak behahdel word spruit uit verskillende verhore maar
uit dieselfde
voorval.
Op Dinsdag 9 Oktober 1990 het 'n aantal swart jeugdiges wat, te oordeel aan
hulle kleredrag lede of ondersteuners van die PAC was,
blankes in Weststraat,
Durban, met messe aangeval en agt mense beseer. Een is later oorlede. Daardie
aand is 'n aantal skote met
outomatiese wapens naby die stad vanuit 'n
verbysnellende motor op 'n bus vol swart passasiers gevuur. Sewe passasiers is
gedood
en agtien ander verwond. Dawid Petrus Botha, Adriaan Smuts en Eugene
Marais, na wie voortaan verwys word as eerste, tweede en derde
appellant
onderskeidelik, is weens die skietery gearresteer. Hulle is
3
aanvanklik gesamentlik aangekla maar, aangesien eerste en tweede appellante
skuldig en derde appellant onskuldig gepleit het, is 'n
skeiding van verhore
gelas. Derde appellant se verhoor is deur HUGO R en assessore waargeneem. Nadat
hy sy pleit na skuldig verander
het, is hy skuldig bevind op sewe aanklagte van
moord, sewe-en-twintig aanklagte van poging tot moord en twee aanklagte waarin
die
onwettige besit van 'n AK-47 geweer en ammunisie beweer is. HUGO R het hom
ter dood veroordeel op elke aanklag van moord. Die ander
twee appellante is
verhoor deur GALGUT R en assessore. Hulle het ook skuldig gepleit en is skuldig
bevind aan die sewe moorde en
sewe-en-twintig pogings tot moord en verder weens
die onwettige besit van wapens en ammunisie. Ook in hulle geval is die
doodvonnis
op elke aanklag van moord opgelê. Die huidige appèlle
ooreenkomstig Art 316 A(l) van die Strafproseswet 51 van 1977,
soos
4
gewysig, is slegs teen die doodvonnisse gerig.
Weens die aard van die
pleite was die verdedigingsgetuienis by elke verhoor beperk tot getuienis ter
strafversagting. By eerste én
tweede appellante se verhoor het eerste
appellant alleen getuig en by derde appellant se verhoor is sy getuienis en
dié van
'n aantal ander getuies met die oog op die straf aangehoor.
Eerste en derde appellante se getuienis stem nie in alle opsigte ooreen
nie maar
die appélle is beredeneer op die basis van die volgende feite :
Ten tyde van die voorval was die appellante, wat op Richardsbaai gewoon het,
lede van die Afrikaner Weerstands Beweging ("AWB") en
die Orde Boerevolk. Hoewel
die aard en doelstellings daarvan nie ten volle uitgepluis is nie,is daar
voldoende getuienis om aan te
neem dat beide organisasies uitgesproke
teenstanders van die regering en
5 onversetlik gekant teen 'n moontlike
toekomstige swart bewind is en bereid is om alles in die stryd te werp om die
belange van blankes
in die algemeen en die Afrikanervolk in die besonder te
handhaaf. Die AWB was aanvanklik blykbaar 'n kultuurorganisasie maar volgens
derde appellant se getuienis is dit later op 'n militêre basis
gestruktureer en het dit 'n organisasie geword waarin die leiers
militêre
range dra. Aan die hoof daarvan was mnr Eugene Terre'Blanche met die rang van
generaal. Eerste appellant was 'n kommandant
en bevelvoerder van die groep in
die Richardsbaai omgewing. Wat presies die struktuur van die Orde Boerevolk is
blyk nie uit die
getuienis nie. Volgens eerste appellant bestaan afsonderlike
selle daarvan in verskillende dele van die land. Hy was die stigter
en leier van
so 'n sel in Richardsbaai.
Nuusberigte oor die messtekery in
6
Weststraat is kort nadat dit plaasgevind het oor die
radio uitgesaai en deur eerste en derde appellante
gehoor. As gevolg daarvan het eerste appellant die
ander twee opdrag gegee om die aand by sy huis aan te
meld. Derde appellant moes ' n AK 47 wat hy, tot
eerste appellant se wete, besit het, met hom
saamneem. Om ongeveer 8 uur die aand het hulle by
eerste appellant se huis ontmoet en met tweede
appeliant se motor, wat deur eerste appellant bestuur
is, na Durban vertrek om, soos eerste appellant dit
in sy getuienis gestel het, 'n "teenaanval teen
swartes in Durban" te loods. Sy getuienis lui voorts:
"Die algemene gevoel tussen die drie van ons was dat ons hard en duidelik 'n
boodskap moes uitstuur aan die Swart gemeente dat aanvalle
van dié aard
op blankes nie geduld sai word sonder weerwraak nie."
Afgesien van derde appellant se AK 47 was daar ook 'n
FN-geweer wat in eerste appellant se besit was in die
7
motor. Beide hierdie wapens is in die getuienis as
masjiengewere
beskryf. Eerste appellant het verder
getuig:
"Ons het nog geen definitiewe plan van aksie gehad toe ons Richardsbaai
verlaat het nie, en terwyl ons gery het het ons gevoel dat
daar gesoek moes word
na 'n Swart huurmotor en dat ons die Swart huurmotor met die masjiengewere sou
aanval. Terwyl ons gesoek het
na 'n Swart huurmotor het daar 'n bus verbygekom
en ons het besluit dat ons die bus sou agtervolg en aanval. Ons het die bus
agtervolg
...Die bus was besig om die KwaMashu area te nader....Toe ek die bus
verbysteek het beskuldigde no 2 en 3 op die bus gevuur....Ons
het toe
teruggekeer na Richardsbaai toe, elkeen na sy woning toe."
Met hierdie kennis van die appellante se
vergryp (waaraan toegevoeg sal word na mate die
uitspraak vorder) kan aandag nou gegee word aan die
vonnisse. Dit moet natuurlik geskied in die lig van
al die strafversagtende en strafverswarende faktore
met inagneming waarvan hierdie hof self moet oordeel
8
of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is. Soos aanstons sal blyk, is
die faktore wat die straf in hierdie saak beïnvloed
tot 'n groot mate
ineengestrengel. Daarom is ek nie van voorneme om soos gebruiklik die
strafversagtende en strafverswarende faktore
afsonderlik te tabuleer nie.
Eerste en derde appellante het getuig - en tweede appellant het by die
verrigtinge ooreenkomstig art 119 van die Strafproseswet te
kenne gegee - dat
die hele doel van die rit na Durban was om die mesaanval in Weststraat te wreek.
Dit moet dadelik gemeld word dat
die slagoffers van die mesaanval nie
familielede of kennisse van enige van die appellante was nie en dat die
appellante geen belang
by die aanval gehad het nie ander dan dat die slagoffers
blankes was. Beide verhoorhowe het bevind dat die voorval die appellante
ontstel
en
9
verontwaardig het maar, anders as duisende ander blankes wat heelwaarskynlik
ewe ontsteld en verontwaardig was, het die appellante
besluit om wraak te neem
sodat dit kwansuis by die swart gemeenskap tuisgebring sou word dat geweld
teenoor blankes teëgestaan
sou word met geweld teenoor swartes.
Teen hierdie agtergrond is daar twee aspekte van die saak wat myns insiens
beklemtoon moet word. Die eerste is dat die appellante
nie in 'n oomblik van
opwellende emosie gehandel het nie. Eerste en derde appellante het die nuus van
die mesaanval gedurende die
dag van 9 Oktober ontvang en tweede appellant het
daarvan gehoor toe hy die ander twee appellante die aand by eerste appellant se
huis ontmoet het. Eerste appellant het die ontmoeting gereël omdat, soos hy
dit in sy getuienis gestel het, hy gevoel het "dat
daar 'n aksie geloods moes
word".
10
Soos vantevore gemeld, het derde appellant met
ay AK
47 by die ontmoeting opgedaag. (Ek sal later by die
bespreking van
derde appellant se geloofwaardigheid
sy getuienis in hierdie verband
behandel.) Gewapen
met derde appellant se AK 47 en die FN-geweer het
die
drie na Durban vertrek met die uitdruklike doel om
"weerwraak" te gaan
neem. Op pad soontoe het hulle
'n plan van aksie beraam en besluit om 'n
swart
huurmotor of bus aan te val. Waarom dit juis 'n bus
of huurmotor
moes wees, blyk uit eerste appellant se
getuienis naamlik dat hulle nie
tevrede was met een
of twee slagoffers nie; hoe groter die aantal, des
te
groter sou die trefkrag van hulle weerwraak wees.
In Durban aangekom, het
hulle vrugteloos gesoek na 'n
geskikte teiken en uiteindelik besluit om
huistoe te
gaan. Ongelukkig het hulle iewers in Durban-Noord
eers
koeldrank by 'n vulstasie gedrink en terwyl
hulle daarmee besig was, het die
betrokke bus
11
verbygery. Dit was helder verlig en hulle het besef
dat dit
vol swart passasiers was. 'n Beter teiken
kon hulle nie verwag nie. Hulle het die bus
agtervolg en verbygesteek op 'n plek waar' daar nie
ander verkeer was nie. Daar het die aanval
plaasgevind. Word hulle optrede as geheel beoordeel,
kan dit nie anders beskryf word nie as 'n lafhartige,
weldeurdagte en koelbloedige aanslag op 'n aantal
onskuldige mense wat niks te make gehad het met die
oggend se voorval nie en wat uitgevoer is met die
vooropgestelde doel om soveel as moontlik van hulle
uit te wis. Ek stem met eerbied saam met HUGO R se
opmerkings ten opsigte van 'n betoog dat die
mesaanval beskou moet word as provokasie vir die
aanval op die bus. Hy het hom soos volg uitgelaat:
"Mnr de Vos het betoog dat die gebeure in Durban die oggend as provokasie
bestempel kon word en dat die f eit ' n versagtende faktor
daarstel. Ons stem
nie saam nie. Die gebeure was ongetwyfeld die katalisator wat die aand se
gebeure ontketen het.
12
Sekerlik was daar 'n gevoel van woede of moontlik vrees teenwoordig, maar niks
wat die slagoffers van hierdie misdaad gedoen het
kan as provokasie beskou word
nie. Beskuldigde en sy trawante het geen poging aangewend om slagoffers te soek
wat moontlik by die
oggend se gebeure betrokke was nie, of selfs mense van
dieselfde aard nie, soos byvoorbeeld jeugdige swartes nie. Inteendeel het
hulle
'n aanval geloods op mense wat klaarblyklik teruggekeer het van die werk laat
die aand en wat hoogs onwaarskynlik by die oggend
se gebeure betrokke kon gewees
het. Voorts het die beskuldigde die hele dag gehad om as't ware af te koel van
die gevoelens wat by
hom ontketen is toe hy die nuus die oggend gehoor
het."
Dit geld vir eerste en tweede appellante
ook.
Die tweede aspek wat op hierdie stadium
beklemtoon moet word, is dat die appellante die reg
in eie hande geneem het en hulle optrede aan die hand
van hulle liefde vir hulle volk probeer regverdig
het. Dit is reeds gemeld dat die appellante, anders
as duisende andere wat waarskynlik ewe verontwaardig
gevoel het, besluit het om die mesaanval te wreek.
13
Wanneer gesoek word na 'n verduideliking vir hulle
optrede
moet eerste en derde appellante se getuienis
afsonderlik behandel word. Derde appellant het
getuig dat hy onder die indruk was dat die aanval op
die bus 'n AWB "aksie" was wat deur die leier van die
beweging gelas is. Volgens hom het mnr Terre'Blanche
voortdurend in sy toesprake op AWB vergaderings in
die vooruitsig gestel dat die organisasie 'n swart
bewindsoorname met geweld sou beveg. Sy getuienis
nadat hy gevra is wat sy reaksie was toe eerste
appellant hom en tweede appellant ingelig het dat
hulle 'n bus of huurmotor in Durban gaan aanval, lui
soos volg:
"Ek het aan hom gevra hoekom, en hy het aan my gestel dat dit is in weerwraak
van hierdie mes-aanval, dat ons as AWB die opstand moet
keer want dit is nou die
begin van hierdie Swartopstand teen die Blankes en indien ons nie nou
onmiddellik iets daaraan doen nie
gaan dit nie stop nie.
Wat was u siening toe hy nou hierdie stelling aan u maak in die lig van wat u
netnou gesê het, dat dit soort van die
14
rewolusie was wat nou aanbreek? Hoe het u
hierdie woorde van hom geïnterpreteer? Ek
het geglo wat hy vir my gesê het want ek het daaroor gedink en, aangesien
mnr Botha direk geskakel het met mnr Eugene Terre'Blanche,
met Ventersdorp,' het
ek geglo dat die opdrag het daarvandaan gekom, dat daar 'n teenoptrede geloods
moet word. HUGO R: Is dit ooit
aan u gesê dat dit
inderdaad so was? Nee U Edele, daar is
nie aan my gesê dat die opdrag van Ventersdorp gekom het nie maar ek het
dit so aanvaar as gevolg van die feit dat Piet direkte
skakeling met Eugene
Terre'Blanche het, en dat dit 'n groot besluit is en 'n groot opdrag wat nie op
plaaslike vlak geneem sou word
nie."
Elders in sy
getuienis het hy gesê:
"As gevolg van die toesprake van mnr Terre'Blanche waar 'n mens gedurig
gehoor het van die totale aanslag wat gaan kom, die swart
opstand, het ek gedink
dat hierdie die begin is van hierdie aanslag waar die Swartes nou omdraai, nie
net teen mekaar veg nie maar
teen die Blankes begin veg."
Derde appellant se advokaat het transkripsies van
sommige van die AWB leier se toesprake by die verhoor
ingehandig en in sy uitspraak het HUGO R daarop
15 gewys dat mnr
Terre'Blanche daarin wel geweld as die uiteindelike oplossing vir die Afrikaner
se toekoms verkondig het maar dat
hy nooit "geweld soos hierdie, op 'n tydstip
soos hierdie, aangemoedig of veroorloof" het nie. Die verhoorhof het derde
appellant
se bewering oor sy geloof dat die mesaanval die begin was van 'n swart
opstand teen blankes in elk geval verwerp maar bevind dat
"die AWB het wel 'n
rol gespeel om die beskuldigde se geneentheid om teen swartes op te tree te
vergroot."
Eerste appellant het getuig dat die aanval op die bus 'n "aksie" van die Orde
Boerevolk was waarmee die AWB niks te make gehad het
nie. Later in sy getuienis
het hy egter laat blyk dat daar geen kontak tussen sy sel en ander selle van die
beweging was nie en dat
hy persoonlik besluit het om die sogenaamde teenaanval
te loods. In die verhoorregter se bespreking van die moontlike versagtende
faktore
16
verskyn die volgende :
"Vierdens, en miskien van die grootste
waarde in hierdie
opsig, aanvaar ons dat
wat die beskuldigdes gedoen het hulle in
die
bona fide
geloof in die Orde Boerevolk
se saak en doelstellings gedoen
het.
Hoewel hulle blykbaar ook lede is van die
AWB speel hierdie feit geen
rol in hierdie
saak nie. Wat betref die Orde Boerevolk se
saak het die
beskuldigdes
geglo dat die PAC
'n beleid van
geweld teen blankes voorstaan
en dat hulle plig was om die Orde
Boerevolk
se beleid te gehoorsaam, naamlik dat vir
elke blanke wat deur
swartes doodgemaak
word daar tien swartes moet sterwe.
Beskuldigde no 1
sê dat hy glo dat die
blanke in Suid-Afrika in 'n oorlog
gewikkel
is. Tot die mate wat hy dit glo geld
hierdie faktor in die
beskuldigde se
guns."
In die lig van eerste en derde appellante
se getuienis moet aanvaar word dat nóg die AWB nóg
die Orde Boerevolk as sodanig iets met die aanval te
make gehad het. Soos vantevore aangedui, verkondig
beide organisasies nietemin 'n beleid wat gerig is op
die daadkragtige handhawing van blankes se belange
teenoor swartes en die voorkoming van 'n uiteindelike
17
swart bewindsoorname. Dat lede soos die appellante vas glo dat
die Afrikanervolk reeds in 'n verbete stryd om voortbestaan teen ander
bevolkingsgroepe gewikkel is, kan nie betwyfel word nie - daarvan spreek eerste
en derde appellante se getuienis. Boonop glo hulle
dat dit nie bloot 'n stryd is
teen politieke teenstanders nie maar inderdaad teen die magte van die Bose. Dit
lê nie op die
weg van die geregshof om hom uit te spreek oor die
grondigheid van so 'n geloof nie; elkeen is immers geregtig om te glo wat hy
wil.
Maar elkeen wat dit huldig moet besef dat daar perke is aan die uitlewing
van sy geloof. Dit spreek tog vanself dat niemand geregtig
is om die wapen na
goeddunke op te neem teen diegene wat hy as vyande van sy volk beskou nie.
Misdadige optrede kan nie onder die
dekmantel van liefde vir die volk verbloem
word nie en persone soos eerste appellant wat homself beskou as 'n soldaat met
die
18
bevoegdheid en die reg om, volgens eie oordeel, te
besluit
oor die lewens van andere in die gewaande
beskerming van sy volk se belange, kan nie toegelaat
word om sy patriotisme as verskoning voor te hou nie.
Organisasies of individue wat hulle beywer vir die
behoud - soos hulle dit sien - van 'n volk moet dus
besef dat die reg sy gewone gang sal gaan en dat
misdadige optrede gestraf sal word, hoe lofwaardig
hulle optrede in eie oë ookal is. Eerste appellant se
houding spreek byvoorbeeld uit die volgende passasie
uit die oorkonde:
"Maar mnr Botha selfs in die oorlog dink ek nie mense gaan sommer eenvoudig
sê nou maar in 'n dorpie in en jy skiet al wat vrou
en kind is dood net om
dood te maak nie. Dit
moet tog 'n doel dien. U Edele ek stem
nie saam nie. In Israel, onder die Palestyne, die Jode-aanval, word daar
weerwraak geneem. Die Israeliese leër of die lugmag
loods 'n teenaanval
teen die Palestyne met bomwerpers en hulle skiet 'n hele dorp gelyk met die
aarde. Daar word ook nie gekyk na
mans, vrouens en kinders nie. En daardie
Israeliese soldate kom terug en kry medaljes. Hulle word beskou
19
as helde omdat hulle opgerree het in die belang van hulle volk. So het ek as 'n
boersoldaat opgetree in die belang van my volk."
Wat
eerste appellant natuurlik uit die oog verloor
het, is dat hy en die ander
twee
selfaangestelde "boersoldate" en beskermers van hulle
volk is. Sy houding is, om die minste te sê, erg
verwaand.
Hoe dit ookal sy, geeneen van die
appellante het probeer te kenne gee dat hy nie ten
volie bewus was van die strafbaarheid van sy optrede
nie. Die aanval op die bus het plaasgevind met die
volle wete dat hulle besig was om moord te pleeg.
Nogtans het hulle volhard. Daarom spreek dit vanself
daz hulie politieke en lewensbeskouings wat in
ooreenstemming is met die beleid van die AWB en die
Orde Boerevolk en klaarblyklik bygedra het tot die
misdaad, weinig gewig kan dra. Ek stem ook nie saam
20 met die betoë
in hierdie hof dat die moorde met 'n politieke motief gepleeg is nie. Soos reeds
aangedui, was die motief
weerwraak
en niks anders nie. Trouens, eerste
appellant het dit in sy getuienis erken. Dat met die aanval beoog is om 'n
boodskap aan die swart
gemeenskap opr te dra, verander nie die beweegrede nie.
Al wat dit te kenne sou gee was dat geweld teenoor blankes gewelddadig gewreek
sou word; met die politiek het so 'n boodskap van wederkerige rassegeweld niks
te make nie.
Ek bespreek vervolgens elke appellant se posisie aan die hand van die
verhoorhowe se bevindings.
In sy uitspraak op vonnis het GALGUT R as
moontlike
versagtende faktore verwys na die feit dat
eerste en tweede appellante nie
vorige veroordelings
het nie en nie tot geweld geneig is nie; dat hulle
'n
mate van berou het oor hulle optrede hoewel hulle
2 1
dit blykbaar steeds probeer regverdig; dat
hulle met
die polisie saamgewerk het en hulle aanspreeklikheid
nie probeer
verdoesel het nie; dat hulle opgetree
het in die
bona fide
geloof in
die Orde Boerevolk se
saak en doelstellings; en dat die mesaanval as
'n
beperkte vorm van provokasie gesien kan word hoewel
die "teenaanval"
teen onskuldigige slagoffers gerig
was en die betrokke twee appellante nie
"emosioneel
belaai" was nie. Wat tweede appellant betref is
verder aanvaar
dat hy 'n lae intelligensievlak het
(wat bevestig is in 'n sielkundige
verslag) en as
volgeling, eerder as leier, opgetree het. Ten
aansien van
die opsetvorm is geen bevinding
genotuleer nie omdat die verhoorhof van
oordeel was
dat die vorm van opset nie veel verskil kon maak nie
aangesien
indirekte opset in die omstandighede van
die saak nie as 'n versagtende
faktor aangemerk kan
word nie. As agtergrond dien verder gemeld te word
22
dat eerste appellant op skool sover as standerd 9 gevorder het
en vantevore 'n verkeersbeampte was. Ten tyde van die voorval was hy
46 jaar oud
met sy eie sakeonderneming in Richardsbaai. Hy' het die verhoorhof beïndruk
met sy "sterk persoonlikheid" en "helder
gedagtes". Die verhoorhof het hom as
"bo-gemiddeld slim" bestempel. Tweede appellant het skoolopleiding tot standerd
8 gehad en hom
daarna as passer en draaier bekwaam. Ten tyde van die voorval was
hy 38 jaar oud. Die verhoorhof het hom as 'n "negatiewe en teruggetrokke
persoon" bestempel.
Die enigste bykomende versagtende faktor waarop mnr Rees in hierdie hof
gesteun het,is dat die appellante nie die "maksimum geweld
waartoe hulle in
staat was" aangewend het nie. Wat hy in gedagte gehad het, was dat die
appellante ná die aanval omgedraai
het en weer by die bus verbygery het
waar dit tot stilstand gekom het sonder om weer daarna te
23
skiet.
As verswarende faktore het die verhoorhof
verwys na
die feit dat die aanval op die bus beplan
was en na die grusaamheid daarvan,
veral waar dit met
dodelike wapens gerig was teen onskuldige weerlose
slagoffers en, wat eerste appellant betref, na die
feit dat hy die betrokke aand as leier opgetree het.
Die verhoorhof was van oordeel dat die verswarende
faktore die versagtendes geheel en al oorskadu.
GALGUT R was verder van mening dat vergelding 'n veel
groter rol in hierdie besondere saak speel teenoor
die ander doeleindes van vonnis as wat andersins die
geval sou gewees het. Dit is nie onvanpas nie om die
belese regter se slotopmerkings in die uitspraak oor
vonnis aan te haal. Dit lui soos volg:
"Die aanval verg na my mening die sterkste moontlike boodskap aan die
gemeenskap, wit en swart, veral in die politieke klimaat wat
toe geheers het en
vandag steeds heers. Die daad van terreur wat die beskuldigdes gepleeg het was
van die ernstigste. Lede
24
van die publiek, wit en swart, is geregtig om in die openbaar te beweeg, sekuur
in die wete dat die gereg beskerming sal bied. Die
publiek, wit en swart, moet
derhalwe gewaarsku en verseker word dat hierdie tipe terreur op die strengste
moontlike manier deur die
gereg verwerp sal word. Die aanval was 'n
moedswillige, gevoellose en agtelose daad op onskuldige mense uitgevoer wat op
sy beste
slegs dien om aanleiding te gee tot verdere geweld of teenaanvalle.
Presies dieselfde moet gesê. word ten opsigte van die PAC
se aanval
daardie oggend."
Ek stem met eerbied
saam. Dit kan geen
twyfel ly nie dat die versagtende faktore totaal
oorskadu word deur die
verswarende faktore en dat in
'n saak soos hierdie vergelding en afskrikking die
deurslaggewende doeleindes van die vonnis is. In 'n
onsekere politieke klimaat met onvermydelike spanning
tussen die bevolkingsgroepe is die skim van
grootskaalse rassegeweld altyd op die agtergrond.
Elke regdenkende, glo ek, hoop dat dit nooit
werklikheid sal word nie. Ongelukkig is daar egter
25
altyd diegene wat onrus aanblaas en in geweld
die
enigste oplossing sien. Ek beklemtoon wat ek
vantevore gesê het
naamlik dat dit elkeen vry staan
om te glo wat hy wil maar dat niemand
toegelaat kan
word om sy persoonlike oortuigings gewelddadig aan
ander op
te dring nie. Daardeur stel hy nie net
homself nie maar miljoene landsburgers
in gevaar. En
dit is presies wat die appellante gedoen het. Die
gemeenskap
sal ongetwyfeld daarop aandring dat hulle
op die strengste moontlike manier
behandel word as
die enigste gepaste boetedoening vir hulle daad en
ter
voorkoming van dergelike voorvalle in die
toekoms. In eerste en tweede
appellante se geval is
ek van oordeel dat die doodvonnis die enigste
gepaste
vonnis is.
Derde appellant was tydens die voorval 28 jaar oud. Na matriek het hy vir ses
maande 'n landbou kursus aan 'n universiteit gevolg
maar sy studies
26
beëindig toe die plaas waarop hy sou gaan boer het,
verkoop is. Daarna het hy nasionale diensplig verrig en vervolgens eers by
'n
fabriek in Modderfontein en later in Chloorkop as skakelbeampte gewerk. Hy het
'n drie-jarige diploma kursus in padvervoer aan
die Randse Afrikaanse
Universiteit voltooi en uiteindelik gevorder tot assistent-vervoerbestuurder
maar gedurende September 1989
het hy bedank. Nadat hy vir 'n paar maande as
assistent-kontrakbestuurder by 'n ander vervoermaatskappy gewerk het, het hy
gedurende
Maart 1990 na Richardsbaai verhuis waar hy 'n suksesvolle fotografiese
besigheid bedryf het. Sy ouers is gedurende 1984 geskei. Twee
jaar later is sy
moeder getroud met 'n persoon met 'n doktorsgraad in Opvoedkunde en 'n hoë
pos in die Staatsdiens. Sy stiefpa
het, volgens derde appellant, "dieselfde
politieke sienings as ek gehad, en hy was 'n hoogs geleerde man en hy het my,
soos ek gesê
het,
27
politieke siening ondersteun en my vertel, dinge
wat
ek nie geweet het nie, wat ek dan toe ook nou geglo
het". Sy politieke
siening - wat kortweg as radikaal
regs beskryf kan word - het derde
appellant
toegeskryf aan sy opleiding aan 'n konserwatiewe
skool
êrens in Transvaal, aan sy militêre opleiding,
aan 'n
universiteits-kamermaat wat 'n valskermsoldaat
was, aan sy skoonouers iewers
in die Waterberg, en
natuurlik aan die AWB waarmee hy sedert 1987
in
aanraking was. In Richardsbaai wou hy, met die oog
op sy sakebelange,
nie openlik aan die politiek
deelneem nie maar hy het gou te wete gekom dat
eerste
appellant die plaaslike kommandant van die AWB was.
Daarna het
eerste appellant hom gereeld by sy
besigheid besoek.
'n Ander persoon wat derde appellant ook op Richardsbaai ontmoet het, was mnr
Carel Liebenberg wat lid was van 'n organisasie bekend
as die Israel
28
Visie of die Gemeente van die Verbondsvolk. Hierdie
organisasie heet godsdienstig van aard te wees maar beoefen 'n geloofsbelydenis
- nogal op die gewaande gesag van dieself de Bybel wat baie van ons lees
-waarvolgens blankes kinders van God en anderskleuriges
skepsels van Satan is
wat nie hoër geag word as die diere van die veld nie. In sy getuienis het
derde appellant te kenne gegee
dat hy geglo het in die waarheid van die
"evangelie" wat Liebenberg verkondig het.
Die verhoorhof het op die getuienis van 'n sielkundige en 'n aantal
familielede aanvaar dat derde appellant "'n swak persoonlikheid
het wat maklik
beïnvloedbaar is". Na hierdie bevinding het HUGO R die faktore wat moontlik
sy optrede op 9 Oktober 1990 beïnvloed
het, behandel en tot die
gevolgtrekking gekom dat nóg sy gesinsfaktore nóg sy
skoolopleiding nóg sy stiefvader
nóg sy skoonouers 'n
29
noemswaardige rol gespeel het. Ten opsigte van die
AWB is
die bevinding genotuleer waarna reeds verwys
is naamlik dat
"die AWB het wel ' n rol gespeél om die beskuldigde se geneentheid om
teen swartes op te tree te vergroot. Verder as dit het
dit vir huidige
doeleindes nie gegaan nie. Die AWB se invloed verduidelik tot 'n mate die
beskuldigde se optrede, maar speel onses
insiens geen rol om dit te versag
nie."
Wat die Gemeente van die Verbondsvolk betref was die
verhoorhof nie bereid om te aanvaar dat die appellant
die organisasie se leerstellings as vaste geloof
aanvaar het nie. "Hoogstens was sy gemoed in
vertwyfeling daaroor" - aldus HUGO R se uitspraak.
Die verhoorhof het alle moontlike
versagtende faktore nagegaan. Onder hierdie hoof is
genotuleer dat derde appellant 'n skoon rekord het
sonder enige inherente neiging tot geweld. Later, by
die opweging van die verskillende faktore, is verder
30
aangedui dat hy rehabiliteerbaar is en, selfs sonder enige straf, nie
weer so 'n misdaad sal pleeg nie. Die verhoorhof het nogtans
bevind dat die
enigste werklike berou aan derde appellant se kant betrekking het op die posisie
waarin hy homself en sy gesin geplaas
het. Origens is bevind dat derde appellant
wel vatbaar is vir beïnvloeding deur ander maar, soos aangedui, dat daar
daadwerklik
nie noemenswaardige beïnvloeding was nie. Ten opsigte van
provokasie is die bevinding geboekstaaf wat reeds aangehaal is en
wat daarop
neerkom dat, hoewel daar 'n gevoel van woede was, "niks wat die slagoffers van
hierdie misdaad gedoen het, ... as provokasie
beskou (kan word) nie". Vervolgens
is eerste appellant se rol teenoor dié van derde appellant behandel. Die
verhoorhof het
bevind dat eerste appellant inderdaad die initiatief geneem het
om die aanval te loods en dat hy binne die struktuur van die AWB
'n posisie
van
31
gesag beklee het en boonop die uiteindelike bevel gegee het om
op die bus te skiet. Nadat daarop gewys is dat dit tweede en derde
appellante
was wat die werklike skietwerk gedoen het, het die verhoorhof tot die
gevolgtrekking gekom dat dit kwalik moontlik is
om aan derde appellant 'n
geringer rol toe te dig as aan sy metgeselle en dat "al die deelnemers een so
aandadig as die ander" is.
In hierdie hof het mnr de Vos sy betoog ten opsigte van versagtende faktore
hoofsaaklik toegespits op wat hy "politieke en godsdienstige
faktore" genoem
het. Die betoog het daarop neergekom dat, hoewel die verhoorhof tereg bevind het
dat derde appellant geredelik vatbaar
was vir beïnvloeding, die
daadwerklike beïnvloeding wat waarskynlik bygedra het tot sy optrede totaal
onderskat is. Ek
stem egter nie saam nie. Derde appellant se getuienis laat die
onuitwisbare indruk dat hy daarop uit was om sy eie
32
verwytbaarheid voor andermansdeur te lê deur te kenne te
gee dat hy gedurende feitlik die hele verloop van sy lewe deur andere
in 'n
bepaalde rigting gestuur is. Die waarheid skemer egter deur in sy getuienis oor
sy stiefvader wat hierbo aangehaal is naamlik
dat laasgenoemde se politieke
beskouings
ooreengekom
het met derde appellant se eie beskouings. Dit
geld ook vir sy kamermaat en sy skoonouers en veral vir die AWB. Eerste
appellant
het byvoorbeeld getuig dat hy graag geluister het na toesprake van
Eugene Terre'Blanche en groot genot gevind het in bandopnames
van die leier se
retoriek waarna hy gereeld geluister het. Klaarblyklik het hy egter nie
geluister na iets wat hy nie graag wou hoor
nie; wat genotvol was in sy leier se
uitsprake, was dat dit ooreengestem het met sy eie beskouings. Natuurlik kan
aanvaar word dat
sy persoonlike sienings daardeur versterk is en dat hy tot
daardie mate beïnvloed is.
33
Daarom was HUGO R volkome korrek in sy gevolgtrekking dat die
AWB 'n rol gespeel het om derde appellant se geneentheid om teen swartes
op te
tree te vergroot. Verder as dit kan dit egter nie gaan nie. Allermins kan dit
gesê word dat enigiemand, behalwe eerste
appellant, wie se optrede ek
binnekort sal behandel, by wyse van beïnvloeding meegewerk het tot derde
appellant se misdade.
Oor Carel Liebenberg en die Gemeente van die Verbondsvolk
hoef nie veel gesê te word nie. Die verhoorhof het tereg bevind dat
derde
appellant, wat die godsdiens betref, in twyfel verval het maar dat hy werklik
kon geglo het dat swartes skepsels van die duiwel
is, kan eenvoudig nie aanvaar
word nie.
Dit moet aanvaar word dat eerste appellant die betrokke dag 'n belangrike rol
gespeel het en, soos die verhoorhof bevind het, die
inisiatief geneem het in die
besluit om weerwraak te neem. Sy rol
34
moet egter nie oorskat word nie. Dat hy die leiding geneem het
doen nie afbreuk aan derde appellant se volkome bereidwilligheid om
mee te doen
nie. Volgens derde appellant was dit op eerste appellant se aandrang dat hy sy
AK 47 saamgeneem het na die ontmoeting
voordat hy nog geweet het van die
voorneme om Durban toe te ry. Sy getuienis dat hy hoegenaamd nie geweet het
waarom hy die wapen
moes saamneem nie, en dat eerste appellant aan hom
gesê het dat hulle 'n draai sou gaan ry en dat hy die geweer moes
saambring,
is nog 'n aanduiding van sy geneigdheid om sy verwytbaarheid te
probeer verplaas. Hy het goed geweet dat die byeenkoms waarheen hy
opgeroep is
en waarheen hy sy wapen moes neem in verband gestaan het met die voorval in
Durban en, selfs voordat hy ingelig is dat
Durban die bestemming was, het hy
ongetwyfeld besef dat dit van hom verwag sou word om sy geweer te gebruik. Sy
persoonlike geneentheid
tot
35
weerwraak daardie aand spreek duidelik uit die
volgende
uitttreksel uit sy kruisondervragingg:
"Het u hoegenaamd geprotesteer daaroor op daardie stadium? . .. Ek het
gesê - ek het geprotesteer in die sin ek het gesê
dit is ver en dis
laat al, en ek was bekommerd dat my vrou gaan kwaad wees - want ek het toe
geweet ons gaan eers 1 uur die oggend
by die huis kom, en ek was bang daarvoor.
MNR SCHÖNFELDT
: So u was toe meer bekomerd oor die feit dat u gaan
laat wees (as) oor die f eit dat u moet mense gaan skiet? . . . Dit is korrek
U
Edele."
Derde appellant se bewering dat hy geglo
het dat die rit Durban toe deur die leier van die AWB
gelas is (hoewel hy toegegee het dat eerste appellant
nooit soiets gesê het nie) en dat die mesaanval die
begin was van die swart opstand wat sy leier altyd in
vooruitsig gestel het, kan ook nie geglo word nie.
Dit is onsinnig om te suggereer dat so 'n opstand
begin sou word met 'n mesaanval deur 'n aantal
jeugdiges geklee in T hempies van die PAC. En, selfs
al het derde appellant so 'n onsinnigheid aanvaar,
36
het hy nog steeds goed geweet dat nóg die leier van die
AWB nóg enigiemand anders hom 'n opdrag of magtiging kon gee
om die reg
in eie hande te neem. Sy posisie verskil na my oordeel nie van dié van
die ander twee nie. Wat ek vantevore gesê
het oor die feit dat hulle die
reg in eie hande geneem het geld ook vir hom. Ook in sy geval stem ek met die
verhoorhof saam dat
die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.
Die appèlle word van die hand gewys.
J J F HEFER AR.
VIVIER AR )
Stem saam. KRIEGLER Wn AR )