About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 231
|
|
S v Madule (59/92) [1992] ZASCA 231 (27 November 1992)
Saak Nr 59/92
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
P A MADULE
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF,
GOLDSTONE, ARR, et VAN COLLER Wn AR
VERHOOR
10 November 1992
GELEWER
: 27 November 1992
UITSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Ek het die uitspraak van VAN
COLLER WnAR gelees. Met enkele uitsonderings, wat ek hieronder
behandel, stem ek saam met wat hy sê
oor die aanwesigheid van
strafversagtende en -verswarende faktore. Ek verskil egter van hom
oor die uiteindelike vraag of die doodvonnis
"die gepaste
vonnis" ingevolge artikel 277 (2) (b) van die Strafproseswet,
no. 51 van 1977, is.
Ter aanvang is dit miskien wenslik
om weer te kyk
na die nou reeds geykte beginsels
wat by die oplegging van
die doodvonnis toegepas word. In
die onderhawige geval is
daar strafversagtende sowel as
-verswarende faktore. In S.
v. Nkwanyana and Others
1990(4) SA 735 (A) het hierdie hof
gesê (op bl. 745 C-F):
"And when
both mitigating and aggravating factors are present, their respective
force or significance will have to be weighed
in order to determine
whether the death sentence is the proper one. In doing this
I
agree with the view of E M GROSSKOPF
3
JA in
S v Senonohi
(
supra
at pp 18-19) that regard will be had to the main purposes of
punishment, namely deterrent, preventive, reformative and
retributive.
This means that in deciding whether the death sentence
is the proper one, consideration will be given to whether these
objects cannot
properly be achieved by a sentence other than the
death sentence (generally a lengthy period of imprisonment). If they
can, then
the death sentence will not be passed. This is because 'the
proper sentence' (unlike 'a proper sentence') must be interpreted to
mean 'the only proper sentence'. It follows that the imposition of
the death sentence will be confined to exceptionally serious cases;
where (in the words of NICHOLAS AJA in
S v
F 1989(1) SA 669
(A) at 682D, albeit in a different context) 'it is imperatively
called for'."
Die doodvonnis moet dus slegs
opgelê word in sake van uitsonderlike erns - "where ...
'it is imperatively called for'"
in die lig van die oogmerke van
strafoplegging, t.w. voorkoming, vergelding, afskrikking en
hervorming (sien ook
S. v. Senonohi
[1990] ZASCA 93
;
1990 (4) SA 727
(A) op bl.
734 F-H).
In die onderhawige geval is daar,
soos VAN COLLER WnAR opmerk, 'n sterk versagtende faktor in appellant
se guns, t.w. dat hy geen
vorige veroordelings het nie. Verder is
daar sy jeugdigheid. In
S. v. Lehnberg en 'n Ander
4
1975(4) SA 553 (A) op bl. 561 A-B
het hierdie hof die
volgende gesê:
"Wat die probleem van
versagting betref, behoort na my mening tienderjariges in die
algemeen as onvolwasse beskou te word, en
derhalwe geregtig op
versagting, tensy die omstandighede van die saak van so 'n aard is
dat 'n Hof homself genoop voel om die doodvonnis
op te lê.
Vanselfsprekend is daar grade van volwassenheid by tienderjariges,
maar uiteraard het geen tienderjarige die rypheid
van 'n volwassene
nie. Jeugdigheid is onvolwassenheid, gebrek aan lewenservaring,
onbesonnenheid, en veral 'n geestestoestand van
vatbaarheid vir
beïnvloeding, veral deur volwassenes. En 'n persoon van 18 of 19
jaar is, volgens my mening, onvolwasse of hy
nog op skool of
universiteit is, en of hy reeds 'n jaar of wat gewerk het. Om
jeugdiges, sonder meer, met die dood te straf, is om
die jeugdige met
die maat te meet waarmee 'n rype volwassene gemeet word. En ek dink
ook nie dat die regspleging van 'n beskaafde
Staat begerig is om,
behalwe in buitengewone omstandighede, tienderjariges te laat ophang
nie."
Wat die appellant in die
onderhawige geval betref,
weet ons wesentlik niks omtrent sy
persoonlikheid en
agtergrond nie, behalwe dat hy 'n
eerste oortreder is, dat hy
die ernstige misdade gepleeg het
waarvan hy aangekla is, en
dat hy twee kinders het.
Laasgenoemde is egter ten beste 'n
5
neutrale faktor - die verwekking
van kinders is nie op sigself 'n aanduiding van rypheid nie, maar is
dikwels eerder die gevolg van
jeugdige voortvarendheid en
onverantwoordelikheid. Waar die
bewyslas op die Staat berus om die afwesigheid van versagtende
faktore te bewys, is daar dus niks,
behalwe die pleging van die
misdade self, om aan te dui dat die appellant ten spyte van sy
jeugdigheid ter dood veroordeel behoort
te word nie. Sien S
. v.
Dlamini
1992(1) SA 18 (A) op bl. 29 J - 30 B, en
S. v. Bosman
1992(1) SASV 115 (A) op bl. 119 i - 120 h.
Dit bring my dan by die aard en
erns van die misdade. Dit spreek vanself dat die moord op die
oorledene 'n snode daad was wat om vergelding
roep. Die howe beskou
dit altyd as ernstig wanneer 'n bejaarde persoon op 'n betreklik
afgeleë plaas vermoor word. Sodanige
misdade is egter nie altyd
ewe ernstig nie. In die onderhawige geval is daar geen aanduiding dat
die misdaad voorafbeplan was nie.
Dit was nie 'n geval, soos
ongelukkig meermale voorkom, waar
6
'n klompie gewapende mense gaan om
'n rooftog te pleeg nie. Daar is geen getuienis dat die appellant die
ysterpyp, waarmee die moord
gepleeg is, saam met hom geneem het nie.
Sy eie getuienis is dat hy dit by die toneel opgetel het, en daar is
niks om hom te weerspreek
nie. Dan het hy die oorledene net een hou
toegedien. Hierdie hou was natuurlik genoeg om die oorledene se dood
te veroorsaak, maar
ek vind dit moeilik om bo redelike twyfel te
aanvaar dat die appellant die direkte opset gehad het om die
oorledene te dood. Ek sou
nie verwag dat die appellant sou geweet het
wat die verskil in graad is tussen 'n hou wat bewusteloosheid
veroorsaak en een wat noodlottig
is nie. Natuurlik, ten beste vir hom
was dit 'n slegte geval van
dolus eventualis
, maar ek dink nie
dit was enigiets meer nie.
Die appellant se optrede ná
die moord was natuurlik afskuwekkend, maar ek meen nie dat dit
enigsins van rypheid getuig nie.
Dat hy nie deur onbeteuelde bloedlus
gedryf was nie, blyk daaruit dat hy die klaagster lewend gelaat het
om
7
later teen hom te getuig. Ek kan
dus ook nie saamstem dat sy optrede doelgerig en berekenend was nie.
Die aanranding op die oorledene
kon heel moontlik impulsief geskied
het, en die appellant se verdere gedrag kom vir my voor as doelloos
en sinneloos. Ek kan dus
nie uit sy optrede aflei dat hy ryp vir sy
jare was nie.
VAN COLLER WnAR verwys na die saak
van
Lukas Mofokenq v. Die Staat
. Daarin word gesê dat 'n
19-jarige misdadiger nie ter dood veroordeel sal word behalwe in
buitengewone omstandighede nie. Dit
is geykte reg dat die doodvonnis
oor die algemeen opgelê word slegs in sake van uitsonderlike
erns. Wanneer 'n hof met tienderjariges
te doen het, sou daar dus in
die meeste gevalle nie 'n doodvonnis opgelê word nie, al is die
moord in ander opsigte 'n besonder
ernstige een. Om 'n formule te
probeer bepaal oor presies hoe ernstig 'n moord moet wees voordat 'n
19-jarige nogtans ter dood veroordeel
kan word is 'n onbegonne taak.
Daar bly skaars byvoeglike naamwoorde oor om die graad
8
van uitsonderlikheid uit te druk,
veral as die appellant ook nog 'n eerste oortreder is. Hoewel daar
ernstige verswarende faktore
in die onderhawige saak aanwesig is,
meen ek nie dat die moord onder al die omstandighede so uitsonderlik
ernstig was dat dit die
doodvonnis as enigste gepaste vonnis verg
nie.
Ten slotte moet ek oorweeg wat 'n
gepaste vonnis sou wees. Die vereistes van vergelding en afskrikking
moet natuurlik beklemtoon word.
Na my mening sal 'n tydperk van 25
jaar gevangenisstraf genoeg hiervoor wees. Dit sal beteken dat die
appellant 'n vonnis opgelê
word wat langer is as sy hele lewe
tot dusver. Die afskrikkingswaarde hiervan kan skaars betwyfel word.
Aan die ander kant word die
moontlikheid van hervorming of
rehabilitasie nie totaal genegeer nie. Op hierdie manier sal daar
myns insiens 'n behoorlike balans
getref word tussen die erkende
doelwitte by strafoplegging.
9
Die volgende bevel word dus
uitgereik:
Die app
è
l
word gehandhaaf en die doodvonnis op aanklag 1 tersyde gestel.
In plaas van die doodvonnis word
'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf opgelê wat gelas word om
saam te loop met die vonnisse
opgelê ten opsigte van aanklagte
2, 3 en 4.
E M GROSSKOPF, AR
GOLDSTONE, AR Stem saam
SAAKNOMMER: 59/92 J VD M
IN DIE HOQGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(
APP
é
LAFDELING
)
In die saak tussen:
PETRUS ANTON MADULE
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
:
E
M GROSSKOPF, GOLDSTONE, ARR et
VAN COLLER, WnAR
VERHOORDATUM
: 10 NOVEMBER
1992
LEWERINGSDATUM
: 27 NOVEMBER
1992
UITSPRAAK
VAN COLLER, WnAR:
Appellant is op 6 Februarie 1992
te Bethlehem deur Van Coppenhagen R en twee assessore skuldig bevind
aan
2
moord, en ter dood veroordeel. Hy
is ook skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof
(aanklag 2), verkragting (aanklag
3) en brandstigting (aanklag 4). Op
aanklag 2 is appellant tot vyf jaar en op aanklag 3 tot vyftien jaar
gevangenisstraf gevonnis.
Op die vierde aanklag is appellant gevonnis
tot tien jaar gevangenisstraf. Dit is beveel dat vyf jaar van
laasgenoemde vonnis, asook
die vyf jaar gevangenisstraf ten aansien
van die tweede aanklag opgelê, saamloop met die vonnis wat op
aanklag 3 opgelê
is. Appellant het slegs teen die doodvonnis
appél aangeteken.
Die gebeure wat tot die klagtes
aanleiding gegee het, het plaasgevind op 23 Julie 1991 op die plaas
Bella Vista in die distrik van
Petrus Steyn. Aangaande die gebeure
het die Staat hoofsaaklik gesteun op die getuienis van mev Anna Maria
Keyter. Volgens haar getuienis
het sy en haar man, mnr Gabriel
Stephanus Petrus Keyter, ("die oorledene") vir ongeveer 30
jaar op
3
die plaas gewoon. Hulle was
gedurende Julie 1991 reeds 43 jaar getroud. Die oorledene was toe 76
en sy 73 jaar oud. Die oorledene
het hoofsaaklik met beeste geboer en
hy het sy boerdery sonder enige hulp behartig. Die geleerde
verhoorregter het die getuienis
van mev Keyter aangaande die gebeure
soos volg in sy uitspraak uiteengesit:
"Op 23 Julie 1991 is die
oorledene per motor-bakkie na Heilbron vir besigheid: besigheid wat
behels het dat hy ' n huis gekoop
het. Sy het alleen op die plaas
agtergebly. Om ongeveer vieruur die namiddag het die oorledene
teruggekeer en was die beskuldigde,
'n persoon wat sy ongeveer 5 of 6
jaar vantevore net in die verbygaan op die plaas gesien het, saam met
die oorledene. Nadat die
oorledene die motor-bakkie in die garage
gestoor het, het hy die huis ingegaan en hom verklee, terwyl die
beskuldigde op die stoep
gewag het. Die oorledene het ligte
versnaperinge van die hand gewys, en gesê dat hy eers die
beeste wou versorg. Sy het gesien
hoe die oorledene en die
beskuldigde die vee gaan haal en na die kraal, waar die groot vee van
die kalwers geskei het, gebring het.
Die oorledene en die beskuldigde
het daarna die
4
koeie na die sogenaamde 'onderste
kamp' gejaag. In die kombuis het sy kos op die koolstoof voorberei.
Op 'n stadium toe sy aartappelskille
in 'n plastiese emmer met 'n mes
wou inkrap, het sy gehoor hoe die sifdeur wat voor die buitedeur van
die kombuis aangebring is vinnig
oopgaan. Die wyse waarop die deur
oopgemaak is was vir haar ongewoon, en sy het opgekyk en gesien hoe
die beskuldigde die sifdeur
na buite oopmaak, die buitedeur van die
kombuis na binne oopmaak, en hoe hy met 'n mes op haar afstorm. Die
beskuldigde het gesê
dat hy haar met die mes sal steek, en het
terselfdertyd die mes wat sy in haar hand gehad het uit haar hand
gegryp. Sy het getuig
dat sy haar nie kon teësit nie, omdat sy
nie oor die krag beskik om haar teë te sit nie. Terloops die
klaagster is opvallend
'n tenger vrou en is sy ook aldus beskryf deur
dr Robbertze.
Die beskuldigde het haar daarna
aan die arm geneem, deur die spens na die slaapkamer. In die
slaapkamer het die beskuldigde die kaste
oopgemaak en deurgekyk. Die
beskuldigde het haar daarna, weereens deur die spens, met die gang,
na die hoofslaapkamer geneem. Hy
het haar eers op die bed gegooi,
haar klere en in besonder haar langbroek en damesbroek afgetrek en
haar verkrag. Nie tevrede met
sy pogings op die bed nie, het hy haar
op die vloer neergegooi en voortgegaan om volle geslagsomgang te hê.
Na die verkragting,
getuig sy, het sy met moeite opgestaan en op
5
die spieëlkas gaan sit en
waargeneem hoe die beskuldigde al die goedere, met uitsondering van
die radio, in die Aanhangsel tot
klagte 2 in die klagstaat
uiteengesit, in 'n drasak sit. Die radio/kassetspeler het hy langs
die drasak in die gang neergeplaas.
Die beskuldigde het vir haar
gevra waar vuurhoutjies is, en haar aan die hand die gang afgeneem.
In die gang het die beskuldigde
die telefoon se gehoorstuk van die
drade afgeruk en daarna voortbeweeg na die kombuis. In die kombuis
het die beskuldigde haar hand
gelos en sy het tot in die sitkamer,
waarvan sy die deur gesluit het, gevlug. Sy het haarself gaan
verskuil agter 'n bank in die
sitkamer. 'n Lang tyd daarna het sy 'n
geweldige slag gehoor en toe sy kyk sien sy dat die bank waaragter sy
geskuil het besig was
om te brand. Toe sy die vlamme van hierdie bank
wou blus, het sy die beskuldigde by haar in die sitkamer met 'n
brandende karton
en papiere gesien. Die beskuldigde het weggestap en
sy het gesien dat die hoofslaapkamer brand en dat die voordeur van
die huis oopstaan.
Sy het uitgegaan en op die stadium toe sy van die
stoep afklim het die beskuldigde gesê dat hy haar met die mes
sal steek,
en nog later dat hy haar sal skiet. Toe sy, die
dreigemente ten spyt, aanhou loop, het die beskuldigde haar teen die
kop geskop en
geklap; dit nadat die hond weggehardloop het toe sy die
hond op die beskuldigde aangehits het. Die beskuldigde het omgedraai,
na
die voordeur gegaan en sy het ontvlug en haar eers verskuil. Sy
het later na haar bure, die
6
Lindes, ongeveer 2 kilometer vanaf
die opstal gevlug. Sy het die lys van die goedere wat deur die brand
verwoes is, Bewysstuk B, bevestig.
Die beraming van die skade
veroorsaak deur die brand, volgens Bewysstuk B, is meer as R200
000,00."
Die stelling in die uitspraak dat
mev Keyter die appellant vyf of ses jaar vantevore op die plaas
gesien het, is foutief. Volgens
die getuienis het sy hom vyf of ses
dae voor die gebeure gesien.
Die ondersoekbeampte in die saak,
adjudant-offisier Meiring van die SAP, het op 24 Julie 1991 na die
oorledene se plaas gegaan. Hy
het getuig dat die plaashuis heeltemal
afgebrand het. Hy het die liggaam van die oorledene in die veld
gevind nie ver van die opstal
nie. Langs die oorledene in die gras
was 'n ysterpyp, bewysstuk 14. Dit is 90cm lank met 'n deursnee van
25mm en het l,39kg geweeg.
Volgens die mediese getuienis het
stompgeweld op die posterior
7
gedeelte van die nek met 'n
nekfraktuur en spinaalkoord-besering die oorledene se dood
veroorsaak. Dit is gemene saak dat appellant
die oorledene met
bewysstuk 14 teen die nek geslaan het. Die geneesheer wat die
nadoodse ondersoek gedoen het, het getuig dat in
die lig van die
beserings wat gevind is, hy die mate van geweld wat gebruik is
"tussen erg en gewelddadige krag" sou beskryf.
Die
oorledene sou onmiddellik nadat die hou toegedien is bewusteloos
geraak het en binne vyf minute gesterf het. Die geneesheer was
van
mening dat slegs een hou toegedien is, en dat die toediener langs of
agter die oorledene moes gestaan het.
Appellant het ook by die verhoor
getuienis afgelê. Hy het getuig dat hy vroeër die betrokke
dag op die plaas aangekom het
en dat hy die oorledene gehelp het om
goedere na Heilbron te vervoer. Hy het weer saam met die oorledene
teruggekeer na die plaas
en hom gehelp met die beeste. Appellant het
erken dat hy
8
bewysstuk 14 met albei hande
vasgehou het toe hy die oorledene geslaan het en dat hy baie hard
geslaan het. Volgens appellant het
hy die oorledene geslaan omdat
laasgenoemde hom nie die R10,00, wat hy hom aangebied het vir die
pleeg van 'n onsedelike daad, wou
betaal nie. Hy sou ook tydens die
pleging van die daad seergekry het. Appellant het getuig dat hy die
oorledene nie wou doodgemaak
het nie en dat hy "geskrik was"
toe hy geslaan het. Hy het ontken dat hy mev Keyter verkrag het maar
het beweer dat hy
gemeenskap met haar toestemming gehad het. Die
goedere wat hy geneem het, het hy volgens sy getuienis nie geroof
nie, maar mev Keyter
het dit aan hom gegee. Appellant het ook ontken
dat hy die huis aan die brand gesteek het.
Die verhoorhof het appellant se
getuienis aangaande die rede waarom hy die noodlottige hou toegedien
het, asook sy getuienis op die
ander klagtes, as vals verwerp. Sy
getuienis dat hy nie bedoel het om
9
die oorledene dood te slaan nie,
is deur die verhoorhof as onhoudbaar bestempel. Wat die opset om te
dood betref, word die verhoorhof
se bevinding soos volg deur die
geleerde verhoorregter uiteengesit:
"Ons bevind dat op die
totaliteit van die getuienis die beskuldigde bedoel het om die
oorledene op die nek te slaan en dat hy
besef het dat die geweld
waarmee hy die hou toegedien het die dood moet intree."
Appellant is op 3 Maart 1972
gebore en hy was dus ten tye van die pleging van hierdie misdade 19
jaar en 4 maande oud. Hy het tot
standerd 6 op skool gevorder en het
in 'n landelike omgewing grootgeword. Hoewel appellant nog 'n jong
man is, is hy reeds die vader
van twee kinders. Appellant het geen
vorige veroordelings nie.
Die nuwe benadering ten aansien
van die doodvonnis en die taak van hierdie Hof in verband
11
op die nek te slaan nie, kon hy
slegs bedoel het om hom teen die kop te slaan. Hy sou beswaarlik die
oorledene buite aksie kon stel
deur hom op sy rug of skouers te
slaan. Indien die aard van die wapen, die plek waar en die geweld
waarmee die hou toegedien is in
aanmerking geneem word, is
dolus
directus
na my oordeel bo redelike twyfel bewys. Die verhoorhof
se bevinding in die verband, is soos blyk uit die gedeelte van die
uitspraak
aangehaal, nie heeltemal duidelik nie. Selfs indien slegs
opset by moontlikheidsbewussyn aanwesig was, was die voorsienbare
moontlikheid
dat die dood sou intree in elk geval so groot dat dit
nie in hierdie saak as strafversagtende faktor in aanmerking geneem
kan word
nie.
'n Sterk versagtende faktor in
appellant se guns is die feit dat hy geen vorige veroordelings het
nie. Die hof
a quo
het ook die jeugdigheid van appellant as 'n
strafversagtende faktor in aanmerking geneem. In
12
Lukas Mofokeng v Die Staat
,
saak nr 214/1991, 'n ongerapporteerde beslissing van hierdie Hof
gedateer 14 September 1992, verwys beide Botha AR en Goldstone
AR in
verband met jeugdigheid as strafversagtende faktor na S,
v Dlamini
1992 (1) SA 18
(A) op 31G-H, en sê Botha AR die volgende op
bladsye 12 en 13:
"Maar, soos blyk uit
S v
Dlamini
1992 (1) SA 18
(A) op 31G-H (die passasie word in die
uitspraak van my kollega aangehaal), die jeugdigheid van 'n
oortreder, al sou dit nie as 'n
strafversagtende faktor
per se
beskou word nie, bring nogtans mee dat die hof traag is om die
doodstraf op te lê. Ek aanvaar dat 'n 19-jarige misdadiger nie
ter dood veroordeel sal word behalwe in buitengewone omstandighede
nie. Ek is egter van oordeel dat daar in die huidige saak wel
buitengewone omstandighede aanwesig is. Daardie omstandighede is
geleë in die grusaamheid van die appellant se optrede, wat
aanduidend is van 'n verwronge en boosaardige geestesgesteldheid."
Dit is vervolgens nodig om na die
strafverswarende
13
omstandighede te verwys en te
oorweeg of daar in die onderhawige saak wel buitengewone
omstandighede aanwesig is. Hierdie is weereens
een van die
sorgwekkend baie gevalle waar bejaarde mense op 'n plaas aangeval is
en 'n weerlose ou man van 76 jaar op lafhartige
en koelbloedige wyse
vermoor is. Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is
dat die oorledene aangeval is ten einde hom
te beroof. Dit is
duidelik dat die aanval beplan was en die verhoorregter sê
tereg in sy uitspraak dat die aanval op die oorledene
nie 'n
impulsiewe daad was nie. Dit kan nie bepaal word presies wanneer die
plan om die oorledene aan te val en te beroof by appellant
ontstaan
het nie, maar dit is ook nie nodig nie. Die f eit dat appellant,
nadat hy die oorledene vermoor het, sy vrou verkrag en
die plaashuis
afgebrand het kan nie in aanmerking geneem word by die oorweging van
die vonnis op die moordklagte nie. Appellant is
daarvoor afsonderlik
gestraf en daar moet
14
gewaak word teen die gevaar van 'n
verdubbelling van vonnis. Sien
S v S
1991 2 SA 93
(A) op
103H-105B. Hierdie optrede is egter aanduidend van ongevoeligheid en
'n laakbare en kwaadwillige geestesgesteldheid wat wel
deeglik
relevant is by die oorweging van die vraag of daar in hierdie saak
spesiale omstandighede aanwesig is. Dit kan dus vir dié
doel
in aanmerking geneem word. Mev Keyter is 'n tenger vrou wat 73 jaar
oud is. Sy kon vir appellant geen bedreiging hoegenaamd
ingehou het
nie. Die wyse waarop appellant teenoor haar opgetree het en haar
geterroriseer het was gevoelloos en boos. Die getuienis
openbaar geen
ander motief vir die afbrand van die plaaswoning as sinnelose
kwaadwilligheid nie. Hierdie optrede kan nie toegeskryf
word aan
jeugdige onbesonnenheid nie maar getuig van 'n verdorwe
persoonlikheid. Appellant het nie gehandel onder invloede van buite
of van 'n ouer persoon nie. Die
15
motief was roof en hier was geen
provokasie of ander faktore wat emosies kon laat opvlam nie.
Appellant is die vader van 2 kinders
en hy is betreklik volwasse. Sy
optrede was doelgerig en berekenend wat nie te rym is met
onvolwassenheid nie. Die jeugdigheid van
appellant in die lig van al
die omstandighede is na my oordeel nie opsigself 'n oorweging wat die
doodstraf onvanpas sou maak nie.
Ten slotte moet oorweeg word of,
met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore, die
doodstraf die enigste gepaste
vonnis is. Die moontlikheid van
rehabilitasie kan sekerlik nie heeltemal uitgeskakel word nie.
Hierteenoor kom die belang van die
gemeenskap en die elemente van
afskrikking en vergelding by straftoemeting sterk na vore wanneer 'n
weerlose bejaarde op 'n afgesonderde
plaas in die loop van 'n rooftog
vermoor is. Optrede soos dié van appellant is iets wat vir die
gemeenskap
16
verderflik is. Na my mening is
hierdie 'n geval van sulke uitsonderlike erns dat die doodstraf die
enigste gepaste straf is vir die
moord wat appellant gepleeg het. Ek
sou die appél van die hand wys.
A P VAN COLLER
WAARNEMENDE APP
è
LREGTER