S v Mello (555/91) [1992] ZASCA 214 (27 November 1992)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Intent — Appellant convicted of murder, robbery, and illegal possession of a firearm — Evidence included a confession and medical testimony indicating the cause of death as strangulation — Appellant's defense claimed improper influence in obtaining the confession — Trial court found intent to kill established beyond reasonable doubt — Appeal dismissed, confirming the conviction and sentence.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 214
|

|

S v Mello (555/91) [1992] ZASCA 214 (27 November 1992)

SAAKNOMMER: 555/91 J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
ANDRIES MELLO
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR et
VAN COLLER, WnAR
VERHOORDATUM
: 17 NOVEMBER 1992
LEWERINGSDATUM
: 27 NOVEMBER 1992
UITSPRAAK
VAN COLLER, WnAR:
Appellant is op 9 Maart 1990 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling skuldig
bevind aan moord (aanklag
2
1), roof met verswarende omstandighede (aanklag 2) en oortreding van artikel
2 van Wet 75 van 1969 (onwettige besit van 'n vuurwapen,
aanklag 3).
Die
verhoorhof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede by die pleging van
die moord aanwesig was nie en die doodstraf is
ten opsigte van aanklag 1
opgelê. Ten opsigte van aanklag 2 is 12 jaar gevangenisstraf opgelê
en ten opsigte van aanklag
3, 18 maande gevangenisstraf. Mynhardt R het egter
beveel dat laasgenoemde vonnis samelopend uitgedien moet word met die vonnis op
aanklag 2. Verlof is aan appellant verleen om na hierdie Hof te appelleer teen
die skuldigbevindings en vonnisse op aanklagtes 1
en 2.
Die aanklagte spruit uit die gebeure van Saterdagaand 3 Junie 1989 toe die
68-jarige mnr Pieter Phillipus van Tonder ("die oorledene")
op sy kleinhoewe Bon
Accord in die Wonderboom distrik om die lewe gebring en beroof is. Dit is
gemeensaak dat appellant die dood
3
van die oorledene, wat alleen op die kleinhoewe gewoon het, veroorsaak het.
Dit is ook gemeensaak dat appellant die liggaam en goedere
van die oorledene,
onder andere, 'n radio-bandspeler, 'n fiets en 'n haelgeweer met die oorledene
se bakkie van die kleinhoewe verwyder
het. Hy het die oorledene se liggaam 'n
hele aantal kilometers vanaf die kleinhoewe in die veld afgelaai en met gras
bedek. Die liggaam
van die oorledene, met 'n sweetpakbaadjie styf om die nek
gebind, is op 11 Junie 1989 gevind.
Die Staat se saak teen appellant het tot 'n groot mate berus op 'n bekentenis
wat deur appellant afgelê is voor mev Otto, 'n
landdros van Pretoria.
Appellant se weergawe van die gebeure soos vervat in die bekentenis verskil in
sekere wesentlike opsigte met
die getuienis wat deur hom in die verhoor
afgelê is. In die verklaring sê appellant dat hy die betrokke
Saterdagaand
twee biere vir R5,00 by die oorledene
4
gekoop het. Nadat hy die bier gedrink het, is hy terug
na
die oorledene se huis en hy het hom meegedeel dat
daar mense is wat besig was
om sy hoenders te steel. Op
daardie stadium het hy alreeds daaraan gedink om
die
oorledene van sy geld en drank te beroof. Die
oorledene het met 'n
kierie en 'n geweer uit die huis
gekom. Appellant het aan hom gesê dat
die hoenderdiewe
in die omgewing van die bediendekamer is. By
die
bediendekamer het die oorledene weer gevra waar die
mense is.
Appellant het nie geantwoord nie, maar
agterom die kamer geloop. Die
oorledene het omgedraaí
en teruggeloop na sy huis. Appellant het
die
oorledene, aldus die verklaring, van vooraf vasgegryp,
Die kierie het
geval, daar is om besit van die geweer
gestoei en die oorledene het 'n skoot
afgevuur,
Appellant het die oorledene met gebalde vuiste in die
gesig
geslaan. Hulle het op die grond geval en
appellant het die oorledene aan sy
keel gegryp en hom
5
vir 'n paar minute gewurg totdat hy (die oorledene) nie
meer
krag gehad het nie. Appellant het ' n matras in
die bediendekamer gekry en
dit op die oorledene se gesig
geplaas. Appellant sê verder in die
verklaring dat hy
nie geld in die huis kon kry nie en dat hy bier en '
n
bandspeler geneem het. Hy het die sleutel van die
bakkie in die
oorledene se sak gekry en die oorledene op
die bakkie gelaai. Daarna het hy
ook die drank,
bandopnemer 'n mes, die vuurwapen en die kierie op
die
bakkie gelaai en gery. Hy het met die Rust de Winter-
pad gery en
nadat hy oor 'n brug gegaan het, het hy van
die pad afgetrek. Hy het die
liggaam van die oorledene
in 'n kamp ingesleep. Daar het hy gras uitgetrek
en
dit op die liggaam geplaas. Daarna het hy na 'n plaas
gery waar sy ma
en broers gewerk het. Dit wat die
verklaring betref.
Volgens die getuienis van dr Saayman, die geneesheer wat die nadoodse
ondersoek gedoen het, was
6
daar skaafwonde aan die regterhelfte van die oorledene se gesig. Daar was ook
aanduidings gewees dat daar herhaalde stompgeweld op
die gesig en kop van die
oorledene toegepas is. Hierdie beserings sou egter nie op sigself noodlottig
gewees het nie. Aan die hals-gebied
van die oorledene was 'n sweetpakbaadjie
styf vasgedraai en gedeeltelik geknoop. As gevolg van nadoodse veranderinge wat
reeds ingetree
het, kon die oorsaak van dood nie met sekerheid bepaal word nie.
Die geneesheer het die mening gehuldig dat die oorledene aan sy
einde gekom het
as gevolg van verwurging of van versmoring of van albei.
Die getuienis wat appellant in die verhoor afgelê het, is kortliks soos
volg. Hy het die betrokke Saterdag heelwat drank, wat
hy op verskillende plekke
gekoop het, gedrink. Hy het ook by die oorledene twee bottels bier vir R5,00
gekoop en daarna het hy weer
by 'n ander plek gedrink. Appellant het getuig dat
hy op
7
pad na sy slaapplek weer na die oorledene se huis is om drank te koop. Hy het
gesien mense peuter by die hoenderhokke. Hy het by die
oorledene se huis geklop
en hom daarvan vertel. Hy en die oorledene het na die hoenderhokke gestap maar
geen mense gesien nie. Die
oorledene het kwaad geword, hom beskuldig dat hy
dronk is en hom ook beledig. Appellant het getuig dat hy hartseer gevoel het. Hy
het die oorledene vasgegryp en 'n skoot gehoor. Hulle het baklei en mekaar met
die vuiste geslaan en geskop. Die geweer wat die oorledene
by hom gehad het, het
op die grond geval. Hy het met sy hand 'n klemgreep op die oorledene se keel
gekry en hom gewurg. Daarna het
die oorledene se krag afgeneem en hy het gesien
dat die oorledene nie meer leef nie. In die oorledene se broeksak het hy die
bakkie
se sleutels gekry. Die radio was reeds in die bakkie en hy het die
oorledene op die bak gelaai. Appellant het getuig dat hy onder
die indruk was
dat die sweetpakbaadjie om die
8
oorledene se nek gehang het. Hy het twee kaste van die bier wat hy in die
huis gesien het geneem, asook sorghum-bier en 'n fiets.
Hy het met die bakkie na
sy ouers se huis gery en die liggaam van die oorledene langs die pad afgelaai en
met gras toegemaak.
Oor wat presies gedurende die aand van 3 Junie 1989 op die oorledene se
kleinhoewe gebeur het, het ons slegs appellant se weergawe.
Die verhoorhof het
bevind dat appellant se getuienis aangaande die gebeure as vals verwerp moes
word. In die lig van die bewerings
wat appellant in die bekentenis voor die
landdros gemaak het, saamgelees met die mediese getuienis, het die verhoorhof
bevind dat
appellant die oorledene langdurig en gewelddadig aangeval het en hom
met die sweetpakbaadjie verwurg het. Dit is ook bevind dat appellant
wel die
nodige opset om dood te maak kon vorm. Daar is tot die slotsom geraak dat opset
in die vorm van
dolus directus
bewys is.
9
Daar is tydens die verhoor beswaar gemaak teen die toelaatbaarheid van die
bekentenis. Dit is aangevoer dat dit gemaak is as gevolg
van onbehoorlike
beïnvloeding deur die ondersoekbeampte, luitenant De Bruin. Nadat getuienis
in 'n binneverhoor aangehoor is,
het die verhoorhof bevind dat appellant se
getuienis onaanvaarbaar is, dat hy nie bewys het dat hy onbehoorlik
beïnvloed is
nie en is die verklaring as getuienis toegelaat en ingehandig
as bewysstuk F. Die Staat het ook gesteun op die oorkonde van verrigtinge
wat op
14 Junie 1989 in die landdroshof plaasgevind het ingevolge die bepalings van
artikel 119 van die Strafproseswet 51 van 1977.
Die pleitverduideliking wat in
die verrigtinge deur appellant verstrek is, stem in breë trekke ooreen met
bewysstuk F en dit
blyk ook hieruit dat appellant die bedoeling gehad het om die
oorledene te beroof. Die oorkonde van die pleitverrigtinge in die landdroshof
is
ingehandig as
10
bewysstuk C.
Mnr Jansen, wat namens appellant opgetree het, het aangevoer
dat die hof
a quo
fouteer het deur te bevind dat bo 'n redelike twyfel
bewys is dat appellant die opset gehad het om die oorledene te vermoor. Hierdie
argument berus daarop dat bewysstukke F en bewysstuk C verkeerdelik as getuienis
toegelaat is. Indien bewysstukke F en C buite rekening
gelaat word, so is
aangevoer, is daar onvoldoende getuienis om 'n bevinding dat appellant die opset
gehad het om dood te maak, te
regverdig en is hy slegs aan strafbare manslag
skuldig. Dit sal ook beteken, aldus die argument, dat appellant wat die
roofaanklag
betref, slegs skuldig kan wees aan diefstal.
Volgens appellant se getuienis in die binneverhoor is hy deur luitenant De
Bruin aangesê om aan die landdros te sê dat
hy gaan geld soek het by
die oorledene. De Bruin het op sy beurt onderneem om by
11
die hof vir hom om genade te pleit. Die gesprek waartydens hy so
aangesê is deur De Bruin sou plaasgevind het op Maandagoggend
12 Junie
1989. De Bruin het in sy getuienis hierdie bewerings ontken. Hy het getuig dat
hy appellant gedurende die aand van 11 Junie
1989 in die distrik van
Potgietersrus gearresteer het. Na 'n waarskuwing volgens regtersreëls, het
appellant sekere mededelings
aan hom gemaak. Op Maandag 12 Junie is appellant na
sy kantoor gebring deur adjudant-offisier Molapo van die SAP. Volgens Molapo
wou
appellant "sy hart oopmaak" en die waarheid vertel. De Bruin het getuig dat hy
op daardie stadium besig was en hy kon nie na
hom luister nie. Die volgende
oggend het Molapo appellant weer na hom gebring en hy het toe gereël dat hy
'n verklaring voor
'n landdros aflê.
Adjudant-offisier Molapo se getuienis was in ooreenstemming met dié
van De Bruin. Volgens die getuienis van landdros Otto het
appellant, op vrae
deur
12
haar aan hom, geantwoord dat hy deur geen persoon op enige wyse
beïnvloed of aangemoedig is om 'n verklaring af te lê nie.
Die kern van mnr Jansen se kritiek op die getuienis van De Bruin en Molapo is
dat dit onwaarskynlik is dat De Bruin op Maandag 12
Junie, toe appellant na sy
kantoor gebring is, nie wou luister na wat hy te sê gehad het nie. Dit is
aangevoer dat die twee
staatsgetuies die feit van die gesprek van die verhoorhof
wou weerhou het aangesien die beïnvloeding wel op daardie stadium
plaasgevind het soos appellant getuig het. Volgens mnr Jansen het De Bruin op
Maandag 12 Junie nog nie presies geweet wat tydens
die voorval op 3 Junie
plaasgevind het nie. Dit is dus onverstaanbaar en so onwaarskynlik dat dit nie
waar kan wees nie dat De Bruin
nie onmiddellik by appellant wou verneem wat die
betrokke dag gebeur het nie.
Dit blyk uit die uitspraak van Mynhardt R dat die
7 13
kritiek wat mnr Jansen teen De Bruin se getuienis gehad het deur die
verhoorhof oorweeg is. Daar is gewys op die feit dat De Bruin
reeds Sondagaand
11 Junie 'n verklaring van appellant bekom het wat vir hom aanvaarbaar was.
Nadat daar ook na ander aspekte verwys
is, het die verhoorhof tot die
gevolgtrekking gekom dat De Bruin en Molapo se weergawes nie as ongeloofwaardig
en onaanvaarbaar bestempel
kon word nie. Hierteenoor het die verhoorhof bevind
dat appellant se weergawe onwaarskynlik en onaanvaarbaar is.
Daar is na my oordeel verskeie waarskynlikhede wat in stryd is met appellant
se bewering dat hy onbehoorlik beïnvloed is. Dit
is onwaarskynlik dat
appellant bereid sou wees om die saak teen hom sterker te maak bloot op die
belofte van De Bruin dat dié
vir hom om genade sou vra. Op Sondagaand 11
Junie 1989 het De Bruin reeds 'n sterk saak teen appellant gehad en daar kon
weinig rede,
indien enige, vir hom gewees het om die
14
saak ietwat sterker te maak deur appellant te oorreed om by te voeg dat hy
geld en drank wou gaan roof. Indien daar wel beïnvloeding
was sou 'n mens
ook verwag dat De Bruin so gou as moontlik en wel die Maandag nog vir appellant
na die landdros sou stuur. Ek ag
dit nie nodig om na verdere waarskynlikhede en
kritiek teen De Bruin en Molapo se getuienis, wat in sekere opsigte wel
geregverdig
is, te verwys nie. Die verhoorhof het al die getuien,is en
waarskynlikhede behoorlik oorweeg en geloofwaardigheidsbevindings ten
gunste van
die Staat en teen appellant gemaak. Die bewyslas het op appellant gerus en
indien die saak in geheel beoordeel word is
ek nie oortuig dat die verhoorhof
fouteer het nie. Daar kan dus nie ingemeng word met die bevinding van die
verhoorhof dat die verklaring
wat appellant voor landdros Otto afgelê het,
wel toelaatbaar is nie.
Dit was by die verhoor ook appellant se saak dat bewysstuk C nie toelaatbaar
is nie aangesien wat hy by
15
die pleitverrigtinge gesê het, ook as gevolg van die beïnvloeding
deur De Bruin geskied het. In die lig van die geloofwaardigheidsbevindings
deur
die hof
a quo
ten aansien van die beweerde beïnvloeding, het mnr
Jansen tereg toegegee dat indien sy argument ten aansien van die toelaatbaarheid
van bewysstuk F nie slaag nie, dit eweneens ook nie ten aansien van bewysstuk C
kon slaag nie. Ook wat bewysstuk C betref kan daar
nie bevind word dat dit
ontoelaatbaar was nie.
Mnr Jansen het toegegee dat indien bevind sou word dat bewysstukke C en F wel
toelaatbaar is, hy nie kan aanvoer dat appellant se
skuldigbevinding op
aanklagte 1 en 2 nie geregverdig is nie. In die lig van die bewerings wat deur
appellant in bewystukke F en C
gemaak is, en in die lig van die feit dat sy
getuienis deur die hof
a quo
verwerp is, is hierdie toegewing tereg
gemaak en kan die appèl teen die skuldigbevindings op aanklagte 1 en 2
nie slaag nie.
16
Wat die appèl teen die doodvonnis op aanklag 1 betref, moet hierdie
Hof, ingevolge die nuwe benadering, oorweeg of die doodvonnis
die enigste
gepaste vonnis is vir die moord wat appellant gepleeg het. Daar is in die
oorkonde nie veel gegewens aangaande appellant
se persoonlike omstandighede nie.
Hy was ten tye van die verhoor 26 jaar oud. Hy het nie vaste werk gehad nie en
het slegs los werkies
verrig. Appellant is in 1985 skuldig bevind aan aanranding
met die opset om ernstig te beseer en gevonnis tot 'n boete van R150,00
of drie
maande gevangenisstraf en 'n verdere drie maande gevangenisstraf wat
voorwaardelik vir drie
jaar opgeskort is. In 1986 is appellant skuldig bevind aan diefstal van
gereedskap ter waarde van R100,00 uit
' n woning en gevonnis tot vier houe met 'n rottang en
agtien maande gevangenisstraf. Die gevangenisstraf is
voorwaardelik opgeskort vir drie jaar.
Die strafverswarende faktore in hierdie saak is
17
voor die handliggend en behoef nie toeligting in besonderhede nie. Die
oorledene was 'n bejaarde man wat alleen op 'n kleinhoewe gewoon
het. Hy is op
gewelddadige wyse aangeval en appellant se verdere optrede na die moord is ook
verswarend van aard. Dit blyk uit die
getuienis dat die oorledene drank op sy
perseel verkoop het. Dit het appellant en andere na sy perseel gelok en in
dié opsig
verskil hierdie saak van gevalle waar mense wat rustig in hul
huise verkeer het, aangeval is. Die perseel was tot 'n mate 'n openbare
aanloopplek wat ietwat afbreuk doen aan die verswarende faktor dat die oorledene
alleen op die kleinhoewe gebly het. Appellant het
ook 'n vorige veroordeling vir
'n geweldsmisdaad wat verswarend is. Die vonnis wat opgelê is vir die
aanranding met die opset
om ernstig te beseer dui egter aan dat die aanranding
nie baie ernstig kon gewees het nie.
Wat die strafversagtende faktore in hierdie saak
18
betref kan in appellant se guns in aanmerking geneem word dat daar nie
vooraf-beplanning was nie. Appellant het geen wapens by hom
gehad nie en die
redelike moontlikheid bestaan dat die besluit om die oorledene aan te val en te
beroof eers kort voor die gebeure
ontstaan het. Hoewel appellant se getuienis
aangaande die hoeveelheid drank wat hy gedrink het aangedik en onbetroubaar is,
kan dit
aanvaar word dat hy wel 'n mate van drank gebruik het kort voordat die
moord gepleeg is. Die invloed daarvan, hoewel moontlik gering,
kan ook nie buite
rekening gelaat word nie.
Dit blyk uit die mediese getuienis dat die oorsaak van die oorledene se dood
nie met sekerheid bepaal kon word nie. Ek het reeds verwys
na die getuienis van
dr Saayman dat die dood veroorsaak kon gewees het deur verwurging of versmoring
of albei. Volgens sy getuienis
impliseer verwurging 'n sterfte wat gekoppel word
aan ' n vernouing om die nek. Die sweetpakbaadjie
19
was styf genoeg om die halsgebied gedraai om sirkulatoriese ontoereikendheid
na die brein en dus ook sterfte te kon veroorsaak. Volgens
die geneesheer is
versmoring die gevolg van afsluiting van die uitwendige lugweg-openinge, met
ander woorde die mond- en neus-openinge.
Die stompgeweld wat op die oorledene se
kop toegepas is kon bewussynsverlies veroorsaak het. Hy kon met sy gesig op die
grond gelê
het, of daar kon 'n voorwerp op sy gesig geplaas gewees het en
hy kon op dié wyse versmoor het. Appellant se getuienis is
van so 'n aard
dat dit van weinig hulp is om te bepaal wat presies die dood veroorsaak het. Dit
is egter moontlik dat hy 'n matras
op die oorledene kon geplaas het wat tot
versmoring kon bygedra het. Dit is onwaarskynlik dat hy die oorledene met sy
hande verwurg
het, soos hy getuig het, aangesien daar volgens die geneesheer nie
opvallende sagte-weefselbeserings aan die nekstrukture van die
oorledene
aanwesig was nie. Appellant het
20
getuig dat hy die sweetpakbaadjie gebruik het om die oorledene te sleep en
dat dit in die proses kon geknoop het. Hy kon nie verduidelik
hoe dit om die
oorledene se nek gekom het nie. Alles dui daarop dat dit appellant was wat die
sweetpakbaadjie styf om die oorledene
se nek gebind het. Waarskynlik het hy die
oorledene met die sweetpakbaadjie gewurg maar die redelike moontlikheid is nie
uitgeskakel
dat die oorledene versmoor het nie. Indien dit die geval is, is na
my oordeel slegs
dolus eventualis
en nie
dolus directus
bewys nie
wat ook ' n faktor in appellant se guns is.
Alhoewel 'n baie ernstige misdaad gepleeg is, is ek van mening dat hierdie
nie 'n geval van sodanige uitsonderlike erns is dat die
doodvonnis die enigste
gepaste straf is nie. Appellant kan waarskynlik gerehabiliteer word. Die ander
oogmerke van bestraffing, te
wete voorkoming, vergelding en
21
afskrikking, kan na my mening bevredig word deur 'n lang termyn van
gevangenisstraf. Ek beskou 20 jaar as 'n gepaste termyn. Daar
was geen betoog
ten opsigte van die vonnis op aanklag 2 nie. Daar bestaan ook nie gronde wat
inmenging met die vonnis op dié
aanklag regverdig nie.
Die appèl teen die skuldigbevindings op aanklagte 1 en 2 en teen die
vonnis op aanklag 2 word van die hand gewys. Die appèl
teen die vonnis op
aanklag 1 slaag en die doodvonnis word tersyde gestel. 'n Vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf word opgelê.
Dit word beveel dat hierdie vonnis saamloop
met die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf opgelê ten opsigte van die
tweede aanklag.
A P VAN COLLER WAARNEMENDE APPèLREGTER
E M GROSSKOPF, AR ) Stem saam KUMLEBEN, AR )