De Beer v Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (600/2004) [2005] ZASCA 115; [2006] 4 All SA 21 (SCA); 2007 (2) SA 502 (SCA) (29 November 2005)

66 Reportability

Brief Summary

Disciplinary Proceedings — Medical Practitioners — Appeal against removal from register — Appellant's name removed from register by Health Professions Council following findings of unprofessional conduct — Appellant admitted to being guilty of unprofessional conduct but contested the severity of the sanction imposed — Council's decision to remove appellant's name justified based on the serious nature of the misconduct and the need to protect the public — Appeal dismissed with costs.





DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA

RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 600/04


In die saak tussen :

FREDERIK DE BEER APPELLANT

en

DIE RAAD VIR GESONDHEIDSBEROEPE
VAN SUID-AFRIKA RESPONDENT


CORAM : HARMS, STREICHER, BRAND, LEWIS et
MLAMBO ARR

DATUM : 18 NOVEMBER 2005

GELEWER : 29 NOVEMBER 2005
Samevatting:
Appèl ingevolge art 20 van W et 56 van 1974 – teen beslis sing v an die
Geneeskundige en Tandheelkundige beroe psraad om die appellant se naam
uit die register van geneeshere te skr ap – geen wesenlike mistasting deur die
raad – straf ook nie buitensporig swaar – appèl gevolglik van die hand gewys.
_____________________________________________________


UITSPRAAK



BRAND AR/


2
BRAND AR :
[1] Die respondent is deur die Wet op Gesondheidsberoepe, 56
van 1974 ('die Wet') tot stand gebring om as oorkoepelende
liggaam vir die beroepsrade van die verskillende
gesondheidsberoepe te dien. Een van hierdie beroepsrade is die
Geneeskundige en Tandheelkundige Beroepsraad ('die raad'). Die
appellant is by die raad as 'n al gemene praktisyn geregistreer. Die
appèl het sy oorsprong in 'n beslissing van die raad dat die
appellant se naam uit die regist er van geneeshere geskrap word.
Teen hierdie beslissing het die appellant ingevolge artikel 20 van
die Wet na die Pretoriase Hooggeregshof geappelleer. In 'n
uitspraak, wat intussen gerapporteer is onder die verwysing De
Beer v Health Professions Council of South Africa 2005 (1) SA 332
(T), is dié appèl deur Patel R, met wie Maluleke R saamgestem
het, van die hand gewys. Die verder e appèl na hierdie hof is met
die verlof van die hof a quo.

[2] Voortspruitend uit formele klagtes van onprofessionele
gedrag wat deur vier van die appellant se pasiënte teen hom gelê
is, het die raad 'n tugkomitee onde r voorsitterskap van een van sy
lede aangestel om die aangeleent heid te ondersoek. Die
tugkomitee het bestaan uit dr ie verteenwoordigers van die
3
mediese professie wat bygestaan is deur 'n regsassessor. Die
ondersoek het 'n aanvang geneem op 16 November 2000, dit is
voordat die jongste regulasies betreffende sodanige ondersoeke
op 24 Augustus 2001 (by wyse van goewermentskennisgewing
R765) in die Staatskoerant afge kondig is. Ingevolge regulasie
12(2) van hierdie regulasies moes 'n ondersoek wat voor die
inwerkingtreding daarvan begin het, afgehandel word onder die
vorige regulasies wat op 28 September 1990 (by wyse van
goewermentskennisgewing 2303) afgekondig is. Bygevolg was die
bepalings van die 1990-regulasie s deurentyd op die onderhawige
aangeleentheid van toepassing.

[3] Volgens die klagstaat sou vier aanklagte van
onprofessionele gedrag, almal van 'n seksuele aard, teenoor vier
verskillende pasiënte, ondersoek word. By die aanvang van die
ondersoek is aanklag 2 egter deur die pro forma aanklaer
teruggetrek. Op aanklagte 3 en 4 is die appellant aan die einde
van die vyf dae ondersoek deur die tugkomitee onskuldig bevind.
In terme van die toepaslike regulasies was dit die einde van
hierdie twee aanklagte. Die appèl wentel dus slegs om aanklag 1.

[4] Wat aanklag 1 betref het die tugkomitee by die raad
aanbeveel dat die appellant skuldig bevind word aan
4
onprofessionele gedrag wat skandelik van aard is. Aangaande die
toepaslike straf was die tugk omitee se aanbeveling dat die
appellant vir 'n tydperk van twee j aar in sy praktyk geskors word,
maar dat die skorsing vir vyf jaar opgeskort word op voorwaardes
waarna ek aanstons sal terugkeer.

[5] Hierdie aanbevelings is aan die raad voorgelê tydens sy
vergadering in September 2001. Na oorweging het die raad besluit
om die tugkomitee se aanbeveling ten opsigte van
skuldigbevinding te aanvaar. Wat die aanbevole straf betref, was
die raad egter prima facie van oordeel dat 'n opgeskorte vonnis as
straf onvoldoende sou wees en dat die appellant se naam van die
register verwyder behoort te word. Gevolglik is die appellant
genooi om die raad deur skriftelike vertoë tot ander insigte te
oortuig. Hierdie uitnodiging is deur die appellant aanvaar. In die
skriftelike vertoë het die appellant ook gevra dat sy
regsverteenwoordiger toegelaat moet word om mondelinge
argument aan die raad voor te dra. Die volgende vergadering van
die raad was op 4 en 5 Maart 2002. Tydens hierdie geleentheid is
die appellant se versoek om mondelinge betoog geweier.
Vervolgens is besluit dat as st raf die appellant se naam uit die
register van geneeshere verwyder word. Daarbenewens is die
5
terugplasing van die appellant se naam op die register onderworpe
gemaak aan die voorwaarde dat hy toepaslike psigiatriese
behandeling ontvang vir die sielkundige probleme wat tot sy
onprofessionele gedrag aanleiding gegee het en dat hy hierdie
terapie suksesvol deurloop.

[6] Die appellant aanvaar dat hy tereg skuldig bevind is aan
onprofessionele gedrag van 'n skandelike aard. Die beswaar is dus
slegs teen die straf wat hom opgelê is. In wese is sy saak dat die
raad die tugkomitee se aanbeve lings moes aanvaar het. Ter
ondersteuning hiervan is verske ie argumente aangevoer wat beter
verstaanbaar is teen die agtergrond van die feite wat die aanklag
waaraan hy skuldig bevind is ten grondslag gelê het.

[7] Die aanklag waaraan die appell ant skuldig bevind is het
betrekking op sy optrede teenoor een van sy vroulike pasiënte,
mev M, op 25 September 1996. Hoewel mev M se naam in die
uitspraak van die hof a quo vermeld word, vind ek herhaling
daarvan onnodig. Howe moet meer bedag wees daarop om nie die
name van onskuldige partye te openbaar waar sodanige
openbaring geen bydrae tot die uitsp raak lewer nie. Mev M het die
appellant reeds ses maande vantevore vir die eerste keer besoek
aan die hand van 'n verwysing deur 'n groep wat as die
6
Depression and Anxiety Support Group bekend gestaan het.
Hierdie groep het hulle daarop toegespits om pasiënte wat aan
angs en depressie ly, tot hulp te kom. Die appellant het indertyd op
die adviesraad van die groep gedien en was ook op die paneel van
geneeshere na wie hulle gereeld pas iënte verwys het. Reeds
tydens die eerste besoek het di e appellant me v M gediagnoseer
as 'n pasiënt wat emosioneel onstabiel is en wat aan erge
depressie en angsversteuring ly, vir welke toestande hy medikasie
voorgeskryf het.

[8] Tussen haar aanvanklike bes oek in Maart 1996 en die
gebeure op 25 September 1996, het mev M die appellant by
ongeveer tien geleenthede besoek. Tydens elkeen van hierdie
besoeke het die appellant haar in fyn besonderhede uitgevra oor
die mees intieme aspekte van haar persoonlike lewe. Na
aanleiding hiervan het sy hom onder meer meegedeel dat sy en
haar man reeds vanaf die begin van hulle huwelik eintlik geen
seksuele omgang gehad het nie. Sy was ongemaklik oor hierdie
intieme ondervraging en het hom verseker dat seks nie vir haar
belangrik was nie. Daarteenoor het die appellant al haar
sielkundige probleme aan seksuele f rustrasie toegeskryf en haar
aangemoedig om oor seks te fantaseer.
7
[9] Volgens mev M se beskrywing van wat op 25 September
1996 plaasgevind het, het die appe llant op dié dag, aan die einde
van hul konsultasie, haar uit die bloute beveel om te ontklee. Toe
sy haar onwilligheid te kenne gee, het die appellant kwaad geword
en op intimiderende wyse daarop aangedring dat sy dit doen.
Hierna het hy die konsultasiekamer verlaat met die opmerking dat
hy na vyf minute sou terugkeer en dat sy intussen moes besluit 'of
sy wou gesond word of nie'.

[10] Terwyl die appellant uit die kamer was, het mev M haar toe
ontklee en 'n jurk aangetrek wat sy toegeknoop het. By sy
terugkoms was die appellant se bui heel anders. Hy het haar met
'n glimlag versoek om op die bed te gaan lê. Hierop het hy toe
haar jurk oopgeknoop, die gordyne rondom die bed toegetrek en
begin om haar op mees intieme wyse te betas. 'n Uiteensetting
van mev M se beskrywing van wa t daarna gevolg het, blyk uit die
klagstaat en uit haar getuienis waarvan 'n getroue weergawe in,
onderskeidelik, para 4 en para 11 van die hof a quo se uitspraak
(op 336C-G en 337F-I) te vind e is. Ek vind herhaling daarvan
onnodig. Om dit kort te sny; op die ou end het die appellant orale
gemeenskap met haar beoefen en homsel f in die proses tot by die
punt van ejakulasie bevredig.
8
[11] Hoewel die appellant uiteinde lik in sy getuienis nie mev M se
beskrywing van die gebeure in en ige wesenlike opsig betwis het
nie, het hy, deur aanvanklik onskuldig te pleit, haar die
verleentheid aangedoen om haar weergawe in al sy intieme detail
voor die tugkomitee te herhaal. In die omstandighede is hierdie
optrede nouliks verstaanbaar of verskoonbaar. Nog minder
verstaanbaar was die wyse waarop mev M in kruisverhoor oor al
hierdie intieme detail uitgevra is. Ek aanvaar egter ten gunste van
die appellant dat hy nie persoonlik vir hierdie strategie
verantwoordelik was nie en laat dit daar.

[12] Aan die einde van die ge beure op 25 September 1996 het
die appellant, volgens mev M, aan haar voorgestel dat hulle 'n
buite-egtelike verhouding aank noop. Hoewel sy hoegenaamd nie
hiervoor te vinde was nie, het sy vir omtrent twee weke die
aangeleentheid verswyg. Daarna het sy vir die appellant 'n brief
geskryf waarin sy hom in wese daarvan beskuldig het dat hy
oneties en verkeerd opgetree het. Hierdie brief het sy persoonlik
aan hom oorhandig en ook die inhoud aan hom oorgedra. Die
appellant het toe met haar saamgestem dat di t wat hy aan haar
gedoen het, professioneel oneties en moreel onregverdigbaar was.
Hy het haar egter versoek om vir ni emand van die voorval te vertel
9
nie. Hoewel sy aanvanklik aan hierdie versoek voldoen het, sê
mev M, het sy uiteindelik gevi nd dat sy nie met die ervaring kon
saamleef nie. Gevolglik het sy bykans agt maande na die gebeure,
in ongeveer Mei 1997, vir een van die sielkundiges by die
Depression and Anxiety Support Group daarvan vertel. Op daardie
stadium was sy in so 'n toestand dat sy onder meer na die hoof
van psigiatrie by die Johannesburg Algemene Hospitaal, prof
Michael Berk, vir behandeling verwys is.

[13] Mev M se openbaarmaking van die gebeure het daartoe
gelei dat die appellant deur die voorsitter van die Depression and
Anxiety Support Group, me Zane W ilson, en prof Berk daarmee
gekonfronteer is. Volgens me Wilson en prof Berk, wat beide voor
die tugkomitee getuig het, het die appellant reeds by hierdie
geleentheid mev M se weergawe v an die gebeure erken. Hy het
toegegee dat hy 'n probleem het en onderneem om te gaan vir
sielkundige behandeling. Hy het hulle ook meegedeel dat hy in elk
geval van voorneme was om in die nabye toekoms sy praktyk op
te gee en om as mediese adviseur vir 'n maatskappy te gaan werk.
Dit alles het me Wilson en prof Berk laat besluit om nie die klagte
teen die appellant verder te voer nie.

10
[14] Me Wilson se getuienis wa s dat sy toe weer in 1999 verdere
klagtes ontvang het van pasiënt e wat deur die Depression and
Anxiety Support Group na die appellant verwys is dat hy hom weer
aan ernstige wangedrag van 'n seks uele aard sou skuldig gemaak
het. Hierop het sy besluit om die aangeleentheid by die raad
aanhangig te maak. Die latere klagtes is, terloops, dié waarop die
appellant op die ou end deur die tugkomitee onskuldig bevind is.

[15] Nadat die tugkomitee aangedui het dat hulle by die raad sou
aanbeveel dat die appellant op aank lag 1 skuldig bevind word aan
onprofessionele gedrag wat skandelik van aard is, is twee getuies
namens die appellant ter versag ting geroep, synde, sy gemeente
predikant, ds P A Venter, en 'n psigiater, prof J L Roos. Volgens ds
Venter het die appellant hom in die middel van 1997 kom spreek,
onmiddellik nadat hy deur me Wilson en prof Berk met die klagtes
teen hom gekonfronteer is. Die appel lant het sy skuld erken en sy
berou te kenne gegee. Hy was gebroke en het telkens in trane
uitgebars. Vir ds Venter het die skuldbelydenis en berou eg
oorgekom. Hy kon hom egter nie daaroor uitlaat of dit ook sou
gebeur het indien die saak nie toe reeds op die lappe gekom het
nie.

11
[16] Prof Roos is deur di e appellant gekonsulteer met die
spesifieke oogmerk om getuienis ter versagting af te lê. Een van
die hoofoorsake van die gebeure wa s, na prof Roos se oordeel,
dat die appellant, as algemene praktisyn, nooit behoorlik toegerus
was om aangeleenthede van intiem persoonlike aard met pasiënte
te hanteer nie. Hy is dus as 't ware aan die psigiatriese diepkant
ingegooi. Prof Roos se aanbeveling was dat die appellant
psigoterapie ontvang om 'n herhalin g van sy optrede te voorkom
en dat dit aan die betrokke siel kundige of psigiater opgedra word
om die vordering met sodanige terapie aan die raad te rapporteer.

[17] Wat die appellant se prof essionele loopbaan betref, was die
getuienis voor die tugkomitee dat hy in 1988 op 26-jarige
ouderdom as geneesheer gekwalif iseer het en in 1992 met 'n
privaat praktyk begin het. In 1997 het hy, soos wat hy vir me
Wilson en prof Berk gesê het, sy praktyk gestaak en as mediese
adviseur vir 'n maatskappy gaan werk. Hierdie maatskappy is egter
in 1998 gelikwideer, as gevolg w aarvan die appellant na sy privaat
praktyk teruggekeer het. Aan die einde van 1999 het hy weer sy
praktyk laat vaar en begin werk as 'n senior assistent in die trauma
eenheid van 'n hospitaal in Johannesburg.

12
[18] In die lig van hierdie feite het die tugkomitee toe, soos ek
reeds aangedui het, besluit om by die raad aan te beveel dat
appellant vir 'n tydperk van twee j aar in sy praktyk geskors word,
maar dat hierdie skorsing vir vy f jaar opgeskort word. Benewens
die algemene voorwaarde dat die appellant hom nie gedurende die
tydperk van opskorting weer aan 'n soortgelyke oortreding skuldig
maak nie, het die tugkomitee die volgende twee opskortings-
voorwaardes aanbeveel:
(a) Dat die appellant verbied word om 'kliniese werk binne
privaat praktyk v erband' gedurende die opskortingstydperk te
doen.
(b) Dat die appellant hom onderwerp aan toepaslike
psigoterapie deur 'n kliniese sielkundige en behandeling deur 'n
psigiater soos deur hom/haar bepaal en dat, in dié verband, drie
maandeliks verslae deur die twee terapeute aan die raad voorgelê
word tot tyd en wyl die raad aandui dat hierdie verslae nie meer
nodig is nie.

[19] Blykens die komitee se r edes vir sy aanbeveling is as
uitgangspunt aanvaar dat die appellant se oortreding so ernstig
van aard was dat dit sonder meer sy skrapping van die register
sou regverdig. Opweging van di e strafversagtende omstandighede
13
wat blyk uit die getuienis van ds Venter en prof Roos, so het die
tugkomitee voortgegaan, het hom egter genoop om die oplegging
van 'n opgeskorte skorsing aan te beveel. Die opskortings-
voorwaarde dat die appellant ho m aan psigiatriese terapie
onderwerp ten einde 'n herhaling van sy optrede te voorkom, was
op voorstel van prof Roos. Die toevoeging van die verdere
opskortingsvoorwaarde, nl dat die appellant hom van kliniese werk
in privaat praktyk weerhou, sou, volgens die tugkomitee se
oordeel, voldoende wees om di e publiek teen 'n herhaling van
soortgelyke optrede te beskerm to t tyd en wyl die appellant die
terapie suksesvol deurloop het. Uiteraard het die appellant se werk
as senior assistent by 'n trauma eenheid bin ne die kader van
hierdie opskortingsvoorwaarde geval.

[20] In die skriftelike betoog wat namens die appellant op
uitnodiging aan die raad voorgelê is, is die tugkomitee se
aanbevole straf ondersteun en die komitee se redes vir hierdie
aanbeveling herhaal en onderstreep. In die loop van die betoog is
weer eens besondere klem gelê op die versagtende
omstandighede wat uit die getuienis van ds Venter en prof Roos
blyk. Voorts is benadruk dat die appellant in die trauma eenheid
waar hy werksaam is, waardevo lle gemeenskapsdiens verrig en
14
terselfdertyd, weens sy geringe kontak met pasiënte, slegs 'n
geringe risiko skep dat hy deur herhaling van sy gewraakte
optrede verdere nadeel kan veroorsaak.

[21] In die antwoordende beëdi gde verklaring wat namens die
respondent in die hof a quo geliaseer is, stel die voorsitter van die
raad, dr L H Becker, dit onomwonde dat die raad, benewens die
tugkomitee se aanbevelings en die redes wat ter motivering
daarvoor verstrek is, ook die skriftelike vertoë namens die
appellant, behoorlik oorweeg het. Desnieteenstaande, sê dr
Becker, het die raad tot die slotsom gekom dat die opgeskorte
vonnis wat deur die tugkomitee aanbeveel is, 'n ontoereikende
straf sou wees.

[22] Blykens dr Becker se verklaring was die onderliggende
oorwegings vir hierdie slotsom in wese tweeledig. Eerstens, dat
die appellant in sy huidige psigie se toestand nie geskik is om as
geneesheer te praktiseer nie omdat hy 'n risiko vir pasiënte inhou,
welke risiko, na die raad se meni ng, nie voldoende ondervang sou
word deur die voorgestelde opsko rtingsvoorwaardes nie.
Tweedens, dat die skandelike gedra g waaraan die appellant hom
skuldig gemaak het, so ernstig van aard was dat dit eenvoudig nie
na behore deur die oplegging van 'n opgeskorte vonnis bestraf
15
sou word nie. Anders gestel, dat die voorgestelde vonnis 'n
verkeerde boodskap sou oordra aangaande die erns waarmee die
raad wandade van seksuele aard de ur geneeshere teenoor hulle
pasiënte bejeen.

[23] Wat die raad, volgens dr Be cker, in die onderhawige geval
verswarend gevind het, was die fe it dat mev M juis weens die
sielkundige en emosionele problem e waarvoor sy by die appellant
om hulp aangeklop het, besonder kwesbaar was en gevolglik
swaar op die appellant geleun het. In die proses het mev M,
volgens die appellant se eie getuienis, buitengewoon afhanklik van
hom geraak en het daar 'n besondere vertroue nsverhouding
tussen hulle ontstaan waarin sy, onder meer, haar mees intieme
geheime met hom gedeel het. Die appellant se brutale skending
van hierdie vertrouensverhouding, so het die raad bevind, het die
pasiënt ernstig benadeel.

[24] Dr Becker wys da arop dat dit spesifiek deur art 15A van die
Wet aan die raad opgedra word (in sub-art (g)) om 'die
waardigheid van die [mediese] bero ep en die integriteit van die
persone wat die beroep beoefen, te handhaaf en te bevorder' en
(in sub-art (h)) om 'die publiek te beskerm'. In die lig hiervan, sê dr
Becker, was die raad van oordeel dat hy, ten spyte van die
16
klaarblyklike versagtende om standighede waarna die tugkomitee
verwys het, sou versuim om die pligte wat deur die Wet aan hom
opdra word na te kom indien hy die tugkomitee se aanbeveling van
'n opgeskorte vonnis sou aanvaar.

[25] Dit is teen die agtergrond van hierdie feite wat die hof a quo
geweier het om ingevolge art 20 van die Wet met die straf wat
deur die raad opgelê is, in te me ng. Wat blykens die hof se
uitspraak 'n aansienlike mate van verwarring veroorsaak het, is die
vraag of art 20 'n hersieningsaansoek of dan wel 'n appèl in die
vooruitsig stel. Aan die ein de van sy beredenering aangaande
hierdie vraag (paras 35-38 te 343E-344C) kom die hof a quo,
skynbaar op gesag van Simaan v South African Pharmacy Board
1980 (1) SA 764 (T) te 767G, to t die slotsom dat art 20
inderwaarheid 'n hersienings aansoek beoog, wat daarop neerkom
dat
'the Court cannot interfere with the finding of fact by the board if it had
evidence before it upon which it c ould reasonably and honestly have arrived
at the conclusion at which it did. ...'

[26] Hierdie siening oor wat art 20 van die Wet beoog, is
eenvoudig verkeerd. Dit blyk onder meer uit die volgende dictum
17
van Van Heerden AR in Health Professions Council of SA v De
Bruin [2004] 4 All SA 392 (SCA) para 23 (te 403c-e):
'The appeal to the High C ourt created by s 20 of th e Act has (in my view
correctly) been described as "an appeal in the ordinary sense", i e "a
rehearing on the merits but limited to the evidence or information on which the
decision under appeal was given, and in which the only determination is
whether that decision was right or wrong.'

[27] Soos egter ook in De Bruin (para 24 te 403h-404f) gesê
word, is 'n appèl teen straf, soos die onderhawige, onderworpe
aan die geykte beginsel dat die appèltribunaal, weens verskeie
redes wat reeds by etlike geleenthe de in die verlede geboekstaaf
is, slegs met die opgelegde st raf kan inmeng indien die
strafoplegger 'n wesenlike mistasti ng ('misdirection') begaan het of
indien die straf as 'ontstellend onvanpas' oftewel 'startlingly
inappropriate' bestempel kan word (sien bv S v Whitehead 1970
(4) SA 424 (A) te 436C-E; S v Pillay 1977 (4) SA 531 (A) te 535E-
G; S v Malgas 2001 (1) SASV 469 (S CA) para 12 te 478d-h).
Dermate was die hof a quo dus reg in sy ui tgangspunt dat sy
bevoegdheid om in di e onderhawige geval, in terme van art 20,
met die opgelegde straf in te meng, beperk was. Dit was egter so,
nie omdat art 20 'n hersieningsaansoek beoog nie, maar
eenvoudig omdat dit 'n appèl teen straf was.
18
[28] Die 'wesenlike mistasting' wat die raad volgens die appellant
se betoog begaan het, was om nie die tugkomitee se aanbeveling
te aanvaar nie. Ter ondersteuning van hierdie betoog is aangevoer
dat die posisie van die raad analoog was aan dié van 'n appèl
tribunaal. Hiervolgens kon die raad dus slegs van die tugkomitee,
as primêre strafoplegger, se aanb evole straf afwyk indien die
tugkomitee 'n wesenlike mistasting begaan het of indien die
aanbevole straf as 'ontstellend onv anpas' beskryf kon word. Myns
insiens is daar geen meriete in hierdie betoog nie. Volgens
regulasie 15(1) kan die raad 'die aanbeveling van 'n tugkomitee
wysig of bekragtig of .. . weier om dit te bekrag tig of ... die saak na
die tugkomitee verwys vir verder e oorweging en verslagdoening.'
Hiervolgens maak die tugkomitee slegs 'n aanbeveling oor welke
straf die raad moet oplê. Die tugkomitee lê self geen straf op nie.
Die primêre strafoplegger is dus die raad, nie die tugkomitee nie.
Van 'n appèl vanaf die tugk omitee na die raad kan daar geen
sprake wees nie. Die hof a quo het die onderhawige betoog van
die hand gewys op die grondslag dat die tugkomitee eintlik geen
'decision' of 'finding' gemaak het nie (sien paras 20-26 te 339F-
341B). Dit is nie reg nie. Die tugkomitee het inderdaad 'n 'besluit'
geneem en 'n 'bevinding' gemaak, m aar die resultaat van hierdie
19
besluit was slegs 'n aanbeveling en nie strafoplegging nie. Die
strafoplegger was die raad.

[29] Die appellant se verdere krit iek teen die raad se werkswyse
was gerig teen die weiering van appellant se versoek dat,
benewens skriftelike vertoë, ook mondelinge betoog namens hom
toegelaat word. In sy argument voor hierdie hof wou die appellant
se advokaat nie hierdie punt van kritiek tot 'n bewering van 'n
'wesenlike mistasting' verhef nie. Ten besluite was dit dus
geensins duidelik waarheen aanv aarding van die betoog
veronderstel was om te lei nie. Hoe dit ook al sy, die punt van
kritiek is in elk gev al ongefundeerd. Soos in De Bruin (para 15 te
410A-B), op 'n uitleg van diesel fde regulasies beslis is, was die
appellant nie geregtig om op mond elinge vertoë aan te dring nie
en was die raad gevolglik geregtig om sy versoek te dien effekte te
weier. Die appellant het klaarbl yklik voldoende geleentheid gehad
om sy saak te stel voordat die raad op 'n gepaste straf besluit het.

[30] Laastens, was die appellant se betoog dat die straf wat hom
opgelê is in al die omstandighede ontstellend onvanpas was. Na
my oordeel is daar hoegenaamd geen meriete in hierdie betoog
nie. As vertrekpunt moet soos in De Bruin (para 23 te 403d-g)
aanvaar word dat die raad en nie die hof nie die primêre custos
20
morum van die mediese beroep is. D aarbenewens en in elk geval
het ek reeds verwys na die oorwegings wat, volgens dr Becker, die
raad se besluit ten grondslag gelê het. In die lig hiervan is die kort
antwoord op die appellant se betoo g, myns insiens, dat daar geen
geldige kritiek ingebring kan word, teen óf die raad se
onderliggende oorwegings, óf die slotsom aangaande die straf
waartoe dit hom gelei het nie.

[31] Gevolglik word die appèl me t koste van die hand gewys.




.......................
F D J BRAND
APPÈLREGTER

Stem saam:

HARMS AR
STREICHER AR
LEWIS AR
MLAMBO AR