Shoprite Checkers (Pty) Ltd v Grobbelaar and Others (460/2004) [2005] ZASCA 89 (26 September 2005)

82 Reportability

Brief Summary

Company Law — Restraint of trade agreements — Transfer of rights — Appellant sought damages for breach of restraint agreements signed by respondents — Appellant claimed rights to enforce agreements transferred from predecessor company — Respondents argued appellant lacked locus standi due to non-compliance with section 228 of the Companies Act — Court a quo granted absolution from the instance, finding no evidence of compliance with section 228 — On appeal, held that the appellant had prima facie evidence of rights to enforce the agreements as they were part of the goodwill of the business sold, and that the court a quo erred in granting absolution.


























IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN SUID-AFRIKA

RAPPORTEERBAAR
SAAKNOMMER: 460/04



In die saak tussen:

SHOPRITE CHECKERS (EDMS) BPK A PPELLANT


en


L J J GROBBELAAR 1STE RESPONDENT

D J M HEYNS 2DE RESPONDENT

P C WELGEMOED 3DE RESPONDENT






Coram: HOWIE P, ZULMAN, NUGENT, MLAMBO ARR en
COMBRINCK Wnd AR

VERHOOR: 13 SEPTEMBER 2005

GELEWER: 26 SEPTEMBER 2005

OPSOMMING: Maatskappyereg – onnodig om te voldoen aan a 228 van
Maatskappyewet waar alleenaandeelhouer toestem tot verkoop van m aatskappy se
bates – oordraagbaarheid van regte in handelsinperkingsooreenkoms.
____________________________________________________________________
_

UITSPRAAK
__________________________________________________________________
2
COMBRINCK Wnd AR:
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n bevel van absolusie met koste ten gunste van die drie
respondente, (verweerders in die hof a quo) na afloop van die appellant (eiser) se
saak. Die appèl dien voor ons met verlof van hierdie Hof.

[2] Die appellant het die respondente gedagvaar in die Kaapse Hooggereshof vir
skadevergoeding ten bedrae van R8 625 339. Die eisoorsaak is gegrond op die
verbreking van ‘n ooreenkoms ter inperking van handels vryheid wat elk van die
respondente geteken het. Ek sal later terugkeer en meer breedvoerig met die
besonderhede van vordering en die verweerskrifte handel. Ten einde die pleitstukke te
verstaan sal dit dienstig wees om eers die feitelike agtergrond kortliks te skets. Wat
volg was gemene saak tussen die partye.

[3] Die eerste respondent was ‘n aandeelhouer en besturende direkteur van twee
maatskappye bekend as Sentra Koop Handelaars Bpk (‘Sentra’) en Megasave (Edms)
Bpk (‘Megasave’). Die tweede verweerder was ‘n aandeelhouer en direkteur en die
derde respondent ‘n diensnemer van gemelde maatskappye.
Op 23 November 1995 koop Shoprite Checkers (Edms) Bpk (‘SCEB’) die besigheid
van die twee maatskappye vir ‘n koopsom van R21 miljoen. Die drie respondente tree
in diens van SCEB maar behartig steeds die besigheid van die twee maatskappye.
Die besigheid van die maatskappye was die van aankooporganisasies, die een vir
groothandelaars (Megasave) en die ande r (Sentra) vir kleinhandelaars. ‘n
Aankooporganisasie werk so:
3
(i) die maatskappy tree op as makelaar tu ssen die voorsiener en die handelaar wat
dan ook ‘n lid word van die aankooporganisasie (AO).
(ii) die AO onderhandel pryse met die voorsiener namens sy lede en die lede is dan
geregtig om teen daardie pryse te koop. Die uiteindelike transaksie is tussen
die lid en die voorsiener.
(iii) die AO aanvaar die kredietrisiko en betaal die voorsiener, terwyl die lid die AO
betaal.
(iv) die AO verdien sy inkomste uit rabatte en toelaes deur die voorsiener wat
gekoppel is aan die waarde van die transaksie. ‘n Gedeelte van die rabatte en
toelaes word ook aan die lede toegeken.

[4] Die koop van die besigheid van Megasa ve en Sentra was onderhewig aan
ondertekening deur die drie respondente van ‘n skriftelike ooreenkoms ter inperking
van hul handelsvryheid. Op 10 April 1996 het hulle wel sodanige ooreenkoms ten
gunste van SCEB geteken. Die beperking wat mededinging met SCEB verbied het,
was in die geval van eerste en tweede respondent vir ‘n tydperk van 36 maande en in
die geval van derde respondent, 24 maande. Die gebied was die Republiek van Suid-
Afrika en Namibië. As teenprestasie het eerste en tweede respondente elk R1,1
miljoen ontvang en die derde respondent R500 000.
Op 30 April 1997 bedank tweede respondent uit die diens van SCEB gevolg deur die
derde respondent op 30 April 1998 en die eerste respondent op 31 Mei 1998.

[5] Intussen het die volgende gebeur me t die Shoprite Checkers Groep van
4
maatskappye waarvan SCEB een was:
(i) Op 31 Oktober 1997 koop Shoprite Holdi ngs Bpk (‘Holdings’) al die aandele
in OK Bazaars (1929) Bpk van Suid-Afrikaanse Brouerye Bpk, en OK Bazaars
word ‘n volfiliaal van Shoprite Holdi ngs en aldus ‘n lid van die Shoprite
Groep.
(ii) Ten einde gebruik te maak van ‘n opgehoopte belastingverlies in OK Bazaars
(1929) Bpk onderneem die Shoprite Groep in Augustus 1998 ‘n reorganisasie
of rasionalisasieskema ingevolge waarvan ondermeer die besigheid, bates en
regte van SCEB en die ander maatska ppye in die groep met terugwerkende
krag tot 1 November 1997 aan OK Bazaars (1929) Bpk verkoop is.
(iii) Daarna verander OK Bazaars (1929) Bpk sy naam na Shoprite Checkers Bpk,
die appellant in hierdie saak.
(iv) SCEB verander sy naam na OK Bazaars (1998) Bpk.

[6] Die appellant het die respondente gedagvaar uit hoofde daarvan dat hy die regte
voortvloeiend uit die handelsbeperkingsooreenkomste vanaf SCEB bekom het.
Die appellant beweer in sy besonderhed e van vordering dat hy die gemelde regte
vanaf SCEB bekom het:
(i) deurdat na die verkoping van di e gemelde onderneming van SCEB aan
appellant, appellant bes it geneem het van sodanige onderneming met die
gepaardgaande regte en dit as eienaar begin bedryf het; alternatiewelik
(ii) deurdat die gemelde inperkingsooree nkomste ‘n beding ten behoewe van ‘n
5
derde bevat het wat appellant aanvaar het en sodanige aanvaarding aan
respondente bekend gemaak het; alternatiewelik
(iii) deurdat SCEB by wyse van skriftelke sessie gedateer 24 September 1999 die
regte wat hy kragtens gemelde ooree nkomste verwerf het aan appellant
oorgedra het.
Dit was die bewys van (i) en/of (iii) hierbo wat op die pleitstukke en by die verhoor
die hoof geskilpunt tussen die partye was en waarop die hof a quo uiteindelik
absolusie aan die respondente toegestaan het.
Die appellant het voorts in sy besonderhede van vordering beweer dat die respondente
kontrakbreuk gepleeg het de ur betrokke te raak in mededingende aktiwiteite,
vertroulike inligting te openbaar en die stigting van ‘n maatskappy bewerkstellig het
wat in mededinging met appellant besighe id sou dryf. As gevolg van hierdie
handelinge, so is beweer, het elf kliënte (wat by name genoem is) hulle verbintenis
met Megasave en Sentra en dus met appellant beëindig. Die verlies aan inkomste wat
die appellant as gevolg van die bedanking van die gemelde kliënte verloor het, is die
appellant se gelede skade.
Respondente se verweer het neergekom in die breë op ‘n algemene ontkenning van al
die wesentlike elemente van die appellant se skuldoorsaak.

[7] By die verhoor en voor ons, was daar drie geskilpunte vir beregting, naamlik:
(i) het die appellant locus standi in iudicio in die sin dat hy die regte en die
inperkingsooreenkomste bekom het;
6
(ii) het die respondente kontrakbreuk gepleeg en
(iii) was daar ‘n kousale verband tusse n die kontrakbreuk en die gelede skade?
Die quantum van appellant se skade was ook in geskil maar ‘n bevel in terme van
Reël 33(4) van die Hoërhof reëls is gemaak ingevolge waarvan dié geskilpunt geskei
is van die ander en oorstaan vir latere beregting, indien nodig.

[8] Na afloop van appellant se saak (w at 29 dae geduur het en, met dokumentêre
bewysstukke, 48 volumes in beslag geneem het) het respondente se advokaat aansoek
gedoen om absolusie op grond daarvan dat di e appellant nie daarin geslaag het om
enige een van die drie geskilpunte op ‘n prima facie vlak te bewys nie.
Die geleerde Regter in die hof a quo (Van der Westhuizen WR) het die respondente
gelyk gegee op die locus standi punt en dit dus nie nodig gevind om te handel met die
ander gronde nie.
Die bevinding van die verhoorhof, bondig gestel, was dat aangesien SCEB ingevolge
die koopooreenkoms van 28 Augustus 1998 al sy bates vervreem het hy beide van
regsweë en uit hoofde van die geskrewe ooreenkoms die bepalings van a 228 van die
Maatskappye Wet 61 van 1973 moes nakom alvorens hy enige regte kon bekom. Daar
is geen getuienis dat hy dit gedoen het nie. Die kontrak waarvandaan die regte tot die
inperkingsooreenkomste oorgedra is en in die appellant sou se tel, was van geen
regskrag en kon nie teen enige derdes afgedwing word nie.
In die uitspraak is die bevinding so opgesom:
‘[37] Ek het onder die omstandighede tot die ge volgtrekking gekom dat die bepalings van artikel
7
228 van die Maatskappywet en die spesifieke bepalings in die koopkontrak van 28 Augustus 1998
‘n noodsaaklke voorvereiste is wat behoorlik nagekom moes word voordat enige regte teen
verweerders uit hoofde van die inperkingsooreenkomste vanaf SCEB, op eiser kon oorgegaan het.
Weens ‘n gebrek aan getuienis dat artikel 228 behoorlik nagekom is kan ek nie ‘n bevinding maak
dat enige regte òf vanweë die koopkontrak van 28 Augustus 1998, òf vanweë die sessie van 24
September 1999 op eiser oorgegaan het nie. Die sessie was, soos reeds hierbo genoem, niks meer as
‘n pactum adjectum tot die koopkontrak nie.’

[9] Artikel 228 lees as volg:
‘228 Vervreemding van onderneming of grootste deel van bate van maatskappy
(1) Ondanks enigiets vervat in sy akte of statute, is die direkteure van ‘n maatskappy nie bevoeg
om sonder goedkeuring van ‘n algemene vergadering van die maatskappy –
(a) die geheel of wesenlik die geheel van die onderneming van die maatskappy; of
(b) die geheel of the grootste deel van die bate van die maatskappy,
te vervreem nie.
(2) Geen besluit van die maatskappy ter goedkeuring van so ‘n vervreemding is van krag tensy dit
die besondere transaksie uitdruklik magtig of bekragtig nie.
(3) Die vereistes in hierdie artikel voorgeskryf ten opsigte van transaksies wat binne die bepalings
van subartikel (1) val, is bykomend tot enige ander vereistes met betrekking tot sodanige
transaksies, met inbegrip van die beperki ng op stemregte, wat deur die Paneel oor
Sekuriteiteregulering ingevolge artikel 440C of ingevolge enige ander wet opgelê mag word.’

Die koopkontrak tussen SCEB en appellant het ‘n opskortende voorwaarde bevat wat
dit onderhewig gemaak het aan nakoming van die bepalings van a 228. Dit is gemene
saak dat daar geen getuienis was dat daar wel ‘n formele besluit by ‘n algemene
vergadering soos vereis deur a 228 geneem is nie.
8

[10] Daar is veel gewag gemaak deur appellant beide in die hof a quo en in hierdie
Hof dat nie-nakoming van die bepalings van gemelde artikel nooit deur respondent
geopper is in hul pleitstukke, geen blootle gging van sodanige besluit versoek is en
geen vrae in kruisverhoor aan enige getuie oor hierdie aspek gevra is nie. Dit was vir
die eerste keer in respondente se advokaat se slotbetoog by die absolusie aansoek wat
die punt spesifiek ter berde gebring is. Die appellant het aangevoer dat respondente
verplig was om hulle verweerskrifte te wy sig om die verweer in geskil te plaas
waarop appellant kon repliseer en getuie nis lewer van afsta nddoening, eenparige
toestemming en/of rektifikasie.

[11] Ek vind dit onnodig om op die vraagstukke in te gaan aangesien daar myns
insiens op die getuienis minstens prima facie bewys was dat Holdings die
alleenaandeelhouer van SCEB was en da t hy die koopkontrak goedge keur het. Hy
was immers ‘n party tot die kontrak. Dit is nie nodig vir ‘n alleenaandeelhouer om ‘n
formele vergadering te belê ten ei nde te voldoen aan art 228 nie. In Gholke &
Schneider v Westies Minerale Bpk 1970 (2) SA 685 (AD) te 693 E nadat hy bevind
het dat die leerstuk van eenparige toestemming (unanimous consent) deel is van ons
reg, het Trollip AR die volgende gesê:
‘After all, the holding of a general meeting is only the formal machinery for securing the assent of
numbers or the required majority of them, and, if the assent of all the members is otherwise
obtained, why should that not be just as effective?’
Dieselfde vraag kan hier gestel word. Indien die alleenaandeelhouer ‘n party is tot die
9
vervreemdingskontrak waarom moet hy nog ‘n formele vergadering met homself
belê om die verkoping goed te keur?

[12] Die bewys dat Holdings die alleenaandeelhouer van SCEB is, is te vinde in die
koopooreenkoms self. Die aanvang van die ooreenkoms onder die opskrif ‘Recordal’
boekstaaf die volgende:
‘A. HOLDINGS as the holding company and the S ELLERS as its subsidiaries collectively carry
on as a group the Shoprite Checkers business (“SC Business”) throughout the Republic of
South Africa and beyond its borders in Southern Africa.
B. HOLDINGS acquired from The South African Breweries Limited the latter’s entire
shareholder’s interest in and loan claims against the PURCHASER and Retail Holdings
(Botswana) (Pty) Limited and HOLDINGS thereby acquired full control over the entire OK
Bazaars Business, with effect from 1 November 1997.
C. The main objective of HOLDINGS with the acquisition of the OK Bazaars Business was to
expand its South African trading base, ie. Achieve growth through acquisition, to utilize
existing synergies between the two groups while gaining access to business lines which
were not previously conducted by the Shoprite Checkers group of companies, to stabilize
the market through control over a previously vol atile participant, and to apply its proven
management skills to the loss making OK Bazaars Group.’
Een van die ‘sellers’ wat beskryf word as ‘n ‘subsidiary’ is SCEB.

[13] Die bewoording van die opskortende voorwaarde in die koopkontrak is ook
bewys van die feit dat Holdings alleenaandeelhouer van SCEB was. Die voorwaarde
lees as volg:
‘3.1.2 it is a condition precedent for the sale of the above subject matter by SELLER NO 1 that a
10
shareholder’s resolution in terms of section 228 of the Companies Act be taken by HOLDINGS.’
(‘Seller no 1’ in die ooreenkoms was SCEB.)
Die bepaling dat slegs Holdings die besl uit moes neem gekoppel aan die feit dat
Holdings in die ‘Recordal’ beskryf word as die houermaatskappy en die verkopers
(ingeslote SCEB) as filiale kan alleenlik beteken dat Holdings die alleenaandeelhouer
was. Ten minste beteken dit prima facie dat Holdings die alleenaandeelhouer was.
Ook uit die getuienis van Mn re Goosen en Van Zyl, direkteure van SCEB en
Holdings, wat verduidelik het hoe die rasionalisasieskema beplan is, is dit duidelik af
te lei dat SCEB ‘n volfiliaal van Holdings was.
Daar kan ook aanvaar word dat die partye stilswyend ooreengekom het om nie aan te
dring op nakoming van die opskortende voorwaarde in die kontrak. Dit kan afgelei
word van hul gedrag. Dit moet onthou word dat hierdie nie ‘n armslengte transaksie
was nie. Dit was ‘n inter-maatsk appy ooreenkoms ter u itvoering van ‘n
rasionalisasieskema. Ek kan buitendien nie insien hoe derdes soos respondente hulle
kan beroep op die nie-nakoming van ‘n kontraktuele bepaling waar die partye tot die
kontrak nie aandring op nakoming nie.
Dit volg dat die hof a quo fouteer het deur absolusie op hierdie grond toe te staan.

(14) Dit is egter nie die einde van die a ppèl nie. Daar is namens die respondente
aangevoer dat absolusie buitendien toegestaan moes gewees het aangesien appellant
nie prima facie bewys het:
(i) dat hy die regte tot die beperki ngsooreenkomste bekom het nie en dat hy
11
sodanige regte voor kontrakbreuk verkry het; alternatiewelik
(ii) dat die respondente kontrakbreuk gepleeg het; alternatiewelik
(iii) dat daar ‘n kousale verband was tu ssen die kontrakbreuk en die bedanking van
die lede.

[15] Ek handel voorts met elk van die beto ë. Soos hierbo aangetoon het appellant
staatgemaak op die alternatiewe wyse s waarop die onderhawige regte op hom
oorgegaan het. Ek mag noem dat tydens betoog appellant se advokaat aangedui het
dat daar nie meer gesteun word op die stipulatio alteri nie.
Die advokaat vir die respondente het aangevoer dat daar op die getuienis geen bewys
is van wanneer en hoe die regte oorgegaan het op die appellant nie. Die appellant, so
is betoog, moes bewys dat hy die houer van die regte was ten tye van kontrakbreuk en
ook ten tye van die skadeveroorsakende gebeurtenis, die bedanking van die elf lede.
Anders was daar geen kontrakbreuk vis-à-vis die appellant nie.

[16] Die appellant se saak was dat hy by oorname en bedryf van die besigheid
eienaar van die regte geword het. Die regte het aan die besigheid gekleef as deel van
sy werfkrag en dit sou nie s aak maak wie besit geneem het nie, die eienaar van die
besigheid was ook die eienaar van die regte en kon hulle afdwing.

[17] Al die betoë wentel om hierdie se ntrale punt: was die regte persoonlik tot
SCEB en dus nie oordraagbaar nie, of wa s hulle ten gunste van die eienaar van die
besigheid wie ookal dit mag wees en dus oordraagbaar met die besigheid.
12
Die antwoord op hierdie vraag is beslissend van appellant se locus standi. Indien
die regte aan die besigheid gekleef het, is daar geen problem nie (op die prima facie
bewysvlak). Die getuienis was dat die kontrakbreuk voortgeduur het vanaf Julie 1998
tot die bedanking van die lede in Februarie 1999. Dit is gemene saak dat voor
daardie datum die appellant besit van die besigheid geneem het en dit bedryf het.
Sou die regte slegs SCEB persoonlik toegekom het, is dit moeilik om in te sien hoe
deur oordrag hetsy by wyse van sessie hetsy andersins, respondente nou gebonde was
om nie met appellant mee te ding nie. Anders gestel, hoe kon die respondente se
verpligtinge teenoor SCEB nou omskep word na verpligtinge teenoor appellant?

[18] Die antwoord op die kernvraag is te vi nde in die bedoeling van die partye soos
dit blyk uit die ooreenkoms en die omliggende feite.

[19] Dieselfde vraag het voor hierdie hof gedien in Botha and Another v Carapax
Shadeports (Pty) Ltd 1992 (1) SA 202 (AD). In die saak het die respondent
afdwinging van ‘n inperkingsooreenkoms g eëis. Soos in hierdie saak was die
geskilpunt of die inperkingsregte aan die besigheid gekleef het as deel van sy
werfkrag of aan die persoon in wie se guns die inperking gegee is. Die twee
standpunte word so deur Botha AR gestel:
‘If it appears, then, on the facts, that the benefit of a restraint agreement forms part of the goodwill
of a business which is sold, and is thus intended to pass to the purchaser, how, in the eyes of the
law, is that benefit transferred to the purchaser? What I have been referring to as “the benefit” of an
agreement in restraint of trade, pertaining to a business, is, in the eyes of the law, the contractual
13
right to enforce the restraint. It vests in the owner of the business. He is the creditor in respect of
it. When he sells the goodwill of the business, the merx embraces that contractual right. We have,
therefore, a sale of the contractual right, or claim.’ (214 B-C)
‘There is no fixed or invariable rule by which the benefit of an agreement in restraint of trade passes
to the purchaser of the goodwill of a business. For instance, such an agreement may in terms confer
a purely personal benefit on the owner of the business only; in such a case, the benefit of it does not
enure to the advantage of the business, it is not part of the goodwill, and it will not pass to the
purchaser.’ (213 A-B)
Hy sê dan ook te 213I:
‘Ultimately, what one is dealing with here, is an inference of fact as to the intention of the parties.’

[20] Ek wil my nie uitlaat oor waar die waarskynlikhede in verband met die vraag lê
nie. Dit is die taak van die verhoorhof nadat al die getuienis aangehoor is. Die
appellant het genoegsame prima facie getuienis om sy standpunt dat die regte aan die
besigheid kleef, voorgelê om absolusie af te weer. Dit volg dat respondente se betoog
op hierdie punt nie kan slaag nie.

[21] Wat oorbly is om te handel met die vraag of daar genoegsame getuienis was
van kontrakbreuk en kousaliteit.
Na my mening was daar voldoende getuienis voor die hof op beide die aspekte om
absolusie af te weer. Samevattend is die getuienis die volgende:
(i) nadat hulle bedank het, het respondente ‘n vergadering belê by ‘n hotel bekend
as Little Switzerland waarheen hulle verskeie van die grootste lede van
Megasave en Sentra uitgenooi het. Daar is hulle deur respondente versoek en
14
aangemoedig om as lede van gemelde entiteite te bedank en aan te sluit by ‘n
nuwe maatskappy wat die respondente sou stig;
(ii) ongeveer twee weke na die verg adering het respondente aan lede van
Megasave ‘n memorandum gestuur waarin die struktuur en funksies van die
beoogde nuwe maatskappy uiteengesit is en waarin die lede weereens
aangemoedig word om te bedank en by die nuwe organisasie aan te sluit;
(iii) ter uitvoering van die plan het respondente op 8 September 1998 ‘n
maatskappy gestig genaamd The Busi ness Exchange Company (Pty) Ltd
waarvan ingevolge sy Akte van Oprigting sy hoofdoelstelling was: ‘To act as
a buying exchange’;
(iv) die drie respondente was dan ook dire kteure van die maatskappy tot en met 17
November 1998 en die eerste en tweede respondent die interim bestuur vanaf
die stigtingsdatum;
(v) die respondente het deur maatskappye w aarvan hulle direkteure was of waarin
hulle aandeelhouding gehad het die nuwe maatskappy befonds.

[22] Dat die optrede van re spondente dan ook gelei het tot die bedanking van die elf
lede van Megasave en Sentra is ook, na my mening, prima facie bewese. Ek volstaan
deur daarop te wys dat daar onbetwiste getuienis was dat vier lede wat op 3 Februarie
1999 bedank het en op uiteenlopende plekke soos Ladysmith, Vereeniging, Zeerust en
Isipingo besigheid gedoen het, se bedankingsbriewe woord vir woord dieselfde was
en almal van die kantore van die Buyi ng Exchange Company se kantore te
15
Johannesburg gefaks is.

[23] Ek bevind dus dat nie een van die gronde deur die respondente aangevoer die
toestaan van absolusie sou regverdig het nie.

[24] By die aanhoor van die appèl het a ppellant by wyse van ‘n substantiewe
aansoek verlof gevra om ingevolge a 22 van die Wet op die Hooggeregshof 59 van
1959 verdere getuienis voor die verhoorhof aan te voer. Die appellant het blykbaar na
die hof a quo se bevel ontdek dat daar wel dokumentêre bewys was dat voldoen is aan
die bepalings van a 228 van die Maatska ppyewet. Gesien die feit dat die a 228
geskilpunt eers by betoog opgeduik het, staan dit die appellant steeds vry om aansoek
te doen vir heropening van sy saak, sou hy dit goeddink.

[25] Vir die redes hierbo uit eengesit is absolusie verkeerdelik toegestaan en was die
aansoek dus onnodig. Advokaat vir die appe llant het ons inderdaad nie gevra om
enige bevel in verband daarmee te maak nie. Die appellant is dus nie op die koste van
die aansoek geregtig nie. Trouens daar bestaan geen rede waarom hy nie die
respondente se koste moet betaal nie.

[26] Die volgende bevel word dus gemaak:
1. Die appèl slaag met koste. Die koste sluit in die koste van twee advokate maar
nie die koste van die aansoek om verd ere getuienis aan te voer nie. Die
appellant word gelas om die respondente se koste van die aansoek te betaal.
2. Die bevel van die hof a quo word ter syde gestel en vervang met die volgende:
16
‘Die aansoek om absolusie word van die hand gewys.’
3. Die saak word terugverwys na die verhoorhof.


__________________
P C COMBRINCK
WAARNEMENDE APPèLREGTER

CONCUR

HOWIE P
ZULMAN JA
NUGENT JA
MLAMBO JA