About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2002
>>
[2002] ZASCA 104
|
|
Jansen Van Der Merwe v Nedcor Bank Bpk (430/2001) [2002] ZASCA 104; 2003 (1) SA 169 (SCA) (13 September 2002)
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
SAAKNO: 430/2001
In die saak tussen:
CORNELIS JANSEN VAN DER MERWE
Appellant
en
NEDCOR BANK BEPERK
Respondent
________________________________________________________________________
CORAM: VIVIER Wne AP, HARMS, FARLAM, CAMERON en BRAND ARR
________________________________________________________________________
Verhoor datum: 5 September 2002
Datum gelewer: 13 September 2002
Sessie - splitsing van vordering - ongeldig.
________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
________________________________________________________________________
BRAND AR
BRAND AR
[1]
Die appellant ('Van der Merwe') het R230 000
op verband by die respondent ('Nedcor') geleen. Toe hy in gebreke
bly om sy paaiemente
ooreenkomstig die terme van die verband te
betaal, het Nedcor hom in die Transvaalse Provinsiale Afdeling vir
betaling van die volle
verbandskuld aangespreek. Weens Van der
Merwe se versuim om hierdie aksie te verdedig, is vonnis by verstek
teen hom toegestaan.
Sy daaropvolgende aansoek om tersydestelling
van hierdie verstekvonnis was onsuksesvol omdat hy, na die oordeel
van die Hof benede
(Jooste Wne R) geen regsgeldige verweer teen
Nedcor se eis openbaar het nie. Teen hierdie beslissing kom Van der
Merwe nou, met
verlof van hierdie Hof, in hoër beroep.
[2]
Die verweer teen Nedcor se eis wat deur die
Hof
a quo
geweeg en te lig bevind is, is gebaseer op
skuldvergelyking van 'n gesedeerde vordering. Hiervolgens het 'n
beslote korporasie,
Kniehalter Boerdery BK ('Kniehalter'), waarvan
Van der Merwe die enigste lid was, ân vordering van R230 000 teen
Nedcor aan hom
gesedeer waarna die verbandskuld deur die werking van
skuldvergelyking uitgewis is. Kniehalter se vordering het, volgens
Van der
Merwe, sy oorsprong gehad in vier koopkontrakte wat
Kniehalter op 28 April 1998 met Nedcor aangegaan het. Ingevolge
elkeen van
die vier kontrakte het Kniehalter 'n Volvo voorhaker op
afbetaling van Nedcor gekoop en 'n deposito van R113 356,90
daarop aan
Nedcor betaal. Die restant van die koopprys was
betaalbaar by wyse van maandelikse paaiemente ten bedrae van R14
864,47 elk.
Hoewel Kniehalter blykbaar sommige van hierdie
maandelikse paaiemente betaal het, is dit nie duidelik presies
hoeveel daarvan betaal
is nie. Wat vasstaan, is dat Kniehalter op
'n stadium agterstallig geraak het en dat Nedcor op grond daarvan, in
Oktober 1998,
kennis gegee het dat hy die vier ooreenkomste beeïndig.
Volgens Van der Merwe het dit op daardie stadium tot sy kennis
gekom
dat die vier koopkontrakte, weens 'n wesenlike dwaling aan sy
kant aangaande die terme daarvan, van meet af aan ongeldig was; of,
alternatiewelik, dat Nedcor die vier kontrakte, deur sy beweerde
beëindiging daarvan, gerepudieër het welke repudiasie
deur
Kniehalter aanvaar is. In ieder geval, so voer Van der Merwe in sy
aansoek om tersydestelling aan, het Kniehalter 'n eis teen
Nedcor
gehad vir die terugbetaling van die vier deposito's, in 'n
gesamentlike bedrag van R453 427,60, wat hy uit hoofde van
die
kontrakte betaal het. Vervolgens verwys Van der Merwe in sy aansoek
om tersydestelling na 'n brief deur sy prokureurs aan Nedcor
waarin,
onder meer, die volgende gesê word:
â3. Soos verder vermeld is u klient op al vier die trokke, waar ons
klient die repudiasie aanvaar het, die deposito is verskuldig
aan
Kniehalter Boerdery BK, synde depositoâs in die bedrag van
R113 356,90 wat ten aansien van die vier trokke ân
gesamentlike
bedrag van R453 427,60 daarstel.
â¦
6. 'Ons gee u verder kennis dat Kniehalter Boerdery BK aan en ten
gunste van CJ van der Merwe, die reg om R230 000,00 te vorder
vanaf Nedcor Bank, gesedeer het, en dat CJ van der Merwe sodanige
bedrag wat hy van Nedcor Bank kan vorder, afsit en skuldvergelyking
toepas teenoor die bedrag van R229 783,00 wat CJ van der Merwe
in sy persoonlike hoedanigheid [uit hoofde van die verband]
verskuldig
is. Dit word derhalwe op rekord geplaas dat mnr CJ van
der Merwe geen verdere bedrag ⦠verskuldig is aan Nedcor Bank nie
â¦â.
Kort na hierdie beweerde sessie is Kniehalter onder
voorlopige likwidasie geplaas wat later finaal gemaak is.
[3]
Ter bestryding van Van der Merwe se aansoek
om tersydestelling van die verstekvonnis het Nedcor verskeie besware
teen die geldigheid
van die beweerde sessie en die daaropvolgende
beroep op skuldvergelyking geopper. se eie weergawe, geskied het
ingevolge 'n ooreenkoms
wat hy met homself gesluit het. So 'n
ooreenkoms, sou regtens onbestaanbaar wees. Die feit dat Van der
Merwe volgens sy weergawe
by die sluiting van die ooreenkoms in twee
hoedanighede, te wete in sy persoonlike hoedanigheid en in sy
hoedanigheid as verteenwoordiger
van Kniehalter opgetree het, het
volgens Nedcor se betoog, hieraan geen verskil gemaak nie.
[4]
Hierdie betoog van Nedcor is deur die Hof
a
quo
aanvaar. Inderdaad is dit die enigste rede vir die Hof se
beslissing dat Van der Merwe geen regsgeldige verweer teen die
vonnisskuld
openbaar het nie. Vir sy aanvaarding van Nedcor se
betoog het die Hof veral steun gevind in
Gutman NO v Standard
General Insurance Co Ltd
1981 (4) SA 114
(C) 119A wat weer
gebaseer was op die volgende stelling van prof JC de Wet in Joubert
(red)
The Law of South Africa
band 1 para 107:
'As a contract is a juristic act for which expressions of a common
intention by at least two persons are required, one person cannot
as
a representative of another conclude a contract with himself. Where
a representative purports to conclude a contract with himself
the
purported contract is simply a nullity.'
(Sien ook
The Law of South Africa
band 1 (1ste
heruitgawe) para 106.)
[5]
Wat ongelukkig nie onder die aandag van die
Hof
a quo
gebring is nie, is dat hierdie Hof in
Vaal Reefs
Exploration and Mining Co Ltd v Burger
1999 (4) SA 1161
(SCA)
1170G - 1171B pertinent beslis het dat die aangehaalde stelling deur
prof De Wet nie 'n juiste siening van ons reg reflekteer
nie en dat
dit verkeerdelik in
Gutman
se saak toegepas is. In hierdie
lig is tereg op appèl namens Nedcor toegegee dat die Hof
a
quo
om 'n verkeerde rede die aansoek vir die tersydestelling van
die verstekvonnis van die hand gewys het.
[6]
Uiteraard is dit nie die einde van die
ondersoek na die korrektheid van die Hof
a quo
se uiteindelike
beslissing nie. Die eerste vraag wat ontstaan is of die sessie
waarop Van der Merwe hom beroep nie weens ân ander
rede ongeldig is
nie. By oorweging van hierdie vraag is 'n regsreël wat sigself
onmiddellik vir moontlike toepassing aan die
hand doen, dié
wat blyk uit die volgende stelling deur PM Nienaber in
The Law of
South Africa
band 2 (1ste heruitgawe) para 259:
'Except with the consent of the debtor a right can be ceded only in
its entirety : a cession of part of a debt or a cession purporting
to
apportion the debt among several cessionaries is invalid. The
reason is that cession must not impair the debtor's position.
His
position would be aggravated if he were to be confronted not, as
before, with a simple creditor, but unexpectedly with a multiplicity
of creditors. It follows that the fragmentation of a claim is
possible only with the consent of the debtor'.
Hierdie reël is reeds in verskeie beslissing van
ons howe toegepas (sien, byvoorbeeld,
Spies v Hansford &
Hansford Ltd
1940 TPD 1
te 8;
Blaikie & Co Ltd v
Lancashire NO
1951 (4) SA 571
(N) 576 A-D). Ook hierdie Hof het
al by meer as een geleentheid met instemming na hierdie reël
verwys. (Sien, byvoorbeeld,
Lief NO v Dettmann
1964 (2) SA
252
(A) 275 F-G;
Cullinan v Noordkaaplandse
Aartappelkernmoerkwekers Koöperasie Beperk
1972 (1) SA 761
(A) 771 B-G).
[7]
Soms word gesê dat daar by borgtog 'n
uitsondering op hierdie reël is deurdat mede-borge wat verplig
word om 'n enkele
hoofskuld te betaal, elkeen op sessie van 'n
gedeelte van daardie hoofskuld kan aandring, waardeur die enkele
hoofskuld dan effektiewelik
tussen verskillende skuldeisers gesplits
word. (Sien byvoorbeeld
Miller's Trust Foreshore Properties
(Pty) Ltd v Kasimov
1960 (4) SA 953
(C) 958 C-D; RH Christie
The
Law of Contract
, 4de Uitgawe, 544.) Dat hierdie uitsondering op
die gestelde reël - indien dit werklik 'n uitsondering is - nie
in die onderhawige
geval toepassing kan vind nie, spreek vanself.
Hierdie saak het met borgtog niks te make nie.
[8]
Wat wel oorweging verdien het was die
moontlikheid dat die sessie, by 'n behoorlike ontleding van die
aangehaalde prokureursbrief
asook Van der Merwe se weergawe
daaromtrent, nie neergekom het op die splitsing van een vorderingsreg
tussen twee skuldeisers nie,
maar op die oordrag van ân aparte
vordering wat op sy eie bene gestaan het. So 'n sessie van 'n
aparte vordering sou uiteraard
nie in stryd wees met die verbod op
splitsing nie. Oorweging van die prokureursbrief en Van der Merwe
se weergawe lei egter tot
die slotsom dat die sessie waarop Van der
Merwe hom beroep vir slegs een uitleg vatbaar is, naamlik dat hy
beoog het om, namens
Kniehalter, 'n gedeelte van een enkele vordering
aan homself te sedeer terwyl Kniehalter steeds die skuldeiser ten
opsigte van die
restant van dieselfde vordering sou bly. So gesien,
kan die beoogde sessie nie die verbod op splitsing vryspring nie.
Dit is
nêrens gesuggereer dat Nedcor as skuldenaar tot hierdie
splitsing toegestem het nie. Dat Nedcor se posisie deur die
splitsing
verswaar is, lê myns insiens voor die hand. Soos te
verwagte, betwis Nedcor die bestaan van Kniehalter se kontensieuse
vordering.
As gevolg van die sessie is Nedcor in die posisie
geplaas waarin hy hierdie stryd om die bestaan van wat aanvanklik een
vordering
was, nou op twee fronte moet voer. Hierdie gevolg is 'n
klassieke voorbeeld van wat die verbod op splitsing van 'n
vorderingsreg
deur sessie probeer verhoed. Bygevolg is die sessie
wat die hoeksteen vorm van Van der Merwe se verweer, regtens
ongeldig. Dit
is die einde van die saak. Enige verdere ondersoek
na die meriete van die ander besware wat Nedcor teen die die
afdwingbaarheid
van Kniehalter se vordering, die geldigheid van die
sessie en die geldigheid van die daaropvolgende beroep op
skuldvergelyking geopper
het, is onnodig. Die aansoek om
tersydestelling van die verstekvonnis het dus tereg nie geslaag nie.
[9]
Die appèl word van die hand gewys met
koste.
_________________
FDJ BRAND
APPèLREGTER.
STEM SAAM
:
VIVIER Wne AP
HARMS AR
FARLAM AR
CAMERON AR