About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2002
>>
[2002] ZASCA 81
|
|
S v Viljoen (286/2002) [2002] ZASCA 81; [2002] 4 All SA 10 (SCA); 2002 (2) SACR 550 (SCA) (27 August 2002)
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer :
286 / 02
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
In die appèl
van
P N J VILJOEN
Appellant
En
DIE
STAAT
Respondent
Regbank
: OLIVIER, NAVSA AND MPATI
ARR
Verhoordatum
: 21 AUGUSTUS 2002
Datum
van Uitspraak
: 27 AUGUSTUS 2002
SAMEVATTING
Appèl teen die
afwysing van 'n onsuksesvolle borgaansoek in die Hooggeregshof - Art
60 (11) (a) van die
Strafproseswet 51 van 1977
; bewyslas;
aanbevelings oor benaderingswyse tot feite-dispute en oor
appèlprosedure.
U I T S P R A A K
P J J OLIVIER
OLIVIER AR
[1]
Die appellant, 'n 28-jarige man, het tot en met
die afsterwe van sy eggenote ('die oorledene') op 'n hoewe te
Haakdoringboom, Wonderboom,
in die Pretoria distrik, gewoon. Sy is in
die oggendure van 10 April 2001 op barbaarse wyse vermoor, deurdat
haar keel met 'n skerp
voorwerp afgesny is. Die presiese tyd van haar
dood is in geskil. Wat nie in geskil is nie, is dat sy ten tye van
haar oorlye ongeveer
vyf maande swanger was en dat die appellant die
vorige aand tot ongeveer 20:30 by 'n prostituut deurgebring het.
[2]
Appellant is op 29 Augustus 2001 te Pretoria
gearresteer en later van moord op sy eggenote aangekla.
[3]
Op 31 Augustus 2001 is die appellant
voor die landdroshof gebring. 'n Klag dat hy sy eggenote vermoor het,
is aan hom gestel en
hy het skuldig gepleit. 'n Ondervraging in terme
van art 112 (1) (b) van die Strafproseswet, 51 van 1977, ('die Wet')
is gehou,
die tersake deel waarvan soos volg lees :
'V. [Die landdros]
Erken u dat die oorledene dood is as gevolg van die wonde wat u haar
toegedien het?
A. Ja
V. Hoekom het u die
oorledene gedood?
A. Ek het die vooraf
beplan dat ek haar gaan dood maak. Ek het 'n venster gebreek en in
die huis ingeklim. Terwyl die oorledene
slaap het ek haar wakker
gemaak en vir haar gesê staan op. Ek het haar mond toegedruk
tot by die kamerdeur geloop met 'n
mes in my hand dit was 'n nutmes
gewees en ek het toe haar keel afgesny. Ek het toe weer deur die
venster geklim en toe werk toe
gery. Ek weet nie hoekom het ek dit
gedoen nie.
V. Het u geweet die
oorledene is swanger?
A. Ja ek het dit
geweet.
V. Het u geweet u
tree verkeerd op toe u so opgetree het?
A. Ja.
V. Het u inderdaad geweet
toe u die daad pleeg dat u 'n misdryf pleeg?
A. Ja.
V. Het die voorval
plaasgevind op 10/4/2001 en te of naby Plot 40 Haakdoringboom in die
distrik van Wonderboom?
A. Ja.
Hof is dan oortuig dat
die beskuldigde al die elemente van die misdryf en die bewerings in
die klagstaat erken.
Verrigtinge
gestaak in afwagting van die opdrag van die DOV.'
[Direkteur
van Opbenbare Vervolging]
[4]
Op dieselfde dag het die appellant 'n borgaansoek
geloods voor dieselfde landdros wat die pleitverrigtinge hanteer het.
Nadat die
bewyslas wat op hom rus, aan hom verduidelik is, het
appellant oa gesê :
HOF
:
Dit is nou met betrekking tot borg. Wat wil u vir die hof sê?
---Ek wil net sê ek is jammer wat ek gedoen het. Dit
was
verkeerd wat ek gedoen het. Ek was nie by my self gewees nie. Ek wou
dit nie eintlik beplan het nie, maar ek weet ek het dit
gedoen. Ek en
sy, ons het 'n toekoms gehad. Ons sou saam iewers heen gegaan het. Ek
weet nie hoekom nie.
U moet nou net mooi vir
my sê, u sê nou nie u het nie geweet wat u doen nie. ---
Ja.
U sê u het goed
geweet wat u doen. --- Ja.
Maar u weet net nie
hoekom het u dit gedoen nie? --- Ja.
Is dit korrek? --- Ja.'
[5]
Die hof het ook die getuienis van
Kaptein Fabricius, die ondersoebeampte in die saak, aangehoor. Aan
die einde van die verhoor het
die landdros beslis dat daar geen
buitengewone omstandighede voor die hof geplaas is nie, en is die
aansoek geweier.
[6]
Die aangeleentheid is na die Transvaalse
Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof oorgeplaas vir verhoor.
Die verhoor was geplaas
vir 26 Februarie 2002, maar die
aangeleentheid is uitgestel na 8 Maart 2001 vir die aanhoor van 'n
borgaansoek.
[7]
Op gemelde dag is die borgaansoek deur Stegmann R
verhoor. Ook hy het, soos die landdros, beslis dat die appellant hom
nie van sy
wetlik opgelegde bewyslas gekwyt het nie. Die huidige
verrigtinge is 'n appèl teen gemelde beslissing.
[8]
Dit moet vermeld word dat die verhoor
geplaas is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling om 'n aanvang te
neem op 26 Augustus 2002,
dit wil sê vyf dae vanaf die datum
van die verhoor van die appèl.
[9]
Die aansoek voor die hof
a
quo
is aanhangig gemaak kragtens art 60
van die Wet. Dit is gemeensaak dat die beskuldigde aangekla staan van
'n misdaad soos bedoel
in Bylae 6 van die Wet, nl moord, waar dit
beplan of met voorbedagte rade gepleeg is. In so 'n geval geld art 60
11 (
a
) van
die Wet, wat soos volg lees :
'(11) Ondanks enige
bepaling van hierdie Wet, waar 'n beskuldigde aangekla word van 'n
misdryf bedoel in -
(
a
) Bylae 6,
moet die hof gelas dat die beskuldigde in bewaring aangehou word
totdat daar met hom of haar ooreenkomstig die
reg gehandel is, tensy
die beskuldigde, nadat hy of sy 'n redelike geleentheid daartoe
gebied is om dit te doen, getuienis aanbied
wat die hof oortuig dat
daar buitengewone omstandighede bestaan wat sy of haar vrylating in
die belang van geregtigheid veroorloof;'
[10]
Artikel 60 van die Wet vind sy grondslag in art 35
(1) (f) van die Grondwet, en art 60 (11) het reeds die toets van
grondwetlike
geldigheid geslaag (sien
S
v Dlamini;
S
v Dladla and Others;
S
v Joubert;
S
v Schietekat
[1999] ZACC 8
;
1999 (4) SA 623
(KH);
1999 (2) SASV 51 (KH). Die bepalings van art 60 (11) verskil wesenlik
van dié van art 60 (4) - (9); dit
doen meer as om net
die voormalige borgtogbepalings te herhaal of te herformuleer (sien
par [64] van
S v Dlamini et al
).
Nogtans het die Konstitusionele Hof verklaar dat deur die toets van
buitengewone omstandighede te stel, art 60 (11) (a)
'
... does not say they must be circumstances above and beyond and
generically different from those enumerated [in ss (4) - (9)].'
(Sien par [76] van
S v
Dlamini et al
.)
[11]
Dit is gevestigde reg om ook in gevalle
waar art 60 (11) (a) van toepassing is, maw afgesien van die
waarskynlikheid dat die beskuldigde
sal poog om sy verhoor te
ontduik, die sterkte van die Staat se saak relevantheid te gee onder
die rubriek van buitengewone omstandighede.
[12]
Die eerste beslissing na die1998 -
wysigings aan die Wet waarin die betekenis van 'buitengewone
omstandighede' in die
konteks van die sterkte van die Staat se saak
behandel was, is
S v Jonas
1998 (2) SASV 677 (SOK; per Horn Wnde R). In die betrokke saak
het die appellant onbetwiste getuienis aangevoer waarin hy
die klag
teen hom ontken en getuienis aangebied het van 'n alibi wat, indien
bewys, sou aantoon dat hy nie die misdaad hom ten
laste gelê
kon gepleeg het nie (sien 679 b van die verslag). Die Staat het geen
weerleggende getuienis aangebied nie. Die
hof het bevind dat die
sterkte van die Staat se saak
per
se
'n buitengewone omstandigheid soos bedoel in art 60 (11) (a) kan
wees.
'The
term "exceptional circumstances" is not defined.
There can be as many circumstances which are exceptional as
the term
in essence implies. An urgent serious medical operation necessitating
the accused's absence is one that springs to mind.
A terminal illness
may be another. It would be futile to attempt to provide a list of
possibilities which will constitute such
exceptional circumstances.
To my mind, to incarcerate an innocent person for an offence which he
did not commit could also be viewed
as an exceptional circumstance.
Where a man is charged with a commission of a Schedule 6 offence when
everything points to the
fact that he could not have committed the
offence because, eg he has a cast-iron alibi, this would likewise
constitute an exceptional
circumstance.'
(Op
678 e - g)
(Sien egter oor die
quantum
van bewys
S v Botha en 'n Ander
2002 (1) SASV
222 (HHA) par [21] die opmerking van Vivier Wnde AHR en sien
infra
.)
Voorts
is bevind dat indien die beskuldigde verontskuldigende getuienis
aanbied, die Staat, indien hy die aansoek met sukses wil
opponeer,
weerleggende getuienis moet aanbied (sien 679 e - h).
[13]
S v Jonas
,
supra
, is
gevolg in
S v Mauk
1999 (2) SASV 479 (W). Die beskuldigde, gestaaf deur die getuienis
van 'n ander, het ontken dat hy 'n jong dogtertjie onsedelik
aangerand en verkrag het. Die Staat het die beskuldigde se bewering
nie met weersprekende getuienis weerlê nie. Die landdros
het
borgtog geweier. Die appèl voor Snyders R teen dié
bevel slaag. Die geleerde regter verwys met goedkeuring
na
S
v Jonas
,
supra
,
en beslis voorts dat die bewyslas wat op die beskuldigde rus, nie
vereis dat hy moet bewys dat die Staat 'n buitengewone swak
saak het
nie en dat die bewysmaatstaf nie verhef moet word bo dié van
'n oorwig van waarskynlikhede nie (op 486 i - j).
[14]
Sterk, onafhanklike getuienis
aanduidend van die beskuldigde se onskuld (
in
casu
'n gestaafde alibi) is in
S
v Mohammed
1999 (2) SASV 507 (K) deur
Comrie R in 'n beredeneerde beslissing as buitengewone omstandighede
soos bedoel in art 60 (11) (a)
van die Wet aanvaar (sien 517 i - j).
[15]
Die bogemelde lyn van denke is voortgesit in
S
v Yanta
2000 (1) SASV 237 (Tk) op 247 b
- c;
S v Josephs
2001 (1) SACR 659
(K) op 667 a - g en
S
v Siwela
1999 (2) SASV 685 (W) op 704
d. In hierdie Hof in
S v Botha en 'n
Ander
2002 (1) SASV 222 (HHA) par [21]
is die bewysmaatstaf soos volg gestel : bewys deur 'n
beskuldigde dat hy waarskynlik
onskuldig bevind sal word, sou wel as
'buitengewone omstandighede' kon dien.
[16]
Die vraag voor ons is dus slegs of die appellant
hom in die hof
a quo
van hierdie bewyslas gekwyt het.
[17]
Die Staatsaak soos voorgehou by die
verhoor van die borgaansoek berus op die volgende getuienis teen die
appellant :
17.1 Die pleit van
skuldig.
17.2 Die
pleitverduideliking.
17.3 Die erkennings
deur die appellant gemaak tydens die borg-verrigtinge voor die
landdros.
17.4 'n Bekentenis
afgelê deur die appellant op 29 Augustus 2001. Hierdie
bekentenis is afgelê in die loop van
'n waarskuwingsverklaring,
die relevante dele waarvan soos volg lees:
'Laat ek jou eers vertel
wat het gebeur voordat ek die plek vir mnr gaan wys. Ek staan in die
oggende gewoonlik so 04:45 op en maak
klaar om werk toe te gaan.
Om ongeveer 05:20 sê
ek vir my vrou koebaai en die oggend het ek dit vir haar gesê.
So 05:25 en 05:30 dan ry
ek weg werk toe. Ek het tot by die boonste plot gery en oorkant die
straat gestop. Ek het toe afgeloop
na die huis. By die huis aangekom
het ek deur die venster geklim. Vr. Wie se huis is dit? Dit is
my huis ek huur hom by my
pa. Ek het my vrou toe alleen in die bed
gekry en haar keel afgesny.
Polisie-beampte
:
Stop ... mnr Viljoen. Deel hom mee dat wat hy nou doen 'n bekentenis
is, verduidelik aan hom die implikasies van 'n bekentenis.
Deel hom
ook mee dat ek hom na 'n Landdros kan laat gaan om die verklaring
daar te gaan aflê, Maar indien hy wil hy
voor my ook kan
voortgaan. Sy antwoord is.
Beskuldigde
:
Nee dit is reg ek wil voor jou voortgaan sodat alles afgehandel kry.
Die oggend toe ek wegry werk toe wil ek die mes uit
die toolbox by
die huis gehaal, in my bakkie gesit, gery en gestop en toe ek uitklim
en na my huis loop het ek die mes uit die
bakkie gehaal, in my bakkie
gesit, gery en gestap en toe ek uitklim en an my huis loop het ek die
mes uit die bakkie gehaal en
saam met my geneem. Vr. Hoekom het
jy die mes saamgeneem? Ek weet nie, Ek was net blank gewees. Ek
was nie by my volle
bewussyn gewees nie. Ek weet nie. Vr. Was
jy onder die inlvoed van enige drank of dwelms of iets? Nee. Ek het
my vrou toe
op die grond neergelê, dit was in ons slaapkamer.
Ek het toe weer deur die venster waar ek ingeklim het uigeklim na my
bakkie
gegaan en werk toe gery. Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het
nie. Tot vandagtoe weet ek nie hoekom ek dit gedoen het nie. Dit is
al wat ek wil sê. Ons kan nou maar ry.'
17.5 Uitwysings
gemaak deur die appellant op dieselfde dag. Die notule van dié
uitwysings lees soos volg:
'14:17 Vertrek
vanaf Moord en Roof Pretoria. Vr. Waarheen moet ons gaan? A.
Moet ons eers gaan waar ek die goed
weggegooi het of na die huis.
Vr. Dit maak nie saak waarheen jy my wil neem nie. A. Ons
gaan dan eers na die huis te
Onderstepoort Plot 40. Mnr kan ry na
Onderstepoort pad.
14:35 Ry met
Onderstepoortpad - Waarheen nou? A. Ry net reguit
aan.
14:43 Deel mee om
nie te draai na regs by 'n Plot 40 waar staan Panelbeaters and Spray
Painting (foto 5). Word geneem. Verdagte
deel mee om te stop by
woning. Verdagte wys aan my venster van woning aan die suidekant van
woning. Vr. Wat het hier gebeur?
A. Ek het die venster
oopgemaak en toegang verkry tot die woning. Ek het ook weer by die
venter uitgeklim. Die kamervenster
was oop gewees toe ek hier gekom
het. Foto 6 word geneem.
Verdagte stoot woning oop
neem my die huis binne. Wys aan my die hoofslaapkamer uit. Vr.
Wat het toe gebeur. A. Dit
is waar ek my vrou op die bed gekry
het en haar keel afgesny het. Foto 7 word geneem. Verdagte wys aan my
die kamer uit. Naby deur
van die kamer. Vr. Wat het hier
gebeur. A. Ek het haar hier neergelê. Foto 8 word geneem.
Verdagte wys aan my
venster en ander kamer uit. Vr. Wat het hier gebeur. A.
Dit is die venster waar ek in gekom het
en waar ek weer uit is.
Vr. Is die -
(pen droog op) nog iets wat jy vir my wil wys. A. Ons is klaar
hier ek sal jou gaan wys waar
ek die mes en skoene weggegooi het. Vra
fotograaf om foto van huis te neem. Foto 9 word geneem.
14:57 Klaar by
woning. Vr. Waarheen moet ek nou ry. A. Jy moet ry na
Rosslyn. Draai regs uit plot links uit Hebronpad.
Km 107847 pad word
aangewys deur verdagte. Draai regs met R80 (Pretoria) Km 107853.
Draai links vanaf Mabopane hoofweg op R566
Rosslyn KM 107858. Draai
regs met R566 Rosslyn Km 107859. Draai regs met Ketshofstraat Km
107862. Draai links met Hilliumstraat
Km 107863. Deel mee om by 2de
lamppaal te stop. Stop die veld in 20 tree tot waar bome afgekap is.
Vr. Wat het hier gebeur.
A. Ek het die my skoen wat vol
bloed was en die mes wat ek gebruik het hier weggegooi. Foto 10 word
geneem.
Wys perseel uit waar hy
werksaam is. Foto 11 word geneem.
Dit is al wat ek wil wys.
Ons kan teruggaan. Waarneming (deur polisie-beampte). Veld het
gebrand wat verdagte uitwys'
17.6 'n Erkenning
gemaak deur die appellant dat hy sy eggenote om die lewe gebring het
en wel aan sy vader in die teenwoordigheid
van kaptein Fabricius op
29 Augustus 2001, in laasgenoemde se motor.
17.7 'n Beëdigde
verklaring deur die appellant se prokureur waarin hy meedeel dat
appellant se moeder hom meegedeel het
dat die appellant, op 'n vraag
van haar, haar meegedeel het dat hy nie die dienste van 'n prokureur
wil benut nie.
[18]
In die verrigtinge voor die landdros
het die appellant nie alleen skuldig gepleit, die genoemde
pleitverduideling verstrek en getuienis
waarin hy die moord beken
het, afgelê nie, maar geensins aangevoer dat hy deur die
polisie aangerand is of gedwing of gedreig
is om skuldig te pleit
nie. In die verrigtinge voor Stegmann R was dit egter sy saak dat hy
aldus aangerand en gedreig was en dat
hy inderdaad nooit opgetree het
soos in sy bekentenis beweer is nie en soos wat hy gepleit het nie.
Sy getuienis in hierdie verband
lees soos volg :
'16
Op 29 Augustus 2001 het
ek 'n oproep by my werk ontvang vanaf die Ondersoekbeampte. Hy was by
die hoofhek van my werk en het my
versoek om daarheen te gaan. Ek is
toe versoek om hulle te vergesel na sy kantoor.
17
17.1 Ek is in sy
kantoor deur 'n aantal mans aangerand en met die dood gedreig om te
erken dat ek my vrou vermoor het. Hulle
het my vasgemaak en 'n rubber
handskoen oor my kop getrek sodat ek nie kon asem kry nie. Hulle wou
van my weet wat ek met die moordwapen
en my klere gedoen het. Ek het
vir my lewe gevrees en het bloot om hierdie marteling vry te spring
erken dat ek my vrou vermoor
het. Ek het aangedui dat ek vir hulle
sou gaan wys het waar ek die goed weggegooi het. Ek het 'n
Polisiebeampte na 'n oop veld
oorkant my werksperseel geneem alhoewel
ek geweet het dat daar niks gevind sou word nie. Ek het hom ook na
ons huis geneem. Ek
het ook aan hom 'n weergawe verskaf van hoe ek
die beweerde moord sou gepleeg het.
17.2 Alhoewel ek geweet
het dat hierdie weergawe nie waar was nie, het ek dit as die enigste
uitweg beskou om verdere marteling
vry te spring.
17.3 Die
Polisiebeampte aan wie ek die veld oorkant my werk gaan uitwys het,
het my ook genooi om weg te hardloop sodat hy
my kon skiet.
17.4 Nadat ek hierdie
sogenaamde erkennings gemaak het, het die Ondersoekbeampte my beveel
om in die hof skuldig te pleit. Hy het
my duidelik laat verstaan dat
indien ek iets anders in die hof sou sê, ek weer gemartel sou
word soos die dag tydens my arrestasie.'
[19]
Die Staat het in die borgverrigtinge in die hof
a
quo
geen direkte getuienis ter
weerlegging van die appellant se bewerings dat hy aangerand of
gedreig is, aangebied nie. Wat die Staat
wel gedoen het, is om te
steun op die vorige verklarings van die appellant self waarin hy
telkens verklaar het dat hy nie aangerand
of gedreig is nie. Hierdie
verklarings was voor die hof
a quo
deur die appellant gelê as deel van die aanhangsels tot sy
eedsverklaring en is deur beide kante ontleed en behandel.
Die
verklarings is die volgende :
19.1 Voor die
toepassing van die bepalings van artikel 112 (1) (b) van die Wet en
nadat die appellant skuldig gepleit het,
het die voorsittende
landdros die volgende aan die appellant gesê en gevra :
'U het 'n pleit van
skuldig aangebied. U sal nou ondervra word om te bepaal of u al die
wesenlike elemente van die misdryf begryp
en verstaan en of u dit
vrywillig erken.
V. Verstaan u die
uiteensetting wat aan u gegee is?
A. Ja.
V. Verstaan u die
aanklag waarop u skuldig gepleit het?
A. Ja.
V. Het u vrywilliglik
skuldig gepleit sonder enige dwang of onbehoorlike beïnvloeding?
A. Ja.'
19.2 Appellant het
op geen stadium teenoor die landdros gekla dat hy aangerand, gedwing
of gedreig was nie.
19.3 Nadat Senior
Superintendent Viljoen die appellant geneem het om die uitwysings te
doen op 29 Augustus 2001, het die appellant
'n dokument onderteken
waarin die volgende vrae en antwoorde voorkom :
'10
Is u deur enige persoon
aangerand, gedreig of beïnvloed om die aanwysings van die toneel
(tonele) en/of punt(e) te doen?
Nee ek is nie aangerand
nie.
11
Het u enige beserings of
kneusings van welke aard ookal?
Indien dit vertoonbaar is
wys dit asseblief aan my.
Nee.
12
Vertel aan my hoe u die
beserings opgedoen het.
Rooi om gewrigte. Vra wat
het gebeur.
Dit is die handboeie wat
styf om my arms was.
Vra fotograaf om fotos te
neem van verdagte. Fotos 1 tot 4 word geneem.
13
Noudat dit blyk dat die
aanwyser:
1 By sy volle
positiewe is;
2 Nie onbehoorlik
daartoe beïnvloed is nie die bepalings van Artikel 35 van Wet
108 / 96 verstaan, en
3 Vrywillig en
ongedwonge 'n uitwysing wil maak, word hy meegedeel dat hy nou kan
voortgaan en die volgende word genotuleer.'
19.4 Op 30 Augustus
2001 het die appellant 'n waarskuwingsverklaring onderteken waarin hy
sy vorige bekentenis bevestig waarin
die volgende voorkom :
'VRAAG: Is u op enige
wyse aangerand, gedreig of voorgesê?
ANTWOORD: Nee.
VRAAG: Indien wel
deur wie, wanneer en waar?
ANTWOORD: n. v. t.
VRAAG: Het die feit dat u
aangerand of gedreig of voorgesê is enige invloed op die
aflegging van hierdie verklaring/beantwoording
van die vrae?
ANTWOORD: Nee.
VRAAG: Het u enige
beserings van watter aard ook aan u liggam? (Beampte moet ook eie
waarneming maak en aanteken)
ANTWOORD: Geen.
(Indien
JA
,
versoek die verklaarder om sy/haar beserings aan u te wys. Teken die
beserings aan, indien die verdagte toestemming daartoe verleen.
Indien die verdagte
NEE
antwoord, moet u steeds u eie waarnemings van beserings aanteken.
Geen.'
19.5 Die bewyslas
wat op die appellant in die onderhawige saak rus, verg van hom om op
'n oorwig van waarskynlike oortuiging
te bring dat sy bekentenis,
pleit van skuldig, pleitverduideliking en getuienis by die
borgverrigtinge voor die landdros, by die
verhoor van alle krag
ontneem sal word weens die beweerde onvrywllige en gedwonge aard
daarvan. Ek meen dat die hof
a quo
tereg bevind het dat hy hom
nie van hierdie bewyslas gekwyt het nie. Ek wys op die volgende
faktore :
(a) Die appellant was
tydens sy arrestasie en die beweerde aanrandings byna 27 jaar oud en
het sy hoërskoolloopbaan voltooi
met 'n weeklikse inkomste van
tussen R1 500 en R2 000. Hy was toe al byna 3 jaar getroud. Hy is dus
nie 'n kind of ongeleerde of
onervare persoon nie.
(b) Sy vader en moeder
was baie gou na sy arrestasie by hom. As hy aangerand was, sou hy
sekerlik teenoor hulle gekla het. Hy doen
dit nie; inteendeel
beken hy sy skuld teenoor sy vader en deel sy moeder mee dat hy nie
regsverteenwoordiging verlang nie.
(c) Hy kla nie teenoor
die landdros nie.
(d) Die bewerings oor die
aanrandings is vaag en onoortuigend. Die persone wat hom aangerand
het, word nie geïdentifiseer nie.
(e) Die weergawe wat hy
verskaf het aan die polisie en in die landdroshof strook in breë
trekke met die wyse waarop sy eggenote
om die lewe gebring is, nl,
dat hy haar orent gehou het en haar keel met 'n mes afgesny het.
(f) Op die
waarskynlikhede bestaan daar 'n motief waarom die appellant sy
eggenote om die lewe gebring het. Hy het nie alleen
die betrokke
prostituut die aand voor sy eggenote se dood besoek nie, maar ook die
aand van die dag waarop sy begrawe is, en, blykens
haar verklaring,
ook op verskeie ander geleenthede. Sy was 'n ou skoolvriendin.
(g) Daar is niks uit die
huis waarin die appellant en sy eggenote gewoon het en sy om die lewe
gebring is, gesteel nie. Geen motief
of rede is aangetoon waarom
enige ander persoon haar sou vermoor het sonder om enigiets te steel
nie.
[20]
Benewens sy onsuksesvolle pogings om sy vorige
inkriminerende handelinge nou te ontsenu, het die appellant ook op 'n
ander manier
gepoog om aan te toon dat die Staat se saak nie steek
hou nie, nl deur hom te verlaat op 'n alibi, te wete dat hy sy huis
op die
oggend van 10 April 2001 om 05:30 verlaat het, toe hy sy
eggenote gegroet en R50,00 aan haar gegee het. Hy het om 05:55 by sy
werk
opgedaag en is om 08:15 huis toe ontbied, waar hy van sy
eggenote se oorlye verneem het. Hy het gepoog om sy aankomstyd by die
werk te staaf met 'n verklaring van ene Struwig, 'n medewerknemer wat
beskryf word as 'security investigator' en as iemand wat toegang
tot
rekenaarsisteme en lêers het. Uit sekere 'entries' verklaar
Struwig dan :
'Mr Viljoen entered the
premises at the Vehicle Distribution Centre BMW SA in Rosslyn at
05:55 and reported for work. This time
correspond with all other
access times recorded by Mr Viljoen for previous periods.'
Die verklaring is
niksseggend. Dit bevestig nie dat Struwig uit eie kennis en
waarneming kan getuig oor wanneer die appellant by
die werk opgedaag
het nie. Die verklaring verwys glad nie eers na 'n bepaalde datum
nie. Dit bevestig ook nie dat, sou die appellant
op die betrokke dag
wel om 05:55 by die werk was, hy dit nie daarna verlaat het nie. Die
rytyd van sy huis na die werk en omgekeerd
is volgens die appellant
self ongeveer 20 minute.
[21]
Dit laat die vraag ontstaan hoe laat die
verwonding van die oorledene plaasgevind het. In hierdie verband het
die appellant 'n verklaring
van Dr Dada, 'n forensiese deskundige,
voorgelê. Dit help die appellant geensins. Dr Dada het nie die
post-mortem ondersoek
gedoen nie en moet oor die basiese feite, soos
die temperatuur van die liggaam van die oorledene toe die post-mortem
gedoen is
en die ambiënte temperatuur in die huis spekuleer. Hy
doen twee teorieë aan die hand. Volgens een metode het die
oorledene
tussen 04:00 en 06:00 op die betrokke oggend gesterf. Op
die appellant se getuienis was hy in daardie periode tuis.
[22]
Volgens die ander metode bereken het die
verwonding plaasgevind tussen 06:30 en 07:30 die betrokke oggend,
' ... if it is
accepted that the deceased was alive at 07h30'. Die
getuienis om laasgemelde veronderstelling te bevestig is, om die
minste te
sê, nie indrukwekkend nie. Hoe dit ook al sy, in die
afwesigheid van oortuigende getuienis dat die oorledene in daardie
periode
onafgebroke by die werk was, is die alibi verweer ook nie op
die waarskynlikhede bewys nie.
[23]
Ek meen dus dat die appellant hom nie op 'n oorwig
van waarskynlikhede van die opgelegde bewyslas gekwyt het nie.
[24]
Daar is twee algemene aspekte wat in verband met
borgaansoeke en -appèlle kommentaar verdien.
[25]
Die eerste is die kritiek wat in die onderhawige
appèl teen die geleerde regter
a
quo
deur die appellant se
regsverteenwoordigers uitgespreek is omdat hy, ten aansien van die
appellant se bewerings dat hy deur polisie-beamptes
aangerand is,
gesê het dat dit 'n kwessie is wat beter deur die verhoorhof
bereg kan word. Dit is wel so dat in sommige van
die hierbo genoemde
uitsprake (sien veral
S v Jonas
,
supra
, en
S v Mauk
,
supra
,)
gesê is dat waar in 'n bestrede borgaansoek die beskuldigde
feite aanvoer wat
prima facie
op sy of haar onskuld mag dui, die Staat nie bloot kan terugsit en
geen weerlegging aanvoer nie. Dit volg uit die gewone en welbekende
bewysregtelike beginsels betreffende die weerlegging van 'n
prima
facie
-saak. Ek wil egter twee
voorbehoude op hierdie uitgangspunt in borgaansoeke noteer. Die
eerste is dat waar 'n beskuldigde wat met
inagneming van dit wat
reeds op rekord is, nie eers 'n
prima
facie
-saak kan uitmaak nie, daar geen
plig op die Staat rus om weerleggende getuienis aan te voer nie. Die
tweede, en meer belangrike,
voorbehoud is dat daarteen gewaak moet
word om van elke borgaansoek 'n uitgerekte verhoor vóór
die strafverhoor te
maak. Neem as voorbeeld die onderhawige geval,
waar daar herhaalde verklarings van die appellant was dat hy wel sy
eggenote vermoor
het en dit nou probeer ontsenu deur aan te voer dat
hy deur polisie-beamptes aangerand en gedwing was om dit te doen.
Moet, op
die borgstadium, die beskuldigde
viva
voce
-getuienis aflê wat deur
viva
voce
weerleggende getuienis van een of
meer polisie-beamptes weerlê moet word? Dieselfde toneel sal
hom, binne korter of langer
tyd, voor die verhoorhof afspeel. Kon dit
ooit die bedoeling van die wetgewer gewees het dat borgaansoeke 'n
volle kleedrepetisie
van die verhoor moet wees? Ek betwyfel dit ten
sterkste. Ek sou dus oordeel dat die verhoor van borgaansoeke binne
redelike perke
gehou moet word onderhewig aan die bepalings van die
Wet en die regte van die beskuldigde.
[26]
Tweedens is daar die kwessie van borgappèlle
na hierdie Hof. Soos in die huidige geval, is so 'n appèl
meestal op
feite en afleidings daaruit gebaseer en behels nie enige
regsvrae nie. So 'n appèl vanaf die uitspraak van 'n regter
van
die Hooggeregshof, as hof van eerste instansie, kan veel sneller
en goedkoper deur die betrokke volle bank afgehandel word. Daar
is
tans nie 'n meganisme waarvolgens sodanige appèlle na die
volle bank van die Hooggeregshof gekanaliseer kan word nie.
Ek doen
aan die hand dat die Departement van Justisie dringend aandag aan
hierdie aspek skenk.
[27]
Die appèl word van die hand gewys.
P J J OLIVIER
AR
SAMESTEMMEND
NAVSA AR
MPATI AR