Minister Van Veiligheid En Sekuriteit v Phoebus Apollo Aviation BK (113/2001) [2002] ZASCA 60 (30 May 2002)

70 Reportability

Brief Summary

Delict — Vicarious liability — Minister of Safety and Security held liable for theft by police officers — Respondent claimed R600,000 as damages for theft of cash by police officers during an unauthorized operation — Court a quo found Minister liable, determining officers acted within the scope of their employment — On appeal, it was held that the officers were not acting within the scope of their duties as they intended to commit theft, thus the Minister was not vicariously liable.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2002
>>
[2002] ZASCA 60
|

|

Minister Van Veiligheid En Sekuriteit v Phoebus Apollo Aviation BK (113/2001) [2002] ZASCA 60; 2002 (5) SA 475 (SCA) (30 May 2002)

Saaknommer : 113/2001
RAPPORTEERBAAR
IN
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
In die appèl
van
MINISTER VAN
VEILIGHEID EN SEKURITEIT Appellant
en
PHOEBUS APOLLO
AVIATION BK Respondent
Regbank
OLIVIER, FARLAM et BRAND ARR
Verhoordatum
: 17 MEI 2002
Datum
van Uitspraak
: 30 MEI 2002
SAMEVATTING
Onregmatige
daad: of Minister van Veiligheid en Sekuriteit middellik aanspreeklik
is vir diefstal gepleeg deur drie speurders wat
gesteelde geld gaan
steel het.
_______________________________________________________
U I T S P R A A K
_______________________________________________________
FARLAM AR
INLEIDING
[1]
Die appellant in hierdie saak, die Minister
van Veiligheid en Sekuriteit, appelleer teen ’n uitspraak van Roos
R in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling in ’n aksie waarin die
huidige respondent skadevergoeding ten bedrae van R600 000 van die
appellant gevorder
het. Roos R het die appellant aanspreeklik gehou.
Met verlof van die Hof
a quo
kom die appellant in hoër
beroep teen die uitspraak na hierdie Hof.
FEITE
[2]
Die relevante feite kan kortliks soos volg
opgesom word:
1. Die respondent, die eiser in die Hof
a quo
, is
’n beslote korporasie, wat aksie ingestel het teen die appellant
vir betaling van ’n bedrag van R600 000 wat na bewering
deel was
van ’n groter bedrag wat van die respondent beroof is.
2. ’n Gewapende roof het plaasgevind op 14 November
1998 toe ’n mnr Delport, die enigste lid van die beslote
korporasie, en sy
gesin deur gewapende rowers oorval en ’n groot
hoeveelheid kontant na bewering R2,4m en ander items gesteel is.
3. ’n Deel van die gesteelde geld is na Tzaneen geneem
waar dit in die erf van die vader van twee van die rowers begrawe is.
Dit
is daar aangebring deur ene Malatji, wat dit van een van die
rowers ontvang het.
4. Die roof het binne die jurisdiksiegebied van die
Midrandse Polisiestasie plaasgevind. Inspekteur Napo wat aan hierdie
polisiestasie
verbonde was was, as amptelike ondersoekbeampte vir die
saak aangestel.
5. Ooreenkomstig vasgelegde polisiepraktyk, moes enige
ander polisiebeampte wat inligting in verband met ’n aangeleentheid
wat reeds
deur ’n ondersoekbeampte ondersoek word, bekom, dit aan
laasgenoemde oordra.
6. Twee speurders verbonde aan die Rosebank
polisiestasie, Inspekteur van Jaarsveld en sersant Muhanelwa, en
sersant Mnyake, ’n
speurder verbonde aan die Alexandra
polisiestasie, het inligting gekry in verband met die bogenoemde roof
en, meer spesifiek in verband
met die geld wat aan die vader van twee
van die rowers oorhandig is.
7. Op 14 Januarie 1999 was die drie hierbo genoemde
speurders amptelik aan diens tot 16h00 daardie dag en het van ’n
amptelike Suid-Afrikaanse
Polisiediens voertuig gebruik gemaak. Van
Jaarsveld en Muhanelwa se taak was om ’n getuiedagvaarding in
Shoshanguve wat ongeveer
20 km noord van Pretoria geleë is, te
gaan beteken. Mnyake het geen magtiging gehad om hulle te vergesel
nie. Nadat hulle
blykbaar die dagvaarding beteken het, en in plaas
daarvan om na Rosebank terug te keer, het hulle na Tzaneen, waar ’n
deel van
die geroofde geld begrawe is, afgesit. Hulle het die
amptelike polisievoertuig met brandstof by die polisiestasie te
Warmbad, ongeveer
110km noord van Pretoria, hervul.
8. Die lede het geen toestemming of ’n gemagtigde
reisplan gehad om verder as Soshanguve met die SAPD voertuig te reis
nie en om
by die ondersoek van die roof betrokke te wees nie.
9. Op 14 Januarie 1999 het die drie speurders tesame met
ene Malatji, wat die geld namens een van die rowers aan laasgenoemdes
se
vader gegee het, by die vader se woning in Tzaneen opgedaag.
10. Die drie speurders is as polisiebeamptes aan die
rowers se vader voorgestel en het hul aanstellingsertifikate aan hom
getoon.
Hulle het gesê dat die geld gesteel is en dat hulle
gekom het om daarop beslag te lê. Hulle het ook vir die rowers
se vader gesê dat as hy nie saamwerk nie, hulle die man wat die
geld gebring het sou arresteer.
11. Die geld is toe uitgegrawe en hulle is daarmee weg.
12. Geen geld is aan die eiser terugbetaal of by enige
polisiestasie ingehandig nie. Die drie speurders het dit vir hulself
toegeëin.
Hulle het wel later R14 950-00 plus twee $100 note
aan die ondersoekbeampte oorhandig – nie as deel van die geld
waarop hulle
beslaggelê het nie, maar as omkoopgeld om hom te
oorreed om ’n saak van diefstal van die gesteelde geld teen hulle
te laat
vaar.
13. Die aktetas waarin die geld versteek was, is later
in die Rosebank SAP kantore gevind.
14. Alhoewel daar geen direkte getuienis was oor die
presiese bedrag wat deur die drie oneerlike speurders gesteel is nie,
het Inspekteur
Napo getuig dat een van die twee rowers aan hom gesê
het dat die sak wat aan Malatji oorhandig is op daardie stadium R600
000
plus ’n verdere bedrag in Amerikaanse dollarnote bevat het.
MAlatji het ook getuig dat toe die betrokke rower ’n drasak,
bevattende
die geld, vir hom gegee het, hy gesê het dat daar
R600 000 in die sak was.
OPSOMMING VAN UITSPRAAK VAN HOF
A QUO
[3]
Die verhoorregter het bevind dat twee vrae
beantwoording geverg het,
naamlik:
1. Het die drie oneerlike speurders binne hul
diensbestek met die appellant opgetree; met ander woorde, was die
appellant middellik
aanspreeklik vir die diefstal deur hulle gepleeg?
2. Het die respondent die quantum van sy eis teen die
appellant bewys?
[4]
Die geleerde regter het albei vrae
bevestigend geantwoord.
[5]
Wat die eerste vraag betref, is die uitspraak
hoofsaaklik gefundeer op die bevinding dat die drie oneerlike
speurders ‘kennelik
besig was’, soos die geleerde regter dit
gestel het, ‘met polisiewerk, gedagtig aan die aard van die werk,
hul kleredrag, die
polisiemotor en die aanstellingsertifikate’.
Die verwysing deur die geleerde regter na hul kleredrag as steun vir
sy bevinding
dat die polisiebeamptes binne die omvang en bestek van
hul dienspligte opgetree het, is foutief. Volgens die getuienis het
die drie
oneerlike polisiemanne privaatklere gedra toe hulle in
Tzaneen die geld gesteel het.
[6]
Die verhoorregter het na die beslissing van
hierdie Hof in
Minister of Police v Rabie
1986(1) SA 117(A)
verwys en veral na die meerderheiduitspraak gelewer deur Jansen AR
waarin die volgende gesê is (op 134C-F):
‘It seems clear that an act done by a servant solely for his own
interests and purposes, although occasioned by his employment,
may
fall outside the course or scope of his employment, and that in
deciding whether an act by the servant does so fall, some reference
is to be made to the servant’s intention (
cf Estate Van Der Byl
v Swanepoel
1927 AD 141
at 150). The test is in this regard
subjective. On the other hand, if there is nevertheless a
sufficiently close link between the
servant’s acts for his own
interests and purposes and the business of his master, the master may
yet be liable. This is an objective
test. And it may be useful to
add that according to the
Salmond
test (cited by Greenberg JA
in
Feldman (Pty) Ltd v Mall
1945 AD 733
at 774) :
“A master ... is liable even for acts which he has not authorised
provided that they are so connected with acts which he has authorized
that they may rightly be regarded as modes – although improper
modes – of doing them.”’
[7]
Die verhoorregter het voortgegaan:
‘Op die feite van die saak waar die polisieman kennelik met
polisiewerk besig was, word dit bevind dat die Minister wel middellik
aanspreeklik was in daardie saak.’
Op gemelde basis is die huidige appellant aanspreeklik
gehou.
BESPREKING
[8]
In een van die toonaangewende beslissings van
hierdie Hof oor die middellike aanspreeklikheid van ’n werkgewer
vir onregmatige dade
gepleeg deur sy werknemers,
Feldman (Pty) Ltd
v Mall
1945 AA 733, het Watermeyer HR die volgende gesê (te
750):
‘[T]he dividing line which separates acts within the scope of a
servant’s employment from those without is one impossible to
draw
with certainty and in respect of it the words of ANDREWS J, used by
him in relation to the subject of proximate cause in the
famous
Palsgraf
case [
Palsgraf v Long Island RR
] (59 ALR [1253
at] 1262) are very much in point. “We draw”, he said, “an
uncertain and wavering line but draw it we must as
best we can.”’
In hierdie geval is dit nodig om te beslis op watter
kant van daardie onsekere en kronkelende lyn die saak val.
[9]
Na my mening was die benadering gevolg deur
die verhoorregter nie korrek nie.
[10]
Dit sal onthou word dat die verhoorregter
die meerderheiduitspraak in die
Rabie
saak gevolg het, maar ’n
aspek van daardie uitspraak, wat oënskynlik deur Roos R oor die
hoof gesien is, is die bevinding deur
Jansen AR (te 133G-H) dat Van
der Westhuizen, die polisieman vir wie se optrede dit beslis is dat
die Minister middellik aanspreeklik
was, terdeë bedoel het om as
’n polisieman op te tree en dat hy later vir die
Afdelingskommissaris vertel het dat hy homself
beskou het as synde
aan diens tydens die aanranding wat hy teenoor die eiser gepleeg het.
In die aangeleentheid tans ter sprake
is dit na my mening duidelik
dat die drie speurders nooit op enige stadium hulself beskou het as
synde aan diens of besig met geoorloofde,
amptelike polisiewerk nie.
Hul bedoeling was klaarblyklik om die deel van die geld wat van die
beslote korporasie gesteel is en
naby Tzaneen begrawe is, te gaan
steel.
[11]
Hoe moeilik dit is om die lyn tussen
middellike aanspreeklikheid of nie-aanspreeklikheid te trek in
daardie gevalle waarin ’n werknemer
oënskynlik in die loop van
sy diensbestek willens en wetens bedrieglik handel of ’n ander
misdaad pleeg, blyk uit die twee
onlangse beslissings van hierdie Hof
in
Ess Kay Electronics (Pty) Ltd and another v First National Bank
of Southern Africa Ltd
2001 (1) SA 1214
(SCA) en
Minister van
Veiligheid en Sekuriteit v Japmoco Bk h/a Status Motors,
saak
nommer 502/99, uitspraak gelewer op 21 September 2001, tans nog nie
gerapporteer nie.
[12]
In
Ess Kay Electronics
het ene
Wildig, wat vir die verweerder, ’n bank, gewerk het, bankwissels
vervals, welwetende dat hulle aan die eisers gegee sou
word as
betaling vir goedere deur die eisers gelewer en dat nadat hulle
onteer is, die eisers skade sou ly as gevolg van die feit
dat hulle
nie betaal sou word nie. Dit is bevind dat alles wat Wildig
gedoen het ten opsigte van die wissels wat die eisers mislei het,
buite die bestek van sy magtiging en die loop van sy diens met die
bank was en dat die bank derhalwe nie aanspreeklik was nie.
Wildig het wisselvorms wat aan die bank behoort het van
die bank se persele verwyder en nadat sy vrou, wat in ’n nabye
gebou gewerk
het, hulle getik het, het hy twee handtekeninge daarop
vervals.
Op 1220 H-I het Howie AR, wat die uitspraak van die Hof
gelewer het, gesê:
‘The more a dishonest employee makes use, in committing a wrong
during employment, of the trappings of appointment, the facilities
of
the job and the tools of the trade, the more an unauthorised conduct
is going to appear authorised. The essential enquiry is:
what shows
whether Wildig was acting within or without what was authorised and
required by his duties as employee?’
Hy het toe bevind, soos ek gesê het, dat
alles wat Wildig gedoen het met betrekking tot die wissels buite sy
eintlike magtiging
en die loop van sy diens geval het.
[13]
Soos te verstane is, het die huidige
appellant se advokaat sterk op die uitspraak van hierdie Hof in
Ess
Kay Electronics
gesteun. Maar met net soveel oortuiging het die
huidige respondent se advokaat op die uitspraak van hierdie Hof in
Japmoco
gesteun.
[14]
Die
Japmoco
saak het gehandel oor
oneerlike polisiemanne wat motorvoertuigklaringsertifkate uitgereik
het wat tot hulle wete vals was, as gevolg
waarvan gesteelde voertuie
geregistreer is en weer in die handel in omloop gebring is. Die
eiser in die saak (Japmoco) was ’n
tweedehandse motorhandelaar wat
gesteelde voertuie gekoop het in die geloof dat hulle nie gesteel is
nie, welke geloof op hierdie
valse klaringsertifikate gebaseer was.
Japmoco
het beweer dat hy skade gely het as gevolg van die
feit dat hy dié gesteelde voertuie gekoop het en het in die
Transvaalse
Provinsiale Afdeling aksie ingestel teen die Minister van
Veiligheid en Sekuriteit op die grondslag dat hy middellik
aanspreeklik
was om skadevergoeding te betaal omdat die oneerlike
polisiebeamptes, toe hulle willens en wetens die valse
klaringsertifikate uitgereik
het, in die loop van die uitvoering van
hul werksaamhede as werknemers van die Staat gehandel het. Alhoewel
dit duidelik was dat
hulle opgetree het tot hul eie voordeel,
doeleindes en belange, is in die uitspraak van hierdie Hof, gelewer
deur Nienaber AR, bevind
dat hulle in hul hoedanigheid as
polisiebeamptes opgetree het en dat die Minister gevolglik vir hul
doen en late aanspreeklik was.
[15]
Nienaber AR het beslis dat die
Japmoco
-saak
onderskeibaar was van
Ess Kay Electronics
omdat die
klaringsertifikate wat in
Japmoco
uitgereik is
vals
was
maar nie
vervals
was nie. ’Die beamptes’, het hy gesê,
’was steeds besig met hul opgelegde take.’
(Sien
paragraaf [16] van die uitspraak.)
[16]
Die lyn tussen
Ess Kay
en
Japmoco
is beslis dun.
In beide gevalle sou
mens kon sê dat die handelinge ten opsigte waarvan die
werkgewer gedagvaar word, vals of bedrieglik was
– in die eerste
geval ’n selfgemaakte vervalsing deur die werknemer, in die tweede
geval die uitgifte van sertifikate, wetende
dat dit vervalsings was.
Is daar ’n beginselverskil? Oor hierdie aspek is die laaste woord
seker nog nie gespreek nie. Wat wel
soos ’n paal bo water staan,
is dat die handeling van die drie oneerlike polisiebeamptes in die
onderhawige saak nòg subjektief,
nòg objektief
beoordeel, binne die omvang en bestek van hul dienspligte geval het
nie. Hulle was op ’n ongemagtigde toer
vir hul eie voordeel en met
die opset om hul eie werkgewer te gaan besteel, want die geld het hom
in die eerste instansie toegekom.
[17]
In
Columbus Joint Venture v ABSA Bank Ltd
2000(2) SA 491(W) op 512H-I het Malan R in ’n vergelykbare
feitestel gesê:
‘What he did was unauthorised and criminal ... He misused his
position and defrauded his employer and the bank. None of this had
any connection with the duties he was empowered or authorised to
perform. It is not a case of an improper execution of his duties
:
He was not performing his duties at all.’
[18]
Hierdie
dictum
en perspektief op die
kwessie van middellike aanspreeklikheid is in die
meerderheidsbeslissing van hierdie Hof (per Harms AR) in
ABSA Bank
Ltd v Bond Equipment (Pretoria) (Pty) Ltd
2001(1) SA 372(SCA) op
383A-D goedgekeur.
[19]
Toegepas op die feite in die onderhawige
geval volg dit dat die drie oneerlike polisiemanne deur hul dieftige
en bedrieglike optrede
nie middellike aanspreeklikheid op hul
werkgewer kan afwentel nie.
BEVEL
[20]
Die volgende bevel word gemaak:
1. Die appél slaag met koste.
2. Die bevel verleen deur die verhoorhof word ter syde
gestel en
deur die volgende vervang:
‘Uitspraak vir die verweerder met koste.’
......................
IG FARLAM
APPéLREGTER
STEM SAAM:
OLIVIER AR
BRAND AR