About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2002
>>
[2002] ZASCA 7
|
|
Absa Bank Bpk v Janse Van Rensburg (107/2001) [2002] ZASCA 7; 2002 (3) SA 701 (SCA) (14 March 2002)
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
SAAK NO: 107/2001
In die saak tussen:
ABSA BANK BEPERK
Appellant
en
GERT JANSE VAN RENSBURG
Respondent
________________________________________________________________________
CORAM:
HARMS, STREICHER EN BRAND ARR
________________________________________________________________________
Verhoordatum:
28 Februarie 2002
Uitspraak:
14 Maart 2002
Bank se eis op oortrokke rekening - kliënt se aanspraak op
oorverhaalde rente - teeneis nie verweer nie - kliënt nie
geregtig
op debat van rekening nie.
________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
________________________________________________________________________
BRAND AR
BRAND AR
[1]
Die appellant is 'n handelsbank. Die
respondent, 'n boer van Frankfort in die Vrystaat, is sedert November
1969 'n kliënt van
die appellant. Gedurende Augustus 1997 het
die appellant die respondent in die Vrystaatse Afdeling aangespreek
vir betaling van
'n bedrag van R174 530,87, synde die beweerde
debietbalans op die respondent se oortrokke bankrekening, tesame met
moratore rente
daarop. Die respondent het die appellant se eis
betwis en ook 'n teeneis ingestel op grond daarvan dat die appellant
in die verlede
te veel rente van hom verhaal het. Die Hof
a quo
(Van Coppenhagen R) het die respondent in beginsel gelyk gegee wat
betref beide sy verweer op die hoofeis as sy teeneis.
Daarteen
kom die appellant met die nodige verlof op appèl na hierdie
Hof.
[2]
Die vertrekpunt van die respondent se verweer
sowel as van sy teeneis is sy bewering dat hy en die appellant by die
aanvang van hulle
verbintenis in November 1969 ooreengekom het dat
rente op sy oortrokke rekening gehef sou word teen een persent bokant
die appellant
se prima koers, welke ooreenkoms van krag was tot 28
Maart 1992. In stryd met hierdie ooreenkoms, so beweer die
respondent in sy
pleitstukke, het die appellant, egter gedurende die
tydperk voor 28 Maart 1992 sy oortrokke rekening gedebiteer met rente
wat bereken
is teen meer as die ooreengekome koers, welke rente die
respondent betaal het terwyl hy van die appellant se kontrakbreuk
onbewus
was. Op grond hiervan ontken die respondent in sy pleit dat
hy die bedrag wat die appellant eis verskuldig is en vorder hy in sy
teeneis dat die appellant aan hom 'n staat van rekening verskaf ten
aansien van elke rentedebiet wat voor 28 Maart 1992 op sy rekening
aangebring is, debatering van die staat en vonnis vir sodanige bedrag
as wat die appellant na die debat aan hom verskuldig blyk te
wees.
[3]
In sy pleit op die teeneis ontken die
appellant dat hy voor 28 Maart 1992 meer rente van die respondent
verhaal het as waarop hy geregtig
was. In elk geval, sê die
appellant, het die respondent volgens sy eie bewering reeds in 1993
bewus geword van die beweerde
oorverhaling van rente en is enige eis
vir terugbetaling wat hy mog gehad het reeds deur verjaring uitgewis
voordat die respondent
sy teeneis in Februarie 1998 geliasseer het.
[4]
By die aanvang van die verhoor het die
Verhoorhof, ingevolge hofreël 33(4),
mero motu
gelas dat
die kwantifisering van beide die appellant se hoofeis en die
respondent se teeneis oorstaan tot na beregting van al die
ander
geskilpunte.
[5]
Blykens die pleitstukke sowel as die
getuienis wat by die verhoor aangebied is, is 28 Maart 1992 'n
waterskeiding in die respondent
se saak. Die respondent opper geen
beswaar teen enige bedrae, insluitende rente, wat na daardie datum
teen sy bankrekening gedebiteer
is nie. Sy beswaar het slegs
betrekking op rentedebiete voor daardie datum. Die jaar 1992 was,
volgens die getuienis, ook weens
ander gebeure in daardie jaar van
belang by die beoordeling van die saak. Eerstens is die enigste
getuie wat namens die appellant
geroep is, mnr SA Redelinghuys, eers
gedurende 1992 by die appellant se Frankfort-tak aangestel.
Gevolglik het hy geen persoonlike
kennis gedra aangaande die
verbintenis tussen die appellant en die respondent voor 1992 nie.
In besonder kon hy nie op grond van
sy eie kennis betwis dat daar in
November 1969 'n ooreenkoms met die respondent aangegaan is
waarvolgens hy geregtig was op 'n koers
van prima plus een persent,
soos wat die respondent getuig het, nie. Die hoogwatermerk van
Redelinghuys se getuienis in hierdie
verband was derhalwe dat dit, in
die lig van die respondent se wisselvallige krediet-geskiedenis,
onwaarskynlik was dat oortrokke
fasiliteite aan hom verleen sou word
teen die gunstige koers van prima plus een persent.
[6]
Die tweede tersaaklike gebeurtenis in 1992
was dat die appellant begin het om in sy briewe aan kliente sowel as
op kliente se bankstate
aan te dui teen welke koers rente op die
oortrokke rekening gehef word. Volgens Redelinghuys het hierdie
bankpraktyk feitlik oornag
in 1992 ontstaan juis weens bewerings wat
op daardie stadium teen verskeie banke gemaak is dat hulle meer as
die ooreengekome rente
van hulle kliente verhaal. Gevolglik het die
appellant geen skriftelike bewys gehad van welke rentekoers voor 1992
aan die respondent
voorgehou is nie.
[7]
Die derde tersaaklike gebeurtenis in 1992 was
dat die respondent, nadat hy op aandrang van die appellant een van sy
plase verkoop
het, die debietbalans op sy bankrekening afgelos het.
Bygevolg het sy rekening vanaf die einde van 1992 vir ongeveer 3
maande 'n
nulbalans getoon, waarna dit weer in debiet gegaan en sy
oortrokke rekening stelselmatig gegroei het tot die bedrag wat die
appellant
in sy dagvaarding eis. Hieruit volg dit dat alle bedrae
waaruit die geëiste bedrag saamgestel is, eers in die tydperk na
28
Maart 1992 teen die respondent se rekening gedebiteer is. Omdat
die respondent geen beswaar geopper het teen enige debiet wat na
28
Maart 1992 teen sy rekening aangeteken is nie, volg dit dat daar geen
dispuut bestaan oor die verskillende debiete waaruit die
geëiste
bedrag saamgestel is nie.
[8]
In die Hof
a quo
is namens die
appellant toegegee dat by ontstentenis aan enige getuienis tot die
teendeel, die respondent se weergawe waarvolgens
die rentekoers op sy
oortrokke rekening voor 28 Maart 1992 by ooreenkoms tot prima plus
een persent beperk is, aanvaar moes word.
Aangesien die respondent
se rekening van meet af aan met rente van meer as prima plus een
persent gedebiteer is, moes die Hof gevolglik
ook aanvaar dat die
appellant voor 28 Maart 1992 meer rente van die respondent verhaal
het as waarop hy geregtig was. Die appellant
se antwoord was egter,
in wese, dat hierdie oorverhaling van rente
voor
28 Maart
1992 nie die geldigheid van die appellant se eis wat in geheel
na
28 Maart 1992 ontstaan het, beïnvloed het nie. Die
respondent se remedie, so is namens die appellant betoog, was om die
rente wat hy te veel betaal het met die
condictio indebiti
terug te eis, welke eis egter intussen verjaar het.
[9]
Hierdie betoog namens die appellant het nie
by die Hof
a quo
byval gevind nie. Volgens die Hof se
benadering was die appellant se eis vir betaling van die uitstaande
balans op 'n lopende rekening
wat in November 1969 ontstaan het.
Gevolglik, beslis die Hof, moes die appellant die korrektheid bewys
van elke bedrag wat sedert
November 1969 teen die rekening gedebiteer
is. Aangesien dit namens die appellant toegegee is dat die
rentedebiete voor 28 Maart
1992 verkeerd was, volg dit vanself dat
die appellant nie die juistheid van die totale bedrag wat hy eis,
bewys het nie.
[10]
Ten aansien van die respondent se teeneis
vir 'n debat van rekening, beslis die Hof dat aangesien die saak op
die feite analoog is
aan
Doyle and Another v Fleet Motors PE (Pty)
Ltd
1971 (3) SA 760
(A), die respondent in beginsel geregtig was
om op lewering van 'n rekening en 'n debat daarvan aan te dring.
Blykens sy uitspraak
is die Verhoorhof egter meegedeel dat, in die
lig van die berekeninge wat die partye reeds gesamentlik, gedoen het,
die respondent
nie meer aandring op 'n debat van rekening nie en
daarom is dit nie gelas nie.
[11]
Die appellant se betoog dat die respondent
se terugvordering van rente wat hy te veel betaal het inmiddels
verjaar het, is volgens
die siening van die Hof
a quo
gebaseer
op 'n wanopvatting, naamlik dat elke rentedebiet vir doeleindes van
verjaring, as 'n afsonderlike "skuld" beskou
moet word.
Inderwaarderheid, so beslis die Hof, is die enigste "skuld"
wat kon verjaar die balans wat verskuldig was
op die oortrokke
rekening. Hiervolgens kon verjaring nie begin loop alvorens hierdie
balans finaal bepaal is nie. Gevolglik is
die appellant se verweer
van verjaring van die hand gewys.
[12]
Ooreenkomstig sy bevindings rakende die
geskilpunte tussen die partye, het die Hof
a quo
'n
verklarende bevel met twee bepalings uitgereik. Volgens die eerste
bepaling was die appellant ten aansien van die periode voor
28 Maart
1992 slegs geregtig om rente op die respondent se oortrokke rekening
te hef teen een persent bo die prima koers. Luidens
die tweede
bepaling was die respondent vir die tydperk na 28 Maart 1992
aanspreeklik vir rente op sy oortrokke rekening, eers teen
2 persent
en later teen 2,25 persent bo prima, synde die rentekoerse waarop
daar, volgens die onbetwiste getuienis van Redelinghuys,
vir hierdie
tydperk ooreengekom is.
[13]
Ek kan my nie met die Hof
a quo
se
uitgangspunt waarvolgens die appellant die juistheid van elke
rentediebiet voor 28 Mei 1992 moes bewys, vereenselwig nie. Die
juiste vertrekpunt is myns insiens dat die respondent se oortrokke
rekening op 'n stadium na 28 Maart 1992 'n nulbalans getoon het.
Aangesien die respondent geen beswaar het teen enige bedrag wat na 28
Maart 1992 teen sy rekening gedebiteer is nie, staan die
bedrag wat
die appellant eis in wese onbetwis. Die respondent se enigste
verweer is dat die appellant voor 28 Maart 1992 bedrae
teen sy
rekening gedebiteer het waarop hy die geregtig was nie. Die "skuld"
wat hierdie debiete verteenwoordig het, is
egter intussen deur
betaling uitgewis. Dit verskyn nie meer op die respondent se
rekening nie, die appellant maak nie meer op betaling
daarvan
aanspraak nie en hy hoef dit derhalwe ook nie te bewys nie. Ek
plaas "skuld" in aanhalingstekens omdat dit nou,
volgens
die respondent se weergawe, by nabetragting blyk dat hierdie "skuld"
inderdaad nooit bestaan het nie. Nietemin
het die respondent dit
betaal. Waarop dit neerkom, is derhalwe dat die respondent, op sy
weergawe, voor 28 Maart 1992 onverskuldigde
betalings aan die
appellant gemaak het omdat hy verkeerdelik geglo het dat hy daarvoor
aanspreeklik is. Op hierdie weergawe was
die respondent se remedie
om sy onverskuldigde betalings met die
condictio indebiti
terug te eis
.
Die feit dat die verskillende transaksies
tussen die partye op 'n lopende rekening plaasgevind het kan aan
hierdie onderliggende
basiese beginsels geen verskil maak nie.
[14]
So gesien, is die verdere onvermydelike
bevinding dat die respondent se eis vir terugbetaling intussen
verjaar het, soos wat dan
ook tereg in hierdie Hof namens die
respondent toegegee is. Die vraag of elke rentedebiet vir
doeleindes van verjaring 'n afsonderlike
"skuld" is, kom
glad nie eens ter sprake nie. Volgens die respondent se weergawe
het sy eis om terugbetaling van oorverhaalde
rente voor 28 Maart 1992
opeisbaar geword en het hy laatstens in 1993 daarvan bewus geword dat
die appellant sy rekening met meer
as die ooreengekome koers
gedebiteer het. Ek aanvaar dat die respondent nadat hy hiervan
bewus geword het nog die presiese bedrag
van sy eis moes laat
bereken. Nietemin het die respondent op daardie stadium oor
voldoende kennis beskik om die loop van verjaring
ingevolge artikel
12(1) - saamgelees met artikel 12(3) - van die Verjaringwet 68 van
1969 in werking te stel. Artikel 12(3) vereis
immers nie dat 'n
skuldeiser oor voldoende kennis moet beskik om sy vordering finaal te
bewys alvorens verjaring teen hom begin loop
nie. (Sien
Nedcor
Bank Beperk v Regering van die Republiek van Suid Afrika
[2000] ZASCA 154
;
2001 (1)
SA 987
(SCA) 995J - 996A.) Al wat vereis word, is dat die
skuldeiser kennis moet dra van die wesenlike feite waaruit sy eis
ontstaan (sien
die
Nedcor Bank
saak 997F). Die feit dat die
respondent toe in 1998 lewering van 'n rekening en 'n debat daarvan,
in plaas van betaling van 'n bepaalde
bedrag geld geëis het,
maak hieraan geen verskil nie. Op die ou end was die respondent se
eis tog maar vir terugbetaling van
die rente wat hy te veel betaal
het, welke bedrag hy in 'n debat met die appellant wou bepaal.
Aangesien enige eis vir terugbetaling
wat hy mog gehad het reeds deur
verjaring uitgewis was, kon 'n debat ter bepaling van die bedrag van
so 'n eis nouliks enige doel
dien.
[15]
In elk geval verskil ek ook met die Hof
a
quo
se bevinding dat die respondent in beginsel geregtig was om
op die lewering en debatering van 'n rekeningstaat aan te dring.
Dit
is gemene saak dat die respondent op 'n gereelde grondslag
bankstate ontvang het en daar is nooit aangevoer dat die inligting
daarin
vervat in enige opsig ontoereikend was nie. Ten einde met sy
aanspraak op debatering van hierdie rekening te slaag moes die
respondent
aantoon óf dat (a) hy en die appellant in 'n
vertrouensverhouding tot mekaar gestaan het; óf dat (b) die
appellant
hom kontraktueel daartoe verbind het; óf dat (c)
daar 'n statutêre verpligting op die appellant gerus het om 'n
rekening
te verskaf en daaroor debat te voer. (Sien byvoorbeeld
Rectifier and Communications Systems (Pty) Ltd v Harrison
1981
(2) SA 283
(C) 289 H.
[16]
Die respondent het nie verwys na enige
kontraktuele term of wetsbepaling waarvolgs die appellant verplig sou
wees om 'n rekeningstaat
- anders as bankstate - aan die respondent
te verskaf of om dit met hom te debateer nie. Die Hof
a quo
verwys ter ondersteuning van sy bevinding dat daar sodanige
verpliging op die appellant gerus het, by wyse van analogie, na
Doyle
and Another v Fleet Motors PE (Pty) Ltd
(supra). In daardie
saak het die eiser sy aanspraak op 'n debat van rekening gefundeer op
die bewering dat daar 'n vertrouensverhouding,
voorspruitend uit 'n
vennootskap, tussen hom en die verweerder bestaan het. Hiervolgens
was die Hof
a quo
dus van mening dat daar ook tussen die
appellant en die respondent 'n vertrouensverhouding bestaan het.
Die enigste moontlike grondslag
vir so 'n mening is 'n toegewing in
kruisverhoor deur Redelinghuys dat die appellant as die respondent se
bankier, inderdaad in 'n
vertrouensverhouding met hom was. Toe
Redelinghuys egter gevra is om hierdie standpunt nader toe te lig,
het hy verwys na die beginsel
dat 'n bank nie sy kliënt se
vertroulike inligting aan buitestaanders mag openbaar nie. Hieruit
blyk dit dat Redelinghuys
die bank se vertrouensplig eerder as 'n
vertrouensverhouding, ooreenkomstig die eintlike betekenis van
laasgenoemde term, in gedagte
gehad het. Hoe dit ookal sy, die
vraag of daar vir die doeleindes van die onderhawige 'n
vertrouensverhouding tussen 'n bank en
sy kliënt bestaan, is 'n
regsvraag wat onafhanklik van Redelinghuys se mening uitgemaak moes
word. Hoewel die verhouding tussen
'n bank en sy kliënt
meerdere fasette het, word algemeen aanvaar dat die kontraktuele
verbintenis onderliggend aan die bedryf
van 'n lopende rekening, dié
van skuldeiser en skuldenaar is. (Sien byvoorbeeld
Standard Bank
of SA Ltd v Oneanate Investments (Pty) Ltd
1995 (4) SA 510
(C)
530G - 631B en die gesag daar aangehaal.) Dit spreek eintlik
vanself dat daar nie 'n vertrouensverhouding tussen skuldeiser
en
skuldenaar bestaan nie. Voorts is die respondent se eis in beginsel
vir die terugbetaling van dit wat sy skuldeiser teveel van
hom
verhaal het en ek kan nie aan enige rede dink waarom 'n skuldeiser in
dié omstandighede regtens verplig sou wees om die
bedrag van
die eis teen homself, te help bepaal nie.
[17]
Vir hierdie redes moet die appèl dus
slaag met koste. Wat oorbly is drie bykomende aangeleenthede.
Eerstens, het die appellant
gevra vir die koste van twee advokate.
Ten spyte van die respondent te betoog tot die teendeel, is ek van
oordeel dat aan hierdie
versoek voldoen moet word. Agterna gesien,
was die saak heel eenvoudig. Dit was egter nie altyd so nie. Die
respondent, wat 'n
uitspraak in sy guns gehad het, het dit immers
self op 'n stadium raadsaam geag om van die dienste van twee advokate
gebruik te maak.
Tweedens, is dit namens die respondent aangevoer
dat aangesien die Hof
a quo
die kwantifisering van die
appellant se eis laat oorstaan het vir latere beregting, die saak vir
dié doel na die Verhoorhof
terug verwys moet word. Myns
insiens kan sodanige terugverwysing geen doel dien nie. Die
kapitale bedrag van die appellant se
vordering is saamgestel uit
debiete op die respondent se oortrokke rekening wat nie betwis word
nie. Gevolglik is die appellant
geregtig op vonnis in die bedrag
wat hy eis. Derdens, is daar die koers waarteen moratore rente op
die kapitale bedrag toegestaan
moet word. Volgens die ooreenkoms
tussen die partye is die appellant geregtig om rente te hef teen 2,25
persent bo sy heersende
prima koers. Hoewel die appellant in sy
dagvaarding rente eis teen 22,5 persent, was die partye dit in
hierdie Hof eens dat, aangesien
die prima koers van tyd tot tyd
wissel, moratore rente toegestaan moet word in ooreenstemming met die
terme van die onderliggende
ooreenkoms.
[18]
Gevolglik slaag die appèl met koste,
insluitende die koste van twee advokate, en word die bevel van die
Hof
a quo
ter syde gestel en vervang met die volgende:
"Vonnis word ten gunste van eiser toegestaan vir:
(a) Die bedrag van R174 530,87;
(b) Rente op hierdie bedrag bereken teen 'n koers van
2,25 persent bo die prima koers wat van tyd tot tyd deur die eiser
gehef is,
of word, vanaf 26 Julie 1997 tot datum van betaling.
(c) Gedingskoste"
_____________________
FDJ BRAND
APPèLREGTER
STEM SAAM
:
HARMS AR
STREICHER AR