About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2001
>>
[2001] ZASCA 146
|
|
S v Botha en 'n Ander (336/01) [2001] ZASCA 146; [2002] 2 All SA 577 (A); 2002 (2) SA 680 (SCA); 2002 (1) SACR 222 (SCA) (30 November 2001)
RAPPORTEERBAAR
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
SAAK
NR
:
336/2001
In
die saak tussen:
RIAAN BOTHA Eerste Appellant
BENJAMIN KORFF Tweede
Appellant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________________________
Coram: VIVIER WND AHR,
OLIVIER, SCOTT, STREICHER en MTHIYANE ARR
Verhoor: 1 NOVEMBER 2001
Gelewer:
30
NOVEMBER 2001
'n Borgaansoek is
strafverrigtinge vir doeleindes van arts 20 en 21 van Wet 59 van
1959; Daar is 'n reg van appèl sonder
vooraf verlof na die
Hoogste Hof van Appèl teen die weiering van borgtog deur 'n
hoër hof as hof van eerste instansie.
_____________________________________________________________________
U I T S P R A A K
_____________________________________________________________________
VIVIER WND
AHR
VIVIER WND AHR:
[1]
Die twee appellante
("beskuldigdes 1 en 3") het saam met sewe ander
("beskuldigdes 2, 4, 5, 6, 7, 8 en 9")
in die streekhof op
Pietersburg verskyn op een aanklag van moord, twee aanklagte van
poging tot moord en een aanklag elk van opsetlike
saakbeskadiging en
regsverydeling. Die verhoor is ingevolge art 75(1)(c) van die
Strafproseswet 51 van 1977 ("die Wet")
deur die Direkteur
van Openbare Vervolging na die Transvaalse Provinsiale Afdeling
oorgeplaas. Op 21 Mei 2001, en voordat die
verhoor in daardie Hof 'n
aanvang geneem het, het beskuldigdes 1, 3, 5, 6, 7 en 8 ingevolge art
60(1)(a) van die Wet voor
Stegman R
aansoek gedoen om op
borgtog vrygelaat te word. Die aansoeke van beskuldigdes 1 en 3 is
geweier en dié van die ander is
toegestaan. Met verlof van
die Hof
a quo
appelleer beskuldigdes 1 en 3 na hierdie Hof
teen die weiering van borgtog.
[2]
In
hierdie Hof is namens die Staat
in
limine
aangevoer dat
'n weiering van borgtog deur 'n hoër hof as hof van eerste
instansie nie appelleerbaar is nie en dat hierdie
Hof gevolglik geen
regsbevoegdheid het om die appèl aan te hoor nie.
[3]
Artikel
65 van die Wet maak uitdruklik voorsiening vir 'n appèl na die
hoër hof teen die weiering van borgtog deur
'n laer hof. Van
hierdie appèl is daar ingevolge art 21(1) van die Wet op die
Hooggeregshof 59 van 1959 'n verdere appèl
na hierdie Hof
moontlik, óf met verlof van die hof
a
quo
óf, indien
dit geweier word, met verlof van hierdie Hof (
S
v Mohamed
1977(2) SA
531 (A) op 541 C-D).
Artikel 65A(2) van die Wet
maak verder voorsiening vir 'n appèl na hierdie Hof deur die
Direkteur van Openbare Vervolging
teen 'n beslissing van 'n hoër
hof om 'n beskuldigde op borgtog vry te laat. Die bepalings van
art 316 van die Wet met
betrekking tot 'n aansoek om verlof om
te appelleer is in so 'n geval van toepassing (art 65A(2)(b) van
die Wet).
Die Wet maak egter geen
voorsiening vir 'n appèl deur 'n beskuldigde teen die
weiering van borgtog deur 'n hoër hof
as hof van eerste
instansie nie.
[4]
Die
vraag is gevolglik of daar voorsiening vir so 'n appèl
te vinde is in arts 20 of 21 van die Wet op die Hooggeregshof,
en
indien wel, of vooraf verlof daarvoor nodig is. Om hierdie vrae te
beantwoord is dit heel eerste nodig om te bepaal of
borgverrigtinge
as siviele of strafverrigtinge vir doeleindes van hierdie artikels
beskou moet word. Oor die toepaslike beginsels
by hierdie ondersoek
het
Botha AR
die volgende in
Sita
and Another v Olivier NO and Another
1967(2) SA 442 (A) op 449 B-E gesê:
"It is in my view not the
form of the procedure adopted but the subject matter of the
proceedings which determines their character
as either a civil or
criminal matter ... Nor in my view does the fact that the relief was
sought by way of a declaratory order,
interdict and
mandamus
make the proceedings before the Court
a
quo
a civil matter
originating in that Court."
In die
Mohamed
-saak,
supra
,
het die beskuldigde ingevolge art 97 van die Strafproseswet 56 van
1955 ("die vorige Strafproseswet") na die hoër
hof
teen die weiering van borgtog deur die landdros geappelleer. Artikel
97 was die voorganger van die huidige art 65. Sowel
die appèl
as 'n aansoek aan die hoër hof om verder te appelleer, het
misluk. 'n Petisie aan hierdie Hof om verlof
om te appelleer is vir
argument na vyf regters verwys. In die uitspraak van hierdie Hof het
Trollip AR
die volgende gesê omtrent die vraag of 'n
borgappèl ingevolge art 97 siviele of strafverrigtinge
was (op 539G-540A):
"[I]t would seem at the
first blush that the proceedings are civil. In that event a decision
by the W.L.D. thereon would be
appealable to the full Court of the
Transvaal Provincial Division ("T.P.D.") and not direct to
this Court unless the
parties consent thereto in writing (see
sec 20(1)(a) and (3) of the Supreme Court Act). However, the
proceedings under sec 97
of the Code originate in and are
closely associated with the accused's arrest, detention and
prosecution for a criminal offence.
Hence, although they are civil
in form, they are criminal in substance, and must be so regarded for
the purposes of the relevant
sections of the Supreme Court Act. See
Sita's
case,
supra
, 1967(2) SA at pp 448
in fin.
to 449E, which is directly in point."
Ek keer later
terug na die
Mohamed
-saak.
In
S
v Absalom
1989(3) SA
154 (A) is die beskuldigde in die landdroshof aan 'n misdryf skuldig
bevind en gevonnis. Daarna het hy by die hoër
hof 'n
kennisgewing van appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis
sowel as 'n aansoek om kondonasie vir die laat-aantekening
van sy
appèl geliasseer.
Die
aansoek om kondonasie is deur die hoër hof afgewys. Hierdie Hof
het beslis dat die beskuldigde 'n reg van appèl
het om sonder
verlof teen die afwysing van sy aansoek om kondonasie na hierdie Hof
te appelleer. In sy uitspraak verwys
Grosskopf
AR
na twee vorige beslissings van hierdie Hof in
S
v Swiegers
1969(1) PH H110 (A) en
S
v Tsedi
1984(1) SA 565 (A) waarvolgens 'n beskuldigde sy reg om sonder vooraf
verlof teen die afwysing van kondonasie te appelleer aan
art 21(1)
van die Wet op die Hooggeregshof ontleen (op 161 B-C).
Grosskopf
AR
verwys vervolgens na die wysigings wat sedert daardie beslissings aan
artikels 20 en 21(2) van die Wet op die Hooggeregshof aangebring
is,
onder andere dat ingevolge art 20(4) verlof vereis word vir 'n
appèl teen 'n "uitspraak of bevel van die Hof
van 'n
Provinsiale of Plaaslike Afdeling in 'n siviele geding". Dit
laat die vraag ontstaan of 'n aansoek om kondonasie vir
die
laat-aantekening van 'n strafappèl van die landdroshof 'n
siviele geding is. Die geleerde Regter antwoord die vraag
ontkennend
(op 161 I). Hy verwys met goedkeuring na die passasies in die
Sita-
en
Mohamed
-sake
wat ek hierbo aangehaal het, en vervolg op 162 A-B as volg:
"In die onderhawige geval
is die aansoek om kondonasie so nou verbonde met die beskuldigde se
skuldigbevinding, vonnis en appèl
dat dit na my mening 'n
strafgeding is."
[5]
Die
beslissings van hierdie Hof waarna ek hierbo verwys het, veral dié
in
S v Mohamed
wat direk van toepassing is, is duidelik en daar is nie voor ons
betoog dat dit nie gevolg moet word nie. Gevolglik moet bevind
word
dat die huidige borgverrigtinge vir doeleindes van arts 20 en 21 van
die Wet op die Hooggeregshof as 'n strafgeding, en nie
as 'n siviele
geding nie, beskou moet word. Soos dit in die aangehaalde passasie
in die
Mohamed
-saak
gestel is, ontstaan 'n borgaansoek uit, en is dit so nou verbonde aan
die beskuldigde se arrestasie, aanhouding en vervolging
vir 'n
misdaad dat dit in wese strafregtelik van aard is, en moet dit as
sodanig vir doeleindes van arts 20 en 21 van die Wet op
die
Hooggeregshof beskou word. Na my mening doen die voorsiening vir
borg in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet
108 van
1996 ("die Grondwet"), waarop ek later terugkom, nie
afbreuk aan hierdie gevolgtrekking nie. Vir soverre in
uitsprake
soos
S v Pienaar
1992 (1) SASV 178 (W),
S
v Maki en Andere (1)
1994 (2) SASV 630 (OK) en
S
v Ndjadayi
1995(2)
SASV 583 (E) beslis is dat borgverrigtinge vir doeleindes van arts 20
en 21 van die Wet op die Hooggeregshof siviele verrigtinge
is, kan
dit nie ondersteun word nie. Geeneen van hierdie uitsprake bevat
enige verwysing na die genoemde vorige beslissings van
hierdie Hof
nie.
[6]
Ek
keer terug na die vraag of daar voorsiening vir 'n borgappèl
soos die huidige is in arts 20 of 21 van die Wet op die
Hooggeregshof. Artikel 21(1) lees as volg:
"Benewens enige
regsbevoegdheid deur hierdie Wet of ander wetsbepaling aan hom
verleen, is die appèlafdeling regsbevoeg,
behoudens die
bepalings van hierdie artikel en enige ander wetsbepaling, om 'n
appèl teen enige beslissing van die hof van
'n provinsiale of
plaaslike afdeling te verhoor en te beslis."
Uit die gebruik van die woorde
"benewens" ("in addition to") en "enige
beslissing" is dit duidelik
dat die Wetgewer in hierdie
subartikel bedoel het om 'n jurisdiksie te vestig wat hierdie Hof nie
ingevolge art 20(1) het
nie (
Moch v Nedtravel (Pty) Ltd t/a
American Express Travel Service
1996(3) SA 1 (A) op 8 B-C). Die
bewoording van die subartikel is wyd genoeg om appèlle in
beide siviele en strafgedinge
te dek (
R v Lembada and Another
1961(1) SA 411 (A) op 420D).
Die appèlbevoegdheid
ingevolge art 21(1) is onderhewig aan "die bepalings van
hierdie artikel en enige ander wetsbepalings".
Die vraag wat
dan ontstaan is of 'n appèl soos die onderhawige deur enige
bepaling van die Wet uitgesluit word.
[7]
In
drie vorige uitsprake van hierdie Hof in
R
v Lembada and Another
,
supra
,
S v Heller
1970(4) SA 679 (A) en
S
v Mohamed
,
supra
,
is beslis dat art 362(2) van die vorige Strafproseswet so 'n
uitsluitingsklousule bevat. Artikel 362(2) is die voorganger
van art
315(4) van die Wet. Artikel 362(2) het as volg gelees:
"'n Appèl na die
appèlhof kan slegs soos in artikels
driehonderd
drie-en-sestig
tot en met
driehonderd ses-en-sestig
bepaal, aangeteken word, en nie uit hoofde van enige vanselfsprekende
reg nie."
Artikels 363 tot 366 van die vorige
Strafproseswet was die onderskeie voorgangers van die huidige
arts 316 tot 319.
In
R v Lembada and Another
,
supra
, is die beskuldigdes in 'n Rondgaande Hof skuldig bevind
en gevonnis. Hulle het ingevolge art 363(1) van die vorige
Strafproseswet,
die voorganger van die huidige art 316(1), by
die verhoofhof aansoek gedoen vir verlof om teen hul vonnisse te
appelleer en
terselfdertyd om kondonasie vir die laat indiening van
die aansoek gevra. Kondonasie en verlof om te appelleer is geweier.
Na
'n petisie het hierdie Hof bevind dat dit geen jurisdiksie het om
'n appèl aan te hoor teen die weiering van kondonasie vir
die
laat indiening van 'n aansoek vir verlof om te appelleer ingevolge
art 363(1) nie omdat art 363 (soos dit destyds
bewoord was)
dit nie magtig nie en omdat art 362(2) enige appèl
ingevolge art 21(1) van die Wet uitsluit. Artikel
363(4) van
die vorige Strafproseswet het destyds slegs voorsiening gemaak vir 'n
versoekskrif aan hierdie Hof indien 'n aansoek
vir verlof om te
appelleer deur die hoër hof geweier is, en nie ook, soos tans
bepaal deur art 316(6), vir 'n versoekskrif
ingeval kondonasie
geweier is nie. Die gevolgtrekkings van hierdie Hof in die
Lembada
-saak blyk uit die volgende gedeelte in die uitspraak
(op 420
in fine
- 421C):
"As already demonstrated
above, secs 363(4) and 364(5) respectively restricted approach to
this Court to those cases wherein
leave to appeal, as distinct from
condonation, has been refused. In other words, the Legislature,
while specifically referring
to condonation of delay in relation to
applications for leave to approach this Court either by way of appeal
or special entry,
has deliberately refrained from giving this Court
jurisdiction to entertain a petition against a refusal of condonation
by a Superior
Court pursuant to the provisions of either sec 363(1)
or 364(1). Such last-mentioned refusal is, therefore, the subject
of 'the
provisions of any other law' (namely of the Code) within the
meaning of that expression as used in sec 21(1) of Act 59 of
1959.
Sec 362(2)
of the Code specifically provides that an appeal shall lie
to this Court 'only as provided in secs 363 to 366 inclusive'.
Accordingly
the refusal of condonation under sec 363(1) or 364(1),
even if it can rightly be called a 'decision', is not appealable
under sec
21(1) of Act 59 of 1959, and Mr
Slovo's
second
submission must also fail."
[8]
Die
beslissing in die
Lembada
-saak
is gevolg in
S v
Heller
,
supra
.
In daardie saak is die beskuldigde in 'n hoër hof aan 'n
misdryf skuldig bevind en gevangenisstraf opgelê. Hy is
verlof verleen om na hierdie Hof te appelleer, maar sy aansoek om op
borgtog vrygelaat te word hangende die appèl is geweier.
Die
verhoorregter het 'n aansoek om verlof om na hierdie Hof teen die
weiering van borgtog te appelleer, afgewys op grond daarvan
dat dit
nie 'n bevel was wat volg op 'n skuldigbevinding of vonnis ingevolge
art 363 van die vorige Strafproseswet (die huidige
art 316)
nie, en enige reg van appèl ingevolge art 21(1) van die
Wet op die Hooggeregshof uitgesluit is deur
art 362(2).
Rumpff
AR
haal op 686 A-C die bo-aangehaalde passasie uit
Lembada
aan en gaan dan voort om die volgende te sê (op 686
C-D):
"The reasoning adopted in
Lembada's case applies in the present matter. In terms of sec 362 of
Act 56 of 1955 an appeal to
this Court in a criminal matter lies only
as provided in secs 363-366 inclusive, and not as a right. Once it
is held that the
refusal to grant bail is not "an order
following thereon" in terms of sec 363(1) of Act 56 of 1955,
such refusal is not
appealable"
[9]
Soos
reeds aangedui, was die vraag in
Mohamed
,
of 'n hoër hof se afwysing van 'n appèl ingevolge art 97
van die vorige Strafproseswet (die voorloper van die
huidige art 65)
teen die weiering van borgtog deur 'n landdros, verder
appelleerbaar was. In sy uitspraak handel
Trollip
AR
soos volg met 'n
betoog namens die Staat dat art 362(2), appèlle in
strafsake beperk tot dié in arts 362
tot 366 genoem, met
die gevolg dat hierdie Hof se jurisdiksie om enige ander
strafappèl aan te hoor, uitgesluit
is (op 541 A-D):
"In my view
the answer to Mr Stephen's contention is that the limitation on
appeals in criminal cases contained in sec 362(2)
only extends to
those cases that are dealt with by Superior Courts as Courts of first
instance; both
Lembada's
and
Heller's
were cases of that kind; it does not apply to those criminal matters,
like appeals under sec 97, which originate in the magistrate's
courts
and are dealt with by Superior Courts as Courts of second instance.
That is clear, I think from the whole context of Chap.
XX of the Code
that contains,
inter
alia
, secs 362 to
366.
Lembada's
case,
supra
,
in fact recognized and drew that distinction at p 420 C-F. It also
seems to have been assumed in
Sita's
case,
supra
.
And in
S v Mtimkulu
,
1975(1) SA 209 (T), the distinction was expressly and correctly
affirmed and given effect to. It was there held that the refusal
by
the TPD to condone an inadequate notice of appeal against a
magistrate's decision in a criminal case was appealable under sec
21(1) of the Supreme Court Act. It follows that, according to sec
21(1), an appeal against a Superior Court's decision under sec
97 of
the Code does lie to this Court."
Volgens
Trollip
AR
dek die beperking
in art 362(2) gevolglik slegs eerste instansie appèlle
met ander woorde waar die hoër hof as
hof van eerste instansie
borgtog geweier het.
[10]
Dit
is nou nodig om art 362(2) met sy opvolger, die huidige
art 315(4), te kontrasteer. Artikel 315(4) bepaal as volg:
"'n Appèl ingevolge
hierdie Hoofstuk kan slegs soos bepaal in artikels 316 tot en met 319
aangeteken word, en nie op
grond van 'n reg van appèl nie."
Dit val dadelik op dat die
subartikel nie voorgee om, soos sy voorganger, alle appèlle in
strafsake te dek nie. Die sub-artikel
is beperk tot appèlle
"ingevolge hierdie Hoofstuk". Dit is Hoofstuk 31. Die
invoeging van hierdie sinsnede in
art 315(4) toe die huidige Wet
opgestel is, dui na my mening onteenseglik op 'n verandering van
bedoeling aan die kant van
die wetgewer naamlik dat in daardie
gevalle waarvoor Hoofstuk 31 vir 'n appèl voorsiening maak, so
'n appèl slegs
soos in arts 316 tot en met 319 bepaal,
aangeteken kan word en nie vanweë 'n reg van appèl nie.
Appèlle
in strafgedinge waarvoor nie in Hoofstuk 31
voorsiening gemaak word nie, word gevolglik nie uitgesluit nie.
[11]
Die vraag is
dan of 'n eerste instansie borgappèl
"'n
appèl ingevolge hierdie Hoofstuk is"
.
Die
eerste artikel in Hoofstuk 31, art 315
, bepaal welke hof
die appèl moet aanhoor. Ingevolge art 315 is hierdie Hof
die hof van appèl ten opsigte van
appèlle in strafsake
wat
'n hoër hof verhoor het, met die uitsondering
in subartikels (2) en (3) genoem.
Artikel 315(2) bepaal dat
in 'n strafsaak wat deur 'n enkele regter van 'n hoër hof
verhoor is en waar ingevolge
art 316 verlof om te appelleer
toegestaan word, die hof onder sekere omstandighede kan gelas dat die
appèl deur 'n
volle hof verhoor word. In so 'n geval bepaal
art 315(3) dat die volle hof regsbevoegdheid sou hê met
betrekking tot
sodanige appèl. Ingevolge art 316(1) kan
'n beskuldigde wat voor 'n hoër hof aan 'n misdryf skuldig
bevind word,
binne 'n tydperk van 14 dae vanaf die oplegging van
vonnis of binne 'n langer tydperk wat na 'n kondonasie-aansoek
toegelaat word,
aansoek doen om verlof om teen sy skuldigbevinding of
teen 'n vonnis of bevel wat daarop gevolg het, te appelleer. Artikel
316(6)
bepaal dat indien 'n aansoek ingevolge subartikel (1) om
kondonasie of om verlof om te appelleer, geweier word, 'n beskuldigde
binne 'n bepaalde tydperk 'n versoekskrif aan die Hoofregter kan rig
vir sodanige kondonasie of verlof om te appelleer. Artikel
316
(1A)(a) maak voorsiening vir 'n verdere appèl teen 'n
beslissing van 'n volle hof wat ingevolge art 315(3) opgetree
het.
Uit hierdie bepalings is dit
duidelik dat art 316 glad nie van toepassing is op borgappèlle
deur 'n beskuldigde teen
die weiering van borgtog deur 'n hoër
hof as hof van eerste instansie nie. Artikels 317 tot en met 319 is
ook nie van toepassing
nie en hoef nie hier uiteengesit te word nie.
[12]
Alhoewel
Hoofstuk 31 nie voorsiening maak vir borgappèlle vanaf die
hoër hof as hof van eerste instansie na hierdie
Hof nie, is daar
elders in die Wet beperkte voorsiening daarvoor. Soos reeds
aangedui, bepaal art 65A(2) in Hoofstuk 9 dat
die Staat na
hierdie Hof kan appelleer teen 'n beslissing van 'n hoër hof om
'n beskuldigde op borgtog vry te laat. Artikel
65A(2)(b) bepaal dat
by so 'n appèl die bepalings van art 316 met betrekking
tot 'n aansoek of appèl in daardie
artikel bedoel deur 'n
beskuldigde,
mutatis
mutandis
van
toepassing is. Hieruit is dit duidelik dat die Wetgewer nie bedoel
het om in art 315(4) alle strafappèlle uit
te sluit nie,
maar dat die uitsluiting beperk is tot appèlle waarvoor
Hoofstuk 31 voorsiening maak.
[13]
Ek is gevolglik van
mening dat die beslissings in
Lembada
,
Heller
en
Mohamed
onderskei kan word vanweë die verandering in
die bewoording van die uitsluitingsklousule, en dat bevind moet word
dat art 315(4)
van die Wet nie 'n appèl ingevolge
art 21(1) van die Wet op die Hooggeregshof uitsluit om teen
die weiering van
borgtog deur 'n hoër hof as hof van eerste
instansie na hierdie Hof te appelleer nie. Soos in die geval van
Absalom
het die beskuldigde nie hiervoor verlof nodig nie
(
Absalom
se saak op 162 B-D).
[14]
Ek
word versterk in my uitleg van art 315(4) van die Wet deur die
bepalings van art 39(2) van die Grondwet waarvolgens
'n hof by
die uitleg van enige wetgewing die gees, strekking en oogmerke van
die Handves van Regte moet bevorder. Artikel 35(3)(o)
van die
Handves bepaal dat elke beskuldigde die reg op 'n billike verhoor
het, waarby inbegrepe is die reg op appèl na,
of hersiening
deur, 'n hoër hof. Na my mening is dit onbillik dat die Staat
kan appelleer teen 'n beskuldigde se vrylating
op borgtog deur 'n
hoër hof as hof van eerste instansie sonder dat die beskuldigde
kan appelleer as borgtog geweier word.
Dit is ook onbillik en
onlogies dat 'n beskuldigde wie se borgtog deur 'n landdros geweier
word, na beide die hoër hof en
daarna met die nodige verlof na
hierdie Hof kan appelleer, terwyl 'n beskuldigde wie se borgtog vir
die eerste keer deur die hoër
hof geweier word, geen appèl
het nie.
[15]
Ek
kom nou by die meriete van die appèl. In aanklag 1 word die
beskuldigdes van moord gepleeg deur 'n groep persone wat
ter
bevordering van 'n gemeenskaplike opset gehandel het, aangekla. Die
beskuldigdes word dus van 'n Bylae 6 misdryf aangekla
sodat die
bepalings van art 60 (11)(a) van die Wet van toepassing is. Artikel
60(11), soos vervang deur art 4(f) van Wet 85 van
1997, lees soos
volg:
"(11) Ondanks enige
bepalings van hierdie Wet, waar 'n beskuldigde aangekla word van 'n
misdryf bedoel -
(a) in Bylae 6, moet die hof
gelas dat die beskuldigde in bewaring aangehou word totdat daar met
hom of haar ooreenkomstig die
reg gehandel is, tensy die beskuldigde,
nadat hy of sy 'n redelike geleentheid daartoe gebied is om dit te
doen, getuienis aanbied
wat die hof oortuig dat daar buitengewone
omstandighede bestaan wat sy of haar vrylating in die belang van
geregtigheid veroorloof;
(b) in Bylae 5, maar nie in
Bylae 6 nie, moet die hof gelas dat die beskuldigde in bewaring
aangehou word totdat daar met hom of
haar ooreenkomstig die reg
gehandel is, tensy die beskuldigde, nadat hy of sy 'n redelike
geleentheid daartoe gebied is om dit
te doen, getuienis aanbied wat
die hof oortuig dat belang van geregtigheid sy of haar vrylating
veroorloof."
[16]
Namens beskuldigdes 1 en
3 is ter aanvang voor ons betoog dat die Wetgewer nie kon bedoel het
dat 'n blote bewering in die akte
van beskuldiging dat 'n beskuldigde
aan 'n Bylae 6 misdryf skuldig is, voldoende is om art 60(11)(a)
van die Wet van toepassing
te maak nie. Volgens die betoog moet die
hof wat die borgaansoek aanhoor, self eers die feite evalueer ten
einde te bepaal of
die Staat by die verhoor 'n Bylae 6 misdryf sal
kan bewys, voordat art 60(11)(a) toepassing vind. Ek kan nie
met die betoog
saamstem nie. Die bewoording van die subartikel is
duidelik en ondubbelsinnig en is vir net een uitleg vatbaar. Dit is
dat die
formulering van die aanklag in die akte van beskuldiging,
indien nodig aangevul deur 'n skriftelike bevestiging ingevolge
art 60(11A),
beslissend is vir die vraag of 'n beskuldigde hom
van die bewyslas in art 60(11)(a) moet kwyt om sy vrylating op
borgtog te
verkry.
[17]
Ingevolge art 60(11)(a)
word borgtog nie toegestaan nie tensy "buitengewone
omstandighede" deur die beskuldigde
bewys word. Hierdie
vereiste beperk die reg van 'n aangehoudene ingevolge art 35(1)(f)
van die Grondwet om vrygelaat te word
indien die belang van
geregtigheid dit toelaat. Die Konstitusionele Hof het egter in
S
v Dlamini; S v Dladla and Others; S v Joubert; S v Schietekat
1999(4) SA 623 (KH) (para 77) bevind dat die beperking redelik en
regverdigbaar is ingevolge art 36 van die Grondwet.
[18]
Die vereiste van
"buitengewone omstandighede" beteken dat die gewone
oorwegings vir die verlening van borgtog wat in
art 60(4) - (9)
uiteengesit word, waar die aangehoudene se reg op vrylating opgeweeg
word teen die faktore wat sy
vrylating in die belang van geregtigheid
sou verhinder, nie voldoende is om sy vrylating te verkry nie. 'n
Blote ontkenning van
die waarskynlikheid van die gebeure in
art 60(4)(a) - (e) sou dus nie voldoende wees nie.
[19]
Artikel 60(11)(a)
meld nie die aard van die vereiste "buitengewone omstandighede"
nie. Dit word nie vereis dat
"buitengewone omstandighede"
verskillend van aard, of andersoortig moet wees as die omstandighede
wat in subartikels
(4) - (9) genoem word nie. Gewoonlik,
maar nie noodwendig nie, sal dit omstandighede wees wat daarop gemik
is om die
onwaarskynlikheid van die gebeure genoem in
art 60(4)(a) - (e) te bewys. Met betrekking tot
daardie gebeure, of
andersins, moet die aangevoerde omstandighede, in
die konteks van die besondere saak, van so 'n aard wees dat dit as
buitengewoon
aangemerk kan word (
S
v Vanqa
2000(2) SASV
371 (TkH) op 376 b-d). Dit is vir die hof om in elke saak in die
besondere omstandighede van daardie saak 'n waarde-oordeel
te vel of
die bewese omstandighede van so 'n aard is dat dit as buitengewoon
aangemerk kan word.
In
die
Dlamini
-saak
het
Kriegler
R
die volgende omtrent die vereiste van "buitengewone
omstandighede" gesê (paras 75 en 76):
"An applicant is given
broad scope to establish the requisite circumstances, whether they
relate to the nature of the crime,
the personal circumstances of the
applicant or anything else that is particularly cogent. .............
I do not agree that, because
of the wide variety of 'ordinary
circumstances' enumerated in ss (4)-(9), it is virtually
impossible to imagine what would
constitute 'exceptional
circumstances' and that the prospects of their existing are
negligible. In requiring that the circumstances
proved be
exceptional, the subsection does not say they must be circumstances
above and beyond and generically different from those
enumerated.
Under the subsection, for instance, an accused charged with a
Schedule 6 offence could establish the requirement by
proving that
there are exceptional circumstances relating to his or her emotional
condition that render it in the interests of
justice that release on
bail be ordered notwithstanding the gravity of the case."
[20]
Ingevolge
beide art 60(11)(a) en (b) is daar 'n formele bewyslas op 'n
beskuldigde wat om borgtog aansoek doen "om getuienis
aan te
bied wat die hof oortuig". Die verskil in die twee subartikels
lê in die vereiste dat 'n Bylae 6 beskuldigde
getuienis moet
aanbied wat die hof oortuig dat "buitengewone omstandighede"
bestaan wat sy of haar vrylating veroorloof,
terwyl 'n Bylae 5
beskuldigde slegs getuienis hoef aan te bied wat die hof oortuig dat
die belang van geregtigheid sy of haar vrylating
veroorloof.
Art 60(11)(a) bevat twee afsonderlike vereistes waarvan die
beskuldigde die hof op 'n balans van waarskynlikhede
moet oortuig:
eerstens dat daar buitengewone omstandighede bestaan wat sy of haar
vrylating toelaat en, tweedens, dat sodanige
buitengewone
omstandighede die vrylating in die belang van geregtigheid
verloorloof. Ek stem met die Hof
a
quo
saam dat die
vereistes nie in 'n bepaalde volgorde oorweeg hoef te word nie.
[21]
Namens
beskuldigdes 1 en 3 is betoog dat die getuienis wat voor die Hof
a
quo
geplaas was, op
'n balans van waarskynlikhede daarop dui dat hulle nie aandadig was
aan die pleging van die moord nie, en dat hierdie
faktor
"buitengewone omstandighede" daarstel wat hul vrylating op
borgtog in die belang van geregtigheid verloorloof.
Na my mening sou
bewys deur 'n beskuldigde dat hy waarskynlik onskuldig bevind sal
word, wel as "buitengewone omstandighede"
kon dien (
S
v Mauk
1999(2) SASV
479 (W) op 488 a-b;
S
v Mohammed
1999(2)
SASV 507 (K) op 517 i-j; S v Yanta 2000(1) SASV 237 (TkH) op 243 j.
Die bewyslas is te hoog gestel in
S
v Jonas
1998(2) SASV
677 (SOK) op 678 f-g).
[22]
Die
tersaaklike feite wat voor die Hof a quo geplaas was, is die
volgende:
Op Saterdag 24 Maart 2001 het
die nege beskuldigdes, almal lede van die rugbyklub op Pietersburg,
saam met twee ander, ene Gouws
en ene Fourie, vir 'n
naweek-uitstappie na die plaas Inderhiken, ongeveer 60 km noord van
Pietersburg, gegaan. Die plaas behoort
aan beskuldigde 1 se moeder.
Beskuldigde 1 woon nie op die plaas nie maar op Roodepoort, ongeveer
12-15 km wes van Pietersburg
en hy bedryf 'n motorvulstasie op
Pietersburg. Die groep het die Saterdagaand op die plaas geslaap en
na 'n laat ontbyt die volgende
oggend in 'n oop bakkie tarentale gaan
jag. Op 'n stadium het die bakkie gestop en beskuldigde 1 het
uitgeklim en gesê dat
daar wilddiewe op die plaas is en dat hy
hulle sou doodskiet. Hy het twee skote met 'n geweer afgevuur. Die
groep het hierna
verdeel, blykbaar om na die wilddiewe te soek.
Beskuldigde 3, Gouws en Fourie is te voet verder terwyl die ander met
die bakkie
gery het. Volgens Gouws en Fourie se verklarings het
hulle kort daarna geweerskote uit die rigting van die bakkie gehoor
en toe
hulle by die bakkie kom, het hulle die oorledene in 'n
beseerde toestand agterop aangetref. Sy gesig was geswel en bebloed
en
hy was bewusteloos. In sy beëdigde verklaring ter
ondersteuning van sy borgaansoek sê beskuldigde 1 dat, nadat hy
honde
gesien en na hulle geskiet het, hy nader beweeg het en 'n
persoon in die veld gekry het wat wegkruip. Hy wou hom arresteer.
Die
persoon het hom verset, maar hy is uiteindelik gearresteer en
deur ander lede van die groep op die bakkie gelaai. Hierna het die
groep weer verdeel. Volgens Gouws en Fourie se verklarings het hulle
saam met beskuldigdes 1, 2 en 9 te voet na verdere verdagtes
of honde
gesoek terwyl die ander vir hulle in die bakkie by 'n sekere plek
moes wag. Beskuldigde 1 beskryf die verdere gebeure
in sy beëdigde
verklaring as volg:
"Ek het later weer by die
bakkie aangesluit waar ek die groep en die gearresteerde persoon
gevind het. Ek het gemerk dat die
gearresteerde persoon bloed in sy
gesig het, en het verneem dat hy van die bakkie afgeval het in
'n poging om te ontsnap.
Hy is daar gelos, waarna ons terug kamp toe
is."
Volgens Fourie se verklaring
het hy gesien dat die oorledene op die grond gegooi word waarna
beskuldigde 1 hom herhaaldelik met
'n geweerkolf in die gesig geslaan
of gestamp het. Beskuldigde 3 het die oorledene een keer geskop.
Volgens Fourie het die oorledene
op hierdie stadium nie meer beweeg
nie en hy het gedink dat hy alreeds dood was. Volgens Gouws het
beskuldigde 1 die oorledene
agter 'n bos ingesleep en gesê dat
hy nie die man in die son gaan los nie en dat sy maatjies hom maar
moet kom haal.
Beskuldigde 1 het ontken dat hy
op enigeen gevuur het of enigeen aangerand het. Beskuldigde 3 het in
sy beëdigde verklaring
ter ondersteuning van sy borgaansoek gesê
dat toe hy weer by die bakkie kom nadat die groep die eerste keer
verdeel het,
hy 'n vreemde persoon agterop die bakkie gesien het. Hy
het toe van die ander verneem dat die persoon gearresteer was en van
die
bakkie afgeval het in 'n poging om te ontsnap. Hy het enige
aanranding op die oorledene ontken.
[23]
Die
klaers op die tweede en derde aanklagte is albei skoolseuns van 'n
nabygeleë woongebied. Uit hul verklarings blyk dit
dat hulle
die betrokke Sondag saam met die oorledene wild gejag het op
Inderhiken met die hulp van honde. Hulle het die bakkie
sien aankom
en weggekruip. Toe die bakkie stilhou het hulle opgespring en
weggehardloop en daar is op hulle geskiet. Die eerste
klaer is
gewond en het die nag in die veld deurgebring.
Die
volgende oggend het hy daarin geslaag om weg te kom en die polisie is
ontbied. Die tweede klaer het reeds die Sondagmiddag
daarin geslaag
om sy huis te bereik. Die Maandagoggend het hy die polisie na die
toneel vergesel waar hul die lyk van die oorledene
sien lê het.
Naby die lyk het vier honde dood gelê.
Toe
die polisie later die lyk wou kom haal, was dit nie meer daar nie.
[24]
Sersant
van der Pohl en inspekteur Soër van die Polisie op Pietersburg
het laat die Maandagmiddag by beskuldigde 1 se huis
aangekom en daar
vir hom gewag waar hy, volgens Van der Pohl getuig het, tussen
sewe-uur en agtuur die aand aangekom het.
Van
der Pohl het getuig dat beskuldigde 1 merke op sy hemp en broek gehad
het wat na bloedmerke gelyk het. Op die bakkie waarin
beskuldigde 1
by sy huis aangekom het, was daar soortgelyke merke. Beskuldigde 1
is gearresteer en beskuldigde 3 is later dieselfde
aand by sy huis in
Pietersburg gearresteer. Van der Pohl het getuig dat hy die volgende
dag na 'n motorhuis by die meenthuiskompleks
waar beskuldigde 3 woon,
gegaan het. Daar het hy 'n boot gevind. Op beide die seil waarmee
die boot toegetrek was en die boot
self het hy merke wat na
bloedspatsels gelyk het, gevind. Dieselfde dag het beskuldigde 2 die
polisie na 'n dam ongeveer 200 km
vanaf Pietersburg geneem waar 'n
soektog na die lyk van die oorledene geloods is. Die lyk is 'n week
later, op 2 April 2001, in
die dam gevind. 'n Na-doodse ondersoek
het die oorsaak van dood aangegee as stompgeweld-beserings aan die
kop en bors. In sy
verklaring sê beskuldigde 3 dat hy verneem
het dat daar 'n boot in sy motorhuis, wat hy as 'n tweede motorhuis
vir addisionele
ruimte gebruik, gevind is. Hy besit nie 'n motorboot
nie en hy weet nie wie die motorboot daar geplaas het nie. Hy weet
niks
van die oorledene se lyk af nie.
[25]
Na
my mening regverdig die feite wat ek hierbo uiteengesit het, nie 'n
bevinding dat beskuldigdes 1 en 3 waarskynlik onskuldig
bevind sal
word nie. Die Hof
a
quo
het ook nie so 'n
bevinding gemaak nie.
[26]
Namens beskuldigdes 1 en
3 is voorts betoog dat hulle persoonlike omstandighede van so 'n aard
is dat dit vir doeleindes van art 60(11)(a)
as "buitengewone
omstandighede" aangemerk kan word.
[27]
Beskuldigde 1 is 28 jaar
oud. Hy is ongetroud maar woon saam met 'n dame wie se ouers
Suid-Afrikaanse burgers is wat tans in Zambië
woon waar haar
vader tydelik werksaam is. Na verwagting sal beide haar ouers binne
enkele maande na Suid-Afrika terugkeer. Beskuldigde
1 is die eienaar
van die vulstasie wat hy in Pietersburg bedryf en het 13 werknemers
wat saam met hulle families van die voortbestaan
van sy besigheid
afhanklik is. Sy ouers woon reeds vir die afgelope 23 jaar op
Naboomspruit waar hy die hoofseun in standerd 10
was. Hy het in 1995
'n B.Sc.-graad in Landbou verwerf. Hy is in beheer van die beeste,
skape en jagbesigheid op die plaas wat
hy elke tweede dag besoek. Hy
is die eienaar van 'n vaste eiendom in Pretoria.
Beskuldigde 3 is 'n 27-jarige
luitenant in die Weermag en is ongetroud. Sy ouers is oorlede maar
hy het twee susters en ander
familie wat almal in Pietersburg en
omgewing woon. Soos reeds gesê woon hy in 'n meenthuis in
Pietersburg.
Na my mening is daar niks in die
persoonlike omstandighede van óf beskuldigde 1 óf
beskuldigde 3 wat as "buitengewone
omstandighede" kan dien
nie.
[28]
Die
appèlle van beide beskuldigdes 1 en 3 word afgewys.
VIVIER WND AHR
OLIVIER AR)
SCOTT AR) STEM SAAM
STREICHER AR)
MTHIYANE AR)