About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2001
>>
[2001] ZASCA 140
|
|
Ciba-Geigy (Edms) Bpk v Lushof Plase (Edms) Bpk (71/2000) [2001] ZASCA 140; [2002] 2 All SA 525 (A); 2002 (2) SA 447 (SCA) (29 November 2001)
IN
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer :
71/2000
In
die saak tussen :
CIBA-GEIGY (EDMS) BPK
Appellant
en
LUSHOF PLASE (EDMS) BPK
Eerste Respondent
ALBIE VAN STADEN
Tweede Respondent
CORAM
: Nienaber, Harms, Schutz, Mpati ARR en Conradie Wnd AR
DATUM
: 1 & 2 November 2001
GELEWER
: 29 November 2001
Opsomming
:
Onkruiddoder - skadelike newewerking vir peerbome - boer spreek
handelaar-verkoper asook vervaardiger onderskeidelik kontraktueel
en
deliktueel aan - aanspreeklikheid van elk - vervaardiger se
aanspreeklikheid teenoor handelaar op grond van 'n indemniteit as
'n
beding ten behoewe van derde - appèl teen weiering van aansoek
deur verhoorhof om pleit te wysig deur op 'n laat stadium
'n nuwe
verweer te opper - spesiale kostebevel.
___________________________________________________________
UITSPRAAK
___________________________________________________________
NIENABER
AR en CONRADIE Wnd AR
/
NIENABER AR en CONRADIE Wnd
AR:
Aanloop
[1] Die
appellant is die vervaardiger, die tweede respondent die
handelaar-verkoper en die eerste respondent die koper van 'n
onkruiddoder
genaamd Folar 525 SC. Die koper, 'n grootskaalse
kommersiële vrugteboer van Prince Alfred Hamlet, in die Warm
Bokkeveld naby
Ceres, beweer dat dié middel wat hy met die oog
op onkruidbestryding gedurende September-Oktober 1994 op aanbeveling
van
die verkoper van laasgenoemde aangekoop en op die peerboorde op
sy plaas, Lushof, gespuit het, fisiese skade aan sy bome en aldus
ekonomiese skade by wyse van oesverliese aan hom berokken het.
Vandaar sy eis om skadevergoeding ten bedrae van R932 054 wat hy
in
die Kaapse Provinsiale Afdeling teen sy verkoper as eerste verweerder
(op grond van 'n verbreking van die gemeenregtelike waarborg
teen
verborge gebreke) en teen die vervaardiger as tweede verweerder (op
grond van delik) aanhangig gemaak het. Op sy beurt het
die verkoper
'n derde party-kennisgewing aan die vervaardiger gerig waarin hy
laasgenoemde op grond van 'n indemniteit, alternatiewelik,
delik
aanspreeklik hou vir enige skadevergoeding waarvoor hy teenoor die
koper blootstaan.
Bewys
van die omvang van die skade is by ooreenkoms tussen die partye en
ooreenkomstig 'n bevel van die verhoorhof voorlopig agterweë
gehou. Die hof
a quo
(Brand R) handhaaf ‘in beginsel’ sowel die koper se eise
teen beide verweerders gesamentlik en afsonderlik as die verkoper
se
ondergeskikte eis teen die vervaardiger. In laaste instansie trek
die vervaardiger dus aan die kortste end. Vandaar sy appèl
wat hy met verlof wat op aansoek aan hom verleen is teen die ander
twee partye aanhangig gemaak het. Na die appellant (die tweede
verweerder) verwys ons voortaan gerieflikheidshalwe as ‘Ciba’,
na die eerste respondent (die eiser) as ‘Lushof
Plase’ en
na die tweede respondent (die eerste verweerder) as ‘Van
Staden’.
[2] Ciba,
voorheen bekend as Ciba-Geigy (Edms) Bpk, tans as Novartis South
Africa (Edms) Bpk, is lid van 'n wêreldwye groep
vervaardigers
en verspreiders van 'n verskeidenheid chemiese middels, die
hoofkantoor van die moedermaatskappy waarvan in Basel,
Switserland,
geleë is. Een van die middels wat die groep ontwikkel het en
wat Ciba ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel,
Landboumiddels
en Veemiddels 36 van 1947 gedurende 1993 op kernvrugte in Suid-Afrika
geregistreer het, was Folar 525 SC (‘Folar’).
In die
voubiljet wat die produk vergesel, word Folar beskryf as
‘
'n Suspensie-konsentraat
onkruiddoder vir nie-selektiewe na-opkom beheer van 'n breë
spektrum eenjarige onkruide en met residuele
breëblaar
aktiwiteit indien toegedien as 'n gerigte bespuiting op appels, pere,
Eucalyptus
plantasies, sitrus en wingerd’
Die
aktiewe bestanddele is glifosaat 180 g/l en terbutielasien 345 g/l.
In die ‘opleidingsmodule’ wat deur Ciba uitgereik
is,
word die ‘werkingswyse’ van die middel soos volg beskryf:
‘
terbutielasien:
Opname deur
wortels en blare.
Xileemvervoer
na plek van aksie. Fotosintese van vatbare plante word geblokkeer’;
en
glifosaat:
‘
Opname
deur groen bas en blare. Sterk afwaartse vervoer na ondergrondse
plantdele. Verskaf aanvanklike na-opkoms aksie. Simptome
van beheer
eers sigbaar vanaf 7 - 14 dae na toediening.’
[3] In
dieselfde dokument word die ‘gewasveiligheid’ van die
middel ook sterk beklemtoon. Van fitotoksisiteit, oftewel
die
vergiftiging van die landbougewas self (in teenstelling met die
onkruid), word gesê:
‘
Folar’
525 SC kan op die volgende gewasse met veiligheid gebruik word as 'n
gerigte bespuiting vanaf een jaar na uitplant:
appels
pere
sitrus
wingerd’
en
voorts:
‘
Navorsing dui daarop dat
terbutielasien selektief is op die gewasse soos geregistreer’;
en
‘
Folar’ kan met
gerustheid herhaaldelik gebruik word’;
en
‘
Gemoedsrus dat gewasse
nie beskadig sal word nie.’
[4] In
sy uitspraak verstrek die hof
a
quo
die volgende
beskrywing:
‘
[40] Die
Terbutielasien is 'n chemiese molekule wat reeds lankal geskep is en
ook lank reeds suksesvol as onkruiddoder in gewasse
anders as
sagtevrugte en in die besonder by grasagtige gewasse, soos mielies en
suikerriet, aangewend en in terme van Wet 36 van
1947 geregistreer
is. Soos reeds genoem, is dit egter in 1993 vir die eerste maal vir
gebruik in sagtevrugteboorde geregistreer.
[41] Onkruiddoders
word aangewend en geregistreer vir spesifieke gewasse en teen
spesifieke onkruide. Anders gestel, bepaalde onkruiddoders
is
effektief
slegs ten aansien van bepaalde onkruide en dit is 'n erkende feit dat
'n bepaalde onkruiddoder vir sommige landbougewasse onskadelik
is
maar
fitotoksies
vir ander. Die term wat in laasgenoemde verband gebruik word is
selektiwiteit. Daar bestaan verskillede tipes selektiwiteit.
Die
twee tipes wat hierin ter sprake gekom het was plasingselektiwiteit
en biochemiese selektiwiteit. Van biochemiese selektiwiteit
word
gepraat wanneer die bepaalde landbougewas in staat is om die betrokke
onkruiddoder sistemies op te neem en dit dan metabolies
te vernietig
sodat dit veilig is om die middel op daardie landbougewasse aan te
wend.’
[5] Folar
is nie aanvanklik in Suid-Afrika ten opsigte van onder meer pere
geregistreer en aangewend nie. Volgens Hugo, 'n amptenaar
van Ciba
wat grotendeels met die registrasie van die middel vir sagte vrugte
in Suid-Afrika gemoeid was, was daar egter ook ten
opsigte van
kernvrugte, soos appels en pere, 'n aanvraag en na 'n aanvanklike
mislukte poging tot registrasie het dit uiteindelik
in 1993 geskied.
[6] Ciba
het die produk onmiddellik begin bemark, onder meer met behulp van
Van Staden. Van Staden was sedert 1987 'n werknemer
van Ciba, maar
sy status het vroeg in 1993 verander toe Ciba van onafhanklike
verspreiders gebruik begin maak het. Een van hulle
was 'n
onderneming, destyds bekend as Landbouchemiese Verspreiders BK
(hierna ‘LCV’ genoem), met wie Ciba 'n sogenaamde
‘distribution agreement’ aangegaan het. LCV het op sy
beurt 'n soortgelyke ooreenkoms met Van Staden aangegaan. Die
aanhef
tot die ooreenkoms tussen Ciba en LCV lui onder meer:
‘
A. Ciba has the right,
under licence granted by Ciba-Geigy Limited, Basle, Switzerland, to
formulate, pack, sell and distribute
and use certain agricultural
chemicals patented by Ciba-Geigy Limited in Southern Africa.
B. Ciba wishes to appoint the
Distributor to distribute the agricultural chemicals in the territory
as the agent of Ciba and on
the terms defined hereafter.
C. The Distributor is prepared
to sell and distribute the said agricultural chemicals in the said
terms.’
Van
belang is ook die volgende klousules:
‘
2.2 The Distributor [LCV]
is not entitled to appoint any sub-agent or sub-distributor for the
distribution or promotion of any of
the Products in the Territory or
elsewhere, without the written consent of Ciba which shall not
unreasonably be withheld, or to
sell, distribute and promote any of
the Products outside the Territory.
2.3 The relationship of the
Distributor to Ciba shall be that of an independent contractor
engaged in the distribution of the Products
to third parties in the
Territory. As an independent contractor, the Distributor and its
employees are not the legal representatives
of Ciba for any purpose
and have no power or authority to bind or commit Ciba.
2.4 …
2.5 Ciba shall be entitled, if
it should deem necessary, … to appoint other agents and/or
distributors to sell the Products
in the Territory on its behalf.’
[7] Van
Staden is deur LCV as een van sy sub-verspreiders aangestel. 'n
‘Verspreidingsooreenkoms’ is op 12 Mei 1993
tussen LCV en
Van Staden aangegaan. Met sommige van die ander bepalings van
hierdie ooreenkoms word later in hierdie uitspraak
in meer
besonderhede gehandel. Op hierdie stadium word klem net op die
volgende gelê:
‘
Manufacturer’
word gedefinieer as:
‘…
Ciba-Geigy (Proprietary) Limited
or any other agricultural manufacturer or formulator of the Products
starting from or containing
the approved active substances of the
Products and includes filling the manufacturer’s Product into
suitable containers’.
Net
soos in die ander ooreenkoms bepaal klousules 2.1 en 2.3 onder meer:
‘
2.1 LCV grants the
Distributor [Van Staden] the right to distribute and promote the
Products in the Territory on an exclusive basis
subject to the terms
and conditions of this agreement and the Schedules hereto.
2.2 …
2.3 The relationship of the
Distributor to LCV shall be that of an independent contractor engaged
in the distribution of the Products
to third parties in the
Territory. As an independent contractor, the Distributor and its
employees are not the legal representatives
of LCV for any purpose
and have no power or authority to bind or commit LCV.’
(Tydens
die verhoor is daar betoog dat Van Staden ondanks gemelde bepalings
as Ciba se ‘verteenwoordiger’ in egte sin
gehandel het
toe hy die Folar gedurende September/Oktober 1984 aan Lushof Plase
verkoop het, maar dié betoog is tereg deur
die verhoorhof
verwerp en geen appèl is teen dié bevinding deur óf
Lushof Plase óf Van Staden geloods
nie.)
[8] Van
Staden wat reeds sedert 1988 gereeld met Lushof Plase geskakel het,
het die Folar sterk by De Clercq, Lushof Plase se algemene
bestuurder, aanbeveel. De Clercq het aanvanklik teenoor die nuwe
produk skepties gestaan. Hiervan sê die hof
a
quo
:
‘
[9] …
Na registrasie van Folar vir gebruik op pere het Van Staden met De
Clercq gereël dat demonstrasieproewe met die
middel op Lushof
gespuit word. Die proefspuite is gedoen in November 1993 en weer in
Maart 1994 in 'n boord op Lushof bekend as
boord 14.
[10] Na
die proewe was almal baie beïndruk met die effektiwiteit van
Folar. Dit het duidelik die onkruid baie goed beheer.
Nietemin was
De Clercq nie geneë om Folar op groot skaal aan te wend nie. Hy
het geweet dat een van die aktiewe bestanddele
in Folar
Terbutielasien is, wat behoort tot die Triasiene-groep van
onkruiddoders. De Clercq was bekend met 'n ander lid van die
Triasiene-groep, Simasien. Omdat hy geglo het dat Simasien peerbome
benadeel, het hy nie bogenoemde middel op peerbome gebruik
nie.
Volgens De Clercq, wat namens eiser as getuie geroep is, is hy egter
deur Van Staden meegedeel dat Folar baie veiliger as
Simasien is en
het hy ook aan De Clercq 'n tegniese verduideliking gegee oor waarom
dit so is. Gevolglik is De Clercq op die ou
end deur Van Staden
oorreed om al die peerboorde op Lushof, behalwe boord 23 en 'n
gedeelte van boord 17, met Folar te bespuit.
[11] Die
fakture wat op eiser se aankope van Folar betrekking het, strek oor
die tydperk 12 September 1994 tot 18 Oktober 1994.
Gevolglik was al
die partye bereid om te aanvaar dat die toediening van Folar kort na
12 September 1994 begin het en 'n paar dae
na 18 Oktober 1994 opgehou
het. Volgens De Clercq het hy toe op 'n later stadium simptome by
die bespuite peerbome waargeneem
wat vir hom daarop gedui het dat
alles nie pluis was nie. Hy is nie presies seker wanneer hy die
simptome vir die eerste maal
waargeneem het nie. Hy sê die
simptome het geleidelik verskyn en vererger. Sy skatting is egter dat
hy so teen die einde
van November begin Desember werklik van die
onrusbarende simptome bewus geraak het. Nadat De Clercq hierdie
waarnemings gemaak
het, het hy vir Graaff [die aandeelhouer van
Lushof Plase] laat weet en die hulp van dese en gene ingeroep. Onder
meer is Van
Staden na die plaas ontbied en het 'n deskundige
hortoloog van Ceres Fruit Growers, Mnr Gert Marais - wat as
deskundige getuie
namens eiser geroep is - ook op die plaas
aangedoen. Marais het die mening uitgespreek dat simptome sogenaamde
Triasien-simptome
is, oftewel dat dit deur die Terbutielasien in die
Folar veroorsaak is. Die verteenwoordigers van Ciba wat ook op die
plaas aangedoen
het, het egter ontken dat die simptome die gevolge
van die bespuiting met Folar kon wees.
[12] Soos
wat die seisoen aangegaan het, sê De Clercq, het die simptome
gaandeweg vererger. Uiteindelik het die bome groot
gedeeltes van
hulle blare afgegooi. In sommige van die jonger boorde is al die
vrugte afgepluk om die bome 'n beter kans op oorlewing
te gee. In
blokke 31 tot 38 - waar slegs jong bome was - moes van die bome
vervang word. Ander van die jong bome wat dit oorleef
het, se groei
is duidelik geïnhibeer. Eiser se saak is dan dat hy in die
eerste plek skade gely het weens die skade wat deur
Folar aan die
jong bome aangerig is. Daarbenewens, voer Eiser aan, het hy weens
beskadiging van die produserende bome 'n oesverlies
gely in die
1994/1995 seisoen.’
[9] Dagvaarding
is in Januarie 1997 deur Lushof Plase teen Van Staden as eerste
verweerder en teen Ciba as tweede verweerder uitgereik.
Daarna het
Van Staden, soos reeds gemeld, vir Ciba as derde party in die geding
tussen hom en Lushof Plase betrek. Die ellelange
verhoor wat op 8
Junie 1998 'n aanvang geneem en om en by veertig dae geduur het, het
by tye wye draaie geloop waartydens talle
verwere deur Ciba geopper
en weer laat vaar is. In die loop daarvan het die verhoorhof
verskeie orde-beslissings gemaak waaroor
Ciba beswaard voel. So
byvoorbeeld is 'n aansoek van Ciba om sy pleit op 'n laat stadium,
nadat Lushof Plase reeds sy saak gesluit
het, te wysig ten einde hom
op 'n nuwe verweer te beroep (as sou 'n oordosis Folar op die lande
toegedien gewees het), van die
hand gewys. Ook is Ciba nie toegelaat
om getuienis te lei van beweerde internasionale proewe wat ten
opsigte van Folar uitgevoer
is en waarvan daar nie ooreenkomstig die
Hofreëls behoorlik kennis gegee is nie. Ook teen hierdie
beslissings, soos teen
die uiteindelike bevel wat gemaak is, word
beswaar gemaak.
[10] Daardie
bevel lui onder meer soos volg:
‘
(a) Dit word verklaar dat
eerste en tweede verweerders gesamentlik en afsonderlik teenoor eiser
aanspreeklik is vir die skade wat
die bespuiting met Folar van eiser
se peerboorde op Lushof Plase - beide in die vorm van oesverlies en
die beskadiging van jong
bome - tot gevolg gehad het.
(b) Eerste en tweede verweerders
word gesamentlik en afsonderlik gelas om eiser se gedingskoste van
die verhoor op die meriete te
betaal.
(c) Die kostebevel in terme van
paragraaf (b) sal die volgende deskundige getuies se kwalifiserende
fooie insluit: …
(d) Dit word verklaar dat tweede
verweerder aanspreeklik is om eerste verweerder te indemnifiseer vir
enige bedrag (insluitende
gedingskoste) waarvoor eerste verweerder
deur eiser aanspreeklik gehou word.
(e) Tweede verweerder word gelas
om eerste verweerder se gedingskoste van die verhoor op die meriete
te betaal.
(f) …’
Simptome,
skade en oorsaak
[11] Alvorens
daar na die onderskeie eisoorsake gekyk word, is dit nodig om te
bepaal of die verhoorhof reg was in sy siening dat
Lushof Plase skade
gely het en dat sodanige skade aan die toediening van Folar te wyte
was.
[12] Twee
skadekategori
ë is
uiteindelik deur Lushof Plase beweer. Die eerste is die beskadiging
van jong bome deur die toediening van Folar met 'n
gevolglike
oesverlies in die 1994/5 seisoen. (Onder jong word verstaan bome wat
ouer is as een jaar maar wat nog nie volwassenheid
bereik het nie.)
Hiervan sê die hof
a
quo
:
‘
Tydens argument was die
regsverteenwoordigers van die partye dit egter met mekaar eens dat ek
gevra word om 'n beslissing met verwysing
na elkeen van die
kategorieë te maak. Vervolgens poog ek om aan dié
versoek te voldoen.’
Tydens
argument voor hierdie hof is dié bewering namens Ciba
bevraagteken maar namens Lushof Plase bevestig. Geen verdere
gronde
is deur enige van die partye aangevoer waarop gesê kan word dat
die verhoorhof in dié opsig fouteer het nie.
Bowendien is
Lushof Plase se getuienis (dat 'n aansienlike aantal jong bome wel
gevrek het en vervang moes word en dat van die
ander jong bome se
groei vertraag is sodat Lushof Plase langer sou moes wag om 'n
opbrengs van hulle te verkry) ook nie weerlê
nie. Daar was dus
fisiese skade.
[13] Die
tweede kategorie geld die verminderde produksievermoë van die
ouer bome. Die getuienis van Bezuidenhout, 'n dataverwerker
by Ceres
Fruitgrowers, was dat dié instansie noukeurige statistieke
byhou waarin elke lid se produksiesyfers voorkom. Die
tonnemaat per
hektaar vir elke afsonderlike kultivar word weergegee. Grafieke is
met betrekking tot vyf van die belangrikste kultivars
wat op Lushof
Plase, op plase in die distrik Prins Alfred Hamlet, asook op plase in
die hele Warm Bokkeveldgebied, verbou word,
voorberei. Hulle toon
stygings en dalings in produksiesyfers oor die jare 1990 tot 1997.
Namens Ciba is nie aangevoer dat die
syfers nie betroubaar was, of
dat die statistieke wat Strydom namens Ciba voorberei het bo dié
van Bezuidenhout te verkies
was nie. Die verhoorregter het
Bezuidenhout se ontledings aanvaar. Aan die hand daarvan is dit
duidelik dat daar in die 1994/5
seisoen dramatiese oesafnames op
Lushof was wat nie op buurplase of elders in die omgewing ondervind
is nie. Daar was dus wat
albei kategorië betref, skade. Dat
die jong bome deur Folar beskadig was, is uiteindelik nie betwis nie.
Die oorblywende
vraag is of oesverliese aan die toediening van Folar
toegeskryf kan word.
[14] Ciba
het 'n deug in
terbutielasien gesien wat nie aan ander triasienes eie is nie.
Terbutielasien, so is bevind, loog minder as die
ander. Dit beteken
dat dit minder geredelik as ander triasienes deur water die grond
ingedra word. Daarvoor is daar twee redes.
Terbutielasien is minder
wateroplosbaar en adsorbeer buitendien sterker aan gronddeeltjies,
aan organiese material in die besonder.
Baie van die
terbutielasienmolekules bly aan gronddeeltjies in die boonste
grondlae vassit, en dit wat oorbly, los nie so maklik
in re
ë
n-
of besproeiingswater op nie. Watter hoeveelheid terbutielasien ook
al die peerboomwortels bereik, so is geglo, sou dus nie voldoende
wees om die boom enige skade te berokken nie. Hierdie verskynsel,
soos vroeër gesê, staan as plasingselektiwiteit bekend.
Plasingselektiwiteit se doeltreffendheid hang daarvan af dat soveel
moontlik onkruiddoder van die wortels van die gewasplant (wat
dieper
as twee of drie sentimeter onder die oppervlakte l
ê
)
weggehou word, en beskikbaar gestel word vir opname deur die wortels
van onkruide wat oor die algemeen binne die boonste paar
sentimeter
voorkom.
[15]
Terbutielasien
is egter so 'n aggressiewe onkruiddoder dat selfs die klein
hoeveelhede daarvan wat die wortels van gewasplante bereik,
genoeg
sou wees om skade aan daardie plante te verrig, as dit nie vir 'n
ander verskynsel was wat as biologiese selektiwiteit bekend
staan
nie. Sommige gewasplante is in staat om klein hoeveelhede
terbutielasien te metaboliseer. Die plant breek die onkruiddoder
af.
Mits die hoeveelheid wat die plant opneem nie sy toleransiedrempel
oorskry nie, kom die plant niks oor nie. Die vermo
ë
om terbutielasien af te breek varieer van spesie na spesie, van
vari
ë
teit
na vari
ë
teit
en selfs van boom na boom. Individuele variasie kom voor omdat die
fisiologiese toleransie van 'n andersins weerstandige plant
geknou
kan word deur voedingstekorte, byvoorbeeld 'n gebrek aan
spoorelemente. Dit blyk uit die getuienis dat selfs in dieselfde
boord wat op dieselfde tipe grond gevestig is, sommige bome beter as
ander presteer. Di
é
wat beter groei het 'n hoër detoksifikasiedrempel en kan
derhalwe fitotoksisiteit makliker weerstaan.
[16] Hoe
groter die vatbaarheid van 'n gewasplant vir terbutielasien is, hoe
belangriker is dit om die produk van die wortels weg
te hou. Die
twee veiligheidsmeganismes is dus interafhanklik. Albei is vir die
beskerming van die gewasplant noodsaaklik, veral
omdat die
doeltreffendheid van albei onder veldtoestande kan varieer.
Plasingselektiwiteit is of meer of minder doeltreffend na
gelang van
die klei- en organiese materiaalinhoud van die grond, die vogvlakke,
die pH van die grond, en selfs die kwaliteit van
die water wat vir
bespuiting gebruik word. Daar is bowendien ander veranderlikes. Die
diepte van die hoofvoedingswortels van die
gewasplant is van
deurslaggewende belang: dit bepaal naamlik hoeveel van die
terbutielasien deur die plant opgeneem sal word.
Peerbome groei goed
in marginale gronde, maar dan is hulle wortelstelsels merkwaardig
vlak. In dieper grond lê die wortels
dieper.
[17] Nie
al die duisende peerbome op Lushof is in dieselfde mate aangetas nie.
Sommige het erger simptome as ander getoon.
Terbutielasientoksisiteit
manifesteer deur 'n aanvanklike vergeling
van die blaarrand gevolg deur tussennerfse vergeling en, in ernstige
gevalle, deur nekrose
van die blaar. Die simptome kom voor omdat
terbutielasien die fotosinteseproses in die blaar inhibeer en
uiteindelik die chloroplaste
wat chlorofiel vervaardig, vernietig.
As dit gebeur, verhonger die plant omdat hy nie langer koolhidrate
kan vervaardig nie.
Ter illustrasie kan ons meld dat 'n
wisselwerking van grondgeaardheid en vog bepaal hoeveel
terbutielasien deur die wortels opgeneem
word. 'n Swak
transpirasiestroom - byvoorbeeld op 'n koue dag - sal die boom meer
tyd gee om die opgeneemde terbutielasien af
te breek; 'n sterk
transpirasiestroom sou die teenoorgestelde uitwerking hê en,
les bes, sal die gesondheidstatus van die
boom bepaal of hy genoeg
ensieme afskei om terbutielasien in die blare te vernietig sonder dat
dit skade aanrig.
[18] As
al die onderskeie faktore wat absorpsie deur die wortels bepaal en al
die faktore wat die boom se vermoë om die opgeneemde
hoeveelheid
te verwerk, in ag geneem word, is dit dus duidelik dat daar 'n
oneindige aantal risikoprofiele is. Hierop kom ons
later terug.
[19] Vir
die eerste elf dae van die verhoor in die hof benede het Ciba ten ene
male ontken dat die simptome wat op die blare van
volwasse peerbome
en aan die groeiwyse van jong bome opgemerk is, deur Folar veroorsaak
is. Op die dag waarop die verhoor na die
winterreses hervat is,
wysig Ciba sy verweerskrif ten einde 'n erkenning te pleit dat die
aanwending van Folar waarskynlik die
fotosinteseproses in die blare
van die peerbome inhibeer het. Hy ontken nogtans dat die inhibering
van hierdie proses tot verwronge
groei in jonger bome of oesverliese
in ouer bome aanleiding gegee het. In sy nadere besonderhede tot die
gewysigde pleit verduidelik
Ciba dat, alhoewel inhibering van die
fotosinteseproses wel
in
beginsel
skade aan
jong bome en oesverlies by ouer bome kan veroorsaak, dit in hierdie
besondere geval nie gebeur het nie. Terselfdertyd
word bewerings in
die pleit geskrap as sou skade wat Lushof Plase gely het die gevolg
gewees het van die toediening van Folar in
stryd met sekere
etiketvoorwaardes. Daar was dus op die pleitstukke geen sprake meer
van 'n wanaanwending van die middel nie,
behalwe dat volhard is met
die bewering dat Folar, in stryd met die etiketvoorwaardes, op bome
aangewend is wat jonger as een jaar
na oorplanting was. (Ook hierdie
bewering is mettertyd laat vaar.)
[20] Ciba
se erkennings het hom met die dilemma gelaat dat daar 'n verklaring,
anders as oesskade as gevolg van fitotoksisiteit,
vir die
onteenseglike oesafname in die 1994/95 oesseisoen gevind moes word.
[21] In
di
é verband is
daar
gesteun op getuienis
van Ciba se deskundiges dat sigbare triasiensimptome aan gewasplante
kan voorkom sonder dat produksieskade
noodwendig daarop volg.
Hierdie gevolgtrekking is nie deur Lushof Plase se deskundiges betwis
nie. Hulle standpunt was dat die
waarskynlikheid van oesskade afhang
van die stadium van die boom se ontwikkeling op die tydstip waarop
die middel toegedien word
en natuurlik van die graad van vergiftiging
van die gewas. Indien daar vry ernstige simptome en bowendien bewese
skade is, is
mens
prima
facie
geregtig om aan
te neem dat die onkruiddoder die skade veroorsaak het. Hulle het
egter verder gegaan en 'n waarskynlike meganisme
vir die oesverlies
aan die hand gedoen.
[22] 'n
Peerboom het die eienaardigheid dat hy geneig is om in die tydperk
van veertig tot vyftig dae na volblomstadium 'n beduidende
aantal van
die embrioniese vruggies aan die boom af te gooi. Dit is die natuur
se manier om te bepaal hoeveel van sy vruggies
die boom daardie
seisoen sal kan grootmaak. Die ‘bepaling’ word gedoen aan
die hand van stresfaktore soos voedings-
of vogtekorte wat gedurende
daardie tyd teenwoordig is. Dit is dus by uitstek die tyd dat 'n
peerboom besonder vatbaar is vir
stres en hewiger as onder ander
omstandighede op stresfaktore reageer.
[23] Terbutielasien,
soos trouens die ander triasienes, beskadig 'n plant deur die
fotosinteseproses in die blare te inhibeer.
Die inhibering van
fotosintese het die neiging om die gewas se energiereserwes uit te
put en sodoende sy gesondheidstatus te benadeel.
Dit is wat die
stres veroorsaak. Dit is gemene saak dat Folar binne die veertig tot
vyftig dae -tydperk toegedien is. Dit is
ook gemene saak dat 'n
peerboom gedurende hierdie kritieke tyd so vatbaar is vir stres dat
'n verhoogde vrugteval, selfs sonder
fitotoksisiteitsimptome, nie
vreemd sou wees nie. Dit was nie onder die kundiges aan beide kante
in geskil dat die toediening
van die Folar tot verhoogde afspening
van vruggies aanleiding kon gegee het nie. Die geskil was of dit wel
gebeur het.
[24] Dit
was vroeg in die seisoen reeds opmerklik dat daar met die oes iets
fout was. Namens Ciba is die getuienis dat daar minder
as die
verwagte aantal peertjies aan die bome was, nie bevraagteken nie.
Wat wel bevraagteken is, is of hierdie afname in getalle
aan 'n
verhoogde vrugteval te wyte was. Nóg De Clercq nóg
Langenhoven, die boordbestuurder, het gedurende November
1994 enige
tekens van so 'n buitengewone vrugteval onder die bome opgemerk. Na
ons mening val dit nie vreemd op nie. Die vruggies
was op daardie
stadium baie klein en hulle getalle sou nie maklik op die ongelyke
oppervlakte van die boorde geskat kon word nie.
Miljoene vruggies
word elke jaar in die Lushofboorde afgespeen. Dit is nie moontlik om
deur toevallige waarneming vas te stel
of daar 'n paar miljoen meer
of minder op die grond l
ê
nie. So iets sou moontlik by noukeurige ondersoek bepaal kon word,
maar daar was op die stadium van die vrugteval geen rede om
'n
verhoogde vrugteval te vermoed nie.
[25] Nietemin
is daar namens Ciba betoog dat die versuim van die twee bestuurders
om meer afgespeende vruggies as wat verwag sou
word op die grond waar
te neem, nie daarop dui dat die vruggies nie afgeval het nie maar
eerder dat hulle nooit gevorm was nie.
Vir hierdie betoog is gesteun
op die verskynsel van ‘alternatiewe drag’.
[26] Die
November-val is nie 'n peerboom se enigste eienaardige eienskap nie.
'n Verdere kenmerk is dat die aantal vrugte wat dit
in 'n betrokke
seisoen dra, in die breë gesproke reeds grotendeels in die
vorige seisoen bepaal word. Hoe meer vrugte die
boom in die vorige
seisoen dra, hoe kleiner is die drag in die daaropvolgende seisoen.
Dit is so omdat die aantal knoppe wat in
reproduktiewe organe (in
teenstelling met vegetatiewe organe) ontwikkel deur die aantal sade
in die vorige seisoen bepaal word.
Hulle skei 'n hormoon af wat die
vorming van reproduktiewe knoppe inhibeer.
[27] Op
'n goed bestuurde peerplaas word die natuur egter nie toegelaat om sy
gang te gaan nie. Kundige bestuurspraktyke soos snoei
en uitdun van
die bome beperk die effek van hierdie verskynsel. Deur vrugte in die
vorige seisoen van die boom te verwyder (en
sodoende te sorg dat
minder sade uiteindelik gevorm word), word die potensiaal vir
blomknopvorming in die daaropvolgende seisoen
verhoog.
[28] Daar
is geen aanduiding dat snoei- of ander bestuurspraktyke voor die
1994/5 seisoen swakker was as in ander jare nie. Inderdaad
was die
onbetwiste getuienis dat dit steeds dieselfde was. Die seisoenale
afwykings vergeleke met vorige jare en ander plase in
die omgewing
was nie naastenby groot genoeg om die drastiese afname in die 1994/5
oes op die grondslag van alternatiewe drag te
verklaar nie.
[29] Die
oorwig van waarskynlikhede dui derhalwe daarop dat dit die verhoogde
November-val was, en nie alternatiewe drag nie, wat
vir die afname in
produksie verantwoordelik was.
Die aansoek om wysiging
[30] Die
moontlike oorsake vir die skade het almal een vir een weggeval. Al
suggestie van Ciba se kant wat oorgebly het, was dat
daar 'n oordosis
Folar op die pere toegedien is. As 'n verweer is dit egter nie
aanvanklik gepleit nie. Daar is geen aanduiding
dat Ciba op enige
tydstip tydens die ter plaatse ondersoeke of met die voorbereiding
van die pleitstukke, of selfs vir verreweg
die grootste gedeelte van
die verhoor, enige bedenkinge oor die nougesetheid van die toediening
van Folar op Lushof gekoester het
nie.
[31] Bedenkinge
het veel later en van die kant van deskundiges gekom wat uit
Switserland hierheen ontbied is om getuienis oor sekere
tegniese
aspekte te lewer. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat wanneer
'n mens die area wat volgens Van Staden bespuit
is in die aantal
liters Folar indeel wat vir die bespuiting van die Lushofboorde
aangekoop is, dit op 'n dosering van tot dubbel
soveel liter per
hektaar uitwerk as wat voorgeskryf is. Op grond van hierdie
berekening het Ciba dus op die nege-en-twintigste
dag van die verhoor
aansoek gedoen om sy pleit te wysig deur toediening van die middel in
stryd met die etiketvoorwaardes as 'n
nuwe strydpunt te opper.
[32] Sowel
Lushof Plase as Van Staden het die aansoek te
ë
gestaan.
Die verhoorregter het dit in die uitoefening van sy diskresie
geweier. Hierdie weiering is een van die bevele wat op
appè
l
aangeveg word.
[33] Aangesien
die weiering om die wysigingsaansoek te
ë
te staan 'n diskresion
ê
re
aangeleentheid was, moes Ciba op appè
l
aantoon dat die uitoefening van die verhoorregter se diskresie
gebrekkig was. Wat in dié verband veral in gedrang was,
was
of die verhoorhof se bevinding dat die aansoek nie 'n ‘triable
issue’ geopper het nie, korrek was.
[34] In
Trans-Drakensberg Bank
Ltd (under judicial management) v Combined Engineering (Pty) Ltd &
Another
1967 (3) SA
632
(D) is op 641A-B gesê:
‘
Having already made his
case in his pleading, if he wishes to change or add to this, he must
explain the reason and show
prima
facie
that he has
something deserving of consideration, a triable issue; he cannot be
allowed to harass his opponent by an amendment
which has no
foundation. He cannot place on the record an issue for which he has
no supporting evidence, where evidence is required,
or, save perhaps
in exceptional circumstances, introduce an amendment which would make
the pleading excipiable. ...’
Die
betrokke uitlating van Caney R word met goedkeuring deur Corbett HR
aangehaal in
Caxton
Ltd and Others v Reeva Forman (Pty) Ltd and Another
[1990] ZASCA 47
;
1990
(3) SA 547
(A) te 565G-I. Ook die volgende stelling van De Villiers
RP in
Krogman v Van
Reenen
1926 OPD 191
te 195 word daar goedgekeur:
‘…
[H]e must show,
for instance, that the matter involved in the amendment is of
sufficient importance to justify him in putting the
Court and the
other party to the manifold inconveniences of a postponement …’
Blykens
die aangehaalde
dicta
kan ‘triable issue’ verstaan word in die sin van:
(a) 'n geskilpunt wat, selfs al
sou dit aan die hand van die getuienis wat die applikant in sy
aansoek in die vooruitsig stel, bewys
word, nie lewensvatbaar of
relevant sou wees nie; of
(b) 'n geskilpunt wat op die
waarskynlikhede nie deur die getuienis wat aldus in die vooruitsig
gestel word, bewys sou wees nie.
In die
onderhawige geval bevind die verhoorhof:
‘In hierdie omstandighede
was ek nie oortuig dat die nuwe verweer wat verweerder wou
introduseer “something worthy
of consideration” was nie
of, andersom gestel, dat die geskilspunt wat tweede verweerder wou
invoer, inderdaad een was waarvoor
daar “supporting evidence”
bestaan het nie.’
Hieruit
wil dit voorkom of die verhoorhof 'n ‘triable issue’ in
die tweede sin hierbo vermeld, in gedagte gehad het.
Die vraag is of
hy sy diskresie in dier voege korrek uitgeoefen het.
[35] Die
verhoorregter het die vertraging met die bring van die aansoek in die
lig daarvan betrag dat die beoogde wysiging 'n ingrypende
nuwe
verweer sou invoer (dat daar nie aan die etiketvoorwaardes voldoen is
nie) sonder dat Ciba bereid was om te onthul watter
getuienis 'n
sleutelgetuie (Langenhoven) in die verband sou lewer. Hierdie
faktore het hy opgeweeg teen die benadeling wat die
vertraging vir
Lushof Plase en Van Staden sou beteken.
[36] Die
eerste aangeleentheid wat 'n aansoeker moet bewys, is dat hy nie met
die aansoek getalm het nadat hy van die bewysmateriaal
waarop hy wil
steun, bewus geword het nie.
In
casu
word aangevoer
dat dit eers laat in die verhoor met die kruisondervraging van Van
Staden bekend geword het dat slegs die sogenaamde
‘bankies’
en nie die hele oppervlakte van elke hektaar bespuit is nie. Hierdie
argument kan nie slaag nie. Die ‘bankies’
is 'n strook
weerskante van 'n ry peerbome, waar die meeste van die bome se
wortels voorkom. Dit is die gebied wat die boer onkruidvry
wil hê.
In die middel tussen elke ry bome bly daar 'n strook oor wat nie met
onkruiddoder behandel word nie.
[37] In
sy nadere besonderhede op verhoor beweer Lushof Plase dat die
demonstrasie-toets wat in November 1993 op Lushof uitgevoer
is (en op
grond waarvan De Clercq oorreed is om Folar op die boorde te gebruik)
gedoen is op ‘die gewone onkruidstand op
die bankies in die
peerboorde’ nadat Lushof Plase geadviseer is ‘om die
bankies weerskante van die rye ooreenkomstig
gewone praktyk te
spuit’. Daar is nie deur Ciba aangevoer dat die demonstrasie
nie op hierdie wyse gedoen is of dat dit
nie die korrekte manier van
doen was nie.
[38] Die
boorde is op presies dieselfde manier bespuit. Ciba se plaaslike
deskundiges moes die opsigtelik onbespuite groen stroke
tydens hulle
ter plaatse ondersoeke gesien het. Dit het hulle klaarblyklik nie as
vreemd opgeval nie. Die waarskynlikste afleiding
hieruit is dat dit
die beproefde manier is waarop vrugteboorde teen onkruid bespuit word
en dat dit die rede was dat die betreklik
eenvoudige berekening
waarmee die Switserse deskundiges later vorendag gekom het (die
indeel van die bespuite oppervlakte in die
aantal liters gebruikte
Folar) nie deur die plaaslike verteenwoordigers gedoen is nie.
[39] Die
mees voor die hand liggende oorsaak van fitotoksisiteit in
gewasplante is sekerlik onnoukeurige toediening van 'n onkruiddoder.
Mens weet dat Ciba so onthuts was deur wat in die Lushofboorde
waargeneem is dat sy ondersoekers, op een na, geweier het om te
aanvaar dat wat hulle sien fitotoksisiteitsimptome kon wees. Hulle
sou nie so seker van hulle saak kon wees tensy hulle allereers
die
kwessie van oordosering as 'n moontlike oorsaak van fitotoksisiteit
uitgeskakel het nie. Daar is dan ook nie tydens die wysigingsaansoek
aan die hand gedoen dat die kwessie van juiste dosering nooit deur
Ciba se kundiges oorweeg is nie.
[40] Dit
is nie asof bewysmiddele ontbreek het nie. Langenhoven was op
daardie stadium deel van Ciba se geledere. Sy getuienis
was vir Ciba
beskikbaar. Hy het destyds beheer oor die bespuiting uitgeoefen.
Van almal sou hy by uitstek bewus gewees het van
hoeveel van die
middel doseer is. As hy enigsins huiwerig was oor die kwessie van
oordosering sou die geskilpunt stellig reeds
op daardie stadium
geopper gewees het.
[41] Na
die erkenning op die twaalfde dag van die verhoor dat die bome wel
vergiftig is, sou mens aanvaar dat die moontlikheid van
oordosering
as oorsaak van die fitotosisiteit weer ernstige aandag sou geniet
het. Daar was immers niks anders meer wat Ciba as
verontskuldiging
van die simptome kon aanvoer nie.
[42] Op
die stadium toe die nuwe verweer geopper is, was die sake van beide
Lushof Plase en Van Staden reeds gesluit. Albei sou
hul sake moes
heropen en getuies sou teruggeroep moes word om die nuwe bewerings
die hoof te bied. Hoe groter die ontwrigting
wat deur 'n wysiging
veroorsaak word, hoe groter word die vergunning wat aangevra word,
en, daarmee gepaardgaande, die las wat
op 'n applikant rus om 'n hof
te oorreed om hom tegemoet te kom.
[43] Alhoewel
dit dikwels nie in die geval van 'n vroeëre en minder
ontwrigtende aansoek aangewese is om van 'n applikant te
vereis om
aan te dui hoe hy voornemens is om sy gewysigde saak voortaan te
bewys nie, sou 'n applikant se vooruitsig om op die
feite met 'n nuwe
gedingsoorsaak te slaag, in 'n geval soos hierdie weldeeglik 'n
element in die uitoefening van 'n hof se diskresie
wees.
[44] In
die onderhawige geval is daar, soos reeds gesê, nege-en-twintig
dae na die aanvang van die verhoor 'n ingrypende wysiging
aangevra
sonder dat Ciba bereid was om te onthul wat sy getuie, Langenhoven,
oor die onderwerp te sê sou hê. Dit het
per slot van
sake nie net oor die totale hoeveelheid Folar wat gespuit is, gegaan
nie, maar ook oor die kalibrering van die spuitpomp
en die snelheid
waarmee die trekker waarop die pomp gemonteer is, deur die boorde
beweeg. Langenhoven het van al hierdie dinge
eerstehandse kennis
gedra. Ons meen nie dat dit 'n onbillike uitoefening van die
verhoorregter se diskresie was om te vereis dat
Ciba moes aandui wat
die vooruitsig was dat die veelbesproke deelsom nie maar net 'n
interessante berekening was nie.
[45] Die
aansoekstukke toon voorts dat Lushof Plase en Van Staden ernstig deur
die vertraging met die aanvra van die wysiging benadeel
sou word.
Volgens Lushof Plase was dit geen uitgemaakte saak dat al die Folar
wat aangekoop is inderdaad uitgespuit is nie. Dit
gebeur byvoorbeeld
dat 'n nuwe werkspan 'n nuwe houer oopmaak terwyl daar nog gifstof in
'n reeds oopgemaakte houer oorbly. Die
enigste getuienis oor hoeveel
Folar kort na bespuiting daarvan in die gifstoor oorgebly het, was
dié van een van Lushof
Plase se deskundiges, Hartman.
Aangesien dit tóé nie 'n geskilpunt was nie, het
niemand dit nodig gevind om die
akkuraatheid van sy waarneming of
herinnering te ondersoek nie en sy getuienis dat die middel korrek
doseer is, is deur niemand
betwyfel nie. Nadat die gifstoor op
Lushof skoongemaak en ou en halfleë houers ingevolge 'n
aansporingskema aan die Departement
van Landbou vir gratis
vernietiging oorhandig is, het fisiese aanduidings van hoeveel Folar
moontlik ná toediening in houers
in die stoor oorgebly het,
finaal verlore gegaan.
[46] Na
ons mening was die verhoorhof dus reg om die aansoek om wysiging te
weier. En in die afwesigheid van enige ander aanvaarbare
verklaring
vir die bewese skade is die uiteinde van al die aangebode getuienis
en die waarskynlikhede dat die Folar wel volgens
die
etiketvoorwaardes aangewend is en nogtans fitotoksisiteit in talle
van die peerbome op die plase veroorsaak het. Teen dié
agtergrond moet die onderskeie eisoorsake in oënskou geneem
word.
Lushof
Plase se eis teen Van Staden
[47] Van
Staden was 'n handelaar wat onder die naam Aljoco Landbouprodukte
onder meer landbougifstowwe aan die boeregemeenskap in
die
Ceres-omgewing verkoop het. Lushof Plase was een van sy gereelde
klante. Deur die jare sedert 1988 het hy Lushof Plase van
deskundige
advies oor sodanige produkte bedien, eers as verkoopsman van Ciba en
na 1993 in eie hoedanigheid. Gedurende die periode
September-Oktober
1994 het hy altesaam 580 liter Folar aan Lushof Plase verkoop wat
deur Lushof Plase, op twee boorde na, op al
sy pere toegedien is.
[48] Blykens
die gevolgtrekking in para [46] hierbo, het Folar in meerdere of
mindere mate skade aan die peerbome, jonk en oud,
op Lushof berokken.
In navolging van Pothier,
Contrat
de Vente
, para 214
(vgl Zimmermann
, The
Law of Obligations
334-6), word 'n handelaar wat na buite voorgee dat hy oor
deskundigheid ten aansien van die ware wat hy verkoop, beskik, by ons
met die
actio empti
teenoor die koper aanspreeklik gehou indien laasgenoemde ten gevolge
van verborge gebreke in die koopsaak gevolgskade ly (
Kroonstad
Westelike Boere-Ko-operatiewe Vereniging Bpk v Botha and Another
1964 (3) SA 561
(A);
Holmdene
Brickworks (Pty) Ltd v Roberts Construction Company Ltd
1977 (3) SA 670
(A) te 682H-683C;
Sentrachem
Bpk v Wenhold
1995
(4) SA 312
(A);
Sentrachem
Ltd v Prinsloo
1997
(2) SA 1
(A);
Langeberg
Voedsel Bpk v Sarculum Boerdery Bpk
[1995] ZASCA 148
;
1996 (2) SA 565
(A)). In
Holmdene
Brickworks (Pty) Ltd v Roberts Construction Company Ltd,
supra,
word 'n verborge gebrek op 683H omskryf as:
‘
an abnormal quality or
attribute which destroys or substantially impairs the utility or
effectiveness of the
res
vendita
, for the
purpose for which it has been sold or for which it is commonly used’.
[49] Soos
uit die vroeëre bespreking blyk, het Folar wat teen die
voorgeskrewe dosis in die Lushof-boorde op pere toegedien
is, sodanig
geloog dat die gif wat die haarwortels van die bome bereik het en wat
aldus deur die bome opgeneem is, nie voldoende
deur talle van die
bome gemetaboliseer kon word nie. Ofskoon Folar as onkruiddoder
doeltreffend is, het dit op Lushof die newewerking
gehad dat dit van
die bome se vermoë om vrugte te lewer, benadeel het; en sodoende
voldoen dit aan die pas vermelde omskrywing
van 'n verborge gebrek,
te meer daar die gebruiksaanwysings geen melding maak van dié
besondere risiko wat Folar juis vir
peerbome inhou nie (vgl
Mordt
NO v Union Government
1939 TPD 103
te 105).
[50] Dat
Van Staden voorts oor die soort deskundigheid beskik het wat in die
Kroonstad Westelike
Boere-Ko-operatiewe Vereniging Bpk
-saak,
supra
,
op 571H as vereiste vir aanspreeklikheid gestel word (‘where he
publicly professes to have attributes of skill and expert
knowledge
in relation to the kind of goods sold’), is voor die verhoorhof
betwis maar in hierdie hof toegegee. Aan die voorvereistes
vir
aanspreeklikheid van 'n kundige handelaar-verkoper teenoor die koper
van ware wat aan 'n verborge gebrek mank gaan, is daar
dus wel
voldoen.
[51] Voor
hierdie hof is daar namens Van Staden betoog dat die tot nou toe
aanvaarde aanspreeklikheid van die kundige handelaar,
soos dit in ons
reg onwikkel het, in heroorweging geneem moet word. Hierop is daar
vir huidige doeleindes drie antwoorde. In
die eerste plaas, vir
sover die betoog gemik is teen die verhoorhof se bevinding dat Van
Staden teenoor Lushof Plase aanspreeklik
was, is die betoog buite
orde aangesien Van Staden geen aansoek gerig het om verlof om teen
die verhoorhof se bevinding in dier
voege appèl aan te teken
nie. In die tweede plaas is die algemene tema van die stemme wat
teen die reël, soos dit
in die
Kroonstad
Westelike Boere-Ko-operatiewe Vereniging
-saak
geformuleer is, opgaan, nie soseer om die handelaar se posisie
vis-à-vis die koper te verbeter nie, maar eerder om
die koper
se posisie teenoor die handelaar te verstewig (vgl McQuoid-Mason,
Consumer Law in South
Africa
, 107-110).
Dit help Van Staden nie. In die derde plaas sou dit weinig sin hê
om in hierdie saak verder op die tema voort
te borduur aangesien die
vereistes vir Van Staden se aanspreeklikheid opsigtelik aanwesig was,
sodat enige verdere opmerkinge oor
die regsgrondslag van sy
aanspreeklikheid in ieder geval bloot
obiter
sou wees.
[52] Dat
die hof
a quo
dus reg was om Van Staden teenoor Lushof Plase aanspreeklik te stel,
behoef geen verdere betoog nie.
Van
Staden se eis teen Ciba
[53] Van
Staden het dit nie goed gedink om LCV van wie hy die Folar aangekoop
het as derde party te voeg nie. Instede daarvan het
hy vir Ciba
gevoeg. Tussen hom en Ciba het daar egter geen direkte kontraktuele
band bestaan nie. Nietemin het die ooreenkoms
tussen LCV en Van
Staden 'n klousule bevat wat soos volg gelui het:
‘
WARRANTY:
10.1 The Manufacturer [Ciba]
warrants title to all the Products sold hereunder and that all the
Products sold hereunder shall conform
to the Manufacturer’s
specifications for such Products; subject to this warranty and
except as otherwise expressly provided
herein, the Manufacturer makes
no representations or gives no warranties of any kind, express or
implied, as to merchantability,
fitness for particular purpose, or
any other matter with respect to the Products, whether used alone or
in combination with other
substances.
10.2 No warranty in respect of
the Products shall be binding on the Manufacturer and/or LCV unless
the warranty is reduced to writing
by the Manufacturer and/or LCV.’
[54] Die
eerste deel van klousule 10.1 bevat 'n waarborg wat deur Ciba
verstrek word; die tweede deel 'n inkorting van aanspreeklikheid
waarvoor Ciba andersins sou moes instaan. Op die oog af onderneem
Ciba dus aan die een kant 'n verpligting en ontvang hy aan die
ander
kant 'n voordeel in 'n kontrak waartoe hy self nie 'n party was nie.
Die ooreenkoms waartoe Ciba wel 'n party was, naamlik
dié
tussen hom en LCV, het 'n feitlik gelykluidende klousule (ook
genommer 10.1) bevat. Tussen Ciba en Van Staden was dit
voor die
verhoorhof gemeensaak - en so is dit ook deur die verhoorhof aanvaar
- dat die klousule in die ooreenkoms tussen LCV en
Van Staden op 'n
beding ten behoewe van Ciba neerkom wat Ciba wel aanvaar het. Dit is
stellig so, ten minste wat die tweede deel
daarvan betref. Op
presies dieselfde grondslag moet die eerste deel van die klousule in
die ooreenkoms tussen LCV en Ciba (die
waarborg) dus ook op 'n beding
ten behoewe van Van Staden neerkom, te meer daar Van Staden, blykens
klousule 2.2 van die ooreenkoms
wat in para [6] hierbo aangehaal is,
met Ciba se voorafgaande goedkeuring as sub-verspreider aangestel
was. Die voordeel wat aldus
vir Van Staden in Ciba se ooreenkoms met
LCV beding is, het Van Staden aanvaar toe hy, teen die agtergrond van
'n dergelike bepaling,
sy ooreenkoms met LCV aangegaan het. Teenoor
Ciba kan Van Staden hom dus op die klousule beroep. Die twis tussen
Ciba en Van
Staden het nie oor die bestaan van so 'n verbintenis
tussen Ciba en Van Staden gegaan nie, maar oor die vertolking
daarvan.
[55] Volgens
die betoog wat namens Ciba voorgedra is, staan Ciba slegs in vir die
korrektheid van die ‘specifications’;
‘specifications’
beteken die bestanddele of samestelling van Folar, te wete, glifosaat
en terbutielasien in die aangewese
verhouding; ‘specifications’
sluit volgens hierdie siening dus
nie
ander eienskappe, deugde of ondeugde van Folar in nie. Anders, so is
betoog, sou die eerste deel van die klousule met die daaropvolgende
frase (‘the manufacturer makes no representations or gives no
warranties of any kind, express or implied, as to the
merchantability,
fitness for particular purpose or any other matter
with respect to the product’) bots; Ciba kan immers nie in een
asem vir
verborge gebreke in die middel sowel instaan as nié
instaan nie.
[56] Volgens
die betoog wat daarenteen namens Van Staden voorgedra is, kan daar
nie aan ‘specifications’ so 'n beperkte
betekenis geheg
word nie. ‘Specifications’ sluit volgens dié
betoog alle verborge gebreke in die produk in.
[57] Die
woord ‘specifications’ kom ook in klousule 11 van albei
ooreenkomste voor en as dit daar 'n bepaalde betekenis
dra, kan
aanvaar word dat dit in klousule 10.1 van elke ooreenkoms 'n
dergelike betekenis het. Klousule 11.1 van die Van Staden-ooreenkoms
lui, onder die algemene opskrif ‘Product Liability and
Insurance’, soos volg:
‘
The
Distributor [Van Staden] shall have no claim of whatsoever nature
against the Manufacturer [Ciba] arising out of or in connection
with
any information or advice given by the Distributor, his employees or
servants to a customer contrary to the specifications
of the Products
or the provisions of this agreement.’
In
klousule 10.1 lui die uitdrukking ‘specifications
for
such Products’; in klousule 11 is dit ‘specifications
of
the Products’; maar dié verskil is onses insiens van
geen belang nie. Die uitdrukking lui ‘information or advice
…
contrary
to the specifications’ en nie ‘
as
to
the
specifications’ nie. Word ‘specifications of the
Products’ vertolk soos Ciba dit wil hê, maak klousule
11
eintlik weinig sin. Dit voorveronderstel dat Van Staden aan 'n klant
'n verkeerde voorstelling maak dat daar óf geen,
óf
meer, óf minder glifosaat of terbutielasien (na gelang van die
geval) in Folar voorkom as wat op die etiket aangedui
word. Mens kan
jou voorstel dat die klant in so 'n geval 'n eis teen Van Staden kon
hê, indien hy as gevolg daarvan skade
ly, maar dit is haas
ondenkbaar dat Van Staden op sy beurt op enige grondslag dan 'n eis
teen Ciba sou hê, sodat daar hoegenaamd
geen nodigheid vir Ciba
bestaan om sy eie aanspreeklikheid vir so 'n geval uit te sluit nie.
Dit is moeilik in te sien waarom
vir so 'n onwerklike eventualiteit
spesiale voorsiening gemaak sou word. Indien aan ‘specifications’
die betekenis
geheg word wat Ciba voorstaan, is sy waarborg in
klousule 10.1 in werklikheid waardeloos en sy uitsluiting van
aanspreeklikheid
in klousule 11 eintlik sinneloos.
[58] Daarenteen
sou beide klousules weldeeglik sin hê as ‘specifications’
vertolk word as ‘voorstellings
wat Ciba in sy amptelike
dokumentasie ten opsigte van die aanwesigheid van deugde en die
afwesigheid van ondeugde in die produk
maak’. As
‘specifications’ hierdie wyer betekenis dra, beteken dit
dat die tweede deel van klousule 10.1 vertolk
moet word om te lees:
‘… the manufacturer makes no
other
representations or gives no
other
warranties of any kind …’ en dat ‘fitness for a
particular purpose’ in klousule 10.1 op die ‘fitness’
van die middel as onkruiddoder slaan en nie op sy moontlike
‘unfitness’ in die sin van fitotoksisiteit nie.
[59] Volgens
klousule 11 het Van Staden (of LCV) geen eis teen Ciba ten opsigte
van inligting of advies wat gegee is ‘
contrary
to the specifications of the product’. By implikasie beteken
dit dat as inligting of advies
ooreenkomstig
sodanige spesifikasies gegee is, Ciba se aanspreeklikheid, wat hy
andersins sou opgedoen het, nie deur klousule 11 uitgesluit word
nie;
omgekeerd gestel, as Van Staden ooreenkomstig die spesifikasies
enige inligting of advies verstrek, dat enige regres wat
hy andersins
teen Ciba mag hê nie deur klousule 11 uitgesluit word nie.
[60] Na
ons mening dra ‘specifications’ nóg die enger
betekenis (van die samestelling van die produk) wat Ciba
daaraan
probeer heg, nóg die breër betekenis (van afwesigheid van
enige verborge gebreke) wat Van Staden daaraan probeer
heg. Die
woord beteken na ons mening: ‘Ciba se positiewe voorstellings
in sy amptelike dokumentasie oor die produk en sy
eienskappe,
insluitende sy samestelling’. Dit sluit dus nie 'n algemene
afwesigheid van verborge gebreke in nie, behalwe
vir sover dit deel
uitmaak van die positiewe voorstellings. Saamgelees met die tweede
deel van klousule 10.1 staan Ciba dus nie
vir die verkoopbaarheid of
die noodwendige doeltreffendheid van die middel as onkruiddoder in
nie.
[61] Dié
vertolking (dat ‘specifications’ nie slegs op die
samestelling van die produk slaan nie maar op Ciba
se eie
voorstellings ten opsigte van die produk), sluit aan by die woorde in
klousule 10.1 ‘and except as otherwise expressly
provided
herein’. ‘Herein’ slaan op die ooreenkoms. Twee
klousules van die ooreenkoms is hier ter sprake, te
wete, klousule
6.7 en 6.12. Dié klousules lees onderskeidelik:
‘Undertakings
by the distributor
The
Distributor [Van Staden] undertakes:
6.7 not, in offering the
Products for sale, to make any representations or offer or give any
warranties in respect thereof other
than those contained in any
leaflets or other printed matter in relation to the Products which
are issued from time to time by
the Manufacturer or are authorised by
the Manufacturer in writing;
6.12 to distribute the Products
only for the purposes and uses stated on the labels of the Products;
…’
[62] Die
klousules plaas 'n verpligting op Van Staden om te let op die
‘purposes and uses stated on the labels’ en veroorloof
hom om voorstellings en waarborge te verstrek ten opsigte van
inligting en materiaal wat in ‘any leaflets or other printed
matter in relation to the products which are issued from time to time
by the manufacturer’ voorkom. Onder dié inligting
en
materiaal, so is namens Ciba toegegee, hoort die opleidingsmodule
waarna in para [2] hierbo reeds verwys is. Daarin word die
gewasveiligheid van Folar vir onder meer pere beklemtoon. Onses
insiens kan dit nie anders vertolk word as dat Ciba via klousule
10.1
vir die akkuraatheid van daardie inligting teenoor Van Staden instaan
nie. Die gevolg is dat Van Staden, indien hy op grond
van
gewas-onveiligheid teenoor 'n klant, soos Lushof Plase, aanspreeklik
gehou word, ingevolge die klousule 'n regres teen Ciba
sou hê.
Dit maak volkome sin. Die teendeel, naamlik dat Van Staden teenoor
die klant aanspreeklik sou wees (indien dit
sou blyk dat so 'n klant
ten gevolge van verkeerde stellinge wat Ciba uitgereik het en wat Van
Staden weer aan die klant oorgedra
het, skade gely het), maar dat
Ciba dan nie teenoor Van Staden aanspreeklik sal wees nie, is
onhoudbaar. In die onderhawige geval
is dit presies wat gebeur het.
In Ciba se dokumentasie word die gewasveiligheid van die produk
uitgespel. De Clercq het teenoor
Van Staden bedenkinge uitgespreek
vanweë sy vroeëre ervaring met simasien, maar Van Staden
het hom omgepraat, op grond
van die inligting wat Ciba aan hom
oorgedra het, dat Folar veilig is vir gebruik in Lushof se boorde.
Dit grens aan oneerbaarheid
van Ciba om sy skouers in so 'n geval in
onskuld op te haal terwyl hy Van Staden vir die wolwe opoffer.
[63] Uit
die bogaande volg dit dan dat Van Staden van Ciba kan verhaal enige
bedrag, insluitende koste, wat hy op grond van die
gewas-onveiligheid
van Folar, en uit hoofde van die
actio
empti
, aan Lushof
Plase verskuldig mag wees. Waar hy dit op grond van die indemniteit
kan doen, is dit onnodig om op die verdere vraag
in te gaan of hy dit
nie bowendien op grond van delik sou kon doen nie. 'n Gelyksoortige
vraag kom juis in die volgende afdeling,
dié keer ten opsigte
van Lushof Plase, ter sprake.
Lushof
Plase se eis teen Ciba
[64] Lushof
Plase se eis teen Ciba is deliktueel van aard. Dit is gegrond op
Ciba se beweerde nalatigheid om 'n produk wat onder
meer vir pere
bestem was sonder afdoende voorafgaande proewe (juis op pere) te
vervaardig en te versprei waar die aanwending daarvan
op die
aanbevole wyse op peerbome vir die verbruiker potensieël
skadelik was. Vir sover Lushof Plase die middel nie direk
by Ciba
aangekoop het nie (en wat Ciba betref dus 'n derde is), kom sodanige
beweerde aanspreeklikheid neer op wat soms as ‘product
liability’ bekend staan.
[65] Ciba
se antwoord op dié eisoorsaak is tweërlei. Eerstens is
gesê dat die verhoorhof nêrens bevind
het wat Ciba se
‘duty of care’ teenoor Lushof Plase kwansuis sou wees nie
en tweedens het Lushof Plase nie bewys dat
Ciba in enige opsig
nalatig was nie.
[66] Wat
die ‘duty of care’ betref, so is betoog, kon dit slegs op
ooreenkoms berus; en aangesien Ciba geen ooreenkoms
met Lushof Plase
gehad het nie, was daar dus geen onregmatigheid nie. Dié
betoog is mis. Ciba se aanspreeklikheid het
weliswaar sy historiese
ontstaan in 'n ooreenkoms tussen Ciba en LCV gehad maar
aanspreeklikheid wat uit die vervaardiging en verskaffing
van 'n
produk voortspruit wat vanweë die een of ander tekortkoming
fisiese skade berokken, strek via die ander kontraksparty
na enige
derde uit wat dit op die voorgeskrewe wyse aanwend en as gevolg
daarvan skade ly (vgl
Cooper
and Nephews v Visser
1920 AD 111
te 114;
Tsimatakopoulos
v Hemingway, Isaacs and Coetzee CC and Another
1993
(4) SA 428
(C) te 433A-E; 435H-I; Neethling, Potgieter &
Visser,
The Law of
Delict
(3de uitg) 321
en volgende). Dat so 'n vervaardiger volgens die regsoortuiging van
die gemeenskap verkeerd en dus onregmatig optree
indien hy 'n produk
kommersieël beskikbaar stel wat in die loop van sy bestemde
gebruik en as gevolg van 'n gebrek vir 'n
verbruiker daarvan skade
veroorsaak, volg eintlik vanself (vgl De Jager,
Vervaardigingsaanspreeklikheid
,
629-632). Reeds in 1954 verklaar Van den Heever AR in
Herschel
v Mrupe
1954 (3) SA
464
(A) te 486F-487A:
‘
By
omitting what seems to me surplusage, the principle can be stated by
adapting LORD ATKIN’S own words [in
Donoghue v Stevenson
[1931] UKHL 3
;
1932 AC 562
at 580]:
“
A manufacturer of
products, which he sells in such a form as to show that he intends
them to reach the ultimate consumer in the
form in which they left
him with no reasonable possibility of intermediate examination, and
with the knowledge that the absence
of reasonable care in the
preparation or putting up of the products will result in an injury to
the consumer’s life or property
is answerable to a consumer who
has suffered injury or loss as a result of negligence in such
preparation or putting up.”
By
putting into circulation potentially harmful things in that manner
the manufacturer is not merely exercising a legal right but
is
encroaching upon the rights of others not to be exposed, when going
about their lawful occasions and when accepting the implied
general
invitation to acquire and use such commodities, to danger without
warning and without their having a reasonable opportunity
to become
aware of such danger before use. In other words, it is an
encroachment upon the rights of others to set hidden snares
for them
in the exercise of their own rights. To refrain from doing so is a
duty owing to the world at large and in no sense owing
to certain
persons in advance and in particular.’
[67] In
so 'n geval waar skade aan 'n persoon of sy saak ter sprake is en dit
in wese om die dader se nalatigheid gaan, is dit nie
gebruiklik om in
die pleitstukke formeel na onregmatigheid te verwys nie;
onregmatigheid kom meer pertinent in gedrang waar dit
om 'n late of
om suiwer ekonomiese skade of om 'n regverdigingsgrond gaan wat deur
die teenparty geopper word. Aldus is in verband
met 'n late in
Cape
Town Municipality v Bakkerud
2000 (3) SA 1049
(SCA) te 1054H gesê:
‘
But the existence of
culpa
only becomes relevant sequentially after the situation has been
identified as one in which the law of delict requires action’,
waarop
die voetnoot volg:
‘
It would of course be
permissible, in an appropriate case, where it seems clear that, on
any view of the scope of such legal duty
to act as could conceivably
be imposed in the first phase, the defendant has not behaved in a
blameworthy fashion according to
the traditional test for
culpa
,
to omit the first phase, to assume against the defendant that he was
not free in law to refrain from any action, but to acquit
him of
liability because of the absence of any
culpa
.’
Dieselfde
oorweginge geld ook hier. Die verweer dat onregmatigheid nie beweer
of bewys is nie, kan dus nie opgaan nie.
[68] Wat
nalatigheid betref, het Lushof Plase nie betoog dat Ciba sonder meer
en sonder skuld aanspreeklik gehou behoort te word
nie. Lushof Plase
se benadering was dat Ciba se aanspreeklikheid in wese
aquilies
is en bewys van nalatigheid verg. Dit is in ooreenstemming met ons
tans geldende positiewe reg (vgl
Lennon
Ltd v British South Africa Company
1914 AD 1
;
A Gibb &
Son (Pty) Ltd v Taylor & Mitchell Timber Supply Co (Pty) Ltd
1975 (2) SA 457
(W); Neethling, Potgieter en Visser,
supra
,
322; De Jager, supra, 581-597; McQuoid-Mason
,
supra,
95). Of, en
onder presies watter skakeringe van omstandighede, daar om
regspolitiese redes 'n behoefte tot 'n radikale frontverandering
ten
gunste van strikte aanspreeklikheid van die vervaardiger bestaan, is
in hierdie saak nie ondersoek nie en kom dus streng gesproke
nie ter
sprake nie (vgl McQuoid-Mason,
supra
,
108-110).
[69] Lushof
Plase se eisoorsaak is op nalatigheid geskoei. Die kern aantyging in
sy pleitstuk is dat Ciba versuim het ‘om
die graad van risiko
wat die middel Folar vir peerbome ingehou het’ en die
‘sensitiwiteit van peerbome vir die middel
van Folar’
voor die kommersiële vrystelling daarvan op 'n voldoende wyse
proefondervindelik te toets.
[70] Hiervan
sê die verhoorhof:
‘
[52] 'n Afleiding wat
myns insiens met vertroue gemaak kan word is dat toe die voorstelling
op die Folar etiket gemaak is dat die
middel met veiligheid in
peerbome aangewend kan word, Ciba se amptenare wat vir die
voorstelling verantwoordelik was, sekere dinge
nie geweet het nie.
Eerstens het hulle klaarblyklik nie geweet dat peerbome se
wortelstelsels dikwels vlakker as die van ander
kernvrugte soos
appels voorkom nie. Nog minder het hulle geweet presies hóé
vlak peerbome se wortels aangetref kan
word. Voorts het hulle nie
geglo dat terbutielasien so diep sal loog soos wat op Lushof gebeur
het nie. Die vraag is of hulle
hierdie dinge deur redelike sorg kon
geweet het.’
[71] Oor
dié vraag in al sy besonderhede en aspekte is daar deur albei
kante 'n magdom deskundige getuienis aangebied. Die
verhoorhof vat
Lushof Plase se deskundige getuies se besware soos volg saam:
‘
a. Nie een van die proewe
is in die Warm Bokkeveld wat die grootste peerproduserende area is -
en waar Lushof geleë is - gedoen
nie.
b. Die evaluasies is nie lank
genoeg gedoen nie. Evaluasie moet oor 'n langer tydperk en in
verskillende areas gedoen word om toe
te laat vir faktore soos
klimaat, grondvariasies en ander faktore om te manifesteer. Indien
toetse slegs in drie lokaliteite gedoen
is gedurende die bestek van
'n enkele maand is die risiko dat verkeerde afleidings uit resultate
gemaak kan word, onaanvaarbaar
groot.
c. Daar word geen aanduiding
gegee van hoe diep die wortelstelsels is van die peerbome wat getoets
was nie. Die ligte grond waarin
die proewe gedoen is regverdig die
afleiding dat wortels dieper was as wat byvoorbeeld op Lushof en baie
ander plase in die Warm
Bokkeveld die geval is.
d. Die proewe is almal op
dieselfde kultivar gedoen. Daar is 'n groot risiko daaraan verbonde
om registrasie van 'n onkruiddoder
op beperkte inligting van drie
toetse ten opsigte van een kultivar in een seisoen te baseer - indien
beoog word om 'n produk op
verskillende kultivars aan te wend behoort
die toetse op die verteenwoordigende kultivars gedoen te word.
e. Daar is nie, soos vereis,
proewe gedoen op bome van tussen 3 en 8 jaar nie. Soos gesê
was die bome by twee van die toetse
2 jaar oud en by die derde toets
12 jaar. By twee van die proewe is die evaluering van effek op
produksie gevolglik onmoontlik
gemaak. By die 12-jarige bome, waar
produksie wel getoets kon word, is geen oesmetings gedoen nie.’
[72] Ciba
se antwoord, by monde van veral Hugo, dr Lourens en dr Van Biljon, is
eerstens dat die nie-nakoming van die voorgeskrewe
riglyne vir
registrasie van die produk in Suid-Afrika opsigself geen aanduiding
van nalatigheid is nie. Dit is so. Insgelyks
is die goedkeuring van
die produk vir registrasie natuurlik geen waarborg dat daar geen
nalatigheid was nie. Dat Folar ook in
Chili, Frankryk, die destydse
Tsjeggo-Slowakye, Hongarye en Spanje op pere geregistreer is, is dus
nie deurslaggewend nie. Dit
hou nie met verskille in grond- en
klimaattoestande rekening nie. Voorts is gesê dat Ciba
jarelange ervaring met simasien
het, dat terbutielasien minder loog
as simasien en dat terbutielasien dus veilig geag kan word. (Dit was
juis vir simasien wat
de Clercq so skrikkerig was.) Die eintlike
vraag is of terbutielasien soveel minder as simasien loog dat dit die
peerbome óf
glad nie óf nie in beduidende hoeveelhede
bereik nie of, as dit tog die geval is, die boom dit sonder blywende
nadeel kan
metaboliseer.
[73] Wat
die deskundige getuies oor die algemeen betref, spreek die verhoorhof
'n voorkeur ten gunste van Lushof Plase se deskundiges
bo dié
van Ciba uit:
‘
Omdat
Hugo en Van Biljon vir Ciba werk terwyl Lourens vir die registrasie
van Folar op pere verantwoordelik was, was elkeen van
hulle in 'n
mindere of meerdere mate op die verdediging. Veral Hugo moet
ongelukkig vir negatiewe kritiek uitgesonder word. Sy
halsstarrigheid om 'n fout te aanvaar het in 'n groot mate die duur
van die verhoor verleng.’
[74] Teen
dié bevinding spreek Ciba op sy beurt kritiek uit. Volgens
Ciba berus die verhoorhof se gevolgtrekking op 'n bevinding
van
geloofwaardigheid eerder as deskundigheid. Dit is so dat die
verhoorhof teenoor veral Hugo en Strydom wat namens Ciba getuig
het,
krities gestaan het, maar sodanige kritiek was na ons mening gegrond.
Die opmerking dat Lushof Plase se deskundiges meer
onafhanklik en
meer objektief as Ciba s’n was, was geregverdig. Die
verhoorhof verstrek boonop 'n aantal redes waarom hy
origens aan
Lushof Plase se deskundiges voorkeur verleen. Dit is nie nodig om op
al die besonderhede daarvan in te gaan nie.
Kortom kan daar na ons
mening nie gesê word dat die verhoorhof se oordeel in dié
opsig so kennelik verkeerd was dat
sy gevolgtrekking daaroor verwerp
moet word nie.
[75] Feit
is dat Lushof Plase, om die redes wat reeds genoem is, aan sy
peerbome skade gely het. Die oorsaak daarvan was op die
waarskynlikhede die toediening van Folar as onkruidbestryder. Dat
Folar 'n goeie onkruiddoder is en dat dit ten opsigte van ander
gewasse as pere waarvoor dit geregistreer is nie skadelik is nie, kan
geredelik aanvaar word. Die probleem is dat peerbome oor
sekere
eienskappe beskik waarmee Ciba op die oog af nie voldoende rekening
gehou het nie. Soos uit para [18] hierbo blyk, as al
die faktore wat
absorbsie deur die wortels bepaal en al die faktore wat die boom se
vermoë om die opgeneemde hoeveelheid te
verwerk, in ag geneem
word, is daar, wat pere betref, 'n oneindige aantal risiko-profiele.
Vir die vervaardiger van 'n potensieel
skadelike middel is dit nodig
om voldoende veldtoetse te doen om al die verskillende permutasies
behoorlik te kan evalueer.
[76] In
die besonder wil dit voorkom of Ciba nie rekening gehou het met die
verhoogde stresvatbaarheid van peerbome in die 40-50
dae na die
volblomstadium nie. Van die drie fitotoksisiteitsproewe wat vóór
bekendstelling van die produk in die
1992/93 seisoen gedoen is, was
slegs een op volwasse bome. Die datum van die bespuiting was 27
Augustus 1992. Dit is nie bekend
of dit binne die kritieke tydperk
was nie, maar geen oesmeting is in elk geval geneem nie. Dit wil
voorkom of die probleme met
vrugset wat by peerbome voorkom geen
aandag geniet het nie. Dit is juis hierdie - bekende - kenmerk wat
volgens die eenstemmige
getuienis van die deskundiges die oesverlies
kon veroorsaak het.
[77] Die
tekens was daar dat iets met die peerbome en die verwagte oes geskeel
het. De Clerq was oorbluf toe Langenhoven gedurende
Januarie 1995 na
aanleiding van die vruggies aan die bome sy oesskatting vir die
seisoen aan hom voorgelê het. Hy was trouens
so verbaas dat hy
Langenhoven opdrag gegee het om die skatting opwaarts aan te pas.
Van Staden, Theron, Marais en ander deskundiges
is laat kom, almal op
soek na 'n rede vir die unieke swak vertoning. De Clerq het vroeg
reeds vermoed dat sy ou vrese oor die
onkruiddoder bewaarheid is en
dat die fout by die Folar gelê het. Ciba se deskundiges het
dit ontken maar kon, op die ou
end, geen ander houdbare verklaring
verstrek nie. Soos reeds gesê, was die simptome tekenend van
skade en was die skade,
by wyse van eliminasie van enige ander
realistiese verduideliking, op die waarskynlikhede aan die toediening
van Folar te wyte.
Daardie feit, en Ciba se gevolglike versuim om
die risiko wat Folar vir pere inhou spesifiek op die
gebruiksaanwysings van Folar
uiteen te sit (vgl
Lennon
Ltd v British South Africa Company, supra
;
Mordt NO v Union
Government
1939 TPD
103
te 105), was
prima
facie
aanduidend dat
daar êrens aan Ciba se kant nalatigheid was. Waar Lushof Plase
dit bewys het, het dit by Ciba berus (vgl
Union
Government (Minister of Railways) v Sykes
1913 AD 156
te 173-174;
Venter
and Others v Credit Guarantee Insurance Corporation of Africa Ltd and
Another
[1996] ZASCA 50
;
1996 (3) SA
966
(A) te 977H-I; McQuoid-Mason, supra, 96; Schmidt en Rademeyer,
Bewysreg,
4de
uitg, 103) om aan te toon dat hy met al die risiko-profiele waarna in
para [75] verwys is, rekening gehou het; en in die besonder
dat hy
al die proefnemings ten opsigte van plasingselektiwiteit gedoen het
wat redelikerwys van 'n vervaardiger in sy posisie verwag
kan word;
en dat proefnemings bewys het dat peerbome enige Folar wat teen die
voorgeskrewe dosis toegedien is en wat deur die boom
opgeneem word,
by wyse van metabolisering sou kon neutraliseer. Nóg die een
nóg die ander aspek is na ons mening
na behore deur Ciba
nagevors en beoordeel. Die toetse oor plasingselektiwiteit ten
opsigte van pere was, soos die verhoorhof tereg
bevind het,
ontoereikend; en geen getuienis is voorgedra oor peerbome se vermoë
om die hoeveelhede Folar wat ooreenkomstig
die voorgeskrewe dosis
gespuit word en wat sy wortelstelsel bereik, te kan metaboliseer nie.
Internasionale toetse
[78] Op
'n gevorderde stadium van die verrigtinge, nadat Lushof Plase reeds
sy saak gesluit het en tydens die getuienis van een
van Ciba se
oorsese getuies, dr Gerber, het Ciba gepoog om nuwe getuienis voor te
lê oor proefnemings wat elders in die wêreld
met Folar
ten opsigte van die fitotoksisiteit van die middel, ook ten opsigte
van pere, uitgevoer is. Van sodanige internasionale
toetse is egter
nooit vooraf deur Ciba ooreenkomstig die Hofreëls kennis gegee
en geen dokumentasie is daaroor blootgelê
nie. In die lig van
dié oorweging het die verhoorhof verlang dat Ciba 'n formele
aansoek rig waarin hy verduidelik waarom
hierdie getuienis relevant
is en waarom daar nie eerder en behoorlik daarvan kennis gegee is
nie. So 'n aansoek is nooit deur
Ciba van stapel gestuur nie.
Daarna, na aanleiding van antwoorde wat dr Gerber onder kruisverhoor
verstrek het, is weereens gepoog
om op die feit (indien nie die
inhoud) van sodanige internasionale toetse te steun. Die antwoorde
wat dr Gerber aldus onder kruisverhoor
verstrek het, was natuurlik
ter sake maar kon, in die afwesigheid van verdere getuienis van wat,
waar en hoe daar getoets is, weinig
tot die oplossing van die
probleem onder bespreking bydra. Ciba se poging om via dié
getuie sodanige verdere getuienis
oor die inhoud en strekking van die
beweerde internasionale proewe te lei, is deur die verhoorhof
gefnuik. Getuienis van dié
aard, so is beslis, kon nie op
hierdie wyse ingesmokkel word nie. Die kritiek wat Ciba op appèl
teen die verhoorhof se
weiering van die toelating van sodanige
verdere getuienis geopper het, is na ons mening misplaas. Daar kan
nie gesê word
dat die verhoorhof sy diskresie in dié
opsig verkeerdelik uitgeoefen het nie. Op dié grond is
inmenging op appèl
dus ook nie geregverdig nie.
[79] Alles
in ag genome, is ons van mening dat Lushof Plase daarin geslaag het
om nalatigheid, soos beweer, aan die kant van Ciba
te bewys. Ook op
hierdie grondslag is Ciba dus vir die probleme wat Lushof Plase met
die toediening van Folar op sy peerboorde
ondervind het,
aanspreeklik.
Gevolgtrekking
[80] Die
resultaat is dat sowel Van Staden as Ciba teenoor Lushof Plase
aanspreeklik is, die een kontraktueel (maar vgl
Holmdene
Brickworks (Pty) Ltd v Roberts Construction Company Ltd, supra,
te
686F-687B), die ander deliktueel. Dat hul aanspreeklikheid as
sodanig gesamentlik en afsonderlik is, is deur geeneen van die
partye
betwis nie. Sou Ciba suksesvol op grond van die deliksaksie deur
Lushof Plase uitgewin word, beteken dit dat Van Staden
nie verder op
grond van sy gemeenregtelike aanspreeklikheid as handelaar-verkoper
teenoor Lushof Plase aanspreeklik gehou kan word
nie. In so 'n geval
sou Van Staden dan bloot ten opsigte van sy kostes teen Ciba kan
ageer.
[81] Die
appèl moet gevolglik misluk. Wat oorbly, is die vraag of 'n
spesiale kostebevel gemaak moet word.
Spesiale
kostebevel
[82] Die
oorkonde het 5 726 bladsye beslaan wat oor 66 volumes gestrek het.
Volumes 13 tot 41 het getuienis behels en volumes 42
tot 65
dokumentasie. Die Hofreëls van die Hoogste Hof van Appèl
plaas 'n verpligting op die regsverteenwoordigers
van die partye om
vooraf self krities na die oorkonde te kyk. Onnodige dokumentasie
moet uit die oorkonde geweer word. So byvoorbeeld
bepaal
Appèlhofreël 8(7)(a):
‘
(a) 'n Kernbundel
dokumente moet voorberei word indien dit vir die appèl gepas
sal wees.
(b) Die kernbundel moet bestaan
uit die wesenlike dokumente van die saak in 'n geskikte, verkieslik
chronologiese, volgorde.
(c) Dokumente in die kernbundel
vervat, moet uit die oorkonde weggelaat word, maar die oorkonde moet
aandui waar elke sodanige dokument
in die kernbundel gekry kan word.’
In die
onderhawige geval is geen kernbundel voorberei nie. Die hof self
moes kort voor die verhoor van die appèl aan die
partye vra om
by ooreenkoms 'n kernbundel saam te stel. Dit het 5 addisionele
volumes en 291 bladsye beslaan. Na bitter min van
hierdie
dokumentasie is uiteindelik tydens betoog deur enigiemand verwys.
Die uiteinde was dat daar 'n aansienlike duplikasie
van dokumente was
wat voor die hof geplaas is. Appèlhofreël 8(9) bepaal
voorts:
‘
9(a) Wanneer
die beslissing van 'n appèl waarskynlik uitsluitlik op 'n deel
van die oorkonde in die hof
a quo
berus, moet die appellant,
binne 10 dae na aantekening van die appèl, die respondent se
toestemming versoek om die onnodige
dele uit die oorkonde weg te laat
en by versuim om dit te doen, moet die respondent binne 10 dae
daarna, 'n soortgelyke versoek
tot die appellant rig.
(b) Die
respondent of die appellant, na gelang van die geval, moet binne 10
dae daartoe toestem of redes verskaf waarom nie tot
die versoek
toegestem is nie.
(c) Die
versoek en die antwoord maak deel van die oorkonde uit.
(d) Die
hof kan 'n spesiale bevel insake koste maak indien geen versoek gerig
is nie of indien enige van die partye onredelik in
dié verband
was.
(e) Indien
die partye ooreenkom om die oorkonde te beperk, word slegs die dele
van die oorkonde van die verrigtinge in die hof
a quo
waarop
ooreengekom is, vervat in die oorkonde wat by die griffier ingedien
word: Met dien verstande dat die hof die volledige
oorkonde kan
versoek en volledige beredenering van die hele saak kan beveel.’
Van die stappe
wat in hierdie reël geverg word, het daar in hierdie saak niks
gekom nie. Die gevolg is dat 'n massa dokumentasie
deel van die
oorkonde uitgemaak het wat vir die partye aansienlike addisionele
koste meegebring het en wat, les bes, by 'n verstandige
beoordeling
van die saak net sowel weggelaat kon gewees het.
[83] Daar was
ook ander praktiese probleme met die oorkonde. Die kruisverwysings
in die inhoudsopgawe het veel te wense oorgelaat
en was by die
voorbereiding van die appèl, veral 'n appèl van hierdie
omvang, grotendeels onbruikbaar. Appèlhofreël
8(6)(d)(ii) bepaal:
‘
Alle
verwysings in die oorkonde na bladsynommers van bewysstukke moet
verander word om die bladsynommers van sodanige bewysstukke
in die
appèloorkonde te reflekteer.”
Hieraan is ook
nie voldoen nie.
[84] Hierdie
hof het praktisyns reeds by herhaalde geleenthede, veral gedurende
die onlangse tyd, gewaarsku dat hy op 'n strikte
nakoming van die
reëls aandring, by ontstentenis waarvan spesiale kostebevele
teen hulle gemaak kan word (vgl
Southern Cape Car Rentals CC t/a
Budget Rent a Car v Braun
1998 (4) SA 1192
(SCA) te 1195F-1196C;
Minister of Health and Another v Maliszewski and Others
2000
(3) SA 1062
(SCA) te 1074B-1075H;
Plaaslike Oorgangsraad,
Bronkhorstspruit v Senekal
2001 (3) SA 9
(SCA) te 26G-27F). Die
onderhawige saak bied 'n treffende voorbeeld van 'n vergryp aan die
kant van regspraktisyns wat 'n spesiale
kostebevel van dié
aard regverdig. Die hele kwessie is gedurende betoog gedebatteer en
geen gegronde redes is deur die
appellant geopper waarom 'n spesiale
bevel in dier voege nie gemaak moet word nie. Na ons mening is dit
'n geval waar die prokureurs
van die appellant, opdraggewend en
plaaslik, een derde van die gelde waarop hulle andersins vir die
nagaan van stukke geregtig
sou wees, moet verbeur.
Bevel
Die volgende
bevel word gemaak:
1. Die
appèl word van die hand gewys met koste.
2. Die
prokureurs wat vir die appellant opgetree het, is nie geregtig om een
derde van die koste waarop hulle andersins vir die
nagaan van die
oorkonde op appèl geregtig sou wees, van hul klient te verhaal
nie.
…
..…………….
NIENABER AR
………………………
CONRADIE Wnd AR
Stem saam:
Harms AR
Schutz AR
Mpati AR