About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2001
>>
[2001] ZASCA 138
|
|
Brahman and Another v Dippenaar (211/2000) [2001] ZASCA 138; 2002 (2) SA 477 (SCA) (29 November 2001)
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 211 / 2000
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
In die appèl
van
LORIZA BRAHMAN
Eerste Appellant
KOBUS NAUDÉ
Tweede Appellant
en
CASPER DIPPENAAR
Respondent
Regbank
Nienaber, Olivier,
Navsa ARR;
Cloete en Nugent Wnd ARR
Verhoordatum
: 20 November 2001
Datum van Uitspraak
: 29 November 2001
SAMEVATTING
Actio de pauperie
- voortbestaan en
vereistes.
_________________________________________________________
U I T S P R A A K
_________________________________________________________
P J J OLIVIER
OLIVIER AR
[1]
Tydens 'n
produksieveiling het 'n Brahmanvers, die eiendom van die eerste appellant, die
respondent onderstebo gehardloop en sy been
gebreek. Die respondent het die
eerste appellant met die
actio de pauperie
aangespreek vir die skade wat
hy na bewering gely het. Die hof
a quo
(Claassen Wnd R in die
Transvaalse Provinsiale Afdeling) het 'n verklarende bevel in respondent se guns
gemaak. Die kernvraag is
of die beslissing korrek was.
Die
agtergrond
[2]
Tommiesrus (Edms) Bpk het in 1997 'n
Brahman-stoetboerdery onder die naam Loriza Brahman ('Loriza') op die plaas
'Sandbult' naby
Nietverdiend in die Noord-Wes Provinsie bedryf. Die tweede
appellant ('Naudé') was die bestuurder van die Loriza stoetkudde.
Die
respondent ('Dippenaar') is 'n geoktrooieerde rekenmeester van Centurion,
Gauteng, en is 'n deeltydse boer wat in 1997 belang
gestel het om ook 'n Brahman
stoetery te vestig.
[3]
Loriza het op 22 Mei 1997 op sy plaas
'n produksieveiling van Brahman stoetverse aangebied. Dippenaar het die
veiling met die oog
op die aankoop van 'n aantal verse
bygewoon.
[4]
Omtrent twintig minute voor die aanvang van die veiling
en by die veilingskrale het Dippenaar vir Naudé, vir wie hy vantevore
ontmoet het, van sy voornemens ingelig. Naudé het aangebied om aan hom
geskikte diere aan te beveel. Vergesel van Maurice
Meyer (Naude se swaer) en
Dr Archie Kritzinger, 'n bekende veearts en trouens Loriza se kudde-veearts, het
hulle 'n kraal binnegegaan,
sodat geskikte verse besigtig en op die katalogus
gemerk kon word.
[5]
Die kraal was ongeveer 30 meter lank met 'n
agterste gedeelte van sowat 20 meter breed en 'n smaller voorste deel ongeveer
10 - 15
meter breed. Binne in die kraal was ongeveer 25 Brahmanverse, asook 'n
aantal veilinggangers wat die verse wou besigtig.
[6]
Dippenaar,
Naudé, Meyer en Dr Kritzinger het in die omgewing van die hek by die
voorste deel van die kraal gestaan. Dippenaar
het getuig dat hy en
Naudé besig was om na die katalogus te kyk en dat hy die verse glad nie
gesien het en ook nie van hul
aanwesigheid in die kraal bewus was
nie.
[7]
Op hierdie stadium het almal van hulle 'n blaasgeluid gehoor.
Naudé het opgekyk en gesien dat een van die verse, Alicia, op
hulle
afgestorm kom. Hy het geskree 'Pasop, Oom Archie.' Dr Kritzinger het met sy
katalogus 'n waaibeweging gemaak om die vers
van rigting te laat verander. Die
viertal het uitmekaar gespat. Die vers het geswenk tot by die kraalheining,
daarteen vasgehardloop,
omgeswaai en met haar kop omlaag teruggehardloop na die
ander verse wat steeds bymekaar gestaan het. In die proses het sy vir
Dippenaar
met haar kop of blad omgestamp. Sy het haar toe by die trop
aangesluit.
[8]
Weens die botsing is die tibia en fibula van Dippenaar
se regterbeen net bokant die enkelgewrig gebreek.
[9]
Met die oog op
die vergoeding van sy skade, het Dippenaar vir Loriza met die
actio de
pauperie
en, in die alternatief, vir Naudé met die
actio legis
Aquiliae
aangespreek.
[10]
Vir doeleindes van die verhoor is
meriete en quantum geskei. Tydens die verhoor het Dippenaar nie gepoog om sy
eis teen Naudé
te bewys of deur te voer nie. Na afloop van die verhoor
het Dippenaar 'n dringende aansoek aanhangig gemaak vir verlof om sy saak
te
heropen ten einde verdere getuienis aan te bied. Hierdie aansoek is tereg deur
die verhoorhof van die hand gewys.
[11]
Die verhoorregter het bevind
dat Loriza aanspreeklik is vir enige skade wat Dippenaar mag bewys en dat Loriza
en Naudé sy
koste moes betaal.
Die volgende bevel is gemaak :
'1 Eerste Verweerder en/of Tommiesrus (Edms) Bpk h/a Loriza Brahman is
aanspreeklik vir enige skade wat eiser mag
bewys;
2 Verweerders betaal Eiser se koste tot op
datum hiervan onderhewig aan 3 hieronder;
3 Eister moet die koste betaal van
die aansoek om heropening van die saak.'
Verlof om na hierdie Hof te
appelleer is deur die verhoorhof verleen.
Die
actio de
pauperie
[12]
Uit die bovermelde uiteensetting volg dat die
enigste skuldoorsaak tans ter sprake die
actio de pauperie
is. Hierdie
regsmiddel is figuurlik gesproke so oud soos die berge, want dit het sy
oorsprong in die Romeinse Twaalftafelwet van
ongeveer 450 v C. Sedert daardie
dae het byna geen juris in die Romanistiese tradisie die geleentheid om
dié aksie, of aspekte
daarvan, te bespreek, laat verbygaan nie. Die
grondslag van die aksie en die vereistes vir 'n geslaagde beroep daarop het
juriste
van toentertyd tot eietyd met ywerige nuuskierigheid vervul. 'n
Verdere omdolwing van hierdie oorbewerkte terrein is vir huidige
doeleindes nie
nodig nie. Die belangstellende leser word verwys na die uitstekende
besprekings en literatuurverwysings deur Reinhard
Zimmermann,
The Law of
Obligations : Roman Foundations of the Civilian Tradition
, Juta 1990, op
1095 - 1104; 1108 - 1109; 1110 - 1116 en C G van der Merwe,
Skuldlose
aanspreeklikheid vir skade veroorsaak deur diere
, LLD proefskrif, Pretoria,
1970. Sedert die beslissing van hierdie Hof in
O'Callaghan NO v Chaplin
1927 A D 310
staan dit vas dat die
actio de pauperie
deel van ons reg
vorm. Dit is in 'n hele aantal beslissings toegepas, so relatief onlangs nog
deur hierdie Hof as in
Lever v Purdy
1993 (3) SA 17
(A).
[13]
Soos oorbekend, geld die aksie teen die eienaar van 'n klas
diere wat om die beurt huisdiere, makdiere of makgemaakte diere genoem
word, in
teenstelling met die klas 'wilde diere'. Voorbeelde van eersgenoemde is honde,
katte, perde en beeste. Die aksie geld
slegs as die dier
contra naturam sui
generis
opgetree het, dws 'n gedraging van die dier wat teen die aard van 'n
huisdier is.
' 'n Huisdier is mak, vreedsaam en gedissiplineerd. Enige optrede wat
voortvloei uit
feritas
(wildheid),
fervor
(wreedheid) of
lascivia
(perversiteit) is strydig met die aard van 'n
huisdier.'
(J C van der Walt,
Skade deur diere aangerig :
'n algemene aanspreeklikheidsbeginsel?
(1977) 10
De Jure
20 op 23.)
'n Verbandhoudende vereiste is dat die dier
sponte feritate commota
opgetree het, d w s uit eie innerlike wildheid, wreedheid, perversiteit,
boosheid of opgewondenheid, en nie weens uitwendige prikkeling,
aanstiging of
aanporring van buite nie. (
Lever v Purdy
,
supra
, per Joubert Wn
HR op 21 C - 22 A en Kumbleben AR op 26 E - H;
Coetzee and Sons v Smit and
Another
1955 (2) SA 553
(A) per Van den Heerver AR op 558 A - C.)
Die
verwere deur eerste respondent ge-opper
[14]
Die eerste verweer
wat Mnr Bergenthuin, wat namens die appellante in hierdie Hof opgetree het, voor
ons geargumenteer het, is 'n frontale
aanval op die bestaansreg van die
actio
de pauperie
in ons reg. Hy het aangevoer dat die Suid-Afrikaanse reg
ontwikkel het tot 'n stadium waar die
actio de pauperie
as regsmiddel nie
meer 'n bestaansreg het nie en aanspreeklikheid van die eienaar slegs op die
beginsels van die
actio legis Aquiliae
fundeer moet word. Ter
onderskraging van dié argument het Mnr Bergenthuin aangevoer dat :
(a) die aksie al beskryf is as 'n primitiewe vorm van streng of absolute
aanspreeklikheid (met 'n beroep op C G van der Merwe, (
1994) 111
SALJ
47
op 52);
(b) Wessels AR, in 'n minderheidsuitspraak in
O'
Callaghan NO v Chaplin
,
supra
, op 370 e v, aanspreeklikheid van die
eienaar slegs op die basis van skuld wou erken (sien ook P M A Hunt
Bad
Dogs
in
(1962) 79
SALJ
326
op 330);
(c) die vereistes vir die
aksie, meer besonder dié van
contra naturam sui generis,
al tot
groot verwarring en teenstrydighede gelei het - is die toets objektief of
subjektief of gebaseer op 'skuld' aan die kant
van die dier; slaan dit op die
genus
van die 'huisdiere' of op die betrokke species, of is dit heeltemal
willekeurig? (sien C G van der Merwe,
(1967)
Codicillus 11
);
(d) die
actio
nie logies verantwoordbaar is nie :
' 'n Kriterium waar eenvoudig getoets word aan die hand van een van 'n klas as
geheel, beteken dat die optrede van 'n veg-bulterier
wat in 'n hok aangehou word
en geteel is om te baklei, aan dieselfde standard gemeet moet word as die
skoothondjie van 'n bejaarde
dame wat in 'n aftreeoord aangehou word.
Dienooreenkomstig moet dieselfde maatstaf aangewend word om die optrede te
beoordeel van
'n wilde hings wat vry in die natuur rondhardloop, en die ponie
wat gebruik word vir Sondagmiddag kinderritte by die plaaslike kwekery.'
(uit
Mnr Bergenthuin se betoogshoofde);
(e) dit tot
onbillike resultate kan lei :
'Die bankinstelling wat 'n stoetbees finansier, en eiendomsreg vir
sekuriteitsdoeleindes ten opsigte van die stoetbees voorbehou,
sal hiervolgens
aanspreeklik wees vir skade aangerig deur die betrokke stoetbees, nieteenstaande
die feit dat die bank waarskynlik
nooit 'n oog op die stoetbees sal lê
nie. Eweneens sal die afslaer, wie se veilingvoorwaardes bepaal dat by
toeslaan van
die bod, eiendomsreg op die afslaer oorgaan, en dat dit eers by
betaling van die koopprys weer oorgedra sal word na die koper, aanspreeklik
wees
vir skade veroorsaak deur die bees na toeslaan van die bod, maar voor betaling
voor die koopprys. Eweneens sal die verhuurder
van huisdiere aanspreeklik wees
vir skade aangerig deur sodanige diere, nieteenstaande die feit dat 'n huurder
ten volle beheer en
kontrole oor sodanige diere mag hê.' (uit Mnr
Bergenthuin se betoogshoofde);
(f) die beginsels van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding, 34 van 1956 nie
op eise onder die
actio
van toepassing is nie. 'n Alles-of-niks
bedeling geld (sien
South African Railways and Harbours v Edwards
,
1930
AD 3
op 10) en dit is onbillik;
(g)
'Daar bestaan stellig geen rede waarom 'n persoon wat beseer/benadeel word deur
optrede van 'n huisdier, in 'n beter posisie moet
wees as 'n persoon
beseer/benadeel deur 'n wilde dier of byvoorbeeld meganiese voorwerp nie. In
beide gevalle behoort die verwytbaarheid
van die eienaar en/of hanteerder,
tesame met die voorsienbaarheid van die skade deurslaggewend te wees.' (uit
Mnr Bergenthuin se
betoogshoofde);
(h)
'Deliktuele aanspreeklikheid gebaseer op skuld en voorsienbaarheid, bied
genoegsame regshulp aan persone wat beseer word deur huisdiere,
en 'n
beoordeling van aanspreeklikheid moet geskied in ooreenstemming met die
beginsels van toepassing t.o.v. die
actio legis Aquiliae
, soos ontwikkel
in Suid-Afrikaanse Reg.' (uit Mnr Bergenthuin se
betoogshoofde).
[15]
Ek is nie van
voorneme om elke punt van kritiek wat deur Mnr Bergenthuin teen die
actio de
pauperie
geopper is, te behandel nie. Dit kan toegegee word dat die
vereistes van die
actio
, veral van gedrag wat
contra naturam
is,
deur die eeue omstrede was. Die punt is dat dié aksie reeds vir
24½ eeue bestaan. Dit vorm deel van ons reg.
Dat dit skuldlose
aanspreeklikheid daarstel, is as sodanig geen rede om dit in die ban te doen
nie; die verskynsel van risiko-aanspreeklikheid
brei in die moderne
wêreld uit en vervul op gepaste terreine 'n nuttige funksie.
Aanspreeklikheid vir skade aangerig deur
mak diere is so 'n gebied. Waar 'n
omstrede aksiegrond nie ongrondwetlik of
contra bonos mores
is of deur
onbruik verval het nie, sal hierdie Hof dit nie
sito-sito
afskaf nie: sy
taak is eerder om dit, waar nodig, aan te pas, reg te skaaf en na gelang van die
geval uit te brei of in te kort.
Hierdie gedagte is deur Stratford HR in
Jajbhay v Cassim
1939 A D 537
op 542 soos volg gestel:
'Now the Roman-Dutch law, which we must apply, is a living system capable of
growth and development to allow adaptation to the increasing
complexities and
activities of modern civilised life. The instruments of that development are
our own courts of law. In saying
that of course I do not mean that it is
permissible for a court of law to alter the law; its function is to elucidate,
expound and
apply the law. But it would be idle to deny that in the process of
the exercise of those functions rules of law are slowly and
beneficially
evolved. That evolution, to be proper, must come from, and be in harmony with,
sound first principles which are binding
upon
us.'
[16]
As dit 'n mens se dogmatiese vertrekpunt is
dat alle 'deliktuele' aanspreeklikheid op die skuldbeginsel moet berus, dan kom
die
actio de pauperie
natuurlik as onelegant en anomalies voor. As die
vertrekpunt daarenteen 'n breër visie van 'deliktuele' aanspreeklikheid is,
wat verdienstelike gevalle van risiko-aanspreeklikheid kan insluit, dan is die
vraag slegs of die
actio de pauperie
vanuit 'n praktiese oogpunt 'n
verdienstelike rol speel. Geen sodanige praktiese redes wat op die feite van
hierdie geval van toepassing
is en wat 'n ontkenning van die aksie in hierdie
geval verg, is aan ons voorgelê nie. Die tyd om die
actio de
pauperie
, ondanks sy eerbiedwaardige ouderdom, grafwaarts te dra, het nog
nie aangebreek nie. Byna 75 jaar gelede het Kotzé AR in
O'Callaghan,
N.O. v Chaplin
,
supra
, op 365 gesê :
'It is satisfactory to find that the action
de pauperie
still forms part
of our law ... I think the conclusion is a sound and just one, for if a man
chooses to keep an animal, and injury
or damage is caused by it to an innocent
person, he must make adequate compensation. The owner of the animal and not
the person
injured must bear the loss. ... After all, the result arrived at is
but the natural development of a doctrine which, as we learn
from eminent
jurists, such as
Wesenbeck, Vinnius, Matthaeus, Huber
and others, had
already been accepted in most places, notwithstanding the reception of the Roman
law. These masters and expounders
of the law rightly saw nothing unjuristic in
the view that, as the Roman law regarded
noxae deditio
as merely an
alternative mode of solution at the election of an owner, that is of discharging
his liability for
pauperies
, the fact of its disappearance did not
deprive an injured plaintiff of his right to full compensation to be paid him by
the defendant.
The doctrine, therefore, which they state was observed in
actual practice in their time, has since been accepted by the more modern
and
maturer jurisprudence, and still prevails as existing law in several civilised
European countries as well as in our own.'
Niks wesenliks het
sedertdien verander nie.
[17]
Die tweede verweer wat namens die
appellante aangevoer is, behels die
contra naturam
-vereiste. In hierdie
verband het Mnr Bergenthuin aangevoer dat die vers Alicia nie
contra
naturam
opgetree het nie. Hy het aangevoer dat die
contra
naturam
-vereiste nie beteken dat die optrede van Alicia met dié van
alle ander verse van die beesras of genus beeste vergelyk moet
word nie, maar
met dié van die gemiddelde Brahmanbees, maw die betrokke species waaraan
sy behoort. Omdat laasgenoemde,
volgens die appellante, die korrekte
benadering is, is die getuienis van Mnr Theodore de Marrillac, 'n boer wat
sedert 1966 met Brahmane
boer en self 'n Brahman-beoordelaar aangevoer. Sy
getuienis kom daarop neer dat die optrede van Alicia nie teen die aard van 'n
Brahmanbees is nie, omdat dié ras meer senuweeagtig is as ander rasse.
Sy hoofgetuienis in dié verband lees soos
volg:
'Goed. Nou u het die getuienis in die hof gehoor van hoe die insident
plaasgevind het dat die eiser, mnr Dippenaar, omgehardloop
is. Is dit vir u
vreemd dat so 'n insident kon plaasgevind het by hierdie veling? -- Glad
nie.
Hoekom nie? -- Want ek het dit al tevore gesien. Ek het dit in my eie
krale gesien. Ek het dit in ander mense se krale gesien,
op ander plase
gesien. Dit is nie iets uit die gewoonte uit nie, want ek glo dat die Brahman,
die manier waarop hy geteel is, dit
is in sy geaardheid om so op te
tree.
Wat kan u sê oor die temperament van 'n Brahman,
veral in vergelyking en met betrekking tot ander beesrasse? -- Die Brahman,
al
wil ons dit nie as Brahmantelers die woord, ons gebruik glad nie die woord nie,
ons wil dit nie eers hoor nie, die woord "wild".
Daardie woord "wild" is
verkeerdelik na vore gebring, want die Brahman is 'n senuweeagtige bees, 'n baie
meer intelligente bees
as ander rasse, veral as jou Bos taurusse, want hy is 'n
Bos indicus en jou Bos indicusse in die algemeen is beeste met meer
intelligensie
en meer van 'n senuweestelsel, 'n gevoelige
senuweestelsel.'
[18]
Ek meen dat Mnr Bergenthuin nie gelyk gegee
kan word nie. Die toets is immers nie afgestem op 'n spesifieke
species
van die
genus
nie, maar op die normale optrede van diere behorende aan
die betrokke
genus
. Die vraag is of Alicia opgetree het strydig met die
natuur van 'n bees, nie met dié van Brahmane of Jerseys of Bonsmaras
as
spesifieke rasse nie en nog minder of sy opgetree het strydig met haar eie
besondere geaardheid. (Sien Innes HR in
O'Callaghan, NO v Chaplin
,
supra
, op 14;
South African Railways and Harbours v Edwards
,
1930
A D 3
op 6;
Solomon and Another
,
NNO v De Waal
1972 (1) SA 575
(A) op 582 A - E.) Dit is soos ons positiewe reg verstaan moet word,
nieteenstaande akademies kritiek daarop (sien bv C G van der
Merwe,
Contra
Naturam Sui Generis
,
(1967)
Codicillus
11
ev).
[19]
Daar is
natuurlik 'n verdere vraag wat innig verband hou met die
contra
naturam-
vereiste en trouens die keersy daarvan is, nl of die dier se
aweregse optrede 'n spontane gedraging was, dws vanweë eie innerlike
senuweeagtigheid, boosheid of wildheid (
sponte feritate commota
). Die
verband tussen die
contra naturam
-vereiste en dié van
sponte
feritate commota
is voor die hand liggend : as die betrokke dier spontaan,
weens innerlike boosheid ens opgetree en skade verrig het, dan het dit
uiteraard
ook
contra naturam sui generis
opgetree. As die skadestigtende optrede
egter veroorsaak is omdat die dier skrikgemaak is, of leed of pyn aangedoen is
of geprovokeer
is, dan is die optrede nie
contra naturam
nie, maar juis
ooreenkomstig die aard van 'n dier omdat alle diere so sal optree; en is daar
geen aanspreeklikheid nie. (Sien
South African Railways and Harbours v
Edwards
,
supra
,
op 9 in fine
.)
[20]
Selfs hierdie
vereiste is ook weer gekwalifiseer: van die normale mak dier word verwag om
sekere uitwendige prikkels te weerstaan
en nie aweregs op te tree nie. (Sien
South African Railways and Harbours v Edwards
,
supra
, op 9
in
fine
;
Solomon and Another NNO v de Waal
,
supra
, op 582 A -
F.) Waar die lyn presies getrek moet word, is nie altyd vooraf bepaalbaar nie.
Prof J C van der Walt (sien
Skade deur diere aangerig
:
'n algemene
aanspreeklikheidsbeginsel?
in
op cit
op 23 - 24) stel dit so :
'Verder is die sogenaamde vereiste van 'n "spontane gedraging" aan die kant van
die dier nie 'n selfstandige vereiste nie, maar 'n
noodwendige onderdeel van die
contra naturam
-vereiste. Waar die dier se optrede deur uitwendige
inwerkinge veroorsaak word, tree hy uiteraard nie op weens innerlike
boosaardigheid
of ogewondenheid nie; selfs die "goedgemanierde" dier reageer
naturuurlikerwys op uitwendige inwerkinge. Nie elke uitwendig inwerking
sluit
egter die vereiste van
contra naturam
uit nie. Daar word aanvaar dat
'n perd, ten spyte van die uitwendige inwerkinge, byvoorbeeld in die volgende
gevalle nog spontaan
optree : 'n perd wat skop nadat hy deur 'n blindevlieg
gesteek is; 'n perd wat reageer op die geraas van 'n voertuig, 'n perd wat
skrik vir 'n hoop klippe.'
[21]
Dippenaar het
getuienis aangebied dat hy sonder 'n opsigtelike rede deur die vers beseer is.
Om aanspreeklikheid te vermy, het dit
by Loriza berus, as weerlegging van
bogenoemde
prima facie
bewys, om getuienis aan te bied óf dat die
gebeure Dippenaar se skuld was (in die kousale sin, bv deurdat hy die vers
skrikgemaak
het) óf dat die bees op loop gejaag is deur 'n ander
ekstrinsieke oorsaak (
South African Railways and Harbours v Edwards
,
supra
op 12
in medio
;
Da Silva v Coetzee
1970 (3) SA 60
(T) op 604 A - B).
[22]
Daar is in die getuienis veel gespekuleer oor
die rede of redes wat Alicia sou aangestig het om van die trop weg te breek en
op die
groepie mense onder wie Dippenaar hom bevind het, af te storm. Die
vinger kon egter op geen geïdentifiseerde uitwendige oorsaak
of kombinasie
van uitwendige oorsake gelê word nie - nie die aanwesigheid van mense in
die kraal nie; nie die speel van
agtergrondmusiek nie - want die ander 24
verse in die trop het rustig bly staan waar hulle was. Die rede vir Alicia se
vlug kan
óf in haar eie gemoed gevind word (wildheid, kwaadaardigheid of
senuweeagtigheid) óf in ander omstandighede, waarvan
daar geen bewys was
nie.
[23]
Hieruit volg dat Loriza nie daarin geslaag het om hom van
dié weerleggingslas te kwyt nie. Dit volg dus dat aanvaar moet
word dat
die vers
sponte feritate commota
en
contra naturam sui generis
opgetree het. Loriza se eienaarskap van die vers is nie betwis nie. Dit volg
dus dat Dippenaar geregtig was om met sy eis teen
Loriza te slaag.
[24]
Mnr Bergenthuin het as laaste skans op die verweer van
toestemming deur Dippenaar van die risiko van besering, teruggeval. Hy het
dit
daarop gebaseer dat Dippenaar in die betrokke kraal ingegaan het terwyl die
risiko van 'n besering van die soort wat hy opgedoen
het, voorhande was. Die
probleem met die argument is dat Dippenaar se getuienis, dat hy nie geweet het
dat daar beeste in die kraal
is nie en hulle ook nie gesien het nie, nie
pertinent in kruisondervraging aangeval is nie nie en deur die hof
a quo
aanvaar is. Daar is geen basis om op appèl daarmee in te meng nie.
Aan die basiese vereiste van die betrokke verweer,
nl dat die benadeelde bewus
was van die risiko van die gevaar en dit willens en wetens aanvaar het, is dus
nie voldoen nie. (Sien
Waring and Gillow Ltd v Sherborne
1904 TS 340
op 344 - 347.)
[25]
Die bevel van die hof
a quo
was dat Loriza
aanspreeklik is vir enige skade wat Dippenaar mag bewys en dat Loriza en
Naudé die eiser, Dippenaar, se koste
tot op datum van die bevel moet dra.
Ek meen dat dit nie geregverdig was om Naudé met enige koste te belas
nie, aangesien
die aksie teen hom misluk het. Dippenaar moet Naudé se
verhoorkoste betaal. 'n Regstellende bevel is in dié verband
nodig.
Naudé se appèl was egter nie net tot dié aspek beperk nie.
Hy het hom volkome met Loriza se appèl
teen die toestaan van die
verklarende bevel vereenselwig. Hy is dus mede-aanspreeklik vir die koste op
appèl.
[26]
Dit word soos volg beveel :
26.1 (a) Behoudens paragraaf 26.2 (b) word die appellante se
appèl van die hand
gewys.
(b) Die appellante is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die respondent
se koste van
appèl.
26.2 Paragraaf 2 van die bevel van die hof
a quo
gedateer 30 Maart 2000
word tersyde gestel en met die volgende
vervang:
(a) Die eerste verweerder betaal eiser se koste tot op datum hiervan onderhewig
aan 3 hieronder.
(b) Die eiser betaal
die tweede verweerder se koste tot op datum hiervan.
P J J OLIVIER AR
STEM SAAM
:
NIENABER AR
NAVSA
AR
CLOETE Wnd AR
NUGENT Wnd
AR