About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2001
>>
[2001] ZASCA 96
|
|
Minister van Veiligheid en Sekuriteit v Japmoco BK h/a Status Motors (502/99) [2001] ZASCA 96; 2002 (5) SA 649 (SCA) (21 September 2001)
IN
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer :
502/99
In die saak
tussen :
MINISTER
VAN VEILIGHEID EN SEKURITEIT
Appellant
en
JAPMOCO
BK h/a STATUS MOTORS
Respondent
CORAM : NIENABER, STREICHER, CAMERON ARR, NUGENT en FRONEMAN Wnde
ARR
DATUM : 3
SEPTEMBER 2001
GELEWER : 21
SEPTEMBER 2001
OPSOMMING: Sekere
polisiebeamptes werk met 'n sindikaat motordiewe saam om gesteelde
motorvoertuie deur middel van vals dokumentasie
wat in die loop van
hul diens voltooi en uitgereik word, weer in die handel vry te stel -
eiser, 'n tweedehandse motorvoertuighandelaar,
koop 'n aantal van die
voertuie van 'n ander handelaar wat hy herverkoop - die uiteindelike
kopers word uitgewin - eiser vergoed
hulle en stel op sy beurt 'n eis
in teen die werkgewer van die polisiebeamptes - middellike
aanspreeklikheid - of eiser skade gely
en bewys het.
____________________________________________________________
UITSPRAAK
____________________________________________________________
NIENABER AR
/
NIENABER
AR
:
[1] Die appellant (die verweerder
a
quo
) is die Minister van Polisie in sy
verteenwoordigende hoedanigheid namens die Staat. Die respondent
(die eiser
a quo
)
is ‘n tweedehandse motorhandelaar van Rustenburg, ook bekend as
‘Status’. Waaroor die eiser hom teenoor die
verweerder
bekla, is dat 'n aantal polisiebeamptes, lede van die Rustenburgse
voertuigdiefstaleenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens,
wat as
sodanig in diens van die Staat was, gedurende 1994-1995 doelbewus en
vir eie gewin met ‘n sindikaat motordiewe saamgewerk
het
waardeur laasgenoemde in staat gestel is om motorvoertuie wat deur
lede van die sindikaat gesteel is, weer in die handel vry
te stel.
Deur die toedoen van die betrokke polisiebeamptes is die nodige
dokumentasie (meer bepaald motorvoertuigklaringsertifikate)
voorberei
en uitgereik waarsonder die voertuie nie geregistreer en weer in die
handel in omloop gebring kon word nie. Agt van
die gesteelde
voertuie wat aldus van vals dokumentasie voorsien is, is aan ‘n
ander tweedehandse motorhandelaar van Rustenburg,
Ismails Auto Centre
& Car Sales CC (handeldrywende as Pro-fit Exhaust)(‘Pro-fit’)
verkwansel. Op sy beurt het
Pro-fit die voertuie weer aan die eiser
verkoop. Van die agt voertuie het die eiser sewe as gebruikte
voertuie elk teen ‘n
wins aan verskillende lede van die publiek
van die hand gesit. Die agste voertuig was nog in sy besit toe 'n
ander groep lede
van die Rustenburgse voertuigdiefstaleenheid op al
agt voertuie beslag gelê en die hele petalje op die lappe gekom
het.
Die eiser moes die gelag betaal. Ses van die sewe kopers het
die eiser op grond van sy gemeenregtelike stilswyende waarborg teen
uitwinning aangespreek; en die eiser was les bes genoodsaak om
elkeen van hulle te vergoed deur óf die koopsom óf
die
waarde daarvan terug te betaal. Die agste voertuig was hy kwyt. Sy
verlies was die waarde daarvan. Die totale bedrag wat
die eiser
aldus moes opdok, het R362 805 beloop. En dit is die bedrag wat die
eiser op sy beurt weer in die huidige aksie van
die verweerder wou
verhaal.
[2] Die
eiser het sy eis op delik geskoei. Waarop hy hom vir sy eisoorsaak
beroep, is dat die betrokke polisiebeamptes, handelende
in die loop
van die uitvoering van hul werksaamhede as werknemers van die Staat,
dit vir die diewe moontlik gemaak het om niksvermoedende
kopers met
vals dokumentasie om die bos te lei dat die betrokke voertuie nie
gesteelde voertuie was nie en aldus vryelik en reëlmatig
in die
mark gekoop en weer van die hand gesit kon word. Sonder die
tersaaklike dokumentasie, so beweer die eiser, sou hy die betrokke
voertuie nooit gekoop het en sou hy gevolglik nie skade gely het nie.
Die verhoorhof (Spoelstra R in die Transvaalse Provinsiale
Afdeling)
gee die eiser ten opsigte van sewe van die voertuie en R310 205
gelyk. Met sy verlof kom die verweerder in hoër
beroep na
hierdie Hof.
[3] Ter
aanvang van die verhoor is die volgende erkennings deur die
verweerder gemaak:
‘Dat al agt die betrokke voertuie gesteelde voertuie was en dat
dit om daardie rede was dat die voertuigdiefstaleenheid
van die
Suid-Afrikaanse Polisiediens Rustenburg daarop beslag gelê het’
en
‘Die verweerder erken dat daardie lede van die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, gestasioneer te die voertuigdiefstaleenheid
te
Rustenburg, wat gemelde voertuigverklarings (bylaes “A”
tot “H”) uitgereik het of deur wie se bemiddeling
dit
uitgereik is, bewus was dat die voertuie ten aansien waarvan sodanige
klarings uitgereik is, gesteelde voertuie was. Die betrokke
lede van
die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat die kennis gehad het was
konstabel Salinda, sersant Pieters, sersant Van der Merwe
en sersant
Pasino, wat vir eie gewin en teen vergoeding wat hulle ontvang het
van lede van die sindikaat deur wie die betrokke
voertuie gesteel is,
bewerkstellig het dat die klarings uitgereik word. Die klarings is
uitgereik teenstrydig met die voorskrifte
van die Kommissaris van die
Suid-Afrikaanse Polisie vervat in Hoofkantoor-skrywe 29/28/2,
gedateer 1993-12-03, waarvan hulle bewus
was.
Dit word ook erken dat die betrokke klarings bedrieglik uitgereik is
om voor te gee dat dit reëlmatig uitgereik word terwyl
die
betrokke lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens bewus was dat dit
ten aansien van gesteelde voertuie uitgereik word.’
[4] Volgens
kaptein Maas (wat as ondersoekbeampte gemoeid was met die
strafregtelike vervolging en skuldigbevinding van lede van
die
sindikaat asook sekere polisiebeamptes wat by die bedrogspul betrokke
was) het die sindikaat gesorg dat die gesteelde voertuie
in die
eerste plaas van vals Bophuthatswana dokumentasie voorsien is.
Daarna is daar kastig 'n adresverandering van Bophuthatswana
na
Rustenburg bewerkstellig, aan die hand waarvan Transvaalse
registrasie-dokumentasie bekom is. Om oordrag van die voertuie op
'n
koper te bekom, was dit origens nodig om 'n
polisieuitklaringsertifikaat te verkry waarsonder die betrokke
voertuig nie op
naam van die koper geregistreer kon word nie. In so
'n polisieklaring word die voertuig beskryf met verwysing na
fabrikaat, tipe,
kleur, jaar van eerste registrasie,
registrasienommer, masjienkapasiteit, asook masjien- en
onderstelnommer. Voorts bevat dit
besonderhede van die persoon of
instansie wat die voertuig vir klaring aanbied. En dan word
gesertifiseer dat die voertuig nie
by die Suid-Afrikaanse Polisie as
gesteel aangemeld was nie. Dit is by die uitreiking van hierdie
polisieklarings dat die korrupte
polisiebeamptes tussenbeide getree
het en klarings uitgereik het met verwysing na vals masjien- en
onderstelnommers wat intussen
fisies op die voertuie aangebring is.
[5] Die
optrede van die polisiebeamptes was direk in stryd met voorskrifte
wat gedurende 1993 namens die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse
Polisie ten opsigte van polisieklarings uitgereik is. Paragraaf 3.1
daarvan lui soos volg:
‘
3.1
Doel van
die polisieklaring
'n Polisieklaring
dien as bewys dat die daarin beskrewe voertuig of masjien nie by die
Suid-Afrikaanse Polisie as gesteel aangemeld
is nie. Dit spreek dus
vanself dat 'n blanko polisieklaring in die verkeerde hande absoluut
verreikende gevolge inhou.’
Paragraaf
3.5.1 lui:
‘
3.5.1 'n Registrasie-owerheid, soos omskryf
in die Padverkeerswet, 1989 (Wet 29 van 1989), kan 'n
voertuigeienaar aansê om
'n polisieklaring voor te lê.
Die Suid-Afrikaanse Polisie is
nie
verplig
om 'n polisieklaring uit te
reik nie, met ander woorde indien 'n lid twyfel het oor 'n voertuig
het hy geen ander keuse as om die
aansoeker na die naaste
Voertuigdiefstaleenheid te verwys.’
Paragraaf
3.6, onder die opskrif ‘Absolute Verbiedinge,’ bepaal:
‘Polisieklarings
mag onder geen omstandighede in die volgende gevalle uitgereik word
nie en die aansoeker moet na 'n Voertuigdiefstaleenheid
verwys word.
3.6.1 Indien die identifikasienommers op die voertuig op enige wyse
geskend, verander, mee gepeuter of vals is.
3.6.6 Indien 'n voertuig nie fisies ondersoek is nie.’
Paragraaf 3.11 handel met voertuie afkomstig uit lande buite die
Republiek van Suid-Afrika insluitende Bophuthatswana. Dit lui:
‘
Wanneer 'n polisieklaring op 'n voertuig
afkomstig uit gemelde TBVC en Selfregerende Gebiede uitgereik word
moet
die
aansoeker eers die vrywaring (soos per bylae A) verstrek.
Dié
vrywaring moet saam met die afskrif van die polisieklaring geliasseer
word. Sou die aansoeker weier om die vrywaring
te gee moet 'n
polisieklaring nie uitgereik word nie.’
(Geen
sodanige vrywarings is in dié gevalle geliasseer nie.)
Ten slotte
bepaal para 3.12.2 soos volg:
‘Vervalsings is aan die orde van die dag, daarom moet alle
dokumente met versigtigheid bejeën word. Identifikasienommers
van voertuie, soos aangeteken op dokumente, moet fisies met dié
op die betrokke voertuig vergelyk word.’
[6] Uit die voorskrifte van die Kommissaris van
Polisie is dit duidelik dat 'n polisieklaring nie uitgereik mag word
waar die betrokke
beampte wat daarmee gemoeid is, bewus is dat die
voertuig gesteel is of die identifikasienommers op die voertuig op
enige wyse
geskend, verander, mee gepeuter of vals was nie. Volgens
kaptein Maas ‘was daar 'n duidelike en doelbewuste
verontagsaming
van hierdie voorskrifte deur sekere lede by Rustenburg
se voertuigdiefstaleenheid’.
[7] Wat
die uitreiking van die polisieklaring in die onderhawige geval wel
geïmpliseer het, was dat alle voorskrifte nagekom
is, dat alles
met betrekking tot die betrokke voertuie behoorlik nagegaan en dus
pluis was en dat die voertuie gevolglik reëlmatig
in die handel
van die hand gesit kon word.
[8] Aan
die hand van die polisieklaring is al agt voertuie op naam van
Pro-fit geregistreer. Op sy beurt het die eiser die voertuie
individueel van Pro-fit aangekoop. Ene Hattingh het namens die eiser
opgetree en ene Kajee, die eienaar van Pro-fit, namens laasgenoemde.
Hattingh het in die saak getuig; Kajee, ofskoon beskikbaar, nie.
Volgens Hattingh was Kajee op daardie tydstip
‘nie 'n
goedgekeurde handelaar nie en het dus nie … in duurder
motorvoertuie wat deur die handelsbanke gefinansier
word, handel
gedryf nie. Hy het meer in die goedkoper lyn voertuie handel
gedryf.’
Die dokumentasie wat Hattingh onder oë gehad
het, was nie die polisieklaringsertifikate nie maar die Transvaalse
registrasiedokumente.
Daarvolgens het dit geblyk dat van die
voertuie nuwe TPA enjin- en onderstelnommers gehad het, waarvan hy
afgelei het, so getuig
hy, dat die voertuie vantevore dalk gesteel
was maar
‘dat die
polisie reeds hierdie voertuig ondersoek het en dat hy veilig gevind
is en dat hy terug in die handel geplaas word.’
Volgens hom het dit voorveronderstel dat
die polisieklarings ten opsigte van elke voertuig ‘uitgereik
gewees het voordat die
voertuig by my uitgekom het’ en dat die
voertuig ‘dus 'n heeltemal wettige voertuig’ was. Daar
was, so getuig
Hattingh, geen rede vir hom om onraad te vermoed nie;
was dit nie daarvoor nie sou hy nooit die voertuie byPro-fit
aangekoop het
nie.
[9] Die partye is dit eens dat daar
hoofsaaklik drie knelpunte in die saak is:
1. Of die eiser 'n kousale verband bewys het tussen die optrede van
die betrokke polisiebeamptes en die aankoop deur die eiser
van die
agt voertuie;
2. Of die betrokke polisiebeamptes binne
hul diensbestek gehandel het;
3. Of die eiser sowel die feit van sy skade as die omvang van sy
skadevergoeding bewys het.
Ek behandel die drie gevalle om die
beurt.
[10]
Kousale verband
Volgens sy besonderhede van vordering
het die eiser in die geval van twee van die voertuie die SAP263
motorvoertuigklarings onder
oë gehad en die betrokke voertuie
‘op sterkte daarvan’ aangekoop; daarenteen was Hattingh
se getuienis dat hy
geen sodanige polisieklarings ontvang het nie en
dat hy tot die koop oorreed is omdat dit goeie handelsvoorraad was,
hy Kajee jare
lank reeds ken en vertrou en in ieder geval bewus was
dat hy, ingeval van onraad, 'n regres teen Kajee sou hê. Aan
die hand
van dié getuienis is betoog dat die nodige kousale
verband ontbreek. Maar wat Hattingh ook getuig het was dat hy, naas
gemelde oorweginge,
ook
op die dokumentasie wat aan hom
voorgelê is, staatgemaak het. Daardie stukkie getuienis is
nie betwis nie. Uit sy getuienis
as geheel is dit duidelik dat
Hattingh op die bestaan en reëlmatigheid van die
registrasiedokumentasie gesteun het. Sy aanname,
gegrond op die
registrasiedokumente, was dat alles in orde was en reëlmatig
geskied het. En dit impliseer dat die voertuie
nie, na die wete van
lede van die Suid-Afrikaanse Polisie, gesteel was nie. Soos dit deur
die Hof
a quo
gestel is:
‘Die hele
oogmerk was om die registrasie-owerheid te beweeg om
registrasiesertifikate uit te reik sodat die voertuie daarmee
van een
persoon na 'n ander oorgedra kan word. Daarsonder sou die lede van
die diestalsindikaat nie so 'n toedrag van sake kon
bewerkstellig het
nie. Net so is die feit dat die eiser nie geweet het dat daar ten
opsigte van elke voertuig 'n klaring uitgereik
is nie, ook nie 'n
feit wat die kousale verband onderbreek nie. Die klarings was in
hierdie geval duidelik 'n
conditio sine qua non
vir die eiser
se besitsverkryging. Dit was verder voorsienbaar dat 'n persoon soos
die eiser in besit van so voertuig sal kom
en dat hy geld sou uitlê
om die voertuig te bekom. Dit was ook voorsienbaar dat so persoon
uitgewin kan word deur die ware
eienaar.’
Ek stem saam. Die aanval wat deur die
verweerder op grond van 'n beweerde afwesigheid van 'n kousale
verband geloods is, kan dus
nie opgaan nie.
[11]
Middellike aanspreeklikheid
'n Werkgewer is regtens aanspreeklik vir
skade wat sy werknemer op onregmatige wyse maar in diensverband aan
derdes berokken het.
Of die onregmatige optrede binne diensverband
geskied het, is steeds 'n feitelike vraag. Soms is dit net 'n
kwessie van graad
of sodanige optrede net binne of net buite die
werknemer se diensbestek val. Dit kan binne diensbestek wees selfs
al was dit ongeoorloof
en trouens in stryd met 'n uitdruklike verbod
van die werkgewer; en selfs al het die werknemer opsetlik en nie net
op nalatige
wyse gehandel nie.
Dit is alles
gemeenplase en behoef dus geen bewysplase nie.
Die norm wat
moet bepaal of die handeling van die werknemer binne dan wel buite
die perke van sy diensbetrekking val, is die sogenaamde
standaardtoets. Dié toets is in
Minister of Police v Rabie
1986 (1) SA 117
(A) te 134D-E in die meerderheidsbeslissing soos volg
omskryf:
‘It seems
clear that an act done by a servant solely for his own interests and
purposes, although occasioned by his employment,
may fall outside the
course or scope of his employment, and that in deciding whether an
act by the servant does so fall, some reference
is to be made to the
servant’s intention (cf
Estate Van der Byl v Swanepoel
1927 AD 141
at 150). The test is in this regard subjective. On the
other hand, if there is nevertheless a sufficiently close link
between
the servant’s acts for his own interests and purposes
and the business of his master, the master may yet be liable. This
is an objective test. And it may be useful to add that according to
the
Salmond
test (cited by Greenberg JA in
Feldman (Pty)
Ltd v Mall
1945 AD 733
at 774):
“a master …
is liable even for acts which he has not authorized provided that
they are so connected with acts which
he has authorised that they may
rightly be regarded as modes - although improper modes - of doing
them …”’
Die subjektiewe element is dus 'n faktor
wat in ag geneem moet word maar wat in gepaste gevalle moet wyk as
die objektiewe elemente
veel sterker op die teendeel dui. Ofskoon
daar ander aspekte van die meerderheidsbeslissing in die
Rabie
-saak
is wat in
Minister of Law and Order v Ngobo
[1992] ZASCA 172
;
1992 (4) SA 822
(A) gekritiseer is (vgl 832B-D), is die presiese formulering van die
standaardtoets nie as sodanig in daardie saak (vgl 830B-E)
of in
enige latere beslissings van hierdie Hof bevraagteken nie (vgl
Viljoen v Smith
[1996] ZASCA 105
;
1997 (1) SA 309
(A);
Minister of Safety
and Security v Jordaan t/a Andre Jordaan Transport
2000 (4) SA 21
(SCA);
Absa Bank Ltd v Bond Equipment (Pretoria) (Pty) Ltd
[2000] ZASCA 136
;
2001
(1) SA 372
(SCA)). Ek pas dit vervolgens toe.
[12] Die onregmatige optrede van die
betrokke polisiebeamptes bestaan in die bewustelike uitreiking van
vals polisieklarings in
die wete dat onskuldige derdes tot hul nadeel
daardeur mislei mag word. Sodanige optrede was in stryd met die
voorskrifte van
hul werkgewer, die verweerder. Subjektief gesproke,
was hul primêre oogmerk nie om die saak van hul werkgewer, die
Staat
(om die goeie orde te handhaaf) te dien nie, maar eerder om die
belange van die sindikaat en aldus hul eie saak en sak te bevorder.
Daarenteen was elkeen van hulle, objektief gesproke, besig om die
presiese taak te verrig wat aan hulle opgedra is. Dit is dus
nie 'n
geval waar werknemers, in die wyse waarop hulle hul taak verrig het,
hul totaal van hul opgelegde pligte gedistansieer het
nie. Hoe knap
dit kan wees om die presiese lyn te bepaal tussen wat binne en wat
buite diensbestek val, kan ten beste geïllustreer
word wanneer
die feite van die huidige geval vergelyk word met die feite in die
jongste beslissing van hierdie Hof op die gebied,
te wete,
Ess Kay
Electronics Pte Ltd and Another v First National Bank of Southern
Africa Ltd
2001 (1) SA 1214
(SCA).
[13] Die werknemer om wie se optrede dit
in daardie saak gegaan het, ene Wildig, was in beheer van die
uitreiking van bankwissels
aan kliënte van die bank ter betaling
van buitelandse skulde. 'n Kennis van Wildig, ene Clack, het hom
met R10 000 omgekoop
om twee wissels ten gunste van die eisers voor
te berei wat sou dien as betaling vir goedere wat vanuit die
binneland ingevoer
is. Wildig het twee blanko wisselvorms waartoe hy
alleen toegang gehad het, na sy vrou se werkplek geneem waar sy op
haar tikmasjien
die besonderhede ingevul het waarvoor Clack gevra
het. Daarna het Wildig self twee handtekeninge op die dokumente
vervals waarna
hy die vervalste dokument aan Clack oorhandig het. 'n
Paar dae later het hy kastig self ontdek dat twee blanko wisselvorms
soek
was. Toe die twee vervalste wissels later vir betaling
aangebied en geweier is, het dit uiteindelik tot die aksie gelei wat
die
eisers teen die verweerder-bank ingestel het. Op 1219D-E is
gesê:
‘It also
cannot carry the day for a plaintiff that, without more, the
employee’s acts involved in perpetrating the
wrong are acts of
a kind which the employee is normally authorised to perform and
which, superficially, appear to forge a close
link between the wrong
and the employee’s duties. The question is always: were the
acts in the case under consideration
in fact authorised; were they
in fact performed in the course of the employee’s employment?’
Sowel die hof
a quo
as hierdie
Hof beantwoord die gestelde vrae ontkennend. Onder meer word gesê,
te 1220I-1221B:
‘[15] …The
more a dishonest employee makes use, in committing a wrong during
employment, of the trappings of appointment,
the facilities of the
job and the tools of the trade, the more an unauthorised conduct is
going to appear authorised. The essential
enquiry is: what shows
whether Wildig was acting within or without what was authorised and
required by his duties as employee?
[16] Clearly,
Wildig was only authorised to take draft forms from the container and
to complete and issue them to a customer who
presented the necessary
proof of indebtedness requiring payment in foreign currency. And a
customer, moreover, who either paid
for the drafts or the debiting of
whose account was authorised by way of a signed Form A. Clack met
none of these requirements.
It follows that everything Wildig did
relative to the drafts which deceived the plaintiffs was outside the
scope of his actual
authority and the course of his employment.
(Implied authority was not raised in this case but manifestly none
existed.)’
[14] Dieselfde vrae wat in die
Ess
Kay-
saak geopper is [‘were the acts in the case under
consideration in fact authorised; were they in fact performed in the
course
of the employee’s employment?’], kan ook in die
onderhawige geval gevra word. Maar dan ontstaan die verdere vraag:
wat beteken ‘acts’? Beteken dit die uitreiking van
polisieklarings? Dan is die antwoord op die vrae bevestigend.
Of
beteken dit die uitreiking van
vals
polisieklarings? Dan is
die antwoord ontkennend.
[15]
Minister of Safety and Security
v Jordaan t/a Andre Jordaan Transport, supra,
stel dié
soort probleem op 24H-25E in perspektief:
‘The standard
test for vicarious liability is, of course, whether the delict in
question was committed by an employee while
acting in the course and
scope of his employment. The inquiry is frequently said to be
whether at the time the employee was about
the affairs or business or
doing the work of the employer (see, for example,
Minister of Law
and Order v Ngobo
[1992] ZASCA 172
;
1992 (4) SA 822
(A) at 827B;
Minister of
Police v Rabie
1986 (1) SA 117
(A) at 132G). This is no doubt
true, but it should not be overlooked that the affairs or business or
work of the employer in question
must relate to what the employee was
generally employed or specifically instructed to do. Provided the
employee was engaged in
activity reasonably necessary to achieve
either objective, the employer will be liable (see
Estate Van der
Byl v Swanepoel
1927 AD 141
at 145-6, 151-2). The difficulty, of
course, is that while the general approach to be adopted may be easy
enough to formulate,
its lack of exactitude is such that problems
inevitably arise in its application. This is particularly so in the
so-called ‘deviation’
cases. What is clear is that not
every act of an employee committed during the time of his employment
which is in the advancement
of his personal interest or for the
achievement of his own goals necessarily falls outside the course and
scope of his employment.
(
Viljoen v Smith
[1996] ZASCA 105
;
1997 (1) SA 309
(A)
at 315F-G.) In each case, whether the employer is to be held liable
or not must depend on the nature and extent of the deviation.
Once
the deviation is such that it cannot be reasonable held that the
employee is still exercising the functions to which he was
appointed,
or still carrying out some instruction of his employer, the latter
will cease to be liable. Whether that stage has
been reached is
essentially a question of degree.’
[16] Anders as in die
Absa Bank
-saak,
supra
, 382G, het mens hier juis met 'n sogenaamde ‘deviation
case’ te doen. Word die voorlaaste sinsnede op die huidige
geval toegepas, meen ek dat die kritieke punt nie bereik is nie en
dat die antwoord in hierdie geval, ondanks die oënskynlike
ooreenkoms met die feitestel in die
Ess Kay
-saak, dus anders
moet wees as in daardie geval. Die polisieklarings mag
vals
gewees het maar hulle was nie
vervals
nie. Die beamptes was
steeds besig met hul opgelegde take. Dit is dus 'n geval waar, in
die dictum in
Minister of Police v Rabie, supra
, ‘there
is nevertheless a sufficiently close link between the servant’s
acts for his own interests and purposes and
the business of his
master, the master may yet be liable’ (vgl
Minister van Wet
en Orde v Wilson en 'n Ander
[1992] ZASCA 81
;
1992 (3) SA 920
(A) te 928B-C). Die
Hof
a quo
het dit so gestel:
‘Die verweerder se erkenning dat
die betrokke polisiebeamptes die klarings uitgereik het hou na my
oordeel in dat hulle gemagtig
was of opdrag gehad het om
motorvoertuigklarings uit te reik. Van die klaringsertifikaat blyk
duidelik dat hulle dit in hul hoedanigheid
as polisiebeamptes gedoen
het. Nie alleen is die klarings met die amptelike stempel gestempel
nie maar daar verskyn ook die betrokke
beampte se handtekening,
magsnommer en rang op die sertifikaat. Die feit dat hulle nie hul
opdragte met betrekking tot die uitreiking
van die klarings nagevolg
het nie, ding niks af aan die feit dat hulle as polisiebeamptes
opgetree het nie. Hulle het klaarblyklik
bedoel om as
polisiebeamptes op te tree en, objektief beskou, het hulle in daardie
hoedanigheid opgetree. Dat dit hulle beweegrede
was om valse
inligting te verstrek ten einde finansiële voordeel vir
hulleself te bekom, verander nie die hoedanigheid waarin
hulle
opgetree het nie. Hulle het die taak verrig waarmee hulle belas was,
maar het dit op 'n onbehoorlike wyse en in stryd met
hulle opdragte
uitgevoer. Dit is die soort van optrede wat tot middellike
aanspreeklikheid aanleiding gee. Dat hulle optrede
eerder misdaad
bevorder as misdaad voorkom, neem hulle optrede ook nie uit die
trefwydte van die beginsel van middellike aanspreeklikheid
nie. Na
my oordeel kan die verweerder nie van aanspreeklikheid vir hulle
optrede ontkom nie.’
Ek stem weereens saam.
[17] Na my oordeel is dit dus wel 'n
geval waar die verweerder in beginsel vir die optrede van sy beamptes
aanspreeklik is. Dat
sodanige optrede 'n element van bedrog behels
het, is op sigself nie deurslaggewend nie, net soos dit in die
Ess
Kay
-saak nie sondermeer as deurslaggewend beskou was nie (vgl
Absa Bank Ltd v Bond Equipment (Pretoria) (Pty) Ltd, supra,
381H-I). Die bedrog wat nie soseer teen die werkgewer gerig was
nie as teenoor derdes, setel nie in die handeling as sodanig nie
maar
in die oogmerk waarmee die handeling verrig is. Dit dui op die
subjektiewe element van die standaard toets wat, soos reeds
gesê,
ofskoon 'n belangrike faktor, nie noodwendig beslissend is nie.
[18]
Of die eiser sowel die feit van
sy skade as die omvang van sy skadevergoeding bewys het
Dat die eiser as gevolg van die
uitwinnings finansieel slegter daaraan toe was, staan vas. Volgens
Hattingh was die eiser genoodsaak,
nadat hy reeds die aankoopprys aan
Pro-fit betaal het, om terugbetalings te maak van wat hy op sy beurt
van ses van sy onderskeie
kopers ontvang het, wat natuurlik sy wins
ingesluit het. Wat die agste voertuig betref, is daarop beslag gelê.
Die eerste
vraag is of hy dié verliese as skade van die
verweerder kan verhaal.
[19] Die eiser het 'n deliktuele eis om
betaling van skadevergoeding teen die verweerder (en denkbaar ook
teen die diewe). Terselfdertyd
het die eiser, op grond van Pro-fit
se verbreking van die gemeenregtelike waarborg teen uitwinning, ook
'n kontraktuele eis om
betaling van skadevergoeding teen Pro-fit.
Die grondslag van berekening van skadevergoeding in die geval van 'n
deliktuele eis
verskil van dié van 'n kontraktuele eis.
Indien die eiser sy eis weens kontrakbreuk in die eerste instansie
teen Pro-fit
ingestel het, sou hy geregtig gewees het om van
laasgenoemde te verhaal die bedrae wat hy aan die derdes moes betaal
wat sy winskomponent
sou insluit. Vir sover hy reeds die koopprys
aan Pro-fit betaal het, is sy daadwerklike verlies dus die
aankoopprys van die ses
voertuie plus sy winskomponent (vgl
Alpha
Trust (Edms) Bpk v Van der Watt
1975 (3) SA 734
(A) op 745C-H;
747E-H; 748G); en wat die agste voertuig betref, is sy verlies die
waarde daarvan. Kom dit by sy deliktuele
eis teen die verweerder,
is sy skade
‘…
die verskil tussen die vermoënsposisie van die benadeelde vóór
die onregmatige daad en daarna
… Skade is die ongunstige
verskil wat deur die onregmatige daad ontstaan het.’
(
Santam Versekeringsmaatskappy Bpk v
Byleveldt
1973 (2) SA 146
(A) op 150B-C.)
Sonder die delik sou die eiser die
betrokke voertuie nie van Pro-fit aangekoop en weer aan die
onderskeie kopers herverkoop het
nie; hy sou dus nie betalings aan
Pro-fit gemaak het en hy sou nie verplig gewees het om die bedrae wat
hy ontvang het weer te
vereffen nie. Ook sou hy nie die agste
voertuig waarvoor hy ten volle betaal het, moes afstaan nie. Kortom,
hy sou hom nie in
sy huidige nadelige finansiële posisie bevind
het nie. Daardie nadelige posisie sluit die winskomponent in. Die
winskomponent
spruit egter uit die kontrak voort en nie uit die delik
nie, sodat die delikspleger regtens nie vir die oormaat aanspreeklik
gehou
kan word nie. Wat hy van die verweerder kan verhaal, is ten
beste vir die eiser dus die aankoopprys wat hy vir die voertuie wat
uitgewin is, betaal het, wat opsigself minder is as wat die Hof
a
quo
aan die eiser toegeken het.
[20] Opsommenderwys kan dus gesê
word dat die eiser potensieel twee (of dalk drie) alternatiewe
ofskoon parallele eisoorsake
vir terugbetaling van die aankooppryse
het. Die winskomponent kan hy van Pro-fit alleen verhaal. Hy sou óf
die een eis
óf die ander óf bes moontlik aldrie eise
gesamentlik in een aksie in die alternatief aanhangig kon maak (vgl
Hooggeregshofreël
10(3)). Wat hy van die een verweerder
verhaal, hetsy by wyse van hofbevel, hetsy by wyse van skikking, sou
sy eis om skadevergoeding
teen die ander dermate verminder. Sou die
eiser sy aksie teen die huidige verweerder alleen instel en word hy
deur hom vergoed,
sou hy alleen vir sy wins 'n eis teen Pro-fit hê,
want vir sover sy skade origens vergoed is, ly hy dit nie meer nie.
In
so 'n geval sou Pro-fit op sy beurt (op die aanvaarding dat hy,
soos die eiser, deur die polisiebeamptes mislei is), geen eis teen
die verweerder hê nie, want in die mate wat die eiser hom nie
meer kan aanspreek nie (omdat hy deur die verweerder vergoed
is),
het Pro-fit geen skade gely wat hy op sy beurt weer van die
verweerder sou kon verhaal nie. Dieselfde geld indien die eiser
sy
aksie ter aanvang teen Pro-fit ingestel het. As hy sy volle skade
verhaal het, sou hy daarna geen skade teen die verweerder
kon bewys
nie; en as hy sy skade alleen ten dele kon afdwing, sou hy slegs vir
die balans van die bedrag waarmee sy boedel steeds
verminder is, 'n
eis teen die verweerder kon afdwing.
[21] Bogenoemde uiteensetting word deur
die verweerder betwis. Volgens die betoog wat namens hom voorgedra
is, het die eiser kwansuis
geen skade gely nie, juis omdat hy 'n
vorderingsreg teen Pro-fit gehad het wat enige eis outomaties
uitkanselleer wat die eiser
andersins teen die verweerder mag gehad
het. Daarmee kan ek nie saamstem nie. Die eiser se vorderingsreg
teen Pro-fit neutraliseer
nie sondermeer die daadwerklike
vermoënsverlies wat hy gely het nie. Die verweerder se betoog
(dat die eiser se vorderingsreg
teen Pro-fit om betaling van
skadevergoeding weens kontrakbreuk, synde 'n bate in sy boedel, sy
eis om skadevergoeding teen die
verweerder weens delik uitwis), bots
met die verwerping in
Nedcor Bank Ltd t/a Nedbank v Lloyd-Gray
Lithographers (Pty) Ltd
2000 (4) SA 915
(SCA) op 920G-H van 'n
analoë argument, wat deur Scott AR as ‘this seemingly
ingenious argument’ beskryf is:
‘The argument
advanced on behalf of Nedbank was in essence the following. In
determining the loss suffered by the respondent
in consequence of
Nedbank’s wrongful conduct, the right of the respondent to
recover damages from S was an asset in the respondent’s
estate.
Accordingly, so it was contended, the respondent’s claim
against Nedbank fell to be reduced by the value of that
right and as
it was accepted that S had the financial means to satisfy the claim
in full, Nedbank was not indebted to the respondent.’
Die eiser in daardie geval, die eienaar
van 'n gesteelde tjek, het 'n eis gehad teen sowel die dief van die
tjek as die bank wat
dit op 'n nalatige wyse teen koste van die eiser
ingevorder het. Die een eis, so is sowel in die Hof
a quo
as
op appèl beslis, staan nie in die weg van die ander nie. Op
921E-G word gesê:
‘Assuming the
bank and the thief to have been jointly and severally liable, the
plaintiff would have been entitled to sue
either wrongdoer for the
full amount. On this assumption the obvious flaw in the learned
Judge’s reasoning [in
Holscher v Absa Bank en 'n Ander
1994
(2) SA 667
(T)] would have been that, if for the purpose of
determining the plaintiff’s loss his right of recovery against
the other
wrongdoer had to be taken into account, it would follow
that, if both had financial means, each when sued could point to the
plaintiff’s
right to recover from the other so that the
plaintiff could recover from neither. Quite clearly, once it is
accepted that the
full amount is recoverable from any one wrongdoer,
the plaintiff’s right to sue any other wrongdoer must be
disregarded when
determining his loss.’
Dieselfde gedagtegang geld ook hier.
Weliswaar was die verweerder en Pro-fit nie
in solidum
teenoor
die eiser aanspreeklik nie en sou die eiser van Pro-fit méér
kon verhaal as van die verweerder, maar die
kerngedagte is steeds:
meerdere vorderingsregte ten opsigte van dieselfde skade of deel
daarvan wis nie sondermeer die eise daarvoor
wedersyds uit nie. Dat
'n koper dus 'n kontraktuele skadevergoedingseis weens uitwinning
teen sy verkoper mag hê, is opsigself
geen antwoord op die
koper se deliktuele skadevergoedingseis teen die dief (wat die saak
aan die verkoper verkoop het) nie. Maar
waar die koper wat uitgewin
word óf van die dief óf van sy voorganger in titel
daadwerklike
betaling
ontvang, ter afbetaling van sy eis
ex
delicto
of
ex contractu
, na gelang van die geval,
verminder dit die omvang van die skade wat hy ly en dus van sy eis.
Betaling of waarde ter delging of
vervreemding van die vorderingsreg
moet dus wel in ag geneem word. En dit is presies waar die knoop, om
die redes wat volg, in
die onderhawige geval vir die eiser lê.
[22] Die verweerder se alternatiewe
betoog was dat die eiser in elk geval nie die omvang van sy skade
bewys het nie, aangesien die
eiser 'n sogenaamde
samewerkingsooreenkoms met Pro-fit gesluit het en dit tydens die
kruisverhoor van Hattingh geblyk het dat die
eiser sekere
terugbetalings van Pro-fit ontvang het wat Hattingh nie kon
kwantifiseer nie. Reeds in sy versoek om nadere besonderhede
vir
verhoor het die verweerder gevra:
‘Is enige
deel van die koopprys deur Eiser aan Pro-fit betaal sedertdien
terugbetaal? Indien wel, welke bedrag is terugbetaal
en op welke
datum?’
Daarop het die eiser geantwoord:
‘Die Eiser en
Pro-fit het 'n onderlinge ooreenkoms met mekaar aangegaan hangende
die afhandeling van die onderhawige geding,
welke reëling
res
inter alios acta
is.’
Onder kruisverhoor is Hattingh verder
daarna uitgevra.
Die getuienis lui soos volg:
‘Nou wat betref die situasie tussen die eiser en Pro-fit, by
beslaglegging op hierdie voertuig of by die uiteindelike koper
of in
die hande wat voertuig 8 betref by die eiser, u het onmiddellik
geweet dat die party by wie u die voertuig aangekoop het,
naamlik
Pro-fit, is verplig om u terug te betaal. -- Ek het dit geweet. Ja,
u edele.
Het hulle inderdaad ooit vir u terugbetaal enige bedrag? -- Ons het
'n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit, u edele, waarvan
ek die
besonderhede nie ek op hierdie stadium heeltemal op datum is nie.
Was dit skriftelik gewees? -- Dit was 'n skriftelike ooreenkoms wat
deur my regsverteenwoordiger opgestel was.
En ingevolge daardie ooreenkoms aanvaar ek het Pro-fit
aanspreeklikheid aanvaar teenoor Status dat hy wel regtens
aanspreeklik
is vir terugbetaling van wat hy ontvang het? -- Dit sou
so wees.
En ek wil net vir u vra, my vorige opdraggewende prokureur wat nou
nie meer by die staatsprokureur is nie, mnr Van der Merwe, het
op 'n
stadium met mnr Kajee [die eienaar van Pro-fit] gekonsulteer en hy
het hom meegedeel dat Pro-fit inderdaad maandeliks R10
000,00 op
daardie stadium betaal het - R10 000,00 per maand betaal het aan
Status? -- Dit was op 'n stadium so gewees. Ja, u edele.
Soos ek
vir u sê ek het net nie nadere besonderhede wanneer dit opgehou
het nie.
So u het wel betalings van R10 000,00 elk van Pro-fit ontvang ter
terugbetaling van wat hulle weer ontvang het? -- Ek het dit ontvang.
Dit is so, u edele.
En u kan nie vir ons sê hoeveel dit was in totaal nie? -- Nee,
ek sal nou moet dokumente voor my kry. Dit is ook al lank
terug. Ek
kan nie spesifiek meer onthou wat die bedrag was nie.’
‘U het getuig oor 'n samewerkingsooreenkoms en die pleitstukke
sê ook daar is 'n samewerkingsooreenkoms. -- Dit is
korrek.
Net om saam te vat u het getuig u het gesê daar is 'n
ooreenkoms tussen die eiser en Pro-fit Exhaust waar hulle
aanspreeklikheid
aanvaar het op grond van hulle waarborg teen
uitwinning om u te vergoed vir u skade. -- Ja, asook u edele as ek
net kan terug onthou
na die samewerkingsooreenkoms toe om ook beide
van ons se skade te beperk dat ons nie te veel verloor of ons
besighede verloor
nie in die proses dat ons saamwerk om uit die ding
uit te kom; dat daar sekere gedeeltes, ek kan net nie nou vir u na
syfers verwys
en sê hoeveel nie, maar ek weet daar is 'n
ooreenkoms.
HOF
: Gaan
dit oor die kostes in hierdie saak? -- Dit gaan oor die kostes ook, u
edele.
En dat u eintlik
'n soort van 'n gemeensaak maak in die aksie teen die verweerder in
die saak? -- Dit is korrek.
MNR MARITZ
:
En ons weet ook net om saam te vat dat daar was maandelikse
betalings van R10 000,00 per maand wat Pro-fit aan die eiser sou
maak
en daar is verskeie sulke bedrae betaal. U kan nie sê hoeveel
nie. -- Ek kan net nie vir u sê hoeveel van daardie
bedrae is
betaal nie.’
En daar is die saak deur
albei kante gelaat.
[23] Volgens die
verweerder beteken dié stukkie getuienis dat die bewys van die
eiser se skade in die lug hang; volgens
die eiser is dit alles
vanweë die werking van die
res
inter alios acta
-beginsel irrelevant.
Bowendien, so beweer die eiser, as die verweerder iets daarvan
wou maak, moes hy dit as 'n spesifieke geskilpunt geopper het, in
welke geval die kwessie behoorlik uitgepluis sou gewees het. Na my
mening gaan nie een van die eiser se twee redes op nie. Ek
behandel
hulle om die beurt.
[24] Die stelreël ‘
res
inter alios acta alteri nocere non debet
’ (handelinge van
derdes behoort 'n ander party nie te benadeel nie) kom nie werklik te
pas nie. Dit geld in die geval van:
‘…
voordele wat die benadeelde ontvang het en wat as gevolg sou hê
dat die skade wat gely is geheel of gedeeltelik
deur 'n derde
persoon, 'n ander bron as die delikspleger, vergoed sou word.’
(
Santamversekeringsmaatskappy Bpk v
Byleveldt
,
supra,
op 150D.)
Sulke voordele word in gegewe
omstandighede buite rekening gelaat wanneer skadevergoeding bepaal
word (Neethling, Potgieter en Visser,
Deliktereg
, 3de uitg,
223 e.v.). Die voordeel wat die eiser in hierdie geval by wyse van
terugbetalings van Pro-fit ontvang het, was juis
nie van 'n ‘ander
bron as die delikspleger’ afkomstig nie en verskil wesenlik van
die tipiese geval van 'n betaling
wat
ex gratia
of uit hoofde
van 'n versekeringsooreenkoms of ‘n pensioenskema of iets
dergeliks aan die benadeelde gemaak word. Sulke
betalings staan
inhoudelik totaal los van die delik. Hier nie. Die betalings wat
Pro-fit in hierdie geval aan die eiser gemaak
het, is direk aan die
delik te wyte en val as sodanig binne en nie buite deliksverband nie.
Wat Pro-fit aan die eiser moet betaal,
kan hy teoreties weer van die
verweerder verhaal. Die potensiële bron van betaling is dus in
die laaste instansie die delikspleger
self. Vanuit die delikspleger
se oogpunt beskou, was 'n sodanige betaling trouens normaalweg
voorsienbaar: die delik is gepleeg
om gesteelde voertuie weer in die
handel in omloop te stel; dit word aan 'n tweedehandse
motorhandelaar gelewer wat dit na verwagting
weer sal verkoop. Dit
is volkome te verwagte dat 'n opeenvolgende reeks uitwinningsaksies
denkbaar sou voorkom indien die diefstal
en die verweerder se aandeel
daarin ontdek word. Enige betalings wat elke verkoper uit hoofde van
sy stilswyende waarborg teen
uitwinning aan sy koper moet maak, sou
'n integrale deel van die ommekering van die hele proses van
ongerymdheid wees en dus glad
nie ‘
inter alios
’
nie. Oorwegings van redelikheid, billikheid en openbare belang wat
andersins by die stelreël ter sake mag wees, speel
hier geen rol
nie. Van dubbel vergoeding aan die eiser of dubbel betaling aan die
kant van die verweerder kan daar in so 'n geval
ook geen sprake wees
nie. Die betoog wat namens die eiser voorgedra is, as sou elke
opeenvolgende koper afsonderlik sy volle skade
van die verweerder kan
verhaal, is kennelik verkeerd. 'n Koper kan slegs teen die
oorspronklike delikspleger optree as hy self
deur sy na-man
aangespreek word, want anders het hy geen skade gely wat hy van die
delikspleger kan verhaal nie. Die terugbetalings
wat elke koper uit
hoofde van die verbreking van die gemeenregtelike waarborg teen
uitwinning aldus van sy voorganger in titel
sou ontvang het, het met
die stelreël dus niks te make nie.
[25] Die eiser se verdere betoog, dat
die verweerder dit as 'n spesifieke geskilpunt moes geopper het
indien hy op die terugbetalings
deur Pro-fit as 'n verweer wou
staatmaak, kan eweneens nie opgaan nie. Die Hof
a quo
het
die betoog aanvaar. Ek nie. In die eerste plaas was die kwessie
reeds op pleitstuk-stadium geopper. In die tweede plaas
sien ek dit,
anders as die Hof
a quo
, nie as 'n verskyningsvorm van die
algemene reël dat 'n benadeelde nie vergoeding kan verhaal wat
hy redelikerwys kon vermy
of verminder het nie (vgl Neethling,
Potgieter en Visser, a.w. 228). Daardie beginsel is, net soos die
res inter alios acta
-beginsel, nie hier van toepassing nie.
Dit gaan hier om die primêre vraag of die eiser die omvang van
sy skade bewys het,
nie of hy sy bewese skade redelikerwys kon beperk
het nie. Waar 'n eiser, soos hier, die omvang van sy skade
prima
facie
bewys, berus dit by die verweerder om aan te toon dat daar
sekere voordele is wat die eiser toekom en wat na regte van die
skadevergoedingsbedrag
afgetrek moet word (vgl Visser en Potgieter,
Skadevergoedingsreg
215). Word daardie feit deur die
verweerder bewys of deur die eiser erken, maar die omvang daarvan is
onseker, berus dit by die
eiser, wat beter as die verweerder daartoe
in staat is, om dit te kwantifiseer, ten einde te bewys wat die
balans is waarop hy
teenoor die verweerder op betaling geregtig is.
Doen hy dit nie, altemit omdat hy hom op 'n verkeerde beginsel
beroep, loop hy
die risiko dat hy nie die omvang van sy skade bewys
het nie. Vir sover die eiser in die onderhawige geval terugbetalings
van Pro-fit
ontvang het, is die vergoeding wat hom toekom dermate
verminder. As daar op die getuienis nie gesê kan word in
watter mate
die omvang van die eiser se skade deur sodanige betalings
verminder is nie, is dit nie moontlik om te bepaal wat die balans van
sy eis teen die verweerder is nie. Dit het by die eiser berus, wat
hy maklik kon doen, om te bewys welke betalings hy ter afbetaling
van
sy eis teen Pro-fit ontvang het, asook wat die samewerkingsooreenkoms
presies daaroor bepaal het.
Aangesien dit nie
gebeur het nie, het die eiser nie die omvang van sy skade bewys nie.
Die Hof
a quo
moes
gevolglik absolusie van die instansie beveel het, eerder as om die
eiser se eis te handhaaf.
Die volgende bevel word gemaak:
1. Die appèl slaag met koste, insluitende die koste wat in die
verrigtinge benede voorbehou is.
2. Die bevel van die Hof
a quo
word tersyde gestel en met die
volgende bevel vervang:
Absolusie van die instansie, met koste.
…………………
P M NIENABER
REGTER VAN APPèL
NUGENT, AJA
:
I agree that
the appeal must succeed and, save for a reservation relating to
paragraphs 19, 20 and 21, I agree with the judgment
of Nienaber JA.
My reservation relates to the question whether the respondent
suffered damages claimable in delict from the
police.
The wrongful
acts at issue caused the respondent to purchase the motor vehicles
and its conclusion of those contracts is the source
of the loss for
which it now seeks to hold the police liable. The contracts of
purchase incorporated a right of action against
the seller in the
event of it being evicted which, depending upon the financial
standing of the debtor, might be capable of being
converted into
money thereby avoiding any loss.
The question is
whether the value of that right of action (assuming that it is
established) must be taken into account in determining
whether the
respondent suffered damages. I do not think that
Nedcor Bank Ltd
t/a Nedbank v Lloyd-Gray Lithographers (Pty)
Ltd
2000 (4) SA 915
(SCA) answers that question, either directly or by analogy. That
case considered the position of concurrent wrongdoers in delict,
who
are each jointly and severally liable (
in solidum
) for the
loss that they have caused, and the reasoning is not necessarily
applicable to the present problem.
Whether the
respondent and the seller are in the same position, for the purpose
of determining damages, as concurrent wrongdoers
in delict (and
subsidiary questions relating to where the onus lies if they are
not) do not arise for decision in the present
case. As appears from
the judgment of Nienaber JA at paragraphs 22ff, at least the money
that is realised from the right of
action in contract against the
seller must be taken into account in determining whether and to what
extent the respondent suffered
loss. It emerged in the evidence
that the respondent had received some such payments. How much he
received never emerged.
That alone, as Nienaber JA indicates, is
sufficient to disable his claim.
It is therefore
not necessary to consider in this case whether the value of the
contractual right of recourse (assuming that it
had a value) before
it was converted into money also fell to be taken into account in
determining whether a loss was suffered;
and if it did, upon whom
the burden of proving its value lay. The extent to which damages
ought to be recoverable is ultimately
a question of legal policy (cf
Standard Chartered Bank of Canada v Nedperm Bank Ltd
[1994] ZASCA 146
;
1994 (4)
SA 747
(A) at 765 A-B). That question, as between a wrongdoer and
an injured party who has a right of recourse against a party with
whom he contracted in consequence of the wrongful act, does not in
my view fall to be determined in the present case. With that
reservation I agree with the order proposed.
____________
NUGENT
AJA
Streicher, JA)
Cameron, JA)
Froneman, JA) concur