About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1999
>>
[1999] ZASCA 10
|
|
S v Plaatjies en 'n Ander (24/97,303/91) [1999] ZASCA 10 (17 March 1999)
Saaknommer
24/97
303/97
In die
saak tussen :
JULIAN
PLAATJIES
Eerste
Appellant
HENDRY CHRISTIANS
Tweede
Appellant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
Coram:
Vivier,
Nienaber
et
Olivier ARR.
Verhoor:
9 Maart 1999
Gelewer:
17
Maart 1999
U
I T S P R A A K
VIVIER AR
VIVIER
AR:
Die twee appellante (“beskuldigdes
1 en 3") het saam met drie ander (“beskuldigdes 2, 4
en 5") in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling voor
Hannon
Wnd R
en
assessore tereggestaan op elf aanklagte wat uit dieselfde gebeure
spruit. Aan die einde van die staatsaak is beskuldigde
2 op al die
aanklagte onskuldig bevind en ontslaan. Die ander vier beskuldigdes
is almal skuldig bevind op een aanklag van roof
met verswarende
omstandighede (aanklag 1); twee aanklagte van menseroof (aanklagte
2 en 3); twee aanklagte van aanranding
met die opset om ernstig te
beseer (aanklagte 5 en 6); een aanklag van poging tot moord
(aanklag 7) en een aanklag van moord
(aanklag 8). Beskuldigde 3
is verder skuldig bevind aan die onwettige besit van ’n
vuurwapen en ammunisie (aanklagte
9 en 10). Beide beskuldigdes 1
en 3 is op die moordaanklag ingevolge die destyds geldende reg ter
dood veroordeel. Hulle
appelleer ingevolge art 316 A van die
Strafproseswet 51 van 1977 na hierdie Hof teen hulle
skuldigbevindings en vonnisse op
die aanklag van moord. Daar is
geen appèl teen hulle ander skuldigbevindings of vonnisse nie.
Dit
was nie in geskil nie dat Diranda Makanjee (“die klaer”)
en Arulla Padayachee (“die oorledene”) in
die loop van
Vrydagaand 15 Januarie 1993 in laasgenoemde se Fiat Uno motor (“die
Fiat”) op pad was toe hulle by ’n
stopstraat in
Coronation, Johannesburg, oorval en weggevoer is deur vyf mans wat
hulle beroof, aangerand en die oorledene
doodgemaak het. Wat vir
huidige doeleindes in geskil was, was die identiteit van die
aanvallers.
Die klaer se getuienis kan as volg
saamgevat word. By die stopstraat is die Fiat skielik omring deur
vyf mans. Een van hulle
het ’n vuurwapen in sy hand gehad.
Hy het twee skote na die Fiat geskiet en sy vuurwapen, wat die
klaer as ’n
7,65 mm pistool identifiseer het, op die oorledene,
wat bestuur het, gerig. Die klaer en die oorledene is gedwing om
agter in
te klim waarna die vyf aanvallers ook ingeklim het, drie
voor en twee agter.
Die
Fiat het vertrek, bestuur deur een van die aanvallers.
Die
een met die pistool in die hand het onmiddellik langs die klaer gesit
en hom voortdurend met die kolf van die pistool in die
gesig geslaan
wanneer hy nie sy kop laag gehou het soos hy en die oorledene beveel
was om te doen nie. By ’n afgeleë
plek het die Fiat
gestop waar die slagoffers gedwing is om uit te klim. Hulle is
daar deursoek en beroof van hulle horlosies,
kontant, kitsbank-kaarte
en ander persoonlike besittings. Die klaer het beskuldigde 1
uitgeken as die een wat hom deursoek
en sy besittings van hom
afgeneem het en beskuldigde 3 as die een met die pistool. Almal
het weer ingeklim, die Fiat het
vertrek en by verskeie kitsbanke
gestop waar die aanvaller geld probeer trek het. Daarna het
hulle by ’n woonstelblok
gestop en daar is genoem dat hulle
koord of draad moes kry om die slagoffers vas te bind. Twee van die
aanvallers het uitgeklim
en met draad-klerehangers teruggekom.
Daarvandaan het hulle na ’n stil straat gery waar geld geëis
en beskuldigde
3 die klaer in die knie geskiet het. Die een wat
bestuur het, het gevra dat hulle die slagoffers se lewe moes spaar,
maar
beskuldigde 3 het gesê dat hulle doodgemaak moes word en
die ander het met hom saamgestem. Hulle het tot in die oop veld
gery
waar die klaer en die oorledene beveel is om uit te klim. Hulle is
op die grond met hul gesigte na onder neergegooi, hul
hande en bene
is vasgebind en elkeen is drie keer geskiet. Die klaer is in die
rug en nek getref wat hom permanent van die arms
af ondertoe verlam
het. Daarna is die pistool teen die klaer se kop gedruk en die
sneller ’n paar keer getrek maar geen
verdere skote het
afgegaan nie. Toe die polisie later opdaag was die oorledene reeds
dood.
Die
klaer het ’n goue armband en horlosie (bewysstukke 3 en 4) as
sy eiendom wat van hom geroof is, geïdentifiseer
asook ’n
goue horlosie (bewysstuk 1) as dié wat van die oorledene
afgeneem is. Sy uitkenning van hierdie bewysstukke
is deur die
Verhoorhof aanvaar en daar is nie voor ons betoog dat die Verhoorhof
in hierdie opsig fouteer het nie. Bewysstuk
1 is verder deur die
oorledene se vrou as sy eiendom uitgeken.
Op
23 September 1993 het die klaer ’n uitkenningsparade bygewoon
waar hy beskuldigdes 1 en 3 as twee van sy aanvallers uitgeken
het.
Hy het nog ’n derde persoon uitgeken wat nie een van die vyf
beskuldigdes was nie.
Die
omstandigheidsgetuienis bied sterk stawing vir die klaer se weergawe
dat beskuldigdes 1 en 3 deelgeneem het aan die moord.
Uit die
getuienis van die ondersoekbeampte in die saak, majoor Jacobs, die
staatsgetuie, Edward Plaatjies, en die verdedigingsgetuie
Eunice
Naran (hy is met beskuldigde 1 se tante, Sheila, getroud en
beskuldigde 1 het by hulle gewoon), blyk die volgende.
As gevolg
van inligting wat beskuldigde 1 na sy arrestasie aan Jacobs verskaf
het, het Sheila Naran die horlosie, bewysstuk
1, in beskuldigde 1
se baadjiesak in sy hangkas gevind. Sy het dit aan Plaatjies gegee
wat dit na Jacobs geneem het. Wat
bewysstukke 3 en 4 betref, blyk
die volgende uit die getuienis van Eugene Naude en William Waterson.
Die dag na die moord het
beskuldigde 5 vir Naude gevra om ’n
goue horlosie en armband namens hom te verkoop. Naude het die
armband dieselfde
dag aan Waterson vir R120-00 verkoop maar die
horlosie vir beskuldigde 5 teruggegee. Daarna het beskuldigdes 3,
4 en 5 by
Waterson opgedaag en die horlosie aan hom vir R40-00
verkoop. Hy het die items later aan Jacobs oorhandig en dit as
bewysstukke
3 en 4 uitgeken.
Caroline
Krotz het getuig dat sy en haar man en haar seun, Rufus, in ’n
twee-vertrek woonstel in Newclare woon. Om tienuur
die betrokke
aand het sy na Rufus gaan soek en hom in ’n ander woonstel in
dieselfde gebou in die geselskap van die vyf beskuldigdes
gekry.
Nadat sy die aand bed toe is, het iemand aan die voordeur geklop en
Rufus het die deur gaan oopmaak. Hy het teruggekom
en haar vir
draadhangers gevra. Toe sy opstaan om dit te kry het sy vir
beskuldigdes 1 en 5 voor die venster buite in die
gang sien staan.
Sy het drie gewone draadhangers en een met blou plastiek om die
draad aan Rufus oorhandig. Volgens die polisiegetuienis
was die
klaer se hande met sulke blou draad vasgebind. Die toeval is te
groot om twyfel te laat dat die draadhangers waarvan
Krotz gepraat
het, dieselfde is as dié waarvan die klaer gepraat het en dat
dit gebruik was om die klaer en die oorledene
vas te bind.
Julian
van Bomen se getuienis was dat hy saam met sy vrou, sy skoonma,
Alice Frasenberg, sy skoonsuster, Nossy Williams, en
haar man,
beskuldigde 4, in ’n huis in Westbury woon. Om ongeveer
tienuur die betrokke aand was hy in sy slaapkamer toe
hy ’n
skoot hoor afgaan in beskuldigde 4 en Nossy se slaapkamer. Hy
het gaan kyk wat aangaan en tref beskuldigde 4
met ’n
vuurwapen in die hand aan. Beskuldigdes 3 en 5 was by
beskuldigde 4. Beskuldigdes 3, 4 en 5 het toe
saam met Nossy
die huis verlaat en hy het gesien dat beskuldigde 4 die vuurwapen
aan beskuldigde 3 gee. Van Bomen en sy skoonma
het later die aand
’n klag by die naaste aanklagkantoor gaan indien en ’n
afgevuurde patroondoppie is in Nossy se slaapkamer
gevind en aan die
polisie oorhandig. Volgens die polisiegetuienis was dit van
dieselfde kaliber (7,65 mm) as die doppies wat
op die moordtoneel
gevind is. Majoor Jacobs het later Nossy se kamer ondersoek en ’n
gat in die mat en ’n koeëlmerk
in die sement onder die gat
gekry. Polisierekords het verder getoon dat Frasenberg wel daardie
aand ’n klag ingedien het.
Alfred
Jacobs (nie die majoor nie) het getuig dat hy een dag teen die einde
van Januarie 1993 sy neef, ene Ashley Bashee, in die
geselskap van
beskuldigdes 1 en 3 gesien het. Bashee het alleen na hom toe gekom
en hom gevra om ’n vuurwapen vir hom
te bêre. Nadat
hy ingewillig het, het Bashee ’n vuurwapen in ’n
plastieksak by beskuldigdes 1 en 3 gaan
haal wat ongeveer 20 meter
van hom af gestaan het. Alfred het dit onder sy matras versteek
waar die polisie dit twee dae later
gekry het. Hierdie vuurwapen
was ’n 7,65 mm kaliber pistool en is deur Alfred se vrou,
Magdalene Biko, as bewysstuk
2 uitgeken. Bashee is voor die
verhoor oorlede. Die ballistiese getuienis wat hierdie vuurwapen
met die pleging van die
moord verbind, is deur die Verhoorhof buite
rekening gelaat om redes wat nie nou ter sake is nie.
Beskuldigde 1 se verweer was ’n
alibi. Hy het getuig dat hy die betrokke aand by die woonstel van
sy tante, Sheila Naran,
in Westbury was waar hy gewoon het en dat
hy niks van die misdade af weet nie.
Hy
het die middag tussen vier- en vyfuur tuisgekom en nie weer die aand
uitgegaan nie.
Sy
tante het ’n uur na hom daar aangekom en nog later het haar
man, Eunice, met sy seuntjie, Azid, hul opwagting gemaak.
’n
Rukkie later het haar dogter, Faiza, ook opgedaag. Beskuldigde
1 het getuig dat hy en Eunice na aandete in die
sitkamer musiek
geluister het. Agtuur het hulle na die nuus op die televisie gekyk
en daarna weer na musiek geluister totdat
hy nege-uur die aand gaan
slaap het. Hy het ontken dat hy iets van die oorledene se
horlosie (bewysstuk 1) af weet en gesê
dat hy nie eens ’n
baadjie besit nie. Sy getuienis in hierdie verband was onversoenbaar
met dié van majoor Jacobs
en Eunice Naran. Hy het verder
te kenne gegee dat majoor Jacobs vir Sheila Naran gedreig het om hom
te impliseer en dat hy
die klaer voorgesê het om hom uit te wys
op die uitkenningsparade.
Eunice
Naran het namens beskuldigde 1 getuig dat laasgenoemde nooit
gedurende die betrokke aand die woonstel verlaat het nie.
Beskuldigde 1 het die middag die kinders by die skool gaan haal en
hulle was reeds tuis toe sy tussen vyf- en sesuur daar kom.
Dit
was beskuldigde 1 se plig om elke middag die kinders by die skool te
gaan haal en vir hierdie rede het hy die enigste
stel sleutels van
die woonstel gedra. Eunice se getuienis bots dus lynreg met dié
van beskuldigde 1, waarvolgens beide
kinders ná hom by die
woonstel gekom het. Volgens Eunice kon hy die gebeure van die
betrokke aand goed onthou omdat
die polisie ongeveer twee weke later
met ’n getuie-dagvaarding daar aangekom het. Dit was egter
gemene saak dat die getuie-dagvaarding
eers op 28 Julie 1993 beteken
is. Volgens Eunice se eie erkenning was daar gevolglik geen rede vir
hom om te onthou wat die aand
van 15 Januarie 1993 gebeur het nie.
Die
Verhoorhof het in sy uitspraak op verskeie swakhede in beskuldigde 1
se alibi-getuienis gewys en dit as vals verwerp.
Beskuldigde
3 het nie getuig of enige getuienis aangebied nie.
Namens
beskuldigde 1 is in hierdie Hof betoog dat die Staatsaak uit
“
’
n sameflansing van getuienis deur
onindrukwekkende en onbevredigende getuies” bestaan. Ek
stem nie saam nie. Wat die
klaer se uitkenning van beskuldigdes 1
en 3 op die uitkenningsparade betref, is die enigste punte van
kritiek wat namens beskuldigde
1 geopper is, die volgende.
Eerstens dat hy ’n derde persoon uitgewys het wat nie een van
die vyf beskuldigdes was nie;
tweedens dat hy twintig minute geneem
het om sy eerste uitwysing te doen en derdens dat hy nie by die
uitkenningsparade gesê
het presies wat beskuldigdes 1 en 3 se
onderskeie rolle in die misdade was nie.
Die verkeerde uitwysing van die
derde persoon is klaarblyklik ’n geregverdigde punt van kritiek
teen die betroubaarheid van
die klaer se getuienis en verminder die
bewyswaarde van sy uitkenning van beskuldigdes 1 en 3. Om hierdie
rede het die Verhoorhof
stawing vir die klaer se getuienis vereis.
Die ander twee genoemde besware teen die klaer se getuienis is egter,
na my mening,
nie geregverdig nie. Wat betref die tyd wat dit hom
geneem het om sy eerste uitwysing te doen, moet in gedagte gehou word
dat
die klaer in ’n rolstoel rondgestoot moes word voor die 22
persone op die uitkenningsparade en dat hy weens sy fisiese toestand
klaarblyklik langer tyd nodig gehad het om sy waarnemings te maak.
Die klaer is duidelik ’n baie versigtige mens.
Daarvan getuig die feit dat hy by die uitkenningsparade op ’n
stadium gevra het dat die verdagtes hul koppe wegdraai
sodat hy ’n
sy-aansig kon kry. Sy verduideliking vir die tyd wat dit hom geneem
het om die eerste uitwysing te maak, was
dat hy die gebeure wou
terugroep in sy geestesoog sodat hy seker kon wees van sy
uitkenning. Sy getuienis was egter dat hy
reg van die begin af
seker was van die identiteit van beskuldigdes 1 en 3. In die
omstandighede meen ek nie dat die blote
feit dat die klaer lank
geneem het voordat hy sy uitwysing gemaak het, aan sy getuienis
afbreuk doen nie. Wat betref sy versuim
om by die
uitkenningsparade te sê presies wat beskuldigdes 1 en 3 se
rol was in die aanval, is dit nie duidelik dat
hy sy instruksies so
verstaan het dat hy iets meer moes doen as bloot om die verdagtes uit
te wys nie.
Dit blyk
o a uit die volgende passasie uit sy getuienis :
“
Now I put it to you that you were specifically
instructed to say which person did what. --- I did not understand
that, I thought
- according to me I thought that he wanted me to tell
them which are the guys that were involved in this ordeal.”
Die
betroubaarheid van die klaer se uitkennings is ook namens beskuldigde
3 aangeval omdat hy nie spesifiek vooraf deur die polisie
verwittig
is dat daar moontlik geen verdagtes op die parade mag wees nie. Die
klaer het wel erken dat so-iets nie pertinent aan
hom gesê is
nie, maar bygevoeg dat hy vooraf elders navraag gedoen en gehoor het
dat so ’n moontlikheid bestaan.
Namens
beskuldigde 3 is daar verder beswaar gemaak teen die feit dat persone
van ’n ander rassegroep as beskuldigdes 1 en
3 onder die
verdagtes op die parade was. Daar is geen meriete in die beswaar
nie. Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers
was teenwoordig by
die parade en het geen beswaar gemaak teen die wyse waarop die
parade gereël is nie. Inderdaad was dit
gemeensaak by die
verhoor dat al die persone op die parade min of meer dieselfde bou,
lengte, ouderdom en voorkoms gehad het.
Daar
kan min twyfel bestaan dat die klaer op die betrokke aand oorgenoeg
geleentheid gehad het vir ’n betroubare waarneming
van
beskuldigdes 1 en 3. Vir meer as twee uur lank het hy styf langs
beskuldigde 3 in die Fiat gesit en hy is voortdurend
deur
beskuldigde 3 aangerand. Beskuldigde 1 het hom deursoek en
beroof. Die lig binne die Fiat het aangegaan telkens wanneer
iemand uitgeklim het, wat ’n paar keer gebeur het. Dat die
klaer inderdaad vir beskuldigde 1 fyn waargeneem het, blyk
o a uit
die feit dat hy op die parade gesê het dat beskuldigde 1 nou
anders lyk. Dit was nie in geskil dat beskuldigde
1 se kop,
anders as op die betrokke aand, toe kaal geskeer was nie.
Die
advokate namens beskuldigdes 1 en 3 het talle punte van kritiek
geopper teen die ander staatsgetuies na wie se getuienis ek
hierbo
verwys het. Die kritiek slaan na my mening alles op
nie-wesenlike en minder belangrike aspekte van die getuienis en
raak
nie die kern daarvan of die geloofwaardigheid van die getuies nie.
Voorbeelde hiervan is die betoog dat Caroline Krotz
se getuienis
ongeloofwaardig is omdat sy die betrokke aand gedrink het en dat
Julian van Bomen moontlik nie gesien het dat beskuldigde
4 die
vuurwapen aan beskuldigde 3 oorhandig nie. Wat eersgenoemde betref,
is daar geen aanduiding in haar optrede en die logiese
relaas wat sy
verstrek het, dat sy onder die invloed van drank was nie. Wat
laasgenoemde betref, is die kern van sy getuienis
nie dat
beskuldigde 3 die wapen hanteer het nie maar dat hy in die geselskap
van die ander was. Ek vind dit nie nodig om met
enige van die
ander punte van kritiek in besonderhede te handel nie. Dit is
voldoende om te sê dat daar geen rede bestaan
om met die
Verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindings ten opsigte van hierdie
getuies in te meng nie.
Die
kumulatiewe effek van al die omstandigheidsgetuienis is, na my
mening, om beide beskuldigdes 1 en 3 sonder twyfel aan die pleging
van die moord te verbind en om voldoende stawing vir die klaer se
uitkenning te verskaf. Die getuienis teen beskuldigde 1 dat
die
oorledene se horlosie in sy baadjiesak gevind is, dat hy by was toe
daar die betrokke aand na draadhangers gesoek is en dat
hy by was
toe daar stoorplek vir die vuurwapen (bewysstuk 2) gesoek is, skep
’n geheelbeeld wat nie ruimte vir enige toeval
laat oor sy
deelname aan die moord nie. Dieselfde geld vir die getuienis dat
beskuldigde 3 die betrokke aand teenwoordig was
toe beskuldigde 4 in
sy slaapkamer ’n skoot afgevuur het uit ’n vuurwapen van
dieselfde kaliber as die moordwapen,
dat hy by was toe die klaer se
horlosie aan Waterson verkoop is en by was toe die pistool aan
Alfred Jacobs oorhandig is.
In die geval van beskuldigde 3 is daar
nog die addisionele faktor dat hy nie getuig het nie.
Beskuldigde
1 se alibi is deur die Verhoorhof verwerp as leuenagtig omdat dit
opsigselfgenome gebrekkig was en nie omdat dit, soos
betoog, nie kon
opweeg teen die staatsgetuienis nie. Daar bestaan geen grond om
met hierdie bevinding in te meng nie.
Om
die redes hierbo genoem, is ek van mening dat beskuldigdes 1 en 3
korrek skuldig bevind is en dat die appèl teen hulle
skuldigbevindings nie kan slaag nie.
Dit
laat die appèl teen die doodvonnisse op die moordaanklag.
Hierdie is ’n geval waar die appellante teen beide die
skuldigbevindings en doodvonnisse na hierdie Hof geappelleer het en
die appèl nog nie afgehandel is nie.
Gevolglik
is art 1 (10) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997, soos vervang
deur art 25 (b) van Wet 34 van 1998, van toepassing.
Ingevolge art 1
(10) moet die appèl deur hierdie Hof afgehandel word met dien
verstande dat, indien die Hof die skuldigbevinding
bekragtig, die Hof
die doodvonnis tersyde moet stel en die straf oplê wat na sy
oordeel gepas is.
Namens beskuldigde 1 is voor ons van
die Balie aansoek gedoen dat die saak na die Verhoorhof terugverwys
moet word sodat verdere
getuienis voor vonnisoplegging aangebied kan
word. Geen besonderhede van die beoogde getuienis is verskaf nie
en geeneen van
die basiese vereistes wat vir so ’n aansoek sou
geld, is nagekom nie. (Vgl
S v De Jager
1965
(2) SA 612
(A) op 613 B-D.) Selfs op die veronderstelling dat ’n
aansoek om terugverwysing vir die lei van verdere getuienis nog
ontvanklik is in die lig van die bepalings van art 1 (10) van Wet 105
van 1997 (waaroor ek my nie uitspreek nie), kan die huidige
aansoek gevolglik nie slaag nie.
Wat
die gepaste straf betref, is die omstandighede waarin die moord
gepleeg is, reeds volledig hierbo uiteengesit. Daaruit blyk
dat
erge strafverswarende faktore aanwesig was, in besonder dat die moord
berekend en genadeloos op ’n weerlose slagoffer
gepleeg is.
Beskuldigde 1 en veral beskuldigde 3 het ’n leidende rol in die
gebeure gespeel. Beskuldigde 1 was 23 jaar
oud en beskuldigde 3
was 20 jaar oud toe die misdaad gepleeg is en beide het in
verwaarloosde omstandighede grootgeword. Beide
het verskeie vorige
veroordelings vir geweldsmisdade. In al die omstandighede is ek
van oordeel dat ’n gepaste vonnis
op die moordaanklag in beide
gevalle een van 30 jaar gevangenisstraf is, waarmee die
gevangenis-strawwe wat op die ander aanklagte
opgelê is, moet
saamloop.
Die
volgende bevel word gemaak.
1. Beskuldigdes 1 en 3 se appèlle teen hul
skuldig- bevindings op die moordaanklag word afgewys;
2. Beskuldigdes 1 en 3 se appèlle teen die
doodvonnisse op die moordaanklag word gehandhaaf en die doodvonnisse
word tersyde
gestel;
3. Op die moordaanklag word beide beskuldigdes 1 en 3
tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis wat teruggedateer word na die
datum
waarop die doodvonnisse opgelê is. In die geval van
beide beskuldigdes 1 en 3 word gelas dat die gevangenisstrawwe wat op
die ander aanklagte in hierdie saak opgelê is, saamloop met
die gevangenisstraf wat op die moordaanklag opgelê is.
W. VIVIER AR.
NIENABER
AR)
Stem
Saam.
OLIVIER
AR)