VIC & DUP/JOHANNESBURG/LKS
IN DIE ARBEIDSHOF VAN SUIDAFRIKA
GEHOU TE JOHANNESBURG
DATUM: 14 June 2000 SAAKNOMMER: J3607/98
In die saak tussen:
SWART, VERNON Applikant
en
KOMMISSIE VIR VERSOENING, BEMIDDELLING
EN ARBITRASIE EN ANDERE Respondente
U I T S P R A A K
LANDMAN, R :
[1] Die applikant in hierdie saak is mnr Vernon Swart. Dit is 'n aansoek
vir die hersiening van 'n toekenning van die tweede respondent, synde 'n
kommissaris aangestel deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en
Arbitrasie. Die derde, vierde, vyfde en sesde respondente is voormalige
werknemers van die applikant (of aldus het die kommissaris so bevind).
[2] Die kommissaris het 'n toekenning op 29 September 1998 gelewer. Die
kommissaris het bevind dat die derde, vierde, vyfde en sesde respondente
1
werknemers van die applikant was en as gevolg daarvan het hy die meriete
van die saak ondersoek en 'n toekenning gelewer. Die applikant is gelas
om vergoeding van verskillende bedrae aan die persone te betaal.
[3] Die applikant was ongelukkig met hierdie toestand van sake en het die
huidige aansoek geloods om die toekenning te hersien en tersyde te stel.
[4] Die gronde waarop die applikant staatmaak is die volgende: Eerstens kla
hy dat die kommissaris geweier het om uitstel aan hom te verleen.
Tweedens kla hy dat die kommissaris hom van regsverteenwoordiging en
regsadvies ontneem het.
[5] Wat betref die weiering van die uitstel,is dit die applikant se saak dat
hy op 22 September 1998 'n kennisgewing gedateer 10 September ontvang
het wat hom in kennis stel dat arbitrasie verrigtinge op 28 September
sou plaasvind. Hy het hierdie kennisgewing aan sy prokureur, mnr
Heunis, van Du Plessis en Eksteen Ingelyf, oorhandig. Hy s ê hy wou
sekere getuies roep synde sy broer, Leonard Swart, en 'n sekere Albert.
Dié persone was ongelukkig nie beskikbaar om die arbitrasie verrigtinge
op 28 September by te woon nie. Sy prokureur het op 23 September namens
hom 'n skrywe aan die KVBA gestuur en versoek dat die verrigtinge wat
op 28 September sou plaasvind, uitgestel word aangesien die getuies nie
beskikbaar was nie.
[6] Op 28 September het hy en sy prokureur die arbitrasie verrigtinge
bygewoon. Hy het gevra vir die uitstel van die saak en dit gemotiveer.
Die derde respondent het toegestem tot die uitstel aangesien hy ook
regsverteenwoordiging wou bekom en dit hom die geleentheid daarvoor sou
bied. Die kommissaris het toe kontak gemaak met die KVBA se
2
saakbestuurder, om vas te stel of die gevraagde uitstel verleen kon
word, aldus die applikant. Die partye is daarna deur die kommissaris
meegedeel dat die bestuurder nie die aangeleentheid wou uitstel nie en
dat die arbitrasie verrigtinge moes voortgaan. Die arbitrasie
verrigtinge het inderdaad voortgegaan.
[7] Dit sou klaarblyklik verkeerd wees vir 'n kommissaris om navraag te doen
by >n bestuurder van die KVBA of hy by magte is om uitstel te verleen of
behoort hy in die omstandighede uitstel te verleen. Dit skyn egter dat
wat die kommissaris gedoen het, was om die bestuurder te raadpleeg ten
opsigte van sekere feitebewerings. Dit is duidelik uit die stukke dat
die kommissaris meegedeel is dat die bestuurder navraag gedoen het en
vasgestel het dat die applikant nie die brief op 22 September ontvang
het soos wat hy beweer nie. Hy het dit ontvang op 15 September, aldus
die Poskantoor. Die skrywe van die bestuurder maak deel uit van die
stukke, maar die applikant handel nie daarmee nie. Hy ontken dit nie.
Ek is nie in staat om te s ê dat die kommissaris fouteer het deur kennis
te neem van hierdie feite nie. Ek kan nie s ê dat die kommissaris se
handelswyse derhalwe onre ëlmatig was nie. Ek is ook nie in staat om te
bevind dat die kommissaris se besluit nie regverdigbaar was nie, veral
in die lig van die feit dat die bestuurder se inligting bots met di é wat
die applikant aan die kommissaris verskaf het. Bowendien is dit duidelik
uit die vonnis van die Arbeidsapp èlhof in Carephone v Marcus N.O. and
others (1998) 19 ILJ 1425 (AAH) dat dit die kommissaris is wat besluit
of uitstel verleen sal word. Kennis is geneem dat 'n kommissaris miskien
traag sal wees om uitstel te verleen.
[8] Dit bring my by die vraagstuk van die weiering van regsbystand. Nadat
3
die versoek vir uitstel geweier is, het die kommissaris die partye
meegedeel dat hy voortgaan met die arbitrasie verrigtinge en die
prosedure aan hulle verduidelik. Die derde respondent het ook op
hierdie stadium beswaar gemaak dat die applikant oor
regsverteenwoordiging beskik het terwyl hy nie oor regsverteenwoordiging
beskik het nie. Die kommissaris het die mening uitgespreek dat die
feite nie so ingewikkeld was dat die partye regsverteenwoordiging
benodig het nie. Die applikant se prokureur het die kommissaris
toegespreek en betoog dat die feite wel ingewikkeld was en dat hy
toegelaat word om as regsverteenwoordiger sy kli ënt by te staan. Die
kommissaris het gelas dat die applikant nie van regsverteenwoordiging
gebruik kon maak nie. Dit sou onbillik teenoor die derde tot sesde
respondente wees. Die applikant het versoek dat die kommissaris toelaat
dat sy prokureur die verrigtinge bywoon en luister na die verrigtinge.
Die kommissaris het ges ê dat die derde tot sesde respondente ongemaklik
sou voel en is die prokureur aanges ê om die vertrek te verlaat. Die
applikant was genoodsaak om die verrigtinge sonder die bystand van sy
regsverteenwoordiger en sonder sy getuies voort te sit.
[9] Na my mening is die identifikasie van 'n werkgewer/ werknemer verhouding
nie 'n eenvoudige saak nie. Ook nie in die omstandighede wat voor die
kommissaris gedien het nie. Regsverteenwoordiging is aangewese in
ideale omstandighede. Die uitsluiting van die prokureur maak dit bykans
onmoontlik vir die prokureur om sinvolle advies en leiding aan sy leke
kliënt te verskaf nie omdat die prokureur nie toegelaat is om die
getuienis aan te hoor nie. Die kommissaris is by magte om re ëlings te
getuienis aan te hoor nie. Die kommissaris is by magte om re ëlings te
tref ten opsigte van die verrigtinge maar hy is nie by magte om
regsadvies uit te sluit nie. Ek is nie bewus van enige re ël wat hom
verplig om 'n regsverteenwoordiger die vertrek te verbied nie.
4
[10] Klaarblyklik moet onderskei word tussen 'n persoon se reg op regsadvies
en sy reg op regsverteenwoordiging. Die uitskakeling van
regsverteenwoordiging maak dit des te meer noodsaakliker dat die
gemeenregtelike reg op regsadvies nie >n litigant ontneem moet word nie
tensy dit duidelik deur die Wet uitgesluit word. Daar is geen
aanduidings dat die Wetgewer dit wou uitsluit nie.
[11] Daarbenewens is die applikant in die algemeen geregtig op
regsverteenwoordiging by arbitrasie verrigtinge by die KVBA. Sien
artikel 138(4) van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995. Hierdie
reg word egter beperk waar 'n afdanking gaan oor gedrag of bevoegdheid.
Sien artikel 140(1) van die Wet. In sodanige omstandighede word
regsverteenwoordiging uitgesluit tensy die kommissaris besluit dat die
saak van so 'n aard is dat regsverteenwoordiging toegestaan moet word.
[12] Waaroor het hierdie saak gegaan? Die kommissaris bevind dat dit nie vir
'n billike rede was nie. Hy s ê egter nie wat die rede vir die afdanking
was nie. Die rede wat die applikant aanvoer is dat die werk wat
beskikbaar was opgeraak het. Met ander woorde, dat die derde en ander
respondente, indien hulle werknemers was (wat hy ontken het) is ten
opsigte van werksmagbesnoeiing afgedank of omdat die kontrak verstryk
het. Die derde en ander respondente het aangevoer dat die saak gaan oor
"unfair dismissal, unfair labour practice and refusal to bargain".
(Sien Vorm LRA 7.11). Dit bring na vore die vraagstuk van die
kommissaris se jurisdiksie. Dit word egter nie deur die applikant
geopper nie en dus sal ek nie verder daarmee handel nie. Maar indien
die saak wel gegaan het oor werksmag besnoeiing sou die kommissaris
5
geen jurisdiksie gehad het nie. Hierdie was klaarblyklik 'n geval waar
die kommissaris regsverteenwoordiging moes toegelaat het, ten minste
totdat hy besluit het dat die saak een is wat gaan oor afdanking as
gevolg van gedrag of bevoegdheid en totdat hy homself vergewis het of
regsverteenwoordiging nogtans toegelaat moes gewees het. In hierdie
geval het hy dit nie gedoen nie. Dit is moontlik dat hierdie saak niks
te doen gehad het met wangedrag of onbevoegdheid nie.
[13] Onder die omstandighede is ek van oordeel dat die kommissaris fouteer
het, dat hy 'n growwe onre ëlmatigheid gepleeg het en dat sy toekenning
nie regverdigbaar is nie. Daarom word die arbitrasieverrigtinge in Saak
Nr. NW4858 hersien en tersyde gestel. Die aangeleentheid word egter
terugverwys na
die eerste respondent om die arbitrasie opnuut aan te hoor maar dit moet
voor 'n ander kommissaris plaasvind.
[14] Geen bevel word gemaak ten opsigte van koste nie.
GEDATEER TE JOHANNESBURG OP HIERDIE 21 st DAG VAN JUNIE 2000
A A LANDMAN
REGTER VAN DIE ARBEIDSHOF VAN SUIDAFRIKA
13 Junie 2000
14 Junie 2000
Adv. R Venter in opdrag van Du Plessis & Eksteen Ing
6
Vir die Respondent: Geen verteenwoordiging
7