IN DIE ARBEIDSHOF VAN SUIDAFRIKA
Saaknommer:
J 273/97
In die aangeleentheid tussen:
DS NO ËL SCHREUDER Applikant
en
DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK
WILGESPRUIT Eerste
Respondent
DIE RING VAN ROODEPOORT VAN DIE
NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK Tweede
Respondent
DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK
VAN WESTRANSVAAL Derde
Respondent
__________________________________________________________________
____________
UITSPRAAK
__________________________________________________________________
____________
BASSON, R
1 Die applikant, ds N Schreuder, beweer dat hy onbillik ontslaan is op 2 Desember
1996 toe die tweede respondent, die Ring van Roodepoort van die Nederduitse
Gereformeerde Kerk (“die Ring”), die band losgemaak het tussen hom as
predikant en sy gemeente, die Nederduitse Gereformeerde Kerk Wilgespruit
(“Wilgespruit” die eerste respondent). Die applikant het app èl aangeteken by die
Nederduitse Gereformeerde Kerk van WesTransvaal (die derde respondent “die
Sinode”). Die app èl is afgewys op 28 Februarie 1997.
1
2 By ooreenkoms het die applikant begin en daar is nie minder nie as 28 getuies in
sy saak geroep. Die respondente het daarna hulle saak gesluit sonder om enige
getuies te roep. Hierdie besluit het uit die aard van die saak ‘n wesentlike invloed
op die uitslag van die geding gehad. Die respondente dra naamlik die bewyslas in
terme van artikel 188(1) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 66 van 1995 (“die
Wet”).
3 Artikel 188(1) van die Wet lees soos volg:
“‘n Ontslag wat nie outomaties onbillik is nie, is onbillik indien die
werkgewer in gebreke bly om te bewys
(a) dat die rede vir die ontslag ‘n billike rede is
(i) wat verband hou met die werknemer se gedrag,
geskiktheid of bekwaamheid; of
(ii) wat gegrond is op die werkgewer se bedryfsvereistes; en
(b) dat die ontslag gedoen is ooreenkomstig ‘n billike prosedure ” (my
beklemtoning).
4 Die respondente het gepleit dat die applikant ontslaan is op grond van al drie die
bogenoemde wetlike redes. Paragraaf 85.3.2 van die respondente se uiteensetting
van verweer stel dit dat die applikant ontslaan is weens sy “gedrag, geskiktheid of
bekwaamheid as gevolg van sy onaanpasbaarheid of onversoenbaarheid”,
alternatiewelik weens “bedryfsvereistes”. Dit is onverstaanbaar waarom die
respondente (wat moet weet waarom hulle die applikant ontslaan het) op hierdie
wye basis gepleit het. Hieroor meer later.
5 Tydens die verrigtinge het die respondente (in kruisverhoor) slegs gefokus op ‘n
ontslag op die basis van “geskiktheid of bekwaamheid as gevolg van sy
onaanpasbaarheid en onversoenbaarheid” en van (wan)gedrag en selfs
bedryfsvereistes is daar geen gewag gemaak nie.
6 Trouens, die respondente het nie ingevolge die tugre ëls in terme van hoofstuk 5
van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (bewysstuk “A” “die
Kerkorde”) of die tugreglement (reglement 21) opgetree nie en die prosedures van
artikel 13 van die Kerkorde (wat handel oor bedryfsvereistes) is ook nie gevolg
nie.
7 Die ontslag van die applikant het naamlik ingevolge artikel 12 van die Kerkorde
plaasgevind. Hierdie bepalings lui soos volg:
“12.1 Indien ‘n leraar nie sy gemeente verder tot stigting kan dien nie, mag die
ring na ondersoek, waarin beide die kerkraad en die betrokke leraar aangehoor
word, die band tussen leraar en gemeente losmaak indien daar, volgens die oordeel
van die ring, billike voorsiening vir die leraar gemaak is.
12.2 Billike voorsiening word deur die ring in oorleg met die betrokke kerkraad
of instansie en die betrokke leraar bepaal. ‘n Uitbetaling van ses maande se
lewensonderhoud en toelaes asook re ëlings in verband met pensioendekking vir
hierdie periode word as voldoende beskou”.
8 Daar dien op gelet te word dat die nuwe artikel 12 (in die gewysigde Kerkorde
soos gewysig in Oktober 1998 bewysstuk “F”) ook die onderskeid tussen
“wangedrag” wat steeds ingevolge hoofstuk 5 van die Kerkorde as tug behandel
word (12.5.1); “onbekwaamheid of ongeskiktheid” (12.5.2); en “gemeente/kerk se
finansiële onvermo ë (bedryfsvereistes)” (12.5.3) erken.
9 Dit is ook insiggewend dat die (nuwe) bepalings wat met “onbekwaamheid of
ongeskiktheid” handel (12b.2.2 tot 12b.2.7) uitdruklik met aangeleenthede soos
“besware teen diens”; “onbevredigende diens lewer”; en voorskrifte ten aansien
van “toepaslike evaluering, toerusting (opleiding), begeleiding (leiding en advies),
en berading (om) die betrokke predikant te help om bevredigende diens aan die
gemeente te lewer” handel.
10 Hierdie bepalings weerspie ël klaarblyklik die bepalings soos vervat in bylae 8 tot
die Wet. Items 8(2), (3) en (4) van bylae 8 handel oor prosessuele billikheid by
ontslag op grond van ongeskiktheid weens swak werkprestasie en lui soos volg:
“(2) Na die proeftydperk (wat nie hier van toepassing is nie) behoort ‘n
werknemer nie weens onbevredigende werksprestasie ontslaan te word nie,
tensy
(a) die werkgewer aan die werknemer toepaslike evaluering,
onderrig, opleiding, leiding of berading gegee het; en
(b) die werknemer na ‘n redelike tydperk wat vir verbetering
toegelaat is, nog onbevredigend presteer.
(3) Die prosedure wat ontslag tot gevolg het, behoort ‘n ondersoek ter vasstelling van
redes vir die onbevredigende prestasie in te sluit. Tydens die ondersoek moet die
werkgewer oorweeg of daar ander wyses buiten ontslag is om die
aangeleentheid reg te stel.
(4) In die proses moet die werknemer die reg h ê om aangehoor te word en
om deur ‘n vakbondverteenwoordiger of ‘n medewerknemer bygestaan te
word”(my beklemtoning).
11 Verder moet die bepalings van item 9 van bylae 8 van die Wet in aanmerking
geneem word. Hierdie bepalings lui soos volg:
“Enigiemand wat moet bepaal of ‘n ontslag weens swak werkprestasie onbillik is
moet die volgende in ag neem
(a) of die werknemer daarin geslag het om aan ‘n prestasiestandaard
te voldoen, al dan nie; en
(b) indien die werknemer nie aan ‘n vereiste prestasiestandaard
voldoen het nie, of
(i) die werknemer van die vereiste prestasiestandaard bewus
was en of daar redelikerwys van die werknemer verwag
kan word om daarvan bewus te wees, al dan nie;
(ii) die werknemer ‘n billike kans gegun is om aan die vereiste
prestasiestandaard te voldoen, al dan nie; en
(iii) ontslag ‘n gepaste straf vir nievoldoening aan die vereiste
prestasiestandaard is, al dan nie”(my beklemtoning).
12 Dit is duidelik dat die respondente as werkgewer(s) van die applikant aan hierdie
norme van billikheid moes voldoen voordat hulle kan aantoon dat die ontslag van
die applikant op grond van sy beweerde onbekwaamheid of ongeskiktheid billik
was ingevolge die voorskrifte van die Wet.
13 Die Bepalinge: Reglemente en Besluite van die Sinode van WesTransvaal (die
derde respondent) is as bewysstuk “B” opgehandig. Dit wil voorkom asof bepaling
12 wat handel met ‘n artikel 12 prosedure soos deur die Kerkorde voorgeskryf
(hierbo by paragraaf [7] aangehaal) nie so uitdruklik die norme van die Wet by
ontslag op grond van beweerde ongeskiktheid en onbekwaamheid weerspie ël soos
die nuwe artikel 12 nie aangesien dit frases bevat soos “die plig van die kerkraad
om alles in sy vermo ë te doen om die vrede te herstel” en dat die ringskommissie
ook die saak moet ondersoek en “broederlike pogings moet aanwend om die vrede
te herstel”. Trouens, die frase “nie langer sy gemeente tot stigting kan dien nie” is
ook nie heeltemaal duidelik nie. Die afleiding wat wel gemaak kan word is dat
hierdie artikel 12 prosedure te doene het met die ontevredenheid wat by ‘n
gemeente heers met die werkprestasie van die predikant en hierdie probleem moet
dan “broederlik” en ten einde die “vrede te herstel” opgelos word. Met ander
woorde, die proses wat voorsien word is die probleemoplossende en
hulpverlenende proses wat by ‘n ontslag op grond van beweerde ongeskiktheid of
onbekwaamheid voorgeskryf word deur die Wet soos was dit ook in die nuwe
artikel 12 prosedure neerslag vind. Daar dien ook gelet te word op die feit dat die
kultuur van die kerklike organisasie ook naasteliefde en broederlikheid as beginsel
onderskryf (soos dit ook in getuienis gestel is).
Punt in limine
14 Die respondente het ‘n punt in limine geopper in terme waarvan hulle beweer het
dat die applikant nie ‘n werknemer van die respondente is vir die doeleindes van
die bepalings van die Wet nie.
15 ‘n Deskundige getuie wat namens die applikant getuig het, professor LM Heyns,
dosent in praktiese teologie, het daarop gewys dat die applikant se ampspligte
vervat word in sy beroepsbrief wat verwys na die pligte van ‘n leraar soos
uiteengesit in artikel 9 van die Kerkorde (bewysstuk “A”). Hy het in hierdie
verband dan ook verwys na die “diensstaat” van ‘n predikant en verklaar dat die
predikant in diens van die kerkraad van ‘n gemeente staan.
16 ‘n Ander deskundige getuie, dr DA Scholtz (deskundige op die kerkreg), het
gewys op ander bepalings in die Kerkorde (bewysstuk “A”) wat verwysings bevat
na begrippe soos “‘n ander betrekking”(artikel 11); “in wie se diens” (artikel
13.1); “skaal van vergoeding” (artikel 9); en “die ander werkgewer” (regulasie 19
van bewysstuk “B”).
17 Dr Scholtz het ook gewys op die feit dat artikel 9 van die Kerkorde die pligte van
‘n predikant uiteensit soos die bediening van die Woord van God en die doen van
huisbesoek (pastorale versorging). Die beroepsbrief vir leraars (op bladsye 100 tot
101 van bewysstuk “B” afgedruk) bevat dan ook ‘n uitdruklike verwysing dat van
‘n predikant verwag word om sy ampspligte ingevolge artikel 9 te vervul. Die
applikant se beroepsbrief verskyn op bladsye 116 tot 117 van die applikant se
bundels.
18 Die beroepsbrief bepaal dan verder wat die predikant in ruil vir die vervulling van
hierdie pligte ontvang. Die woord “traktament” word gebruik om besoldiging te
beteken en daar word met ander aangeleenthede soos verlof, ‘n diensbonus,
reistoelae, huistoelae, pensioenfonds en mediese fonds lidmaatskap asook
assuransie gehandel. Daar is gevolglik volgens dr Scholtz ‘n plig op die predikant
om sy ampspligte soos uiteengesit te vervul. Die predikant verkry aan die
anderkant in ruil hiervoor weer ‘n salaris en verlof en pensioenvoordele asook
lidmaatskap van ‘n mediese fonds en assuransiedekking. Die beroepsbrief is dus
die dienskontrak tussen die predikant en die gemeente (kerkraad).
19 Dr Scholtz het ook aangetoon dat die feit dat ‘n predikant geroepe mag voel nie
van hom of haar nie ‘n werknemer maak nie. Persone in ander beroepe (soos
onderwysers) mag ook geroepe voel om daardie taak te verrig maar sulke persone
bly nietemin werknemers van hulle organisasie.
20 In die lig van hierdie getuienis is ek oortuig dat die bedoeling van die beroepsbrief
is om kontraktuele verpligtinge in die vorm van ‘n dienskontrak te skep tussen die
predikant en sy of haar gemeente.
21 Die Engelsregtelike gesag waarna ek verwys ( Diocese of Southwark and Others
v Coker Court of Appeal (Civil Division) [1998] ICR 140 op 146 tot 149) is in die
lig van die bevinding dat daar ‘n duidelike bedoeling is om ‘n kontraktuele
verhouding te skep nie toepaslik nie.
22 Daar is naamlik die duidelike bedoeling dat ‘n predikant sy of haar aardse
werkgewer dien ingevolge ‘n dienskontrak soos wat dit normaalweg verstaan
word. Trouens, professor Heyns het uitgewys dat die kerk as vrywillige
organisasie bloot ‘n “menslike organisasie” is. Dit is in ooreenstemming met die
deskundige op organisasies (professor AB Boshoff) se getuienis dat die kerk ook
‘n organisasie is wat wel uniek kan wees op grond van die kultuur, waardes en
aannames wat heers binne die organisasie. Hy het bygevoeg dat, alhoewel die kerk
‘n missionêre doel het en ‘n morele organisasie is met eie unieke kenmerke,
bestaan alle organisasies uit mense. Professor Boshoff het wel uitgewys dat ‘n
organisasie nie professionele mense (soos predikante) se natuurlike habitat is nie.
23 Dr Scholtz het in dieselfde verband uitgewys dat die feit dat mense mag dink dat
hulle met heilige dinge besig is nie verander aan die feit nie dat hulle ‘n sosiale
sisteem vorm wat volgens sy eie re ëls funksioneer soos enige ander sosiale
sisteem.
24 Dr Scholtz het verder uitgewys dat, gegewe die rol wat die Ring en ook die Sinode
van WesTransvaal (as app èlliggaam) in die aanstelling en die ontslag van die
predikant speel (sien byvoorbeeld artikel 12 soos hierbo aangehaal die Ring
maak die band los) het die predikant ‘n meervoudige werkgewerskorps (binne die
organisasie van die kerk) met die Ring en die Sinode (die tweede en die derde
respondente) as sekond êre werkgewers.
25 Daar kan ook gelet word op die feit dat sedert Oktober 1998 met die wysiging van
die Kerkorde (reeds hierbo in paragrawe [8] en [9] na verwys) met ingang Mei
1999 daar nou uitdruklik gepraat word van die gemeente of kerkverband (ring,
sinode of Algemene Sinode) “in wie se diens” die predikant staan, as die
“werkgewer” van die predikant (12.1 bewysstuk “F”). Verder word gepraat van
“indiensneming of diensbe ëindiging” en diensbe ëindiging geskied op die erkende
drie gronde soos die Wet bepaal (12.5.1 tot 12b.2.4.4.2 sien paragrawe [3] en [4]
hierbo vir die wetlike gronde). Daar dien ook gelet te word op die feit dat die drie
respondente regspersone is wat aan die handelsverkeer deelneem en kontrakte
sluit. Dit is gevolglik duidelik dat die verhouding tussen ‘n predikant en die
betrokke gemeente of kerkverband ‘n kontraktuele diensverhouding is.
26 Daar is dus geen sprake daarvan dat ‘n predikant ‘n “onafhanklike kontrakteur” is
soos bedoel in die definisie van ‘n “werknemer” in artikel 213 van die Wet nie.
Verder voldoen ‘n predikant aan die omskrywing van paragraaf (a) van hierdie
definisie deurdat ‘n predikant geregtig is om besoldiging te ontvang (en dit
inderdaad ontvang) van die kerklike organisasie in wie se diens die predikant
staan. ‘n Predikant voldoen klaarblyklik ook aan die omskrywing in paragraaf (b)
van die definisie van ‘n werknemer as iemand wat “op enige wyse help om die
besigheid van ‘n werkgewer voort te sit of te bedryf”. Daar was naamlik
deskundige getuienis dat die besigheid van die kerk as organisasie die
verkondiging van die evangelie is. ‘n Predikant is duidelik prim êr hiermee besig
ook waar hy of sy in diens staan van die ander kerkstrukture (die Ring en die
Sinode) wat beheer uitoefen en ‘n deurslaggewende rol speel by die aanstelling en
ontslag van ‘n predikant (soos hierbo uiteengesit) en gevolglik die “sekond êre”
werkgewers van die predikant is.
werkgewers van die predikant is.
27 ‘n Predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is dus die werknemer van
die gemeente waarin hy of sy diens doen en voor Oktober 1998 het so ‘n predikant
ook nog sekond êre werkgewers gehad , dit wil s ê, die betrokke Ring en die
betrokke Sinode (tot ‘n mindere mate). Dit was naamlik die regsposisie waarin die
applikant hom bevind het tydens sy aanstelling en ontslag.
28 Die pligte van ‘n predikant (soos dit ook in die beroepsbrief verskyn) sal verder
ontleed word wanneer die vraag beantwoord word of die respondente bewys het
dat hulle die applikant op ‘n billike wyse ontslaan het en of hulle die
voorgeskrewe billike proses gevolg het. Die feite van die saak moet ontleed word
ten einde hierdie vraag te kan beantwoord.
1
Die Feite
29 Die applikant is in Januarie 1995 aangestel as die vyfde leraar in Wilgespruit, ‘n
makro gemeente. Die applikant is na hierdie stedelike gemeente beroep vanaf
Newcastle, ‘n plattelandse gemeente waar hy merendeels die enkel leraar was vir
‘n periode van dertien jaar.
30 In ‘n makro stuktuur kan een predikant nie alle take behartig nie maar die
predikante moet aan verskillende fasette aandag gee in verskillende portefeuljes.
Die prediking word deur almal gesamentlik behartig en die pastoraat word
geografies verdeel.
31 Die makro struktuur van Wilgespruit het verder uit verskillende bedienings en
kommissies bestaan. Terwyl die ander leraars respektiewelik met kommissies of
bedieninge soos die jeug, die senior lidmate en administrasie belas was, was die
applikant verantwoordelik vir “toerusting” en “bemarking”.
32 Die deskundige getuies wat namens die applikant getuig het, het aangedui dat alle
predikante maar die taak het om mense toe te rus of op te lei en die Woord van
God (die evangelie) te bemark. In ‘n makro gemeente sou dit egter beteken dat die
predikant belas met “toerusting” die opleiding behartig van die ampsdraers in die
gemeente (ouderlinge en diakens) asook die opleiding van die gemeentelede (om
hulle te lei tot geestelike groei), byvoorbeeld deur die stigting van ‘n Bybelskool,
bybelstudiegroepe of selgemeentes. Bemarking sou byvoorbeeld weer die
behartiging van die gemeenteblad behels.
33 Professor Heyns het beklemtoon dat, alhoewel ‘n predikant kan konsentreer op
een of ander veld, hy of sy nie noodwendig ‘n spesialis in daardie veld hoef te
wees nie. Hy het verder daarop gewys dat die prim êre taak van ‘n predikant is om
die evangelie te verkondig (prediking). In ‘n makro gemeente is dit ‘n
buitengewone belangrike taak van elke predikant aangesien dit die enigste manier
is om al die gemeentelede te bereik. Pastorale werk soos huisbesoek en
siekebesoek is ook belangrik maar elke predikant is slegs verantwoordelik vir ‘n
geografiese deel van die gemeente en sien dus nie almal nie.
34 Al die deskundiges het egter die sogenaamde “belangegroepe” wat aan predikante
in Wilgespruit toegedeel is (die ander predikante het “jagtogte”, “woonwakampe”
en “staptoere” waargeneem) gekritiseer op grond van die feit dat hierdie nie deel
is van ‘n predikant se werk of take nie.
35 Die deskundiges was dit eens dat die “pligtestaat” (op bladsy 127 van die
applikant se bundels) skraal is en vollediger omskryf behoort te gewees het.
36 Dr Scholtz en professor Boshoff het daarop gewys dat ‘n predikant se taak baie
kompleks is en ‘n groot verskeidenheid van take behels (multi fasette).
37 Die deskundiges was dit verder eens dat prestasiebeoordeling of evaluasie in die
kerk nie net moontlik is nie maar ook toepaslik. Gegewe die kompleksiteit van die
predikant se take en die feit dat die kerkjaar oor ‘n kalenderjaar strek is dit egter
nie moontlik om te gou ‘n oordeel te fel oor ‘n predikant se werksprestasie nie.
Daar moet ook in ag geneem word dat die aanpassing vanaf ‘n plattelandse een
persoon gemeente tot ‘n stedelike makro gemeente moeilik sal wees. Die hele
klimaat is anders en die bedieningsmodelle verskil aansienlik van mekaar.
38 Daar moet verder ooreengekom word op die basis of standaard van die
pretasiebeoordeling en die gedagte moet altyd wees om die predikant te help om
sy prestasie te verbeter en moet nie op ‘n “heksejag” uitloop nie. Doelwitte en
maatstawe moet voor o ë gehou word. Allermins is dit ‘n proses om redes te soek
om ‘n werknemer te ontslaan maar die redes vir onderprestering word vasgestel
ten einde die werknemer met enige probleme behulpsaam te wees. Dit is dan ook
die uitdruklike doel van bepalings rondom artikel 12 om “die vrede te herstel”
(sien die bespreking by paragraaf [13] hierbo).
39 Hierdie beginsels van billikheid word natuurlik ook deur item 8 van bylae 8 tot die
Wet voorgeskryf (sien die bespreking hiervan by paragraaf [10] hierbo).
40 Daar is verder op gewys dat in gedagte gehou moet word dat nie slegs uitsette
(byvoorbeeld hoeveelheid huisbesoeke) evalueer moet word nie maar ook die
gehalte van die predikant se werk wat moeiliker is om te bepaal.
41 Die deskundiges het ook daarop gewys dat daar oorvleueling voorgekom het
tussen die take waarmee die applikant belas was en die take van die ander
predikante. Veral die opstel van die gemeenteblad het tot groot oorvleueling
aanleiding gegee aangesien daar oor alle sake (ook oor sake soos die jeug en die
senior lidmate, dit wil s ê, die ander leraars se portefeuljes) berig moes word.
Die Applikant se Bekwaamheid as Predikant
42 Die applikant is ‘n baie goeie prediker. Dit het geblyk uit die bywoning van sy
preke asook uit die feit dat hy swaarder belas was met preekbeurte as die ander
vier leraars. Hierdie getuienis is nie in kruisverhoor betwis nie.
43 Die applikant het verder ook die gemeenteblad verbeter en het getuig dat sake
uiteindelik glad verloop het met die uitgee daarvan. Hierdie getuienis is ook nie in
kruisverhoor betwis nie. Trouens, daar is aan hom gestel dat hy te veel tyd hieraan
bestee het.
44 Wat opleiding betref het die applikant getuig oor videos wat hy gemaak het vir
huiskerk geleenthede. Die applikant het ook getuig dat hy wel kursusse vir
ampsdraers aangebied het en dat hy ook die moontlikheid van ‘n Bybelskool
ondersoek het. Hy het getuig dat hy reeds klem gel ê het op die gedagte van
selgemeentes by sy onderhoud vir die vakante vyfde predikantspos en dat hy
stappe in hierdie verband geneem het om dit op die been te bring. Die applikant
het egter probleme ondervind om die kerkraad van die voordeel van selgemeentes
te oortuig. Hy het wel ‘n selgemeente as proeflopie daargestel. Die applikant het
getuig dat hy ‘n geskikte persoon gesoek het om die toerusting kommissie se
voorsitter te wees (daar het nie voorheen so ‘n kommissie bestaan nie). Uiteindelik
is die kommissie op die been gebring met ds S de Clerk (‘n kerkraadslid) as
voorsitter.
45 Nieteenstaande die bogenoemde, het die spesiale kommissie wat in November
1995 op die been gebring is om die applikant te “monitor” in hulle verslag wat op
28 Maart 1996 aan die kerkraad (mondelings) voorgel ê is klem gel ê op die
beweerde versuime van die applikant ten aansien van sy toerusting portefeulje. Dit
is egter insiggewend dat die Ring op 4 Junie 1996 bevind het dat die klagtes in die
verslag van die spesiale kommissie nie behoorlik geverifieer is nie en die Ring
daarom nie sy ontslag aangevra het nie maar slegs gekonsentreer het op die
fasilitering van die verhoudingsprobleem tussen die leraars van Wilgespruit.
fasilitering van die verhoudingsprobleem tussen die leraars van Wilgespruit.
Hieroor meer later.
46 Ander beweerde versuime wat die spesiale kommissie aangemeld het, het veral te
doene gehad met die applikant se pastorale versorging. Die applikant het
verduidelik dat die beweerde versuime (wat as klagtes voorgehou is aan die
kerkraad) soms op misverstande berus het en dat hy opvolgwerk gedoen het en
van die versuime reggestel het. Gemeentelede is ook geroep om hieroor te kom
getuig. Van die gemeentelede het getuig van die applikant se besonder goeie
pastorale versorging. Van die applikant se gemeentelede in sy vorige gemeente het
ook getuig dat hy goeie werk gelewer het en die kerkraad van die Newcastle
gemeente het selfs ‘n getuigskrif hieroor uit eie beweging aangestuur.
47 In die lig van hierdie getuienis, het die respondente in gebreke gebly om te bewys
dat die rede vir die applikant se ontslag ‘n billike rede is wat verband hou met sy
geskiktheid of bekwaamheid as predikant. Ek is naamlik nie oortuig van die feit
dat hy onbekwaam of ongeskik in sy werk as predikant was nie.
Billike Proses
48 Die sogenaamde fasiliteringsproses aan die einde van 1995 wat die besluit van die
kerkraad van Wilgespuit in November 1995 om ‘n spesiale kommissie aan te stel
voorafgegaan het, het skipbreuk gely toe die spesiale kommissie die uitslae van
sielkundige toetse wat deur een van die fasiliteerders (ds P van der Merwe)
afgeneem is misbruik het om die applikant verdag te maak by die
kerkraadsvergadering van 28 Maart 1996.
49 Dit het verder duidelik geblyk uit die getuienis dat die spesiale kommissie nie
daarop uit was om die applikant te help om beweerde probleme met sy
werkprestasie die hoof te bied nie maar eerder om vingerwysend en beskuldigend
beweerde foute uit te wys. ‘n Voorbeeld hiervan is die feit dat die applikant van sy
sleutels en sekere dokumente ontneem is selfs nadat die kerkraad die besluit van
28 Maart 1996 op 25 April 1996 herroep het en die applikant met verlof is.
50 Die applikant het ook getuig dat hy by die gereelde leraarsvergaderings voor stok
gekry is en gevoel het dat daar net op foutvindery gefokus word. Daar moet ook in
gedagte gehou word dat die applikant nog skaars ‘n jaar in die gemeente was toe
daar in November 1995 besluit is dat die spesiale kommissie sy werk moet
“monitor”. Gegewe die getuienis oor die komplekse aard van ‘n predikant se werk
en dat hy moes aanpas by die nuwe kultuur van ‘n makro gemeente (sien die
getuienis hierbo by paragraaf [37] bespreek), was dit na ‘n relatief kort tydperk
van diens dat hy reeds beskuldig is van swak werkprestasie.
51 Daar is ook nie aan die applikant hulp verleen toe hy weens huisbouery nie oor ‘n
pastorie beskik het nie (hy moes by gemeentelede inwoon) terwyl daar getuienis
was dat ander leraars van Wilgespruit in soortgelyke omstandighede tegemoet
gekom is veral vanwe ë die feit dat ‘n pastorie ‘n onontbeerlike werkplek vir ‘n
predikant is.
52 Daar was ook geen sprake van ooreengekome prestasiestandaarde nie of dat die
applikant ‘n billike kans gegee is om sy beweerde prestasiegebrek aan te vul nie.
Trouens, daar is oorhaastig opgetree deur veral die spesiale kommissie, soos ook
hieronder verder sal blyk.
53 Die latere fasilitering wat deur die Ring onderneem is het ook nie prim êr ten doel
gehad om die applikant te help met sy beweerde probleme rondom sy
werkprestasie nie maar eerder om die verhoudingsprobleme tussen die leraars van
Wilgespruit te probeer byl ê.
54 Die ontslag van die applikant is gevolglik nie voorafgegaan deur toepaslike
evaluering, onderrig, opleiding, leiding of berading nie. Trouens, alhoewel sekere
individue soos ds J Hough (kerkraadslid en lid van die spesiale kommissie), ds A
van Rooyen (een van die medeleraars) en mnr E Swanepoel (een van die
gemeentelede wat breedvoerig vir die applikant getuig het) wel die applikant
probeer bystaan het was daar geen amptelike bystand deur die werkgewer (die
gemeente Wilgespruit) nie, veral nie van die kant van die kerkraad se spesiale
kommissie nie. Die teendeel was eerder waar soos hieronder ook sal blyk.
55 Dit is gevolglik duidelik dat die respondente ook in gebreke gebly het om te
bewys dat die ontslag van die applikant ooreenkomstig ‘n billike prosedure
plaasgevind het soos deur die bepalings van item 8 van bylae 8 tot die Wet vereis
word (sien die bespreking by paragraaf [10] hierbo).
Onaanpasbaarheid en Onversoenbaarheid van die Applikant
56 Mnr Woudstra , die respondente se regsverteenwoordiger, het argumenteer dat die
applikant eintlik ontslaan is omrede sy beweerde onaanpasbaarheid of
onversoenbaarheid aanleiding gegee het tot die onherstelbare verbrokkeling van
die verhouding tussen die lede van die span predikante van Wilgespruit. Trouens,
hierdie bewering is ook in die pleitstukke gemaak (sien hierbo by paragraaf [4])
en daar is ook in kruisverhoor die stelling gemaak dat die applikant en nie die
ander vier leraars nie verantwoordelik gehou kan word vir die verbrokkeling van
die verhouding tussen die predikante. Hierdie is ‘n ernstige bewering en noop my
om in te gaan op die vraag of die applikant hieraan skuldig was.
57 Die deskundige getuies het verklaar dat ‘n makro gemeente slegs suksesvol bedryf
kan word indien die leraars in spanverband saamwerk. Die verandering na makro
gemeentes word gemeentebouprosesse genoem omdat herstrukturering nodig is.
Professor Heyns het uitgewys dat vernuwing van strukture verhoudingsprobleme
en spanning kan skep. Dit verg voortdurende evaluasie van die stukture en kritiese
refleksie oor die bestaande strukture is van groot belang.
58 Dit was uit die getuienis duidelik dat die gemeentestrukture ‘n belangrike bron van
konflik tussen die predikante in Wilgespruit was. Oorvleueling van veral die
applikant se portefeulje met die ander predikante se portefeuljes het voorgekom.
Die applikant het getuig dat die verantwoordelikheidslyne ook nie behoorlik
gedefinieer was nie en dat dit byvoorbeeld onseker was of die voorsitters van die
kommissies of die betrokke predikante self die verantwoordelikheid vir die werk
van ‘n kommissie of bediening gedra het.
59 Professor Boshoff het getuig dat indien ‘n organisasie se struktuur inherent
konflikgenererend is, dit konflik kan teweegbring ongeag of die persone binne die
struktuur van mekaar hou of nie. Mnr Swanepoel het getuig dat ds van der Merwe
aan hom ges ê het dat die struktuur by Wilgespruit konflikgenererend was. Die
verslag van die fasiliteerders van die Ring dui ook aan dat “die gemeente as
sisteem ... in sigself inherente konflik en spanning genereer” (bladsy 971 van die
applikant se bundels). Hierdie feit blyk ook uit die Ring se besluit om steeds die
probleme met Wilgespruit se gemeentemodel deur middel van fasilitering aan te
spreek selfs nadat die applikant ontslaan is. Dit blyk naamlik uit die besluite van
die Ring geneem op 30 Oktober 1996 dat daar weer ‘n fasiliteerder aangestel is
om “modelbegeleiding” te doen (bladsy 1010 van die applikant se bundels).
Hierdie sake het buitendien saamgeloop tot op die stadium dat hierdie aspek
geskei is van die verhoudingsprobleem per se . Dit is gevolglik duidelik dat die
struktuur van Wilgespruit beduidend tot die verhoudingsprobleme tussen die
predikante bygedra het.
60 Die persoonlike verhoudingsprobleme tussen die vyf leraars het ‘n lang aanloop
gehad. Dit wil voorkom of die spanboulangnaweek in April 1995 (kort nadat die
applikant by Wilgespruit aangekom het) ‘n deurslaggewende rol gespeel het en
toekomstige verhoudinge sleg be ïnvloed het. Opsommerderwys het die applikant
getuig dat die ander leraars daarop uit was om dit as ‘n vakansienaweek (“jollie
getuig dat die ander leraars daarop uit was om dit as ‘n vakansienaweek (“jollie
patrollie”) te geniet terwyl hy gemeen het dat dit aan spanbou of ten minste aan
kerklike aktiwiteite soos Bybelstudie gewy moes word. Daar is ook ‘n aantekening
van ds van Rooyen waarin hy erken dat die applikant moontlik bedreig kon gevoel
het deur die optrede van die ander leraars tydens die kamp (op bladsye 161 tot 162
van die applikant se bundels).
61 Die getuienis oor die verhoudinge binne die leraarspan aan die einde van 1995 tot
April 1996 soos aangebied deur dr C Oosthuizen, ‘n deskundige getuie en
sistemiese sielkundige, het waardevolle insigte verskaf in die
verhoudingsprobleme wat toe bestaan het.
62 Dr Oosthuizen (wat op die versoek van die spesiale kommisie die probleme
rondom die applikant en sy medeleraars ondersoek het) het onomwonde verklaar
dat dit duidelik was dat die probleme nie slegs toegeskryf kon word aan die
applikant nie. Daar was naamlik patrone van konflik wat afgespeel het tussen al
die rolspelers in die sisteem. Daar was ‘n groei in wantroue na alle kante toe maar
in een rigting is dit as legitiem beskou en in die ander rigting as patologies.
Hierdie was volgens haar ‘n uit die boek uit voorbeeld van waar ‘n sondebok (in
die persoon van die applikant) voortgebring word. Professor Boshoff het insgelyks
daarop gewys dat waar ‘n groep probleme ondervind hulle ‘n sondebok aanwys en
dan teen hom of haar verenig.
63 Dr Oosthuizen het verder daarop gewys dat daar fragmentasie plaasvind en dat
die betrokke persone al hoe meer ge ïsoleer word van mekaar. Daar is verder ‘n
toenemende geheimhouding en ‘n afnemende bereidwilligheid om oplossings te
vind. Alliansies word gevorm en daar is pogings om ander daarby te betrek.
64 Dr Oosthuizen het getuig dat in die geval van die leraarspan van Wilgespruit daar
premature sluiting was deurdat vroeg in die proses gevolgtrekkings gemaak is en
besluite geneem is wat rigied voortgeduur het ongeag wat verder in die proses
gebeur het.
65 Die applikant het wel weens sy taakgerigtheid en die misrekening van ander se
gevoelens tot die probleem bygedra. Trouens, die applikant het ook in sy getuienis
erken dat hy ook foute gemaak het. Dr Oosthuizen het egter getuig dat die
applikant oor die vermo ë beskik om standhoudende verhoudings te skep maar dat
hy dan moet veilig voel. Gevolglik was die prognose goed wat die applikant in
isolasie betref maar gegewe die probleme binne die sisteem wat reeds bestaan het,
is die prognose negatief be ïnvloed. Hierdie prognose is naamlik bepaal deur die
optrede van die ander persone of rolspelers in die situasie.
66 Dr Oosthuizen se gevolgtrekkings is ondersteun deur ander getuienis. Die
geheimhouding is weerspie ël deur die feit dat daar ‘n vergadering in November
1995 plaasgevind het tussen die voorsitter van die spesiale kommissie wat
aangewys sou word, mnr M van Ruler, en die ander vier predikante maar dat die
applikant hiervan uitgesluit was. Verder is die applikant nie behoorlik kennis
gegee nie van die buitengewone kerkraadsvergaderings waartydens ingrypende
besluite ten aansien van die sogenaamde artikel 12 prosedure geneem is.
67 Op die deurslaggewende kerkraadsvergadering van 28 Maart 1996 is daar eers ‘n
ultimatum in die vorm van ‘n pakket aan die applikant gestel en is hy daarna direk
met die verslag van die spesiale kommissie gekonfronteer sonder dat hy dit
enigsins ter insae gehad het. Mnr Swanepoel (wat by hierdie vergadering
teenwoordig was) het getuig dat die aantygings van die spesiale kommissie se
verslag gestel is in die vorm van klagtes. Verder is die applikant verdag gemaak
deurdat die indruk gewek is dat die toetse wat afgeneem is deur die fasiliteerder,
ds van der Merwe (wat buitendien nie gemagtig was om sulke toetse af te neem
nie), een of ander sielkundige afwyking by die applikant aangetoon het. Die
verslag self meld dat die persoonlikheidsprofiel van die applikant soos deur ds van
verslag self meld dat die persoonlikheidsprofiel van die applikant soos deur ds van
der Merwe vasgestel “‘n bron van kommer is” (bladsy 437 van die applikant se
bundels).
68 Mnr Swanepoel het verder getuig dat die voorsitter van die spesiale kommissie
aan hom gemeld het dat die applikant psigopatiese neigings het. Dr Oosthuizen het
insgelyks getuig dat mnr Van Ruler by hulle eerste bymekaarkom reeds ges ê het
dat hy klaar besluit het dat die applikant nie ‘n verdere kans gegun moes word nie
en dat hy dit slegs wil laat lyk asof hulle deur die regte stappe gaan. Mnr van
Ruler het verder gevra dat die spesifieke probleme nie met die applikant bespreek
word nie en het hieroor telefonies met ds H West (een van die ander leraars)
gekonsulteer. Hy het ook gemeld dat daar in privaatgesprekke die vraag gestel
word of die applikant as ‘n sosiopaat (die sinoniem van ‘n psigopaat) beskou kon
word.
69 Mnr Swanepoel het ook getuig dat ds B Gerryts (‘n ander medeleraar) ook aan
hom gemeld het dat daar groot sielkundige fout met die applikant was. Ds Gerryts
het ook hierdie suggestie gelaat in sy latere getuienis voor die Ring (bladsye B155
tot B161 van die applikant se bundels).
70 Dr Oosthuizen se verslag (wat teenstrydig is met die bewerings wat aan die
kerkraad voorgehou is en aantoon dat die applikant hoegenaamd geen patologiese
neigings soos psigopatie vertoon nie) is ook nooit voor die kerkraad gel ê nie.
Verder het die kerkraad aanvanklik besluit om artikel 12 prosedures in te stel
sonder dat die kerkraad enigsins van Dr Oosthuizen se gevolgtrekkings kennis
geneem het. Hierdie gedrag was onverstaanbaar juis omrede die spesiale
kommissie self die sielkundige ondersoek aangevra het en die applikant genoop
was om hom (en sy eggenote) aan hierdie vernedering te onderwerp.
71 Belangrike getuienis is gelewer deur mnr Swanepoel dat ds van der Merwe aan
hom ges ê het dat van die ander leraars ‘n pakt teen die applikant gevorm het.
Hierdie bewering word ondersteun deur ds van der Merwe se voorlopige verslag
wat in die bundel opgeneem is (bladsy 967 van die applikant se bundels).
72 Daar moet ook gelet word op die feit dat die verslag van die spesiale kommissie
72 Daar moet ook gelet word op die feit dat die verslag van die spesiale kommissie
verder in die proses ingevoer is en dat mnr Van Ruler self ook teenwoordig was
by deurslaggewende vergaderings soos die vergadering van die Ring op 30
Oktober 1996. In hierdie verband kan ook gewys word na die trant van ‘n brief
wat deur mnr Van Ruler geskryf is (bladsy 383 van die applikant se bundels).
73 Daar was ook getuienis dat ds West en mnr Van Ruler gemeentelede gaan sien het
om hulle kant van die saak te stel en in die proses die applikant probeer afkraak
het. Trouens, die fasiliteerders wat deur die Ring aangestel is se verslag dui aan
dat van die ander leraars selfs op daardie laat stadium steeds “insidente” rondom
die applikant aangemeld het (bladsy 971 van die applikant se bundels). Die
applikant het dan ook getuig dat ds West elke dag met ‘n lys van klagtes teen hom
opgedaag het en dat dit eers uit die weg geruim moes word.
74 Die applikant het getuig dat hy voortdurend tot versoening bereid was maar dat
die fasiliteringsproses uiteindelik misluk het toe die ander vier predikante
uitgestap het nadat hulle ‘n ultimatum aan hom gestel het. Mnr Swanepoel (wat
saam met die applikant ‘n versoenende brief geskryf het) en mnr DJ Potgieter, die
prokureur van die applikant wat by die versoeningspogings betrokke was, het ook
oor die applikant se versoenende houding getuig. Mnr Potgieter het verder oor die
onversoenende houding van ds Gerryts getuig.
75 Die applikant het getuig dat die fasiliteerders wat die Ring aangestel het nie
voldoende ag geslaan het op die feit dat hy aan depressie gely het nie. In hierdie
verband het verskeie getuies van die applikant getuig dat hy veral in 1995 en 1996
aan ernstige depressie gely het.
76 In die lig van hierdie getuienis is ek nie oortuig dat dit die applikant se skuld was
dat die verhoudinge binne die span leraars skipbreuk gely het nie. Trouens, dit
blyk uit die getuienis wat die applikant gelei het dat die struktuur van die
gemeente asook die optrede van die genoemde ander persone in die
probleemsituasie die breuk veroorsaak het.
77 Gevolglik is dit onbegryplik waarom die Ring besluit het om die applikant te
ontslaan. Hierdie optrede van die Ring was onbillik. Daar was naamlik geen
geldige of billike rede om juis die applikant uit te sonder vir ontslag nie.
Bedryfsvereistes
78 Indien daar op hierdie stadium bedryfvereistes bestaan het wat die ontslag van een
of meer van die lede van die leraarspan van Wilgespruit genoodsaak het vanwe ë
die verbrokkeling in die verhouding tussen die medeleraars, moes die Ring die
vereistes van artikel 189 van die Wet noulettend nagekom het.
79 Dit is naamlik geyk dat die voorgeskrewe prosessuele billikheid by ontslag op
grond van bedryfsvereistes, dit wil s ê, behoorlike en indringende konsultasies ten
einde te poog om eenstemmigheid te bereik oor aangeleenthede soos geskikte
maatreëls om die ontslag te vermy en die metode vir selektering van die
werknemers wat ontslaan sal word ook uiteindelik bepalend is vir die substantiewe
billikheid van die ontslag.
80 Daar was geen getuienis wat daarop dui dat die vereiste prosedures nagevolg is
nie. Die enkele verwysings na moontlike alternatiewe oplossings (sien
byvoorbeeld bladsy 970 van die applikant se bundels) en die
skikkingsonderhandelinge na die ontslag kwalifiseer klaarblyklik nie hiervoor nie.
Remedie
81 In die lig van die bevinding dat die ontslag van die applikant substantief sowel as
prosessueel onbillik was, moet die geskikte remedie oorweeg word.
82 Artikel 193(2) van die Wet handel oor regsmiddele by onbillike ontslag en bepaal
dat die Arbeidshof van die werkgewer moet vereis om die werknemer in diens te
herstel of weer in diens te neem. Hierdie twee remedies is gevolglik die prim êre
regsmiddele wat die Wet voorskryf by onbillike ontslag.
83 Verder het die respondente my nie oortuig dat die omstandighede rondom die
ontslag sodanig is dat ‘n voortgesette diensverhouding onhoudbaar sou wees of
dat dit nie redelikerwys doenlik is vir die werkgewer om die werknemer in diens
te herstel of weer in diens te neem nie (artikel 193(2)(b) en (c)). Die respondente
het naamlik in gebreke gebly om te bewys dat die vertouensverhouding van die
applikant met die gemeente Wilgespruit as sulks of met die Ring of Sinode as
sulks, dit wil s ê, met sy werkgewers, geskend is. Die uitsonderings genoem in
artikel 193(2)(a) en (d) is klaarblyklik ook nie van toepassing nie aangesien die
werknemer in diens herstel of weer in diens geneem wil word en die ontslag nie
bloot prossesueel onbillik is nie.
84 Verder het die respondente in gebreke gebly om aan te toon dat die verbrokkeling
in die verhouding tussen die vyf werknemers (die leraarspan) aan die applikant se
optrede toegeskryf kan word. Ander oorwegings vir die toepassing van die
primêre remedies van herindiensstelling of indiensneming is die getuienis dat dit
bykans onmoontlik is vir ‘n predikant teen wie artikel 12 stappe ingestel was om
weer ‘n beroep te verkry. Verder is ‘n predikant slegs opgelei om binne die
kerkstrukture te werk en is hy of sy nie gekwalifiseer vir werk buite die
organisasie nie. Die applikant het homself ook bewys as ‘n goeie predikant oor ‘n
periode van dertien jaar in die gemeente Newcastle en het nog 21 jaar diens voor
hom.
85 Die feit dat die verhouding tussen die applikant en die ander vier leraars egter
verbrokkel het (soos dit blyk uit die getuienis ook van die applikant self) en die
verbrokkel het (soos dit blyk uit die getuienis ook van die applikant self) en die
gevolglike vertrouensbreuk tussen die applikant en die ander vier leraars sou egter
ernstige gevolge kon inhou vir die gemeente Wilgespruit, veral gesien in die lig
van die ongelukkige geskiedenis en die unieke aard van die kerk as godsdienstige
organisasie. Me Klopper , die regsverteenwoordiger van die applikant, het ook in
haar aanvullende betoogshoofde toegegee dat daar ‘n vertrouensbreuk was tussen
die leraars (paragraaf 2.5). Die remedie van herindiensstelling in die diens van die
eerste respondent sou gevolglik in die openbare belang en in billikheid teenoor al
die betrokke partye nie aangewese wees nie.
86 ‘n Geskikte en billike remedie sou gevolglik die indiensneming van die applikant
in die diens van die tweede (of derde) respondent wees, dit wil s ê, die sekond êre
werkgewers, op voorwaarde dat die applikant presies dieselfde salarispakket of
besoldiging moet ontvang. In hierdie verband is die moontlikheid van
standplaasruiling ook in die getuienis genoem alhoewel enige ander redelikerwys
geskikte werk in die diens van die tweede of die derde respondent ook sal
kwalifiseer. Me Klopper het dan ook in die alternatief versoek dat die applikant in
diens gestel word binne die kerklike strukture van die tweede en/of die derde
respondent sodat hulle self vir die applikant ‘n alternatiewe bediening kan skep.
So ‘n remedie sal naamlik die benadeling van die gemeente Wilgespruit en dus die
kerk in die algemeen voorkom, ‘n resultaat wat die applikant ook voorstaan.
87 Sodanige indiensneming moet verder terugwerkend wees ingevolge die bepalings
van artikel 193(1)(b) van die Wet. Ingevolge hierdie bepalings kan die Hof die
werkgewer gelas om die werknemer weer in diens te neem, óf in die werk waarin
die werknemer voorheen in diens was, óf in ‘n ander redelikerwysgeskikte werk,
op enige voorwaardes en vanaf enige datum wat nie vroe ër as die datum van
ontslag is nie. Hierdie is ‘n geskikte geval om die indiensneming volkome
terugwerkend te maak, dit wil s ê vanaf die datum van ontslag, sodat die applikant
terugwerkend te maak, dit wil s ê vanaf die datum van ontslag, sodat die applikant
sy volle besoldiging vir die periode vanaf die datum van ontslag tot op die datum
van die indiensnemingsbevel kan ontvang.
88 Die optrede van ander persone in die proses van sy ontslag wat sterk dui op
bymotiewe sowel as die applikant se versoenende houding deurgaans is van die
faktore wat by hierdie beslissing ‘n rol moet speel. Die feit dat die applikant
gewerk het tydens sy ontslag behoort nie in berekening gebring te word nie
aangesien terugwerkende indiensneming nie ‘n bevel is om vergoeding aan die
werknemer te betaal nie. Vergoeding is naamlik ‘n alternatiewe remedie soos die
bepalings van artikel 193(1)(c) en artikel 194 van die Wet aandui. Billikerwys kan
die waarde van die pakket wat die applikant ontvang het (in soverre so ‘n pakket
wel aan hom uitbetaal is) egter van hierdie bedrag afgetrek word.
Outomaties Onbillike Ontslag
89 Die applikant het verder beweer dat sy ontslag op diskriminasie neerkom
ingevolge die bepalings van artikel 187(1)(f) van die Wet. Hierdie bepalings lui
soos volg:
“Ontslag is outomaties onbillik indien die werkgewer by die ontslag van ‘n
werknemer strydig met artikel 5 optree of indien die rede vir die ontslag is
(f) dat die werkgewer onbillik gediskrimineer het teen ‘n werknemer,
regstreeks of onregstreeks, op enige arbitr êre grond...”.
Dan volg ‘n lys van arbitr êre gronde soos ras, geslag, gestremdheid, godsdiens,
gewete, geloof en gesinsverantwoordelikheid, wat nie ‘n numerus clausus van
arbitrêre gronde uitmaak nie.
90 Geeneen van die applikant se getuies, selfs nie eens die persone wat die hele
probleemarea haarfyn ontleed het nie (soos dr Oosthuizen), het melding gemaak
van diskriminasie teen die applikant nie. Die pleitstukke het ook nie die beweerde
gronde van diskriminasie uiteengesit nie. Die blote feit dat daar bymotiewe mag
gewees het by die ontslag van die applikant (soos veral blyk uit die valse gerugte
oor sy beweerde psigopatie) beteken nog nie dat die rede vir die ontslag van die
applikant baseer was op ‘n arbitr êre grond soos byvoorbeeld sy geloofsoortuiginge
applikant baseer was op ‘n arbitr êre grond soos byvoorbeeld sy geloofsoortuiginge
nie. Die feit dat daar wel teologiese verskille mag bestaan het (die applikant was
blykbaar meer “gereformeerd” in sy benadering) beteken nog nie opsigself dat dit
die rede was vir die ontslag deur die Ring nie.
91 Die app èlgronde van die applikant het ook geensins iets gemeld van ‘n ontslag
weens diskriminasie nie. Nie eens tydens argument kon ‘n saak hiervoor
uitgemaak word nie en is verskillende motiewe vir sy ontslag aangebied soos ‘n
finansiële motief (die gemeente het na bewering nie genoeg fondse gehad om ‘n
vyfde leraar te kon bekostig nie). Trouens, dit het uit die getuienis wat die
applikant voorgel ê het geblyk dat die werklike rede vir sy ontslag die persoonlike
onmin of verhoudingsprobleme binne die span van leraars was.
92 Die applikant het my gevolglik nie oortuig dat die rede vir sy ontslag op een of
ander arbitr êre grond plaasgevind het nie. Ek is gevolglik nie oortuig dat hierdie ‘n
outomaties onbillike ontslag as gevolg van onbillike diskriminasie was nie.
93 Die applikant was gevolglik onsuksesvol om hierdie deel van sy saak te bewys en
hierdie feit moet dan ook ‘n invloed h ê op die kostebevel wat gemaak word.
Koste
94 Benewens die feit dat die applikant nie ‘n saak kon uitmaak vir outomatiese
onbillike ontslag nie het die feit dat die applikant nie eerste geroep is as getuie nie
ook implikasies by die toestaan van ‘n kostebevel aangesien dit ongetwyfeld
daartoe bygedra het dat daar langer tyd bestee is aan die agtergrondsgetuienis as
wat andersinds die geval sou wees. Daar bestaan ernstige twyfel of daar 28 getuies
geroep moes word deur een party in ‘n saak wat normaalweg na arbitrasie verwys
sou gewees het aangesien dit handel oor ‘n enkel ontslag wat nie op
bedryfsvereistes gegrond was nie.
95 Meer of min 70 hofdae is aan die applikant se saak gewy. Daar is ook sekere
aspekte van die getuienis soos die getuienis oor die geldigheid van die kerkraad
van Wilgespruit wat slegs waarde op die periferie het. Die regsverteenwoordiger
van die applikant het naamlik aangedui dat die feit dat die kerkraad uit meer lede
moes bestaan moontlik sou kon beteken dat daar nie so streng en oorhaastig
opgetree sou gewees het nie. Die waarde van hierdie getuienis is egter op sy beste
bloot spekulatief.
96 ‘n Verdere oorweging wat teen die toestaan van ‘n kostebevel in ag geneem moet
word is die feit dat die verhouding tussen die partye voortduur as gevolg van die
indiensnemingsbevel en dat ‘n kostebevel gevolglik nie punitatief moet werk nie.
Die regsre ël dat koste die uitslag volg moet altyd getemper word deur die
voormelde oorwegings in belang van billikheid.
97 Albei partye het egter bygedra tot die feit dat die verrigtinge uitgerek is. Deur te
pleit dat die applikant op drie gronde ontslaan is terwyl die saak van die
respondente wat tydens kruisverhoor gestel is hoogstens vir een grond voorsiening
gemaak het, het die respondente die geskilpunte onnodig verbreed.
98 Deur ooreen te kom dat die applikant sou begin, het die partye ook klaarblyklik
die verkeerde besluit geneem aangesien dit beter sou gewees het indien die
respondente (wat die bewyslas dra) van meet af aan die grond(e) vir ontslag moes
aangetoon het. Trouens, die re ëls van die Hof maak dit duidelik dat die partye
moet poog om (in die openbare belang en in die belang van die regspleging) die
verrigtinge sover moontlik te verkort. Dit is immers die doel van die Wet om die
“doeltreffende beslegting van arbeidsgeskille” te bevorder (artikel 1(d)(iv)).
Voorverhoorverrigtinge waartydens sake soos punte in limine uitgesorteer moet
word is van die allergrootste belang. Gevolglik maak ek dan ook geen kostebevel
word is van die allergrootste belang. Gevolglik maak ek dan ook geen kostebevel
in die (suksesvolle) aansoek deur die respondente vir verdere besonderhede
gedurende Maart 1999 nie.
99 Verder beskou ek dit as billik dat die respondente wel die koste moet betaal van
die (onsuksesvolle) punt in limine wat teen die loop van die verrigtinge in en in
die middel van die verhoor geopper is. Die kostebevel is koste vir die agt hofdae
wat hiervoor gebruik is op die basis van die koste van een advokaat. Me Klopper
het naamlik die versekering gegee dat sy deur ‘n prokureur opdrag gegee is en dat
sy haar fooie as advokaat hef, wen of verloor.
Bevel
Die volgende bevele word verleen:
1. Die ontslag van die applikant deur die respondente is nie ‘n outomaties
onbillike ontslag in terme van artikel 187(1)(f) van die Wet nie.
2. Die ontslag van die applikant deur die tweede respondent op 2 Desember
1996 is beide substantief en prosessueel onbillik in terme van artikel 188(1)(a) en
(b) van die Wet.
3. Die tweede en die derde respondente word gelas om die applikant in diens
te neem in ‘n redelikerwysgeskikte werk in die kerkstrukture teen dieselfde
salarispakket (besoldiging) wat aan hom uitbetaal is tydens diensbe ëindiging.
Die tweede en die derde respondente is gesamentlik en afsonderlik hiervoor
aanspreeklik, indien die een die bevel nakom word die ander vrygestel.
4. Die indiensnemingsbevel geld met ingang van die datum van ontslag wat beteken
dat die applikant se besoldiging tussen die datum van ontslag en die datum van
hierdie bevel aan hom uitbetaal moet word. Al drie die respondente is gesamentlik
en afsonderlik verantwoordelik vir die betaling hiervan, indien die een betaal word
die ander vrygestel. Van hierdie bedrag kan enige bedrag wat inderdaad as ‘n
pakket aan die applikant uitbetaal is by ontslag afgetrek word.
5. Die respondente moet gesamentlik en afsonderlik, indien die een betaal
word die ander vrygestel, die applikant se koste betaal van die agt hofdae
wat bestee is aan die aanhoor van die punt in limine in September 1998. Verder
word geen bevel ten aansien van koste gemaak nie.
__________________________
BASSON, R
Laaste verhoordatum: 26 Februarie 1999 (na 74 hofdae)
Datum van uitspraak: 5 Maart 1999
Namens die applikant: Adv E Klopper in opdrag van Louw en Heyl (Mnr DJ
Potgieter)
Namens die respondente: Adv HvR Woudstra SC in opdrag van Riaan du
Plessis Ing (Mnr R du Plessis)
Hierdie uitspraak is verkrygbaar op die internet by website:
http//www.law.wits.ac.za/labourcrt