About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 99
|
|
S v Swanepoel en 'n Ander (318/94) [1995] ZASCA 99 (15 September 1995)
Saaknommer 318/94
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING) In die saak tussen:
WILLIE SWANEPOEL Eerste
Appellant
ANTONIE J.C. ENGELBRECHT Tweede
Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM:
E.M. GROSSKOPF, VIVIER ARR et VAN COLLER WN AR DATUM AANGEHOOR : 4 SEPTEMBER
1995 DATUM VAN UITSPRAAK : 15 SEPTEMBER 1995
UITSPRAAK
VAN COLLER WN AR/
2
VAN COLLER WN AR :
Die twee appellante is in die streekhof te
Klerksdorp skuldig bevind aan diefstal van 10 beeste. Appellant 1 is gevonnis
tot vyf jaar
gevangenisstraf waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is.
Appellant 2 is ook tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis dog in sy
geval is geen
gedeelte van die gevangenisstraf opgeskort nie. Elias Sedupe het saam met die
appellante as beskuldigde 3 tereggestaan.
Hy is ook skuldig bevind en tot vyf
jaar gevangenisstraf, waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is,
gevonnis.
Die appellante het teen hul skuldigbevindings en vonnisse na die
Transvaalse Provinsiale Afdeling geappelleer. Hulle het gelyktydig
met die
appèl ook aansoek om die tersydestelling van die verrigtinge in die
streekhof gedoen. Hierdie was 'n hersieningsaansoek
in terme van hofreël
53.
Die appellante se appèl teen hul
skuldigbevindings,
3
die aansoek om hersiening en die appêl teen appellant 1 se vonnis
is van die hand gewys. Appellant 2 se vonnis is egter gewysig
sodat ook in sy
geval twee van die vyf jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort is. Die
appellante se aansoek om teen die afwysing
van die hersieningsaansoek te
appelleer is afgewys, dog verlof is deur hierdie Hof aan hulle verleen om
daarteen te appelleer.
Die strekking van die appellante se
verklarings ter ondersteuning van hul hersieningsaansoek is die volgende. Na hul
arrestasie in
Februarie 1992 het die appellante 'n prokureur van Orkney, mnr.
Scholtz, gespreek en met hom gekonsulteer. Scholtz het hul weergawes
neergeskryf
en hulle meegedeel dat dit getik sou word waarna hulle dit moes teken. Op 26
Februarie 1992 het Scholtz namens die appellante
in die hof verskyn. Die saak is
op daardie datum en op verskeie geleenthede daarna uitgestel. Op 18 Maart 1992
het Scholtz die appellante
meegedeel dat hy die saak gaan oorhandig aan mnr.
Fourie, sy vennoot, wat dit
4
beter sou kon hanteer. Tydens die uitstel van die saak op 2 April 1992
het mnr. J. Oosthuizen, wat ook verbonde was aan Scholtz se
firma, namens die
appellante opgetree. Hy het ook namens Sedupe verskyn. By dié geleentheid
is navraag by Oosthuizen gedoen
aangaande die verklarings wat geteken moes word.
Hy het twee verklarings uit 'n geel lêeromslag gehaal en gesê dat
die
verklarings oorgetik sou word wanneer Fourie aangaan met die saak. Tydens
hierdie gesprek het Oosthuizen die appellante meegedeel
dat hy die verklarings
gelees het en dat hul saak goed lyk. Op 11 Junie 1992 het die appellante Fourie
gespreek. Hy het die geel
lêer uitgehaal, appellant 2 se verklaring
daaruit gehaal en aan hom gesê dat hy nie vir hom kon optree nie aangesien
hy (appellant 2) nie regshulp bekom het nie. Hy het die verklaring onder in die
lêer geplaas en appellant 2 het die kantoor
verlaat. Appellant 1 was vir
redes wat nie tersake is nie, nie tevrede met Fourie se hantering van die saak
nie. Hy het ook verneem
dat Fourie verloof was
5
aan een van die streekhofaanklaers en hy het Fourie se mandaat op 12
Junie 1992 beëindig. Die saak is toe uitgestel na 15 Julie
1992. Twee ander
prokureurs is daarna opdrag gegee om onderskeidelik namens appellant 1 en
appellant 2 op te tree. (Dit blyk uit
die oorkonde van die saak dat die
appellante aanvanklik hul eie verdediging waargeneem het, maar dat 'n prokureur
later in die verhoor
namens beide opgetree het.) Voordat die verhoor op 15 Julie
1992 begin het, het Oosthuizen aan die appellante gesê dat hy vir
Sedupe
verskyn en dat hy nog nie eers met hom gekonsulteer het nie. Hy het ook gemeld
dat al wat hy van die saak weet die inligting
is wat hy van Fourie verkry het.
Oosthuizen het dan inderdaad vir Sedupe by die verhoor verskyn. Hy het die
appellante gekruisvra
en in sy betoog gevra dat die hof hul weergawes moes
verwerp. Die appellante beweer dat alhoewel hulle bitter ongelukkig gevoel het
oor die toedrag van sake, hulle nie besef het dat dit regtens verkeerd was van
Oosthuizen om vir Sedupe
ó
op te tree terwyl hy reeds bewus was van hul weergawes aan Scholtz
nie.
Die appellante steun ook op 'n verklaring van Sedupe. Hulle
beweer dat appellant 1 se prokureur 'n korrespondent opdrag gegee het
om 'n
verklaring van Sedupe, wat in die gevangenis te Klerksdorp is, te bekom. Voordat
die verklaring verkry is, het hulle nie geweet
wat sy weergawe sou wees nie.
Hulle wys daarop dat die inhoud van Sedupe se verklaring aantoon dat Oosthuizen
inderdaad tydens die
verhoor gebruik gemaak het van die inligting wat hulle aan
Scholtz gegee het. Daar was, aldus die appellante, privilegie-skending
en hulle
beweer dat hulle nie 'n billike en regverdige verhoor gehad het
nie.
Dit blyk uit Sedupe se verklaring dat hy voor die verhoor sy
weergawe volledig gegee het aan Oosthuizen wat dit skriftelik afgeneem
het en in
'n lêer geplaas het waarop 'n nommer en die naam "Swanepoel" voorgekom
het. Oosthuizen het hom meegedeel dat sy weergawe
verskil van
7
dié van appellant 1. Hierdie gesprek het plaasgevind in 'n kantoor
by die landdroshof. Oosthuizen het daarna die kantoor verlaat
en later
teruggekeer met konstabel Weston. (Weston was die ondersoekbeampte in die saak.)
Weston het aan hom gevra waarom sy verklaring
verskil van dié van
appellant 1. Hy het volstaan by sy weergawe en Weston meegedeel dat sy weergawe
korrek is. Dit blyk verder
uit Sedupe se verklaring dat gepoog is om hom sy
weergawe te laat verander. Daar was ook sprake daarvan dat hy 'n staatsgetuie
sou
word.
In sy skriftelike antwoord op die appellante se bewerings
sê die streeklanddros dat hy nie kommentaar kan lewer op die bewering
dat
Oosthuizen verklarings van die appellante in sy besit gehad het nie, want so
iets het nooit tot sy kennis gekom nie. Dit het
egter op geen stadium geblyk dat
Oosthuizen in besit was, of gebruik gemaak het van verklarings van die
appellante in die aanbieding
van sy kliënt se saak nie. Hy sê egter
die
8
bewering dat Fourie aan 'n streekhofaanklaer verloof was kan nie korrek
wees nie, want gedurende die tersaaklike tyd was daar geen
vroue-streekhofaanklaer nie.
Die Staat het die aansoek teengestaan
en 'n verklaring van Oosthuizen voorgelê. Oosthuizen wat volgens sy
verklaring 'n assistent
prokureur is verbonde aan die firma Erasmus Jooste,
Klerksdorp, ontken dat hy enige verklarings met die appellante bespreek het.
Hy
ontken ook dat hy op enige dag 'n geel lêeromslag by hom gehad het en
sê dat sy kantoor net bruin lêeromslae
gebruik. Oosthuizen kan nie
erken of ontken dat Fourie in besit was van verklarings van die twee appellante
nie, maar sê dat
met die nagaan van Fourie se lêerinhoud geen
verklarings gevind is nie. Hy ontken dat Fourie op ongeveer 11 Junie 1992 aan
enige streekhofaanklaer verloof was. Indien hy op 15 Julie 1992 enige uitlatings
teenoor die appellant aangaande sy kennis van die
saak gemaak het, het dit
betrekking gehad op die feit dat Fourie hom meegedeel het dat hy nie vir
Sedupe
9
gaan optree nie, en dat die appellante sy mandaat beëindig het. Hy
beweer dat hy geensins insae gehad het, of gehoor het wat
die inhoud van die
appellante se verklarings was nie en sê dat hy nooit Scholtz se lêer
onder oë gehad het nie.
Oosthuizen erken dat hy die appellante gekruisvra
het en beweer dat dit nodig was omdat hulle weergawes verskil het van dié
van Sedupe. Aangesien hulle die skuld in die veediefstalsaak voor die deur van
Sedupe gelê het, was dit wel nodig om die hof
te vra om die appellante se
weergawes te verwerp.
Aangaande die appellante se bewering dat opdrag gegee is aan 'n prokureur
om 'n verklaring van Sedupe te verkry sê Oosthuizen
dat dit 'n skending
van sy gemeenregtelike privilegie was om na Sedupe te gaan en van hom te verneem
"wat die mededelings tussen
ons was." Hy handel egter nie met die bewerings wat
Sedupe in sy verklaring maak nie en sê ook dat hy dit nie wil doen nie.
Hy
volstaan dan deur te meld dat dit van die begin af duidelik was dat Sedupe
en
10
die appellante se weergawes sou verskil.
Volledigheidshalwe
kan die verskil in die weergawes soos blyk uit die oorkonde kortliks soos volg
uiteengesit word. Dit was die Staat
se saak dat die appellante en Sedupe op 3
Februarie 1992 10 beeste van die klaer, mnr. Grobler van dle plaas Wolwehuis,
Klerksdorp,
gesteel het. Die streekhof het bevind dat appellant 2 en Sedupe op 3
Februarie 1992 10 van die klaer se beeste op 'n vragmotor wat
aan appellant 1
behoort het, gelaai het. Dit het plaasgevind op die plaas waar Sedupe gewerk het
en wat langs die klaer se plaas
geleë is. Die beeste is deur appellant 2 na
die slagpale op Viljoenskroon vervoer. Appellant 1 se weergawe was dat hy die
beeste
ongesiens van Sedupe gekoop het en appellant 2 gestuur het om die beeste
te gaan haal. Appellant 2 het getuig dat hy deur appellant
1 versoek en betaal
is om die beeste te gaan haal en na die slagpale te vervoer. Sedupe het ontken
dat hy beeste aan appellant 1
verkoop het. Volgens sy getuienis het
11
appellant 2 die betrokke dag op die plaas waar hy werk opgedaag en hom
meegedeel dat hy gestuur is om van mnr. Grobler se beeste te
kom laai. Appellant
2 het hom gevra om te help om 10 beeste uit te keer en te laai, wat hy gedoen
het.
Dit blyk uit die stukke dat die hersieningsaansoek op 13
September 1993 geloods is. Die landdros se redes is op 8 Oktober 1993 verstrek.
Oosthuizen se verklaring is op 12 Oktober 1993 te Klerksdorp geteken en die
appèl en hersieningsaansoek is op 18 Oktober 1993
aangehoor. Daar was
geen repliserende verklarings deur die appellante geliasseer nie. Waarom dit nie
gedoen is nie blyk nie uit die
stukke nie. Dit blyk uit die uitspraak van die
hof a quo dat die appellante se advokaat gedurende die beredenering van die
aansoek
gevra het om uitstel ten einde te kon antwoord op Oosthuizen se
verklaring. Hierdie aansoek is egter van die hand gewys. Le Roux
R, met wie
Eloff RP saamgestem het, sê in sy uitspraak dat hy met
12
groot versigtigheid gekyk het na Oosthuizen se kruisverhoor van die
appellante en dat hy geen aanduiding hoegenaamd kon vind dat hy
enige ander
feite as slegs dié wat deur sy kliënt aan hom meegedeel is gebruik
het, of gestel het aan die appellante
nie. Hy bevind dat daar geen aanduiding in
die oorkonde is van enige nadeel of moontlike regskending, wat daar behoort te
wees nie.
'n Uitstel sou, aldus die geleerde Regter, geensins die saak verder
geneem het nie en vir hierdie redes is nie alleen die aansoek
om uitstel nie,
maar ook die hersieningsaansoek van die hand gewys.
In hierdie Hof
is die weiering om uitstel te verleen ten einde repliserende verklarings voor te
lê nie deur mnr. Fischer, wat
namens albei die appellante opgetree het,
aangeveg nie. Hy het eerstens aangevoer, na my mening tereg, dat aangesien
hierdie 'n hersieningsaansoek
is die hof a guo verkeerdelik bevind het dat die
nadeel en moontlike regskending uit die oorkonde moes blyk.
Ten einde die feitegeskil wat bestaan in
die
13
verklarings van die appellante en Oosthuizen te oorbrug het mnr. Fischer
aangevoer dat laasgenoemde se versuim om met Sedupe se bewerings
te handel,
asook die waarskynlikhede, geen twyfel laat dat Oosthuizen ten volle op hoogte
was van die weergawes van die appellante
nie. Mnr. Fischer het toegegee dat dit
nie uit die oorkonde blyk dat die appellante op enige wyse benadeel is deur die
feit dat Oosthuizen
voor die verhoor insae in hulle verklarings gehad het nie.
Hy het egter aaangevoer dat die skending van die appellante se privilegie
van so
'n aard was dat dit per se op 'n regskending neergekom het en dat die
skuldigbevindings en vonnisse tersyde gestel behoort
te word. Daar is veral
gesteun op die beslissings in
S v Mushimba en Andere 7 977 (2) 5A
829 (A; en S v Mkhise; S v Mosia; 5 v Jones; S v Le Roux
1988 (2) SA 868
(AJ).
Daar is sekere onbevredigende aspekte in die Staat se opponerende stukke.
Oosthuizen sê wel dat daar nie in Fourie se
lêer enige verklarings
gevind is nie, maar
14
hy maak geen melding van Scholtz se lêer nie en geen verklaring van
Scholtz is voorgelê nie. Scholtz sou waarskynlik kon
lig werp op wat van
die verklarings van die appellante geword het indien daar wel verklarings van
hulle geneem is. Dit is ook moeilik
om te verstaan waarom Oosthuizen in sy
verklaring nie met Sedupe se bewerings wou handel nie. By die nagaan van Sedupe
se verklaring
blyk dit egter duidelik dat sy bewerings nie noodwendig inhou dat
Oosthuizen sy kennis van appellant 1 se weergawe van laasgenoemde
se verklaring
gekry het nie. Sedupe sê in sy verklaring dat Oosthuizen hom meegedeel het
dat sy weergawe van appellant 1 se
weergawe verskil. Soos Sedupe in sy
verklaring meld, kan hiervan afgelei word dat Oosthuizen bewus was van appellant
1 se weergawe.
Oosthuizen kon egter hierdie weergawe van 'n ander bron as
appellant l se verklaring verkry het. Die feit dat Weston aan Sedupe sou
gevra
het hoekom sy verklaring verskil van dié van appellant 1, beteken ook nie
noodwendig dat Weston sy
15
kennis van appellant 1 se verklaring van 'n verklaring in Oosthuizen se
besit gekry het nie. Dit moet in gedagte gehou word dat Oosthuizen
uitdruklik in
sy verklaring meld dat hy geen kennis dra van enige verklarings wat die
appellante aan Scholtz sou gemaak het nie.
Hy sê ook ultdruklik dat hy
geen insae gehad, of gehoor het wat die inhoud van die appellante se verklarings
was nie. Mnr.
Fischer het toegegee, na my mening tereg, dat in die onderhawige
saak die benadering soos uiteengesit in die saak van Plascon-Evans
Paincs Ltd v
Van Riebeeck Paincs (Pty) Ltd
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3) SA 623
(A) op 634 E-I en op 635 A-D
gevolg moet word. Indien hierdie benadering gevolg word kan, in die lig van die
geskil op die feite,
'n bevinding dat Oosthuizen insae in die appellante se
verklarings gehad het, nie geregverdig word nie. Nieteenstaande die feit dat
Oosthuizen nie met Sedupe se bewerings wou handel nie en die ander
onbevredigende aspekte waarna ek verwys het, is ek van mening
dat sy ontkennings
nie so verregaande of
16
onhoudbaar ±s dat dit bloot op die stukke verwerp kan word nie.
Vergelyk Administrator, Transvaal, and Others v Theletsane and
Others 7997 (2)
SA 792 (A) op 197 A-C. Dit dien ten slotte vermeld te word dat die appellante
nie in die hof a quo gevra het dat
die hersieningsaansoek verwys moet word vir
die aanhoor van mondelingse getuienis nie. Die geskil op die feite, wat fataal
is vir
die sukses van die appèl, bring gevolglik mee dat daar nie
ingegaan kan word op die vraag of die beweerde skending van die
privilegie wat
tussen die appellante en hul regsverteenwoordiger bestaan het per se op 'n
regskending sou neergekom het nie. In die
omstandighede kan die appél
teen die afwysing van die appellante se hersieningsaansoek nie slaag
nie.
17 Die appèl van elkeen van die appellante word
afgewys.
A.P. VAN COLLER WAARNEMENDE
APPèLREGTER
E.M. GROSSKOPF AR ] STEM SAAM
VIVIER
AR ]