About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 93
|
|
Hoogland Boerdery (Edms) Bpk v Coldcor (Edms) Bpk; Aswanestaal (Edms) Bpk v Hoogland Boerdery (Edms) Bpk (600/91) [1995] ZASCA 93 (14 September 1995)
Saak Nr 600/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
*1
HOOGLAND BOERDERY (EDMS) BPK
Eerste Appellant en
COLDCOR (EDMS) BPK
Respondent
* 2
ASWANESTAAL (EDMS) BPK
Tweede Appellant
en
HOOGLAND BOERDERY (EDMS)
BPK
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, VIVIER,
VAN DEN HEEVER,
HARMS et OLIVIER, ARR
VERHOOR
: 15,16 Augustus 1995
GELEWER
:
14 September 1995
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
2
Op 12 Desember 1988 het 'n brand uitgebreek in 'n koelkamer op die plaas
Hoogland in die distrik Ceres, Wes-Kaap. Aansienlike skade
is aangerig aan die
struktuur en inhoud van die koelkamer en aanliggende geboue. Die brand het
ontstaan as gevolg van sweiswerk wat
op nalatige wyse in die koelkamer gedoen is
deur 'n werknemer van Aswanestaal (Edms) Beperk ("Aswane"). Aswane was 'n
subkontrakteur
van Coldcor (Edms) Beperk ("Coldcor"), wat in 1986 kragtens
ooreenkoms sekere installasies in die betrokke koelkamer aangebring het.
Die
eienaar van die plaas, Hoogland Boerdery (Edms) Beperk ("Hoogland"), het in die
Kaapse Provinsiale Afdeling aksie ingestel teen
Coldcor en Aswane vir vergoeding
van die skade wat deur die brand veroorsaak is. Sy aksie teen Coldcor was
gebaseer op kontrakbreuk
en dié teen Aswane op onregmatige daad. Na 'n
lang verhoor het die verhoorhof (Lategan R) die eis teen
3
Coldcor afgewys - die eiser het nie bewys dat die installasie waaraan
Aswane se werknemer gewerk het toe die brand ontstaan het, 'n
deel gevorm het
van die werk wat Coldcor ingevolge die partye se ooreenkoms moes verrig nie. Die
eis teen Aswane, daarenteen, het
geslaag. Die hof het bevind dat Aswane
middellik aanspreeklik was vir sy werknemer se onregmatige en nalatige optrede.
Die verhoorhof
het aan beide Hoogland en Aswane verlof verleen om na hierdie hof
te appelleer - Hoogland t o v die afwysing van sy eis teen Coldcor,
en Aswane t
o v die uitspraak teen hom. Met betrekking tot albei die eise was die omvang van
Hoogland se skade ook in geskil.
Nadat verlof om te appelleer verleen was, was daar 'n lang vertraging
voordat die oorkonde van die verrigtinge geliasseer en sekuriteit
verskaf is.
Albei voornemende appellante (d w s, Aswane en Hoogland) het
4
lywige petisies om kondonasie van hul versuim ingedien. Hierdie petisies
is bestry. Mettertyd het Hoogland 'n verdere band van die
oorkonde aangebied,
tesame met nog 'n petisie om kondonasie. Dit ook word bestry.
Wat tans voor ons dien is die onderskeie petisies om kondonasie, en,
indien hulle slaag, die twee appelle.
'n Belangrike faktor by die beoordeling van die aansoeke om kondonasie is
die twee petisionarisse se vooruitsigte op sukses in hul
appelle. Ek behandel
hierdie aspek eerste.
Ter aanvang is dit nodig om die feite van die saak meer volledig uiteen
te sit. Die maatskappy Hoogland (wat destyds 'n ander naam
gehad het) is in 1970
deur Mnr J S Alberts ("Alberts Snr") aangekoop. Sedert 1987 is hy en sy seuns
Johan en André die enigste
aandeelhouers. Alberts Snr het 'n beherende
aandeel. Hy
5
en die twee seuns is direkteure van die maatskappy, maar in die praktyk
het hy die finale seggenskap in die bestuur van die maatskappy.
Die
belangrikste bate van die maatskappy is die plaas Hoogland. Dit is net meer as
1000 hektaar groot. Die vernaamste boerderyproduk
is appels wat op die plaas
verpak en daarvandaan bemark en versend word. Die boerdery, verpakking en
bemarking word bedryf deur Johan
en André Alberts, wat op die plaas woon.
Alberts Snr woon in Constantia.
Daar is 'n koel- en pakstoorkompleks op die plaas wat bestaan uit 'n hele
aantal geboue. Hierdie kompleks is oor die jare vergroot
en verbeter.
Gedurende Mei 1986 het Alberts Snr en Coldcor onderhandelinge aangeknoop
oor die bou van 'n nuwe koelkamer op die plaas. Coldcor is
verteenwoordig deur
sy alleen-aandeelhouer en besturende direkteur, Mnr L
6
L Strydom ("Strydom"). Alberts Snr sou self reël vir die
betonfondament van die beplande koelkamer en Strydom is versoek om 'n
kwotasie
te verskaf vir die staalkonstruksie, verkoelingsapparaat en vals plafon. 'n Vals
plafon is 'n konstruksie wat onder die
dak van 'n koelkamer aangebring word om
die sirkulasie van verkoelde lug te bevorder. Die verkoelingsapparaat word dan
tussen die
vals plafon en die dak geplaas. Om by die verkoelingsapparaat te kom
is dit gewoonlik nodig om 'n loopvlak van metaal langs die verkoelingsapparaat
te bou wat ' n mens dan deur middel van ' n leer van onder kan bereik. Die
loopvlak word op Engels 'n "cat walk" genoem. In die getuienis
is op Afrikaans
na 'n "katloop" verwys. Volgens die Bouwoordeboek van die Vaktaalburo van die S
A Akademie vir Wetenskap en Kuns
moet 'n mens liewer praat van 'n
brugvoetpaadjie, kruipgang of looplys. Ek sal laasgenoemde woord
7
gebruik. Eienaardig genoeg is die leer wat na die looplys lei (Engels
"cat ladder") volgens dieselfde bron 'n katleer, en ek sal so
daarna
verwys.
Ek keer terug na die onderhandelinge tussen Alberts Snr en
Strydom. Strydom was nie ingerig om die hele projek te behartig nie en
het
kwotasies van sub-kontrakteurs aangevra vir die staalwerk en die installering
van die verkoelingsapparaat. Op grond van hierdie
kwotasies het Coldcor 'n
formele kwotasie vir die hele opdrag opgestel. Op 6 Junie 1986 het Strydom vir
Alberts Snr besoek en die
kwotasie aan hom oorhandig. Alberts Snr het gemeen dat
sommige van die pryse te hoog was en het nie die kwotasie aanvaar nie.
Aan die begin van September 1986 het Alberts Snr en Strydom weer
bymekaargekom. Alberts het gesê dat hy self sou reël vir
die
installering van die verkoelingsapparaat deur 'n maatskappy Grenco (SA)
8
(Edms) Beperk ("Grenco"). Hy wou 'n laer kwotasie t o v die beoogde nuwe
koelkamer (en veral die staalwerk) hê, asook 'n kwotasie
met betrekking
tot sekere ander werk. Strydom het voortgegaan en verdere kwotasies gekry. Na
gelang daarvan het Strydom 'n nuwe kwotasie,
gedateer 8 September 1986,
voorberei. Alberts Snr en Strydom het hierdie kwotasie bespreek. Dit is nie
nodig om hul bespreking in
besonderheid uiteen te sit nie. Wat van kernbelang in
hierdie saak is, is dat die partye toe ooreengekom het dat daar ook 'n vals
plafon in 'n bestaande koelkamer ingebou sou word. Hierdie bestaande koelkamer
word as koelkamer 1 beskryf om dit te onderskei van
koelkamer 2, die nuwe
koelkamer wat opgerig sou word, en inderdaad opgerig is. Grenco sou ook in
koelkamer 1 verkoelingsapparaat
installeer.
Na bespreking het Alberts Snr en Strydom ooreengekom oor watter werk
gedoen sou word en teen
9
watter prys. Strydom het op sy beurt 'n kontrak met Mnr A C Swanepoel
("Swanepoel") van Aswane aangegaan waarkragtens laasgenoemde
as sub-kontrakteur
die staalwerk sou behartig. Ingesluit in die werk wat Aswane sou doen was die
oprigting van 'n vals plafon in
koelkamer 1.
Mettertyd is die werk voltooi. Volgens Mnr C von W Hamman van Aswane was
hul werk, wat die vals plafon met 'n looplys en 'n katleer
in koelkamer 1
ingesluit het, reeds op 10 of 11 November 1986 afgehandel. Op daardie tydstip
was die verkoelingsapparaat nog nie
daar nie. Grenco het sy werk eers teen die
einde van Februarie 1987 voltooi.
Hoogland was ontevrede met sommige van die werk wat Aswane gedoen het en
het geweier om die volle prys aan Coldcor, sy kontraksparty,
te betaal totdat
alle gebreke herstel was. Korrespondensie het hieroor gevolg
10
tussen Hoogland en Coldcor en tussen Coldcor en Aswane. Al die
besonderhede is nie relevant nie. Sekere herstelwerk is gedoen, maar
die
Albertse was nog nie tevrede nie. Op 12 Desember 1988 het Mnr Isak Louw met 'n
span werkers gekom om die finale afrondingswerk
in koelkamers 1 en 2 te doen.
Isak Louw is 'n voorman by Aswane. Hy het nie verder as Sub B op skool gevorder
nie en is ongeletterd
maar het 17 jaar diens by Aswane gehad. Die looplys in
koelkamer Iwas oorspronklik deur hom geïnstalleer. Daar is 'n feitedispuut
oor wat presies sy opdrag op 12 Desember was, en ek kom later daarop terug. Dit
is egter gemene saak dat hy inderdaad werk gedoen
het aan die looplys in
koelkamer 1. Hierdie looplys het aan weerskante van die verkoelingsapparaat oor
die hele lengte van die koelkamer
geloop. Sy paralelle gedeeltes is met 'n
dwarsstuk verbind. Toegang tot die looplys is verkry met 'n katleer
teen
11
die noordelike muur aan die binnekant van die koelkamer. Louw het op 12
Desember eers gewerk aan die regterkantse looplys, soos 'n
mens by die katleer
opkom. Die reling was nie regop nie. Louw het die reling losgeskroef, plaatjies
ingesit en dit weer vasgeskroef.
Die probleem was toe opgelos. Die reling aan
die linkerkant was ook gebrekkig maar die probleem daar was verskillend. Daar
het die
reling skeefgetrek omdat dit vasgesweis was aan die pype van die
verkoelingsapparaat. Wie dit gedoen het, is nie duidelik nie, en
ek kom later
daarop terug. Volgens Louw was die aanhegting gedoen met vier ysterpypies wat
elk aan sy een kant vasgesweis was aan
die reling en aan sy ander kant aan 'n
verkoelingspyp. André Alberts het getuig dat die reling direk aan 'n pyp
vasgesweis
was. In die loop van die argument is daar allerweë aanvaar dat
Louw se weergawe korrek was. Louw het eers
12
die pypies losgesny met 'n slypmasjien. Daarna het hy hulle verleng sodat
die reling nie weer skeefgetrek sou word nie, en hulle begin
terug aansweis.
Terwyl hy hiermee besig was het die brand uitgebreek. Dit is klaarblyklik
veroorsaak deur vonkies van die sweismasjien
wat op die onbedekte polistireen
geval het waarmee die mure bekleed was vir insulasie. Polistireen is hoogs
ontvlambaar.
Dit is duidelikdat Isak Louw nalatig was deur nie behoorlike voorsorg
teen brand te tref nie en dat die brand, met die daaropvolgende
skade, deur sy
nalatigheid veroorsaak is. Soos reeds gemeld het die hof a quo egter bevind dat
Coldcor nie kontraktueel vir die brandskade
aanspreeklik is nie. 'n Ontleding
van die getuienis en, in besonder, van die onderhandelinge tussen Alberts Snr en
Strydom het aangetoon,
so het die hof bevind, dat Coldcor inderdaad nooit
gekontrakteer
13
het om 'n looplys in koelkamer 1 op te rig nie. Enige gebreke in die
looplys, en skade wat veroorsaak is deur die poging om die gebreke
te herstel,
kon dus nie op Coldcor se brood gesmeer word nie. Aswane was,soos ook reeds
gemeld, in 'n ander posisie. Hy is middellik
aanspreeklik gehou ex delicto vir
Louw se optrede.
Die kern van die saak, lyk dit vir my, lê opgesluit in wat presies
Isak Louw se werkopdrag op 12 Desember was en wat die algemene
bestek van sy
verpligtinge was. Dit sou helderheid kon gee oor hoe sy werk op daardie dag
ingepas het by sy werkverhouding met Aswane
en by enige kontraktuele
verpligtinge wat Aswane en Coldcor moontlik gehad het. As die feite sou aantoon
dat Aswane nie middellik
aanspreeklik was vir Louw se onregmatige daad nie sou
dit nie alleen vir Aswane van aanspreeklikheid onthef nie - die hof se
feitebevindinge
sou ook 'n antwoord kon bied op die
14
vraag of Isak Louw se optrede as kontrakbreuk tussen Coldcor en Hoogland
beskou kan word. Soos reeds aangedui is daar 'n botsing in
die getuienis oor wat
die ware feite in hierdie verband is, en dit is gepas dat ek ter aanvang iets
omtrent die getuies se geloofwaardigheid
sê.
Die geloofwaardigheid van die drie Albertse het in die gedrang gekom
veral na aanleiding van hul getuienis oor die omvang van Hoogland
se skade. Dit
is gemene saak dat daar hoeveelhede pakmateriaal en appels in die brand
vernietig is. By die bepaling van die werklike
omvang van hierdie skade het
Hoogland staatgemaak op 'n beweerde voorraadopname wat Andrè Alberts op 7
Desember 1988 (d w
s, kort voor die brand) sou gemaak het. In Andrè
Alberts se dagboek van 30 November 1988 verskyn daar 'n inskrywing "onthou
neem
stock - Pappa wil data hê". Hierdie inskrywing, het Andrè getuig,
het hy
15
gemaak toe Alberts Snr hom gevra het om 'n voorraadopname te maak. Die
resultaat van die voorraadopname, sê hy, verskyn in die
dagboek onder die
datum 7 Desember. Dit is nie nodig om hierdie inskrywing te herhaal nie. Dit gee
besonderhede oor 'n groot hoeveelheid
appels, 'n paar aartappels, en 'n klomp
pakmateriaal. Hierdie voorraad is, volgens Andrè se getuienis, in die
brand vernietig.
'n Groot deel van die verhoor is daaraan gewy om aan te toon dat hierdie
syfers bedrieglik was. Die getuienis oor hoe en hoekom hierdie
opname gedoen sou
word was op sigself botsend en ongeloofwaardig. Daarbenewens het Aswane daarin
geslaag om, wat die appels betref,
aan te toon deur verwysing na die totale oes,
die hoeveelhede wat aan kopers gelewer is, die verkoping van die oes in ander
jare,
e d m, dat die verlies nie naasteby so groot kon gewees het as
deur
16
Hoogland beweer nie. Ook wat die pakmateriaal betref was die beweerde
voorraadopname klaarblyklik vals. Afgesien weereens van die
intrinsieke gebreke
in die getuienis was daar objektiewe bewyse dat die syfers nie korrek kon wees
nie. So, byvoorbeeld, was daar
sekere tipes pakmateriaal wat in algemene gebruik
was en waarvan daar volgens Andrè Alberts meer in die brand vernietig was
as die totaal wat gedurende die vorige drie jaar aangekoop was. Dit is dus nie
verbasend dat die verhoorhof André Alberts
se getuienis oor die
voorraadopname verwerp het nie. Daar is nie namens Hoogland betoog dat die
verhoorhof hierdeur gefouteer het
nie. Die saak moet dus benader word op die
basis dat André Alberts 'n oneerlike getuie was wat valse getuienis
gelewer het
en dit probeer staaf het met bedrieglike inskrywings in sy
dagboek.
Van Johan Alberts het die hof a quo die volgende
17
gesê:
"Johan Alberts het nie 'n goeie indruk as getuie gemaak nie. Sy antwoorde
was dikwels vaag en ontwykend onder kruisverhoor en hy is
dikwels gedwing om
terug te gaan op wat hy aanvanklik beweer
het."
Een spesifieke aspek waaroor die hof
hom gekritiseer
het is sy samespanning met sy broer André in
hul
getuienis oor presies hoe die appelpalette gepak was
in
koelkamer 1 op 7 Desember 1988 terwyl hul nie
een
werklik kon onthou of geweet het wat die posisie
was
nie. Hierdie kritiek is m i geregverdig, en daar was
ook ander aspekte van sy getuienis wat nie aanvaarbaar
was
nie. Ek hoef egter nie verder hierop in te gaan
nie, aangesien die hof se beskouing oor Johan se
ongeloofwaardigheid ook nie voor ons aangeveg is nie.
Alberts Snr se geloofwaardigheid speel net
'n
geringe rol by die huidige geskilpunte en ek
behandel
dit later wanneer ek sy relevante getuienis bespreek.
18
Dit bring my dan terug by die feitegeskil m b t Isak Louw se werk op 12
Desember 1988. Die belangrikste getuies namens Aswane was
Swanepoel en Louw
self.
Swanepoel het getuig dat Aswane se werk, insluitende die
oprigting van die looplys in koelkamer 1, teen die einde van November 1986
voltooi is. Op 12 Desember het Aswane 'n faktuur aan Coldcor gestuur vir die
werk. Coldcor het nie die volle bedrag betaal nie omdat,
so is hy meegedeel,
Hoogland nie tevrede was nie en 'n deel van die kontraksprys teruggehou het. In
'n brief van 12 Mei 1987 van
Coldcor het Strydom uiteengesit watter foute toe
nog herstel moes word. Een was " 'Cat walks' moet verstewig word." Swanepoel het
nie geweet na watter looplyste verwys word en wat presies die klagte was nie. Op
27 Mei het hy die plaas Hoogland besoek. Daar het
hy Alberts Snr en sy twee
seuns aangetref. Alberts Snr het sekere klagtes
19
uitgewys wat nie nou ter sake is nie. Daarna het Alberts Snr saam met
Swanepoel en Johan na koelkamer 2 geloop. Swanepoel en Johan
het ingegaan. Johan
het gekla dat die vals plafon nie behoorlik vasgeheg was nie en gesê dat
die posisie in koelkamer 1 dieselfde
was. Wat die looplys in koelkamer 2 betref,
het Johan gekla dat die handrelings krom loop. Hy het geen klagte oor die
looplyste in
koelkamer 1 gehad nie, en hulle het nie koelkamer 1 op daardie dag
besoek nie. Daar is ooreengekom dat Swanepoel die werk sou kom
doen wanneer
Hoogland hom laat weet dat die koelkamers afgeskakel kon word.
Swanepoel het niks gehoor voordat hy weer 'n brief van Coldcor gedateer
18 Februarie 1988 gekry het nie. Daarin word hy versoek om
die uitstaande werk
te voltooi.
Swanepoel het Hoogland gebel om vas te stel dat
20
die koelkamers se verkoeling afgeskakel was en het vir Isak Louw op 29
April 1988 gestuur om die uitstaande werk te doen. Sy opdrag
was om die vals
plafonne in koelkamers 1 en 2 te heg en om die handreling van die looplys in
koelkamer 2 te verstewig. Hy het geen
opdrag t o v die looplys in koelkamer 1
gehad nie aangesien Swanepoel geen klagte daaroor ontvang het nie. By Louw se
terugkeer het
Louw aan Swanepoel verslag gedoen dat die relings van die looplys
in koelkamer 2 verstewig was, maar dat Hoogland nog nie tevrede
was nie
aangesien die looplys self onstabiel was. Louw het 'n metode aan Swanepoel
voorgestel om die looplys te verstewig en Swanepoel
het daarmee
saamgestem.
Teen Julie of Augustus 1988 het Strydom weer vir Swanepoel gebel om te
sê dat Hoogland steeds weier om te betaal tensy sekere
werk herstel is.
Swanepoel is plaas toe, en Alberts Snr het sy klagtes uitgewys. Dit
21
het nie betrekking gehad op die looplys in koelkamer 1 nie. Swanepoel het
vir Alberts Snr gesê dat daar ook nog werk in koelkamer
2 was (nl die
verstewiging van die looplys) maar dat Aswane nie kon werk tensy die verkoeling
afgeskakel word nie, en gevra dat Alberts
Snr hom moes laat weet wanneer dit kon
geskied. Hulle is op daardie noot uitmekaar.
Teen Desember 1988 het Aswane begin gretig word om die uitstaande gelde
te in. Op 8 Desember het Swanepoel en Louw na die plaas Hoogland
gegaan sodat
Swanepoel vir Louw kon wys wat nog gedoen moet word. Toevallig het hulle Johan
Alberts daar aangetref. Johan, Swanepoel
en Louw het deurgestap om vas te stel
hoe presies die uitstaande werk gedoen sou word. Swanepoel het toe verneem dat
Louw inderdaad
by sy vorige besoek nie die vals plafon in koelkamer 1 geheg het
nie. Daar was besluit dat Louw op 12 Desember sou kom, en dat die
22
verkoeling op daardie dag afgeskakel sou wees sodat hy in die twee
betrokke koelkamers kon werk. Gedurende hierdie besoek was daar
geen verwysing
na die looplys in koelkamer 1 nie.
Vir huidige doeleindes is die belangrike van Swanepoel se getuienis dat
hy nie bewus was van enige gebrek aan die looplys in koelkamer
1 nie, en dat
Louw nie op 12 Desember 1988 opdrag gehad het om enige werk aan hierdie looplys
te doen nie. Dit word bevestig deur
Louw. Volgens sy getuienis was sy enigste
opdrag m b t koelkamer 1 om die vals plafon beter te heg.
Op 12 Desember, kort na sy aankoms op die plaas, het Louw, volgens sy
getuienis, vir Andrè Alberts laat roep om die verkoeling
af te skakel.
Nadat dit gedoen was het Louw na koelkamer 1 gegaan om die vals plafon te heg.
Andrè Alberts het saamgestap
en voor hom by die katleer opgeklim. Toe
hulle bo kom het Andrè Alberts
23
hom aangesê om die regterkantse relings reg te maak. Hy het dit
gedoen op die wyse wat reeds hierbo beskryf is. Nadat hy klaar
was, het
Andrè Alberts weer kom kyk, en sy tevredenheid uitgespreek. Hulle het toe
na die linkerkantse relings gekyk. Daar
was die probleem, soos reeds gemeld, die
vashegting aan die verkoelingspyp. Louw het getuig dat hy nie hierdie vashegting
gedoen
het nie, dat die verkoelingspype inderdaad nog nie daar was toe hy die
looplys ingebou het nie, en dat die tipe werk klaarblyklik
nie deur enige
werknemer van Aswane gedoen is nie. Louw het aan Andrè Alberts gesê
dat die aanhegting nie deur Aswane
gedoen is nie, maar Andrè het hom
nogtans aangesê om die aanhegtings los te maak, hulle langer te maak en
dan weer vas
te heg. Andrè het vir hom gesê dit maak nie saak hoe
hy dit losmaak en weer vasheg nie, solank hy dit doen. Later, onder
kruisverhoor, het Louw gesê dat Andrè hom spesifiek
24
aangesê het om dit weer vas te sweis. Hoe dit ook al sy, Louw het
die buisies losgemaak, verleng, en weer begin vassweis, en
daardeur die brand
veroorsaak.
Om op te som, die getuienis namens Aswane behels die
volgende:
1. Voor 12 Desember 1988 was daar geen klagtes oor
die
looplys in koelkamer 1 nie. Louw het gevolglik geen
opdrag gehad om
aan daardie looplys te werk nie.
2.
Dit was nie
Aswane wat die looplys aan die verkoelingspype vasgeheg het nie, en nóg
Swanepoel nóg Louw was voor 12 Desember
1988 bewus van die
vashegting.
3.
Andrè
Alberts het Louw die opdrag gegee om die buisies waarmee die looplys vasgeheg
was, los te maak en weer vas te maak (of
selfs weer vas te
sweis).
Hoogland se getuienis verskil
heelwat van dié van Aswane. Andrè Alberts getuig dat Swanepoel 'n
slag op
25
die plaas was toe Alberts Snr en altwee seuns
teenwoordig
was. Dit kan moontlik die besoek van 27 Mei
1987 wees waarna Swanepoel verwys. Op daardie dag,
sê
André, is aan Swanepoel uitgewys dat die looplyste
in
albei koelkamers "pateties opgesit" was. "Hulle was
gemaak van yster wat pap was. Die handreling ...
was
heeltemal los gewees." Op 14 Maart 1988 het hy 'n brief
aan Coldcor geskryf waarin hy kla dat die werk nog
onvoltooid is. In die brief word gesê dat die foute ook
aan Swanepoel uitgewys is, maar dat niks verder aan die
saak gedoen is nie. Die beweerde foute word gelys, en
daaronder verskyn:
"Die 'catwalk' in beide koelkamers is van so 'n gehalte aangesit dat dit
nie deur ons goedgekeur kan word nie."
Terloops kan gemeld word dat Strydom ontken dat hy
hierdie brief ontvang het, en ek kom later hierop
terug.
26
Toe Louw op 12 Desember op die plaas gekom het, gaan André se
getuienis voort, het Louw gesê dat hulle aan die looplyste
kom werk, en
gevra dat die verkoeling in koelkamer 1 vir daardie doel afgeskakel word.
Koelkamer 2 se looplyste was reeds vantevore
ten volle herstel. Die werkers het
dan ook uit hul eie aan die looplys in koelkamer 1 begin werk. Later is
Andrê weer na die
koelkamer. Iemand was besig om op die stoor se vloer te
slyp en André het hom aangesê om dit buite te gaan doen.
Andrê
is toe op na Louw bo op die looplys. Die werkers was besig om aan
die regterkantse looplys te werk. Andrê het weer geloop.
Plus-minus
drie-uur se kant het hy weer gaan kyk. Die werkers was toe besig om ' n plan te
beraam om die reling los te kry van die
verkoelingspyp. Louw het vir
André gevra hoe hulle dit moes doen. André het geantwoord dat hy
nie vir hulle kon sê
hoe hulle hul werk moet doen nie, en het
27
bygevoeg: "Isak, net so lank jy nie sweis in die koelkamer nie, en ook
nie 'grind' in die koelkamer nie en ook nie met 'n 'cutting
torch' sny nie." Hy
het Louw 'n handsaag aangebied. Louw het gesê dat hy 'n kannetjie water en
'n nat lap het waarmee hy 'n
brand kon voorkom, maar Andrè het herhaal
dat hy verbied was om te sweis, te "grind" of met 'n "cutting torch" te werk.
Dit
was die derde keer wat hy hierdie waarskuwing herhaal het. In sy
hoofgetuienis was dit nie duidelik wanneer die tweede keer was nie,
maar hy het
onder kruisverhoor verder hierop uitgebrei. Toe hy afklim sien hy 'n werker
opklim met die drade van 'n sweisapparaat.
Andrê het hom uit die koelkamer
uitbeveel, en hom gesê dat hy reeds vir Louw opdrag gegee het om nie in
die koelkamer
te sweis nie.
Kort daarna het André 'n telefoonoproep van Alberts Snr ontvang
waarin hy gevra is na sy
28
voorraadopname van die appels. Hy het ook vir sy pa vertel dat Aswane se
mense daar was, en Alberts Snr het hom gemaan om toe te sien
dat daar nie in die
koelkamer gesweis word nie. Andrè het hom verseker dat hy reeds driekeer
vir Louw so 'n opdrag gegee het.
'n Rukkie daarna het die brand
uitgebreek.
Johan Alberts getuig oor Swanepoel se besoek in die middel van 1988. Hy
beaam dat hulle net by koelkamer 2 was, maar getuig dat hy
aan Swanepoel
gesê het dat die looplys in koelkamer 1 dieselfde gebreke gehad het as
dié in koelkamer 2, en dat Swanepoel
onderneem het om albei reg te
maak.
Alberts Snr beaam Andrè se getuienis dat hy 'n telefoonoproep op
12 Desember gemaak het hoewel daar 'n mate van verskil in
die besonderhede
is.
Aan die hand van die bogemelde getuienis het die verhoorhof die volgende
bevindinge gemaak:
29
(a) Die vashegting van die looplysreling aan
die
verkoelingspyp is nie deur Aswane of enige van
sy
werkers gedoen nie. Hierdie bevinding is nie voor
ons
aangeveg nie.
(b)
Nóg
Swanepoel nóg Louw het geweet van die koppeling vandie handreling met die
verkoelingstelsel toe Swanepoel vir Louw
op 12 Desember 1988 uitgestuur het om
op die plaas te gaan werk. Hierdie bevinding is ook nie aangeveg
nie.
(c)
Swanepoel se opdrag
aan Louw was gerig op werk aan koelkamer 2 se looplyste. Wat koelkamer 1 betref,
was sy opdrag slegs om aan die
vals plafon te werk, en nie die looplyste nie.
Hierdie bevinding was wel in
geskil.
(d) Die hof kon nie op 'n oorwig
van
waarskynlikhede bevind of Andrê Alberts aan Louw
opdrag
gegee het om die aanhegting af te sny en dan weer
aan
30
te heg nie. Beide getuies se weergawes hieromtrent is inherent ewe
waarskynlik en daar is geen omringende faktore wat die skaal beslissend
na een
of ander kant swaai nie. Andrè Alberts het egter nie spesifiek opdrag
gegee dat Louw moes sweis nie. Hierdie bevindings
van die hof a quo is deur
beide Hoogland en Aswane aangeveg.
Ek behandel vervolgens die
bevinding gemeld in paragraaf (c). Namens Hoogland is betoog dat die getuienis
van Andrè en Johan
Alberts oor hul klagtes t o v die looplys in koelkamer
1 aanvaar moet word en dié van Swanepoel en Louw verwerp moet word.
Die
Albertse se getuienis word, so is betoog, gestaaf deur 'n aantal faktore. Daar
is eerstens die brief van 14 Maart 1988 waarin
spesifiek verwys is na looplyste
"in beide koelkamers". Soos ek hierbo genoem het, ontken Strydom dat hy ooit die
brief ontvang het.
Die enigste
31
getuienis dat die brief gestuur was kom van Andrè. Hy het nie eers
'n afskrif daarvan gehad nie. Al wat hy kon sê is
"hy kom uit my
'computer' uit". Onder hierdie omstandighede is daar geen rede om Strydom se
getuienis in twyfel te trek nie. Afgesien
van die moontlikheid dat die brief
gewoon in die pos kon weggeraak het is dit ook moontlik dat Andrè hierdie
"brief" later
gefabriseer het. Gesien die manier waarop hy ander rekords vervals
het is dit maklik denkbaar.
Dan word verwys na 'n verklaring aan versekeraars deurene Burden, Aswane
se besturende direkteur, waarin aangedui word dat dit o m
Louw en sy span se
taak was om die looplys in koelkamer 1 te verstewig. Burden self het nie getuig
nie, en hy het duidelik geen direkte
kennis van die aangeleentheid gehad nie.
Daarbenewens was Swanepoel met vakansie toe hierdie verklaring gemaak was. Hoe
en waar Burden
onder hierdie indruk
32
gekom het, wat volgens Swanepoel verkeerd was, is nie duidelik nie. Die
verklaring verleen sekerlik 'n mate van stawing aan Hoogland
se saak maar onder
die omstandighede kan dit m i nie beslissend wees nie.
Verder maak
Hoogland staat op algemene waarskynlikhede. Dit is duidelik dat daar inderdaad
gebreke aan die looplys in koelkamer 1
was. Volgens Swanepoel is die Albertse
puntenerige, klaerige mense, en die getuienis staaf hierdie beskouing. Is dit
dan waarskynlik
dat hulle talle klagtes sou hê, onder meer oor die looplys
in koelkamer 2, maar niks sou rep oor die looplys in koelkamer 1,
wat ook
gebrekkig was nie? Hierdie is m i 'n gewigtige argument. Daarbenewens word tereg
betoog dat Swanepoel en Louw se getuienis
oor gebreke wat op 12 Desember nog in
die looplys in koelkamer 2 voorgekom het, en hul getuienis dat die vals plafon
in koelkamer
1 toe nog nie behoorlik geheg
33
was nie, ook sekere onwaarskynlikhede inhou.
Hoewel hierdie
faktore in ag geneem moet word by die opweging van die getuienis bied hulle m i
nie regverdiging om Swanepoel se getuienis
te verwerp ten gunste van dié
van die Albertse nie. Die verhoorhof het Swanepoel se getuienis in hierdie
verband aanvaar.
Benewens die bogemelde punte van kritiek skyn Swanepoel, op
skrif altans, 'n bevredigende getuie. Daarenteen was die Albertse, soos
ek reeds
aangetoon het, oor die algemeen ongeloofwaardig, en is daar ook, soos ek later
sal aantoon, ooglopende gebreke in hul getuienis
oor die gebeure op 12 Desember
1988. Dit is dus onmoontlik om die hof se aanvaarding van Swanepoel se getuienis
omver te werp, en
die saak moet m i op daardie grondslag beslis word.
Wat Louw betref, is sy getuienis op 'n hele paar aspekte gekritiseer. Ek
het reeds gewys op sy bewering,
34
vir die eerste keer in kruisverhoor gemaak, dat André Alberts hom
spesifiek aangesê het om die buise vas te sweis. Die
verhoorhof het
hierdie bewering tereg nie aanvaar nie. Daar was ook ander swakhede in sy
getuienis. So byvoorbeeld het hy gesê
dat hy nie die vals plafon in
koelkamer 1 kon klink nie omdat dit nat was. Selfs Swanepoel het toegegee dat
dit onsin was. Louw het
probeer ontken dat hy vir die brand verantwoordelik was,
klaarblyklik sonder redelike gronde. Sy getuienis oor die manier waarop
hy die
linkerkantse reling reggemaak het was anders in kruisverhoor as wat dit in
hoofverhoor was. 'n Mens moet dus versigtig wees
om Louw se getuienis goedsmoeds
te aanvaar.
Die vraag is dan: hoe weeg Hoogland se getuienis op teen dié van
Louw? André en Johan is bewese leuenaars. Daarbenewens
is André se
getuienis oor wat
35
presies op 12 Desember gebeur het verwarrend en onwaarskynlik. Hierbo het
ek sy getuienis in hoofverhoor uiteengesit. Onder kruisverhoor
het hy
moeilikheid ondervind om te verduidelik hoe en waarom hy soveel waarskuwings aan
Louw gerig het. Oor die algemeen klink sy
getuienis hieromtrent na minstens 'n
growwe oordrywing. Sy getuienis, asook dié van Alberts Snr, oor die
inhoud van laasgenoemde
se telefoonoproep, is ook onaanvaarbaar. Soos reeds
gemeld het die verhoorhof tereg bevind dat daar nooit 'n afspraak was dat
Andrè
'n voorraadopname sou doen nie. Dit volg dat die getuienis oor
hierdie oproep, wat na bewering met hierdie opname verband gehou het,
onmiddellik ongeloofwaardig is. Daarbenewens is daar verskeie teenstrydighede
tussen die getuienis van André en dié
van Alberts Snr.
Oor die opdrag wat Louw sê Andrè aan hom gegee
het
36
om die reling weer vas te heg, is Andrè se
getuienis
ewe onbevredigend. In 'n polisieverklaring gedateer
20
Desember 1988 sê Andrè onder meer (ek het 'n
paar
spelfoute gekorrigeer):
"Ek het toe vir hom (Louw) gesê dat hy die ou relings moet lossaag en
dat hy glad nie in die koelkamer moet sweis of sny met
'n vlam nie. Hy wou ook
weet hoe hy die nuwe reling moes vassit waarop ek hom meegedeel het dat hy dit
met boute of enige ander manier
behalwe as om te sweis." (My
beklemtoning).
Onder kruisverhoor is hierdie aspek ook
ondersoek.
Die oorkonde bevat o m die volgende:
"
MNR CARSTENS
: ... Ek wil by u weet toe u nou vir hulle voorgestel
het -dis nou vir Isak Louw - dat daar 'n ystersaag gebruik moet word om die
pype
los te kry en hy nou nie van u uitnodiging gebruik gemaak het nie, hoe het u
gedink sou hy die pype . . . vaskry? Sou hy die
pyp weer vaskry aan
die
'catwalk' nadat hy dit losgemaak het? Wel,
ek
het nie geweet of hy die pyp weer gaan vasmaak
nie.
Maar het u nie vir hom gesê hy moet die
pyp
weer vasmaak nie? Ek het geen instruksies vir
hulle gegee nie, absoluut niks.
Het hy nie vir u gevra hoe hy die pyp weer
gaan vaskry nie?
Nee, hy het net gevra hoe
37
moet hy die pyp weer loskry.
Is u seker?
Korrek.
Het u nie 'n suggestie gehad dat hulle
die
pyp moet vasmaak deur boute te gebruik nie?
Korrek.
O, ek dog u sê u het nie vir hom gesê hy
moet
die pyp vaskry en hy het nie gevra nie. Wat ek
vir hom gesê het, U Edele, is hy het vir my gevra hoe hy die pyp moet
loskry. Toe het ek vir hom daardie drie items [d w s,
die drie handelinge wat
verbode was in die koelkamer] genoem. Toe vra hy vir my maar - toe vra Isak Louw
vir my weer maar hoe moet
hy die pype los kry. Toe sê hy - toe sê ek
vir hom: 'Isak, jy kan met graagte my ystersaag kom leen, dan kan jy die pyp
los
saag. En hoe jy verder werk hierso, hoe jy dit gaan vasmaak met boute of moere,
maak my nie saak nie, jy moet jou eie werk klaarmaak.'"
(My
beklemtoning)
Hierdie passasie is nie alleen teenstrydig met
die
polisieverklaring nie, maar is ook
inherent
onbevredigend. Dit is bv onwaarskynlik dat Louw
aanhoudend sou vra hoe hy die pyp moet losmaak, en nie
sou probeer uitvind hoe hy dit weer moet vasmaak nie.
Dit is
verder onwaarskynlik dat Andrè ongevraag
voorstelle sou doen oor hoe die pyp weer vasgemaak moes
word, tensy natuurlik albei partye veronderstel het dat
38
dit inderdaad gedoen moes word, iets wat Andrê ontken. En die
voorstel dat die vashegting gedoen kon word met boute of moere
sonder om te
sweis klink vir my vergesog.
Ook die algemene waarskynlikhede staaf
Louw se weergawe. Hy het volgens Swanepoel se aanvaarde getuienis geen opdrag
van Aswane gehad
om hoegenaamd aan die betrokke looplys te werk nie. Dit spreek
dus feitlik vanself dat hy 'n opdrag van Andrê moes ontvang
het om die
looplys reg te maak. Die aanhegting van die reling is nie deur Louw gedoen toe
hy oorspronklik die looplys ingebou het
nie en hy het dit vir die eerste keer
daardie dag gesien. Dit was vir hom duidelik dat dit nie Aswane se werk was nie,
en daar was
geen rede hoekom hy ander mense se gebrou sou probeer regmaak nie.
Verder was daar geen praktiese manier waarop hy dit kon gedoen
het sonder om te
sweis nie. Dit klink
39
ondenkbaar dat hy op sy eie sonder opdrag van Andrè die werk sou
doen, en dan nog ook op 'n manier wat Andrè herhaaldelik
verbied het.
Watter moontlike rede sou daar hiervoor wees? En in hierdie verband is dit ook
ter sake dat, behalwe die werk wat Aswane
as sub-kontrakteur vir Coldcor gedoen
het, hy gedurende dieselfde tydperk ander werk op Hoogland in direkte opdrag van
die Albertse
gedoen het. Gesien die tipe mense waarmee 'n mens te doen het is
dit nie onwaarskynlik dat Andrè Alberts aan Isak Louw sou
wou
voorsê oor wat hy moet doen nie, en ook nie dat Louw na hom sou luister
nie.
Ek kan dus nie saamstem met die verhoorhof se bevinding wat ek hierbo as
(d) aangedui het nie. Myns insiens staaf die waarskynlikhede
Louw se getuienis
dat Andrè Alberts hom opdrag gegee het om die aanhegting los te sny en
weer vas te maak. Ek stem egter wel
saam
40
dat daar nie bewys is dat Andrê uitdruklik aan hom opdrag gegee het
om dit vas te sweis nie. Aan die ander kant glo ek nie dat
André hom
verbied het om te sweis nie, en meen ek trouens dat albei persone waarskynlik
aanvaar het dat daar gesweis sou word.
Dit was die metode wat vantevore gebruik
was en daar is niks om aan te dui dat daar 'n praktiese alternatief was nie. En
hoewel dit
klaarblyklik gevaarlik is om in so 'n koelkamer te sweis, toon die
getuienis duidelik dat met die bouwerk in 1986 tot 1987 al die
kontrakteurs, d w
s, Coldcor, Aswane en Grenco, in die koelkamer gesweis het. Dit was dus 'n
normale werkswyse en die probleem het
in die huidige geval ontstaan bloot omdat
behoorlike voorsorgmaatreëls nie teen brand getref was nie.
Ek mag net in die verbygaan byvoeg dat Hoogland as getuie ene Leon Louw
geroep het, wat getuig het dat
41
André Alberts hom in 1987 of 1988 vertel het dat 'n
mens nooit in 'n koelkamer sweis nie. Die
omstandighede
waaronder dit plaasgevind het was totaal anders as
dié
in die onderhawige geval. Die toelaatbaarheid van
hierdie getuienis is voor ons gedebatteer, maar myns
insiens is die relevantheid en gewig daarvan so gering
dat dit in alle geval geen verskil aan my
gevolgtrekking kan maak nie.
Ek kom nou by die vraag of Louw, op grond van
die
feite hierbo behandel, binne sy diensbestek
opgetree
het toe hy die brand gestig het. Die beginsels wat hier
van toepassing is, is al herhaaldelik deur hierdie hof
uiteengesit. Die tradisionele beginsels is onlangs weer
in Minister of Law and Order v Ngobo
[1992] ZASCA 172
;
1992 (4) SA 822
(A) bevestig en word kernagtig soos volg gestel deur
Kumleben AR op bl 827B:
"The critical consideration is ... whether the wrongdoer was engaged in the
affairs or business
42
of his employer. ... It has been consistently recognised and applied, though
- since it lacks exactitude - with difficulty when the
facts are close to the
borderline."
In die onderhawige geval was Louw 'n
werknemer van
Aswane en het hy in die loop van sy diens na
Hoogland
gegaan. Dit was nie deel van sy opdrag om die
looplys
in koelkamer 1 te herstel nie, maar as hy foute gevind
het in
Aswane se werk sou dit seker binne sy
werksbestek geval het om
sodanige foute reg te maak,
selfs al het hy nie 'n spesifieke opdrag daarvoor gehad
nie.
Die fout wat hy gevind het aan die linkerkantse
looplys was egter nie deur Aswane geskep nie. Iemand
anders het die reling aan die verkoelingspyp vasgeheg.
Louw was dus nie geroepe om enigiets daaromtrent te
doen nie. Volgens Swanepoel se onbetwiste getuienis was
Louw nie gemagtig of geregtig om foute reg te maak wat
deur ander mense veroorsaak is nie, veral nie waar daar
risiko's aan sodanige werk verbonde was nie. En, soos
43
ek hierbo bevind het, het Louw die werk gedoen, nie omdat hy beskou het
dat dit sy plig as werknemer van Aswane was nie, maar omdat
Andrè Alberts
hom aangesê het om dit te doen, volgens Louw, op 'n aggressiewe en
intimiderende manier. Louw het dus
nie as werknemer van Aswane opgetree nie. Hy
het 'n opdrag van Andrè Alberts uitgevoer wat hom buite sy pligte teenoor
Aswane
geneem het.
Die hof a quo het tot 'n ander gevolgtrekking gekom deur soos volg te
redeneer. Die losmaak van die reling het buite Louw se diensbestek
geval, maar
geen skade het daaruit voortgevloei nie. Nadat die reling losgemaak was moes dit
verstewig word, en hierdie onstewigheid
was as gevolg van swak werk wat
oorspronklik deur Aswane gedoen is. Louw het derhalwe as Aswane se werknemer
opgetree toe hy weer
die aanhegting vasgesweis het. Ek kan nie met
hierdie
44
beredenering saamstem nie veral gesien die wyse waarop die linkerkantste
reling verstewig is. Myns insiens is dit onrealisties om
te onderskei tussen die
losmaak en die vassweis van die buisies. Dit was glad nie binne Louw se
werksbestek om die brouwerk te probeer
regmaak nie. Beide die losmaak en die
vasmaak is gedoen in opdrag van Andrè Alberts, en geen werk sou aan
hierdie reling gedoen
gewees het as Andrè nie daarop aangedring het
nie.
Ek meen dus dat Louw nie binne sy diensbestek opgetree het toe hy aan die
linkerkantse deel van die looplys gewerk het nie. Dit volg
dus dat die
verhoorhof m i gefouteer het deur Aswane middellik aanspreeklik te hou vir Louw
se nalatige optrede.
Ook wat Coldcor betref is hierdie bevinding m i beslissend. Hoogland se
eis teen Coldcor word soos volg in die besonderhede van vordering
geformuleer.
Daar
45
word eers beweer dat die partye ooreengekom het dat Coldcor sekere
konstruksiewerk vir Hoogland sou verrig, waarby ingesluit is die
oprigting van
'n vals plafon met looplyste in koelkamer 1. Dan word beweer dat dit 'n
stilswyende term van hierdie ooreenkoms was
dat "die werk wat [Coldcor]
ingevolge daarvan moes uitvoer, behoorlik en sonder nalatigheid verrig word."
Die kontrakbreuk waarop
staatgemaak word is dat 'n werknemer van Aswane, wat as
subkontrakteur "sekere werk verrig het ter uitvoering van [Coldcor] se
verpligtinge
ingevolge die kontrak met [Hoogland], in die loop van die
uitvoering van sodanige werk nalatiglik veroorsaak het dat 'n brand in
een van
[Hoogland] se koelkamers ontstaan het". Ek sal veronderstel (anders as wat die
verhoorhof bevind het) dat daar wel 'n kontrak
tussen Hoogland en Coldcor was
vir die oprigting van die betrokke looplys. Die
46
bevinding hierbo beteken egter dat Louw m i nie besig was met die
uitvoering van werk ontstaande uit hierdie kontrak toe hy die brand
veroorsaak
het nie. Dit volg dus dat as daar so 'n kontrak was, Hoogland nie bewys het dat
Coldcor kontrakbreuk gepleeg het nie.
Dit bring my dan weer by die
petisies om kondonasie. Ek is nie van plan om breedvoerig op die feite in te
gaan nie. Hulle kan soos
volg opgesom word. Verlof om te appelleer is verleen op
16 Oktober 1991. Op 5 Desember het al die partye ooreengekom dat uitstel
verleen
word vir die indiening van die oorkonde tot 31 Maart 1992. Die twee appellante,
Hoogland en Aswane, het ooreengekom om saam
te werk met die voorbereiding van
die oorkonde. Daar is besluit dat Mnr van Zijl, Aswane se prokureur, die nodige
reëlings sou
tref en dat die koste gedeel sou word. Die koste van 'n rekord
voorberei deur die amptelike oorskrywers, Sneller
47
Opnames (Kaap) (Edms) Beperk ("Snellers"), sou aansienlik wees, en op 3
Januarie 1992 noem Hoogland se prokureur (Mnr Visagie) aan
van Zijl dat hy dit
miskien goedkoper elders sou kon laat doen. Teen Februarie het die pogings om
dit goedkoper te laat doen vrugteloos
geblyk. Visagie het Van Zijl toe versoek
om Snellers opdrag te gee om 'n rekord voor te berei.
Op 12 Maart
1992 skryf Coldcor se prokureur (Mnr Dower) aan Visagie dat hy verneem het dat
geen opdrag nog aan Snellers gegee is om
'n rekord voor te berei nie. Visagie
het met Van Zijl hieroor in aanraking gekom en op 23 Maart is die nodige opdrag
uiteindelik
gegee. Pogings om die partye (en veral Coldcor) se toestemming tot
verdere uitstel van die indiening te verkry het misluk. Op 22
April 1992 skryf
Visagie aan Dower dat hy beoog om binnekort 'n petisie om kondonasie te rig. Dit
was nadat Dower 'n hele paar
48
briewe oor die vertraging aan visagie geskryf het. Vir die doeleindes van
die petisie het Visagie probeer om 'n beëdigde verklaring
van Van Zijl te
kry, maar tevergeefs. Op 1 Junie 1992 skryf Visagie aan Van zijl dat Aswane nie
sekuriteit verskaf het nie en nie
die rekord betyds ingelewer het nie, en dat
Aswane se appèl verval het. Op 4 Junie beteken Hoogland 'n aansoek om
kondonasie
aan Coldcor. Dit was by wyse van kennisgewing van mosie. Op 14 Julie
is dieselfde aansoek by wyse van petisie beteken. In hierdie
aansoeke moes
Hoogland sonder Van Zijl se hulp klaarkom.
Intussen het die voorbereiding van die rekord voortgegaan, maar daar was
probleme met die verkryging en oortik van sommige van die
bewysstukke.
Vertragings is ook veroorsaak deur pogings van die partye om ooreen te kom oor
die weglating van sekere bewysstukke.
49
Op 4 Augustus 1992 is afskrifte van die oorkonde aan Coldcor se advokate
verskaf. Daar was egter heelwat gebreke in die oorkonde en
liassering daarvan is
vertraag deurdat Aswane nog nie sekuriteit verskaf het nie. Vroeg in September
1992 het die griffier geweier
om die oorkonde te aanvaar vanweë gebreke
daarin.
Op 28 April 1993 is 'n petisie om kondonasie deur Aswane aan
Hoogland beteken.
Verdere pogings is aangewend om die gebreke in die
oorkonde te herstel en op 27 Mei 1993 is die oorkonde geliasseer by die
griffiér
en deur haar aanvaar. Dower was egter steeds ontevrede oor
sekere aspekte daarvan, en in Desember 1994 is 'n verdere band geliasseer
saam
met 'n verdere petisie om kondonasie.
In September 1994 is daar verdere beëdigde verklarings namens Aswane
geliasseer. Hiervolgens blyk dit dat Van Zijl sedert Oktober
1991 onder
50
doktersbehandeling was weens simptome soos
slaaploosheid,
swak konsentrasie, moegheid en
spierswakheid. Na vele konsultasies en
laboratorium
ondersoeke het sy dokter in Februarie 1993
gediagnoseer
dat hy aan "chronic viral fatigue syndrome" ly.
Hierdie
toestand word as volg beskryf deur sy geneesheer, Dr P
J Louw:
"Chronic viral fatigue syndrome can be described as a chronic
immunologically mediated inflammatory process of the central nervous
system.
This condition causes mental and physical debility resulting in an inability to
perform normally and even to attend to minor
day to day
tasks."
Mnr J Rabie, wat destyds die senior vennoot van
Aswane
se prokureurs was, het getuig dat Van Zijl 'n ervare
prokureur was en dat hy vir Rabie beindruk het as 'n
ywerige en konsensieuse vennoot. Gedurende of omtrent
Mei 1992 het hy egter begin agterkom dat Van Zijl nie
altyd na wens optree nie, maar Van Zijl kon hom oortuig
dat daar geen ernstige probleme was nie. Die posisie
51
het versleg, maar Van Zijl het steeds volgehou dat hy sy werk onder
beheer het. Van Zi jl het ook te alle relevante tye 'n kandidaat
prokureur en
twee professionele assistente voltyds tot sy beskikking gehad.
Van
Zijl was vir die laaste gedeelte van Desember 1992 tot ongeveer 20 Januarie 1993
met vakansie. By sy terugkeer was dit duidelik
dat daar iets ernstigs met hom
skort. Rabie het toe ook vir die eerste keer bewus geword van Van Zijl se
siektetoestand en het Dr
Louw geskakel. Dr Louw het die toestand verduidelik, en
aanbeveel dat Van Zijl op siekteverlof gaan. Wesentlik het Van Zijl daarna
nie
weer vir Aswane se prokureurs gewerk nie.
Dit is op grond van bogenoemde feite dat die petisies om kondonasie
beslis moet word. Wat Hoogland betref, meen ek om die redes wat
ek hierbo gegee
het
52
dat sy petisies nie kan slaag nie omdat daar geen redelike vooruitsigte
op sukses op appèl is nie. Namens Coldcor is betoog
dat Hooglandgelas
moet word om koste op die skaal van prokureur en eie kliënt m b t die
aansoeke om kondonasie te betaal. Daar
was inderdaad aansienlike vertragings met
die indiening van die rekord. In 'n mate was dit veroorsaak deur Van Zijl se
toestand,
maar Hoogland se prokureurs kan nie vrygespreek word van versuim van
hul eie nie. Daarbenewens was dit altyd moontlik vir Visagie
om sy reëling
met Van Zijl te beëindig en self te sorg vir die voorbereiding en indiening
van die oorkonde. Na versigtige
oorweging meen ek egter dat Visagie se nalate
nie so ernstig was dat dit 'n bevel van prokureur-kliënt koste regverdig
nie.
Aswane se petisie om kondonasie is op 'n verskillende
grondslag. Ek meen dat Aswane se appèl op
53
meriete behoort te slaag. Die vraag is dus of die versuim so erg was dat
kondonasie geweier moet word ten spyte van die goeie vooruitsigte
op sukses.
Eerstens moet daarop gelet word dat die versuim te wyte is aan Aswane se
prokureurs, nie Aswane self nie. Aswane was steeds
begerig om die appél
voort te sit. Natuurlik, in gepaste omstandighede kan die versuim van 'n
litigant se prokureur daartoe
lei dat kondonasie geweier word selfs waar die
vooruitsigte op sukses goed is, maar dit sal slegs in besonder ernstige gevalle
gebeur.
In die onderhawige geval het Visagie en Van Zijl saamgewerk om die
rekord te laat voorberei, en was Visagie in staat vanweë
sy besondere
posisie as prokureur vir die ander appellant om 'n mate van beheer en invloed
oor die voorbereiding van die rekord uit
te oefen. Hy kon ook by Van Zijl se
vennote gaan kla het oor Van Zi j 1 se laksheid en dit sou miskien sy
onvermoë om sy werk
na
54
behore te doen, vroeër blootgestel het. 'n Mens kan verstaan dat
Visagie 'n mate van toeskietlikheid teenoor 'n kollega openbaar
het, maar dit is
'n faktor wat tog in aanmerking geneem kan word by die bepaling van Aswane se
blaamwaardigheid. Dit blyk nou dat
Van Zijl destyds nie gesond was nie. Vir hom
persoonlik is dit nie 'n verskoning nie. Hy behoort nie die taak te onderneem
het en
daarmee voortgegaan het as hy dit nie kon behartig nie. Dit verminder
egter wel die blaamwaardigheid van sy kliënt en vennote
wat die opdrag in
goeie trou in sy hande gelaat het. Onder al die omstandighede moet Aswane se
petisie om kondonasie na my mening
slaag.
Ten laaste is daar 'n kwessie van koste in die hof a quo. Daar sal onthou
word dat Hoogland se getuienis oor Andrê Alberts se
beweerde
voorraadopname verwerp is en dat die skadeberaming wat daarop gebaseer is dus
ook
55
nie deur die verhoorhof aanvaar is nie. Aswane het versoek dat Hoogland
derhalwe gelas moes word om een-derde van Aswane se koste
op die
prokureur-kliënt skaal te betaal. Die verhoorhof was nie bereid om 'n
prokureur-kliënt kostebevel te maak nie, maar
het gelas dat Hoogland die
koste van agt dae van die verhoor (wat die beraamde tyd was wat hierdie
geskilpunt in beslag geneem het)
betaal op die gewone party en party skaal.
Aangesien Aswane se appêl nou slaag sal Hoogland uiteraard al Aswane se
verhoorkoste
moet betaal, en die bevel met betrekking tot agt dae val dus weg.
Daar is egter weer betoog dat 'n kostebevel op die prokureur-kliënt
basis
aangewese is. Dit is geykte reg dat die verhoorhof 'n diskresie m b t koste
gehad het. Ek meen nie dat daar genoegsame redes
is om die uitoefening van sy
diskresie in hierdie geval omver te werp nie. Die volgende bevele word dus
uitgereik.
56
Hoogland Boerdery (Edms) Beperk teen Coldcor (Edms)
Beperk
Die petisionaris se petisies om kondonasie word afgewys met
koste, wat insluit die koste verbonde aan die appèl. Die koste
van twee
advokate word toegelaat. Aswanestaal (Edms) Beperk teen Hoogland Boerdery (Edms)
Beperk
1. Die petisionaris se petisie om kondonasie word
toegestaan.
Die petisionaris moet die koste van
opposisie betaal insluitende die
koste van twee
advokate.
2. Die appèl word gehandhaaf met koste,
insluitende
die koste van twee advokate. Die verhoorhof
se vonnis word tersyde
gestel en vervang met die
volgende:
Eiser se eis teen Tweede Verweerder word van die
57
hand gewys met koste, insluitende die koste van twee
advokate.
E M GROSSKOPF, AR
VIVIER, AR
VAN DEN HEEVER, AR HARMS, AR OLIVIER, AR Stem saam