About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 200
|
|
S v Mathonsi (694/91) [1992] ZASCA 200 (23 November 1992)
Saak Nr 694/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
RICHARD MATHONSI
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR, HOWIE, Wn AR
VERHOOR
: 3
November 1992
GELEWER
: 23 November 1992
UITSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling deur M J STRYDOM R en assessore skuldig
bevind op 'n aantal klagtes, insluitende
drie moordklagtes. Op elk van twee van
die moordklagtes is hy ter dood veroordeel. Hy kom nou in hoër beroep teen
die twee doodvonnisse.
Hoewel daar dus geen appèl teen die
skuldigbevindinge en vonnisse ten opsigte van die ander klagtes is nie, is dit
nodig om
die hele relaas van gebeure uiteen te sit omdat dit ter sake is by die
beoordeling van die vraag of die oplegging van die doodvonnisse
onder die
omstandighede gehandhaaf behoort te word. In die uiteensetting wat volg het ek
vryelik geleen uit die uitspraak van die
verhoorhof.
Op 3 Junie 1990 om ongeveer 16h00 het ene Victor Simango met sy werkgewer se
blou Toyota Hilux bakkie in Dobsonville gery. By die
kruising van Mphepheta- en
Mainstraat het hy by 'n stopteken stilgehou. Terwyl hy en sy passasier, Lucky,
gesels het en gewag het
vir verkeer om
3
verby te gaan, het twee mans hul bakkie genader. Een van hulle
het 'n vuurwapen op Simango gerig en sy ander hand deur die oop venster
van die
bestuurdersdeur gesit, die sleutel van die bakkie uitgehaal en vir Simango
beveel om uit te klim. Die ander man het vir Lucky
beveel om die bakkie te
verlaat. Die twee insittendes het uitgeklim en die twee rowers het in die bakkie
weggery. Die appellant was
een van die twee rowers. Hy is skuldig bevind op
hierdie klag (klag 1) aan roof met verswarende omstandighede en gevonnis tot
tien
jaar gevangenisstraf.
Die volgende insident het enkele minute ná die rooftog plaasgevind.
Ene Alpheus Malope het saam met 'n vriend, Isaac More,
in laasgenoemde se motor
in Mainstraat, Dobsonville, gery. By die kruising van Mainstraat en Robertweg
het hulle by 'n stopteken
stilgehou. Die blou Toyota bakkie wat die voorwerp van
die eerste klagte is, het langs hulle stilgehou. Die appellant, wat 'n passasier
in die bakkie was, het in kru taal vir Isaac More beskuldig dat
4
hy swak bestuur. More het uitgeklim, na die bakkie gegaan, en
wou van die appellant weet hoekom hy sê dat hy (More) swak bestuur.
Die
bestuurder van die voertuig het vir More aangesê om te "voertsek". More
het omgedraai en op pad terug na sy voertuig het
die appellant hom in sy rug
geskiet. Die skoot was noodlottig. Dit het vir Malope voorgekom dat die
appellant ook op hom wou skiet
en hy het agter die motor gaan skuiling soek. Die
bakkie het weggetrek. Ten opsigte van die moord op More (klag 2) is die
appellant
ter dood veroordeel.
Omtrent 'n uur na die moord op More (dws. omtrent 17h00) het die appellant
die moeder van David Ntoagae (die oorledene in die derde
klag) teengekom naby
haar huis in Dobsonville. Hy het 'n vuurwapen in sy hand gehad en vir haar
gesê dat hy nie weer met David
sou baklei nie. Hy het toe met die blou
bakkie weggery, gevolg deur 'n klompie vriende in 'n ander voertuig. Om ongeveer
19h30 is
David van sy huis af weg, en het ongeveer 20h00 by Foreman se
sjebien
5
aangekom. Daar het hy by vriende gesit. Die appellant was ook
in die sjebien. Later het David en die appellant albei die sjebien verlaat
en in
'n woordewisseling betrokke geraak. Die appellant het 'n vuurwapen uitgetrek en
David doodgeskiet. David het neergeval en die
appellant het weggehardloop. Ten
opsigte van hierdie klag (klag 3) is die appellant aan moord skuldig bevind en
gevonnis tot vyftien
jaar gevangenisstraf.
Die bogemelde drie misdrywe is aldrie op 2 Junie 1990 gepleeg. Die laaste
insident was amper vier maande later, op 23 September 1990.
Om ongeveer 20hl5 op
daardie dag het Magdeline Zwane en Lindiwe Shongwe (die oorledene in klag 4) na
'n stokvel in Dobsonville gegaan.
Gedurende die aand het 'n jong man by name
Bowa na Lindiwe gegaan en 'n versoek aan haar gerig. Sy het geweier, en Bowa het
haar
geklap. Lindiwe het begin huil. Die appellant het Lindiwe genader en gevra
hoekom sy huil. Sy het hom vertel dat Bowa haar geklap
het. Die appellant het na
Bowa gestap en hom
6
aangepraat. Lindiwe en Magdeline is daarna na 'n toilet. Die
appellant het hulle gevolg en vir Lindiwe uit die toilet na die straat
getrek.
Lindiwe het gehuil en geskree en die appellant het haar geslaan. Magdeline is
toe weg en langs pad het sy Lindiwe se kêrel,
Jabalani Mabunda, ontmoet en
hom vertel wat met Lindiwe gebeur het. Hy is toe na die stokvel waar hy Lindiwe
gekry het en haar na
haar huis toe geneem het. Terwyl hulle langs haar huis
gestaan en gesels het, het die appellant vanuit 'n skadukol in die nabyheid
'n
skoot op haar geskiet. Dit het haar long en hart gepenetreer. Sy het geval. Die
appellant het weggehardloop en agter in 'n motor
gespring wat weggery het.
Lindiwe is dood as gevolg van die skoot. Die appellant is skuldig bevind aan
haar moord en ter dood veroordeel.
Benewens die vier klagtes waarna ek hierbo verwys het, is die appellant
skuldig bevind aan oortredings van die Wet op Wapens en Ammunisie,
no. 75 van
1969, en gevonnis tot 'n totaal van 21 maande gevangenisstraf, wat gelas is om
saam
7
te loop met die vonnis van tien jaar gevangenisstraf wat t.o.v.
die eerste klag opgelê is. Daar is nie gelas dat die vonnisse
op klag 1 en
klag 3 moet saamloop nie, en die appellant is dus gevonnis tot 'n effektiewe
tydperk van 25 jaar gevangenisstraf benewens
die twee doodvonnisse.
Die indruk van 'n gewetenlose geweldenaar wat geskep word deur die gebeure
van Junie en September 1990 staan in kontras met die getuienis
omtrent die
appellant se lewensomstandighede en verlede. Ten tye van die gebeure was hy 24
jaar oud. Wat sy vorige veroordelings
betref, meld die verhoorregter in sy
uitspraak oor vonnis dat die appellant twee veroordelings het in 1983, een vir
huisbraak met
die opset om te steel en diefstal, en een vir diefstal. Dit is
miskien 'n onakkuraatheid aan die kant van die verhoorregter. Die
afskrif van
die SAP 69 wat in die rekord voorkom, toon net 'n veroordeling vir huisbraak en
diefstal, en die oorkonde toon ook duidelik
dat daar ná skuldigbevinding
net een vorige veroordeling teen die appellant bewys is. Hoe dit
8
ook al sy, ten tyde van die vorige veroordeling of veroordelings was die
appellant 17 jaar oud, en hy is gevonnis tot 6 houe met die
ligte rottang as
straf vir die oortreding of oortredings waaraan hy skuldig bevind is. Hy het dus
geen geskiedenis van geweldsmisdade
voor die huidige oortredings nie, en het as
volwassene glad nie met die gereg gebots nie. Hy het dus ook nog nooit
gevangenisstraf
ondergaan nie.
Volgens die getuienis het die appellant 'n suksesvolle besigheid bedryf deur
klere in Durban te koop en in die Transvaal te verkoop.
Hy het saam met 'n vrou
geleef ten opsigte van wie hy reeds gedeeltelik lobola betaal het. Hy het een
kind by haar. Dan het hy ook
'n kind uit 'n vroeëre verhouding. Hy het sy
onderhoudsverpligtings teenoor sy kinders nagekom.
By die bepaling van strafverswarende en -versagtende faktore is dit gerieflik
om eers elkeen van die twee klagtes ten opsigte waarvan
die doodvonnis
opgelê is.
9
apart te behandel. Wat klagte 2 betref (die moord op More)
lê die strafverswarende faktore voor die hand. Die moord was koelbloedig
en sonder provokasie. Die appellant het hoogs waarskynlik die direkte opset
gehad om te dood, maar selfs al sou 'n mens veronderstel
dat hy bloot met
dolus eventualis
opgetree het, is sy daad om die oorledene op 'n kort
afstand in die rug te skiet so roekeloos, en met so 'n hoë risiko dat dit
die dood kan veroorsaak, dat dit in morele laakbaarheid nie juis terugstaan vir
'n moord wat met direkte opset gepleeg is nie.
Mej. Havenga, wat namens die appellant verskyn het, het beklemtoon dat die
moord sonder voorbedagtheid en op die impuls van die oomblik
gepleeg is. Dit is
natuurlik waar, en behoorlike gewig moet aan hierdie faktor gegee word. Verder
het sy betoog dat die appellant
heel moontlik in woede opgetree het. Die
appellant het deurgaans ontken dat hy die daad gepleeg het, en ons het dus geen
getuienis
van sy kant oor wat hom daartoe beweeg het nie. Maar selfs al sou
'n
10
mens veronderstel dat hy kwaad was sou die waarde van sy toorn
as 'n strafversagtende faktor afhang van die gronde daarvoor. Redelose
woede kan
tog nie afdoen aan die erns van 'n moord nie. Indien die appellant in die
onderhawige geval woedend was, was dit as gevolg
van beweerde swak bestuur deur
More wat die appellant geen skade of besering veroorsaak het nie, en wat, sover
'n mens uit die rekord
kan vasstel, geen gevaar van skade of besering geskep het
nie. En die appellant het ook nie in die woede van die oomblik op More
geskiet
nie. Daar was 'n kort gesprek, en die skoot het gevolg toe More reeds op pad
terug na sy motor was. Ek meen dus nie dat die
appellant se woede, as dit
inderdaad bestaan het, 'n strafversagtende faktor was nie.
Dit bring my dan by klag 4, die moord op Lindiwe Shongwe. Hier weereens
lê die verswarende faktore voor die hand. Die appellant
het sonder enige
provokasie die oorledene op 'n kort afstand doodgeskiet. Oor die redes wat
hiertoe aanleiding gegee het, sê
die verhoorhof die
11
volgende:
"Dat jy moontlik kwaad geword het omdat Lindiwe nie positief op jou attensies
wou reageer nie, mag wel so wees. Jy het egter jou
attensies op haar afgedwing
deur haar eers uit die toilet na die straat te trek en haar dan aan te rand.
Daarna verloop 'n aansienlike
tyd tot op die stadium dat jy haar doodskiet. Haar
vriendin, Magdaline, stap eers na haar huis, loop Jabulani raak en vertel hom
wat gebeur het, daarna gaan hy na die smokkelkroeg waar hy Lindiwe vind en die
twee van hulle stap dan eers na Magdaline se huis
en daarna na Lindiwe se huis
wat 'n hele paar straatblokke van die smokkelkroeg geleë was. Terwyl
Jabulani en Lindiwe by laasvermelde
se huis staan en gesels, skiet jy haar
koelbloedig dood. Wanneer daar na die tydsverloop gekyk word is dit duidelik dat
jy oorgenoeg
tyd gehad het om jou frustrasie oor haar weiering van jou attensies
af te skud. Dít doen jy nie. Jy is in 'n motor na haar
huis waar jy
óf vir haar aankoms gewag het óf kort na haar aankoms gearriveer
het. Sonder veel seremonie skiet jy haar
een skoot deur die borskas, hardloop
van die toneel af weg, spring agter in 'n motor wat vir jou gewag het en ry weg.
Uit al die
gegewe en bewese feite kan daar slegs een afleiding gemaak word en
dit is dat jy na haar huis is om haar van kant te maak. Dit doen
jy dan ook op
koue en koelbloedige wyse en jaag van die toneel af
weg."
Voor ons is geargumenteer dat die verhoorhof
se
afleiding dat die appellant na die oorledene se huis gegaan
het met die oogmerk om haar van kant te maak, nie die enigste
12
moontlike afleiding uit die getuienis is nie. Dit is ook
redelik moontlik, so word betoog, dat die appellant na Lindiwe se huis is
om
weer haar guns te soek; dat hy toe vir Lindiwe sien praat het met 'n ander man,
en haar impulsief geskiet het. Daar is egter geen
getuienis om hierdie teorie te
staaf nie. Die appellant self het valslik ontken dat hy hoegenaamd by die moord
betrokke was. Uit
die staatsgetuienis is dit duidelik dat die appellant by
Lindiwe se huis geen poging aangewend het om toenadering te soek nie, maar
onmiddellik geskiet het.
Daar is aan die hand gedoen dat hy hiertoe beweeg kon gewees het deur
Jabulani se aanwesigheid. Dit is egter blote bespiegeling. Dit
volg nie uit die
getuienis of uit inherente waarskynlikhede nie. As die appellant bloot
toenadering wou soek, kon hy dit gedoen het
terwyl Jabulani teenwoordig was, of
kon hy gewag het tot Jabulani vertrek het, of kon hy weggegaan het en later
teruggekeer het.
In hierdie verband moet daarop gelet word dat daar nie ten
tyde
13
van die gebeure enige vehouding tussen die appellant
en
Lindiwe was nie. Magdeline Zwane het onder kruisverhoor soos
volg
hieroor getuig:
"En die beskuldigde sal ook sê dat Lindiwe was 'n vriendin van hom gewees.
— Nee, sy was nie beskuldigde se vrymeisie
gewees nie. Beskuldigde wou
gehad het dat sy moet sy vrymeisie word, maar sy het geweier en dit is lank
gelede. Nee maar die beskuldigde
sal sê dat sy sy vrymeisie was 'n ruk
vantevore, nie op daardie stadium nie, maar vroeër. —
Nee."
In sy getuienis het die appellant probeer te
kenne gee dat daar wel 'n verhouding tussen hom en Lindiwe was ten tyde van haar
dood.
In die lig van Magdeline se getuienis asook die weergawe wat aan haar
gestel is van wat die appellant se getuienis sou wees en sy
algemene
ongeloofwaardigheid, is hierdie getuienis van hom verwerplik. Daar was dus geen
rede hoekom dit hom tot moord sou dryf as
hy haar in die geselskap van 'n ander
man gesien het nie.
Kortom: die appellant het na Lindiwe se huis gegaan en haar onmiddellik na
haar aankoms doodgeskiet sonder om 'n woord te sê.
In die afwesigheid van
enige
14
verduideliking van hom is die enigste redelike afleiding dat
hy vir daardie doel soontoe gegaan het. (vgl.
S. v. Rama
1966(2) SA 395
(A) op bl. 400 H - 401 C en
S. v. Steynberg
1983(3) SA 140 (A) op bl. 146
F - 148 E). Ek stem dan ook saam met die verhoorhof dat dit 'n verswarende
faktor was dat die appellant
Lindiwe se dood vooraf beplan het.
As
versagtende faktor is daar aan die hand gedoen dat die appellant op die betrokke
aand drank gebruik het. Dit lyk moontlik, en selfs
waarskynlik, dat hy inderdaad
daardie aand gedrink het. Daar is egter niks om aan te dui dat die appellant se
drankinname 'n beduidende
rol by die moord gespeel het nie, en ek stem dus saam
met die verhoorhof dat die appellant se drankinname nie as 'n sterk versagtende
faktor in aanmerking geneem kan word nie.
Uit die voorgaande blyk dit dat by albei van die moorde waarvoor die
doodvonnisse opgelê is, die strafverswarende faktore heelwat
gewigtiger is
as die strafversagtende faktore. Saam hiermee moet dan ook oorweeg
15
word die appellant se agtergrond en persoonlikheid asook die
algemene gemeenskapsbelang, en die oogmerke van strafoplegging. Die appellant
is
nog 'n jong man, en vir alle praktiese doeleindes is hy 'n eerste oortreder. Sy
lewe vóór die gebeure wat aanleiding
gegee het tot die onderhawige
klagtes was, sover ons weet, sonder ernstige blaam. 'n Mens sou graag vir hom
die geleentheid wou gegee
het om te hervorm. Die moeilikheid is egter dat hy nie
skuldig is aan een moord nie, maar aan 'n rooftog en drie moorde, gepleeg
binne
'n tydperk van minder as vier maande, wat almal tot 'n meerdere of mindere mate
brutaal en koelbloedig was. Soos die hof
a quo
bevind het is hy 'n man
wat klaarblyklik nie skroom om dood te maak as hy nie sy sin kry nie. Dit lyk
vir my uiters twyfelagtig of
hy vatbaar vir rehabilitasie sou wees, maar in elk
geval meen ek dat die beskerming van die publiek die hoogste prioriteit moet
geniet
in hierdie saak. Ek het versigtig oorweeg of die publiek nie genoeg
beskerm sou word as die appellant lewenslange gevangenisstraf
opgelê
16
word nie. Ek meen egter dat die ongeërgde manier waarop
hierdie moorde gepleeg is so laakbaar is en so 'n gevaar van herhaling
inhou dat
die swaarste straf waarvoor die reg voorsiening maak, opgelê behoort te
word ten einde die publiek te beskerm, ander
van soortgelyke optrede af te
skrik, en uiting te gee aan die gemeenskap se afgryse.
Bygevolg word die appélle teen die doodvonnis op klagtes twee en vier
afgewys.
E M GROSSKOPF, AR
KUMLEBEN, AR
HOWIE, WnAR Stem saam