About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 199
|
|
S v Oack en 'n Ander (597/91) [1992] ZASCA 199 (23 November 1992)
SAAK NR 597/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
GARRET RODGER OACK
Appellant nr 1
RONALD DENNIS
SIMPSON
Appellant nr 2
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, EKSTEEN, VAN DEN HEEVER, ARR
VERHOOR
: 5 November 1992
GELEWER
: 23 November 1992
UI TSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Gedurende die aand van Kersfees 1989 het Romeo
Solomons, Vernon Joubert en 'n klompie ander mense by Romeo Solomons se motor
gesit
en musiek luister. Die motor was geparkeer voor Vernon Joubert se huis in
vickers Crescent, Reiger Park. Die twee appellante wat,
ten spyte van
verskillende vanne, broers is, het aangestap gekom. Toe hulle by die groepie
musiekliefhebbers kom, het daar 'n onderonsie
tussen die appellante en ene G-man
plaasgevind. Die eerste appellant het G-man 'n klap gegee. Romeo Solomons het
besluit om met sy
motor weg te ry ten einde, so het hy getuig, in 'n posisie te
kom om die motor in Vernon Joubert se perseel in te trek. Die twee
appellante
het intussen verder gestap. Romeo Solomons het in hulle rigting gery. Altwee
appellante was met vuurwapens gewapen, en
dit is gemene saak dat een of albei
van hulle op Romeo Solomons geskiet het. Volgens Romeo Solomons het een van die
skote hom skrams
getref. Na die skietery het die appellante hulle
3
uit die voete gemaak. Romeo Solomons het aangery om hulp te kry. Sy swaer,
Jacob Herwel (na wie ek as die oorledene sal verwys), was
'n polisieman. Romeo
Solomons het hom van die gebeure vertel, en hulle is saam terug na Vernon
Joubert se huis, waar hulle Romeo
Solomons se motor agtergelaat het. Daarvandaan
is hulle verder in 'n voertuig wat deur die oorledene bestuur is. Dit was 'n
ongemerkte
polisie-voertuig. Hulle het na die appellante gaan soek. Terwyl hulle
by 'n huis in Trunk Tree-straat, Reigerpark, navraag doen,
het hulle die
appellante sien aankom. Daar is 'n mate van geskil oor wat presies daar gebeur
het, maar dit is onbetwis dat albei
appellante op Romeo Solomons en die
oorledene geskiet het. Romeo Solomons en die oorledene het elk minstens vier
koeëlwonde
opgedoen. Romeo Solomons het die aanval oorleef maar die
oorledene het aan sy wonde beswyk.
Weens die gebeure wat ek hierbo opgesom het, het die twee appellante in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling
4
tereggestaan op 'n aantal klagtes. Na 'n verhoor voor LEVESON R en assessore
is hulle as volg skuldig bevind en gevonnis:
(a) Weens die skietery op Romeo Solomons in of naby Vickers Crescent is albei
skuldig bevind aan poging tot moord en gevonnis tot
10 jaar gevangenisstraf.
(b) Weens die doodskiet van die oorledene is albei skuldig bevind aan moord en
ter dood veroordeel.
(c) Weens die skietery op Romeo Solomons in Trunk Tree-weg is albei skuldig
bevind aan poging tot moord en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf,
wat egter
sou saamloop met die vonnis opgelê ten opsigte van die eerste poging tot
moord.
(d) Ten opsigte van mindere klagtes, t.w. die diefstal van die oorledene se
vuurwapen ná die skietery, en die onwettige besit
van vuurwapens en
ammunisie, is albei appellante gevonnis tot 'n totale tydperk van twee jaar
gevangenisstraf.
5
Benewens die doodvonnis is daar dus aan albei appellante effektiewe
gevangenisstraf van twaalf jaar opgelê.
Die appellante kom nou in
hoër beroep slegs teen die doodvonnisse op die moordklag.
Om te
beoordeel of die doodvonnis 'n gepaste vonnis onder die omstandighede was is dit
nodig om eers in te gaan op die voorafgaande
gebeure. Die appellante het getuig
dat die insident in Vickers Crescent begin het deurdat G-man die eerste
appellant met sy skouer
gestamp het. Nadat die eerste appellant hom geklap het,
het die twee appellante verder geloop, en toe 'n vloekery agter hulle gehoor.
Daarna het Romeo Solomons, volgens hulle, verskillende kere probeer om hulle met
sy motor om te ry, ten spyte van hulle pogings om
weg te kom. In noodweer het
hulle toe op Romeo Solomons geskiet.
Die appellante se weergawe is deur die verhoorhof verwerp, en dit is sekerlik
minstens erg oordrewe. Daar is
6
egter 'n paar fasette daarvan wat myns insiens redelik |
moontlik waar kan wees. Die staatsgetuies se getuienis oor hoe die twis
tussen die eerste appellant en G-man ontstaan het is baie
vaag. Dit lyk
onwaarskynlik dat die twee appellante sonder rede moeilikheid sou soek met 'n
groep vriende wat, volgens Vernon Joubert,
uit nege mense bestaan het. Dit lyk
dus minstens redelik moontlik dat dit inderdaad G-man was wat eerste opgetree
het. Dit is gemene
saak dat die appellante verder aangestap het nadat G-man
geklap was, en dat daar toe 'n oor-en-weer-vloekery was. Die skietery het
minstens drie huise verder plaasgevind. Romeo Solomons het getuig dat dit nodig
vir hom was om daar te ry omdat hy verder voor wou
draai sodat hy in die regte
rigting kon beweeg om by die erf in te ry. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik
dat Romeo Solomons met
die motor in die appellante se rigting gery het. Vernon
Joubert sê dat nadat die appellante geskiet het, Romeo Solomons met
sy
voertuig "na hulle rigting gedraai", "na hulle gemik", het terwyl hulle
7
agter 'n bakkie geskuil het. Die appellante sê dit het gebeur voordat
hulle geskiet het, en Romeo Solomons sê dit het
glad nie gebeur nie. Die
verhoorhof het nie ingegaan op hierdie verskil in die weergawes van Romeo
Solomons en Vernon Joubert nie.
Daar is geen rede hoekom Vernon Joubert sou lieg
nie, en 'n mens moet dus aanvaar dat Romeo Solomons minstens die indruk kon
geskep
het dat hy die twee appellante wou omry, en dat hulle in 'n stadium agter
'n motorvoertuig skuiling gesoek het. Dit kan ook gemeld
word dat, volgens
Vernon Joubert, sommige lede van hul groep na die toneel van die gebeure
gehardloop het toe hulle die skote gehoor
het. Gesien van die appellante se
perspektief kon hulle wel die indruk gekry het dat hulle bedreig word deur die
groep wat buite
Vernon Joubert se huis gestaan het.
Om op te som: dit is redelik moontlik dat toe die twee appellante verby die
groep gestap het, G-man skoor gesoek het, dat die eerste
appellant hom geklap
het, dat die twee appellante aangestap het, dat daar 'n oor-en-weer-
8
vloekery was, dat Romeo Solomons in sy motor geklim het en agter die
appellante aangery het, dat hulle moeilikheid van hom verwag
het, dat hy
inderdaad hulle probeer omry het, of dat hulle gedink het hy probeer dit doen,
dat hulle op hom geskiet het (hetsy voor,
hetsy ná sy werklike of
vermeende poging om hulle om te ry) en dat hulle toe weggekom het. Die volgende
belangrike insident
was toe Romeo Solomons en die oorledene in Trunk Tree-straat
na die appellante aanry, stilhou, en uit die motor klim. Dit is gemene
saak dat
die oorledene in private drag was, en dat die motor nie polisiekentekens gehad
het nie. Daar is geen rede om die appellante
se getuienis te verwerp dat hulle
nie geweet het dat die oorledene 'n polisieman was nie. Hulle kon dus
redelikewyse gedink het dat
Romeo Solómons versterkings gaan haal het en
van plan was om sy aanval voort te sit of om vergelding te soek vir die skote
wat op hom geskiet was. Natuurlik, dit sou nie regverdiging bied om eenvoudig op
Romeo Solomons en die oorledene los te brand
9
nie, maar hierdie agtergrond kan myns insiens wel as 'n strafversagtende
faktor aangemerk word.
Dit bring my dan by die gebeure in Trunk Tree-straat. Volgens Romeo Solomons
het die oorledene by 'n huis gaan navraag doen. Hy het
daar met 'n vrou gepraat.
Romeo Solomons het in die motor bly sit. Die oorledene het teruggekom, en toe
sien Romeo Solomons die twee
appellante van agter aankom. Die oorledene het in
die motor geklim en agteruitgery na die appellante toe. Hy het by hulle
stilgehou,
uitgeklim, en om die motor gestap. Sonder dat 'n woord gesê is,
het die appellante losgebrand. Die eerste appellant het die
oorledene geskiet,
en die tweede appellant die klaer, Romeo Solomons. Daarna is nog 'n hele paar
skote geskiet, maar Romeo Solomons
kon nie die presiese getal gee nie. Volgens
die mediese getuienis het die oorledene vier skietwonde opgedoen en Romeo
Solomons ook
minstens vier. Die appellante het daarna weggehardloop.
Uit die hof se uitsprake op skuldigbevinding en
10
vonnis is dit duidelik dat Romeo Solomons se weergawe van die gebeure
aanvaar, en die van die appellante verwerp is. Daar is geen
grondige redes
aangevoer waarom hierdie bevinding nie gehandhaaf sou word nie. Dit is dus nie
nodig om die appellante se weergawes
in besonderheid uiteen te sit nie.
Volledigheidshalwe noem ek dit tog kortliks. Dit kom daarop neer dat Romeo
Solomons en die oorledene
albei uit die motor geklim het, dat daar 'n
woordewisseling tussen die oorledene en die appellante was, dat die appellante
gesien
het dat die oorledene bewapen was en nie besef het dat hy 'n polisieman
was nie, dat hy geskiet was in noodweer, dat Romeo Solomons
toe in die motor
ingeklim het en dat hy geskiet was omdat die appellante gevrees het dat hy weer
sou probeer om hulle om te ry. Selfs
teen hierdie agtergrond is dit insiggewend
om te let op hoe die skietery volgens die appellante verloop het. Volgens die
appellante
het nr 2 die eerste skoot op die oorledene geskiet. Die oorledene het
op sy maag geval. Nr 2 het 'n skoot in die rug van die oorledene
geskiet. Nr 2
het
11
toe twee skote op Romeo Solomons geskiet. Daarna het nr 1 ook na Solomons
geskiet. Nr 2 het 'n derde skoot na die oorledene geskiet.
Volgens hom was die
oorledene in 'n half-sittende posisie. Daar moet gelet word dat die twee
appellante net van drie skote op die
oorledene praat, terwyl die mediese
getuienis dit duidelik maak dat hy vierkeer raakgeskiet was. Hoe dit ook al sy,
selfs op die
appellante se weergawe was die oorledene reeds deur die eerste
skoot neergevel, en sou hulle hom op daardie stadium maklik kon ontwapen.
Daar
kan dus geen twyfel wees dat die daaropvolgende skote op albei weergawes
heeltemal onnodig was nie. Daarbenewens getuig hierdie
verdere skote
ondubbelsinnig van 'n direkte opset om te dood. Die manier waarop die oorledene
gedood was, en die gesindheid waarmee
dit gedoen is, was dus na my mening tereg
deur die verhoorhof as verswarende faktore aangemerk.
Dit bring my dan by die appellante se persoonlike omstandighede. Die eerste
appellant was ten tyde van die
12
gebeure 27 jaar oud en 'n eerste oortreder. Dit is 'n sterk versagtende
faktor. Dit wil blyk dat hy waarskynlik (of, minstens, heel
moontlik) nie 'n
geneigdheid tot geweld het nie. Weliswaar het hy met 'n gelaaide,
ongelisensieerde vuurwapen rondgeloop, maar 'n
mens kan 'n mate van begrip
hê vir sy verduideliking dat Reiger Park 'n area is waar geweld hoogty
vier, dat hy 'n vuurwapen
vir beskerming nodig het, en dat die verkryging van 'n
lisensie moeilik en tydrowend is. Ten opsigte van die eerste appellant kan
ook
gesê word dat sy ouer broer, wat 'n oud-polisieman was, by elke
geleentheid waar daar geskiet was, die voortou geneem het,
en dat die eerste
appellant moontlik meegesleur is deur die gebeure. Weliswaar het Romeo Solomons
gesê dat die eerste appellant
die eerste skoot op die oorledene geskiet
het, maar die twee appellante sê albei dat dit die tweede appellant was.
Daar is
geen klaarblyklike rede waarom hulle hieromtrent sou lieg nie, en dit is
iets waaroor Romeo Solomons moontlik 'n fout kon maak. Ek
dink dus dat die
eerste appellant hier die
13
voordeel van die twyfel moet kry.
Die tweede appellant was ten tye van die
verhoor 31 jaar oud. Hy was 'n oud-polisieman. Hy het 'n paar vorige
veroordelings, insluitende
vonnisse vir aanranding met 'n gebalde vuis (waarvoor
hy berispe en ontslaan is); diefstal (6 maande opgeskorte gevangenisstraf)
en
die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie (R800 boete of alternatiewe
gevangenisstraf en nege maande opgeskorte gevangenisstraf).
Hy het dus ook nie
'n geskiedenis van beduidende geweld nie. As 'n mens in sy guns veronderstel -
daar is nie getuienis hieroor nie
- dat hy die boete t.o.v. sy laaste vorige
veroordeling betaal het, het hy ook nog nie gevangenisstraf ondergaan nie.
Ek gaan nou oor na die finale vraag, t.w., of die doodstraf die enigste
gepaste straf onder die omstandighede van hierdie saak is.
Mnr. Stander, wat
namens die Staat opgetree het, het in hierdie hof en in die hof
a quo
aanvaar dat dit nie die geval is by die eerste appellant nie. Ek
14
stem hiermee saam. Soos reeds gemeld, hy is 'n eerste oortreder, en was
moontlik beïnvloed deur sy ouer broer, 'n oud-konstabel,
wat deurgaans die
voortou geneem het. Hierdie faktore geld natuurlik nie vir die tweede appellant
nie -trouens hulle neig om teen
hom te tel. In sy geval sal 'n mens se beskouing
oor die gepastheid van die doodvonnis tot 'n groot mate afhang van die erns
waarmee
die moord self bejeën word. Moord is altyd 'n verfoeilike daad, en
in hierdie geval is dit vererger deur die aanwesigheid van
dolus
directus
. Aan die ander kant, soos ek hierbo aangedui het, was daar 'n
aanloop tot die moord, en dit is minstens redelik moontlik dat dit
nie die
appellante was wat die moeilikheid begin het nie. Hulle het dan ook klaarblyklik
nie die aanval op die oorledene beplan nie.
Waar die tweede appellant nie 'n man
is met 'n geskiedenis van geweld nie, meen ek dat ook wat hom betref hierdie nie
'n geval is
wat die doodvonnis verg nie.
Weens die verskil in omstandighede tussen die twee
15
appellante meen ek dat daar ook 'n verskil in die vonnisse moet wees.
Bygevolg word die volgende bevel uitgereik.
(a) Die appèl slaag en die doodvonnisse op albei
appellante word
tersyde gestel.
(b) Die vonnisse van die hof
a quo
ten opsigte van die
moordklag
(klagte 2) word met die volgende
vervang.
(i) Die
eerste appellant word gevonnis tot vyftien (15) jaar gevangenisstraf.
(ii) Die tweede appellant word gevonnis tot vyf-en-twintig (25) jaar
gevangenisstraf. (iii) Die gevangenisstraf opgelê in paragrawe
(i) en (ii)
hierbo sal saamloop met die tydperke van gevangenisstraf wat opgelê is op
klagtes 1 en 3, en die aanvang van die
gemelde gevangenisstraf word terugdateer
na 15 Oktober 1991, die datum waarop vonnis uitgespreek is in die hof
a
quo
.
16
E M GROSSKOPF, AR
EKSTEEN, AR VAN DEN HEEVER,AR Stem saam