About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 148
|
|
S v Motaung and Others (99/91, 209/91, 317/91, 341/91) [1992] ZASCA 148 (17 September 1992)
1
/MC
Saak Nr 99/91, 209/91, 317/91, 341/91.
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPeLAFDELING)
Tussen:
DANIëL MALEKE MOTAUNG
Eerste
Appellant
ISAAC TEBOHO SETAI
Tweede Appellant
JOSEPH SANCHO
LEPHALO
Derde Appellant
NEO DANIeL KHEO
Vierde Appellant
- en -
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
VAN HEERDEN, VIVIER ARR et VAN COLLER
Wnd AR.
VERHOOR:
1 September 1992. GELEWER: 17 September 1992.
UITSPRAAK
VIVIER AR.
2
VIVIER AR:
Die vier appellante, na wie ek as beskuldigdes 1, 2, 3
en 4 onderskeidelik sal verwys, is in die Oos- en Suid-Oostelike Rondgaande
Plaaslike Afdeling op Nelspruit deur CURLEWIS R en assessore aan moord (aanklag
1) en roof met verswarende omstandighede (aanklag
2) skuldig bevind. Beskuldigde
4 is verder skuldig bevind op drie aanklagte van poging tot moord (aanklagte 3,
4 en 5) en hy en beskuldigde
1 is elk skuldig bevind aan die onwettige besit van
h vuurwapen en ammunisie (aanklagte 6 en 7 in die geval van beskuldigde 1 en
aanklagte 8 en 9 in die geval van beskuldigde 4). Op die aanklag van moord is al
vier die beskuldigdes ter dood veroordeel. Al vier
is op die roofaanklag tot
tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Beskuldigde 4 is op elkeen van die drie
aanklagte van poging tot moord
tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis
3
en daar is gelas dat hierdie vonnisse saam uitgedien word. Beskuldigdes 1 en
4 is elk tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis vir die
onwettige besit van 'n
vuurwapen en ammunisie. Beskuldigde 1 appelleer na hierdie Hof slegs teen die
doodvonnis wat hom op aanklag
1 opgelê is. Beskuldigdes 2, 3 en 4
appelleer teen beide die skuldigbevindings en vonnisse op aanklag 1.
Al die
aanklagte spruit uit 'n gewapende roof op h kafee-eienaar van Witrivier,
Christodoulos Tsangaris, ("die oorledene") op Saterdagaand
1 April 1989. Volgens
Johannes Wallace, wat destyds 'n skolier was en in die kafee gehelp het, het
vier Swart mans ongeveer sewe-uur
die betrokke aand die oorledene se kafee in
Kruger Parkstraat, Witrivier, binnegekom. Een van hulle het 'n vuurwapen op
Wallace gerig
en hom beveel om agter die toonbank by 'n punt verste vanaf
die
4
ingang van die kafee te gaan staan. Die man het voor Wallace kom staan met
die vuurwapen in sy hand. Een van die ander het voor die
oorledene, wat agter
die kasregister by die ingang van die kafee was, gaan staan en 'n vuurwapen op
hom gerig, terwyl 'n derde langs
die oorledene gaan staan en die geld uit die
kasregister in twee geldsakke gegooi het. Toe hierdie persoon afbuk na die kluis
het
hy aan die oorledene gestamp. Die oorledene het hom van agter gegryp en by
'n deurtjie in die toonbank probeer uitstoot. 'n Skoot
is afgevuur wat die
oorledene skuins van agter in die rug getref en albei longe en die dalende aorta
geraak het. Hy het op die plek
inmekaargesak en gesterf. Volgens Wallace het al
vier rowers toe gelyk weggehardloop. Hy het later by 'n uitkenningsparade vir
beskuldigde
1 uitgewys as een van die rowers maar hy kon nie sê wat
laasgenoemde presies gedoen het nie.
5
Terwyl die rooftog aan die gang was, of kort tevore, het 'n groep
polisiemanne op 'n deurreis toevallig op Witrivier aangekom. Hulle
was lede van
'n onluste-eenheid wat dié middag op 'n nabygeleë dorp rugby gespeel
het en het in hul Casspir-voertuig
op die hoek van Kruger Parkstraat en Theo
Kleynhansstraat, noord van die oorledene se kafee, stilgehou om onder andere
verversings
te koop. Een van die polisiemanne, konstabel Smit, was in 'n kafee
skuins oorkant die oorledene se kafee toe hy 'n geweerskoot hoor.
Hy het dadelik
uitgekom en drie Swart mans buite voor die oorledene se kafee gesien terwyl 'n
vierde binne die kafee in die deur
gestaan het. Die groepie van drie het in
Kruger Parkstraat in die rigting van die Casspir gehardloop waar 'n aantal
polisiemanne
staan en gesels het. Een van die voortvlugtiges, wat 'n geldsak en
'n CZ 7,65 kaliber pistool no 341694 by hom gehad het, is
6
voorgekeer en gearresteer. Hy is beskuldigde 1. Die ander twee voortvlugtiges
wat in die rigting van die Casspir gehardloop het, het
verby die groepie
polisiemanne wat daar gestaan het, gehardloop en is deur sommige van hulle
agternagesit. Sersant Van der Schyff
was besig om die twee voortvlugtiges in te
haal toe een van hulle omdraai en hom trompop platskiet. Twee verdere skote is
op twee
ander polisiemanne gevuur. Een van die twee voortvlugtiges is gevang
maar die ander een het weggekom. Die een wat gevang is, het
'n skietwond in sy
been gehad. Hy is beskuldigde 2. Die onbetwiste getuienis was dat die
polisiemanne slegs een vuurwapen onder hulle
gehad het wat nie afgevuur is nie.
Dit moet gevolglik aanvaar word, meen ek, dat beskuldigde 2 deur sy makker
raakgeskiet is toe
laasgenoemde op die agtervolgende polisiemanne gevuur
het.
7
Mnr Andries van Dyk het getuig dat hy ongeveer half-agt die betrokke aand in
sy kafee was, wat suid van die oorledene se kafee in
Kruger Parkstraat
geleë is, toe hy 'n geweerskoot hoor. Hy het dadelik uitgegaan en h Swart
man by die oorledene se kafee sien
uitkom en in sy rigting hardloop. Hy en sy
seun het die man gevang nadat hy van hulle probeer wegkom en inderdaad
losgebreek het
uit die greep waarin sy seun die man gehad het. Hulle het die man
aan die polisie oorhandig. Die man is beskuldigde 3.
Beskuldigde 4 is eers op
2 Junie 1989 gearresteer. Speurder-konstabel Mhlani het getuig dat beskuldigde 4
daarna vir hom na 'n huis
op 'n plaas naby Marquard geneem het waar hy na die
rooftog gewoon het. In die huis het hy 'n CZ 7,65 kaliber pistool, no 658692
gevind waar dit onder in 'n bad versteek was. Ballistiese toetse het later
getoon dat twee
8
patroondoppies, een wat naby die gewonde sersant Van der Schyff opgetel is en
die ander wat gevind is in die oorledene se kafee naby
die plek waar hy geskiet
is, beide afgevuur is deur die pistool wat in beskuldigde 4 se huis gevind is.
Dit was gevolglik nie in
geskil dat die oorledene met hierdie pistool geskiet is
nie.
Uit die oorkonde van die pleitverrigtinge ingevolge art 119 van Wet 51
van 1977, wat sonder beswaar daarteen by die verhoor namens
die Staat ingehandig
is, blyk dit dat slegs beskuldigdes 1, 2 en
3 aanvanklik verskyn het en dat
hulle
pleitverduidelikings afgehandel is voordat beskuldigde
4 gevoeg is.
By laasgenoemde se pleitverduideliking
daarna op 7 Julie 1989 is hy deur 'n
prokureur, mnr Du
Plessis, bygestaan wat die hof meegedeel het
dat
beskuldigde 4 se verweer op die aanklag van moord was
dat hy nie die
opset om te dood gehad het nie. Die
9 oorkonde lees verder onder andere as
volg:
"Klagte 1: Beskuldigde 1 erken dat hy wel 'n skoot gevuur het wat per ongeluk
afgegaan het sonder om die bedoeling te hê om
te skiet. Dit was die skoot
wat die oorledene getref het ....
Mnr du Plessis - erkennings kan so aangeteken word. Beskuldigde bevestig
dit."
Dit is duidelik dat die verwysing in die
aangehaalde gedeelte na beskuldigde 4 en nie na beskuldigde 1 is nie. Slegs
beskuldigde 4
se pleitverduideliking was op daardie stadium ter sprake en uit
wat sy prokureur vooraf en daarna aan die hof gesê het, is
dit duidelik
dat dit sý erkenning was wat die Landdros hier genotuleer het. In sy
getuienis by die verhoor het beskuldigde
4 ook inderdaad erken dat hy in 'n
verklaring wat hy aan 'n Landdros op 23 Junie 1989 gemaak het (wat nie deur die
Staat by die verhoor
10
as getuienis aangebied is nie) sowel as in sy pleitverduideliking op 7 Julie
1989 erken het dat hy die persoon was wat die oorledene
geskiet het. Sy
getuienis was dat hy deur die ondersoekbeampte, sersant De Kock, gedwing is om
die erkenning te maak, dat De Kock
hom voorgesê het wat om te sê en
dat hy in der waarheid glad nie 'n vuurwapen hanteer het op die betrokke dag
nie.
By die verhoor het die Staat getuienis aangebied betreffende sekere
uitwysings en gepaardgaande mededelings deur beskuldigde 2 aan
luitenant Van der
Merwe. Na 'n binneverhoor het die Hof a quo beslis dat die uitwysings en
mededelings vrywillig en sonder beïnvloeding
gemaak en gevolglik
toelaatbaar was. Beskuldigde 2 se getuienis by die binneverhoor was dat hy
vooraf deur sersant Mnisi aangerand
is. Mnisi is egter voor die verhoor
oorlede
11
en sy getuienis kon nie bekom word nie. Volgens Van der Merwe het beskuldigde
2 aan hom die oorledene se kafee uitgewys as "die plek
waar ons die roof getrek
het". Die Verhoorhof het beskuldigde 2 se getuienis by die binneverhoor as
leuenagtig verwerp.
Al vier beskuldigdes het in hul eie verdediging by die
verhoor getuig. Oor hoe dit gekom het dat hulle die betrokke aand op Witrivier
beland het, was beskuldigdes 1, 2 en 3 se weergawe dat beskuldigde 4 hulle die
vorige dag genooi het om saam met hom vanaf Tokoza
naby Alberton aan die
Oos-Rand na sy suster in Daveyton te ry om daar te gaan kuier. Daar aangekom,
het beskuldigde 4 hulle meegedeel
dat hy 'n vriend van hom, ene Johannes, na
laasgenoemde se huis in Thulamahashe in die Oos-Transvaal moes neem en dat hulle
ook kon
saamry. Hulle het die Vrydagaand in Johannes se huis in
12
Thulamahashe geslaap en die vyf van hulle was die betrokke aand op pad terug
na Tokoza toe hulle by Witrivier stop om kos te koop.
Hulle het hul voertuig in
William Lynnstraat wat aan die suidekant van Theo Kleynhansstraat en parallel
daarmee loop, geparkeer en
beskuldigdes 1 en 4, later gevolg deur beskuldigdes
2, 3 en Johannes, is na die oorledene se kafee. Beskuldigde 2 is kort daarna
uit
die kafee om 'n telefoonoproep te maak. Wat die verdere .gebeure betref, het
beskuldigde 1 getuig dat, terwyl hyself eenkant
gestaan het,
beskuldigdes
3, 4 en Johannes in 'n argument met
die oorledene betrokke geraak het. Beskuldigde 4 het toe 'n vuurwapen op die
oorledene gerig
terwyl Johannes 'n vuurwapen op Wallace gerig het. Beskuldigde 4
het daarna sy vuurwapen op beskuldigde 3 gerig en hom beveel om
geld by die
oorledene te neem. Toe beskuldigde 3 sy hand uitsteek het die oorledene sy
13
arm gegryp. 'n Skoot het geklap en die oorledene en beskuldigde 3 het albei
geval. Beskuldigde 1 het verder getuig dat hy weggekruip
het en dat toe hy later
uitkom, die plek verlate was. Buite het hy die polisie se Casspir gesien en hy
was daarheen op pad om te
verduidelik wat gebeur het toe ander polisiemanne in
'n vangwa daar aankom en hom arresteer. Beskuldigde 1 het ontken dat hy 'n
geldsak
of 'n wapen by hom gehad het toe hy gearresteer is.
Beskuldigde 2 het
getuig dat terwyl hy in die straat af geloop het op soek na 'n telefoon,
beskuldigde 4 na hom aangehardloop gekom
en hom summier platgeskiet het. Hy het
slegs die een skoot gehoor wat hom getref het. Beskuldigde 4 het
weggehardloop.
Beskuldigde 3 se relaas van die gebeure in die oorledene se kafee was
dieselfde as dié van
14
beskuldigde 1. Beskuldigde 3 het getuig dat nadat 'n skoot geklap en hy en
die oorledene beide geval het, hy onmiddellik weer opgestaan
en weggehardloop
het. Hy het in die rigting van twee persone wat voor 'n ander kafee in Kruger
Parkstraat gestaan het, gehardloop
om te vertel wat gebeur het. Hulle wou egter
nie na hom luister nie en het met hom baklei. Hy is daar
gearresteer.
Beskuldigde 4 se weergawe van die gebeure het hemelsbreed van
dié van die ander verskil. Volgens hom het hy reeds voor die
betrokke
Vrydag met Johannes gereël om hom na Thulamahashe te neem. Die ander het
daardie dag by sy huis in Tokoza aangekom
en gevra om saam te ry. Hulle het
onderneem om te help betaal vir die petrol. Nadat hulle die betrokke
Saterdagmiddag op pad terug
vanaf Thulamahashe op Witrivier aangekom het, is al
vyf van hulle na die Kruger Park-kafee van
15
mnr Van Dyk waar hy sy inkopies gedoen het. Beskuldigde 1 het egter
gesê dat die kos daar te duur is en hulle is toe almal na
die oorledene se
kafee. Beskuldigde 4 het nie ingegaan nie maar aan die ander gesê dat hy
teruggaan om petrol in sy motor te
gooi. Hy het agterna in Kruger Parkstraat op
gery en gesien dat beskuldigde 1 naby die Casspir met blankes baklei en dat
beskuldigde
3 'n entjie daarvandaan deur blankes vasgehou word. Hy het besef dat
iets verkeerd is en het weggery. By h kruising het hy vir Johannes
gesien en hom
opgelaai. Op Nelspruit het Johannes afgeklim en hy het alleen verder gery tot by
Tokoza. Hy is later na die Vrystaat
en toe hy daar sy motor skoonmaak, het hy op
'n vuurwapen afgekom wat hy in die huis weggesteek het. Die polisie het dit
later daar
gevind.
Die Verhoorhof het die getuienis van elk van
16
die vier beskuldigdes in die geheel as leuenagtig verwerp. Die Verhoorhof het
bevind dat die vier beskuldigdes vooraf beplan het om
die oorledene te beroof en
dat hulle vir hierdie rede na Witrivier gery het. Die Verhoorhof het bevind dat
al vier beskuldigdes met
h gemeenskaplike opset om te roof die oorledene se
kafee binnegegaan het en dat elkeen deelgeneem het aan die roof. Hulle was
gewapen
met twee vuurwapens en al vier het geweet dat dit met moontlike
noodlottige gevolge gebruik sou word indien nodig. Die Hof a quo
het bevind dat
beskuldigde 4 die oorledene doodgeskiet het, dat beskuldigde 1 die ander
vuurwapen hanteer het, dat beskuldigde 3
die geld geneem het en dat beskuldigde
2 saam met die ander weggevlug het. Die Verhoorhof het bevind dat daar nie 'n
vyfde persoon
saam met die beskuldigdes aan die roof deelgeneem het nie.
17
Volgens die getuienis van Wallace en Smit is dit duidelik dat daar inderdaad
slegs vier rowers in die kafee was. Beskuldigde 1 se
aandadigheid aan die
misdade is tans nie meer in geskil nie. Beskuldigdes 2 en 3 is aangehou terwyl
hulle van die toneel weggehardloop
het en hulle getuienis is so onwaarskynlik
dat dit met reg deur die Verhoorhof verwerp is. Beskuldigde 2 het sy eie
aandadigheid
erken toe hy aan luitenant Van der Merwe die kafee uitgewys het as
die plek "waar ons die roof getrek het". Op appèl is namens
beskuldigde 2
betoog dat die toelaatbaarheid van hierdie verklaring heroorweeg moet word omdat
beskuldigde 2 se weergawe dat sersant
Mnisi hom vooraf aangerand het, weens
laasgenoemde se oorlye nie weerspreek is nie. Soos ek reeds daarop gewys het,
was beskuldigde
2 se getuienis by die binneverhoor as leuenagtig verwerp en daar
is geen rede om met
18
daardie bevinding in te meng nie.
Namens beskuldigde 3 is voor ons betoog
dat hy hoogstens aan roof met verswarende omstandighede en nie aan moord nie,
skuldig bevind
moes gewees het, omdat hy nie die dood van die oorledene voorsien
het nie. Na my mening kan egter met veiligheid aanvaar word dat
beide
beskuldigdes 2 en 3 geweet het dat die ander twee gewapen was met vuurwapens en
dat hulle dit moontlik met noodlottige gevolge
sou afvuur in die loop van die
rooftog. Beide het die moontlike intrede van dood voorsien en opset by
moontlikheidsbewussyn is gevolglik
bewys.
Wat beskuldigde 4 betref, is dit nie in geskil dat die pistool waarmee die
oorledene doodgeskiet is, later in die huis gevind is waarheen
hy die polisie
geneem het nie. By die verhoor het beskuldigde 4 probeer wegskram van sy
aanvanklike
19
erkenning in die art 119-verrigtinge dat hy die skoot afgevuur het wat die
oorledene getref het, deur te getuig dat hy deur sersant
De Kock gedwing is om
die erkenning te maak en dat De Kock hom voorgesê het wat om te sê.
By die art 119-verrigtinge
was beskuldigde 4 deur h prokureur verteenwoordig met
wie hy vooraf gekonsulteer het, en dit is feitlik ondenkbaar dat hy nie aan
hom
sou gesê het dat De Kock hom gedreig of voorgesê het as dit wel die
geval was nie. Namens beskuldigde 4 is in hierdie
Hof betoog dat die feit dat
die Staat nie sy verklaring aan 'n Landdros van 23 Junie 1989 as getuienis teen
hom gebruik het nie,
daarop dui dat die verklaring nie vrywillig gemaak is nie.
Gevolglik, so lui die betoog, moet daar ook twyfel bestaan oor die vrywilligheid
van sy erkenning by die art 119-verrigtinge. Beskuldigde 4 het in sy getuienis
by die
20
verhoor te kenne gegee dat wat hy aan die Landdros op 23 Junie 1989
gesê het, dieselfde is as wat hy later by die art 119-verrigtinge
gesê het. Beskuldigde 4 se weergawe blyk so duidelik uit die oorkonde van
hierdie verrigtinge dat daar geen sin in sou gewees
het om die verklaring aan h
Landdros van 23 Junie 1989 ook as getuienis aan te bied nie. Dit was eers
gedurende sy kruisverhoor dat
beskuldigde 4 se vrywilligheid ter sprake gekom
het toe hy vir die eerste keer beweer het dat hy deur De Kock gedreig en
voorgesê
is. De Kock is daarna deur die Verhoorhof teruggeroep en hy het
die aantygings ontken. Beskuldigde 4 se getuienis in hierdie verband
is deur die
Verhoorhof as absurd beskryf en as leuenagtig verwerp. In die omstandighede kan
geen nadelige afleiding gemaak word van
die feit dat die Staat nie die
verklaring van 23 Julie 1989 as getuienis aangebied het nie. Sy
21
erkenning by die art 119-verrigtinge dat hy die oorledene geskiet het, is
tereg teen beskuldigde 4 toegelaat en sy getuienis tot die
teendeel verwerp. Ek
is gevolglik van mening dat al vier beskuldigdes korrek skuldig bevind is aan
moord op die basis soos deur die
Verhoorhof bevind.
Dit bring my by die
appèlle teen vonnis op die moordaanklag en die vraag of, in die geval van
elke beskuldigde, die doodvonnis
die enigste gepaste vonnis is. Die
strafverswarende faktore blyk uit die beplanning, die motief en die wyse van
uitvoering van die
moord. Die roof was deeglik vooraf beplan. Die beskuldigdes
was gewapen met twee gelaaide vuurwapens. Die oorledene was weerloos
teen die
vier beskuldigdes. Daar was geen provokasie nie. Die oorledene is trompop en
koelbloedig doodgeskiet bloot omdat hy weerstand
gebied het. Hy is doodgeskiet
vir
22
geldelike gewin. Beskuldigde 4 het die noodlottige skoot gevuur met dolus
directus.
Die versagtende faktore is die volgende. Al vier beskuldigdes was
betreklik jeugdig en daarby eerste oortreders. Beskuldigdes 1 en
3 was 22 jaar
oud en beskuldigdes 2 en 4 was 25 jaar oud ten tyde van die pleging van die
misdaad. Beskuldigdes 1, 2 en 3 het nie
die direkte opset om te dood gehad nie
en het 'n mindere rol in die pleging van die moord gespeel.
Met inagneming
van die bekende oogmerke van straftoemeting is ek nie daarvan oortuig dat die
doodvonnis die enigste gepaste vonnis
in die geval van beskuldigdes 1, 2 en 3 is
nie. Beskuldigde 4 se posisie is egter totaal anders. Hy was die leier van die
bende.
Hy het die oorledene koelbloedig en met dolus directus doodgeskiet. Sy
totale gehardheid en onverskilligheid teenoor menslike lewe
blyk onder
23
andere uit sy latere optrede die betrokke aand toe hy die drie polisiemanne
Van der Schyff, Malherbe en Botha probeer doodskiet het
(aanklagte 3, 4 en 5
onderskeidelik). Die noodsaaklikheid om behoorlike uiting te gee aan die faktore
van vergelding en afskrikking
sowel as aan die gemeenskap se afsku aan moorde
van hierdie aard, moet gevolglik in sy geval swaarder weeg as die moontlikheid
van
rehabilitasie. Na my mening moet beskuldigde 4 se geval as een van
uitsonderlike erns beskou word waar die doodvonnis die enigste
gepaste vonnis
is.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:-
1. Die appèl van beskuldigde 1 teen die vonnis op die aanklag van moord
(aanklag 1) word gehandhaaf. Die doodvonnis word vervang
met 'n vonnis van 20
jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat die vonnisse op aanklagte 2, 6 en 7
saamloop met die vonnis op aanklag
1.
2.
Die appèlle van beskuldigdes 2, 3 en 4
teen
24
hul skuldigbevinding op aanklag 1 word afgewys.
3. Die appèlle van beskuldigdes 2 en 3 teen die vonnis op aanklag 1
slaag. In elke geval word die doodvonnis vervang met 'n
vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf en dit word gelas dat die vonnis op aanklag 2 saamloop met die
vonnis op aanklag 1.
4. Die appèl van beskuldigde 4 teen die vonnis op aanklag 1 word afgewys
en die doodvonnis word
bekragtig.
W. VIVIER AR.
VAN HEERDEN AR)
VAN COLLER Wn AR) Stem saam.