Sentrachem Bpk. v Steenkamp (503/93) [1995] ZASCA 69 (30 May 1995)

58 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Breach of contract — Liability for damages — Respondent sought damages from appellant for crop loss due to alleged improper application of herbicide "Granstar" — Appellant's representative, Mulligan, claimed responsibility for ensuring correct dosage and application method — Court a quo found appellant liable for breach of contract based on Mulligan's undertaking — Appellant appealed, contending that no binding agreement regarding application was established — Court held that respondent failed to prove that Mulligan's undertaking formed part of the contract, resulting in no liability for damages.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 69
|

|

Sentrachem Bpk. v Steenkamp (503/93) [1995] ZASCA 69 (30 May 1995)

Saaknommer: 503/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
SENTRACHEM BEPERK
Appellant
en
JOHANNES LODEWYK STEENEKAMP
Respondent
Coram:
SMALBERGER, F H GROSSKOPF et MARAIS ARR
Verhoordatum:
19 Mei 1995
Leweringsdatum:
30 Mei 1995
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die respondent was die eiser en die appellant die verweerder in die hof a quo
(Transvaalse Provínsiale Afdeling), en daar sal
hierna na die partye as
eiser en verweerder onderskeidelik verwys word. Die eiser het vergoeding van die
verweerder geëis vir
sekere skade wat hy aan sy koringoes gely het. By die
aanvang van die verhoor het die hof a quo op versoek van die eiser, en ingevolge
Reël 33(4) van die Hooggeregshofreëls, gelas dat die vraag na die
verweerder se aanspreeklikheid vir enige oesverlies wat
die eiser gely het,
afsonderlik van die vraag na die omvang van die eiser se skade afgehandel en
beslis sal word.
Die eiser het gedurende Augustus 1990 'n onkruiddoder bekend as "Granstar"
van die verweerder gekoop om breëblaar onkruid en
opslag sonneblomme in sy
koringlande te beheer. Die verweerder was te alle relevante tye verteenwoordig
deur 'n sekere Pat Mulligan
wat as verteenwoordiger vir die verweerder gewerk
het, terwyl die eiser persoonlik opgetree het. Nadat die eiser
3
en Mulligan die verskillende aanwendingsmetodes bespreek het, het die eiser
op lugbespuiting besluit. 'n Sekere Robert van Tonder,
wat onder die naam
Rovanto Oesbespuiting ("Rovanto") sake gedoen het, het die Granstar op 15
Augustus 1990 deur middel van lugbespuiting
op die eiser se korínglande
toegedien.
Dit is gemene saak dat die eiser as gevolg van die toediening van die
Granstar skade aan sy koringoes gely het. Die eiser se advokaat
het myns insiens
tereg toegegee dat daar geen getuienis is wat daarop dui dat die eiser se skade
aan die een of ander verborge gebrek
in die Granstar self te wyte was nie, soos
die eiser vroeër beweer het, of dat die Granstar nie geskik was vir die
doel waarvoor
dit aangewend was nie. Tydens argument voor ons was die partye dit
trouens in beginsel eens dat die eiser se skade na alle waarskynlikheid
veroorsaak was deur die foutiewe kalibrasie of wanfunksionering van die
spuitapparaat van die vliegtuig wat Rovanto vir die lugbespuiting
gebruik het.
Dit het meegebring dat die toediening van die onkruiddoder nie egalig en
eweredig was nie, maar in bane oor die eiser
se koringlande geskied het.
4
Tussen die bane was daar stroke waar die onkruiddoder gladnie of nie
behoorlik toegedien was nie. In daardie stroke was daar nie effektiewe
beheer
van die opslag sonneblomme nie. Volgens die eiser was sommige van die koring
binne die bane waar die Granstar wel toegedien
was, weer deur 'n oordosis
onkruiddoder beskadig.
Die hof a quo het bevind dat Mulligan, handelende namens die verweerder,
teenoor die eiser onderneem het om toe te sien dat die korrekte
dosis van die
Granstar op behoorlike wyse deur middel van lugbespuiting op die eiser se
koringlande toegedien sou word ("die Mulligan
onderneming"), maar dat die
verweerder nie die Mulligan onderneming gestand gedoen het nie. Volgens die
bevinding van die hof a quo
het die eiser dus bewys dat die verweerder
kontrakbreuk gepleeg het deurdat hy nie die Mulligan onderneming behoorlik
nagekom het
nie. Die hof a quo het gevolglik beslis "dat die verweerder
aanspreeklik is teenoor die eiser om die skade wat die eiser gely het
as gevolg
van die oneffektiewe beheer van opslag sonneblom deur Granstar wat toegedien is
op 15 Augustus 1990 te betaal."
5
Die verweerder appelleer teen daardie bevinding na hierdie hof met verlof van
die hof a quo.
Die eiser het in sy besonderhede van vordering op verskeie
altematiewe eisoorsake gesteun, maar in hierdie hof het hy hom slegs op
die
verweerder se kontrakbreuk verlaat. Die verweerder se hoof betoog was dat die
eiser op die Mulligan onderneming as deel van die
kontrak steun, maar dat die
Mulligan onderneming nie deur die eiser se pleitstukke gedek is en ook nie deur
die getuienis ondersteun
word nie. Die verweerder het aangevoer dat hy
daadwerklik benadeel is deurdat hierdie wesenlike aspek van die eiser se saak
nooit
deur die eiser in sy pleitstukke geopper is nie. By gebrek aan die nodige
bewerings deur die eiser, was dit volgens die verweerder
nie vir hom moontlik om
Rovanto, met wie hy geen verbintenis gehad het nie, as derde party tot die
geding te voeg nie. Volgens die
verweerder kon hy ook nie steun op 'n gebrek aan
magtiging aan die kant van Mulligan nie, aangesien die eiser gladnie na die
Mulligan
ondememing in sy pleitstukke verwys het nie.
Na my meníng is dit egter nie nodig om die pleitstukke
in detail te
6
ondersoek ten einde te bepaal of die verweerder werklik benadeel is soos hy
beweer nie. Ek sê dit omdat die eiser na my oordeel
'n meer wesenlike
probleem het: hy het nie daarin geslaag om te bewys dat die beweerde Mulligan
ondememing 'n deel van die eiser
se kontrak met die verweerder uitgemaak het
nie.
Sowel die eiser as Mulligan het tydens die verhoor in die hof a quo getuig,
maar geeneen van die partye het Van Tonder as getuie geroep
nie. Namens die
verweerder het slegs een getuie getuig, ene Schoeman, 'n werknemer van die
verweerder. Volgens Schoeman het die verweerder
wel vroeër self
lugbespuiting gedoen, maar het die verweerder dit om verskeie redes gestaak.
Dit is gemene saak dat die eiser en die verweeder, verteenwoordig deur
Mulligan, gedurende Augustus 1990 'n mondelinge ooreenkoms
gesluit het ingevolge
waarvan die eiser die Granstar by die verweerder gekoop het. Die verweerder voer
aan dat sy standaard verkoopsvoorwaardes
ook deel van die partye se kontrak
uitgemaak het. Die verweerder betwis egter dat dit 'n bepaling
7
van hulle kontrak was dat hy ook sou toesien tot die behoorlike toediening
van die Granstar deur middel van lugbespuiting. Ten einde
te kan slaag in sy eis
moet die eiser dus bewys dat die Mulligan onderneming 'n bepaling van hulle
kontrak was. Dit is nie betwis
dat die eiser die bewyslas in hierdie verband dra
nie. Dit is terloops nooit deur die eiser beweer dat die Mulligan onderneming as
'n afsonderlike kontrak tussen die partye beskou moet word nie.
Die eiser het veral gesteun op die besondere wyse waarop Mulligan hom met die
hele aangeleentheid van die lugbespuiting bemoei het
nadat die eiser en die
verweerder hulle kontrak gesluit het. Dit is namens die eiser betoog dat
Mulligan se optrede in dié
verband die afleiding regverdig dat hy wel die
onderneming met betrekking tot lugbespuiting namens die verweerder gegee het, en
dat
hy in uitvoering van die Mulligan onderneming, en namens die verweerder, toe
met Rovanto ooreengekom het om die lugbespuiting te
verrig. Indien die Mulligan
onderneming inderdaad 'n deel van die verweerder sc kontraktuele verpligting
was, soos deur die eiser
betoog, sou mens verwag het dat Mulligan, handelende
namens die verweerder, daadwerklik met Rovanto sou
8
ooreengekom het om die fugbespuiting vir die verweerder te doen. Die partye
het geweet dat die verweerder nie self die lugbespuiting
sou verrig nie, en dat
Rovanto die enigste instansie was wat die lugbespuiting sou doen. Dit is die
onbetwiste getuienis van die
eiser dat hy self geen reëlings met Rovanto
getref het om die lugbespuiting te doen nie. Op die eiser se weergawe volg dit
in
ieder geval dat nie hy nie, maar die verweerder die lugbespuitingsooreenkoms
met Rovanto sou moes aangegaan het. Na my oordeel het
die eiser egter nie so 'n
ooreenkoms tussen die verweerder en Rovanto bewys nie.
Mulligan se getuienis is dat hy wel sekere reëlings met Rovanto getref
het om die lugbespuiting te doen, maar dit is nie sy getuienis
dat hy enige
lugbespuitingsooreenkoms met Rovanto aangegaan het nie . Mulligan se optrede
moet beoordeel word in die lig van die
besondere omstandighede wat daar gegeld
het. Mulligan het gereël dat Rovanto op 15 Augustus 1990 die lugbespuiting
vir drie
boere, waarvan die eiser een was, sou doen. Mulligan het die vereiste
chemiese middels die betrokke dag na die aanloopbaan geneem
en hy het toegesien
dat Rovanto se werknemers die middels korrek vermeng.
9
Mulligan was deurgaans op die aanloopbaan teenwoordig en het met die
vlieënier gereël watter lande bespuit moet word, en
in watter volgorde
dit moet geskied. Omdat daar meer as een boer by die proses betrokke was, en
omdat al drie die boere produksielenings
by die Magaliesbergse Graankooperasie
("MGK") gehad het, het hulle onder die sogenaamde "pool"-stelsel op een rekening
saamgewerk.
Die gevolg daarvan was dat Rovanto se koste vir die lugbespuiting
dié dag op een rekening aan die MGK gelewer is. Die MGK
het daarna
Rovanto betaal en elke afsonderlike boer met sy pro rata deel van die
lugbespuitingskoste gedebiteer.
Dit is insiggewend dat Rovanto se faktuur vir die lugbespuiting van die eiser
se koringlande op 15 Augustus 1990 die eiser as kliënt
aandui, en nie die
verweerder nie. Daar is 'n nota op die faktuur dat betaling reeds ontvang
is.
Die bestuur van die MGK het vereis dat waar die MGK op sterkte van
produksielenings vir die lugbespuiting van boere betaal, die boere
in daardie
gebied verplig was om van Rovanto se dienste gebruik te maak. Toe die eiser dus
eenmaal besluit het om die Granstar deur
middel van lugbespuiting op sy
10
koringlande te laat toedien, het dit tot sy wete outomaties gevolg dat
Rovanto
die lugbespuiting vir hom sou doen en dat Rovanto uit die eiser
se
produksielening deur die MGK betaal sou word. Aangesien daar meer as
een
boer by die lugbespuiting betrokke was, het Mulligan, as deel van
die
verweerder se kliëntediens, die nodige reëlings met betrekking
tot die tye en
plekke van die lugbespuiting met Rovanto getref. Dit sluit aan by die
volgende
antwoord wat Mulligan aan die einde van sy getuienis op 'n vraag van die
geleerde verhoorregter gegee het:
"Het u op enige stadium vir die eiser gesê dat hy moet onthou dit is sy
verantwoordelikheid om toe te sien dat die toediening
korrek gaan wees, want dit
is nie Sentrachem se verantwoordelikheid nie? — Nee, ons het, dit was deel
van die dienspakket dat
ons die boere gehelp het met die
bespuitings."
'n Paar dae voordat die eiser se lande
bespuit is, was daar 'n probleem met die kalibrasie van Rovanto se vliegtuig.
Mulligan het
nie self oor die nodige kennis beskik om die kalibrasie reg te stel
nie, maar hy het wel in 'n beperkte mate gehelp sodat Van Tonder
die probleem
kon regstel. Myns
11
insiens bewys ook hierdie optrede van Mulligan nie dat die verweerder uit
hoofde van ooreenkoms verantwoordelikheid vir die lugbespuiting
aanvaar het
nie.
Hoewel Mulligan deur die eiser as getuie geroep is, is Mulligan nooit
uitgevra oor die onderneming wat hy na bewering aan die eiser
sou gegee het nie.
Waar Mulligan die persoon was wat die onderneming na bewering gegee het, sou
mens verwag het dat hy dit ook uitdruklik
in die loop van sy getuienis sou
gesê het.
Die persoon aan wie Mulligan sy onderneming sou gegee het, is die
eiser, maar ook hy getuig nie van so 'n uitdruklike onderneming deur
Mulligan
nie. Die hoogtepunt van die eiser se getuienis blyk uit die volgende
antwoord
wat hy bloot terloops tydens kruisondervraging gegee het:
"U kry die antwoord, die advies van prof. Nel op 5 November, dat daar tydens
bespuiting met die vliegtuig nie ewe veel spuitstof oor
die hele landoppervalkte
geplaas was nie. - Dit is korrek, ek het nie daaraan gedink om mnr Rovanto te
dagvaar nie, omdat ek nie
met hom 'n reëling gehad het of enige onderneming
geneem het om my land te bespuit nie, maar wel met Agricura se
verteenwoordiger
12
en vir daardie rede het ek Rovanto nooit eers gekontak tot vandag
toe."
Na my oordeel kan daar nie van daardie enkele
antwoord van die eiser afgelei word dat die Mulligan onderneming inderdaad gegee
is,
en dat dit 'n uitdruklike bepaling van die partye se ooreenkoms uitgemaak
het nie. Daardie getuienis van die eiser word in ieder
geval in wese weerspreek
deur Mulligan se getuienis wat hierbo uiteengesit is. Dit is myns insiens ook
onwaarskynlik dat die verweerder
heeltemal ongevraagd, en sonder dat hy daartoe
verplig was, so 'n potensieel nadelige onderneming aan die eiser sou gegee het.
Na
my oordeel het die eiser dus nie bewys dat die beweerde Mulligan onderneming
'n uitdruklike bepaling van sy ooreenkoms met die verweerder
uitgemaak het nie.
Dit is in die alternatief namens die eiser betoog dat die Mulligan onderneming
'n stilswyende bepaling van die
partye se ooreenkoms was. Die eiser se advokaat
het myns insiens tereg nie probeer aanvoer dat die Mulligan onderneming 'n
versweë
bepaling van regsweë was nie. (Vgl
Alfred McAlpine &
Son (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administradon
1974(3) SA 506(A)
13
op 531D-533B waar
Corbett Wnd AR
onderskei tussen 'n "implied term"
en
'n "tacit term". Vgl ook Christie
The Law of Contract in South
Africa
2e uitg
183-202.) Die eiser se advokaat het egter betoog dat die Mulligan
onderneming
'n stilswyende bepaling voortspruitend uit ooreenkoms was. Dit
blyk duidelik
uit die besliste sake dat so 'n beweerde stilswyende bepaling
nie maklik deur die
hof by 'n ooreenkoms ingelyf sal word nie. In die
Alfred McAlpine
-saak
supra
het die geleerde regter die posisie soos volg saamgevat op 532H-533B:
"The Court does not readily import a tacit term. It cannot make contracts for
people; nor can it supplement the agreement of the parties
merely because it
might be reasonable to do so. Before it can imply a tacit term the Court must be
satisfied, upon a consideration
in a reasonable and businesslike manner of the
terms of the contract and the admissible evidence of surrounding circumstances,
that
an implication necessarily arises that the parties intended to contract on
the basis of the suggested term (See Mullin (Pty.) Ltd.
v. Benade Ltd.,
1952 (1)
S.A. 211
(A.D.) at pp. 214-5, and the authorities there cited; S.A. Mutual Aid
Society v. Cape Town Chamber of Commerce,
1962 (1) S.A. 598
(A.D.)). The
practical test to be applied - and one which has been consistently approved and
adopted in this Court - is that formulated
by SCRUTTON, L.J., in the well-known
case of Reigate v. Union Manufacturing Co.,
118 L.T. 479
at p. 483:
14
'You must only imply a term if it is necessary in the business sense to give
efficacy to the contract; that is, if it is such a term
that you can be
confident that if at the time the contract was being negotiated someone had said
to the parties: 'What will happen
in such a case?' they would have both replied:
'Of course, so-and-so. We did not trouble to say that; it is too
clear."
This is often referred to as the 'bystander
test'".
Die kontrak wat die partye in die
onderhawige saak gesluit het, was in wese 'n kontrak waarkragtens die verweerder
'n onkruiddoder
aan die eiser verkoop het. Nóg die bepalings van daardie
kontrak, nóg die omstandighede waaronder dit gesluit is, regverdig
noodwendig die afleiding dat beide partye tot die kontrak bedoel het dat die
verweerder vir die behoorlike lugbespuiting van die
onkruiddoder aanspreeklik
sou wees. As mens die sg "omstander toets" toepas, is dit myns insiens duidelik
dat die beweerde Mulligan
onderneming hoegenaamd nie aan dié toets
voldoen nie. Na my oordeel het die eiser dus ook nie bewys dat die Mulligan
onderneming
'n stilswyende bepaling van die kontrak was nie.
Die eiser se advokaat het nie aan die hand gedoen daí die verweerder
op enige ander basis vir die eiser se skade aanspreeklik
gehou kan
15
word nie. Die appèl moet gevolglik slaag.
Die volgende bevel word gemaak:
1. Die appèl slaag met koste, wat die koste van twee advokate
insluit.
2. Die bevel van die hof a quo word tersyde gestel en met die volgende
vervang:
"Absolusie van die instansie met koste, wat
die koste van twee advokate insluit."
F H GROSSKOPF Appèlregter
Smalberger AR
Marais AR Stem saam