About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 50
|
|
Sentrachem Bpk. v Wenhold (352/93) [1995] ZASCA 50; [1995] 2 All SA 524 (A) (16 May 1995)
Saaknommer: 352/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
SENTRACHEM BEPERK
Appellant
en
NEVILLE ROBERT
WENHOLD
Respondent
Coram:
JOUBERT, E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF, HOWIE ARR et OLIVIER Wn
AR
Verhoordatum:
13 Maart 1995
Leweringsdatum:
16
Mei 1995
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die respondent is 'n boer van die
Thabazimbi-distrik wat vir baie jare met sojabone en ander gewasse onder
besproeiing boer. Die appellant
is 'n maatskappy wat onder andere onkruiddoders
vervaardig, bemark en verkoop. Daar sal na die respondent as die eiser en die
appellant
as die verweerder verwys word. Die eiser het skadevergoeding van die
verweerder geëis vir sekere oesverliese wat hy na bewering
gely het as
gevolg van 'n onkruiddoder wat hy van die verweerder gekoop het en op sy
sojaboonlande gespuit het. Die saak het in die
Transvaalse Provinsiale Afdeling
voor Spoelstra R gedien. Die geleerde verhoorregter het bevind dat die
verweerder regtens aanspreeklik
is om die eiser se skade te vergoed, en het 'n
bedrag van R133 991,22 as skadevergoeding aan die eiser toegeken. Die verweerder
appelleer
met verlof van die hof a quo teen daardie uitspraak en bevel.
Dit is gemene saak dat die eiser 'n sekere onkrniddoder met die handelsnaam
"Classic" by die verweerder gekoop het om 'n onkruid algemeen
3
bekend as purperwinde in sy sojaboonlande te beheer. Die Classic is op 28
Desember 1990 deur middel van lugbespuiting toegedien op
sekere van die eiser se
landerye wat met sojabone beplant was. Dit word nie betwis nie dat die
lugbespuiting onder toesig en beheer
van 'n verteenwoordiger van die verweerder
plaasgevind het, dat die Classic behoorlik met water vermeng is, en op die regte
tyd en
streng volgens voorskrif toegedien is.
Die hof a quo het die eiser as
'n geloofwaardige getuie bestempel. Volgens die eiser se getuienis het hy
gedurende die 1990/91 oesjaar
200 ha sojabone aangeplant. Die verweerder het die
omvang van die lande onder sojabone in geskil geplaas, en daar sal later
teruggekom
word op die vraag of die eiser bewys het hoeveel hektaar inderdaad
onder sojabone was. Die eiser het in ieder geval getuig dat 170
ha van die 200
ha met Classic bespuit was. Die oorblywende 30 ha, wat as land 3A bekendstaan,
is op die eiser se versoek nie met
Classic bespuit nie. Daar was 'n groot
verskil in opbrengs per hektaar tussen die 30 ha van land 3A wat nie met Classic
bespuit was
nie, en die 170 ha wat wel daarmee bespuit was. Die eiser het land
3A as kontroleland gebruik
4
om sy oesverlies te bereken, en ook om aan te toon dat die swak opbrengs van
die 170 ha te wyte was aan die nadelige effek wat die
toediening van Classic op
die sojabone gehad het.
Die verweerder het sy betoog in hierdie hof onder die
volgende drie hoofde ingedeel:
1.
Die eiser het nie sy saak
soos gepleit bewys nie.
2. Die eiser het nie bewys dat sy skade deur 'n verborge gebrek in die Classic
veroorsaak is nie.
3. Die eiser het nie die omvang van sy skade
behoorlik bewys nie.
Hierdie drie aspekte sal puntsgewys behandel en oorweeg
word.
1.
Het die eiser sy saak soos gepleit bewys?
Die eiser het in sy besonderhede van vordering op vier alternatiewe
skuldoorsake gesteun. Die hof a quo het die eis op grond van die
bewerings in
die eiser se eerste alternatiewe eis toegestaan, en na my mening is die ander
altematiewe skuldoorsake nie verder ter
sake nie.
5
Die eiser se eerste altematiewe eis is vir skadevergoeding as
gevolg
van die verweerder se beweerde kontrakbreuk. Die "kontraksterm" wat
die
verweerder na bewering verbreek het, word soos volg in die eiser
se
besonderhede van vordering uiteengesit:
"3.2.6 Verweerder het gewaarborg dat gemelde middel [Classic], aangewend soos
voormeld, sou beantwoord aan die doel waarvoor dit aangekoop
is naamlik die
effektiewe en onskadelike bestryding van gemelde onkmid."
Dit is gemene saak dat die inhoud van die geregistreerde etiket ("die
etiket"), wat op die houer met Classic aangebring was, deel
van die kontrak
tussen die partye uitgemaak het. Daarbenewens was die verkoping van die Classic
onderhewig aan die verweerder se
standaard verkoopsvoorwaardes ("die
verkoopsvoorwaardes") wat agterop die aankoopfaktuur gedruk was.
Hoewel die etiket uitdruklik beweer dat purperwinde
"normaalweg
deur Classic beheer" word, bevat die
etiket ook die volgende "waarskuwing":
"Alhoewel hierdie middel [Classic] omvattend onder 'n groot verskeidenheid
toestande getoets is,
waarborg die registrasiehouer
[die verweerder] nie
dat dit onder alle toestande doeltreffend
sal
6
wees nie aangesien die werking en effek daarvan beïnvloed kan word deur
faktore soos abnormale grond-, klimaats- en bergingstoestande
.... " (My
beklemtoning)
Die eiser se bewering in die
aangehaalde paragraaf 3.2.6, nl dat die verweerder
die "effektiewe
bestryding" van purperwinde "gewaarborg" het, blyk dus nie
korrek te wees
nie.
Die eiser het egter verder in die aangehaalde paragraaf 3.2.6
beweer
dat die verweerder die "
onskadelike
bestryding van gemelde
onkruid"
gewaarborg het. (My beklemtoning.) Die bepalings van paragraaf 10
van die
verkoopsvoorwaardes is in hierdie verband van belang. Dit lui soos
volg:
"10. Die MAATSKAPPY [die verweerder] sal, onderhewig aan die bepalings van
paragraaf 11, aanspreeklik wees vir enige verlies deur
die KLANT [die eiser]
gely as gevolg van:
10.1 die gebruik van 'n gebrekkige produk, met die
voorbehoud dat dit op
die korrekte wyse gebruik was,
en met die verdere voorbehoud dat daar
noukeurig
aggeslaan is op die waarskuwings,
voorsorgmaatreëís
en aanwysings en dat dit behoorlik nagekom
was;
en/of
10.2 "
7
Die bepalings van paragraaf 11, waarna in paragraaf 10 hierbo verwys word,
vereis dat die eiser kennis van sy klagte en eis aan die
verweerder moes verskaf
het, wat myns insiens wel geskied het. Na my mening is daar ook voldoen aan die
verdere voorbehoudsbepalings
gemeld in paragraaf 10.1 hierbo. Die verweerder het
in ieder geval nooit aangevoer dat enige van hierdie voorwaardes nie nagekom
is
nie.
Paragraaf 10 maak weliswaar nie met soveel woorde melding van enige
"waarborg" deur die verweerder nie, maar dit bevat tog 'n uitdmklike
ondememing
dat die verweerder aanspreeklik sal wees vir enige verlies deur die eiser gely
as gevolg van die gebruik van 'n gebrekkige
produk. Die werkwoord "waarborg"
word onder andere omskryf as "instaan vir" in die
Verklarende Handwoordeboek
van die Afrikaanse Taal ("HAT)."
Myns insiens kom die bepalings van
paragraaf 10 juis daarop neer dat die verweerder instaan vir die verlies wat die
eiser mag ly.
Die eiser se besonderhede van vordering verwys nie uitdruklik
na
8
die bepalings van paragraaf 10 van die verkoopsvoorwaardes nie. Waar
die
verweerder egter self in sy pleit beweer dat die verkope onderhewig is
aan die
bepaiings van paragraaf 10 (wat woordeliks in die pleit aangehaal
word), kan die
verweerder beswaarlik aanvoer dat hy in hierdie verband verras
of benadeel is.
Dit blyk trouens duidelik uit sy nadere besonderhede op verhoor
dat
die verweerder wel deeglik daarop bedag was dat hy op grond van die
bepalings
van paragraaf 10 aanspreeklik gehou word. Die verweerder meld naamlik in
sy
nadere besonderhede -
"dat hy in besonder op grond van die volgende aanspreeklikheid teenoor Eiser
ontken:
2.2.2.1
Verweerder ontken dat Classic 'n gebrekkige produk soos beoog
deur paragraaf 10 van die standaard verkoopsvoorwaardes daargestel het
of dat
enige gedeelte van Eiser se oes as gevolg van die aanwending van Classic
beskadig of vemietig is;
2.2.2.2
Verweerder
ontken dat enige waarborg soos in paragraaf 3.2.6 van Eiser se besonderhede van
vordering uiteengesit, in die standaard
verkoopsvoorwaardes beliggaam is of dat
hy in enige stadium of op enige wyse sodanige waarborg aan eiser verskaf
het;"
9
Ek is gevolglik van oordeel dat die pleitstukke as geheel wyd genoeg is om
die eiser se eerste altematiewe eis te dek. Na my mening
het die geskilpunte
rondom hierdie besondere skuldoorsaak in ieder geval in die loop van die verhoor
uitgekristaliseer en behoort
die hof hom nie in hierdie stadium blind te staar
teen die gebreke wat daar ongetwyfeld in die besonderhede van vordering was nie.
(
Collen v Rietfontein Engineering Works
1948(1) SA 413(A) op 433.)
Die hof a quo het bevind dat die eiser hom ook op 'n ander skuldoorsaak kon
verlaat het, nl op die basis dat die verweerder, as handelaar
wat openlik
voorgegee het dat hy oor bedrewendheid en deskundige kennis met betrekking tot
die produk beskik, regtens aanspreeklik
is vir enige gevolgskade veroorsaak deur
'n verborge gebrek in die produk wat hy verkoop het.
fKroonstad Westelike
Boere Ko-operatiewe Vereniging Bpk v Botha and Another
1964(3) SA 561(A) op
571H-572A.) Die verweerder kon natuurlik ook vir gevolgskade aangespreek word op
grond van die feit dat hy die
vervaardiger was van die Classic wat hy verkoop
het.
fHoImdene Brickworks
10
(Pty) Ltd v Roberts Construction Co Ltd
1977(3) SA 670(A) op
682H-683B.) Die verweerder maak beswaar daarteen dat die saak op hierdie
grondslag beslis is, en wys daarop
dat die hof a quo bevind het dat die
pleitstukke nie die geskilpunte helder en duidelik geformuleer het nie. Die hof
a quo het trouens
opgemerk dat hierdie skuldoorsaak "met 'n mate van moeite en
verbeelding uit die besonderhede van vordering uitgerafel [kan] word."
Die
eiser se besonderhede van vordering beweer weliswaar nie met soveel woorde dat
die verweerder op gemelde basis vir verborge gebreke
aanspreeklik is nie. Die
verweerder word wel as "deskundiges en handelaars ten opsigte van en in
onkruiddoders" beskryf. Die besonderhede
van vordering beweer verder dat die
aangehaalde paragraaf 3.2.6, waarin daar na die verweerder se beweerde
"waarborg" verwys word,
een van 'n aantal "uitdruklike alternatiewelik
stilswyende alternatiewelik geïmpliseerde terme van die ooreenkoms" tussen
die
partye was. Die bewering van 'n sg "stilswyende waarborg" word dus in die
besonderhede van vordering gemaak. Daar word somtyds losweg
gepraat van 'n sg
"implied warranty against latent defects".
11
(MacKeurtan's Sale of Goods in South Africa,
5e uitg 126-7 (par
9.2.2); De Wet en Van Wyk,
Kontraktereg en Handelsreg
5e uitg, vol 1,
342).
Reeds vroeg in die verhoor, en wel tydens die verweerder se
kruisondervraging van die eiser, het dit egter duidelik geword dat die
eiser
inderdaad op die beginsels neergelê in die bogemelde
Kroonstad
Westelike Boere Ko-operatiewe Vereniging
-saak steun. Alhoewel die eiser se
besonderhede van vordering nie hierdie skuldoorsaak met die vereiste helderheid,
duidelikheid en
presiesheid uiteengesit het nie, is ek nogtans van mening dat
die verweerder, indien nie van meet af aan nie, dan spoedig na die
aanvang van
die saak daarvan bewus geword het dat die eiser op die gemelde beginsels steun,
en dat die verweerder gevolglik nie benadeel
is nie.
Die vraag ontstaan of daar op hierdie stadium van die saak nog soveel klem op
die pleitstukke gelê moet word. Die volgende opmerkings
van De Villiers AR
in
Shill v Milner
1937 AD 101
op 105 geld myns insiens ook vir die
onderhawige saak:
"The importance of pleadings should not be unduly magnified.
12
The object of pleading is to define the issues; and
parties
will be kept strictly to their pleas where any departure
would
cause prejudice or would prevent full inquiry. But within
those
limits the Court has wide discretion. For pleadings are
made for the Court,
not the Court for pleadings. Where a
party has had every facility to place
all the facts before the
trial Court and the investigation into all the
circumstances
has been as thorough and as patient as in this instance,
there
is no justification for interference by an appellate tribunal
merely
because the pleading of the opponent has not been as
explicit as it might
have been.'
Robinson v. Randfontein Estates G.M. Co., Ltd
(1925, A.D.
198).
In another case, Wynberg Municipality v. Dreyer
(1920,A.D. 443)
,
an
attempt was made to confine the issue on appeal strictly to the
pleadings,
but it was pointed out by Innes, C.J., that the issue had
been widened in the
court below, by both parties. 'The position
should have been regularised of
course,' said he, 'by an amendment
of the pleadings; but the defendant cannot
now claim to confine the
issue within limits which he assisted to
enlarge'".
(Vgl ook
Purdon v Muller
1961(2) SA 211(A) op 215 E-F.)
Die
beslissing in
Stead v Conradie en Andere
1995(2) SA 111(A) op 121G-1221
met betrekking tot gebrekkige pleitstukke kan op die feite klaarblyklik van die
onderhawige geval
onderskei word.
13
Waar al die relevante getuienis voor hierdie hof is, hoef daar myns insiens
nie meer soveel nadruk op die pleitstukke gelê te
word nie, maar behoort
hierdie hof die saak te beslis op die werklike geskilpunte wat gedurende
díe verloop van die verhoor
in die hof a quo uitgepluis is.
(Collen v
Rietfontein Engineering Works,
supra,
op 433.)
Die verweerder het verder betoog dat die eiser ook in 'n ander
opsig
nie sy saak, soos in sy besonderhede van vordering uiteengesit, behoorlik
bewys
het nie. Die eiser het beweer dat die gedeelte van sy "oes" wat bespuit is,
as
gevolg van die aanwending van Classic "beskadig altematiewelik
gedeeltelik
vemietig [is]". In sy nadere besonderhede op verhoor herhaal die eiser
dié
bewering soos volg:
"Dit [Classic] het nie die breëblaar onkruid waarvoor dit bestem was,
beheer nie en dit het
die sojaboonoes beskadig altematiewelik gedeeltelik
vernietis
." (Ek beklemtoon)
Die verweerder wys
daarop dat die woord "oes" in die HAT omskryf word as "insameling van ryp
gewasse en vrugte; opbrings", terwyl
die woord "beskadig"
14
omskryf word as "skade toebring aan". Volgens die verweerder is die eiser se
bewering dus kortliks dat die aanwending van Classic
skade aan die opbrengs
toegebring het. Die verweerder se betoog is dat die eiser nie bewys het dat daar
skade aan die opbrengs toegebring
was, of dat die opbrengs gedeeltelik vernietig
was nie, maar wel dat die sojabone nie behoorlik geoes kon word nie omdat die
peule
in 'n bos laag aan die plante gedra was.
Daar is na my mening geen
meriete in hierdie beswaar nie. Die woord "beskadig" word ook soos volg in die
Woordeboek van die Afrikaanse Taal
omskryf: "benadeel; die bruikbaarheid,
waarde .... van iets verminder...."
Die eiser se bewering in die pleitstukke kan dus net so goed beteken dat
die
toediening van Classic die waarde van die opbrengs verminder het, of die
insameling van die sojabone benadeel het.
Na my oordeel kan die appèl dus nie op die verweerder se eerste punt
slaag nie.
2.
Het die eiser bewys dat sy skade deur 'n verborge gebrek in die
Classic
veroorsaak is?
15
Die eiser se saak was dat die swak opbrengs van die 170ha te wyte was aan die
nadelige effek wat die toediening van Classic op die
sojabone gehad het, en dat
dit die enigste redelike gevolgtrekking is waartoe mens kan kom as die swak
opbrengs van die 170 ha vergelyk
word met die normale opbrengs van die 30 ha van
land 3A wat nie met Classic bespuit is nie. Die verweerder het egter aangevoer
dat
land 3A vanweë sy beter grondkwaliteite nie geskik is om as
kontroleland te dien nie, en dat die hof nie met vertroue kan staatmaak
op enige
vergelyking tussen die per hektaar opbrengs van land 3A en die ander
sojaboonlande nie. Die verweerder het verskeie deskundige
getuies geroep wat die
swak oes op die 170 ha aan ongunstige grondtoestande toegeskryf het. Hierdie
getuies het die nadelige invloed
van 'n te hoë grond-pH, en die beweerde
verbrakking van sekere van hierdie sojaboonlande beklemtoon.
Aangesien die pH-vlak en beweerde verbrakking van die verskillende
sojaboonlande onderling van mekaar verskil, is dit nodig om tussen
die
verskillende lande te onderskei.
Land 3A (30 ha), wat die eiser as kontroleland gebruik het,
lê wes
16
van die Koedoeskop - Thabazimbi grondpad ("die pad"). Al die ander lande
lê oos van die pad en nader aan die Krokodilrivier.
Land 3A lê direk
oorkant die pad van land 1B (45 ha) en land 2A (45 ha). Land 1B en land 2A, wat
vir alle praktiese doeleindes
aanmekaar grens, word dus slegs deur die pad van
land 3A geskei. Land 4B (30 ha) lê 'n paar honderd meter noord van land
3A.
Land 5A (30 ha) en land 5B grens aanmekaar en lê ongeveer 7km suid van
land 3A. Volgens die eiser was slegs 20 ha van land
5B onder sojabone.
Wat ligging en verbouing betref, was daar geen noemenswaardige verskille
tussen land 3A as kontroleland enersyds, en die ander lande
andersyds nie. Dit
blyk in die eerste plek dat die meeste van die ander lande wat die 170 ha
opgemaak het, in die direkte omgewing
van die kontroleland, land 3A, geleë
was. In die tweede plek was al 200 ha voor aanplanting van die sojabone presies
eners bewerk.
Na aanplanting was al 200 ha onder besproeiing gewees, en was al
die lande aan dieselfde klimaatstoestande en behandeling onderworpe.
Die verweerder het in die eerste plek aangevoer dat die pH-vlakke van die
verskillende lande wat die 170 ha opgemaak het, aansienlik
hoër was as
17
dié van land 3A, en dat land 3A gevolglik nie as ware kontroleland
gebruik kan word nie. Die hoe pH-vlakke is trouens een van
die redes wat
díe verweerder aangevoer het vir die eiser se swak sojaboonoes op die 170
ha lande wat met Classic bespuit is.
Die onbetwiste getuienis van die eiser
is dat hy in die 1990/91 oesjaar 2,95 ton sojabone per hektaar van die
kontroleland, land 3A,
geoes het. Daarteenoor was die opbrengs van die ander 170
ha lande wat met Classic bespuit was, baie laer gewees. Die gemiddelde
opbrengs
oor die 170 ha was maar 1,09 ton sojabone per hektaar. Die vraag is egter of die
eiser dieselfde hoë opbrengs as wat
hy op land 3A behaal het, op die ander
170 ha lande sou behaal het indien daardie lande nie met Classic bespuit was
nie.
Die verweerder het aangevoer dat die 170 ha lande vanweë hulle
ongunstige grondtoestande in ieder geval 'n swakker opbrengs as
land 3A sou
opgelewer het. Die hof a quo het dit aanvaar, en in die lig van die deskundige
getuienis van die getuie Weber bevind
dat die ander lande vanweë swakker
grondtoestande nie almal 2,95 ton per hektaar soos land 3A sou opgelewer het
18
nie. Die getuie Weber het egter nie getuig dat die gemiddelde opbrengs van
die 170 ha lande so laag as 1,09 ton per hektaar sou wees
nie.
Weber was die
bestuurder van die landbou-ontwikkelingsafdeling van die Magaliesbergse
Graankoöperasie ("MGK"), en het veral navorsing
en voorligting met
betrekking tot die verbouing van sojabone en koring in die betrokke streek
gedoen. Dit moet in gedagte gehou word
dat Weber nie deur die eiser nie, maar
deur die verweerder as deskundige getuie geroep is. Weber het die eiser as 'n
goeie boer beskou,
en hom as 'n sg "drie-ton boer" beskryf, bedoefende dat die
eiser in 'n gemiddelde oesjaar 'n gemiddelde opbrengs van 3 ton sojabone
per
hektaar op daardie besondere lande sou kon produseer. Volgens Weber was 1990/91
egter 'n swak oesjaar vir sojabone en het meeste
boere 'n 15% tot selfs 30%
oesverlaging ondervind. Weber het nie saamgestem met die getuie Meintjies, 'n
landbou-ekonoom in diens
van die MGK, dat 1990/91 'n gemiddelde oesjaar was nie.
Weber het egter toegegee dat as die eiser daardie jaar 2,95 ton per hektaar
op
land 3A geoes het, wat inderdaad die geval was, die eiser waarskynlik een van
die boere was wat wel 'n normale oes
19
daardie jaar gemaak het.
Weber het in die lig van die verskillende pH-vlakke van die
onderskeie lande die volgende beramings gegee van die per hektaar
opbrengs
wat die eiser normaalweg van elkeen van sy ander sojaboonlande in
die 1990/91
oesjaar kon verwag het:
Land 1B: 2,95 ton
Land 2A: 2,95 ton
Land 4B: 2,0 - 2,2 ton (sê 2,1)
Land 5A: 2,95 ton
Land 5B: 1,5 ton
Geneem oor die volle 170 ha van
gemelde vyf lande gee dit 'n gemiddeide opbrengs van 2,63 ton per hektaar.
Dat hierdie 'n konserwatiewe beraming van Weber was, blyk uit die feit dat
die eiser jaar na jaar met sukses sojabone op daardie selfde
lande verbou het,
ondanks die beweerde nadelige effek wat 'n hoë grond-pH op die oes sou
gehad het. Volgens die eiser het sy
opbrengs tot so hoog as 4 ton sojabone per
hektaar gemiddeld gegaan, en het hy die voorafgaande twee jaar 'n gemiddelde
20
opbrengs van 3,1 tot 3,2 ton per hektaar gehad, Alhoewel die verweerder die
eiser gekritiseer het omdat hy nie bewyse van vorige jare
se oeste
voorgelê het nie, is daar geen rede waarom hierdie getuienis van die eiser
nie aanvaar moet word nie.
Weber het getuig dat die opbrengs van 'n bepaalde
land deur die grond-pH van daardie land beïnvloed word, en dat die ideale
pH
vir die produksie van sojabone in daardie streek tussen 6,0 en 7,5 ís.
Indien die grond-pH van 'n besondere land egter bo
8,2 styg, soos in die geval
van sekere van die eiser se lande, sal die produksie volgens Weber daaronder
begin ly. In die lig van
die getuienis van een van die verweerder se ander
deskundige getuies, dr Smit, het Weber waarskynlik te veel waarde aan die hele
kwessie van grond-pH geheg. Volgens dr Smit mag 'n hoë grond-pH die
beskikbaarheid van voedingselemente vir plante beïnvloed.
Daar is egter
geen getuienis dat dit voor of na die betrokke seisoen ooit 'n probleem op
hierdie betrokke lande was nie. Die hof
a quo het in ieder geval die eiser se
oesverlies bereken aan die hand van Weber se verwagte opbrengs vir elke
afsonderlike land.
Die eiser se werklike
21
oesopbrengs van 1,09 ton per hektaar van die 170 ha lande is natuurlik baie
laer as Weber se konserwatiewe oesberaming van gemiddeld
2,63 ton per hektaar.
Die hoë grond-pH van die eiser se lande bied dus geen verklaring vir die
besonder swak oes op die 170
ha wat met Classic bespuit is nie.
Die hoë
grond-pH is ook in 'n ander verband as moontlike rede vir die eiser se
oesverlies geopper. Dit is aan die hand gedoen
dat die toediening van Classic op
die eiser se lande met 'n hoe grond-pH deels verantwoordelik kon wees vir die
eiser se oesverlies.
Dit staan egter vas dat die toediening van Classic op lande
met 'n hoë grond-pH geen addisionele nadelige effek op die sojabone
as
sodanig sou hê nie. Dit kon slegs 'n moontlike verlengde nawerking gehad
het op sg gevoelige opvolggewasse wat daama op
dieselfde lande geplant is.
Die verweerder het 'n tweede rede aangevoer waarom land 3A nie as ware
kontroleland kan dien nie, en waarom die oesopbrengs op die
170 ha soveel
swakker as op land 3A was, nl die beweerde verbrakking van die lande.
Die verweerder se tegniese adviseur, Pretorius, het getuig dat
sekere
22
van die lande aan verbrakking onderhewig was. Hy het die eiser se lande 1B en
2A (saam 90 ha) op 29 Januarie en weer op 4 Februarie
1991 besoek nadat die
eiser 'n klagte ingedien het oor Classic se swak beheer van purperwinde
enersyds, en die vergeling, groeivertraging
en verdwerging van sy sojabone
andersyds. Pretorius se standpunt was dat die eiser se probleem nie aan die
toediening van Classic
nie, maar aan die swak grondtoestande (te wete
verbrakking en 'n hoë pH) van die betrokke lande te wyte was. Pretorius het
later
toegegee dat die beweerde nadelige effek van 'n hoë grond-pH nie sy
eie wysheid was nie, maar dat hy dit by Weber gehoor het.
Pretorius self het veral klem gelê op verbrakking wat hy op die lande
sou waargeneem het. Dit moet in gedagte gehou word dat
Pretorius slegs lande 1B
en 2A ondersoek het. Volgens hom het die eiser die grootte van daardie twee
lande as 86 ha opgegee, en het
die eiser nie oor enige skade aan ander
sojaboonlande gekla nie. Hy sê hy het eers later daarvan bewus geword dat
die eiser
in totaaï 170 ha sojabone met Classic bespuit het.
In die kiagte-ondersoekvorm wat Pretorius op 4 Februarie
1991
23
voltooi het, beweer hy dat " groot dele van die grond" verbrak het. In sy
getuienis sê Pretorius slegs dat hy "positiewe tekens
van verbrakking"
gekry het. Hy het grondmonsters van land 2A geneem, maar erken dat hy spesifiek
die baie swak dele daarvoor uitgekies
het. Tydens kruisondervraging gee hy toe
dat hy slegs "aanduidings van verbrakking" gekry het, en ook nie in "groot dele"
soos in
die ondersoekvorm gemeld nie, maar slegs in dele.
Die hof a quo het Pretorius as 'n onindrukwekkende en onbetroubare getuie
bestempel, en sy getuienis slegs aanvaar vir sover dit deur
ander geloofwaardige
getuies ondersteun is. Daar is myns insiens geen rede om van daardie bevinding
te verskil nie.
Die verweerder se ander deskundige getuie was dr Smit, die bestuurder van
navorsing en ontwikkeling by die verweerder. Hy het nooit
self die lande besoek
nie en steun grootliks op die onbetroubare getuienis van Pretorius met
betrekking tot die beweerde verbrakking.
Volgens Smit toon die ontleding van die
grondmonsters wat Pretorius op selektiewe wyse in die sg brakkolle op land 2A
geneem het,
dat daardie grond aan verbrakking grens. Dit
24
sê natuurlik nog niks omtrent verbrakking in enige van die ander lande
nie. Volgens Smit se getuienis het grondeienskappe in
ieder geval 'n baie klein
invloed op die werking van Classic aangesien dit 'n blaartoegediende
onkruiddoder is.
Smit het verder getuig dat Classic 'n sterk
groei-inhibeerder is en dat gevoelige plante verskeie skadesimptome soos
verkorte internodes
en verkleuring sal toon. Alhoewel sojabone nie veronderstel
is om gevoelig vir Classic te wees nie, blyk dit uit die getuienis dat
die
intemodes, d w s die deel tussen die litte, inderdaad so verkort het dat die
peule laag aan die plant in 'n bos gedra is. Volgens
die eiser se getuienis het
die plante hulle peule so laag op die grond gedra dat dit nie effektief met 'n
normale stroper geoes kon
word nie.
Smit het hierdie verskynsel probeer verklaar aan die hand van Pretorius se
gemelde waarnemings en sekere getuienis van Meintjies.
Soos gemeld, het Smit
self nooit die lande besoek nie. Meintjies het op 11 Maart 1991 die eiser se
plaas besoek en deur land 3A,
land 1B en land 2A gestap. Die
25
sojaboonplante in land 1B en land 2A het vir hom gelyk asof hulle verdroog
terwyl die grond self nat was. Smit het toe die afleiding
gemaak dat dit vanwee
braktoestande is wat die plante in nat grond verdroog. Volgens Smit se teorie
het die vermeende braktoestande
weer meegebring dat die Classic 'n groter
nadelige invloed op die sojaboonplante gehad het as wat dit normaalweg sou gehad
het, met
die gevolg dat die intemodes verkort het en die peule in 'n bos gedra
is.
Die goeie groei van die opslagbone - juis op die beweerde brakkolle - en van
die koring op dieseïfde lande in die daaropvolgende
seisoen, toon myns
insiens dat Smit se teorie nie met die werklikheid strook nie. Sy verklaring dat
die skielike verbetering te wyte
was aan loging van die oortollige soute uit die
bogrond as gevolg van reën en besproeiing, is myns insiens onoortuigend.
Die
hof a quo was ook nie bereid om "die byna akrobatiese metamorfoses wat die
eiser se lande oor so kort tydperk volgens die teorie
moes ondergaan", te
aanvaar nie. Smit se teorie verklaar ook nie die swak opbrengs op lande 4B, 5A
en 5B nie, waar daar geen sprake
van
26
verbrakking was nie.
Die eiser se saak berus egter nie net op die kontrole
wat land 3A bied nie. Daar is ook die onbetwiste getuienis van die eiser self
dat hy vir baie jare met sukses sojabone op al hierdie verdagte lande verbou
het, en dat hy die voorafgaande twee jaar 'n gemiddelde
opbrengs van 3,1 tot 3,2
ton per hektaar gehad het. Die drastiese val na 'n gemiddelde opbrengs van slegs
1,09 ton per hektaar in
die 1990/91 oesjaar kan tog sekerlik nie aan 'n skielike
verbrakking toegeskryf word, wat dan op merkwaardige wyse weer net so skielik
verdwyn nie.
Na my oordeel is die afleiding onvermydelik dat die eiser se skade deur een
of ander gebrek in die Classic veroorsaak is. Dit volg
dus dat die eiser sy
bewyslas in hierdie opsig gekwyt het, en dat die appèl op hierdie punt
nie kan slaag nie.
3.
Het die eiser die omvang van sy skade behoorlik bewys?
Die hof a quo het Weber se beraming van die
waarskynlike
27
opbrengs per hektaar van elke afsonderlike land as uitgangspunt geneem, die
eiser se werklike opbrengs per hektaar van die betrokke
land daarvan afgetrek,
en sodoende die oesverlies per hektaar van elke land bepaal. Daardie syfer is
eenvoudig vermenigvuldig met
die grootte van 'n besondere land om sodoende die
oesverlies van daardie land te bepaal. Sodoende het die hof a quo die eiser se
totale oesverlies oor al sy lande op 222,18 ton bereken. Die verweerder se
beswaar teen hierdie berekening is dat die eiser nooit
die grootte van elke land
behoorlik bewys het nie, en dat die hof a quo dus nie in staat was om die totale
oesverlies te bepaal nie.
Volgens die eiser was die lande presies opgemeet
toe die besproeiingstelsels destyds ingesit is. Land 1B en land 2A was uitgemeet
in blokke van 45 ha elk, dus saam 90 ha. Die oppervlakte van 'n plaaspad wat
tussen die twee lande deurloop, en die grootte van 'n
besproeiingsdam op een van
die lande, maak egter 'n verskil van ongeveer 4 ha wat van die 90 ha afgetrek
moet word. Dit laat 'n grootte
van 86 ha vir lande 1B en 2A, wat ook die grootte
is wat die eiser destyds aan Pretorius genoem het. Die grootte van
28
lande 4B (30 ha) was volgens die eiser gladnie deur 'n pad geaffekteer nie.
Daardie land is met behulp van 'n spilpunt besproei. In
die geval van lande 5A
(30 ha) en 5B het die paaie aan die buitekant van die lande geloop en het dit
nie die grootte van die lande
beïnvloed nie. Daar was wel 'n dam op land 5B
maar dit was op die onderste deel van die land wat nie met sojabone beplant was
nie. Die eiser het getuig dat 50 ha van lande 5A en 5B met sojabone beplant was.
Dit beteken dat 20 van die 30 ha van land 5B onder
sojabone was. Die sketsplan
wat die eiser voorberei het, bevat egter 'n nota dat daar op 15 ha van land 5B
nie sojabone geplant was
nie. Dít sou m a w 'n totaal van 45 ha vir lande
5A en 5B gee, en nie 50 ha soos díe eiser getuíg het nie. Van
die
170 ha waarop die eiser sy eis baseer het, moet dus 9 ha afgetrek word.
Díe hof a quo het bevind daí die eiser
bewys het dat hy,
konserwatief bereken, 160 ha oos van die pad onder sojabone gehad het. Dit was
die lande wat met Classic bespuit
was.
Die eiser is 'n ervare boer wat hierdie lande reeds jare bewerk, en dit is
ondenkbaar dat hy nie sou weet hoe groot die lande is nie.
Sy getuienis
29
in hierdie verband is nie weerspreek nie. Na my oordeel kan daar nie met die
hof a quo se bevinding van 160 ha ingemeng word nie.
Dic verweerder het
betoog dat die eiser ook in 'n ander opsig versuim het om die omvang van sy
skade te bewys. Volgens die verweerder
het die eiser vervoerkoste bespaar, maar
het hy versuim om die omvang van die beweerde besparing te bewys. Die eiser se
oesverlies
van 222,18 ton sojabone is bereken teen R629 per ton, wat uitwerk op
'n totaie bedrag van R139 751,22. Die verweerder voer egter
aan dat die eiser
die uitgawe wat hy andersins sou moes aangegaan het om daardie 222,18 ton
sojabone van sy plaas na die MGK op Northam
te vervoer, bespaar het, en dat
daardie besparing van sy skade afgetrek moet word. Daardie besparing, sê
die verweerder, het
die eiser nooit bewys nie, met die gevolg dat hy ook nie sy
skade bewys het nie.
Die eiser moet natuurlik sy skade bewys. Die algemene beginsel in hierdie
verband word soos volg in
Hersman v Shapiro & Co
1926 TPD 367
op
379-380 saamgevat:
"Monetary damage having been suffered, it is necessary for
the
30
Court to assess the amount and make the best use it can of the evidence before
it. There are cases where the assessment by the Court
is very little more than
an estimate; but even so, if it is certain that pecuniary damage has been
suffered, the Court is bound to
award damages. It is not so bound in the case
where evidence is available to the plaintiff which he has not produced; in those
circumstances
the court is justified in giving, and does give, absolution from
the instance."
(Vgl
Esso Standard SA (Pty) Ltd v
Katz
1981(1) SA 964(A) op 969H-
970H.)
Die plig wat daar op 'n eiser rus om alle beskikbare getuienis wat sou
kon
bydra tot die berekening van sy skade voor die hof te
lê, word verder soos volg
in
Mkwanazi v Van der Merwe and
Another
1970(1) SA 609(A) op 631H-
632D verduidelik:
"Die algemene benadering dat die hof met die getuienis tot sy beskikking sy bes
moet doen om die bedrag van gelede skade te bereken
is aan 'n dergelike
voorbehoud onderhewig gestel in die saak van Klopper v Mazoko,
1930 T.P.D. 860
op bl 865, waar Regter TINDALL opgemerk het
dat:
'.... when a plaintiff is in a position to lead evidence which will enable the
Court to assess the figure he should do
so
31
and not leave the Court to guess at the
amount.'
Die rede vir so 'n voorbehoud is dan ook ooglopend. Word 'n hof onder 'n
verpligting gestel om te poog om op die grondslag van onvolledige
getuienis 'n
berekening van skade te maak in die geval waar daar inderdaad afdoende of dan
wel vollediger getuienis van skade beskikbaar
is, kan dit ex post factor blyk
dat die hof se berekenings nie met die werklikhede strook nie en 'n onreg kan
maklik die een of die
ander van die partye aangedoen word. Word die weerhouding
van beskikbare getuienis ten opsigte van skade eenmaal deur die howe op
dié wyse geoorloof kan dit maklik gebeur dat 'n party doelbewus getuiems
weerhou in die hoop dat die hof se skadeberekening
meer in sy guns sal uitval as
wat die geval sou gewees het, indien hy die beskikbare getuienis wel voor die
hof geplaas het. Die
alreeds moeilike taak wat op 'n hof berus in verband met
skadebepaling sou daardeur oneindig moeiliker gemaak kon word, en die faktore
wat meewerk tot die skep van onsekerheid by sodanige bepaling sou vermenigvuldig
word."
Die aspek van die vervoer van die sojabone na
die MGK is bloot terloops in die loop van die kruisondervraging van die eiser
aangeroer.
Die eiser is gevra by watter tak van die MGK hy sy sojabone gelewer
het, en hoe ver dit van sy plaas af was. Hy het geantwoord dat
dit die
Northam-tak was wat 36 km ver was. Hy is verder gevra hoe die sojabone na die
MGK op Northam vervoer
32
was, waarop die eiser geantwoord het dat hy dit soms met sy eie vragmotors
vervoer het, en dat hy soms 'n kontrakteur met 'n 30- ton
vragmotor gehuur het
om dit te doen. Dit was die totale omvang van die kruisondervraging op hierdie
aspek. Dit is nooit aan die eiser
gestel of gesuggereer dat hy hoegenaamd op
vervoerkoste bespaar het deurdat hy minder sojabone gelewer het nie. Dit is bv
denkbaar
dat hy vanweë die oesverlies nie altyd vol vragte gelewer het nie,
en dat daar in werklikheid geen besparing op vervoer was
nie. Na my mening kan
dit dus nie sonder meer aanvaar word dat daar inderdaad 'n besparing in hierdie
verband was nie. Maar selfs
indien dit aanvaar sou word dat daar moontlik wel so
'n besparing was, is hierdie aspek nooit behoorlik in die loop van die verhoor
in geskil geplaas nie, en is dit die eerste maal tydens argument in die hof a
quo geopper. Na my mening was hierdie aspek nie so
voor die hand liggend dat die
eiser daarop bedag moes gewees het nie. In die omstandighede kon dit na my
mening nie van die eiser
verwag gewees het om volledige getuienis omtrent sy
vervoerkoste en die moontlike besparing daarop aan die hof voor te lê nie.
Daar is in hierdie saak in ieder geval geen sprake van "die weerhouding van
33
beskikbare getuienis", soos bedoel in die aangehaalde passasie in die
bogenoemde
Mkwanazi
saak nie.
Die verweerder kon net sowel tydens
argument aangevoer het dat die eiser nie bewys het hoeveel hy op arbeidskoste
bespaar het waar
die oes soveel kleiner was nie. Daar kan aan ander voorbeelde
gedink word. Moet 'n eiser se eis ingevolge die Motorvoertuigongelukkewet
84 van
1986 vir verlies aan inkomste as gevolg van liggaamlike beserings van die hand
gewys word as hy nie toevallig ook bewys watter
bedrag hy aan reiskoste bespaar
het terwyl hy nie kon werk nie? Na my oordeel moet dergelike beweerde besparings
wat die beraming
van skade sydelings kan raak, en wat nie redelikerwys deur 'n
eiser as 'n geskilpunt voorsien kan word nie, minstens in die loop
van die
verhoor behoorlik as geskilpunt geopper word. Indien dit nie die geval is nie,
sal 'n eiser elke denkbare besparing, hoe
onwaarskynlik ook al, in detail moet
behandel vir geval dit later betoog mag word dat dit die berekening van sy skade
mag beïnvloed.
Na my oordeel het die eiser sy basiese eis van oesverlies
bewys, en
34
kon dit nie van hom verwag word om ook elke denkbare of selfs
ondenkbare
ondergeskikte aspek wat nooit in geskil geplaas was, te bewys nie.
In strafsake
geld die beginsel dat die staat, op wie die bewyslas deurgaans
rus, nie verplig
is om elke denkbare punt waarop 'n beskuldigde moontlik sou
kon steun, by
voorbaat te weerlê nie. (In
R v Mlambo
1957(4) SA 727(A) het
Malan AR
soos volg op 738A opgemerk:"In my opinion, there is no obligation upon
the
Crown to close every avenue of escape which way be said to be open to an
accused." Dit was 'n minderheidsuitspraak wat later met goedkeuring
aangehaal
is in
S v Rama
1966(2) SA 395(A) op 401A-C; en
S v Sauls and
Others
1981(3) SA 172(A) op 182G-H.) Na my mening geld hierdie beginsel a
fortiori
in die geval van 'n siviele geding.
Die hof a quo het hierdie beweerde besparing op
vervoerkoste
kortliks soos volg in die uitspraak afgehandel:
"Die vervoeruitgawes wat bespaar word moet daarvan afgetrek word. Die heen en
weer rit na Northam is ongeveer 72 kilometer. Met 'n
30 ton vragmotor sou daar
7,4 vragte gery gewees het, dws 8 ritte van 72 kilometer, naamlik 576 kilometer.
Dit is kwalik denkbaar
dat die koste meer as R10,00 per kilometer kan
wees.
35
Enige fout in hierdie verband word ruimskoots vergoed in die ander berekenings
wat uiters konserwatief teenoor die eiser is. Dit
bring eiser se skade op R133
991,22 te staan."
Daar was geen getuienis wat die
koste van vervoer met 'n 30-ton vragmotor sou beloop het nie. Die R10,00 per
kilometer was 'n bedrag
wat die verhoorregter self geskat het. Maar waar die
hele aangeleentheid van 'n moontlike besparing op vervoerkoste nooit tydens
die
verhoor ter sprake was nie, en daar goed moontlik geen sodanige besparing was
nie, moes die hof a quo dit na my oordeel gladnie
in ag geneem het nie.
Aangesien daar egter geen teenappél is nie, is dit nie nodig om verder
met hierdie aftrekking van R5
760,00 te handel nie.
Ek is van oordeel dat die
eiser die omvang van sy skade behoorlik bewys het. Ook op hierdie punt kan die
appèl dus nie slaag
nie.
36
Die appél word van die hand gewys met koste.
F H
GROSSKOPF, AR Joubert AR E M Grosskopf AR Howie AR
Olivier AR Stem saam