About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 36
|
|
S v Carolus (700/93) [1995] ZASCA 36 (29 March 1995)
Saaknommer: 700/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
ISAAC CAROLUS
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
Coram:
NESTADT, F H GROSSKOPF et HOWIE ARR
Verhoordatum:
22 Maart 1995
Leweringsdatum:
29 Maart 1995
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant is in die Rondgaande
Plaaslike Afdeling vir die Westelike Rondgang Distrik deur M J Strydom R en twee
assessore op twee
aanklagte van roof en een van moord skuldig bevind. Die hof a
quo het die doodvonnis vir die moord opgelê. Die appellant is
verder tot
10 jaar gevangenisstraf op elk van die twee aanklagte van roof gevonnis, maar
dit is gelas dat die twee termyne van 10
jaar gevangenisstraf samelopend
uitgedien word. Die appellant appelleer ingevolge artikel 316 A van die
Strafproseswet 51 van 1977
("die Strafproseswet") teen sy skuldigbevinding op
die aanklag van moord en teen die doodvonnis wat hom vir die moord opgelê
is.
Ene Charles Dangatye ("Charles") het vir die klaer in die eerste
roofaanklag, C J Janse van Vuuren ("die klaer"), op sy plaas in die
Rustenburg
distrik gewerk. Dit is gemene saak dat die appellant op Sondag 17 September 1989
saam met Charles na die klaer se plaas
gegaan het; dat hulle twee 'n
medewerknemer van Charles, ene Samuel Moraki, die Maandag in die veld op
3
die plaas oorrompel en vasgebind het, en sy mond toegebind het nadat 'n lap
in sy mond gedruk is; dat hulle daarna ook die klaer in
die veld oorrompel en
vasgebind het, 'n lap in sy mond gedruk het, sy mond toegebind het en hom beroof
het; dat hulle twee toe met
die klaer se bakkie na die opstal op die plaas gery
het waar hulle die klaer se eggenote, mev W M Janse van Vuuren ("die
oorledene"),
na 'n pakkamer buite gelok en daar oorrompel het. Volgens die
appellant se weergawe het Charles die oorledene in die pakkamer om
die nek
gegryp en gewurg terwyl hy vir die appellant geskreeu het om haar vas te maak.
Die appellant het 'n stuk tou gekry en die
oorledene se hande agter haar rug
vasgebind. Hy het ook haar voete vasgebind. Charles het toe in die appellant se
teenwoordigheid
'n lap in die oorledene se mond ingedruk en 'n ander doek om
haar mond vasgemaak. Daarna is die twee die huis in waar hulle die kluis
oopgemaak het en onder andere twee vuurwapens en 'n klomp geld geneem het. Die
klaer en Moraki het die aanval oorleef, maar die oorledene
is dood as gevolg van
versmoring.
Die appellant is op 27 Februarie 1990 gearresteer. Hy het
dieselfde
4
dag vrywillig 'n verklaring voor 'n kolonel in die polisie afgelê en
sekere uitwysings gedoen. Om een of ander rede wat nie
opgeklaar is nie, het die
appellant eers op 19 Maart 1993, d w s meer as drie jaar later, voor 'n landdros
in Rustenburg verskyn
om ingevolge artikeï 119 van die Strafproseswet op
die drie aanklagte teen hom te pleit. In die verklaring wat hy toe in die
hof
afgelê het, het die appellant vir die eerste maal beweer dat hy die
misdade onder dwang van Charles gepleeg het.
Die appellant se verhoor in die
hof a quo het op 22 November 1993 'n aanvang geneem. Hy het op al drie aanklagte
onskuldig gepleit.
Die grondslag van sy verdediging was dat Charles hom gedwing
het om aan die misdade deel te neem. Charles was op daardie stadium
reeds
skuldig bevind en gevonnis op dieselfde aanklagte as dié waarop die
appellant tereggestaan het.
Die hof a quo het die appellant se verweer dat hy
onder dwang van Charles opgetree het, myns insiens tereg as vals verwerp. Die
aanvaarbare
getuienis het duidelik getoon dat daardie verweer nie slegs hoogs
onwaarskynlik is nie, maar inderdaad bo redelike twyfel vals is.
Die appellant
se advokaat het
5
ook nie voor ons betoog dat die hof a quo in hierdie opsig enigsins fouteer
of
misgetas het nie. Dit is egter namens die appellant betoog dat die hof a
quo op
die aanvaarde getuienis fouteer het deur te bevind dat die appellant
die opset by
moontlikheidsbewussyn gehad het om die oorledene te dood.
Volgens hierdie
betoog was die appellant bloot nalatig en kon die hof a quo
hom slegs aan
strafbare manslag skuldig bevind het.
Die appellant het op sy eie weergawe gehelp om die oorledene
te
oorweldig. Hy is die persoon wat haar hande en voete vasgebind het. Die
appellant het gesien dat Charles haar om die nek gryp en wurg, en hy het
daar
gestaan toe Charles die lap in die oorledene se mond gedruk het en haar
mond
met 'n doek toegebind het. Die appellant het soos volg in dié verband
getuig:
"Toe ek daar is, is waar hy die lappe uitgehaal heí, in die ou miesies
se mond ingedruk het en 'n lap oor haar mond vasgemaak
het terwyl ek daar staan
.... as ek mooi onthou, dit is een lap wat hy in haar mond ingedruk het en die
ander lap het hy om haar
mond vasgemaak.
Is dit 'n groot lap wat hy in haar mond gedruk het? - Ja, dit is 'n groot lap
gewees.
Het die ou miesies net gelê met haar mond oop dat hy
die
6
lap insit? — Hy het haar mond oopgedruk, met geweld oopgemaak en die lap
ingedruk en hom vasgemaak.
Hoe het hy hom ingedruk? — Hy het haar mond oopgemaak en die lap, die lap
net so gevat en gerol en in die ou miesies se mond
ingedruk."
Die distriksgeneesheer wat
die lykskouing behartig het, het
skaafwonde en kneusplekke in die omgewing van die oorledene se mond
en
neusgate gevind. Hy het getuig dat sy aan versmoring dood is. Haar
lugweë
was volgens hom deur die lap agter in haar mondholte
geblokkeer.
Die klaer se een buurman, J G du Plessis, was die eerste persoon wat
op
die oorledene se lyk afgekom het. Hy is in die loop van sy
getuienis na 'n foto
van die oorledene verwys waar mens 'n lap kan sien wat
om haar nek hang. Sy
getuienis in dié verband is soos volg:
"Ek sien op [foto] F4 is daar 'n lap of 'n doek om haar nek. -- Dit is korrek.
Daardie doek was om haar mond en oor haar neus, so.
Toe ek die lap van haar mond
afvat, aftrek, vind ek dat haar mond vol lap geprop was. Die lap het ek
verwyder, uit haar mond uitgetrek
en ek het gevind dat mev Van Vuuren reeds
oorlede was."
7
Die oorledene se mond en neus was dus beide met die doek toegebind, wat
opsigselfstaande asemhaling sou bemoeilik het.
Du Plessis het die grootte van
die lap, en die wysc waarop dit in die oorledene se mond ingedruk moes gewees
het, soos volg beskryf:
"Stukke lap? — Stukke lap, maar dit was so 'n lang stuk, een
stuk
Hoe lank was hy? Omtrent so .... (tussenbei) -- Sê so 18 duim na 20
duim.
Hoe breed sou u sê? — Twee en 'n
half duim, drie duim.
Die ander lappe? Hoeveel ander lappe sou u sê was daar in haar mond?
— Dit was net die een stuk wat in haar mond ingeprop
was. Jy kan sien hy
was ingedruk.
Waarom sê u 'n mens kon sien dat hy ingedruk is? --Want hy was so half
'zig-zag' in haar mond in. Weet, hy was, jy kan sien
hy is 'by force'
ingedruk.
Wat bedoel u met 'zig-zag' in haar mond?
-- Hy was so links en regs so opgevou in haar mond in.
Hy is nie gedraai nie en ingedruk nie? -- Nee, hulle het so 'n stuk lyk my
ingedruk, toe vou hulle hom links en druk huile weer en
vou hulle hom regs en
druk hulle weer. So het hulle so links, regs in haar mond in volgeprop.
As u sê die mond was volgeprop, wat bedoel u daarmee? Sou daar nog lap
kon ingekom het? -- Nee, daar kon nie meer lap inkom
nie."
8
Die appellant het staan en kyk terwyl Charles die lap so in die oorledene se
mond indruk, maar hy het niks daaromtrent gesê
of gedoen nie. Hy het
klaarblyklik gesien dat dit 'n groot stuk lap is wat trapsgewys diep in haar
mond ingedruk word. Hy het gesien
hoedat Charles daarna die verdere doek om haar
mond en oor haar neus bind. Sy optrede voor en na hierdie gebeure toon dat hy
hom
daarmee vereenselwig het. Na die tyd het hy aan die rooftog in die huis
deelgeneem. Voor die tyd het hy daadwerklik deelgeneem aan
die aanval op die
klaer en Moraki toe hulle in die veld oorweldig is. Dit was trouens die
appellant wat die hande en voete van beide
van hulle vasgebind het. In elkeen
van daardie gevalle is daar ook 'n lap in die slagoffer se mond gedruk en 'n
ander lap om sy mond
gebind voordat hy in die veld agtergelaat is. Die klaer en
Moraki het die aanval gelukkig oorleef; die oorledene ongelukkig nie.
Die
appellant het soos volg getuig oor die moontlike gevolge wat hierdie optrede
volgens sy siening vir die slagoffers kon inhou:
"Toe u gesien het Charles bind die drie mense vas en
stop,
9
ekskuus, toe u sien hy druk lappe in hulle monde, het u gedink enige van hulle
gaan sterf? — Nee.
Hof
: Met lappe wat ingedruk is in die mond en lappe om die mond? Twee van
hulle lê in die veld, hande en voete vasgemaak? Wat het
jy gedink gaan
word van hulle? Gaan hulle die lappe uitspoeg en die hande en voete weer losmaak
en teruggaan huis toe? -- Nee, ek
was baie bekommerd gewees, maar ek het nie
geweet of daar enigiemand van daardie persone sal sterf
nie."
Waar hy nie geweet het of enige van die
slagoffers sal sterf nie, het hy klaarblyklik die moontlikheid voorsien dat
hulle wel sal
sterf. Afgesien van enige erkenning wat die appellant in hierdie
verband gemaak het, is die enigste redelike afleiding van al die
feite dat die
appellant inderdaad die moontlikheid van dood voorsien het.
Na my oordeel is
dit dus duidelik dat die appellant, veral in die geval van die oorledene, die
moontlikheid voorsien het dat die dood
mag intree, al was dit uit sy oogpunt
gesien nie noodwendig 'n besonder sterk moontlikheid nie. Nogtans het hy
onverskillig gestaan
teenoor die moontlike intrede van die dood, en het hy hom
daarmee versoen. Myns insiens is dit bo redelike twyfel bewys dat die appellant
nie slegs nalatig was soos betoog nie, maar dat hy die
10
nodige opset in die vorm van dolus eventualis gehad het.
Die appellant is
waarskynlik as mededader vir die moord aanspreeklik. Dit staan egter vas dat hy
op grond van die beginsels van gemeenskaplike
oogmerk aan die moord op die
oorledene skuldig is. Die appël teen sy skuldigbevinding aan moord kan
gevolglik nie slaag nie.
Vervolgens moet bepaal word of die doodvonnis die
enigste gepaste vonnis vir die moord is. Die strafverswarende faktore is voor
die
hand liggend en gewigtig. Die oogmerk van die appellant en Charles was roof
vir eie gewin. Die oorledene was 'n weerlose vrou van
58 jaar oud wat alleen by
die plaashuis was. Sy is in die loop van die rooftog deur die twee mans
oorweldig en vermoor. Die gemeenskapsbelang
tree sterk op die voorgrond wanneer
die gepaste vonnis in dergelike gevalle oorweeg word. Dit was 'n sinnelose en
wrede daad.
Daar is egter ook sekere belangrike strafversagtende faktore wat nie uit die
oog verloor moet word nie. In die eerste plek was dit
Charles, en nie die
appellant nie, wat die leiding geneem het. Dit was aanvanklik Charles se
idee
11
om die roof te pleeg, en dit was hy wat die inisiatief geneem het. Hy het op
die plaas gewerk en hy het hulle optrede die betrokke
Maandag beplan. Dit is
waarskynlik dat hy die opdragte gegee het en dat die appellant sy opdragte
uitgevoer het. Dit was ook Charles,
en nie die appellant nie, wat die kritieke
handeling verrig het wat uiteindelik die oorledene se dood veroorsaak het.
In die tweede plek was die vorm van opset dolus eventualis en nie dolus
directus nie. Dit verdien veral oorweging waar die eventuele
intrede van die
dood nie as 'n besonder sterk moontlikheid voorsien is nie.
(S v Ntuli
1991(1) SASV 137(A) op 143b en 144b-c:
S v Ndinisa en Andere
1991(2)
SASV 117(A) op 127 r7g;
S v Majosi and Others
1991(2) SASV 532(A) op
540e-f en 540j-541a.)
'n Faktor wat in 'n sekere sin neutraal is, maar wat ek in die appellant se
guns in aanmerking neem, is die feit dat hy en Charles
nie met potensieel
dodelike wapens soos vuurwapens en messe na die toneel van die misdaad gegaan
het nie.
Die appellant se advokaat het betoog dat die appellant berou
getoon
12
het deurdat hy teenoor sy moeder gaan bieg het dat hy die misdade gepleeg
het. Die appellant het nooit geruig dat hy berou het nie,
en die valse verweer
waarmee hy in die hof a quo volhard het, dui ook nie op enige werklike berou
nie.
Daar is verder namens die appellant betoog dat die moontlikheid van sy
rehabiïitasie nie buite rekening gelaat moet word nie.
ïn die lig van
sy lang lys vorige veroordelings is die vooruitsig op rehabilitasie ongelukkig
nie besonder goed nie.
Die appellant is in Oktober 1990, ongeveer 'n jaar na die pleging van die
onderhawige misdade, aan strafbare manslag skuldig bevind
en tot 8 jaar
gevangenisstraf gevonnis. Dit is onseker wanneer daardie misdaad gepleeg is,
maar dit is beslis 'n ernstige strafverswarende
faktor.
Alles in ag genome is ek nogtans van oordeel dat die doodvonnis nie die
enigste gepaste vonnis vir die moord op die oorledene is nie.
Na my mening
behoort die doodvonnis vervang te word met 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf
vir die moord. Die vonnisse van 10
jaar gevangenisstraf op elk
13
van die twee roofaanklagte moet samelopend met die vonnis van 25 jaar
gevangenisstraf uitgedien word.
Die volgende bevel word gemaak:
1. Die appèl teen die skuldigbevinding op die aanklag van moord word
afgewys.
2. Die appèl teen die doodvonnis word
gehandhaaf.
3. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 25 jaar
gevangenisstraf vir die moord.
4. Die vonnisse van 10 jaar gevangenisstraf op elk van die twee aanklagte van
roof moet samelopend met die vonnis van 25 jaar gevangenisstraf
uitgedien
word.
FH Grosskopf AR
Nestadt AR
Howie AR Stem saam