About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1995
>>
[1995] ZASCA 6
|
|
S v Pale en 'n Ander (613/93) [1995] ZASCA 6; [1995] 4 All SA 24 (A) (7 March 1995)
Saak nr 613/93 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JACOBUS PALE EERSTE APPELLANT
EDWARD CLARIVETTE TWEEDE APPELLANT
-en-
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: VIVIER, VAN DEN HEEVER et HOWIE ARR. VERHOOR: 21 FEBRUARIE 1995.
GELEWER: 7 MAART 1995.
UITSPRAAK
VIVIER AR/
2
VIVIER AR:
Die twee appellante ("beskuldigdes 1 en 2") is saam met 'n
ander
("beskuldigde 3") in die Kaapstadse landdroshof skuldig bevind aan 'n oortreding
van art 2(a) van Wet 41 van 1971 deurdat hulle
in verbode afhanklikheidsvormende
medisyne, te wete 31813 mandrax-tablette bevattende metakaloon, handel gedryf
het. Die Wet is sedertdien
herroep deur Wet 140 van 1992 wat op 30 April 1993 in
werking getree het. Beskuldigde 1 is gevormis tot 'n boete van R10 000,00 of
vier jaar gevangenisstraf en 'n verdere agt jaar gevangenisstraf waarvan vier
jaar gevangenisstraf vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde
dat hy nie skuldig
bevind word aan 'n oortreding van art 2(a) van die Wet, gepleeg gedurende die
tydperk van opskorting nie. Beskuldigde
2 is tot agt jaar gevangenisstraf
3
gevonnis. Beskuldigde 3 is gevonnis tot 'n boete
van R25 000,00
of vyf jaar gevangenisstraf plus 10 jaar gevangenisstraf
waarvan 5
jaar op dieselfde voorwaardes opgeskort is as in die geval
van
beskuldigde 1. Op appèl na die Kaapse Provinsiale Afdeling
is
beskuldigde 3 se skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel.
Die
appèlle van beskuldigdes 1 en 2 is afgewys maar hulle is
verlof
verleen om teen hul skuldigbevindings en vonnisse na hierdie Hof
te
appelleer. Verlof om teen die skuldigbevindings te appelleer is
toegestaan op
die enkele grond dat die Kaapstadse landdroshof nie
territoriale jurisdiksie
gehad het om die saak te verhoor nie.
Die tersaaklike feite is die volgende. Op 18 Mei 1989 is 'n wit Mercedes
Benz-motor met registrasienommer FCB 374 T ("die FCB-Mercedes")
naby Malmesbury
op die pad na Kaapstad
4
deur die polisie voorgekeer. Die plek waar die FCB-Mercedes voorgekeer is,
val buite die grense van die Kaapstadse landdrosdistrik.
Die FCB-Mercedes was op
pad na Kaapstad, dit is deur beskuldigde 2 bestuur en beskuldigde 1 het voor
langs die bestuurder gesit.
Hulle is versoek om die polisie na die naaste
polisiestasie te vergesel sodat die voertuig behoorlik deursoek kon word. Hulle
het
dadelik ingewillig en gesê dat die polisie maar kon soek maar dat
hulle niks sou vind nie. By die Table View-polisiestasie
het 'n deursoeking niks
opgelewer nie maar by die polisiestasie in Kaapstad is die betrokke
mandrax-tablette in 32 plastieksakkies
wat in verborge panele in die bakwerk
agter beide voorwiele versteek was, gevind. Beskuldigdes 1 en 2 is daarna
gearresteer. In die
klagstaat, saamgelees met die nadere
5
besonderhede daartoe, is slegs beweer dat die
misdryf in die
tydperk 1 Februarie 1989 tot 15 Junie 1989 en te of naby
Kaapstad
in die Kaapstadse landdrosdistrik gepleeg is en dat die
mandrax-
tablette per motors vervoer is. Die beskuldigdes het dit
so
aanvaar. By die aanvang van die verhoor in die landdroshof het
die
beskuldigdes, wat almal regsverteenwoordiging gehad het, nie
gepleit dat die
hof nie regsbevoegdheid het nie. Die punt dat die
hof nie territoriale
jurisdiksie het nie, is eers in die loop van
argument aan die einde van die
verhoor deur die verdediging
geopper, en deur die landdros, met 'n beroep op
art 110(1) van die
Strafproseswet 51 van 1977 ("die Wet"), verwerp.
Ingevolge art 90(1) van die Wet op Landdroshowe 32 van 1944 is 'n landdroshof
alleen bevoeg om, onderhewig aan die
6
uitbreidings in subartikels (2) tot (9), iemand wat beskuldig
word
van 'n misdryf binne sy distrik gepleeg, te verhoor. Art 110
van die
Wet bepaal as volg:
"110 (1) Waar 'n beskuldigde nie pleit dat die hof nie regsbevoegdheid het
nie, en dit in enige stadium -
(a)
nadat die beskuldigde 'n
pleit van skuldig of van onskuldig gepleit het; of
(b)
waar die beskuldigde 'n ander pleit gepleit het en die hof so 'n
pleit teen die beskuldigde afgewys het,
blyk dat die
betrokke hof nie regsbevoegdheid het nie, word die hof by die toepassing van
hierdie Wet geag
regsbevoegdheid ten opsigte van die betrokke misdryf te hê.
(2) Waar 'n beskuldigde pleit dat die betrokke hof nie regsbevoegdheid het
nie en die pleit gehandhaaf word, moet die hof die saak
verdaag na die hof wat
regsbevoegdheid het."
7
Art 110 is hoofsaaklik bedoel om voorsiening te maak vir die
geval waar 'n bepaalde hof wel jurisdiksie het om die misdaad waarvan
die
beskuldigde aangekla word, te bereg, maar die verkeerde hof is vanweë een
of ander jurisdiksionele feit soos bv dat die
misdaad buite die hof se
regsgebied gepleeg is. Die artikel skep nie substantiewe jurisdiksie nie en kan
nie aan 'n landdros 'n groter
jurisdiksie verleen as wat hy regtens het nie. Dit
verleen bv nie regsbevoegdheid aan 'n landdros om 'n saak te verhoor wat hy
ingevolge
art 89 van die Wet op Landdroshowe nie mag verhoor nie, al betwis 'n
beskuldigde nie die regsbevoegdheid van die hof nie (S v Khumalo
1966(4) SA 161
(N) op 164 H - 165 A, wat handel met art 154 van Wet 56 van 1955, die voorganger
van die huidige art 110; en S v M,
S v S en Andere 1979(2) SA 959
8
(T) op 961 H). So ook kan art 110 nie jurisdiksie verleen aan
'n
hof om 'n misdaad wat in 'n ander land gepleeg is, te bereg
nie
(S v Maseki 1981(4) SA 374 (T)). Art 110 verleen wel
territoriale
jurisdiksie aan 'n hof wat dit nie gehad het nie, suiwer
op grond van die
beskuldigde se stilswyende aanvaarding daarvan,
deurdat hy die verhoor laat
voortgaan sonder om die punt te opper
wanneer hy pleit (Hiemstra,
Strafproses, 5de uitgawe op bl 288).
Namens beskuldigdes 1 en 2 is, met 'n
beroep op S v
Cornelissen 1990(2) SASV 472 (K), betoog dat, vanweë
die
bewoording van die klagstaat en die feite van die saak, dit nie
van
die beskuldigdes verwag kon word om beswaar te gemaak het teen
die
jurisdiksie van die verhoorhof nie, sodat die staat nie op art 110
kan steun
nie. Vir doeleindes van die betoog sal ek veronderstel,
9
sonder om te beslis, dat 'n beskuldigde die werking van art 110
kan vermy op grond daarvan dat hy mislei is of nie geweet het wat
hom ten laste
gelê word nie. In die Cornelissen-saak is die beskuldigde op Colesberg
deur die polisie voorgekeer en gearresteer
terwyl hy besig was om 'n groot
hoeveelheid dagga te vervoer. Daarna is hy deur die polisie oorreed om as
polisie-lokvink die dagga
na Kuilsrivier te neem ten einde ander oortreders te
help betrap. Hy word in die streekhof in Kaapstad daarvan aangekla en skuldig
bevind dat hy in Kuilsrivier met dagga handel gedryf het. Op appèl na die
Kaapse Provinsiale Afdeling is beslis dat hy as
lokvink in Kuilsrivier nie die
vereiste mens rea vir die misdryf gehad het nie. Die hof het die staat se
versoek verwerp om die skuldigbevinding
te bekragtig op grond daarvan dat die
appellant op
10
Colesberg in onwettige besit betrap is, en die
verhoorhof ingevolge art 110 en appellant se versuim om beswaar teen die hof se
jurisdiksie
aan te teken, die skuldigbevinding op dáárdie besit
kon gegrond het. Hoewel Hoberman WR sê dat die verhoorhof
nie jurisdiksie
na aanleiding van die gebeure op Colesberg gehad het nie, blyk die ratio vir sy
beslissing uit die volgende passasie
in die uitspraak (op 475 f-g) :
"The appellant, who was unrepresented, did not plead that the court had no
jurisdiction. But this is hardly surprising as he was charged
with having
committed an offence at Kuils River. Furthermore, it could hardly be argued that
the appellant, unrepresented as he was,
ought to have appreciated that despite
what was said in the charge sheet the State in fact intended to charge him in
respect of an
offence committed at Colesberg."
In soverre in hierdie passasie te kenne gegee word dat 'n
11
beskuldigde se versuim om te pleit
dat die hof nie territoriale
jurisdiksie het nie, hom nie verwyt kan word nie
bloot omdat die
klagstaat die plek van die misdaad verkeerdelik aangee as
synde
binne die hof se jurisdiksie geleë, kan ek nie daarmee
saamstem
nie. Al wat na my mening in die aangehaalde passasie te
kenne
gegee word, is dat die onverdedigde beskuldigde in die
omstandighede
van daardie saak moontlik onder die indruk kon
verkeer het dat die gebeure op
Colesberg afgehandel was en dat hy
nie van die misdaad wat in Colesberg
gepleeg is, aangekla sou
word nie en hom derhalwe nie daarteen hoef te
verweer het nie.
Hierdie indruk is deur die klagstaat versterk, wat hom nie
soseer
mislei het oor die plek van die misdaad as oor die misdaad self
nie.
Die feite in die huidige saak is totaal verskillend van dié
in
12
die Comelissen-saak. Alhoewel die klagstaat en
die nadere besonderhede daartoe nie juis 'n toonbeeld van duidelikheid is nie,
het
die verdediging nie beswaar daarteen aangeteken nie. Die rede is voor die
hand liggend. Hulle is nie daardeur benadeel nie. Alhoewel
die onbetwiste
getuienis, waama ek later meer volledig sal verwys, aandui dat beskuldigdes 1 en
2 in die algemeen bedrywig was by
'n dwelmsindikaat, het hulle goed geweet dat
hulle op 18 Mei 1989 die 31813 mandrax-tablette wat in die klagstaat genoem
word, in
die FCB-Mercedes vervoer het toe hulle by Malmesbury voorgekeer en
later gearresteer is. Hul onderhoudsverklarings wat dieselfde
dag aan
adjudant-offsier Rossouw gemaak is, bevat uitvoerige verduidelikings vir hulle
reis van die betrokke dag totdat hulle voorgekeer
is. Die reis vanaf
13
Malmesbury tot by die Kaapstadse polisiekantoor
het die polisie in staat gestel om bewyse te verkry vir die misdaad wat
deurlopend
gepleeg is vandat hulle reis uit die noorde begin het. Geen
afsonderlike handeling of optrede wat 'n bestanddeel van 'n afsonderlike
oortreding uitmaak, het gedurende die loop van hierdie laaste skof plaasgevind
nie.
Ek is gevolglik van mening dat die landdroshof wel jurisdiksie uit hoofde van
art 110 van die Wet gehad het en dat die appèl
teen die skuldigbevinding
nie kan slaag nie. Dit is gevolglik nie nodig om te handel met die Hof a quo se
bevinding dat beskuldigdes
1 en 2 binne die regsgebied van die Kaapstadse
landdroshof handel gedryf het in die betrokke mandrax-tablette deurdat
beskuldigde
2 vrywillig die FCB-Mercedes tot in Kaapstad
14
bestuur en beskuldigde 1 dit vergesel het nie.
Dit laat die appèl teen die vonnisse. Die reis wat op
18
Mei 1989 geëindig het, het reeds op 14 Mei 1989 begin
toe
beskuldigdes 1 en 2 in 'n ander wit Mercedes Benz-motor
met
registrasienommer CY 136907 ("die CY-Mercedes") deur die
polisie in Du
Toitskloofpas buite Paarl opgemerk en tot in Beaufort-
Wes agtervolg is. By
Britstown het die CY-Mercedes onklaar
geraak en beskuldigdes 1 en 2 het hul
reis in die rigting van
Johannesburg voortgesit in die FCB-Mercedes wat hulle
op
Britstown kom haal het. Die FCB-Mercedes is die volgende twee
dae deur
die polisie by 'n huis in Johannesburg opgemerk en
beskuldigdes 1 en 2 is
gesien waar hulle besig was om by die
voertuig se voorwiele te werskaf. Die
volgende dag, 17 Mei 1989,
15
het die polisie berig ontvang dat die FCB-Mercedes op pad
terug
is na Kaapstad en beskuldigdes 1 en 2 is die dag daarna
voorgekeer.
Die CY-Mercedes het op Britstown bly staan tot 14 Junie
1989
toe dít deur die polisie ingesleep is tot by die
Kaapstadse
polisiestasie. Die CY-Mercedes het soortgelyke
versteekte
kompartemente agter die voorwiele gehad as dié wat in die
bakwerk
van die FCB-Mercedes gevind is, en reste van die verbode
stof
metakaloon is daarin gevind. Die FCB-Mercedes is reeds op 11
Mei 1989
deur die polisie by 'n motorhawe, Orient Motors, in
Elsiesrivier, Kaapstad,
opgemerk. Op 15 Mei 1989 is die
polisie weer na Orient Motors waar hulle 'n
derde wit Mercedes
Benz-motor ("die Orient-Mercedes"), gevind het. Daar
is
getuienis dat hierdie voertuig deur beskuldigdes 1 en 2 na Orient
16
Motors gebring is vir herstelwerk. Dié
voertuig was sonder nommerplate, lisensieskyfie en enjin en in die paneelkissie
is die
registrasiedokumente van die CY-Mercedes gevind waarvolgens laasgenoemde
voertuig in die naam van beskuldigde 2 se broer geregistreer
was. Soortgelyke
versteekte kompartemente met reste van metakaloon daarin, is in die
Orient-Mercedes gevind. Na my mening is die
onvermydelike afleiding uit al die
getuienis dat beskuldigdes 1 en 2 betrokke was by 'n dwelmsindikaat wat op groot
skaal handel
gedryf het met mandrax.
Beskuldigde 1 is twee-en-veertig jaar en beskuldigde 2 een-en-dertig jaar
oud. Beide het verskeie vorige veroordelings. Beskuldigde
2 het twee vorige
veroordelings ten opsigte van die besit van dagga. Volgens adjudant-offisier
Lazarus, wat
17
spesialiseer in die ondersoek van dwelmsindikate en
wat
beskuldigdes 1 en 2 goed ken, het nie een 'n vaste werk nie en
word
hulle deur die sindikaat onderhou. Lazarus het ook getuig
oor die toenemende
instroming van mandrax in Suid-Afrika, die
uitwerking van die dwelmmiddel op
diegene wat dit gebruik en die
verderflike gevolge wat dit vir die gemeenskap
het. Die euwel en
veragtelikheid van die georganiseerde, grootskaalse
handelaar in
dwelms is by herhaling deur ons howe beklemtoon (sien bv S
v
Gibson 1974(4) SA 478 (A) op 481 H en S v Howe 1989(2)
SA 473 (W) op 478
E-H). In die huidige saak was 'n groot
hoeveelheid mandrax-tablette met 'n
straatwaarde van meer as
R600 000,00 betrokke.
Daar is nie betoog dat die verhoorhof 'n wanvoorligting of
18
onreëlmatigheid begaan het by vonnisoplegging nie, en ek beskou nie die
vonnisse as buitensporig swaar in die omstandighede van
die saak nie. Die
appèlle teen die vonnisse kan gevolglik nie slaag nie.
Die appèlle word afgewys.
W VIVIER
AR.
VAN DEN HEEVER AR)
Stem saam. HOWIE AR)