About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 174
|
|
S v Khumalo en Andere (254/94, 57/93) [1994] ZASCA 174 (28 November 1994)
254/94
57/93
/mg
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
CHRISPEN KHUMALO
EERSTE APPELLANT
DELAN KLUGH
MPOZA
TWEEDE ARPELLANT
HENRY SOLOMON
MOPEDI DERDE
APPELLANT
MIKE MICHAEL
LESHOMA VIERDE APPELLANT
en
DIE STAAT
RESPONDENT
CORAM
: HEFER, EKSTEEN et NIENABER ARR
VERHOORDATUM
: 22 NOVEMBER 1994
LEWERINGSDATUM
: 28
NOVEMBER 1994
UITSPRAAK
HEFER, AR/
...
2
HEFER AR:
Op 15 Mei 1991 is 'n handelsbank in Witbank van 'n aansienlike bedrag
geld beroof. In die proses is twee bankamptenare doodgeskiet
en vier ander van
hulle persoonlike besittings soos horlosies en juwele beroof. Buite die gebou
het die rowers op 'n veiligheidswag
geskiet en per motor ontsnap.
Hierdie gebeure het aanleiding gegee tot die huidige appellante se
arrestasie en latere skuldigbevinding in die hof
a quo
op twee aanklagte
van moord (aanklagte 1 en 2), een van poging tot moord op die veiligheidswag
(aanklag 8) en vyf aanklagte van roof
met verswarende omstandighede (aanklagte
3, 4, 5, 6 en 7). Ten opsigte van elke moord is hulle ter dood veroordeel en op
die ander
aanklagte tot lang termyne gevangenisstraf. Die eerste, tweede en
derde appellante het, ooreenkomstig art 316(A)(1) van die
Strafproseswet
3
51 van 1977 soos gewysig, appél aangeteken teen hulle
skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2 en, met die nodige
verlof, ook
teen hulle skuldigbevindings en vonnisse op die ander aanklagte. Vierde
appellant se appèl is slegs teen díe
doodvonnis gemik.
Wat by die verhoor in geskil was, was of die appellante lede was van die
roofbende. Die verhoorhof se bevinding dat dit wel die geval
was, is, wat die
eerste appellant betref, gebaseer op sy identifikasie deur 'n staatsgetuie en
die aanwesigheid van sy vingerafdruk
op die motor waarmee die rowers ontsnap
het, maar veral op'n verklaring wat hy na sy arrestasie aan 'n landdros gemaak
het en waarin
hy sy aandadigheid beken het. Die ander appellante se
skuldigbevindings is uitsluitlik op dergelike verklarings gebaseer. Volgens
die
eerste en tweede appellante se verklarings was hulle lede van die gewapende
groep wat die bank binnegegaan en die roof fisies
uitgevoer het, maar was dit
ander lede
4
van die groep wat die oorledenes geskiet het. (Ter verduideliking moet
opgemerk word dat ses lede van die bende die bank binnegegaan
het. Saam met die
huidige vier appellante was twee andere aangekla. Die een is onskuldig bevind en
die verhoor van die ander een
is geskei. Wat van die ander bendelede geword het
en of hulle ooit gearresteer is, is nie bekend nie.) Volgens die derde en vierde
appellante se verklarings het hulle twee van die motors bestuur waarmee die
bendelede na die bank vervoer is en het hulle buite die
bank vir hulle makkers
gewag - derde appellant iewers langs 'n grondpad en vierde appellant in die dorp
naby die bank. 'n Derde motor
was vooraf voor die bank geparkeer. Die groep wat
die bank binnegegaan het, het aanvanklik daarmee ontsnap en gery na die plek
waar
die derde appelant vir hulle gewag het. Daar het hulle in laasgenoemde se
voertuig geklim en die ontsnapvoertuig agtergelaat. Die
polisie
5
het dit later gevind met eerste appellant se vingerafdruk op een van die
ruite.
Die verhoorhof het die verklarings as getuienis toegelaat na
'n binneverhoor waarin die eerste drie appellante se bewerings as sou
hulle deur
die polisie gemartel en aldus oorgehaal was om aandadigheid te beken, ondersoek
en as leuenagtig verwerp is. Namens die
vierde appellant is ook beswaar gemaak
teen die inhandiging van sy verklaring maar, omdat sy skuldigbevinding tans nie
ter sprake
is nie, is dit nie nodig om die gronde vir sy beswaar te bespreek
nie. Die beswaar is tereg verwerp en sy verklaring toegelaat.
In hierdie hof het mnr Stipp sy betoog namens die eerste, tweede en derde
appellante hoofsaaklik toegespits op die toelaatbaarheid
van hulle verklarings.
Anders as by die verhoor, het hy egter nie gewag gemaak van die bewerings van
dwang wat die onderwerp van
die binneverhoor was nie. Nadat hy aandag gevestig
het op
6
die feit dat die afwesigheid van onbehoorlike beïnvloeding 'n
bykomende en afsonderlike toelaatbaarheidsvereiste is onder art
217(1) van die
Strafproseswet 51 van 1977 soos gewysig, het hy aangevoer dat die getuienis as
geheel nie die redelike moontlikheid
uitsluit dat sy kliënte onbehoorlik
beïnvloed was deur wat hy as "subtiele druk" beskryf het nie.
Ek is nie van voorneme om die betoog - en veral elke brokkie " subtiele
druk" wat mnr Stipp geopper het - volledig te bespreek nie.
Bepaalde aspekte
daarvan is, om die minste te sê, so vergesog dat dit nie
vermeldingswaardig is nie. Origens openbaar die betoog
twee besondere
beginselgebreke. Eerstens ignoreer mnr Stipp die feit dat die bewyslas
ooreenkomstig art 217(1)(b)(ii) in die onderhawige
geval op die verdediging
gerus het wat meebring dat die verklarings as toelaatbaar geag moet word tensy
die
7
oorwig van waarskynlikhede op die aanwesigheid van onbehoorlike
beïnvloeding dui. (Vgl
S v Mphahlele and Another
1982(4) SA 505 (A)
op 512 B-C.) Dat die betrokke appellante anders dan by wyse van dwang oorreed is
om verklarings te maak, is nooit
by die verhoor beweer enf. ondersoek nie en, in
die afwesigheid van positiewe getuienis, het mnr Stipp vir homself die
onmoontlike
taak gestel om ons te probeer oorreed, nie net dat besondere aspekte
van die polisie - en selfs die landdroste wat die verklarings
afgeneem het - se
optrede as onbehoorlik bestempel kan word nie, maar ook dat die appellante
waarskynlik inderdaad beïnvloed
is.
Die tweede gebrek in die betoog spruit uit die gebruik wat mnr Stipp poog
te maak van die Regtersreëls en die verdoeming deur
die howe van bepaalde
metodes van ondervraging en praktyke by die afneem van bekentenisse. In
S v
Mbatha en Andere
1987(2) SA 272 (A) op 279G is dit beklemtoon dat
8
"[die] Howe ... geen bevoegdheid [het] om toelaatbaarheidsvereistes vir
bekentenisse ... te stel wat nie deur art 217(1)(a) voorgeskryf
is
nie"
en, soos aangedui in
S v Khoza en
Andere
1984(1) SA 57
(A) op 59 F-G,
"dat die primêre vraag by die beoordeling
van
die toelaatbaarheid van enige bekentenis is of dit volgens die voorskrifte
van art 217(1) van die Strafproseswet ... gemaak is d w
s vrywillig, ongedwonge
en sonder onbehoorlike beïnvlpeding."
In die huidige geval is die bekentenisse
deur landdroste
by die polisiekantore afgeneem met behulp van
polisietolke. Die appellante is vroeg die oggend van
Saterdag 22 Junie 1991 gearresteer en na die kantore van
Brixton se moord- en roofafdeling geneem vanwaar hulle
later die dag na die polisiekantore op Witbank vervoer
is, Daar is hulle ondervra en het hulle, volgens die
aanvaarde getuienis wat in hierdie hof nie aangeval is
nie, te kenne gegee dat hulle bereid was om verklarings
voor landdroste af te lê. Maar die landdroskantore was
9
gesluit vir die naweek. Daarom, en omdat die offisier wat met die
ondersoek belas was dit nie raadsaam geag het om tot Maandag te
wag nie, het hy
twee landdroste by hulle tuistes geskakel en met hulle gereël om na die
polisiekantore te kom. 'n Tolk verbonde
aan die landdroshof kon egter nie
opgespoor word nie. Daarom is die verklarings in die polisiekantore afgeneem met
behulp van polisiemanne
wat nie by die ondersoek betrokke was nie, as
tolke.
Mnr Stipp se betoog dat hierdie prosedure onreëlmatig was en tot
gevolg gehad het dat die verklarings ontoelaatbaar was, verloor
die opmerkings
in die pas-aangehaalde uitsprake uit die oog. Natuurlik sou dit wensliker gewees
het om die verklarings op 'n ander
plek en met behulp van ander tolke af te
neem. Soos aangedui gaan dit egter nie primêr om die reëlmatigheid
van die prosedure
wat gevolg is nie maar wel - in die konteks van mnr Stipp se
betoog - om die
10
vraag of die bekentenisse sonder onbehoorlike beïnvloeding gemaak
is. Of dit die geval was, hang van die getuienis af en die
blote f eit dat ' n
minder wenslike prosedure gevolg is, is nie sondermeer deurslaggewend
nie.
'n Oënskou van die getuienis openbaar geen rede vir bedenkings oor
die toelaatbaarheid van die bekentenisse nie. By die afneem
daarvan was die
landdros in elke geval alleen met die tolk en die betrokke appellant in 'n
kantoor. In elke geval is die gebruiklike
waarskuwings en verduidelikings
verskaf en die vrae wat gewoonlik gevra word ten einde die afwesigheid van
onbehoorlike beïnvloeding
te verseker, vooraf aan elke appellant gerig en
bevredigend beantwoord. Daar is geen aanduiding dat enigeen van hulle hoegenaamd
beïnvloed was om sy skuld te beken nie.
11
In die lig hiervan kan die appèlle teen die skuldigbevindings nie
slaag nie.
Die volgende vraag is of die doodstraf wat die appellante
op aanklagte 1 en 2 opgelê is die enigste gepaste vonnis is. Of dit
die
geval is, moet natuurlik oorweeg word met inagneming van die verswarende sowel
as alle moontlike versagtende faktore.
Wat verswaring betref, is die erns van die misdade opvallend in die
omstandighede waaronder dit gepleeg is. Ses rowers, somminge van
hulle met
sykouse oor die kop en gewapen met pistole, haelgewere en minstens een AK 47,
het die bank binnegestorm. Personeellede
en kliënte in die banksaal is
grondtoe gedwing; andere is gelas om geld in sakkies te sit. Die sleutel van die
kluis is van
mnr Fick geëis en toe hy te kenne gegee het dat hy nie die
bestuurder was nie en die sleutel nie gehad het nie, is hy rondgesleep
en
koelbloedig geskiet. (Die koeël het hom in die bors
12
getref. Later die dag het hy beswyk.) Waarom hy moes sterf, is nie
duidelik nie. Moontlik is hy uit blote frustrasie geskiet omdat
hy nie die
sleutel kon verskaf nie ('n getuie het gehoor dat gesê word "Shoot the
bastard") of dit mag wees dat die oogmerk
was om die ander personeellede te
intimideer en die sleutel op daardie wyse te bekom. Hoe dit ook al sy, mev
Barnard wat blykbaar
by haar lessenaar gesit het, is ook, ewe koelbloedig, in
die kop geskiet. Sy was feitlik op slag dood. Die rede vir haar dood is
nog 'n
groter raaisel. Wat nietemin volkome duidelik is, is dat nie een van die
ongelukkige slagoffers vermoor is omdat hulle die
rowers probeer teëgaan of
enigsins in die weg probeer staan het nie.
Dit spreek vanself dat optrede soos hierdie baie swaar gestraf moet word.
'n Bankroof - veral een met vuurwapens gepleeg in 'n besige
sakesentrum waar die
moontlikheid van lewensverlies veel groter is as elders
13
- is klaarblyklik 'n uiters ernstige misdaad wat die gemeenskap as geheel
betrek, hoofsaaklik omdat die veiligheid van onskuldige
buitestanders daardeur
in gevaar gestel word. Dure ondervinding leer dat sulke strooptogte soms ontaard
in 'n wilde skietery binne
en buite die bank sodat nie net die personeel en
hulle klante nie maar ook niksvermoedende verbygangers hulle lewens nie seker is
nie. Dit is juis die risiko van grootskaalse lewensverlies wat meebring dat die
euwel van bankrowery nie deur die banke en die polisie
doeltreffend bestry kan
word nie. Voornemende rowers is ongetwyfeld bewus daarvan dat niemand geneë
is om op hulle te skiet
wanneer die lewens van buitestanders daardeur in gevaar
gestel sal word nie. Daarom verbaas dit nie dat hierdie besondere misdaad
toegeneem het tot die mate dat daar haas nie 'n dag verbygaan sonder 'n
waaghalsige bankroof iewers in die land nie. Gedagtig verder
daaraan dat dit 'n
misdaad is wat uitsluitlik op
14
groot geldelike gewin gemik is, kan die gemeenskap tereg verwag dat die
howe nie moet skroom om dit uiters swaar te bestraf nie, soveel
te meer wanneer
dit met koelbloedige moord gepaard gaan.
Dit is aan ons voorgehou, en ek aanvaar, dat geeneen van die appellante
die werklike moordenaars was nie en dat hulle skuldvorm hoogstens
dolus
eventualis
was. Boonop het die derde en vierde appellante nie eens die bank
binnegegaan nie. Myns insiens bied hierdie versagtende faktore in
die
omstandighede van hierdie geval egter nie rede vir 'n ligter straf as wat die
moordenaars verdien nie. Die rooftog was klaarblyklik
fyn beplan. Elkeen van die
appellante het aan die vooraf-beplanning deelgeneem Dae voor die roof het hulle
in Witbank byeengekom.
Die bank is bespied. En aan elke deelnemer is sy eie
besondere taak opgedra. Vir die suksesvolle uitvoering van die plan was elke
taak ewe belangrik. Elke deelnemer was boonop vooraf
15
volkome bewus van die aard van die wapens wat saamgeneem sou word en van
die sterk moontlikheid dat dit met dodelike gevolge gebruik
kon word as alles
nie volgens plan verloop nie. Dit is insiggewend dat geeneen van die appellante
in hulle verklarings te kenne gegee
het (soos dikwels gedoen word) dat die
wapens slegs as intimidasiemiddels gebruik sou word en nie, indien nodig, as
moordwapens nie;
en dat elkeen van van hulle, welwetend van die moorde,
uiteindelik gedeel het in die onregmatig verkreë buit.
In die persoonlike omstandighede van die appellante is daar niks wat
werklik van belang is nie. Dit is waar dat die eerste drie appellante
geen
noemenswaardige resente vorige veroordelings het nie en dat die moontlikheid van
rehabilitasie in hulle gevalle nie uitgesluit
is nie. In 'n saak soos dié
waar die veroordeelde se belange beswaarlik opweging teen die belange van die
gemeenskap verdien,
is dit egter nie
16
deurslaggewend nie. Die vierde appellant is kort voor die huidige
oortreding tot tien jaar gevangenisstraf veroordeel op aanklagte
van roof en die
onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hoe dit gekom het dat hy nie in die
gevangenis was toe die huidige misdaad
gepleeg gepleeg is nie, blyk nie uit die
oorkonde nie.
Na my oordeel is die doodstraf die enigste gepaste vonnis vir al die
appellante op aanklag 1 en ook op aanklag 2. Aangesien die grondwetlike
bestaanbaarheid van die doodvonnis tans die oorweging van die Konstitusionele
Hof geniet, kan finale uitspraak daaroor egter nie
op hierdie stadium gelewer
word nie.
Ten slotte moet opgemerk word dat mnr Stipp nie bereid was om ons toe te
spreek oor die eerste, tweede en derde appellante se appèlle
teen die
vonnisse op aanklagte 3, 4, 5, 6, 7 en 8 nie. Daar skort niks met hierdie
vonnisse nie.
17
Die volgende bevel word verleen:
1. Die eerste, tweede en derde appellante se
appélle
teen hulle skuldigbevindings en teen
die vonnisse op aanklagte 3, 4,
5, 6, 7 en 8
word van die hand gewys.
2. Die
appèlle teen die vonnisse op aanklagte 1
en 2 word uitgestel tot ' n datum deur die griffier in oorleg met die
Hoofregter gereël te word.
J J F HEFER
AR
EKSTEEN AR )
STEM SAAM NIENABER AR )