S v Mokoena en Andere (241/92, 368/92, 525/94) [1994] ZASCA 173 (25 November 1994)

78 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Culpability and intent — Appellants convicted of murder and robbery — First appellant pleaded guilty to robbery but not to murder; second and third appellants pleaded not guilty — Elderly couple murdered during robbery; first appellant present and assisted in the attack — Evidence showed first appellant acted with dolus eventualis, recognizing the risk of death — Court upheld conviction for murder and death sentence as appropriate given the circumstances of the crime and the vulnerability of the victims.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 173
|

|

S v Mokoena en Andere (241/92, 368/92, 525/94) [1994] ZASCA 173 (25 November 1994)

Saaknommer: 241/92, 368/92, 525/94
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JAMES MOKOENA
1
ste Appellant
JOSEPH
TSHABALALA
2de Appellant
JAN DUBE
3de Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
Coram:
VAN HEERDEN, F H GROSSKOPF et VAN DEN HEEVER ARR
Verhoordatum:
8 November 1994
Leweringsdatum:
25 November
1994
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellante het in die
rondgaande hof te Potchefstroom voor M J Strydom R en twee assessore
tereggestaan op twee aanklagte van
moord en een van roof met verswarende
omstandighede. Die eerste appellant het skuldig gepleit op die aanklag van roof
maar onskuldig
op die twee aanklagte van moord. Die tweede en derde appellante
het op al die aankiagte onskuldig gepleit.
'n Bejaarde egpaar is op 'n Sondagoggend in September 1991 in hulle huis
op 'n plaas naby Fochville beroof en vermoor. Die man ("die
eerste oorledene")
is dood as gevolg van 'n steekwond in die hart, terwyl sy eggenote ("die tweede
oorledene") aan versmoring dood
is. Die rowers is na die aanval daar weg in die
eerste oorledene se motorkar, terwyl hulle ook twee vuurwapens, 'n onbekende
hoeveelheid
kontant, 'n polshorlosie en 'n ring gevat het.
Die eerste appellant is skuldig bevind aan die moord op
die
3
tweede oorledene (aanklag 2) en aan roof met verswarende omstandighede
(aanklag 3). Die hof a quo het hom op beide daardie aanklagte
ter dood
veroordeel. Hy appelleer teen sy skuldigbevinding aan moord, asook teen beide
die doodvonnisse wat hom opgelê is.
Die tweede en derde appellante is
albei slegs op die aanklag van roof (aanklag 3) skuldig bevind. Die tweede
appellant is die doodvonnis
vir die roof opgelê terwyl die derde appellant
tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is. Die tweede en derde appellante appelleer
slegs teen die vonnisse wat hulle onderskeidelik opgelê is. Die derde
appellant appelleer met verlof van die hof a quo. In
die geval van die ander
twee appellante word verlof om te appelleer nie geverg nie.
Die feit dat die twee oorledenes vermoor en beroof is, is nie in geskil
nie. Geeneen van die appellante het tydens die verhoor getuig
nie, altans nie
met betrekking tot die pleging van die misdade nie. Dit blyk egter uit hulle
onderskeie pleitverduidelikings in die
landdroshof en in die hof a quo, en uit
hulle verklarings aan landdroste, dat hulle al drie
4
ten tye van die pleging van die misdade op die toneel teenwoordig
was,
maar verder pak elkeen die skuld op die ander.
Die eerste appellant appelleer in die eerste plek teen
sy
skuldigbevinding aan die moord op die tweede oorledene. Die hof a
quo
het myns insiens egter tereg bevind dat dit uit sy eie erkennings blyk
dat
hy 'n mededader by hierdie moord was. Die eerste appellant het
'n
verklaring voor 'n landdros afgelê. Die toelaatbaarheid van
daardie
verklaring was nooit in geskil nie. Die relevante deel daarvan lui
soos
volg:
"Ek was saam met my twee vriende, naamlik Mpomde en ek is nie seker wat
die ander een se naam is nie. Ons het vanaf Evaton met die
voet geloop. Ons het
op Saterdag opgedaag by die ander sinkhuisie. Op Sondag oggend het ons vir die
blanke man, die eienaar van die
plek by 'n plaas waar hy die trekker parkeer,
gaan wag. Die blanke man het so 7 - 8 vm uitgekom.
Na hy uitgegaan het, het ons die huis binnegegaan. In die huis het ons 'n
ou blanke vrou gekry. Ons het die blanke vrou gegryp en
haar gesê dat as
sy raas gaan ons haar skiet, maar ons het nie 'n skietyster gehad nie. Die ou
vrou het
5
toe geskreeu. Ek het toe haar bene gevat, my een vriend aan die arms en
my ander vriend het haar mond toegedruk. Ons het haar toe
na die toilet geneem.
Op daardie stadium het die ou vrou vorentoe en agtertoe beweeg. Ons het gesien
dat sy wou baklei en een van
my vriende, die een wat se naam ek nie ken nie, het
'n tou in die hande gekry. Met die kabel het hy die ou vrou se hande vasgemaak.
Ons het toe die man wat se naam ek nie ken nie by die ou vrou gelos.
Op daardie stadium het die ou vrou 'n doek in haar mond gehad. Die man
het dit binne-in die ou vrou se mond gedruk. Ons het toe by
die vertrek waar
hulle die TV kyk gaan wag vir die blanke man. Ons het daar vir 'n lang tyd
gewag. Die man wie se naam ek nie ken
nie het by die ander plek waar ons ander 2
gewag het, gekom. Ons het hom gevra waarom het hy die vrou alleen daar gelos.
Die man
het gesê dat hy het gesien die ou vrou kry nie meer asem nie. Ons
het toe daar gaan kyk. Ons het gesien sy is net bewusteloos.
Ons het toe vir die
ou man gewag."
In sy pleitverduideliking in die hof a quo het die
eerste
appellant onder andere die volgende
gesê:
"Op 8 September 1991 om ongeveer 07h30 het ons die gemelde
opstal binne gegaan en Maria Martina Olivier daar
6
binne aangetref.
Ons het aan haar gesê om doodstil te bly, maar sy het haar nie aan
ons gesteur nie en hard begin skreeu. In 'n poging om haar
stil te kry het ons
'n vadoek in haar mond gedruk en 'n das om haar kop gebind om die vadoek binne
te hou. Ek het nie besef dat dit
gevaarlik kan wees en dat iemand as gevolg van
versmoring daarvan kan sterf nie. Ek aanvaar egter dat sy as gevolg van die lap
in
haar mond versmoor het en plaas dit nie in geskil nie.
Ek ontken egter dat ek op daardie oomblik voorsien het dat sy as gevolg van
die lap in haar mond kon versmoor en pleit derhalwe dat
ek geen opset tot haar
doodsveroorsaking gehad het nie."
Hierdie
pleitverduideliking van die eerste appellant is terloops in stryd met sy
vroeëre pleitverduideliking in die landdroshof
toe hy beweer het dat hy nie
self die tweede oorledene aangerand het nie, maar dat sy deur een van die ander
twee na 'n toilet geneem
is waar sy aangehou is.
Die distriksgeneesheer wat die lykskouing op die tweede oorledene
uitgevoer het, het gevind dat 'n lap, wat soos 'n wors gedraai was,
styf in haar
mondholte en tot diep agter in haar keel ingedruk was
7
sodat daar 'n volledige afsluiting van die lugweë was, en sy nie
deur haar mond of neus kon asemhaal nie. Daar was 'n das om
haar mond vasgebind
om te verseker dat die lap in die mondholte sou bly. Kneusings aan beide haar
lippe, asook aan die mondvloer,
tong en keel was volgens die distriksgeneesheer
se getuienis veroorsaak deur die geweld waarmee die lap in haar mond ingedruk
was.
Tydens die lykskouing is daar verder 'n fraktuur van die hioïedbeen,
asook spierbloeding aan die regterkant van haar nek gevind.
Volgens die
getuienis van die distriksgeneesheer word dergelike aanduidings van geweld oor
die nekarea gewoonlik met verwurging geassosieer.
Dit dui in ieder geval daarop
dat verdere geweld toegepas is. Dit is verder gemene saak dat die tweede
oorledene se hande met 'n
stuk elektriese koord vasgebind was. Die eerste
appellant se erkennings met betrekking tot die aanval op die tweede oorledene
word
dus in wesentlike opsigte deur hierdie stawende getuienis van die
distriksgeneesheer bevestig.
8
Na my mening blyk dit duidelik uit die eerste appellant se eie erkennings
dat hy doelbewus meegehelp het om die lap in die tweede
oorledene se mond te
druk. Dit is egter namens hom betoog dat die verontskuldigende gedeeltes van sy
pleitverduideliking in die hof
a quo in sy guns in aanmerking geneem moet word.
(Sien
S v Cloete
1994(1) SASV 420(A) op 428b-g.) Dit is myns insiens
ondenkbaar dat die eerste appellant, soos hy in sy pleitverduideliking voorgee,
nie voorsien het dat die opgerolde lap in die tweede oorledene se mond haar dood
tot gevolg kon hê nie, veral waar hy die lap
in haar mond help indruk het.
(Vgl R
v Lewis
1958(3) SA 107(A) op 109E.) Maar as die eerste appellant
nog enigsins oor die intrede van die dood kon getwyfel het, was daardie
twyfel
finaal uit die weg geruim toe die eerste appellant se meeloper hom kom meedeel
het dat die tweede oorledene nie meer asem
kry nie, en die eerste appellant self
waargeneem het dat sy "bewusteloos" was. Tog doen die eerste appellant niks op
daardie stadium
om te probeer
9
verhoed dat die dood wel intree nie. Die eerste appellant se
verontskuldigende bewerings in sy pleitverduideliking, en veral sy ontkenning
dat hy voorsien het dat die tweede oorledene as gevolg van die lap in haar mond
kon versmoor , moet dus as vals verwerp word. Dit
is insiggewend dat hy nie
enige dergelike verontskuldigende bewerings in sy vroeëre verklaring aan
die landdros gemaak het nie.
Na my oordeel is die eerste appellant tereg aan moord op die tweede
oorledene skuldig bevind, en wel met minstens dolus eventualis
as vorm van
opset.
Die volgende vraag is of die doodvonnis vir hierdie moord die enigste
gepaste vonnis vir die eerste appellant is. Die strafverswarende
faktore spreek
vir sigself. Die moord is gepleeg in die loop van 'n beplande rooftog met twee
ou mense as die weerlose slagoffers
van drie jong mans wat as 'n bende opgetree
het. Die eerste appellant het vroeër op die oorledenes se plaas gewerk en
het goed
geweet dat daar twee ou mense in die huis woon. Die tweede
oorledene
10
was 'n 71-jarige vrou. Sy is in haar huis oorval, gewelddadig onderwerp,
waarskynlik verwurg, en op wrede wyse laat versmoor nadat
die opgerolde lap met
geweld diep in haar mondholte ingedruk was. Volgens getuienis van die
distriksgeneesheer moes sy geweldig gely
het terwyl sy stelselmatig weens 'n
gebrek aan suurstof versmoor het. Selfs nadat die eerste appellant vemeem het
dat sy nie meer
asem kry nie, het hy hom nie bedink nie, maar op gevoellose wyse
sy rug op haar gedraai en die eerste oorledene gaan voorlê.
Daar is aan die ander kant ook sekere strafversagtende faktore wat in
hierdie verband in aanmerking geneem moet word. Volgens die
eerste appellant se
pleitverduideliking in die hof a quo het hulle vooraf besluit om geen wapens te
gebruik nie, en het hulle ook
geen wapens met hulle saamgeneem nie. Hierdie
bewerings word in sy guns in aanmerking geneem; so ook sy bewering in sy
verklahng
aan die landdros dat hy nie vooraf beplan het om iemand dood te maak
nie.
11
Verder is dit wel so dat die vorm van opset dolus eventualis en nie dolus
directus was nie, maar soos reeds bevind, het die eerste
appellant die dood van
die tweede oorledene nie slegs as 'n vae moontlikheid nie, maar inderdaad as
haas onvermydelik voorsien.
(S v Mabizela and Another
1991(2) SASV 129(A)
op 132d-e; S v Khundulu and Another 1991(1) SASV 470(A) op 480d.)
Die eerste appellant se bewering in sy pleitverduideliking in die hof a
quo dat hy baie jammer is oor wat gebeur het, is dubbelsinnig.
Sy pogings in sy
pleitverduideliking in die hof a quo om homself te verontskuldig, is moeilik te
versoen met egte berou aan sy kant.
Daarbenewens het die eerste appellant ook
nie self getuig dat hy berou oor sy dade het nie.
Na my oordeel weeg die strafversagtende faktore glad nie op teen die
strafverswarende faktore wat reeds genoem is nie.
Die eerste appellant was ongeveer 27 jaar oud toe die misdade gepleeg is.
Sy persoonlike omstandighede is eerder
12
strafverswarend as strafversagtend. As strafversagting is aangevoer dat
hy geen skoolopleiding gehad het nie, en dat hy vanuit 'n
minder bevoorregte
sosio-ekonomiese agtergrond kom. Dit wil egter nie sê dat hy onintelligent
of sonder lewenservaring was
nie, en dat hy nie besef het dat sy optrede
misdadig en uiters laakbaar was nie. Strafverswarend aan die ander kant is die
feit dat
die eerste appellant drie vorige veroordelings het, nl vir huisbraak
met die opset om te steel en diefstaí in 1985, gewone
aanranding in 1985,
en vir verkragting in 1986, waarvoor hy drie jaar gevangenisstraf opgelê
is.
Dit is namens die eerste appellant betoog dat rehabilitasie een van die
hoofoogmerke by straftoemeting is en dat sy moontlike hervorming
nie uit die oog
verloor moet word nie. Dit lyk egter nie asof die agtien maande gevangenisstraf
wat hy vir die verkragting uitgedien
het, enige rehabiliterende effek op hom
gehad het nie. Na my mening is die moord, en die omstandighede waaronder dit
gepleeg is,
in ieder geval van so 'n ernstige aard dat die moontlikheid van
rehabilitasie nie
13
kan opweeg teen oorwegings van afskrikking en vergelding by
straftoemeting nie. Waar bejaarde en weerlose persone in die veiligheid
van
hulle eie huise, dikwels op afgeleë plase, beroof en vermoor word, vereis
die gemeenskapsbelang afskrikking en vergelding
by straftoemeting. ( Sien
S v
Khundulu
.
supra
. op 479h en 482f; S_v
Makie
1991(2) SASV
139(A) op 143g-i;
S v Shabalala and Others
1991(2) SASV 478(A) op 483c-e;
S v Tloome
1992(3) SA 568(A) op 5771;
S v Khiba
1993(2) SASV 1(A)
op 4c-i.)
In die lig van die voorgaande is die doodvonnis na my oordeel die enigste
gepaste vonnis vir die moord wat die eerste appellant op
die tweede oorledene
gepleeg het.
Vervolgens is daar die appêlle van al drie die appellante teen die
vonnisse wat hulle vir die roof opgelê is. Die eerste
en tweede appellante
is elk die doodvonnis opgelê, en die derde appellant 15 jaar
gevangenisstraf.
Die strafverswarende faktore in die geval van die roof
kan
14
kortliks genoem word. Dit is gemene saak dat die drie appellante
inderdaad roof in teenstelling tot blote diefstal beoog het. Die
rooftog is
vooraf beplan. Hulle het twee bejaarde mense, wat nie weerstand teen 'n aanval
van drie jong mans sou kon bied nie , as
slagoffers uitgekies. Die hof a quo het
beslis dat die dood van die oorledenes 'n verdere strafverswarende faktor is wat
nie weggedink
kan word by die bepaling van 'n gepaste vonnis vir die roof nie.
Die hof a quo was wel bedag op die gevaar van die sogenaamde verdubbeling
van
vonnisse, want in die geval van die eerste appellant, wat ook vir die moord op
die tweede oorledene gevonnis is, is die dood
van die tweede oorledene weggedink
toe hy vir die roof gevonnis is. (Vgl
S v Tloome
.
supra
. op
578A-G.) Na my mening moet die dood van die eerste oorledene eweneens buite
rekening gelaat word by die bepaling van 'n gepaste
vonnis vir die roof, en wel
in die geval van al drie die appellante - nie omdat daar 'n gevaar van 'n
verdubbelling van vonnis bestaan
nie, maar
15
omdat die appellante, elkeen op sy eie weergawe, nie die dood van die
eerste oorledene voorsien het nie, geen deel daaraan gehad het
nie, en eintlik
geen geweld tydens die rooftog verwag het nie. Om dieselfde redes kan die dood
van die tweede oorledene nie as strafverswarende
faktor in aanmerking geneem
word by vonnisoplegging vir die roof in díe geval van die tweede en derde
appellante nie.
In hierdie verband moet daar kortliks na sekere relevante bevindings van
die hof a quo verwys word. Die hof a quo het bevind dat die
drie appellante
beoog het om die rooftog "met die mins moontlike geweld" uit te voer. Die
appellante het geweet dat hulle slagoffers
twee weerlose ou mense was wat
volgens die eerste appellant "maklik sou skrik indien ons hulle sou dreig". Die
appellante was ongewapen,
en díe hof a quo het bevind dat hulle nie
vooraf beplan het om die oorledenes te dood nie, maar dat die doodslag op die
ingewing
van die oomblik plaasgevind het. Die hof a quo het verder bevind dat
dit nie bewys is dat daar gemeenskaplike oogmerk by die doodslag
van die
eerste
16
oorledene was nie, of dat enige van die drie appellante vir die dood van
die eerste oorledene aanspreeklik gehou kan word nie. Volgens
die hof a quo is
dit ook nie bewys dat enige van die drie appellante voorsien het dat die eerste
oorledene doodgemaak sou word nie.
In die lig van al hierdie bevindings kan
elkeen van die drie appellante met reg aanvoer dat hy eintlik geen vorm van
geweld verwag
het nie, en dat die doodslag van die eerste oorledene, wat
onverwags en sonder sy toedoen ingetree het, hom nie toegereken kan word
wanneer
hy vir die roof gevonnis moet word nie.
Die tweede en derde appellante is onskuldig bevind aan die moord op die
tweede oorledene. Die tweede oorledene is inderdaad vroeër
as die eerste
oorledene doodgemaak. Die tweede en derde appellante kan dus met nog meer
regverdiging aanvoer dat haar dood, of enige
geweld teenoor haar, nie deur hulle
voorsien was nie, en dat dit nie as strafverswarende faktor in aanmerking geneem
moet word by
die bepaling van 'n gepaste vonnis vir die roof in hulle geval
nie.
17
In die besondere omstandighede van hierdie saak is ek dus van oordeel dat
die doodslag van beide oorledenes nie as 'n strafverswarende
faktor by die
oplegging van vonnis vir die roof in aanmerking geneem moet word nie. Wat wel
strafverswarend is, is dat die eerste
appellant ondanks die dood van die eerste
oorledene, en die tweede appellant ondanks die dood van beide oorledenes,
nogtans ongestoord
met die rooftog voortgegaan het. Die posisie van die derde
respondent verskil van dié van die ander twee, soos ek hieronder
sal
aantoon.
Die strafversagtende faktore wat vir al drie die appellante in die geval
van die roof geld, is reeds in ander konteks hierbo genoem,
nl dat hulle
ongewapend op die rooftog gegaan het, en in die verwagting dat daar nie veel
geweld nodig sou wees om die twee ou mense
te oorrompel nie. Soos reeds gemeld,
moet dit aanvaar word dat hulle nie die moontlikheid dat die oorledenes in die
loop van die
rooftog gedood kon word, vooraf voorsien het nie.
18
Die eerste appellant was die man wat die plaas en die
omstandíghede aldaar geken het, en wat díe rooftog geïnisieer
het. Die tweede en derde appellante het in daardie opsig 'n mindere rol as die
eerste appellant gespeel. Die tweede appellant het
wel volgens sy eie erkenning
saam met die eerste appellant in die huis ingegaan. Hy was destyds 27 jaar oud
en het een vorige veroordeling
vir poging tot diefstal gehad.
In die lig van die strafversagtende en strafverswarende faktore, en met
ínagneming van die hoofoogmerke by straftoemeting,
is ek van oordeel dat
die doodvonnis nie die enigste gepaste vonnis vir die eerste en tweede
appellante vir die roof is nie. Wat
die roof betref, het die eerste en tweede
appellante in baie opsigte 'n gelyke rol gespeel. Na my mening moet die vonnis
vir roof
in beide hulle gevalle na 15 jaar tronkstraf verminder word.
Die derde appellant was destyds slegs 22 jaar oud. Hy was heelwat jonger
as díe ander twee en waarskynlik onder hulle invloed.
Hy
19
was 'n eerste oortreder en hy het 'n mindere rol by die uitvoering van
die roof gespeel. Hy het nie die huis van die oorledenes binnegegaan
nie, maar
buite wag gehou. Hy het dus nie enige handeling ter uitvoering van die roof in
die huis self verrig nie. Hy het trouens
eers na die tyd gehoor dat daar mense
op die plaas doodgemaak is. Volgens sy verklaring het sy deel van die buit slegs
R20 bedra.
Die hof a quo het hom ook 'n ligter vonnis as die ander twee vir die
roof opgelê. Waar die ander twee se vonnisse vir die roof
nou na 15 jaar
gevangenisstraf elk verminder word, sal dit na my mening heeltemal onvanpas wees
om die derde appellant se vonnis
onveranderd op 15 jaar te laat. In die lig van
die mindere rol wat hy gespeel het, en gesien sy persoonlike omstandighede, is
ek
van mening dat 'n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf in ieder geval
buitengewoon swaar is. Die derde appellant se vonnis vir die
roof moet na my
oordeel na 10 jaar gevangenisstraf verminder word.
Die eerste appellant se advokaat het hom op die
bepalings
20
van die Grondwet van die Repubïiek van Suid-Afrika, 200 van
1993,
beroep en aangevoer dat die doodvonnis onkonstitusioneel is.
Die
afhandeling van die appèl teen die doodvonnis vir die
moord op die
tweede oorledene (aanklag 2) moet gevolglik uitgestel word in
afwagting
van 'n beslissing van die Konstitusionele Hof ten aansien van
hierdie
vraag.
Die volgende bevele word gemaak:
1.
Eerste Appellant:
1.1 Die eerste appellant se appèl teen sy skuldigbevinding aan moord
op aanklag 2 word van die hand gewys.
1.2 Die afhandeling van die eerste appellant se appêl teen die
doodvonnis op aanklag 2 word uitgestel tot 'n datum wat deur
die griffier in
oorleg met die Hoofregter bepaal sal word.
1.3 Die eerste appellant se appèl teen die doodvonnis op aanklag 3
word gehandhaaf, en die doodvonnis word tersyde gestel en
vervang met 'n vonnis
van 15 jaar gevangenisstraf.
2
Tweede
Appellant:
Die tweede appellant se appèl teen die doodvonnis op aanklag 3
word gehandhaaf, en die doodvonnís word tersyde gestel
en vervang met 'n
vonnis van 15 jaar gevangenisstraf.
21
3.
Derde Appellant:
Die derde appellant se appèl teen sy vonnis van 15 jaar
gevangenisstraf op aanklag 3 word gehandhaaf, en daardie vonnis word
tersyde
gestel en vervang met 'n vonnis van 10 jaar
gevangenisstraf.
F H GROSSKOPF AR. Van Heerden AR Van
den Heever AR Stem saam