S v Khaba (727/92) [1994] ZASCA 155 (17 November 1994)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Evidence — Identification — Appellant convicted of murder, attempted robbery, and illegal possession of a firearm and ammunition — Key issue on appeal whether the State proved beyond reasonable doubt that the appellant was the perpetrator — No direct identification by witnesses; reliance on circumstantial evidence and a confession — Appellant's confession admitted as evidence despite claims of coercion — Court found that the circumstantial evidence, combined with the confession, sufficiently established the appellant's guilt beyond reasonable doubt, upholding the convictions.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 155
|

|

S v Khaba (727/92) [1994] ZASCA 155 (17 November 1994)

SAAKNOMMER
: 727/92
NvH
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-
AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
MSHIWENI NOAH KHABA
en
DIE STAAT
SMALBERGER, AR
SAAKNOMMER
: 727/92
NvH
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUIDAFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
MSHIWENT NOAH KHABA
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: SMALBERGER,KUMLEBEN,
etVANDENHEEVER, ARR
VERHOORDATUM
: 3 November 1994
LEWERINGSDATUM
: 17 November l994
U I T S P R A A K
SMALBERGER, AR:-
Kort na 10:00 die oggend van Vrydag 18 Januarie 1991 was
mev Annette Elizabeth Serfontein ("die oorledene") in haar naaldwerkkamer by
haar huis te Kleinstraat 71, Ermelo, werksaam. Mev Sarah
Magagula, haar
huishulp, was besig om in 'n vertrek
2 langsaan te stryk. Die oorledene se
20-jarige dogter, Cotie
Serfontein, was in haar slaapkamer doenig. 'n Gewapende man het
die huis
binnegekom. Hy was in blouerige klere geklee. Op sy
kop was 'n roomkleurige
mus. Hy het met 'n ligte blou vadoek sy
gesig probeer bedek. Hy was in besit van 'n rewolwer. Mev
Magagula is deur
hom gekonfronteer. Op sy aandrang het sy hom
na die oorledene geneem. Toe hy die naaldwerkkamer binnegegaan
het, het die oorledene van haar stoel af opgestaan. Hy het twee keer
vir haar gesê dat hy geld soek. Albei kere het sy ontken dat sy
geld het. Hy het toe op 'n kort afstand twee skote op haar gevuur.
Een het haar in die kop getref en die ander in die bors. Sy het op
die grond geval, dodelik gewond. Daarna het hy mev Magagula
beveel om in een van die kamers op die vloer te gaan lê en haar
met 'n laken toegegooi. Hy is toe na mej Serfontein se kamer.
Daar het hy die rewolwer op haar gerig, geld geëis en gedreig om
haar te skiet. Hy het haar verplig om die huis te deursoek vir geld,
maar geen geld is gevind nie. Hy beveel haar toe om haar klere uit
3 te
trek. Sy het botweg geweier en hom uitgekryt as 'n lafaard.
Haar onverwagte teenstand het hom blykbaar van stryk gebring.
Nadat hy
haar aangesê het om op die vloer te gaan lê, het hy die
huis
verlaat. Die polisie is deur mej Serfontein ontbied en was gou
op die toneel. Die latere na-doodse ondersoek op die liggaam van
die oorledene het getoon dat sy dood is as gevolg van skietwonde
in die kop en bors.
Voortspruitend uit die gemelde gebeure het die appellant
voor
HARTZENBERG, R en assessore in die Transvaalse
Hooggeregshof
(Oos- en Suid-Oostelike Rondgang Plaaslike Afdeling) tereggestaan
op aanklagte van (1) moord; (2) poging tot roof; (3) onwettige
besit van 'n vuurwapen ('n .22 rewolwer) en (4) die onwettige besit
van ammunisie (twee .22 patrone). Die appellant is op al vier
aanklagte skuldig bevind. Op die moordaanklag is hy die doodstraf
opgelê; ten aansien van die poging tot roof is hy tot 15 jaar
gevangenisstraf gevonnis; en op die oorblywende twee aanklagte
(wat saamgeneem is vir vonnisdoeleindes) is hy gevonnis tot 2 jaar
4
gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër beroep, waar nodig met die
vereiste verlof, teen al sy skuldigbevindings en vonnisse.
Die vernaamste vraag op appèl is of die Staat bo redelike twyfel bewys
het dat die appellant die persoon is wat die huis van
die oorledene binnegegaan
het en haar doodgeskiet het. Nóg die oorledene se dogter nóg mev
Magagula was in staat om
hom as die betrokkene uit te ken. Die tuinier wat
daardie oggend in die Serfonteins se tuin werksaam was en die aanvaller gesien
het toe hy op vlug slaan, het die appellant in die hof as daardie persoon
uitgewys. Daar kan, om redes wat nie vermeld hoef te word
nie, klaarblyklik nie
op sy uitkenning peil getrek word nie en het die Staat ook nie daarop gesteun
nie. Die Staatsaak teen die appellaní
berus dus op
omstandigheidsgetuienis, sekere uitwysings deur hom gedoen en 'n bekentenis wat
hy voor 'n landdros afgelê het
en wat die verhoorregter bevind het
toelaatbaar was.
Die verloop van die gebeure na die skietvoorval, volgens die Staatsgetuies,
kan as volg saamgevat word. Soos reeds gemeld,
5 was die polisie gou op die
toneel. Onder hulle was adjudant-
offisiere Spies en De Nysschen. Hulle het vlugtig probeer uitvind
wat daar
gebeur het, 'n beskrywing van die aanvaller verkry en die
rigting gevolg waarin hy beweeg het. Die aangeduide rigting was
dié van die swart woongebied. Hulle het onmiddellik in hulle
voertuig in daardie rigting gery. Tussen die dorpsgebied van
Ermelo en die swart woongebied, ongeveer 'n kilometer van die
oorledene se huis, is daar (of was daar destyds) 'n groot oop stuk
veld. Hulle het twee persone opgelet wat daaroor loop; ongeveer
100 meter agter hulle het nog 'n persoon alleen gestap. Hy het
blykbaar met 'n voetpaadjie langs beweeg. Hy het gedurig na
agtertoe gekyk en het sekere blouerige en ligkleurige items in sy
besit gehad. Spies en De Nysschen het hom dopgehou. Toe hy
naby aan hulle was, het hulle uit hulle voertuig geklim en hom
genader. Op daardie íydstip het hy nie meer iets in sy besit gehad
nie. Die persoon was die appellant. Hulle het hulle as polisie-
offisiere aan hom voorgestel en hom deursoek. Hy het 'n bruin
6 broek en
(volgens hulle) 'n bruinerige hemp aangehad. Onder dié
kledingstukke het by 'n blou sweetpakbroek en 'n blouerige hemp
aangehad. Niks behalwe 'n leë plastiese sak is op hom gevind nie.
Die appellant kon hulle nie 'n bevredigende verduideliking van sy
bewegings gee nie. Hulle het hom toe per voertuig na Kleinstraat
geneem en aan kaptein (destyds luitenant) Acker oorhandig.
Daarna is hulle terug na die stuk veld waaroor die appellant gestap
het op soek na bewysstukke. Acker het op sy beurt die appellant
in die bewaring van konstabel Dlamini gelaat. Hulle was saam
buitekant langs 'n voertuig toe die appellant in 'n onbewaakte
oomblik opgespring en weggehardloop het. Dlamini, wat met 'n
haëlgeweer gewapen was, het 'n waarskuwingsskoot in die lug
gevuur in 'n vergeefse poging om te keer dat die appellant ontsnap.
Toe die appellant aanhou hardloop, het Dlamini 'n verdere skoot op
die appellant geskiet wat (soos later geblyk het) hom in die rug
getref het. Desondanks het die appellant oor 'n beton muur
gespring en weggekom.
7 Sersant (destyds konstabel) Piek het 'n radio berig ontvang
dat
die appellant ontsnap het en het na hom help soek. Hy het
daarin
geslaag om hom op te spoor. Toe die appellant Piek gewaar, het
hy
'n klip na hom gegooi en weggehardloop. Piek was
genoodsaak, ten einde die
appellant te vang, om 'n skoot op hom te
skiet met sy 9 millimeter
dienspistool. Die skoot het die appellant
in sy linkerbobeen getref. Op
daardie tydstip was die appellant in
'n blouerige hemp en broek geklee. Die appellant is daarna deur
hom aan speurder-sersant (destyds konstabel) Hartley oorhandig.
Dié het hom geneem na die oop stuk veld waar die appellant
aanvanklik deur Spies en De Nysschen opgelet is. Daar was etlike
polisiebeamptes op die toneel onder andere Spies, De Nysschen,
majoor Holder en luitenaní (destyds adjudant-offisier) Geel.
Sekere uitwysings is na bewering deur die appellant daar gedoen en
'n ontstekingsresidu-toets is op die hande van die appellant
uitgevoer, die uitslag waarvan later geblyk het negatief te wees.
(Ofskoon daar weersprekings is in die getuienis aangaande hoe hulle
8
gevind is, is dit nie in geskil nie dat in die omgewing van
die
voetpaadjie waarlangs die appellaní vroeër die oggend gestap
het daar 'n roomkleurige mus, 'n ligte blou vadoek, 'n blou
baadjie en 'n .22
rewolwer gevind is.) Daarna is die appellant na die aanklagtekantoor geneem waar
hy aan adjudant-offisier Van Zweel
(wat die formele ondersoekbeampte geword
het), oorhandig is.
Op versoek van Van Zweel, is die appellant later deur Piek na 'n deeltydse
distriksgeneesheer, dr Mulder, geneem sodat 'n bloedmonster
van hom verkry kon
word. Die appellant, wat oop wonde aan sy rug en linkerbobeen gehad het, is nie
vir sy beserings behandel nie.
(Hieromtrent sal daar verder uitgewei word.) Na
sy terugkeer was die appellant, volgens Van Zweel, nadat hy met hom gepraat het,
"begerig om uitwysings te doen". Van Zweel het gevolglik met kaptein (destyds
luitenant) Pienaar gereêl om die uitwysings waar
te neem. Kort na 13:00 is
die appellant saam met Pienaar, Geel (as fotograaf) en speurder-konstabel Zwane
(as tolk) na die oorledene
se huis waar die appellant sekere uitwysings
9
gedoen het, onder andere wáár hy beweer het hy díe huis
binnegegaan het en wáár hy die oorledene geskiet het. Na
hulle
terugkeer, het die appellant sy bereidwilligheid teenoor Van
Zweel
verklaar om 'n verklaring voor 'n landdros af te lê. Geen
landdros
was egter vir die doel beskikbaar nie. Gevolglik is die appellant
eers die volgende Maandagoggend na landdros Marais geneem aan
wíe hy 'n verklaring gemaak het. (Tot op daardie stadium het die
appellant nog steeds nie behandeling vir sy wonde ontvang nie.)
In sy verklaring, wat op 'n bekentenis neerkom, het die appellant die
volgende gesê:
"Ek het gaan kwaad doen by 'n blanke perseel. Ek het gaan geld soek. Ek het
die perseel binnegegaan. Ek was met 'n rewolwer gewapen.
Ek het in die huis
ingegaan en geld gesoek. Ek het 'n blanke vrou in die huis gekry. Sy het
gesê sy het nie geld nie - sy het
opgestaan en na my toe gekom. Ek het
haar toe geskiet. Ek het toe weggehardloop. Dit is al."
Die appellant het in sy getuienis ontken dat hy die betrokke dag by die
oorledene se huis was en dat hy haar geskiet het.
10 Volgens hom, ofskoon hy
destyds werksaam was te Secunda, het hy
nie daardie dag gewerk nie. Hy het erken dat hy deur Spies en De
Nysschen
voorgekeer is nadat hy deur die veld gestap het, en dat hy
deur hulle
opgelaai is en na die oorledene se huis geneem is, waar
hy in Dlamini se
bewaring gelaat is. Hy het egter ontken dat hy
ooit probeer ontsnap het of dat hy gewond is soos deur die
Staatsgetuies beweer.
Luidens die appellant se weergawe is hy deur drie
polisiemanne,
onder andere Hartley, na die oop stuk veld geneem
waar hy aanvanklik voorgekeer ís. Op pad soontoe is hy 'n
vuishou deur een van die polisiemanne toegedien. Daar gekom, is
gesê dat hulle na 'n vuurwapen soek. Die appellant het alle kennis
van 'n vuurwapen ontken. Hy is gedreig om die waarheid te praat
en is aangesê om te hardloop. Toe hy weier, is hy vorentoe
gestoot. Hy is weer gestoot en het later begin hardloop. Hy hoor
toe 'n skoot en voel dat iets hom in die linker-bobeen tref. Die
wond het gebloei. Volgens hom het hy net een skoot gehoor. Hy
11
het toe gaan staan met sy hande in die lug. Hulle is toe daar weg. Die
appellant het ontken dat hy enige uitwysings gedoen het as
gevolg waarvan enige
bewysstukke gevind is. Die appellant het erken dat hy die middag saam met
Pienaar en andere na die oorledene
se huis is. Hy het egter ontken dat hy enige
uitwysings gedoen het of erkennings gemaak het. Volgens hom is hy bloot gevra om
op
sekere plekke te staan en is fotos van hom geneem. Wat sy verklaring aan die
landdros betref, erken hy dat die verklaring soos genotuleer
deur hom
afgelê is. Hy het egter beweer dat Van Zweel druk op hom uitgeoefen het om
'n verklaring te maak en hom voorgesê
het wat om te sê.
By oorweging van die vraag of die appellant se skuld bo redelike twyfel bewys
is, moet kennis wel deeglik geneem word van sekere leemtes
in die Staatsaak,
sowel as onbevredigende of negatiewe aspekte van die getuienis. Die rewolwer wat
gevind is, en wat as bewysstuk
voor die hof gedien het, is nie deur enige
aanvaarbare getuienis met die misdade verbind nie. Twee patrone
12
was vanuit die oorledene se liggaam verwyder tydens die na-doodse
ondersoek. Daar is egter geen getuienis dat ballistiese toetse uitgevoer is
om vas te stel of hulle van die rewolwer afkomstig is
nie of, indien sulke
toetse wel gedoen is, wat die uitslag van die toetse was nie. Trouens, daar is
nie eers getuienis dat die verwyderde
patrone van .22 kaliber was nie. Ofskoon
mej Serfontein en mev Magagula albei die rewolwer uitgewys het as soortgelyk aan
dié
wat in die aanvaller se besit was, is daar aspekte rakende hulle
beskrywing en uitwysing van díe vuurwapen as sodanig wat
twyfel laat
ontstaan oor die betroubaarheid van hulle getuienis in dié verband. Soos
reeds gemeld, was die ontstekingsresidu-toets
wat op die appellant se hande
uitgevoer is, negatief. Luidens die getuienis kan die afwesigheid van
ontstekingsresidu verduidelik
word aan die hand van verskeie faktore. Dit is
egter 'n feií wat oorweging moet geniet by die beoordeling van die
getuienis
in geheel.
Volgens beide mej Serfontein en mev Magagula was die
13
aanvaller 'n kort persoon - inderdaad korter as mej Serfontein
self.
Op appèl is daar namens die appellant betoog, met verwysing na
verskeie fotos waarop die appellant verskyn, dat hy van "normale
liggaamsbou" is
en dus nie voldoen aan die beskrywing van die aanvaller nie. Wat dit betref is
hierdie Hof volkome in die duister.
Die lengte van die aanvaller vergeleke met
die van mej Serfontein het wel tydens haar kruisondervraging pertinent ter
sprake gekom.
Onder andere, toe sy gevra is of sy die appellant as die aanvaller
kon uitken, het sy geantwoord: "Nie as ek net na sy gesig kyk
nie, maar dalk as
ek na sy lengte kyk". Die aangeleentheid is egter net eenvoudig daar gelaat.
Nóg die advokate wat vir die
Staat en die appellant onderskeidelik
verskyn het, nóg die verhoorhof, het enige poging aangewend (soos
redelikerwys verwag
kon gewees het) om 'n vergelyking te tref tussen mej
Serfontein se lengte en dié van die appellant, of getuienis ten opsigte
daarvan op rekord te plaas. Aangesien ons nie vanaf die oorkonde kon vasstel hoe
mej Serfontein en die appellant met
14 mekaar in lengte vergelyk nie, kan ons
nie bevind daí hy korter,
langer of dieselfde lengte is as sy nie, of oorweging skenk aan
die
moontlike implikasies wat 'n bevinding in dié opsig kon
ingehou
het.
In hierdie verband is daar ook sterk klem gelê op
die
getuienis van mev Magagula. Sy het getuig dat op 'n tydstip
nadat
die poiisie hulle opwagting by die oorledene se huis gemaak het, sy
na buite geroep is en gevra is of 'n persoon wat in polisie bewaring
was die aanvaller was. Die persoon het op die sypaadjie gesit.
Dit was klaarblyklik die appellant. Hy het opgestaan met haar
aankoms en sy het aan die polisie te kenne gegee dat volgens haar
herinnering die aanvaller korter as die appellant was. Haar
getuienis wat dit betref is ongetwyfeld relevant met betrekking tot
die vraag of die appellant die aanvaller was. By die oorweging van
haar getuienis in die opsig moet egter in gedagte gehou word dat sy
'n traumatiese gebeurtenis beleef het wat haar waarnemingsvermoëns
nadelig kon aangetas het, en dat die appellant op daardie tydstip
15 bruin
en nie blou klere aangehad het nie wat tot verwarring kon lei.
Die omstandighede was dus nie vir betroubare uitkenning
bevorderlik
nie.
Wat die vind van die bewysstukke betref en die uitwysing
daarvan,
of van hulle, deur die appellant, is daar heelwat
weersprekings en teenstrydighede in die getuienis van die betrokke
polisiegetuies. Wat hulle getuienis betref, ís dit gemene saak dat
toe Hartley met die appellant by die oop stuk veld opdaag, was
Holder, Geel, Spies en De Nysschen, onder andere, reeds daar. Die
trant van Hoïder se getuienis is dat al die bewysstukke vir die
eerste
keer aan die lig gekom het as gevolg van die appellant se
uitwysings. Volgens Spies is die bewysstukke met uitsondering
van die rewolwer gevind voordat Hartley met die appellant op die
toneel opgedaag het. Daarna, op aandrang van Spies, het die
appellant die rewolwer uitgewys. De Nysschen se weergawe
daarenteen is dat al die bewysstukke, insluitende die rewolwer,
gevind is voordat die appellant en Hartley hulle opwagting gemaak
16 het.
Wat presies gebeur het, is dus nie duidelik nie. In die
omstandighede sou dit myns insiens verkieslik wees om die
beweerde
uitwysings wat die appellant op daardie tydstip gemaak
het, te verontagsaam.
Dit is miskien nou gepas om verdere melding te maak van
die
versuim aan die kant van die verantwoordelike polisiebeamptes
om
te sorg dat die appellant onmiddellik of so gou doenlik behandeling
vir sy skietwonde ontvang. Die appellant het oop wonde gehad op
sy rug en linker bobeen waarvan ten minste laasgenoemde
aanvanklik gebloei het en hom klaarblyklik pyn veroorsaak het.
Hy is oorspronklik na dr Mulder geneem, nie vir behandeling nie,
maar sodat 'n bloedmonster getrek kon word. Dr Mulder het ook
nie op behandeling aangedring nie. Ons weet nie presies hoe
ernstig die wonde was nie. Die indruk word gekry dat hulle nie te
ernstig was nie; nogtans toe die appellant die Vrydagmiddag na dr
Mulder geneem is vir behandeling het sy nie kans gesien om sy
beserings, blykbaar vanweë hulle aard, by haar spreekkamers te
17
behandel nie, en het aanbeveel dat hy hospiíaal toe geneem moes
word. Die appellant is soontoe geneem maar het om een of
ander
onverklaarbare rede nie behandeling ontvang nie. Dit is laakbaar
dat, toe hy die Maandagoggend sy verklaring voor die landdros gaan
aflê het, hy nog steeds nie enige mediese versorging van sy
beserings ontvang het nie. Dit is voor ons betoog dat die
moontlike uitwerking hiervan op die appellant se gemoedstoestand
was om hom te beïnvloed om uitwysings aan Pienaar en die
verkïaring aan landdros Marais te maak.
Ek behandel voorts die toelaatbaarheid van die appellant se
uitwysings en meegaande mededelings aan Pienaar, en sy skriftelike
verklaring aan die landdros ("die bekentenis"). Wat eersgenoemde
betref, was die bewyslas deurgaans op die Staat om die nodige
toelaatbaarheidsvereistes bo redelike twyfel te bewys. Die
bekentenis voldoen aan die vereistes wat in art 217(l)(b)(ii) van die
Strafproseswet 51 van 1977 gestel word. Dit word dus geag,
kragtens die heersende reg, vrywillig en ongedwonge deur die
18
appellant gemaak te gewees het tensy die teendeel bewys word.
Die vraag of
die bepalings van art 217(l)(b)(ii) met die Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika (Wet 200 van 1993) teenstrydig
is, is nie voor ons geopper nie. Vir
die doeleindes van hierdie appèl kan die aangeleentheid egter genader
word as sou die
bewyslas deurgaans op die Staat gerus het om die toelaatbaarheid
van die bekentenis te bewys.
Volgens die appellant was hy beangs nadat hy geskiet is op die wyse deur hom
voorgegee. Hy beweer nie dat hy op enige ander aangeleentheid
aangerand is nie.
Sy getuienis kom daarop neer dat hy reeds die Vrydagmiddag deur Van Zweel
voorgesê is wat om in sy bekentenis
te sê. Hy het ingewillig om 'n
valse bekentenis te maak. Hy beweer dat Van Zweel hom duidelik laat verstaan het
dat nadat hy
die bekentenis afgelê het die polisie dit voor oë sou
kry en sou kon vasstel of die weergawe wat aan hom voorgehou is
aan die landdros
oorgedra is. Hy was bevrees oor wat met hom sou gebeur indien hy nie sou doen
soos hy voorgesê
19 is nie. Dit het aanleiding gegee tot die maak van
die bekentenis.
Dit was gevolglik nie ongedwonge nie. Soos reeds gemeld, het die
appellant
ontken dat hy enige uitwysings of mededelings aan
Pienaar gemaak het. Hy
beweer dat hy bloot aangesê is om op
sekere piekke te staan en na sekere voorwerpe te wys terwyl fotos
van hom
geneem is.
Die hoeksteen van die appellant se verweer meí betrekking tot die
toelaatbaarheid van sy bekentenis is sy weergawe van die
omstandighede waaronder
hy beweer hy geskiet is. Dit was verantwoordelik vir sy angs wat veroorsaak het
dat hy 'n valse bekentenis
gemaak het. Hierdie situasie het die Vrydag sowel as
die Maandag gegeld - daar het niks noemenswaardig tussenin gebeur wat die
aflê
van die bekentenis beinvloed het nie.
Die appellant se weergawe van hoe hy geskiet is, kom uiters onwaarskynlik
voor. Daar kan nouliks rede gewees het om so teen hom op
te tree. Indien die
polisie hom valslik wou inkrimineer, of druk op hom wou uitoefen om homself te
inkrimineer, kon hulle op
20
'n meer effektiewe en subtiele wyse te werke gegaan het. Daar
ís
niks in sy antwoorde op die landdros se vrae, of sy houding voor
die landdros, om aan te dui dat hy onder dwang of uit vrees opgetree
het nie. Sy
verduideliking van sy skietwonde, viz: "Ek was besig om weg te hardloop. Ek is
toe deur die polisie geskiet." kom grootliks
ooreen met die Staat se weergawe.
Die verhoorregter het ook tereg opgemerk: "Dit klink vir my verregaande dat die
polisie wat besig
was met 'n komplot om hom te kry om 'n toelaatbare verklaring
wat vals is te maak, sal wag van Vrydagmiddag tot Maandag". Verder
bots die
appellant se getuienis met die van 'n aantal polisiegetuies insluitende Hartley,
Dlamini, Piek, Pienaar en Van Zweel. Die
verhoorhof het hulle getuienis
klaarblyklik bo die van die appellant verkies. Ek is nie oorreed dat die
verhoorhof in die opsig fouteer
het nie. Die appellant was trouens 'n uiters
onbevredigende getuie soos blyk uit die oorkonde. Die feit dat daar nie in die
bekentenis
'n meer breedvoerige uiteensetting van die gebeure is nie, is
neutraal. Dit
21
is nie 'n noodwendige, of selfs waarskynlike, aanduiding dat die
appellant
voorgesê is wat om te sê nie. Na my mening is daar bo redelike
twyfel bewys daí die appellant gewond
is soos deur die Staatsgetuies
getuig. Gevolglik verval die onderbou van die appellant se verweer.
Die getuienis van die psigiater, prof Plomp, met betrekking tot moontlike
induserende faktore tot die aflegging van 'n verklaring
of die maak van
uitwysings, welwetende dat dit vals is, in 'n poging om te ontkom aan fisiese of
psigiese ontbering, voer die aangeleentheid
nie verder nie. Sy getuienis is
gegrond op wat die appellant hom vertel het dws die appellant se weergawe van
gebeure, wat nie redelik
moontlik waar kan wees nie. Daar is ook niks om aan te
dui dat die versuim om die appellant se wonde te laat behandel aanleiding
gegee
het tot die aflê van die bekentenis nie. Die appellant self het dit nie
daaraan toegeskryf nie of die twee enigsins met
mekaar in verband probeer bring
nie.
Na my mening het die Staat bo redelike twyfel bewys dat die
22
bekentenis ongedwonge en vrywilliglik deur die appellant gemaak
is. Dieselfde geld ook vir die uitwysings en meegaande mededelings aan
Pienaar waar die Staat se getuienis te verkies is bo die appellant
se blote
ontkenning. Soos reeds gemeld, was hy 'n swak en onoortuigende getuie wat sy
storie aangepas het namate die skoen hom gedruk
het. Hy was, byvoorbeeld, nie
aanvanklik in staat om aan die polisie 'n aanvaarbare verduideliking vir sy
bewegings vroeër die
Vrydag te gee nie. Toe hy hieromtrent gedruk is onder
kruisondervraging het hy met stories en verduidelikings vorendag gekom wat
al
hoe meer onwaarskynlik (en Maarblyklik leuenagtig) geword het. Die appellant was
ook nie in staat om 'n bevredigende verduideliking
te gee waarom hy twee stelle
klere die betrokke dag aangehad het nie.
Die getuienis in geheel gesien, kan die volgende feite en oorwegings na my
mening in aanmerking geneem word by die bepaling van díe
vraag of die
skuld van die appellant bo redelike twyfel bewys is:
23
1) Kort na die voorval het die appellant met 'n grondpaadjie deur 'n oop stuk
veld gestap, ongeveer een kilometer van die misdaadstoneel.
Hy heí
gedurig teruggekyk en daar was lig-kleurige en blouerige items in sy besit. Toe
hy later deur die polisie voorgekeer
is, was daar niks in sy besit meer nie.
2) ïn die omgewing van die grondpaadjie was die bewysstukke waarna reeds
verwys is later gevind. Die roomkleurige mus, die blou
baadjie en die ligte blou
vadoek is uitgeken as soortgelyk aan dié wat die oorledene se aanvaller
op of in sy besit gehad
het.
3) Toe die appellant deur die polisie voorgekeer is het hy twee stelle klere
aangehad - 'n bruinerige stel bo en 'n blouerige stel
onder. Laasgenoemde was in
ooreenstemming met die algemene beskrywing van die aanvaller se kleredrag. Die
appellant kon nie 'n aanvaarbare
verduideliking verskaf waarom hy twee stelle
klere aangehad het nie. In die loop van die oggend het hy díe twee stelle
omgeruil.
Uit hierdie getuienis is die afleiding geregverdig dat die appellant
uitkenning probeer bemoeilik het deur vermomming.
4)
Die appellant was nie in
staat, nóg teenoor die polisie toe hy voorgekeer is nóg later in
sy getuienis, om sy bewegings
dic betrokke oggend behoorlik te verantwoord
nie.
5)
Hy het 'n besliste poging aangewend om
uit polisiebewaring te ontsnap wat, gesien die omstandighede, op 'n
bewustheid
24
van skuld dui.
6) Die appellant se uitwysings aan Pienaar dui op kennis van die voorval; sy
meegaande mededelings bevestig sy betrokkenheid.
7) In die bekentenis wat hy gemaak het, erken die appellant dat hy die persoon
is wat die mislukte rooftog uitgevoer het en die oorledene
geskiet
het.
As hierdie faktore globaal beskou word, is die
gevolgtrekking onvermydelik, selfs as daar toegelaat word vir moontlike faktore
wat
op 'n verkeerde uitkenning van die appellant as die aanvaller mag dui, dat
die Staat daarin geslaag het om die skuld van die appellant
op al die aanklagte
hom ten laste gelê het bo alle redelike twyfel te bewys. Die appèl
ten opsigte van die skuldigbevindings
kan gevolglik nie slaag nie.
Wat vonnis betref, gaan dit alleen oor die vraag of, volgens die reg soos dit
tans nog is, die doodvonnis ten opsigte van die moordaanklag
die enigste gepaste
vonnis is. Die verswarende faktore aanwesig is voor-die-hand-liggend en ernstig.
Die
25
appellant was die betrokke oggend op 'n goed beplande rooftog uit.
Sy
motief was hebsug. Hy moes ongetwyfeld daarvan bewus gewees het dat daar mense,
waarskynlik slegs vrouens, in die huis was. Gewapen
met 'n gelaaide vuurwapen
het hy op aanmatigende wyse die huis binnegegaan. Sodoende het hy die
privaatheid en die veiligheid van
die oorledene en die ander persone in die huis
geskend. Toe daar nie aan sy eise om geld voldoen is nie, of voldoen kon word
nie,
het hy die oorledene koelbloediglik op kort afstand doodgeskiet. Sy
berekende, gevoellose optrede daarna ontsenu enige suggestie
dat hy uit paniek
die skote afgevuur het. Die feit dat hy die oorledene geskiet het, het hom nie
van sy rooftog laat afsien nie.
As hy wel paniekerig was, sou verwag kon word
dat hy onmiddellik die hasepad sou gekies het. Die appellant is ook nie 'n
eerste oortreder
nie maar het verskeie vorige veroordelings, onder andere vir
diefstal en huisbraak met die opset om te steel, op sy kerfstok. Sy
kanse om
gerehabiliteer te word is bra skraal. Afgesien van sy persoonlike omstandighede,
wat nie
26
veel gewig kan dra nie, is daar geen versagtende faktore aanwesig
nie.
Dit is al telkemale deur hierdie Hof benadruk dat in gevalle soos die
onderhawige waar iemand in die loop van 'n rooftog goedsmoeds
doodgeskiet word
die gemeenskapsbelang sterk op die voorgrond tree en moet afskrikking en
vergelding van oorheersende belang wees.
Ek sou die doodvonnis bekragtig het as
synde die enigste gepaste vonnis was dit nie vir die onsekerheid wat tans heers
oor die konstitusionaliteit
van so 'n vonnis nie - sien
S v Makwanvane en 'n
Ander
1994(3) SA 868(A) op 873D-F. Gevolglik sal dit gepas wees om 'n bevel
te maak soortgelyk as dié in
Makwanyane
se saak.
Bygevolg word die volgende bevel uitgereik:
(a) Die appellant se appélle teen sy skuldigbevindings op al vier
aanklagte en sy vonnisse op aanklagte 2, 3 en 4 word afgewys.
27
(b) Die afhandeling van die appèl teen die doodvonnis op aanklag 1 word
uitgestel tot 'n datum wat deur die Griffier in oorleg
met die Hoofregter bepaal
word.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
KUMLEBEN, ) stem saam VAN DEN HEEVER,)