About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 91
|
|
S v Plaatjies en 'n Ander (365/93,429/93) [1994] ZASCA 91 (30 May 1994)
SAAKNOMMER :
365/93
429/93
N
v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
JOHANNES PLAATJIES
1STE APPELLANT
MIETAH VAN SCHALKWYK
2DE APPELLANT
teen
DIE STAAT
RESPONDENT
SMALBERGER, AR:-
SAAKNOMMER :
365/93, 429/93
N V H
IN DIE HOOGGEREGSHOP VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
JOHANNES
PLAATJIES
1ste Appellant
MIETAH VAN SCHALKWYK
2de
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: SMALBERGER, VAN DEN HEEVER, ARR,
et OLIVIER, Wn AR
VERHOORDATUM
: 9 MEI 1994
LEWERINGSDATUM
: 30 MEI 1994
UITSPRAAK
SMALBERGER, AR:-
Die twee appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur
KOTZé, R, en assessore skuldig bevind aan twee aanklagte
van moord
(aanklagte 1 en 4) en twee aanklagte van roof met
2
verswarende omstandighede (aanklagte 3 en 5). Die eerste appellant is op
beide moord aanklagte ter dood veroordeel; op die ander twee
aanklagte is hy 15
en 18 jaar gevangenisstraf onderskeidelik opgelê. Die tweede appellant is
op aanklag 4 die doodvonnis opgelê;
op aanklagte 1, 3 en 5 is sy gevonnis
tot 18, 7 en 12 jaar gevangenisstraf onderskeidelik - 'n effektiewe vonnis van
altesame 37
jaar. Beide appellante het kragtens artikel 316A van die
Strafproseswet 51 van 1977 in hoër beroep gekom teen die doodvonnisse
hulle
opgelê. Die tweede appellant se aansoek om teen haar vonnisse op aanklagte
1, 3 en 5 te appelleer, is deur die geleerde
verhoorregter afgewys. Sy is tydens
die aanhoor van die appèl die geleentheid gegun om 'n aansoek om
dusdanige verlof aan
hierdie Hof te rig. Die nodige aansoek, met 'n
gepaardgaande aansoek om kondonasie, is gedoen en deur hierdie Hof
toegestaan.
Aanklagte 1 en 3 spruit voort uit 'n voorval
3
wat in Maart 1992 plaasgevind het. Mev Elaine Maria Orphanoudakis ("die
eerste oorledene") het alleen gewoon te Dan Pienaarrylaan
3, Bloemfontein.
Volgens die getuienis was sy baie veiligheidsbewus. Op 5 Maart 1992 is sy in die
buitetoilet van haar erf dood aangetref.
Haar liggaam was bykans kaal, daar was
'n doek om haar gesig en haar hande was agter haar rug vasgebind. Daar was
sleepmerke aanduidend
daarvan dat sy vanaf die huis na die toilet gesleep is.
Die huis binne was in 'n harwar. Kaste was gestroop gewees en goedere deurmekaar
op die grond uitgegooi. Daar is vasgestel dat artikels ter waarde van Rl 500-00
vanuit die huis verwyder is. 'n Latere na-doodse
ondersoek het aan die lig
gebring dat die eerste oorledene dood is as gevolg van verwurging. Sy het onder
meer diep kneuswonde van
haar ken, nek en keel gehad, en verskeie skaafwonde was
oor haar liggaam versprei. Aan weerskante van haar strottehoof was daar
bloedings
wat
4
deur stompgeweld veroorsaak is. Dit blyk dat sy verwurg was met óf
hande om haar keel óf 'n arm wat van agter om haar
nek geklem was.
Seminale vloeistof is in haar vagina gevind.
Aanklagte 4 en 5 het betrekking op gebeure aangaande 'n aanval op, en die
dood van, Mev Johanna Catharina Muller ("die tweede oorledene").
Sy was 69 jaar
oud en het alleen gewoon te Duttonsingel 11, Bloemfontein. Op 18 November 1992
is haar half-geklede en gedeeltelike
vasgebinde lyk in 'n gang in haar huis
ontdek. Die kamers van die huis was deurmekaar, kaste was gestroop en goedere
was rondgegooí.
Daar is later vasgestel dat items ter waarde van R18
466-40 uit die huis vermis is. Die na-doodse ondersoek op haar liggaam het
getoon
dat sy ook aan verwurging dood is. Daar was diep kneusings teenwoordig
aan sowel haar regteroog, -wang, -oor en -nek, as haar linkeroor.
Haar onderste
kakebeen was gebreek - die gevolg van die
5
toedíening van 'n erge mate van stompgeweld. Daar was
ondervelbloedings aan beide kante van haar keel asook frakture van die
hioïed -been en tiroïed-kraakbeen aan die regterkant van die
strottehoof - aanduidend van verwurging deur middel van hande.
Die getuienis dui onteenseglik daarop dat die twee appellante, vanweë
hulle gemeenskaplike opset en optrede, regtens aanspreeklik
was vir die moorde
op, en die roof van, die twee oorledenes. Bygevolg is die korrektheid van hulle
skuldigbevindings nooit bevraagteken
nie. Dit is egter onseker of albei
appellante fisies deel gehad het aan die verwurging van die oorledenes - die
waarskynlikhede is
dat hulle deur die eerste appellant verwurg is. Ofskoon die
eerste appellant van verkragting van die eerste oorledene aangekla is
(aanklag
2), en daar bewys is (as enigste redelike afleiding) dat hy met haar gemeenskap
gehad het, is hy onskuldig bevind vanweë
die verhoorhof se
6
onvermoë om op die getuienis te bepaal of gemeenskap voor of na die
eerste oorledene se dood plaasgevind het, en of die eerste
appellant, toe hy
gemeenskap gehad het, daarvan bewus was dat sy dood was of nie.
Die vraag ontstaan op appêl of die doodvonnisse die appellante
opgelê die enigste gepaste vonnisse is. Dié vraag
moet beantwoord
word aan die hand van onder andere die verswarende en versagtende faktore wat
aanwesig is met betrekking tot elke
appellant.
In die geval van die eerste appellant is die verswarende faktore gewigtig en
voor die hand liggend. Ten opsigte van beide aanklagte
1 en 4 was daar 'n
lafhartige, koelbloedige en gevoellose aanval op 'n weerlose, bejaarde slagoffer
in die knusheid en veiligheid
van haar eie woning. Luidens die getuienis is
sodanige voorvalle aan die toeneem. Die motief vir die aanvalle was roof en
gepaardgaande
7
hebsug. Daar is nie vanweë enige besondere nood opgetree nie. Die tweede
moord is minder as ses maande na die eerste een gepleeg.
Daar is tereg deur die
verhoorhof bevind dat minstens die tweede moord vooraf beplan is. Die afleiding
is ook onvermydelik dat die
tweede oorledene met direkte opset vermoor is ten
einde te verhoed dat sy die twee appellante, wat albei aan haar bekend was, as
haar aanvallers kon uitken. Die eerste appellant het ook 'n minagtende houding
teenoor die eerste oorledene of haar liggaam ingeneem
na aanleiding van die
seksdaad wat hy gepleeg het. Daarbenewens het die eerste appellant ook 'n
indrukwekkende lys vorige veroordelings
wat nie minder nie as dertien vir
huisbraak met die opset om te steel en diefstal insluit. Dit het tot gevolg
gehad dat hy 'n baie
groot deel van sy lewe as 'n volwassene in die gevangenis
deurgebring het. Sy vooruitsigte op rehabilitasie is, om die minste te
sê,
uiters skraal.
8
Daar is by hom ook geen berou te bespeur nie vir die onderhawige misdade wat
hy gepleeg het.
Die verhoorhof het bevind, myns insiens tereg, dat daar geen
versagtende faktore ten aansien van die eerste appellant was nie. Hy
het wel nie
die voordeel van 'n formele skoolopleiding gehad nie en kom vanuit 'n
minderbevoorregte sosiale agtergrond, maar hierdie
is neutrale faktore, ofskoon
relevant ten opsigte van die bepaling van 'n gepaste vonnis.
Hierdie Hof het al herhaaldelik beklemtoon dat ofskoon al die doelstellings
van vonnis by vonnisbepaling aandag behoort te geniet,
in gevalle soos die
onderhawige die elemente van afskrikking en vergelding noodwendig na vore tree.
In talle sake betreffende wrede
aanvalle op weerlose, bejaarde persone op
verafgeleë plase of in die privaatheid van hulle wonings, wat tot die dood
van die
slagoffers gelei het, is die doodvonnis as enigste gepaste vonnis
beskou. Na
9
my mening geld dit ook wat die eerste appellant betref ten aansien van
aanklagte 1 en 4.
Heelwat van die verswarende faktore wat ek reeds genoem
het, geld ook ten opsigte van die tweede appellant. In haar geval is daar
egter
'n aantal versagtende faktore aanwesig. Sy was 40 jaar oud en 'n eerste
oortreder toe die misdade in Maart 1992 (wat betrekking
het op aanklagte 1 en 3)
gepleeg is. In Januarie 1992 het die eerste appellant by die tweede appellant en
haar kinders in hulle huis
ingetrek. Dit is opvallend dat, nadat sy vir soveel
jare 'n skoon paadjie geloop het, haar misdaadsloopbaan juis twee maande daarna
'n aanvang neem. Soos reeds genoem, is die eerste appellant geen vreemdeling aan
misdaad nie. Hulle verhouding was maar bra stormagtig.
Die tweede appellant, wat
kleiner is as die eerste appellant, is by tye deur hom mishandel. Die eerste
appellant erken self dat hy
haar geslaan het. Mej Moolman, van NIMRO, wat
10
ondersoek ingestel het na die tweede appellant se
omstandighede, het
getuig dat die tweede appellant se
kinders bang was vir die eerste appellant
as gevolg van
sy optrede teenoor hulle moeder. Volgens haar inligting
het die tweede appellant se gedrag begin verander nadat
sy die eerste appellant ontmoet het. Sy (mej Moolman)
het ook die indruk gevorm dat die tweede appellant
maklik beïnvloedbaar is. Gevolglik het die verhoorhof
bevind dat
"hierdie hof nie in ons gemoed bo alle twyfel tevrede is dat beskuldigde 2
nie aanvanklik by die eerste voorval deur beskuldigde 1
verlei
of beïnvloed was nie."
Na aanleiding daarvan is bevind, heeltemal tereg, dat die doodstraf nie die
enigste gepaste vonnis op aanklag 1 was nie.
Gesien die aard van hulle
verhouding en hulle verskillende agtergronde, en ondanks die les wat sy behoort
te geleer het uit haar vorige
ondervinding, en
11
die verwagting dat sy as gevolg daarvan groter weerstand sou gebied het teen
optrede van die eerste appellant wat vir haar onaanvaarbaar
was, kan die
redelike moontlikheid myns insiens nie uitgesluit word nie dat die tweede
appellant ook met die pleging van die misdade
ten opsigte van aanklagte 4 en 5
tot 'n mate deur die eerste appellant beïnvloed is. Bowendien, as behoorlik
gelet word op die
tweede appellant se persoonlike geskiedenis en omstandighede
bestaan daar wel in haar geval vooruitsigte op rehabilitasie.
Ek is gevolglik van mening dat daar nie bevind kan word dat, wat betref die
tweede appellant, die doodvonnis die enigste gepaste vonnis
op aanklag 4 is nie.
'n Lang termyn van gevangenisstraf sal in haar geval aan al die doelstellings
van straf voldoen en behoort ook
die gemeenskapsbelang te bevredig. Na my mening
is 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf aangewese op aanklag 4. Dit behoort ook
die
12
effektiewe vonnis te wees. Die kumulatiewe uitwerking van die vonnisse die
tweede appellant op die ander aanklagte opgelê, is
buitensporig hoog.
Gevolglik sal daar gelas word dat die vonnisse op aanklagte 1, 3, 4 en 5
saamloop.
Was dit nie vir die bepalings van die Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika, Wet 200 van 1993 ("die Grondwet") nie sou hierdie
Hof die opgelegde
doodvonnisse ten opsigte van die eerste appellant bekragtig het. Artikels 9 en
11(2) van die Grondwet skep egter
twyfel of die doodvonnisse die toets van
konstitusionaliteit sal weerstaan. Die vertolking van hierdie artikels lê
binne die
uitsluitlike jurisdiksie van die Konstitusionele Hof. Ofskoon artikel
241(8) van die Grondwet 'n oorgangsbepaling bevat wat die indruk
skep dat met
alle verrigtinge wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van die Grondwet
hangende was voor 'n geregshof, gehandel
moet word asof die Grondwet nie
13
aangeneem is nie, kan dit wees dat hierdie bepaling sou
uitgelê kon
word dat dit slegs op prosessuele
en jurisdiksionele aangeleenthede
betrekking het. Die
korrekte uitleg van hierdie bepaling behoort ook
aan
die Konstitusionele Hof oorgelaat te word. Dit is
gevolglik onwenslik dat die appèl van die eerste
appellant afgehandel word voordat die Konstitusionele
Hof uitsluitsel gegee het oor dié vraagstukke.
Hangende die Konstitusionele Hof se beslissing daaroor
blyk die aangewese weg te wees om die finale afhandeling
van die eerste appellant se appèl uit te stel.
Bygevolg word die volgende bevel gemaak:
1) Die afhandeling van die appèl van die eerste appellant teen die
doodvonnisse op aanklagte 1 en 4 word uitgestel tot 'n datum
wat deur die
Griffier in oorleg met die Hoofregter bepaal word, in afwagting van 'n
beslissing van die Konstitusionele Hof ten aansien
van die vraag of die
bekragtiging van die doodvonnisse deur hierdie Hof in 'n geval soos die
onderhawige konstitusioneel sal wees,
in die lig van die bepalings van die
Grondwet van die Republiek van Suid-
14
Afrika, Wet 200 van 1993.
2) Die appèl van die tweede appellant teen die doodvonnis op aanklag 4
slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang
met 'n vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf. Dit word gelas dat die vonnisse op aanklagte 1, 3 en 5 sal
saamloop met dié op
aanklag 4.
J
W SMALBERGER APPèLREGTER
VAN DEN HEEVER, AR )
OLIVIER, WN AR ) Stem saam