S v Groenewald (305/93) [1994] ZASCA 86 (30 May 1994)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Fraud — Appellant convicted of 1,532 counts of fraud over five years while employed as a clerk — Total amount defrauded approximately R39,000 — Appellant's actions characterized as calculated and deceitful — Appellant's alcohol dependency acknowledged but not deemed a mitigating factor by trial court — Sentence of three years' imprisonment upheld by Supreme Court of Appeal as appropriate given the seriousness and duration of the offenses — Appeal dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 86
|

|

S v Groenewald (305/93) [1994] ZASCA 86 (30 May 1994)

1
Saaknommer: 305/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
CHRISTINA JOHANNA
GROENEWALD
Appellant
teen
DIE
STAAT
Respondent
CORAM
: VAN HEERDEN, SMALBERGER
et NIENABER ARR
VERHOORDATUM:
23 MEI
1994
LENERINGSDATUM
: 30 MEI 1994
UITSPRAAK NIENABER AR
:
Die uitspraak van Smalberger AR het ek ter insae gehad. Ongelukkig
verskil ek van hom. Na my mening is die vonnis van drie jaar gevangenisstraf
wat
die appellant opgelê is volkome vanpas en behoort haar appèl
gevolglik van die hand gewys te word.
2 Die appellant, 'n 40-jarige geskeide vrou, het
skuldig
gepleit maar nie getuig nie. Mens weet dus nie
wat haar
presies besiel het om oor 'n tydperk van meer as vyf jaar
en
by meer as 1500 verskillende geleenthede bedrieglike
inskrywings in die rekeningboeke van die Handelshuis te maak
en die voordeel daarvan vir haarself in te palm nie. Sy was
'n rekenaaroperatrise by die Handelshuis. Haar
modus
ooerandi
was tweërlei van aard. Die een metode was om goed uit
voorraad vir haarself te vat maar teen die rekeningstate van
'n verskeidenheid van klante van die Handelshuis te debiteer,
in die vertroue dat hulle daarvoor sou betaal sonder om agter
te kom wat eintlik aan die gang is. Die totaal was ongeveer
R32 000,00. Dat die bedraggies telkens klein was, tel nie in
haar guns nie: dit was immers deel van die
slinkse
plan. Was
die bedrae groter, sou haar slagoffers stellig onraad bemerk
het en sou die appellant se gekonkel vroeg reeds op die lappe
gekom het. Die ander metode was om goed aan te koop en die
joernaal so te dokter dat dit lyk of sy daarvoor betaal het.
Op dié manier het sy haarself oor dieselfde tydperk van
vyf
3 jaar met minstens R6 968,85 bevoordeel.
Volgens die verhoorhof het haar optrede getoon dat
die
appellant "inherent oneerlik" was. Die skaal waarop
sy die
bedrog gepleeg het (R39 000,00), die lang tydperk waaroor
dit
gestrek het en die bedrewendheid waarmee dit alles
geskied
het, was van so 'n aard dat daar nie gesê kan word dat
die
verhoorhof in sy beoordeling van die appellant se
karakter-
eienskappe fouteer het nie. Dat sy 'n skelm drinker was en
meer geld nodig gehad het om drank mee te koop as wat sy op 'n
eerlike manier kon verdien, kan geredelik aanvaar word. Dit
verduidelik dalk haar optrede; dit doen nie af aan haar
oneerlikheid nie, net so min as wat 'n dobbelaar agter sy
dobbelsug kan skuil wanneer hy dobbelgeld steel. Daar was
geen getuienis voor die hof dat die appellant as gevolg van
haar verslaafdheid óf impulsief óf kompulsief opgetree
het
nie. Oor 'n periode van vyf jaar sou sy, as sy inherent
eerlik was, meer as genoeg kans gehad het om te besin en tot
inkeer te kom en hulp te soek sonder om haar na skelmstreke te
wend om haar drang na drank te bevredig. Nie elke alkoholis
4 is 'n dief of 'n bedrieër nie. Per slot van rekening is
daar
altyd die een of ander rede vir 'n misdaad waarby
oneerlikheid
betrokke is - sy dit dranksug, dwelmsug, hebsug, of
enige van
die legio redes waarom mense kul om geld of goed in die
hande
te kry. Vanselfsprekend is die aansporing tot iemand se
gedrag altyd 'n faktor, dalk die belangrikste
oorweging,
wanneer dit by vonnisoplegging kom. Maar les bes bly dit
'n
kwessie van graad en oordeel. Na my oordeel regverdig die
omvang, die tydsduur, die skelmagtigheid en die doelgerigtheid
waarmee die appellant opgetree het niks minder as direkte
tronkstraf nie en ek kan geen fout vind met die tydperk wat
die verhoorhof daarvoor opgelê het nie. Dit is wel so dat
sy
'n eerste oortreder is en bereid was om haar werkgewer, met
behulp van haar familie, te vergoed. Daarsonder sou die
vonnis wat die verhoorhof opgelê het, stellig swaarder
gewees
het.
Die appèl word afgewys.
P M Nienaber AR Van
Heerden AR stem saam.
UITSPRAAK
SMALBERGER, AR :-
Die appellant, wat skuldig gepleit het, is in die streekhof te Calvinia
aan 1532 aanklagte van bedrog skuldig bevind. Die aanklagte
is saamgeneem vir
die doeleindes van vonnis en sy is drie jaar gevangenisstraf opgelê. Haar
appèl teen vonnis is deur
die Kaapse
2
Provinsiale Afdeling van die hand gewys. Sy kom nou in hoër beroep
met verlof van hierdie Hof.
Die betrokke misdade is oor die tydperk
Desember 1986 tot Januarie 1992 gepleeg terwyl die appellant by die Williston
Handelskoöperasie
Bpk ("die Handelshuis") as 'n rekeningklerk werksaam was.
Die aanklagte het betrekking op aankope wat sy vir haarself gemaak het
by die
Handelshuis en oorgeplaas het na die rekeninge van verskillende klante van die
Handelshuis, asook die vervalsing van haar
eie rekening met die Handelshuis. Die
totale bedrag betrokke was in die omgewing van R39 000-00. Dit blyk uit die
besonderhede tot
die klagstaat dat van die aanklagte betrekking het op bedrae
van minder as R2-00 en dat die gemiddelde bedrag per aanklag beloop
ongeveer
R25-00.
Na die appellant skuldig bevind is, het haar regsverteenwoordiger onder
andere die volgende feite (wat blykbaar deur die Staat aanvaar
is - ten
minste
3
stilswyend) aan die verhoorlanddros deurgegee:
"Beskuldigde is 40 jaar oud, geskei en het 2 kinders 15 en 14 jaar
onderskeidelik. Sy is tans werkloos.
Sy is in 1981 die eerste maal geskei en daardie eggenoot is die vader van
haar 2 kinders. Die egskeiding was baie traumaties
vir haar.
In September 1982 het sy weer
getrou. Hierdie huwelik was stormagtig en problematies vir haar. Onder andere is
sy fisies aangerand,
sielkundig afgetakel, haar menswaardigheid is aangetas.
Nogtans het sy bly vasklou aan die 2de man. Beskuldigde het egter begin drink
en
alkohol gebruik.
In 1983 is die 2de huwelik beëindig maar teen daardie tyd was die
drink patroon gevestig. Sy het skelm gedrink.
Beskuldigde gaan bly by haar ma in Williston. In 1984 begin sy werk by
die Koöperasie en haar drankgebruik het sy gang geloop.
Die probleem met die stelery begin nou. Sy betaal - sorg - vir haar drank
maar het nie geld vir kos nie. Beskuldigde steel toe. So
beland sy in 'n bose
kringloop. Haar gewete word so gesus en dan steel sy weer.
In 1987, Desember, probeer sy selfmoord pleeg deur vergassing. Haar
vriende vind haar en sy word gehospitaliseer.
4
Sy word na 'n sielkundige verwys maar sy verswyg haar drankprobleem. Later
het die drank haar werk affekteer."
Die
appellant is 'n eerste oortreder. Sy het blykbaar berou oor wat sy gedoen het en
het haar volle samewerking aan die Polisie gebied.
Mnr Reitz, die bestuurder van
die Handelshuis, het getuig dat die Handelshuis sy kliënte vir hulle
verliese vergoed het. Volgens
hom het die appellant reëlings getref om die
skade wat die Handelshuis gely het, terug te betaal. Sy het 'n lewenspolis van
R30 000-00 aan die Handelshuis sedeer en gereël om met die hulp van haar
familie afbetalings van R200-00 per maand te maak.
Ofskoon die Handelshuis nie
bereid was om haar weer in diens te neem nie, was die direksie se houding dat sy
nie tronk toe moes gaan
nie.
Daar is ook, met goedkeuring van die Staat, drie mediese verslae
ingehandig wat betrekking het op
5
die appellant se alkohol-probleem soos dit destyds
voorgekom
het. Die eerste verslag was dié van 'n
psigiater, dr Munnik,
wat op 13 Februarie 1992 deur die
appellant geraadpleeg is. Soos uit sy verslag blyk,
het die appellant aanvanklik haar drankprobleem verswyg.
Dit het egter aan die lig gekom nadat sekere lewer-
funksietoetse gedoen is. Dr Munnik was van mening dat
die appellant "has a considerable alcohol problem which
has resulted in severe liver damage". Die appellant
is mettertyd na Stikland Hospitaal vir verdere
behandeling verwys. In die verslag wat namens die
mediese superintendent opgestel is, word daar onder
andere gemeld:
"[N]a konfrontasie rondom abnormale bloed-uitslae wat dui op erge
alkohol-inname (abnormale lewerfunksies), bevestig sy 'n patologiese
alkohol-gebruikspatroon. Sy beskryf ook 'n beeld van alkoholonttrekking wat
bevestigend is — van alkohol-afhanklikheid."
6
'n Diagnose van alkohol-afhanklikheid is gemaak.
Die
appellant is toe oorgeplaas na die Ramot Sentrum
vir
Alkoholiste vir alkohol-rehabilitasie. Sy is vir
vier
weke daar behandel. Luidens die verslag van
die
Direkteur was die appellant se samewerking, motivering
en vordering goed. Vanaf haar ontslag uit Ramot tot die
datum van haar verhoor het die appellant blykbaar nie
weer alkohol misbruik nie.
Ondanks hierdie verslae en die onbetwiste
feitlike mededelings wat gemaak is, kom die
verhoorlanddros tot díe gevolgtrekking, met verwysing na
die appellant:
"Doodnormale persoon wat so 'n bietjie te diep
in die bottel
gekyk het, dalk oor 'n tydperk,
maar werklik nie veel skade opgedoen
het nie
en wat binne-in 'n kort tydperk
gerehabiliteer
is by Ramot "
Na my mening het die verhoorlanddros die appellant se
alkohol-afhanklikheid, en die gevolge daarvan, gans te
lig aangeslaan. Dit het klaarblyklik aan die wortel
7
van haar probleme, en gepaardgaande bedrieglike optrede, gelê. Dit
het die verhoorlanddros óf nie behoorlík besef
nie, óf
verkeerdelik nie aanvaar nie. Sy bevinding dat die appellant "inherent oneerlik"
is, verleen ook nie voldoende erkenning
aan die alkohol-probleem onderliggend
aan haar optrede nie. Die verhoorlanddros se verkeerde beskouing en begrip in
bogenoemde opsigte
kom op 'n wesenlike mistasting neer. Dit staan hierdie Hof
gevolglik vry om opnuut oor vonnis te besin.
Dat die misdrywe, globaal gesien, ernstig was, en dat daar verskeie
verswarende faktore aanwesig is, is nie te betwyfel nie. Die appellant
se
optrede was beplan en berekend. Sy het oor 'n lang tydperk daarmee volhard. Die
vertrouensposisie waarin sy was, het sy misbruik
tot die nadeel en verlies van
ander. Tereg het die verhoorlanddros daarop gewys dat sy die vertroue wat in
haar gestel is "herhaaldelik,
byna daagliks"
8
geskend het. Hierdie is gewigte oorwegings by die bepaling van 'n gepaste
vonnis.
Indien al die tersaaklike feite en omstandighede met betrekking tot
vonnis in die onderhawige geval behoorlik en ewewigtig in ag geneem
is, sou die
vereistes van straftoemeting myns insiens bevredig word as die appellant 'n
vonnis opgelê is wat buite gevangenis-verband
uitgedien kan word (vgl
S
v Van Vuuren
1992(1) SASV 127(A)). Die appellant is wel strafwaardig maar
hoef nie uit die gemeenskap verwyder te word nie (vgl
S v R
1993(1) SASV
209(A) op 221h). Die aangewese vonnis in haar geval blyk te wees korrektiewe
toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van
die Strafproseswet 51 van 1977 mits die
appellant daarvoor geskik bevind word. Hierdie vonnisopsie kan wesenlike
bestraffing sonder
gevangesetting bewerkstellig (S v
Ndaba
1993(1) SASV
637(A) op 641g). Toe die appellant aanvanklik gevonnis is, was korrektiewe
toesig nie 'n
9
beskikbare vonnisopsie nie. Die is egter tans dienstig sowel as regtens
veroorloof (
S v R
(
supra
) op 218g-219d). Artikel 276(1)(h) is
vanaf 1 Junie 1993 in die distrik Williston van toepassing gemaak deur
Proklamasie R48 soos
gepubliseer in Staatskoerant Nr 14849 van daardie
datum.
Ek sou die appêl handhaaf, die vonnis tersyde stel en die saak na
die verhoorhof terugverwys vir die oplegging van 'n vonnis
van korrektiewe
toesig ingevolge die bepalings van artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51
van 1977 of, indien die appellant
om gegronde redes nie geskik is om aan
korrektiewe toesig onderworpe te wees nie, 'n gepaste vonnis buiten direkte
gevangesetting.
J W SMALBERGER APPèLREGTER