S v Makwanyane and Another (233/92) [1994] ZASCA 76; 1994 (3) SA 868 (AD); (27 May 1994)

81 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Conviction based on confessions — Appellants convicted of murder and robbery — Confessions made to police officers — Legal issue of voluntariness of confessions — Appellants argued confessions were coerced — Court found confessions were voluntary and corroborated by evidence — Convictions upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 76
|

|

S v Makwanyane and Another (233/92) [1994] ZASCA 76; 1994 (3) SA 868 (AD); (27 May 1994)

Saak No 233/92
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
in die saak tussen:
THEMBA MAKWANYANE
Eerste Appellant
MVUSO
MCHUNU
Tweede Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF, NIENABER, ARR
VERHOOR
: 3 MEI 1994
GELEWER
: 27 MEI 1994
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
2
Die twee appellante is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig
bevind deur Labuschagne R en assessore op vier klagtes van
moord, een van poging
tot moord en een van roof met verswarende omstandighede. Op elk van die klagtes
van moord is die appellante
ter dood veroordeel. Ten opsigte van die klag van
poging tot moord is hulle elk tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis, en ten
opsigte van die poging tot roof, tot tien jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof
het gelas dat vyf jaar van die gevangenisstraf ten
opsigte van die poging tot
roof moet saamloop met die gevangenisstraf op die aanklag van poging tot moord.
In effek moes die appellante
dus elk sewentien jaar gevangenisstraf uitdien. Die
appellante kom nou in hoër beroep teen hul skuldigbevindinge en
vonnisse.
Die omstandighede waaruit hierdie klagtes ontstaan is soos volg. Aan die
einde van elke maand stuur die Volkskas bank 'n bankvoertuig
met geld vir lone
na twee hospitale. Die bankvoertuig word begelei deur 'n polisievoertuig.
Die
3
bankvoertuig is 'n paneelwa met versterkte glas in die vensters
en versterkte panele in die bakwerk.
Op 31 Augustus 1990 om 6 vm het die
voertuig soos gewoonlik by die banktak weggetrek. Dit is bestuur deur ene
Pretorius. Hy het alleen
in die bestuurderskajuit gesit. Agter in die voertuig
was daar vyf bankamptenare. Die geldtrommels was in 'n aparte deel van die
voertuig. Toe die bankvoertuig vertrek was 'n polisievoertuig reeds aanwesig by
die tak. Dit was 'n geel Mazda motor met twee gewapende
polisiemanne, Thompson
en Goddard, daarbinne. Die polisievoertuig het die bankvoertuig begelei.
Die bankvoertuig is eers na die J G Strijdom hospitaal, waar daar drie
bankamptenare en ongeveer R900 000 aan lone afgelaai is. Die
bankvoertuig is toe
verder na die Coronation hospitaal met net twee bankamptenare (Botha en Havenga)
agter-in, saam met ongeveer
R478 000. Die polisievoertuig was onmiddellik agter
hulle.
By hul aankoms by die Coronation hospitaal het die
4
bankvoertuig by die terrein ingery, gevolg deur die
polisievoertuig. Die bankvoertuig het tot stilstand gekom. Kort daarna is daar
'n aantal skote op die polisievoertuig geskiet, en daarna ook op die
bankvoertuig. Beide polisieamptenare is in die fusillade noodlottig
verwond.
Pretorius, hoewel ook verwond, het dit reggekry om die bankvoertuig weer aan te
skakel en weg te ry. Op pad uit het hy teen
'n voertuig gebots waarin die
aanvallers beplan het om te ontsnap. Pretorius het omtrent twee kilometer verder
tot stilstand gekom.
Hy was noodlottig verwond, en so was Havenga. Botha, hoewel
ook ernstig verwond, het die aanval oorleef en was 'n Staatsgetuie by
die
verhoor. Trouens, die relaas hierbo berus grootliks op sy weergawe. Ander
ooggetuies verskil in onbelangrike opsigte van hom.
Deurdat hul gesteelde voertuig in die botsing beskadig is, het die aanvallers
te voet die hospitaal verlaat. Volgens een getuie was
daar ses van hulle, en was
hulle toe gewapen met vier gewere en een pistool. 'n
5
Huurmotorbestuurder, ene Maluleke, het getuig dat hy daardie
oggend by 'n rooi verkeerslig naby die hospitaal gestaan het toe vyf
mans,
gewapen met vyf AK-47 gewere, in sy motor ingeklim het. Hy het hulle na hul
bestemming geneem en hulle het hom betaal.
Die polisie het later beslag
gelê op 5 AK-47's wat almal deur ballistiese getuienis verbind was met die
aanval by die Coronation
hospitaal.
Voor die hof
a quo
is vyf persone aangekla vir hul aandeel in die
bogemelde gebeure. By die aanvang van die verhoor is die saak teen die eerste
beskuldigde
teruggetrek. Die verhoor het teen die oorblywende vier voortgegaan.
Die appellante was beskuldigdes 3 en 4. Die wesentlike getuienis
oor hoe die
misdaad gepleeg is, is nie by die verhoor betwis nie. Die verdediging het bloot
ontken dat die beskuldigdes daarby betrokke
was.
Nadat die verhoor 'n ruk lank aan die gang was, het die beskuldigdes probeer
ontsnap uit polisiebewaring. Die
6
tweede beskuldigde is in die poging doodgeskiet, en die vyfde
beskuldigde het dit reggekry om weg te kom. Slegs die twee appellante
was dus
oor en hulle is aan die einde van die verhoor skuldig bevind, soos ek hierbo
aangedui het.
Die eerste en vernaamste vraag voor die hof a quo was dus of
daar bo redelike twyfel bewys was dat die twee appellante deelgeneem
het aan die
aanval op die polisievoertuig en die bankvoertuig. Die enigste ooggetuie wat
voorgegee het om hulle uit te ken, was die
taxi-bestuurder, Maluleke. Daar is
egter verskeie swakhede in sy getuienis oor uitkenning. Die hof
a quo
het
hoegenaamd nie na sy uitkenning verwys in die uitspraak nie. Voor ons het mnr
Meiring, wat namens die Staat verskyn het, ook
nie in sy betooghoofde op
Maluleke se uitkenning staatgemaak nie, en hoewel hy later betoog het dat
hierdie getuienis nie heeltemal
buite rekening gelaat behoort te word nie, meen
ek dat dit gevaarlik sou wees om enige wesentlike gewig daaraan te heg. Al wat
dan
oorbly is bekentenisse wat die twee
7
appellante aan polisie-offisiere gemaak het. Dit is op sterkte van getuienis
oor hierdie bekentenisse dat die hof a
quo
die appellante skuldig bevind
het.
Die regsposisie is duidelik. Kragtens art 209 van die Strafproseswet kan
'n beskuldigde skuldig bevind word op die enkele bewys van
'n bekentenis indien
die bekentenis in 'n wesentlike opsig bevestig word of indien daar deur
getuienis
aliunde
bewys word dat die misdryf inderdaad gepleeg is. In die
onderhawige geval is daar geen twyfel dat die gebeure ten opsigte waarvan
die
appellante in die hof a
quo
skuldig bevind is, inderdaad plaasgevind het
nie en daar word nie betwis dat die verhoorhof geregtig was om hulle (onderhewig
aan
twee uitsonderings wat ek later behandel) op grond van die bekentenisse,
indien hulle toelaatbaar was, skuldig te bevind nie. Wat
toelaatbaarheid betref,
bepaal art 217 (1) van die Strafproseswet dat daar bewys moet word dat die
bekentenis vrywillig en ongedwonge
deur 'n persoon by sy volle positiewe gedoen
is sonder dat hy onbehoorlik
8
daartoe beïnvloed is. En wat bewyslas betref, is die
bekentenisse in die onderhawige geval gedoen aan polisie-offisiere wat
ex
officio
vrederegters was. Dit is gemene saak dat art 217 (l)(b) van die Wet
nie van toepassing was nie en dat die Staat met die bewyslas
beswaar was om bo
redelike twyfel te bewys dat die vereistes vir toelaatbaarheid aanwesig
was.
Die eerste vraag is dus of die getuienis oor die bekentenisse
toelaatbaar was en, meer besonder, of hulle vrywillig en ongedwonge
gedoen is.
Ek behandel eers die getuienis m b t die eerste appellant.
Die polisie-getuienis was in breë trekke soos volg. Op Maandagnag 3
September 1990 is kapt Landman, die ondersoekbeampte, as
gevolg van inligting
saam met 'n span polisie-amptenare na die huis van Reginald Mabaso, wat
beskuldigde no 2 by die verhoor was.
Daar het die polisie twee AK-47 gewere
gevind. Mabaso was senuweeagtig maar bereid om met die polisie saam te werk. Van
sy huis is
die geselskap
9
na 'n huis in White City waar daar vermoed was dat verdere
verdagtes mag wees. Die huis is omsingel, en polisie-amptenare het binnegegaan.
Die twee appellante is daar in hegtenis geneem. Mabaso en die twee appellante is
na die kantore van die Brixtonse Moord- en Roofeenheid
geneem. Die eerste
appellant is gewaarsku en ondervra. Die ondervraging het nie langer as 'n
kwartier geduur nie, en geen dwang is
op hom uitgeoefen nie. Daarna is die
tweede appellant gewaarsku en ondervra. Hy was heeltemal gewillig om te praat.
Na die ondervraging
van die tweede appellant is 'n onderhoud gevoer met Mabaso
en die twee appellante gesamentlik. Weens inligting wat gedurende hierdie
onderhoud ingewin is, het die polisie-span weer saam met Mabaso na sy huis
gegaan. 'n Verdere drie AK-47 gewere is in die huis gevind.
Die vyf AK-47 gewere
wat in totaal in Mabaso se huis gevind is, was, soos reeds gemeld, volgens
ballistiese getuienis almal in die
insident by die Coronation hospitaal
gebruik.
Na die vonds van die verdere vuurwapens is die
10
polisie-span en Mabaso terug na Brixton. Daar is die twee appellante en
Mabaso verder ondervra. Om 10.50 was die ondervraging klaar
en is die drie
beskuldigdes in die selle aangehou.
Omtrent 16.30 dieselfde middag is 'n
polisie-span onder bevel van kapt Landman saam met Mabaso en die eerste
appellant na Bergville
in Natal om te soek na verdere verdagtes. Hulle het
oornag op Ladysmith. Die volgende oggend moes hulle eers aan hul motorvoertuie
aandag gee, en hulle het ongeveer 1 nm op Bergville aangekom. Een van die
konstabels op Bergville het die verdagtes geken en die
polisie-span is die
middag saam met hom in die platteland in om hulle te gaan soek. Dit was
tevergeefs. Om 17.45 was die polisie-span
terug in Bergville. Kapt Landman het
toe weer onderhoude gevoer met Mabaso en die eerste appellant. Wat die eerste
appellant betref,
het kapt Landman hom weer gewaarsku volgens regtersreëls,
hom sy regte verduidelik en hom gevra of hy bereid was om 'n verklaring
af te
lê. Hy het
11
ingewillig. Die eerste appellant is na die selle teruggeneem.
Kapt Landman het gereël met 'n kapt Fitchet van die Ladysmithse
speurtak om
die verklaring af te neem. Volgens kapt Landman se getuienis het hy toe weer na
die ander verdagtes gaan soek, en het
hy "redelik laat" teruggekeer. By sy
terugkoms het hy verklarings van Mabaso en die tweede appellant ontvang wat kapt
Fitchet gedurende
sy afwesigheid te boek gestel het.
Die soektog na verdagtes
daardie aand was ook vrugteloos, en die hele geselskap is gedurende die nag
terug na Brixton.
Kapt Fitchet het getuig dat kapt Landman hom na 17.00 die middag gebel het om
hom te vra om verklarings in Bergville te kom afneem.
Hy het saam met 'n tolk na
Bergville gery. By Bergville het hy eers 'n verklaring van Mabaso geneem. Daarna
is die eerste appellant
na hom gebring, die gebruiklike waarskuwings en
verduidelikings is aan hom gegee, en hy het 'n verklaring gemaak. Kapt Fitchet
het
dit
12
op skrif gestel. Dit is weer aan die eerste appellant
oorgelees en hy het sy tevredenheid daarmee uitgespreek. Die verklaring is deur
die eerste appellant onderteken.
Die getuienis wat ek hierbo kortliks opgesom
het, is gestaaf deur 'n groot getal polisie-amptenare. Die algemene strekking
van hul
getuienis was dat die eerste appellant deurgaans korrek behandel was,
dat daar geen geweld of beïnvloeding teenoor hom uitgeoefen
is nie, en dat
sy verklaring heeltemal vrywillig was.
Die eerste appellant se getuienis was baie anders. In hoofverhoor was dit
soos volg. By sy arrestasie is hy aangesê om aan te
trek. Nadat hy dit
gedoen het, het 'n polisieman hom met die vuis geslaan en hy het geval. Sy hande
is agter hom met elektriese draad
vasgebind. 'n Polisieman het met die voet op
sy regterwang getrap. Polisiemanne het hom uitgeneem en geslaan en geskop tot
binne-in
'n polisievoertuig. Hy is geneem na Brixton, waar hy in 'n kamer
geplaas is, aangesê is om uit te trek, en elektriese skokke
13
toegedien is. Vervolgens is hy na 'n ander kamer geneem waar
hy op sy voete met sy skoen geslaan is. Daarna is hy in 'n sel geplaas.
Later
die aand is hulle per motor na Natal. Niks het gebeur voordat hulle by Bergville
gekom het nie. In Bergville is hy in 'n sel
aangehou. Die aand is hy uit die sel
verwyder. Hy is met die dood gedreig en aangesê om 'n verklaring te maak.
Hy het geantwoord
dat hy nie 'n verklaring kon maak oor iets waarvan hy niks
weet nie. Die polisie het hulle nie daaraan gesteur nie. Hy is na 'n kantoor
geneem waar daar 'n hele aantal polisie-amptenare was, insluitende kapt Landman.
Kapt Landman het aan die eerste appellant gesê
hy moet 'n verklaring maak.
Die eerste appellant het herhaal dat hy nie 'n verklaring kon maak oor iets
waarvan hy nie kennis het
nie. Hy het toe 'n lang tyd in die kamer bly sit
totdat kapt Fitchet daar gekom het. Die eerste appellant is aangesê om
nader
aan die tafel te kom. Daar is 'n dokument aan hom voorgelê en hy is
beveel om dit
14
te teken. Hy het dit gedoen. Hy het nie geweet wat daarop
staan nie. Hy sê dat hy geteken het omdat hy bang was hulle sou hom
weer
slaan. Op pad per motor terug na Brixton is hy weer deur kapt Landman met die
vuis geslaan.
Die eerste appellant het as getuie geroep sy vriendin wat saam
met hom in die huis was toe hy in hegtenis geneem is, en wat terselfdertyd
na
Brixton geneem is. Sy het tot 'n mate sy weergawe van sy aanvanklike aanrandings
gestaaf.
Dit is nie vir my nodig om afwykings van hierdie getuienis onder
kruisverhoor, en teenstrydighede tussen die getuienis van die eerste
appellant
en dié van sy getuie, hier aan te stip nie. Die hof
a quo
het na
'n deeglike oorweging van die getuienis die polisie-weergawe aanvaar en
dié van die eerste appellant en sy getuie verwerp.
Ek hoef nie in
besonderheid op die hof se redes in te gaan nie aangesien hierdie
geloofwaardigheidsbevindinge nie voor ons aangeveg
is nie. Ek kan dus volstaan
deur te sê dat daar myns insiens
15
geen rede bestaan om hierdie bevindinge omver te werp
nie.
In argument voor ons het mnr Van Vuuren, wat namens die appellante
opgetree het, aanvaar dat die eerste appellant se weergawe dat
hy inderdaad nie
'n verklaring gemaak het nie, verwerp moes word. Hy het egter betoog dat daar
uit die onbetwiste getuienis aanduidinge
was dat die verklaring nie vrywillig
was nie. Vir hierdie doel het hy op die volgende aspekte staatgemaak. Eerstens
het hy daarop
gewys dat die arres selfs op die polisie-getuienis met 'n mate van
geweld gepaard gegaan het. Kapt Landman het toegegee dat die ingang
in die huis
"op 'n redelike rowwe manier" gebeur het, en dat iemand daartydens "kon
seergekry het". Konst Marais het getuig dat hy
tydens die arrestasie met die
eerste appellant gestoei het, en hom vasgedruk het. Op 6 September is die eerste
appellant deur dr
Van Rensburg ondersoek. Die enigste besering wat sy kon vind
was rooiheid voor die linker oordrom. Oor die oorsaak hiervan het sy
gesê:
"... dit is baie meer algemeen met 'n voorwerp in die oor soos 'n
16
vuurhoutjie of 'n oorstokkie waarmee mens krap vir 'n oor wat jeuk..". Sy kon
egter nie die moontlikheid uitskakel dat dit deur 'n
klap veroorsaak kon gewees
het nie, maar die oor was glad nie beskadig nie.
Uit hierdie items is daar
gepoog om die afleiding te regverdig dat die eerste appellant, as 'n redelike
moontlikheid, onbehoorlik
beïnvloed is om die verklaring te maak. Die
moeilikheid met hierdie betoog is tweërlei. Eerstens, die eerste appellant
getuig nie self dat die mate van geweld wat by sy inhegtenisneming deur die
polisie gebruik is, hom beweeg het om die verklaring
te maak nie. Sy eie relaas
was dat daar ernstige aanrandings op hom was wat direk daarop gerig was om sy
weerstand te breek en dat
hy inderdaad nie 'n verklaring gemaak het nie. Hierdie
weergawe is tereg deur die verhoorhof verwerp. Die tweede probleem op die
weg
van die appellant is dat die onbetwiste getuienis geensins aandui dat enige
geweld wat daar mag gewees het, objektief beskou,
hom moontlik kon beweeg het om
'n
17
bekentenis te maak nie. By sy arres is 'n mate van geweld
gebruik om hom onder bedwang te bring. Hy het geen beserings opgedoen nie
(ek
laat die rooiheid binne die oor buite rekening as onbenullig). Volgens die
getuienis wat deur die verhoorhof aanvaar is, is nie
aan hom te kenne gegee dat
hy soortgelyke of erger geweld te wagte kon wees as hy nie sou saamwerk nie.
Trouens, die getuienis is
tot die teendeel - hy is herhaaldelik gewaarsu dat hy
nie verplig was om 'n verklaring af te lê nie, ten laaste nog in die
loop
van die uitvoerige uitleg van sy regte deur kapt Fitchet. Onder hierdie
omstandighede sou daar geen rede gewees het vir hom
om te vermoed dat hy
aangerand sou word as hy sou weier nie, en, ek herhaal, hy sê ook nie dat
dit die omstandighede van sy
arres (soos weergegee deur die polisie-getuies) was
wat hom beweeg het om 'n bekentenis af te lê nie.
Weens die voorgaande meen ek nie dat daar uit die onbetwiste getuienis enige
afleiding gemaak kan word dat die eerste appellant se
bekentenis onvrywillig was
nie.
18
Hoewel, soos ek reeds gemeld het, Mnr van Vuuren nie die
verhoorhof se geloofwaardigheidsbevindinge aangeveg het nie, het hy nogtans
op
'n paar leemtes in die staatsgetuienis gewys. Na my mening kan hierdie werkswyse
geen doel dien nie. As die leemtes nie belangrik
genoeg is om die hof se
bevinding te ondergrawe nie, kan hulle nie 'n uitwerking op die uitslag van die
appêl hê nie.
En inderdaad is die leemtes nie van enige werklike
belang in die samehang van die saak as geheel nie.
Die belangrikste leemte waarop gewys is, is die volgende. Kapt Landman het
getuig dat hy op die aand toe die verklaring afgelê
is, na Bergville
teruggekeer het nadat kapt Fitchet reeds vertrek het. Daar is egter 'n
inskrywing in die voorvalleboek, gemaak deur
'n konst Lubbe, dat kapt Landman 'n
telefoonoproep uit die aanklagkantoor gemaak het terwyl kapt Fitchet nog by die
polisiekantoor
was. Hierdie blykbare teenstrydigheid is nie aan kapt Landman in
kruisverhoor gestel nie. Lubbe het daaromtrent getuig, maar hy het
(heel
19
verstaanbaar) geen werklike herinnering van hierdie insident
gehad nie. Kapt Fitchet het bevestig dat hy nie kapt Landman iaardie
aand gesien
het nie, en dit is natuurlik heeltemal moontlik dat kapt Fitchet besig was om
die verklaring in 'n ander kantoor af te
neem toe kapt Landman die oproep gemaak
het. Daar is heelwat moontlike verduidelikinge vir hierdie skynbare
teenstrydigheid, maar
selfs al veronderstel 'n mens dat kapt Landman verkeerd
was toe hy gesê het dat kapt Fitchet reeds weg was toe hy by Bergville
aangekom het, bied dit geen rede om die massa polisie-getuienis oor die
vrywilligheid van die verklaring, wat deur die hof a quo
aanvaar is, te verwerp,
of om dié van die eerste appellant as redelik moontlik te aanvaar nie.
Ander punte van kritiek op
die Staatsgetuienis het geen wesentlike gewig
nie.
Weens die voorgaande meen ek dat daar geen gronde bestaan om die verhoorhof
se bevinding dat die eerste appellant se bekentenis toelaatbaar
is, tersyde te
stel nie. Die bekentenis lui soos volg.
"During August, I cannot remember the day or date
20
when I was approached by Mondi who informed me that there was money at
Coronation Hospital. It was only the two of us and we were
at Rockville
location. I told Mondi that he had no firearms to commit a robbery.
After a few days another man by the name of Frans also came to us at
Rockville. We were standing near the bottle store at Rockville.
Frans Mdluli
told us he would try his best to get us the firearms.
Frans then left us and after a week returned with two firearms. Both were
AK-47s. We told Frans that we all must be armed not only
two. At this stage we
were five people namely Bheki, Mabaso, Vusi Mchunu, Tsaka (I don't know his
surname) Frans Mdluli and I. We
told him (Frans) that we also wanted to be armed
and he told us that should we want firearms we must pay Rl 000,00. I paid Frans
R800,00 to Frans for the f/arm and Vusi, Bheki and Tsaka each paid Frans Rl
000.
At a later stage Frans returned with the f/arms but there was a shortage of
bullets. He then went back to fetch bullets. Thereafter
we went to Mondi at the
bottle store at Rockville where we told him that we had received the f/arms.
We were also short of transport and Mondi informed us that he would let us
know. Later Mondi came with a car. I still can't remember
the day or the
date.
On Thursday 1990/08/30 at day time,I did not take note of the time, we all
went to Mondi's house. We saw the car it was a dark grey
coloured Cressida.
21
We then arranged to meet again at Mondi's house at 5 o'clock the morning of
Friday 1990/08/31.
I slept at White City with Frans, Bheki and Vusi. We woke up at 5 o'clock and
went to Meadowlands where the f/arms were hidden. Thereafter
we went to Mondi's
house at Rockville. We went to Dube Hostel where we fetched Tsaka.
At this stage we were myself, Frans, Bheki, Vusi, Tsaka and Mondi in the car.
Mondi was driving the car. We went to Coronation Hospital
where we arrived at
06hl5.
On our arrival we remained in the vehicle while Frans and Tsaka got out of
the vehicle with the f/arms.
The vehicle was parked inside the premises of the vehicle (sic - hospital?).
We got out of the Cressida and had our f/arms with us
which we hid with dust
coats.
A cream white Kombi now entered the premises of the hospital and was escorted
by two white policemen in uniform. They were driving
a yellow private car. I
don't know the make.
Before we could stop the vehicles we heard several shots being fired at the
police by Frans. We then also fired several shots at the
Kombi. I can't say how
many shots were fired, but all of us were
firing.
The Kombi tried hard to get away and collided with the Cressida but still
managed to escape. The Cressida was not able to start and
we escaped by
22
(on) foot. At a robot we found a taxi.
We got inside the taxi which dropped us at Rockville. We waited for a while,
Mondi went to fetch a vehicle. As he did not return
Vusi went to Mondi's house
to get another vehicle in which he returned. Mondi stayed behind.
We went to Meadowlands where we took the f/arms back. We each went our separate
ways.
On Monday 1990/09/03 at 4:00 I was arrested at White City. That is all."
Daar is verder betoog dat, selfs al word
die
bekentenis aanvaar, daar geen getuienis is wat
die afleiding
regverdig dat die eerste appellant die opset gehad het
om
Havenga of Botha te dood nie, en dat hy derhalwe nie skuldig
bevind kon
word aan moord op Havenga of poging tot moord op
Botha nie. Daar sal onthou
word dat Botha en Havenga agter
in die bank se paneelwa was. Hulle was nie van buite sigbaar
nie, en hulle
is verwond deur skote wat deur die panele van
die voertuig gedring het. Uit
die getuienis blyk die volgende
myns insiens bo redelike twyfel. Die
aanvallers het geweet
wat die bank se
modus operandi
was. Hulle het
geweet op
23
watter dae en op watter tye die loongeld gebring word. Hulle het geweet hoe
lyk die bank se voertuig en watter beskerming dit sou
hê. Dit klink
onwerklik om te vermoed dat hulle onder die indruk kon gewees het dat die
bestuurder die enigste persoon in die
bankvoertuig sou wees. Die aanvallers het
hulself bewapen met 5 AK-47 gewere en voldoende ammunisie. Hulle het onmiddellik
op die
polisievoertuig losgebrand om die polisie-amptenare uit te skakel. Daarna
het hulle ook op die bankvoertuig gevuur, en onder meer
'n aantal skote deur die
wande van die bak geskiet. In die afwesigheid van enige getuienis tot die
teendeel is die afleiding onvermydelik
dat die aanvallers geweet het dat daar
bankamptenare agter in die paneelwa was (of kon wees) en bedoel het om hulle
saam met almal
anders wat die roof kon verhinder, uit die weg te ruim. Dat die
dood sou kon intree as gevolg van die skietery, spreek vanself -
trouens, die
aanvallers kon skaars enige ander opset gehad het as om die dood daadwerklik te
veroorsaak. Die aksie was duidelik voorafbeplan.
Almal wat
24
daaraan deelgeneem het moes noodwendig geweet het wat beoog
word. Spesifiek wat die eerste appellant betref: hy het geweet dat dit
die opset
was om alle persone wat die geld na die hospitaal bring, met 'n fusillade te
begroet, en hy, so lei ek af, het ook geweet
dat daar bankamptenare agter in die
paneelwa sou wees, of moontlik sou wees, en dat hulle op dieselfde manier
uitgeskakel sou word.
Ten spyte van hierdie kennis aan sy kant het hy meegedoen
aan die aanval, en hy is dus aanspreeklik vir wat in die loop van die aanval
gedoen is. Klaarblyklik het hy ook die opset (al is dit dalk by
moontlikheidbewussyn) gehad om almal in die bankvoertuig te dood.
Hy is dus
tereg aan moord op Havenga en poging tot moord op Botha skuldig bevind.
Weens die voorgaande is daar na my mening geen meriete in die appèl
teen die eerste appellant se skuldigbevindinge nie. Ek
gaan nou oor na die
tweede appellant se appél.
Die tweede appellant is nie saam op die ekspedisie
25
na Bergville nie. Hy het agtergebly by Brixton. In sy geval
maak die vervolging staat op uitwysings en verklarings aan kapt Heyliger.
Ek
het reeds die polisie-getuienis ten opsigte van die tweede appellant se
inhegtenisname opgesom. Soos gemeld is hy op 3 September
om 10.50 in die selle
geplaas. Die volgende oggend om ongeveer 9.45 het adjudant-offisier Cox, 'n lid
van die polisie se ondersoekspan,
hom gaan haal vir verdere ondervraging. Die
tweede appellant was gewillig om uitwysings te doen. Kapt Vlok van die
Oos-Randse moord-en
roofafdeling is genader om 'n offisier beskikbaar te stel
hiervoor. Kapt Vlok het gereël dat luit (tans kaptein) Heyliger hierdie
taak sou verrig en op die daaropvolgende dag (d w s, op 5 September) het
Heyliger Brixton toe gegaan hiervoor. Volgens hom, gestaaf
deur sy tolk, het hy
die tweede appellant al die gebruiklike waarskuwings en verduidelikings gegee,
en het die tweede appellant uit
eie vrye wil vir Heyliger na verskeie punte
gelei waar die
26
appellant sekere uitwysings en verklarings gemaak het. Foto's van die
uitwysings is geneem, en die verklarings is op skrif gestel.
Na die tyd is die
verklarings weer aan die tweede appellant oorgelees en getolk. Hy het sy
tevredenheid daarmee uitgespreek en die
dokument onderteken.
Die tweede appellant se weergawe in hoofverhoor was soos volg. Hy het
gedurende die nag van 2 tot 3 September 1990 saam met sy vriendin
gaan slaap in
die huis waarin hy toe later gearresteer is. Hulle het in die kombuis geslaap.
In die middel van die nag het die polisie
die huis binnegebars. Hulle het
onmiddellik begin om die tweede appellant te slaan en hom aangegee na
polisiemanne wat van agter
ingekom het. Hierdie polisiemanne het hom ook geslaan
en hom na buite geneem, waar hy verder aangerand is. Hulle het hom vasgemaak
en
op sy rug laat lê. Een polisieman het hom op sy rug getrap. Na 'n ruk is
hy na Brixton geneem, waar die polisie aan hom
elektriese skokke toegedien het.
Later die aand is hy met elektriese draad en met die vuis geslaan.
27
iy is toe na die selle geneem.
Die volgende dag is hy na 'n
kantoor geneem waar 3eyliger en sy tolk was. Hulle het hom gevra of hy die plek
Zoronation ken en, indien
wel, of hy hulle soontoe sou vergesel. Hy het
ingestem. Terwyl hulle na Coronation ry, het Heyliger sy vuurwapen op die tweede
appellant
gerig en gesê hy sou sy kop afskiet as hy nie saamwerk nie. By
Coronation het hulle uitgeklim en rondgestaan terwyl iemand
foto's neem.
Daarvandaan het hulle na verskillende plekke gery waar hulle uitgeklim en foto's
geneem het. Hy het nooit enige uitwysings
gedoen nie en hy het geen verklarings
gemaak nie. Hy is weliswaar gevra om 'n dokument te teken, maar het nie geweet
wat daarin staan
nie.
Dit is nie nodig om die kruisverhoor van die tweede
appellant na te gaan nie, aangesien die hof
a quo
ook ten opsigte van hom
bevind het dat die Staatsgetuienis aanvaar moet word en dié van die
appellant verwerp moet word, en
hierdie bevinding (behalwe in enkele opsigte
waarmee ek later
28
handel) nie voor ons aangeveg is nie. Veral sy bewering dat hy
glad nie uitwysings gedoen het nie, word geloënstraf deur die
foto's, op
sommige waarvan hy duidelik besig is om iets uit te wys. En, wat die aanrandings
betref, het dr Van Rensburg op 6 September
geen kneusings of ander beserings aan
die appellant gevind nie.
Mnr van Vuuren het t o v die tweede appellant
wesentlik dieselfde argument voorgedra as ten opsigte van die eerste. Selfs al
veronderstel
'n mens dat die tweede appellant wel die uitwysings gedoen en die
verklarings gemaak het, het hy betoog, was dit gemene saak dat
'n mate van
geweld gedurende die arrestasie gebruik was. Daarbenewens was die
polisie-getuies nie heeltemal konsekwent oor hoe presies
dle tweede appellant
gearresteer was nie (hoewel almal ontken het dat hy aangerand was nadat die
arrestasie volvoer was). Onder hierdie
omstandighede is daar 'n redelike
moontlikheid (so word aangevoer) dat daar wel aansienlike geweld op die
appellant toegepas is,
en dat dit hom beweeg het om die
29
uitwysings aan kapt Heyliger te doen en die meegaande
verklarings te maak.
Die antwoord op hierdie betoog is wesentlik dieselfde as
t o v die eerste appellant. Die tweede appellant beweer nie dat die beperkte
geweld wat die polisie aangewend het om hom in hegtenis te neem, hom beweeg het
om die uitwysings te doen nie. Hy beweer dat hy baie
erger aangerand is en dat
hy inderdaad geen uitwysings gedoen het nie. Daar is geen rede om van die
geringe onsekerheid van die polisie-getuies
oor hoe presies die arrestasie
verloop het, af te lei dat die appellant erger aangerand was as wat die getuies
wil toegee nie. En,
objektief beskou op grond van die polisie-getuienis wat deur
die verhoorhof aanvaar is, was daar geen rede vir hom om enigiets te
vrees as hy
nie die uitwysings sou maak nie. By sy arrestasie is nie meer geweld gebruik as
wat nodig was om hom onder bedwang te
bring nie, en hy het geen beserings
opgedoen nie. Ná sy arres was daar geen aanrandings of dreigemente van
aanrandings nie.
Hy is deur
30
minstens drie persone (Landman, Cox en Heyliger) gewaarsku dat
hy nie verklarings of uitwysings hoef te maak nie.
Weens die voorgaande meen
ek dat die tweede appellant se betoog nie aanvaar kan word nie. Ook in ander
opsigte kan ek geen fout vind
met die verhoorhof se bevinding t o v die
toelaatbaarheid van die getuienis oor die uitwysings en gepaardgaande
verklarings nie.
Hierdie bewysmateriaal was dus volgens my oordeel tereg deur
die verhoorhof in ag geneem.
Die belangrikste deel van die tweede appellant
se
uitwysings was by die Coronation hospitaal. Die
aantekening
oor die uitwysings lui in hierdie verband soos volg:
"Wys plek uit in die parkeerarea by 'n laaisone van die Hosp. en sê 'Hier
is die kar waarmee ons gekom het, 'n Cressida geparkeer.
Monde het die kar gery.
Ek, Monde, Bheki en Tsaka klim toe uit. Ons staan toe almal hier ... Ons het
gewag vir die mense van die
Kombi met die geld om die deure oop te maak. Die
Kombi het hier gestaan - wys plek uit voor laaisone ... Twee van ons mense het
daar
gestaan - wys hoop plastiese blou sakke uit plus minus 40 meter vanaf
laaisone langs nog 'n laaisone.
Ek het by Cressida
gestaan en wag toe hoor ek die
31
stem van die vuurwapen. Ek het gesien die twee mense wat daar (blou sakke) staan
en skiet het en ek het gesien dat 'n kar van die
polisie wat hier gestaan het
... raakgeskiet is. Ek het ook gesien dat Bheki en Tsaka skiet na die Kombi toe.
Die Kombi het gery
en gestamp teen die Cressida. Ons hardloop toe almal by die
voet na die hek toe. Ons hardloop toe uit die hek ... tot in die pad
en toe soek
ons 'n taxi. Monde het sy 15 shooter vir my
gegee."
Later het hy ook uitgewys waar hy en sy
makkers die taxi gekry het.
Hierdie verklaring toon duidelik aan dat die
tweede appellant 'n party tot die aanval op die bankvoertuig en die
polisievoertuig was.
Mnr van Vuuren het egter t o v hierdie appellant, soos ten
opsigte van die eerste, betoog dat daar nie bewys is dat hy die opset
gehad het
om die twee bankamptenare wat agter in die paneelwa was, t w, Havenga en Botha,
te dood nie. In hierdie verband geld dieselfde
oorwegings as wat ek ten opsigte
van die eerste appellant genoem het, en dit sou m i 'n voldoende antwoord op die
betoog vorm. Die
saak teen die tweede appellant is egter nog sterker as
dié teen die eerste. In sy verklaring aan kapt
32
Heyliger sê die tweede appellant uitdruklik "[o]ns het
gewag vir die mense van die Kombi met die geld om die deure oop te maak".
Hy was
dus ten volle bewus dat daar mense (in die meervoud) in die bankvoertuig sou
wees, en het klaarblyklik 'n gemeenskaplike opset
met die ander booswigte gehad
om hierdie mense met outomatiese geweervuur buite aksie te stel.
Weens die voorgaande meen ek dat die tweede appellant se appèl teen sy
skuldigbevinding afgewys moet word.
Ek behandel vervolgens die appèlle teen vonnis. In sy betoog voor ons
(maar nie in sy betooghoofde nie) het mnr van Vuuren
eerstens betoog dat die
termyne van gévangenisstraf wat opgelê is t o v die klagtes van
roof en poging tot moord in
hul gesamentlike uitwerking buitensporig hoog is.
Dit is geykte reg dat dat die verhoorhof in hierdie geval 'n diskresie m b t
vonnisoplegging
gehad het, en dat hierdie hof die vonnis wat hy opgelê het
tersyde kan stel
33
slegs as die diskresie nie behoorlik uitgeoefen is nie. Na my
mening was die betrokke vonnisse heeltemal bevoeg, daar was geen mistastings
nie, en die vonnisse is nie so swaar, selfs met inagneming van hul gesamentlike
uitwerking, dat daar afgelei kan word dat die verhoorhof
nie 'n behoorlike
diskresie uitgeoefen het nie. Die vonnisse van gevangenisstraf moet dus
bekragtig word.
Dit bring my dan by die doodvonnisse wat ten opsigte van die
skuldigbevindinge aan moord opgelê is. Op uitnodiging van die hof
het mnr
Van Vuuren betoog dat die oplegging van die doodvonnis onkonstitusioneel is uit
hoofde van artikels 9 of 11(2) van die Grondwet
van die Republiek van
Suid-Afrika (Wet 200 van 1993) wat op 27 April 1994 in werking getree het.
Voordat ek hierdie betoog oorweeg
is dit egter gerade om eers te beslis of die
doodstraf op meriete bekragtig behoort te word. Indien ons meen dat die
doodstraf op
meriete tersyde gestel behoort te word, onstaan daar geen vraag oor
die konstitusionaliteit daarvan nie. In 'n appél
34
teen 'n doodvonnis moet ons oordeel of ons self onder die
omstandighede die doodvonnis sou opgelê het (art 322(2A)(b) van die
Strafproseswet). Hier is daar dus nie 'n kwessie dat 'n appellant hoef aan te
toon dat die verhoorhof sy diskresie verkeerd uitgeoefen
het nie.
Die
belangrikste strafverswarende faktore in hierdie saak spruit uit die aard van
die misdade wat gepleeg is. Die twee appellante
was deel van 'n bende wat vooraf
beplan het om die bankvoertuig te beroof. Hulle het sorgvuldig uitgewerk hoe
hulle die bankvoertuig
sou oorval en die polisiebeskerming sou uitskakel. Hulle
was swaar bewapen met outomatiese gewere en voldoende ammunisie. Dat verskeie
mense in die aanval gedood sou word, was onvermydelik. Hul dade was koelbloedig
bereken en beplan. Die oorledenes was polisie- en
bankamptenare - mense wat
bloot besig was om hulle werk te doen.
As strafversagtende faktore is daar die persoonlike omstandighede van die
twee appellante. Die eerste appellant
35
is 'n eerste oortreder. Volgens die hof
a quo
was hy 43 jaar oud ten
tyde van vonnisoplegging. Dit is nie heeltemal duidelik waar hierdie inligting
vandaan kom nie - volgens die
klagstaat was hy 33. Hoe dit ook al sy, hy is
klaarblyklik nie 'n jeugdige nie. Hy het in Natal grootgeword, het slegs 'n
geringe
opvoeding gehad, en is in 1981 getroud. Hy het drie kinders. In 1974 het
hy na Johannesburg gekom en het sedertdien by verskillende
plekke gewerk. Hy kan
moontlik rehabiliteerbaar wees.
Die tweede appellant is gebore op 12 April
1970 en was dus 20 jaar oud ten tyde van die pleging van die misdade. Hy het 'n
vorige
veroordeling wat vir doeleindes van vonnis buite rekening gelaat kan
word. Hy het skool gegaan tot standerd 8, en het daarna weens
geldgebrek skool
verlaat en verskillende soorte werk gedoen. Hy het een buite-egtelike kind vir
wie hy finansieel verantwoordelik
is.
Daar is aan die hand gedoen dat daar ander strafversagtende faktore is, en
veral dat die twee appellante
36
nie die besluit om te roof geïnisieer het nie. Al het die inisiatief van
iemand anders gekom, het die twee appellante vrywillig
saamgewerk. Daar was geen
suggestie dat enige oorreding nodig was nie. Selfs al sou hul morele
blaamwaardigheid tot 'n mate verminder
word omdat dit nie hul oorspronklike idee
was om die bankvoertuig te beroof nie meen ek dat hierdie faktor geen wesentlike
gewig
in hierdie saak het nie.
By 'n besluit of die doodvonnis onder hierdie omstandighede die enigste
gepaste vonnis is, moet ek dan die strafverswarende faktore
opweeg teen die
strafversagtende faktore. Die wesentlike strafversagtende faktore is dat die
twee appellante eerste oortreders is
en as rehabiliteerbaar bëskou moet
word. Daarby is die tweede appellant nog jonk, wat moontlik sy
rehabiliteerbaarheid verhoog.
Desondanks meen ek dat die moorde wat deur die
appellante of hul makkers gepleeg is, waarvoor hulle almal regtens aanspreeklik
is,
so 'n vergryp teen die norme van 'n ordelike gemeenskap is dat
37
hulle die swaarste vonnis regverdig waarvoor ons regstelsel
voorsiening maak. Die faktore van vergelding en afskrikking moet na my
mening
van oorheersende belang wees. Ek sou dus die doodvonnis bekragtig. Dit is myns
insiens die enigste gepaste vonnis in hierdie
geval. En in hierdie verband dink
ek nie dat 'n onderskeid getrek kan word tussen enige van die vier moorde
waaraan die appellante
skuldig bevind is nie, of tussen die omstandighede van
die twee appellante nie.
Dit bring my dan weer terug na die konstitusionele
posisie. Dit is moontlik dat art 241(8) van die Grondwet ons magtig om 'n
doodvonnis
te bekragtig, al sou dit teenstrydig met die Grondwet wees. Dit is
egter twyfelagtig of ons die bevoegdheid het om hierdie bepaling
uit te
lê. (sien art 181(5) saamgelees met art 98(2) van die Grondwet). Selfs al
sou ons so 'n bevoegdheid hê, sou dit
nogtans beter wees om eers die
beslissing van die konstitusionele hof oor die geldigheid van die doodvonnis te
kry. Dit is 'n vraag
waaroor die konstitusionele hof uitsluitlike jurisdiksie
het.
38
Sien weereens art 101(5) saamgelees met art 98(2) van die
Grondwet. Dit is gevolglik na my mening wenslik dat die verdere oorweging
van
die appélle teen die doodvonnisse uitgestel word totdat die
konstitusionele hof 'n uitspraak oor die geldigheid daarvan
in gevalle soos
hierdie gegee het.
Weens die voorgaande word die volgende bevel
uitgereik:
a) Albei appellante se appelle teen hul skuldigbevindings en teen hul vonnisse
op klagtes 7 en 8 word afgewys.
b) Die afhandeling van die appelle teen die doodvonnisse op klagtes 2,3,4 en 5
word uitgestel tot 'n datum wat deur die Griffier
in oorleg met die Hoofregter
bepaal sal word.
E M GROSSKOPF F H GROSSKOPF, AR
Stem
NIENABER, JA saam