About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1994
>>
[1994] ZASCA 57
|
|
S v Rakhalane (127/93) [1994] ZASCA 57 (30 March 1994)
SAAKNOMMER : 127/93 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
TELEKO JOSEPH RAKHALANE
teen
DIE
STAAT
SMALBERGER, AR:-
SAAKNOMMER: 127/93
N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
TELEKO JOSEPH RAKHALANE
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: SMALBERGER, KUMLEBEN, ARR,
et NICHOLAS, Wn AR
VERHOORDATUM
: 24 MAART 1994
LEWERINGSDATUM
: 30 MAART 1994
UITSPRAAK
SMALBERGER, AR :-
Die appellant is in die Transvaalse Provinsiale Afdeling (Westelike Rondgang
Distrik) deur JJ STRYDOM, R, en assessore skuldig bevind
aan moord (aanklag 1),
roof met verswarende omstandighede (aanklag 2) en die onwettige besit van 'n
vuurwapen en ammunisie
2
(aanklagte 3 en 4) . Op die moord-aanklag is hy ter dood veroordeel; op die
ander aanklagte is hy tydperke van gevangenisstraf opgelê
wat effektief
altesame 10 jaar beloop het. Die appellant kom nou kragtens art 316 A van die
Strafproseswet 51 van 1977 in hoër
beroep teen sy skuldigbevinding aan
moord sowel as die doodvonnis hom opgelê.
Die voorval wat tot die
appellant se skuldigbevinding aanleiding gegee het, het op 15 Mei 1992
plaasgevind. Die oorledene (mnr I N
Rootman) en sy vrou was woonagtig te
Jadestraat 16, Carletonville. Hulle was 74 en 71 jaar oud onderskeidelik. Die
agterplaas van
hulle woonerf was goed beveilig met 'n hoë heining en 'n
geslote ysterhek. Hulle was die oggend van die voorval alleen by die
huis.
Luidens mev Rootman se getuienis was die oorledene kort na ontbyt besig om in
die agterplaas blare bymekaar te hark. Nadat
sy 'n rukkie met hom buite gesels
het, het
3
sy die huis binnegegaan. Terwyl sy daar was, het sy die oorledene se stem
gehoor asof hy roep. Sy is na buite maar het hom nie daar
opgelet nie. Hy was
ook nie voor in die tuin te vinde nie. Mev Rootman het toe haar vuurwapen gaan
haal en na die buitegebou in die
agterplaas gegaan. Sy merk toe op dat die deur
van die buitetoilet op 'n skrefie oopstaan. Sy het die deur probeer oopdruk,
maar
iets het van binne daarteen gedruk. Skielik is die deur van binne oopgeruk.
Die appellant het te voorskyn gekom, haar arm vasgegryp,
die vuurwapen van haar
weggeneem, haar op die grond neergegooi en met sy voet op haar bors getrap.
Daarna het hy haar in die huis
ingedwing, haar met die dood gedreig as sy sou
skree en geld van haar geëis. Sy het al die geld wat sy gehad het aan hom
gegee.
Die appellant het haar in 'n hangkas in die stoepkamer toegesluit voordat
hy die perseel verlaat het. Sy het later daarin geslaag
om uit die hangkas te
ontsnap en
4
hulp te ontbied.
Die eerste persone wat daarna opgedaag het was lede van
die brandweer te Carletonville. Toe hulle daar aankom was die ysterhek wat
toegang tot die agterplaas verleen het, nog gesluit. Die oorledene se lyk is
binne in die toilet gevind. Sy bril en kunstande is
buitekant op die grond
ongeveer twee meter van die toiletdeur gevind. Die latere nadoodse ondersoek het
onthul dat die oorledene
dood is as gevolg van verwurging. Sy liggaam het ook
sekere skaaf- en kneuswonde gehad. Volgens die distriksgeneesheer se getuienis
was daar aanduidings dat 'n groot mate van geweld op die oorledene se nek
toegepas is. Hy was van mening, na aanleiding van sy bevindings,
dat dit
waarskynlik is dat die oorledene plat op die vloer gelê het toe hy verwurg
is. Die dood sou tussen 'n minuut en 'n
half na twee minute ingetree het.
Die appellant het getuig dat hy die dag van
5
die voorval na die oorledene se huis gegaan het op soek na werk. Volgens hom
het hy deur die ysterhek, wat hy beweer oop was, na die
agterplaas gestap. Daar
het hy die oorledene gesien. Die oorledene, blykbaar onbewus van sy (die
appellant) se teenwoordigheid het
na een van die buitekamers gegaan en die deur
effens toegemaak. Na hy 'n ruk gewag het, is die appellant na die buitekamer
(toilet).
Toe hy die deur oopmaak om met hom te praat, het die oorledene geskrik
en die appellant aan sy privaatdele vasgegryp. Daar het 'n
stoeiery ontstaan en
hy het die oorledene begin wurg in 'n poging om los te kom. Nadat die oorledene
slap geword het, het sy vrou
met 'n vuurwapen by die toilet opgedaag. Hy het
haar gestamp, sy het geval en daarna het hy haar ontwapen. Hy ontken dat hy op
haar
getrap het. Hy erken dat hulle toe na die huis is waar geld aan hom
oorhandig is. Daarna het hy mev Rootman in 'n hangkas toegesluit
en die
perseel
6
verlaat.
Die appellant se relaas van die gebeure is myns insiens tereg
deur die verhoorhof as vals verwerp. Die getuienis van mev Rootman en
die
brandweerlid, mnr Erasmus, (wat bevind is geloofwaardige getuies te wees), bewys
dat die ysterhek na die agterplaas die betrokke
oggend gesluit was. Die
appellant jok dus dat hy deur die oop hek gestap het. Dit synde so, moes hy
noodwendig oor die hek of die
heining geklim het om die perseel te kon betree -
nouliks die gedrag van 'n eerlike persoon op soek na werk, soos hy beweer die
geval
was. Sy versuim om aan die voordeur te klop, sowel as sy latere optrede,
insluitende sy gedrag teenoor mev Rootman, dui daarop dat
hy met 'n misdadige
opset daar was eerder as om werk te soek. Sonder om in onnodige detail daarop in
te gaan, is die appellant se
getuienis aangaande hoe die oorledene hom na
bewering in die toilet aan sy privaatdele gegryp het, en die
7
daaropvolgende gebeure, uiters onwaarskynlik, veral in die lig van die
mediese getuienis. Bowendien, as die oorledene wel so opgetree
het, sou verwag
kon word dat die appellant, 'n frisgeboude jong man, eerder die oorledene met
die vuis sou geslaan het as om hom
te verwurg. Die appellant se getuienis strook
ook nie met die vind van die oorledene se kunstande en bril twee meter vanaf die
toiletdeur
nie. Dit dui op 'n worsteling buitekant, en nie net 'n stoeiery binne
die toilet soos die appellant voorgee nie. Sy bewering dat
die oorledene nog
asem gehaal het toe hy die toilet verlaat het, is ook onversoenbaar met die
mediese getuienis dat die oorledene
se dood binne 'n minuut en 'n half na twee
minute sou ingetree het vanaf die tyd dat daar begin is om hom te verwurg.
Die enigste redelike afleiding van die bewese feite is dat die appellant die
oorledene se perseel binnegegaan het met die opset om
te roof. Die
8
appellant was daarvan bewus dat die betrokke eiendom net deur die oorledene
en sy vrou, twee bejaarde persone, bewoon is. Dit volg
nie noodwendig dat toe hy
die perseel binnegegaan het hy besef het dat die oorledene en sy vrou tuis was
nie. Daar kan ook nie bo
redelike twyf el bevind word dat hy soontoe is met die
vooropgesette bedoeling om die inwoners te vermoor nie. Die feit dat hy nie
mev
Rootman gedood het nie, terwyl dit goed binne sy vermoë was om dit te doen,
is 'n teenaanduiding dat hy sodanige 'n opset
kon gehad het. Hy was egter daarop
ingesteld gewees om enige weerstand wat hy sou teëkom met geweld te oorkom.
Dit blyk uit
die feit dat toe hy die oorledene bespeur, en dus besef het dat
daar persone op die perseel was, hy nie teruggedeins het nie maar
voortgegaan
het met sy beplande optrede. Na my mening kan bo redelike twyfel aanvaar word
dat die appellant die oorledene, waar hy
buitekant was, aangeval het. Mev
Rootman het getuig
9
dat sy die oorledene se stem gehoor het asof hy roep. Hy was waarskynlik deur
die appellant gewurg om te verhoed dat hy verder om
hulp roep. Al word daar in
die guns van die appellant aanvaar dat sy aanvanklike bedoeling kon gewees het
om die oorledene net te
oorrompel en buite aksie te stel, dui sy voortgesette
verwurging van die oorledene daarop dat hy op een of ander tydstip die nodige
direkte opset om te dood (
dolus directus
) gevorm het. Hy moes ten minste
subjektief die dood van die oorledene voorsien het, maar hy het desondanks
roekeloos voortgegaan
met sy optrede ongeag die gevolge (
dolus
eventualis
). In iedere geval sou hy hom aan moord skuldig gemaak het en is
hy gevolglik tereg skuldig bevind.
Wat vonnis betref, is hierdie Hof geroepe om opnuut te besin of die
doodvonnis, gesien die strafverswarende en -versagtende faktore,
en alle ander
relevante oorwegings (insluitende die doelwitte van
10
straf), die enigste gepaste vonnis in die onderhawige saak is. Die
strafverswarende faktore is voor die hand liggend. Ons het hier
te make met 'n
beplande optrede wat gelei het tot 'n aanval op 'n bejaarde persoon op 'n
beveiligde perseel wat uiteindelik uitgeloop
het op sy dood. Die appellant se
doel was om vir eie gewin roof te pleeg. Of die appeliant se opsetvorm
dolus
directus
of
dolus eventualis
was, maak in wese nie saak nie, want in
laasgenoemde geval sou die graad van voorsienbaarheid noodwendig hoog gewees het
en sou dit
aan
dolus directus
gegrens het. Die appellant se optrede
teenoor die oorledene (en later teenoor mev Rootman) was minagtend en
gevoelloos. Hy het nóg
destyds nóg later enige ware berou vir sy
optrede getoon. Sy pleit van skuldig aan strafbare manslag dui nie op berou nie
want dit was gepaard met leuenagtige getuienis en 'n poging om die ware feite te
verdoesel. Gedrag van die soort waaraan die appellant
hom skuldig
11
gemaak het, word ten sterkste veroordeel en afgekeur deur die breë
gemeenskap. Dit is ook 'n feit dat dit onrusbarend toeneem.
Geen wonder dus dat
daar al op talle geleenthede deur hierdie Hof daarop gewys is dat in sulke
gevalle oorwegings van afskrikking
en vergelding sterk na vore moet
tree.
Daar is egter ook strafversagtende en ander faktore aanwesig wat
betrekking het op die vraag of die doodvonnis die enigste gepaste
vonnis is. Die
appellant is nog betreklik jonk (hy was ongeveer 21 jaar oud toe die misdade
gepleeg is). Hy is 'n eerste oortreder.
Hy het tot standerd 4 op skool gevorder.
Hy is getroud en het een kind. Tot redelik kort voor die voorwal het hy 'n vaste
verdienste
gehad. Hy het geldelik bygedra tot die versorging van sy bejaarde
ouers. Sy optrede teenoor mev Rootman, ofskoon hardhandig by tye,
dui nie op
iemand wat inherent boos of moordlustig is nie. Op die keper beskou, blyk hy
12
iemand te wees wat vatbaar is vir rehabilitasie en moontlik baat sal vind by
'n lang termyn van gevangenisstraf.
Hierdie is klaarblyklik 'n ernstige saak.
As alle relevante oorwegings met betrekking tot vonnis in ag geneem word, is ek
egter van
mening dat dit nie 'n geval van sulke erns is dat hierdie Hof genoop
is om die appellant permanent uit die samelewing te verwyder
nie. 'n Lang termyn
van gevangenisstraf sal aan al die doeleindes van straf voldoen. Gevolglik is
die doodvonnis nie die enigste
gepaste vonnis nie.
Die appêl slaag
gedeeltelik. Die appellant se skuldigbevinding aan moord (aanklag 1) word
bekragtig. Die doodvonnis word ter
syde gestel en word vervang met 'n vonnis van
20 jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat 10 jaar gevangenisstraf saamloop
met
13
die vonnisse wat die appellant tans uitdien.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
KUMLEBEN, AR )
NICHOLAS, Wn AR ) stem saam