About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 177
|
|
S v Lukhwa and Another (698/92) [1993] ZASCA 177 (23 November 1993)
SAAKNOMMER: 698/92 J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
AVHAPFANI JOSEPH LUKHWA
Eerste Appellant
TSHAMAANO EDSON
TSHIBALO
Tweede Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM: HEFER AR et VAN COLLER, HARMS, Wnd
"" ARR
VERHOORDATUM
: 12 NOVEMBER 1993
LEWERINGSDATUM
: 23 NOVEMBER
1993
UITSPRAAK
HARMS, Wnd AR:
Die twee appellante het saam met nege
mede-beskuldigdes in die Hooggeregshof van Venda voor
Van der Walt R en assessore tereggestaan op nege
2
aanklagte van moord en elf van brandstigting. Die appellante is skuldig
bevind soos aangekla en, ten aansien van elke moord, ter dood
veroordeel. Die
huidige appèl is teen hierdie vonnisse gerig en dien voor hierdie Hof
ooreenkomstig die bepalings van die
Venda "Criminal Law Amendment Proclamation"
1991 en die "Criminal Law Second Amendment Proclamation" 1991. Die lotgeval van
die ander
beskuldigdes asook die vonnis ten aansien van die brandstigting is vir
doeleindes van hierdie uitspraak nie ter sake nie.
Die gebeure waarom dit gaan, het gedurende die nag van 10 tot 11 Maart 1990
in 'n afgeleë gedeelte van Venda plaasgevind. By
daardie geleentheid het 'n
groot groep jeugdiges onder aanvoering van die appellante op 'n heksejag gegaan
en diegene wat van heksery
beskuldig is, (as hulle in die hande gekry kon word)
gedood en hulle huise, hutte of statte afgebrand.
Die hof
a quo
het die staatsgetuies se
3
getuienis wesenlik aanvaar en dié van die appellante grotendeels
verwerp. Hierdie gevolgtrekking is nie tydens die appêl
in geskil geplaas
nie. Dit is ook nie nodig om die getuienis in enige detail te behandel nie. Daar
word dus met 'n kort opsomming
van die relevante volstaan.
Die appellante het
in Messina by verskillende werkgewers gewerk. Nr 2 het Vrydag 9 Maart 1990 vir
die naweek huis toe gegaan. Sy tuiste,
waar die gebeure plaasgevind het, is in
die distrik Motali geleë. Die aand het hy 'n groep jongelinge bymekaar
gemaak met die
oog op 'n heksejag maar dit is na die volgende aand uitgestel. Of
nr 1 die Vrydagaand reeds teenwoordig was, blyk nie duidelik uit
die getuienis
nie. Volgens sy weergawe het hy eers die Saterdag opgedaag. Hoe dit ook al sy,
dié aand het 'n groep jeugdiges
onder die leiding van nr 2 en, in 'n
mindere mate, nr 1 besluit om wie ook al heksery in die omgewing
4
beoefen, om die lewe te bring. Onwillige deelnemers is met leed gedreig en
geskikte afwesiges is uit die bed gehaal om by die groep
aan te sluit. Nr 2 het
die groep meegedeel dat hulle verplig is om al wat heks is, te verbrand. (Ek
gebruik die woord "heks" om die
manlike in te sluit en om na 'n persoon te
verwys wat die toorkuns tot kwelling van sy of haar medemens beoefen -vgl HAT sv
"heks".
) Hierby het hy self s sy eie vader vir wie hy van toordery verdink het,
ingesluit mits die groep hom die versekering kon gee dat
hy wel 'n skuldige is -
iets wat toe gebeur het. Daar is ook getuienis wat daarop dui dat die rede vir
die voorgenome optrede 'n
bedoeling was om die land te hervorm.
Die spoor van vernietiging het by die woning van Johannes Mualusi begin. Nr 1
het hom beskuldig van heksery en daarop het nr 1 en
2 begin om hom te stenig. Hy
is weggeneem en aan die brand gesteek. Hy is die volgende dag oorlede. Twee van
sy hutte is ook deur
5
vuur vernietig. Van daar is die groep na die huis van Wilfred Nefolovhodwe en
omdat hy afwesig was, is sy kraal aan die brand gesteek.
Dit het ook met die
huis van Jack Tshibalo gebeur. Jack is nr 2 se vader. Toe hulle by sy huis
aangekom het, het hy hom reeds uit
die voete gemaak en het nr 2 al die
versekering aanvaar dat hy heksery beoefen.
Die volgende slagoffer was Jack
Ramarumo. Nr 1 het sy hut aan die brand gesteek en terwyl hy uit die hut vlug,
het die appellante
hom die beskuldiging toegeslinger. Die skare het hom
aangeval, nr 2 het petrol gaan haal en oor hom uitgegooi en hy is verkool. So
ook sy huis. Vervolgens Leah Tharaga: nr 1 het haar hut se deur platgeslaan, nr
2 het haar met petrol besprinkel, sy is met 'n byl
gekap en aan die brand
gesteek. Ook haar kraal is op 'n soortgelyke wyse vernietig.
Matodzi Matamela was gelukkig nie tuis nie
6
en het sodoende die dood ontkom maar haar kraal is nogtans afgebrand. Paulos
Libada was minder gelukkig: nr 2 was sy aanklaer en het
hom met 'n graaf geslaan
en ook hom en sy een hut aan die brand gesteek. Nr 1 het sy ander hut verbrand.
Ongeveer dieselfde lot het
Rebecca Nenzhelele (nr 1 se suster se skoonmoeder) en
Margaret Matshusa getref. In die geval van Andries Ndou het die skrikbewind
sy
hoogtepunt bereik: nr 2 het hom en sy vrou, Fanyiseni Ndou (die moeder van een
van die mede-beskuldigdes), aangesê om te
kniel en te bid. Terwyl hulle op
hulle knieë was, is hulle met 'n byl deur nr 2 aangerand. Hulle is aan die
brand gesteek en
al brandende aangesê om die groep na die laaste
slagoffer, David Khavhakhavha te lei - hy is gestenig.
Appellant 1 was ten tye van die gebeure ongeveer 36 jaar oud, getroud en het
drie kinders gehad. Hy het twee vorige skuldigbevindings
op sy kerfstok, naamlik
een vir poging tot verkragting gedurende 1978
7
(waarvoor houe opgelê is) en aanranding met die opset om ernstig
liggaamlike leed toe te dien in 1986 (waarvoor 'n ligte vonnis
opgelê is)
. Nr 2 was 32 jaar oud, ook getroud en met drie kinders. Hy het egter geen
vorige veroordelings gehad nie. Beide
het 'n relatief lae opvoedingspeil gehad
en was in diens as arbeiders. Verder is niks van hulle persoonlikhede of
persoonlike omstandighede
bekend nie. Die faktore wat gelys is, het, in die lig
van die algemene erns van die huidige misdade, egter beswaarlik enige invloed
op
wat 'n gepaste vonnis behoort te wees nie.
Die verhoorhof het die onteenseglik teenwoordige verswarende faktore na
behore aangestip en aangesien ek dit volkome eens met daardie
uiteensetting is,
word dit nie herhaal nie maar bloot opgesom. Die moord op die meeste slagoffers
is reeds die voorafgaande aand
beplan en hoewel daar 'n aanvanklike gebrek aan
belangstelling was, is met die besluit volhard. Die
8
slagoffers was almal bejaard of relatief bejaard. Hulle was weerloos teen 'n
aanval wat teen hulle deur 'n groot groep mense geloods
is. Hulle is in die
sekuriteit van hulle huise aangeval en vermoor. Die wyse waarop die moorde
plaasgevind het, was wreed en barbaars.
Soos die groepie van kraal na kraal
beweeg het, het die wreedheidsgraad toegeneem. Sewe van die nege oorledenes is
aan die brand
gesteek nadat brandstof oor hulle uitgegooi is. Die moorde was nie
gelokaliseer nie - op 'n stadium het die appellante 'n voertuig
gekommandeer om
die groep vir afstand van ongeveer 10 kilometer te vervoer om die laaste groepie
slagoffers te kon bykom. Die appellante
was beide volwasse en het druk op 'n
groep minderjariges uitgeoefen om by die moordbende aan te sluit en aan die
handelinge mee te
doen. In dié verband het die druk doodsdreigemente
behels. Hulle was die organiseerders en leiers en was ook die voorbokke
by die
aanvalle - die
9
sewe verbrandings is deur een of albei van hulle verrig. Ten slotte, nie een
van die appellante het enige berou oor hulle dade nie.
In die hof a quo en
ook in hierdie Hof is die enigste wesenlike versagtende faktor wat in betoog
voorgehou is, die beweerde geloof
in heksery en toorkuns. Die hof
a quo
het met hierdie submissie gehandel en dit verwerp weens die redes wat uit die
volgende aanhalings blyk:
"We found his [appellant no 1's] whole story rather lame and confusing and
totally uncon-vincing. We got the clear impression that
he was just improvising
much of what he said as he went along. His demeanor in the witness box spoke of
very litte inner conviction
and he did not demonstrate any kind of stirred
emotions. In any case he did not really try, neither did he succeed at all, to
make
out a case therefor that he himself or anybody near to him or even society
in general, was imminently threatened by the so-called
practitioners of
witchcraft in an evil sense."
10
"Now after having listened to the accused and seen him we find
it very difficult or impossible really to detect a genuine belief in
witchcraft
practiced by these particular people. In any case his belief or alleged belief
only related to two people and not to the
seven others killed in this case. In
any case he does not claim to have been influenced by such belief in any actions
towards any
of the deceased. He denies virtually any participation except only
at a later stage and to a very limited extent, in the actions
or occurrences
that led to the death of the deceased.
In the cases [ie
R v Fundakubi
1948(3) SA 810 (A) and
S v
Ngubani
1980(2) SA 741 (A)] to which I referred the court was admittedly
dealing with the narrower concept of extenuating circumstances but
we are of the
opinion that what was said there applied equally to the particular phenomenon as
a mitigating factor. In this particular
case and with the circumstances as
applying particularly to the accused we find, that is accused no 10 [appellant
no 1], that his
so-called belief in witchcraft serves as no substantial
mitigation."
11
Hoewel die aangehaalde gedeeltes met nr 1 handel, het die hof
a guo
hierdie bevindings
mutatis mutandis
ten aansien van nr 2 van toepassing
gemaak.
In
S v Motsepa
1991(2) SASV 462 (A) 470 f-i het Kriegler Wnd
AR die algemene benadering in sake soos die huidige soos volg gestel:
"'n Geloof in towerkuns wat dien as dryfveer vir die doodslag van 'n
vermeende towenaar, is in die verlede dikwels oorweeg by die
beantwoording van
die vraag of daar by die pleging van 'n moord versagtende omstandighede
teenwoordig was. Die verwoording van die
beginselbenadering deur Lansdown RP in
R v Biyana
1938 EDL 310
is meermale deur hierdie Hof goedgekeur (Kyk bv
R v Fundakubi and Others
1948(3) SA 810 (A) op 815;
S v Nxele
1973(3) SA 753 (A) te 757-8 en
S v Nqubane
1980(2) SA 741 (A) te
745D-746B.) 'n Opregte en gevestigde geloof in die toorkuns wat in 'n
beskuldigde se gemoed gedien het as dryfveer
vir die pleging van 'n moord, was
feitlik altyd 'n oorweging by die bepaling van die aanwesigheid al dan nie van
versagtende omstandighede.
By sodanige ondersoek, asook by die oorweging van
die
12
oplegging van 'n diskresionêre doodvonnis, dws ondanks 'n bevinding van
die aanwesigheid van versagtende omstandighede, het
verskeie faktore 'n rol
gespeel. Daaronder was die opregtheid en diepte van die beskuldigde se bygeloof,
die omvang van die vrees
wat dit by hom ingeboesem het, die onmiddellikheid van
die aangevoelde bedreiging, die verwantskap tussen die beskuldigde en die
waargenome bedreigde, asook die wreedheidsgraad waarmee die vermeende towenaar
om die lewe gebring is. Ondanks die grondliggende
veranderings wat deur die
bepalings van Wet 107 van 1990 teweeggebring is, verdien sodanige faktore nog
steeds oorweging."
By die bepaling van die appellante se subjektiewe ingesteldheid teenoor
heksery is mens grotendeels op hulle eie getuienis (vir sover
geloofwaardig)
aangewese. Ek het reeds daarop gewys dat hulle getuienis in die algemeen verwerp
is. Ook hulle getuienis ten aansien
van hulle geloof en vrese is nie
geloofwaardig nie. Dit maak in ieder geval nie sin nie, toon nie 'n onmiddellik
aangevoelde bedreiging
en
13
verduidelik nie die wreedheidsgraad nie.
Nr 1 se getuienis was dat hy aan
heksery glo maar dat hy net geweet het dat twee van die voorgenome slagoffers
hekse was. Die basis
van sy geloof soos deur hom verduidelik, is verstommend.
Aan nr 2 se pa se skuld het hy geglo omdat die, volgens hom, by implikasie
skuld
erken het toe hy beswaar daarteen gemaak het dat hy van heksery beskuldig word.
Hy het vyf van die slagoffers geïdentifiseer
as persone wat hy geglo het
nie aan heksery skuldig was nie. Daarom, sê hy, het hy nie deelgeneem aan
'n aanranding op hulle
nie. Nogtans het hy hulle moord goedgekeur omdat die
omstanders hulle daarvan beskuldig het.
Nr 2 se weergawe is nog meer bisar. Hy het elf jaar vantevore van sy vader
gedroom wat ongekleed in 'n kring gesit het. As gevolg
hiervan het hy geestelik
versteurd geraak. Hierdie droom het aangedui dat sy vader aan toordery deelneem.
Toe hy die volgende oggend
14
wakker geword het, was daar van sy kledingstukke weg. Dit was 'n aanduiding
van sy tante, Fanyiseni Ndou, se betrokkenheid by die
okkulte. Sterftes in
familie, soos bv die dood van sy broer by 'n treinoorgang, het hy telkens aan
toorkragte toegeskryf. Ek vind
dit nie nodig om verder met hierdie aspek te
handel nie.
Ek verskil van die hof
a quo
in dié mate dat dit na my oordeel
verkeerd is om die subjektiewe ingesteldheid van die appellante slegs aan die
hand van hulle
eie ongeloofwaardige getuienis te beoordeel.
Vergelyk S v
Dikgale
1965 (1) SA 209
(A) 214B-E. Hulle waarskynlike geloof en vrese moet
aan die hand van al die getuienis bepaal word. Hoewel die hof
a quo
'n
geloof in heksery as motief vir die tragiese gebeure verwerp het, is geen ander
motief in die uitspraak aan die hand gedoen nie.
Die enigste ander moontlike
motief is 'n politieke een maar dit is geredelik namens die Staat toegegee dat
daar geen getuienis ter
stawing van
15
so 'n veronderstelling bestaan nie. Die appellante se getuienis moet ook
beoordeel word in die lig van hulle ontkenning van wesenlike
deelname aan die
verrigtinge die betrokke aand. Die persone wat nr 1 beweer hy nie verdink het
nie, was gelyktydig persone wat hy
beweer het hy nie aangerand het nie. Sy een
ontkenning het bloot gedien ter stawing van sy ander ontkenning. Waar die een
vals is,
is die ander een waarskynlik ook vals.
Die objektiewe getuienis toon kortliks die volgende. Wat die eerste slagoffer
(Johannes Mualusi) betref, het nr 1, soos gesê,
ontken dat hy hom van
heksery verdink het. Die ander getuienis toon egter dat nr 1 hom reeds voor
hierdie gebeure daarvan beskuldig
het en ook dat Johannes hom sou getoor het. 'n
Verhoordatum voor die stam of die kaptein om hierdie geskil te besleg, was reeds
bepaal
gewees. Daarby kom die eienaardige antwoord van Mualusi se eggenote toe
sy gevra is of hy toordery beoefen het, nl dat sy nie wis
16
nie omdat sy met hom getroud is toe sy nog ' n jong meisie was. Die
verspotheid van die antwoord word duidelik indien in ag geneem
word dat sy in
1918 gebore is en maklik die valsheid van die stelling kon bevestig het. Die
weduwee van Jack Ramarumo, ' n vrou wat
reeds 'n groot-grootmoeder is, het op 'n
soortgelyke vraag geantwoord dat die oorledene nie by sulke dinge betrokke was
nie omdat
sy met hom getroud is toe sy nog baie jonk was. Verder, toe Jack deur
die skare gekonfronteer is, is hy gevra na waar hy sy "zombies"
aanhou en sy
antwoord was: in sy mangoboord. En sy seun, 'n onderwyser, se antwoord op die
soortgelyke vraag was dat hy het nie en
kon nie weet of sy pa hom met heksery
besig gehou het nie. Die laaste slagoffer, David Khavhakhavha, se weduwee het
eweneens enige
kennis van sy bedrywighede ontken en dit ten spyte daarvan dat hy
sowat tien jaar vantevore 'n beskuldigde in 'n rituele moordsaak
was en dat sy
betrokkenheid daartoe gelei het
17
dat hy en sy vrou van woongebied moes verander.
Ek het reeds daarop gewys
dat Fanylseni Ndou, volgens nr 2, sy klere gedurende 1979 sou verduister het.
Die aand van haar dood het
hy haar gekonfronteer en haar antwoord was dat die
klere in 'n houer met bloed weggesteek was. Sy is ook gevra wie haar mede-hekse
is en sy het name verskaf. Haar broer, een van die persone wat sy uitgewys het,
het ook sy betrokkenheid erken. Op 'n ander vraag
het sy die persoon
geidentifiseer by wie sy haar "zombie" gelaat het.
Dit is vir huidige doeleindes nie nodig om meer oor hierdie aspek te sê
nie. 'n Algemene probleem in hierdie saak is dat nóg
die staatsgetuies
nóg die beskuldigdes 'n aanvaarbare verduideliking van die omvang of
inhoud hulle bygeloof kon of wou gee.
As voorbeeld kan ek na die sogenaamde
"zombies" verwys. Of die getuies (deur tolke) na die verskynsel in die
18
woordeboekbetekenis van "zombies" ("a corpse said to be revived by
witchcraft" - GOD) verwys, weet ek nie. Nie een getuie was bereid
om te sê
wat 'n "zombie" is of doen nie. Dat hulle egter 'n heilige of onheilige vrees
vir "zombies" het, staan vas.
Om tot dusver saam te vat: die advokaat namens die Staat het myns insiens
tereg gedurende betoog toegegee dat indien na die getuienis
in geheel gekyk word
en ook na die wyse waarop die oorledenes stelselmatig vermoor en hulle eiendom
verbrand is, daar slegs een redelike
verduideliking vir die gebeure kan wees en
dit is dat die daders 'n diep gewortelde geloof en vrees vir heksery het en dat
die gebeure
dié aand daardeur aangesteek en aangevuur was. Die wreedheid
van die moorde kan redelikerwys aanduidend wees van hoe groot
die vrees vir
hierdie verskynsel is. Ek het ook reeds daarna gewys dat een van die appellant
die mening uitgespreek het dat die gemeenskap
hervorm en hierdie
19
gewaande bedreiging uitgewis moes word. Inderdaad het nr 1 in die loop van sy
getuienis benadruk dat daar slegs een manier is waarmee
met hekse gehandel moet
word en dit is om hulle te dood.
Dit is natuurlik moontlik dat die optrede
van die appellant deur bloedlus alleen aangevuur is, met ander woorde, moord ter
wille van
moord. Hierdie moontlikheid is myns insiens egter nie meer waarskynlik
as die moontlikheid waarmee ek so pas gehandel het nie. Gevolglik
moet die mees
begunstigende uitleg aan die feite geheg word.
'n Ontstellende aspek van hierdie saak is dat van die slagoffers eenvoudig
deur die skare of lede daarvan as skuldiges aangewys is.
Dit verskil van die
gewone geval waar 'n waarsêer of profeet ingeroep word om 'n skuldige aan
te wys. Hierdie gedrag kan aanduidend
wees van óf 'n gebrek aan die
geloof waarop die appellante hulle beroep óf liggelowigheid.
20
Weereens, indien al die omstandighede in oënskou geneem word, is ek van
oordeel dat die tweede moontlikheid die meer waarskynlike
is en waar dit om
morele blaamwaardigheid gaan, kan liggelowigheid 'n persoon nie ten kwade
gereken word nie.
By beoordeling van die vraag of die doodvonnisse die
enigste gepaste vonnisse in hierdie geval is, is dit so dat elke moord in
beginsel
apart oorweeg moet word maar in hierdie saak is dit onprakties.
Oorweglngs wat by die een geval geld, geld naastenby by elke ander
geval. Ek is
dus nie van voorneme om 'n onderskeid tussen die verskillende gevalle te tref of
om hulle verder te individualiseer
nie.
Vervolgens behandel ek die gemeenskapsbelang
by die
strafoplegging. Ek vind dit moeilik, indien nie
onmoontlik nie, om 'n geval
soos die huidige 'n oordeel
oor die besondere (in teenstelling met die algemene)
21
gemeenskapsbelang uit te spreek. Die geloof in heksery is diep gesetel in die
menslike natuur. Verbranding van persone wat as hekse
aangewys is, was tot
enkele eeue gelede nog deel van die Westerse kultuur. Die feit dat dit nie meer
deel daarvan is nie, beteken
nie dat dit nie deel van die Venda-kultuur is nie.
Of die beoefening van towery 'n sosiale euwel is en, indien wel, in welke mate,
blyk nie uit die getuienis nie. Hiermee word nie te kenne gegee dat heksejagtery
goedgekeur kan word nie. Die enigste vraagteken
wat oor die aangeleentheid hang,
is die mate waartoe die bepaalde gemeenskap veroordelend teenoor die optrede van
óf die appellante
óf die slagoffers staan. Sien Mihálik
& Cassim,
Ritual Murder and Witchcraft : A Political Weapon?
1993
SALJ 127
veral op 136-137. Ek wil ook nie te kenne gee dat die belange van die
slagoffers en hulle naasbestaandes gering geskat moet word
nie. Wat my egter
kwel, en waarop ek geen antwoord vlnd nie, is of
22
die belang van die samelewing waarin al die betrokkenes beweeg het, verg dat
die uiterste vonnis in hierdie geval ter wille van vergelding
opgelê moet
word.
Wat afskrikking betref is ons deur die advokate meegedeel dat
heksejagtery 'n verskynsel is wat in die periode 1990 tot 1991 algemeen
in Venda
voorgekom het. Vantevore was dit eintlik ongekend en sedertdien kom dit nie meer
voor nie. Hierdie tydelike verskynsel het
skynbaar verband gehou met sosiale- en
politieke omwentelings in daardie land. Aangesien dit 'n tydelike verskynsel
skyn te gewees
het, sou die doodvonnis nie noodwendig in hierdie geval die
nodige afskrikwaarde hê nie.
Hoewel dit dus 'n grensgeval is, is ek van oordeel dat die appellante nie met
hulle lewens hoef te boet vir hulle gedrag nie en dat
lewenslange
gevangenisstraf 'n gepaste vonnis in die omstandighede sal wees.
23
Die appèl teen die doodvonnisse opgelê, slaag deurdat die
doodvonnisse tersyde gestel word en met lewenslange gevangenisstraf
vervang
word.
L T C HARMS WAARNEMENDE APPèLREGTER
HEFER, AR )
) STEM SAAM VAN COLLER, Wnd AR )