About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 165
|
|
S v Masipa (718/92) [1993] ZASCA 165 (9 November 1993)
1
Saak nr 718/92
/MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELNG)
In die saak tussen
ABRAM MASIPA
Appellant
- en -
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
HEFER, VIVIER ARR et VAN COLLER
Wnd AR.
VERHOOR:
9 November 1993
GELEWER:
9 November 1993
TRANSKRIPSIE VAN REDES MONDELING GELEWER IN DIE OPE HOF OP 9 NOVEMBER 1993
DEUR VIVIER AR WAARMEE HEFER AR EN VAN COLLER WND AR SAAMGESTEM
H
ET.
2
VIVIER AR:
Die appellant is in die Noordelike Rondgaande Plaaslike
Afdeling deur CURLEWIS R en assessore skuldig bevind op twee aanklagte van
moord
(aanklagte 1 en 2), een aanklag van brandstigting (aanklag 3) en een aanklag van
huisbraak met die opset om aan te rand en
aanranding (aanklag 4). Op elk van die
moordaanklagte is hy die doodvonnis opgelê en op aanklagte 3 en 4 is hy
onderskeidelik
tot vier jaar en tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy appelleer
na hierdie Hof slegs teen sy skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte
1 en
2.
Mavis Sefara het namens die Staat by die verhoor getuig dat sy gedurende die
nag van 11-12 November 1988 iemand aan die deur van haar
hut in Seshego, Lebowa,
hoor klop het. Die persoon het gesê dat sy die deur moes oopmaak. Toe sy
weier, het hy die deur, wat
met 'n draad van binne toegemaak was,
3
oopgedruk en ingekom. Sy het die persoon nog nooit vantevore gesien nie. Hy
het haar met 'n koevoet aangeval en toe sy haar teensit
en 'n stoeiery ontstaan,
het hy gedreig om haar met h mes te steek. Haar twee kinders van vyf jaar en een
jaar en ses maande oud
("die oorledenes") het by haar voete geslaap sodat haar
aanvaller hulle moes gesien het. Sy het daarin geslaag om te ontvlug en het
by
die huis van Simon Kwinda skuiling gesoek. Sy het die twee oorledenes in haar
huis agtergelaat. Haar aanvaller het haar tot by
Simon se huis agtervolg waar hy
met die koevoet teen die deur begin kap en Simon gedreig het. Haar aanvaller is
later daar weg en
na 'n rukkie het hulle rook geruik, nader gegaan en gesien dat
haar hut aan die brand is. Hulle kon ruik dat die hut met petrol aan
die brand
gesteek is. Die oorledenes is in die hut doodgebrand. Drie dae later het Mavis
die appellant as haar aanvaller op 'n uitkenningsparade
4
uitgewys. Sy het getuig dat sy dit sonder huiwering kon doen omdat sy hom
tydens die stoeiery die betrokke nag goed bekyk het.
Jacob Seakamela, 'n neef
van die appellant, het namens die Staat getuig dat hy om ongeveer kwart voor agt
die betrokke aand by Mavis
se hut was. Mavis het nie uitgekom nie maar van binne
af geantwoord dat haar ma, vir wie hy gaan kuier het, nie tuis was nie. Terwyl
Jacob nog 'n rukkie voor die hut vertoef het, het die appellant drie keer daar
verbygestap terwyl hy iets met beide hande agter sy
rug vasgehou het. Hulle het
met mekaar gepraat. Mavis het voorheen getuig dat sy al gaan slaap het toe Jacob
daar aankom en dat sy
hom nie gesien het nie. Sy het wel gehoor dat hy met 'n
ander persoon voor haar hut praat.
Die appellant se verweer was 'n alibi. Hy het getuig dat hy destyds by sy
suster, Margaret Masipa, gewoon het nie ver van Mavis se
hut af nie.
5
Om by Margaret se huis vanaf die busstop te kom, moet mens by Mavis se huis
verbyloop. Kort na half-agt die betrokke aand was hy op
pad huis toe vanaf die
busstop en het hy by Mavis se huis verbygeloop. Hy het vir Jacob en Mavis voor
haar hut sien sit. Hy het nader
gegaan, met Jacob gesels en is toe huis toe. Hy
was nie weer daardie aand naby Mavis se hut nie. By Margaret se huis het hy
geëet
en direk daarna gaan slaap. Margaret het namens die appellant getuig
dat hy en sy broer Godfrey die betrokke aand na ete kaart gespeel
en gedrink het
tot ongeveer half-twee die nag. Nadat die saak vir die verdediging gesluit is,
is Jacob Seakamela deur die Verhoorregter
teruggeroep en hy het toe getuig dat
die pad vanaf die busstop na Margaret se huis glad nie by Mavis se hut verbygaan
nie en dat
dit h ompad is om daar langs te loop.
Die Verhoorhof het beide Mavis en Jacob as uitstekende getuies beskryf en het
bevind dat Mavis
6
voldoende geleentheid gehad het vir h betroubare uitkenning van die
appellant. Die Hof het die appellant se getuienis as leuenagtig
en sy alibi as
nie redelik moontlik waar nie, verwerp.
Namens die appellant is betoog dat Mavis h enkele getuie was wat die
identifikasie van haar aanvaller betref, en dat die Verhoorhof
versuim
hét om die versigtigheidsreël ten opsigte van enkelgetuies na behore
toe te pas. Daar is egter wel h mate van
stawing vir Mavis se getuienis sodat
ons nie met h enkele getuie te doen het nie. Jacob het getuienis gegee oor die
appellant se
teenwoordigheid en hoogs verdagte optrede vroeër die betrokke
aand by Mavis se huis wat, alhoewel dit nie direkte stawing vir
haar getuienis
is nie, die afleiding regverdig dat hy haar aanvaller was. Hierdie afleiding
word versterk deur die appellant se leuenagtige
verduideliking vir sy
teenwoordigheid by Mavis se hut vroeër die betrokke
7
aand.
Daar is voorts namens die appellant betoog
dat die
omstandighede waarin Mavis die identifikasie
gedoen het, nie bevorderlik was
vir 'n betroubare
waarneming nie. Dit is so dat daar slegs 'n enkele
kers
in die vertrek gebrand het; dat Mavis die
appellant nog nooit voorheen gesien
het nie; dat sy
baie groot moes geskrik het en dat sy die appellant
slegs
vir 'n kort rukkie gesien het. Aan die ander
kant was hy baie naby aan haar
terwyl hulle om besit
van die koevoet gestoei het en het sy getuig dat sy
sy
gesig baie goed gesien het. Haar getuienis oor hoe sy
hom by die
uitkenningsparade uitgeken het, het die
Verhoorhof sterk beïndruk. In al
die omstandighede is
ek nie daarvan oortuig dat die Verhoorhof fouteer
het
deur haar uitkenning van die appellant as haar
aanvaller as betroubaar
te aanvaar nie.
Daar is verder namens die appellant betoog
8
dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat sy alibi die waarheid is. Mavis
se getuienis dat sy omstreeks middernag aangeval is,
was nie betwis nie. Volgens
die appellant het hy teen daardie tyd lankal geslaap terwyl Margaret getuig het
dat hy toe besig was
om te drink en kaart te speel. Die verdedigingsgetuienis
was so teenstrydig dat dit met reg deur die Verhoorhof verwerp is as nie
redelik
moontlik waar nie. Na my mening is die appellant korrek skuldig bevind.
Dit laat die appèl teen die doodvonnisse op die twee moordaanklagtes.
Behalwe dat hy ongeveer 37 jaar oud is, is niks verder
oor sy persoonlike
omstandighede bekend nie. Hy het sewe vorige veroordelings waarvan drie vir roof
en een vir aanranding is. By
twee van die roofaanklagte het hy 'n mes gebruik.
By die verhoor het dit verder geblyk dat hy sedert die pleging van die huidige
misdade twee verdere misdade naamlik roof en verkragting gepleeg het
9
waarvoor hy h gesamentlike vonnis van 14 jaar gevangenisstraf opgelê.
is. Die moontlikheid dat hy gerehabiliteer kan word, moet
gevolglik as baie
skraal beskou word.
Daar is, na my mening, nie een enkele
strafversagtende faktor in hierdie
saak te vind nie.
Ek stem nie saam met die betoog dat die misdade
nie
vooraf beplan was nie. Die appellant het met 'n koevoet
gewapen by
Mavis se huis ingebreek en toe hy nie sy
misdadige bedoelings met haar kon
uitvoer nie, het hy
hom op haar kinders gewreek. Uit die aard van die
saak
het die verbranding van haar hut 'n mate van
vooraf-beplanning vereis en is dit nie op die ingewing van die oomblik gedoen
nie.
Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend. Twee onskuldige
kinders is doodgemaak omdat die appellant nie sy sin met hulle
ma kon kry nie.
Sy optrede was wreed en genadeloos en so
10
afskuwelik en verderflik dat hierdie as 'n uiterste geval beskou moet word
waar die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.
Die appèl word afgewys.
W.
VIVIER AR.