About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 126
|
|
S v Gopal (89/91) [1993] ZASCA 126 (17 September 1993)
SAAKNOMMER: 89/91 J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
SURENDRA GOPAL
APPELLANT
en
DIE
STAAT
RESPONDENT
CORAM
: HEFER, EKSTEEN, ARR et HARMS, Wnd AR
VERHOORDATUM
: 13 SEPTEMBER 1993
LEWERINGSDATUM
: 17 SEPTEMBER
1993
UITSPRAAK
HARMS, Wnd AR:
Hierdie appèl illustreer die ongewenstheid van die (vermoedelik
onvoorsiene) teenstrydigheid tussen
2
die bepalings van die Strafproseswet 51 van 1977 t a v appélle en art
21(1) saamgelees met art 22(2) van die Hooggeregshofwet
59 van 1959. Meer
spesifiek, indien 'n persoon in die landdroshof aan 'n misdryf skuldig bevind en
gevonnis word en sy appèl
na die provinsiale (of, indien van toepassing,
die plaaslike) afdeling van die hooggeregshof misluk, mag hy alleen met die
nodige
verlof na hierdie hof appelleer. As hy egter sou nalaat om sy eerste
appèl na behore voort te sit en dit nodig is om kondonasie
te verkry
(soos bv vir die laat aantekening van appèl) en dié aansoek
misluk, het hy 'n outomatiese reg van appèl
teen die afwys van sy aansoek
na hierdie hof. Dit geld selfs indien sy aansoek vanweë 'n gebrek aan
vooruitsigte op appèl
afgewys is.
S v Tsedi
1984(1) SA 565 (A);
S v Absalom
1989(3) SA 154 (A). En sou hierdie hof argumentsonthalwe
bevind dat die hof
a quo
verkeerd was in sy beoordeling van die kanse op
sukses, en die appèl slaag, moet die strafappèl
3
dan waarskynlik deur daardie hof bereg word met die wete dat hierdie hof
reeds 'n oordeel, wat nie bindend is nie, oor die meriete
uitgespreek
het.
Die appellant het in die streekhof te Vereeniging tereggestaan op
aanklagte van motordiefstal en omkopery. Hy is aan beide skuldig
bevind op 26
Junie 1990. Op 16 Augustus 1990 is hy gevonnis: vier jaar gevangenisstraf
(waarvan 1 jaar opgeskort is) t a v die motordiefstal
en 1 jaar vir die
omkopery. Op dieselfde dag het hy 'n volmag onderteken waarin hy sy destydse
prokureur, wat hom tydens die hele
verhoor bygestaan het, gemagtig het om teen
die "skuldigbevinding en vonnis" te appelleer. Die prokureur het dit egter
goedgedink
om die kennisgewing van appél, wat ook 16 Augustus gedateer
is, net teen die vonnis te rig. Hy het op 10 Januarie 1991 'n
gewysigde
kennisgewing van appêl, vergesel van 'n kondonasie-aansoek, geliaseer. Dit
was pas voor die
4
verhoor van die appèl op 11 Februarie 1991. Hierin is die
skuldigbevinding op aanklag 1 en die vonnisse op beide aanklagte
aangeval.
Die Transvaalse Provinsiale Afdeling (per Van Schalkwyk R met wie
Weyers R saamgestem het) het die kondonasie-aansoek afgewys. Daarna
is die
appèl teen vonnis oorweeg en afgewys. Die huidige appèl is teen
die eerste bevel gerig; die hof
a quo
het verlof tot appèl teen
die bekragtiging van die vonnisse geweier en die appellant het daardie deel van
die saak daar gelaat.
Landdroshofreël 67(5) bepaal dat 'n kennisgewing van appèl
gewysig kan word deur kennisgewing aan die klerk van die landdroshof.
Die rede
hiervoor is dat dit die landdros die geleentheid bied om aanvullende redes te
verstrek. In dié geval het die appellant
nie aan die reël voldoen
nie. Geen verduideliking vir die versuim is verstrek nie. Geen
5
kondonasie is t a v hierdie versuim aangevra nie. In die huidige geval was
daar goeie rede waarom die reël nagekom moes word:
die appellant se saak
het in die gewysigde kennisgewing nuwe wendings geneem: nie alleen is die
skuldigbevindings opnuut aangeval
nie maar ook op 'n nuwe grondslag bv dat die
persoon wat volgens die klagstaat van die voertuig ontdoen is nie volgens die
getuienis
die klaer was nie. Dit opper die vraag of die klagstaat nie gewysig
kon word nie omdat daar geen benadeling beweer is nie - 'n vraag
wat die aandag
van die landdros geverg het.
Die prokureur se verduideliking waarom hy die appellant se opdrag om
appél teen die skuldigbevinding aan te teken, nie tydig
nagekom het nie,
is onoortuigend. Dit is slegs dat tussen die datum van skuldigbevinding en
vonnis sy notas verlore geraak het en
hy dus nie 'n "volledige" kennisgewing kon
opstel nie. Waarom hy nie 'n "onvolledige" een kon
6
formuleer nie, sê hy nie. Ook nie waarom dit ses maande geneem het om
sy opdrag na te kom nie. Die appellant self pleit nie
eens onkunde of onskuld
nie. Hy verwys bloot na sy prokureur se verduideliking. Ek stem dus met Van
Schalkwyk R saam dat daar nie
'n aanvaarbare verduideliking vir die versuim was
nie.
Die kanse op sukses op appèl is ook deur Van Schalkwyk R in ag geneem
by die afwys van die aansoek. Hy het naamlik geoordeel
dat daar geen vooruitsig
was dat dit kon slaag nie.
Hoewel die staatsaak op 'n lomp en verwarrende wyse aangebied is, is die
essensie van die getuienis die volgende: Ene Du Plessis,
'n werknemer van Dorbyl
Structural Engineering, het getuig dat sy firma 'n Toyota Hi-Ace 16-sitplek
bussie met registrasienommer
LSZ 552 T besit het. Die nommer was op die ruite
gegraveer gewees. Hierdie voertuig het gedurende November 1987 vermis
geraak.
7
Twee persone verbonde aan die firma Car Den, Bekker en Nel, het die relaas
voortgesit. Volgens Nel het die appellant gedurende 1987
(hy is nie gevra om die
datum naderby te bepaal nie) met hom 'n reeling getref om 'n Toyota bussie LSZ
552 T te spuitverf. Nadat
die werk gedoen is, het die appellant die voertuig
afgehaal. Daarna het die appellant 'n Toyota paneelwa ingebring. Dit het die
naam
Superb Dry Cleaners op gehad. Dit is gemeensaak dat die appellant 'n
finansiële belang in daardie besigheid gehad het. Hoe dit
ook al sy, die
appellant het hom versoek om die panele van die wa te gebruik om 'n bussie in 'n
paneelwa te omskep, maar hy het gereël
dat die appellant dit self op die
perseel van Car Den sou doen. Volgens Bekker het die appellant toe een
Saterdag-oggend aan die
einde van 1987 opgedaag, die panele verwyder en in 'n
bussie wat hy saamgebring het, ingebou. Die bussie se ruite is op die perseel
gelaat waar hulle deur die polisie gevind is. Hulle was met
8
die registrasie-nommer LSZ 552 T gegraveer. Dit het verder geblyk dat 'n
Toyota wat deur Superb Dry Cleaners gekoop is, se enjin in
die voormalige
paneelwa by Car Den was. Die appellant, aan die ander kant, is in besit gevind
van 'n paneelwa wat uit 'n 16-sitplek
bussie gebou is met 'n vervalste
enjinnommer wat ooreengestem het met dié van Superb Dry Cleaners se
gemelde paneelwa. Ek
vind dit nie nodig om verder te gaan nie want nie alleen is
bg getuienis nie in enige wesenlike opsig tydens ondervraging aangeval
nie maar
die appellant het ook geswyg. Ook het hy gepoog om die polisiebeampte om te koop
om die opsigtelik gesteelde voertuig aan
hom terug te besorg. Dit volg dus dat
die hof
a quo
reg in sy beoordeling van die kanse op sukses was. Die
appèl word afgewys.
L T C HARMS WAARNEMENDE APPèLREGTER
HEFER, AR )
) STEM SAAM EKSTEEN, AR )